-
Wat is Sjeool en Hades?Wat leer die Bybel werklik?
-
-
AANHANGSEL
Wat is Sjeool en Hades?
IN SY oorspronklike tale gebruik die Bybel die Hebreeuse woord sjeʼoolʹ en die Griekse ekwivalent daarvan, haiʹdes, meer as 70 keer. Albei woorde hou verband met die dood. Party Bybelvertalings vertaal dit as “graf”, “hel” of “kuil”. Maar in die meeste tale is daar geen woorde wat die presiese betekenis van hierdie Hebreeuse en Griekse woorde weergee nie. Die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik dus die woorde “Sjeool” en “Hades”. Wat beteken hierdie woorde werklik? Kom ons kyk hoe hulle in verskillende Skrifgedeeltes gebruik word.
Prediker 9:10 sê: “Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool, die plek waarheen jy gaan nie.” Beteken dit dat Sjeool na ’n spesifieke graf verwys waar ons ’n geliefde begrawe het? Nee. Wanneer die Bybel van ’n spesifieke graf praat, gebruik dit ander Hebreeuse en Griekse woorde, nie sjeʼoolʹ of haiʹdes nie (Genesis 23:7-9; Matteus 28:1). Die Bybel gebruik ook nie die woord “Sjeool” vir ’n graf waar etlike persone saam begrawe is, soos ’n familiegraf of ’n massagraf nie.—Genesis 49:30, 31.
Na watter soort plek verwys “Sjeool” dan? God se Woord toon dat “Sjeool” of “Hades” na iets verwys wat baie meer is as selfs ’n groot massagraf. Jesaja 5:14 sê byvoorbeeld dat Sjeool ‘ruim is en sy mond oneindig wyd oopgemaak het’. Hoewel Sjeool as ’t ware reeds tallose dooies ingesluk het, is dit blykbaar altyd honger vir nog meer (Spreuke 30:15, 16). In teenstelling met enige letterlike graf, wat net ’n beperkte aantal dooies kan bevat, ‘raak Sjeool nie versadig nie’ (Spreuke 27:20). Dit wil sê, Sjeool word nooit vol nie. Dit het geen perke nie. Sjeool, of Hades, is dus nie ’n letterlike plek met ’n spesifieke ligging nie. Dit is eerder die gemeenskaplike graf van die dooie mensdom, die figuurlike plek waar die meeste van die mensdom in die dood slaap.
Die Bybellering van die opstanding help ons om verdere insig in die betekenis van “Sjeool” en “Hades” te verkry. God se Woord verbind Sjeool en Hades met die soort dood waaruit daar ’n opstanding sal wees (Job 14:13; Handelinge 2:31; Openbaring 20:13).a God se Woord toon ook dat diegene wat in Sjeool, of Hades, is, nie net diegene insluit wat Jehovah gedien het nie, maar ook baie wat hom nie gedien het nie (Genesis 37:35; Psalm 55:15). Daarom leer die Bybel dat daar “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges” sal wees.—Handelinge 24:15.
a In teenstelling hiermee word daar van die dooies wat nie opgewek gaan word nie, gesê dat hulle “in Gehenna” is, nie in Sjeool, of Hades, nie (Matteus 5:30; 10:28; 23:33). Soos Sjeool en Hades, is Gehenna nie ’n letterlike plek nie.
-
-
Die Oordeelsdag—Wat is dit?Wat leer die Bybel werklik?
-
-
AANHANGSEL
Die Oordeelsdag—Wat is dit?
HOE stel jy jou die Oordeelsdag voor? Baie mense dink dat miljarde siele een vir een voor die troon van God gebring sal word. Daar sal elke persoon geoordeel word. Party sal met hemelse saligheid beloon word, en ander sal tot ewige foltering veroordeel word. Maar die Bybel skilder ’n heel ander prentjie van hierdie tyd. God se Woord beeld dit nie as ’n vreeswekkende tyd uit nie, maar as ’n tyd van hoop en herstelling.
In Openbaring 20:11, 12 lees ons die apostel Johannes se beskrywing van die Oordeelsdag: “Ek het ’n groot wit troon gesien en die een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor hom weggevlug, en geen plek is vir hulle gevind nie. En ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en boekrolle is oopgemaak. Maar ’n ander boekrol is oopgemaak; dit is die boekrol van die lewe. En die dooies is geoordeel na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, volgens hulle dade.” Wie is die Regter wat hier beskryf word?
Jehovah God is die Opperregter van die mensdom. Maar hy gee iemand anders die taak om die eintlike oordeelswerk te doen. Volgens Handelinge 17:31 het die apostel Paulus gesê dat God “’n dag vasgestel [het] waarop hy van voorneme is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man wat hy aangestel het”. Hierdie aangestelde Regter is die verrese Jesus Christus (Johannes 5:22). Maar wanneer begin die Oordeelsdag? Hoe lank duur dit?
Volgens die boek Openbaring begin die Oordeelsdag ná die oorlog van Armageddon, wanneer Satan se aardse stelsel vernietig sal word (Openbaring 16:14, 16; 19:19–20:3).a Ná Armageddon sal Satan en sy demone duisend jaar lank in ’n afgrond gevange gehou word. Gedurende daardie tyd sal die 144 000 hemelse mede-erfgename regters wees en sal hulle “duisend jaar lank saam met die Christus as konings” regeer (Openbaring 14:1-3; 20:1-4; Romeine 8:17). Die Oordeelsdag is nie ’n gebeurtenis wat vinnig, binne net 24 uur, plaasvind nie. Dit duur duisend jaar lank.
Gedurende daardie tydperk van duisend jaar sal Jesus Christus “die lewendes en die dooies . . . oordeel” (2 Timoteus 4:1). “Die lewendes” sal die “groot menigte” wees wat Armageddon oorleef (Openbaring 7:9-17). Die apostel Johannes het ook “die dooies . . . voor die [oordeels]troon sien staan”. Soos Jesus belowe het, sal ‘dié wat in die gedenkgrafte is, Christus se stem hoor en uitkom’ deur middel van ’n opstanding (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Maar op grond waarvan sal almal geoordeel word?
Volgens die apostel Johannes se visioen ‘is boekrolle oopgemaak’, en “die dooies is geoordeel na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, volgens hulle dade”. Is hierdie boekrolle die verslag van mense se dade in die verlede? Nee, mense sal nie geoordeel word op grond van wat hulle gedoen het voordat hulle gesterf het nie. Hoe weet ons dit? Die Bybel sê: “Hy wat gesterf het, is van sy sonde vrygespreek” (Romeine 6:7). Diegene wat opgewek word, begin dus as ’t ware met ’n skoon blaadjie. Gevolglik moet die boekrolle God se verdere vereistes verteenwoordig. Om vir ewig te lewe, moet dié wat Armageddon oorleef sowel as dié wat opgewek word, gehoorsaam wees aan God se gebooie, met inbegrip van enige nuwe vereistes wat Jehovah gedurende die duisend jaar openbaar. Mense sal dus geoordeel word op grond van wat hulle gedurende die Oordeelsdag doen.
Die Oordeelsdag sal miljarde mense hulle eerste geleentheid gee om van God se wil te leer en daarvolgens te lewe. Dit beteken dat ’n groot onderrigtingswerk gedoen gaan word. Ja, “die bewoners van die vrugbare land [sal] beslis regverdigheid leer” (Jesaja 26:9). Maar nie almal sal bereid wees om volgens God se wil te lewe nie. Jesaja 26:10 sê: “Al sou daar aan die goddelose guns betoon word, sal hy eenvoudig nie regverdigheid leer nie. In die land van reg sal hy onreg pleeg, en hy sal die uitnemendheid van Jehovah nie sien nie.” Hierdie goddeloses sal gedurende die Oordeelsdag permanent doodgemaak word.—Jesaja 65:20.
Teen die einde van die Oordeelsdag sal die oorlewende mensdom ten volle “lewend geword” het as volmaakte mense (Openbaring 20:5). Gedurende die Oordeelsdag sal die mensdom dus weer tot sy oorspronklike volmaakte toestand herstel word (1 Korintiërs 15:24-28). Dan sal daar ’n finale toets wees. Satan sal uit gevangenskap vrygelaat word en vir die heel laaste keer toegelaat word om die mensdom te probeer mislei (Openbaring 20:3, 7-10). Diegene wat hom weerstaan, sal die algehele vervulling van die Bybel se belofte geniet: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Ja, die Oordeelsdag sal ’n seën wees vir die hele getroue mensdom!
a Vir meer inligting oor Armageddon, sien asseblief Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 594-5, 1037-8, en hoofstuk 20 van Aanbid die enigste ware God, albei uitgegee deur Jehovah se Getuies.
-