Volhard in die predikingswerk
1 Ons lewe in kritieke tye. Burgertwis, etniese oorloë, natuurrampe en ander verskriklike gebeure is aan die orde van die dag. Die mensdom het nou meer as ooit te vore goeie nuus nodig. Maar onverskilligheid teenoor geestelike aangeleenthede kom algemeen voor. In party gebiede kan dit moeilik wees om mense by die huis te kry en nog moeiliker om mense te kry wat na ons sal luister of wat die Bybel wil bestudeer. Dit is nogtans noodsaaklik dat ons volhard in die werk om die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk te verkondig.—Matt. 24:14.
2 Liefde vir mense: Ons predikingswerk vestig die aandag op Jehovah se liefde vir mense. “Hy [wil] nie . . . hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Pet. 3:9; Eseg. 33:11). Daarom het hy beveel dat “die goeie nuus eers in al die nasies verkondig [moet] word”, soos Jesus gesê het (Mark. 13:10). God doen ’n beroep op mense om hulle tot hom te wend en aan die komende oordeel oor Satan se wêreld te ontkom (Joël 2:28, 29, 32; Sef. 2:2, 3). Is ons nie dankbaar dat Jehovah ons hierdie geleentheid gegee het nie?—1 Tim. 1:12, 13.
3 Die wêreldrapport toon dat daar gedurende die 2004-diensjaar elke maand gemiddeld 6 085 387 Bybelstudies gehou is, en gemiddeld 5 000 nuwe dissipels is elke week gedoop! Party van hierdie pasgedooptes is gevind weens Jehovah se seën op die volgehoue pogings van verkondigers wat hulle ingespan het om met elkeen in hulle toegewese gebied te praat. Watter vreugde het dit tog in die gemeentes meegebring, en watter voorreg is dit tog om ’n medewerker van God in hierdie lewensreddende werk te wees!—1 Kor. 3:5, 6, 9.
4 Loof God se naam: Ons volhard in die predikingswerk sodat ons Jehovah in die openbaar kan loof en sy naam voor die hele mensdom kan heilig (Heb. 13:15). Satan het “die hele bewoonde aarde” mislei om te glo dat God magteloos is om die mensdom se probleme op te los, dat hy onverskillig staan teenoor menselyding of dat hy eenvoudig nie bestaan nie (Op. 12:9). Deur ons predikingswerk verdedig ons die waarheid oor ons luisterryke hemelse Vader. Mag ons aanhou om sy naam te loof—nou en vir ewig.—Ps. 145:1, 2.