Les 2
Wie is God?
Wie is die ware God, en wat is sy naam? (1, 2)
Watter soort liggaam het hy? (3)
Wat is sy voortreflike eienskappe? (4)
Moet ons beelde en simbole gebruik wanneer ons hom aanbid? (5)
Wat is twee maniere waarop ons aangaande God kan leer? (6)
1. Mense aanbid baie dinge. Maar die Bybel sê dat daar net een WARE God is. Hy het alles in die hemel en op aarde geskep. Omdat hy ons lewe gegee het, is hy die enigste Een wat ons moet aanbid.—1 Korintiërs 8:5, 6; Openbaring 4:11.
2. God het baie titels maar het net een naam. Daardie naam is JEHOVAH. God se naam is uit die meeste Bybels verwyder en is met die titels HERE of GOD vervang. Maar toe die Bybel geskryf is, het die naam Jehovah ongeveer 7 000 keer daarin verskyn!—Exodus 3:15, NW; Psalm 83:18, NW.
3. Jehovah het ’n liggaam, maar dit is nie soos ons s’n nie. “God is ’n Gees”, sê die Bybel (Johannes 4:24). ’n Gees is ’n lewensvorm wat baie hoër as ons s’n is. Geen mens het God al ooit gesien nie. Jehovah woon in die hemel, maar hy kan alles sien (Psalm 11:4, 5; Johannes 1:18). Maar wat is die heilige gees? Dit is nie ’n persoon soos God nie. Dit is eerder God se werkende krag.—Psalm 104:30.
4. Die Bybel openbaar Jehovah se persoonlikheid aan ons. Dit toon dat sy voortreflike eienskappe liefde, geregtigheid, wysheid en krag is (Deuteronomium 32:4, NW; Job 12:13; Jesaja 40:26, NW; 1 Johannes 4:8). Die Bybel deel ons mee dat hy ook barmhartig, goedhartig, vergewensgesind, vrygewig en geduldig is. Ons moet hom soos gehoorsame kinders probeer navolg.—Efesiërs 5:1, 2.
5. Moet ons neerbuig voor of bid tot beelde, prente of simbole in ons aanbidding? Nee! (Exodus 20:4, 5). Jehovah sê dat ons hom alleen moet aanbid. Hy sal nie sy heerlikheid met enigiemand of enigiets anders deel nie. Beelde het geen mag om ons te help nie.—Psalm 115:4-8; Jesaja 42:8, NW.
6. Hoe kan ons God beter leer ken? Een manier is om die dinge wat hy geskep het waar te neem en diep na te dink oor wat hulle ons vertel. God se skeppingswerke toon aan ons dat hy groot krag en wysheid het. Ons sien sy liefde in alles wat hy gemaak het (Psalm 19:2-7; Romeine 1:20). Nog ’n manier waarop ons aangaande God kan leer, is deur die Bybel te bestudeer. Daarin vertel hy ons baie meer van die soort God wat hy is. Hy vertel ons ook van sy voorneme en wat hy wil hê ons moet doen.—Amos 3:7; 2 Timoteus 3:16, 17.
[Prente op bladsy 5]
Ons leer aangaande God uit die skepping en uit die Bybel