Bou waardering op vir Jehovah se weergalose eienskappe
1 In ons bediening doen ons meer as om net basiese Bybelwaarhede aan ander te leer. Ons help mense om Jehovah as ’n persoon te leer ken en om waardering vir sy weergalose eienskappe op te bou. Wanneer opregtes van hart die waarheid omtrent God leer, het dit ’n diepgaande uitwerking op hulle en word hulle beweeg om veranderinge in hulle lewe aan te bring “sodat [hulle] kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag”.—Kol. 1:9, 10; 3:9, 10.
2 Ons nuwe studiehulp: Die Leer Bybel-boek vestig van die begin af die aandag op Jehovah se eienskappe. Die heel eerste hoofstuk beantwoord die vrae: Gee God werklik vir jou om? Watter soort persoon is God? Is dit moontlik om na aan God te kom? Daardie hoofstuk beklemtoon ook Jehovah se heiligheid (par. 10); sy geregtigheid en medelye (par. 11); sy liefde (par. 13); sy mag (par. 16); en sy barmhartigheid, genade, vergewensgesindheid, geduld en lojaliteit (par. 19). Paragraaf 20 som dit op deur te sê: “Hoe meer jy van Jehovah leer, hoe werkliker sal hy vir jou word en hoe meer rede sal jy hê om hom lief te hê en na aan hom te voel.”
3 Hoe kan ons die Leer Bybel-boek gebruik om Bybelstudente te help om nader aan Jehovah te kom? Nadat ons ’n paragraaf bespreek het wat een van God se eienskappe na vore bring, kan ons die student vra: “Wat sê dit vir jou omtrent Jehovah as ’n persoon?” of “Hoe toon dit dat God in jou as persoon belangstel?” As ons af en toe sulke vrae tydens die studie vra, leer ons ons studente om te peins oor die dinge wat hulle leer en help ons hulle om waardering vir Jehovah se weergalose eienskappe op te bou.
4 Gebruik die hersieningsvenster: Aan die einde van elke hoofstuk kan jy die student nooi om in sy eie woorde kommentaar te lewer oor elke punt in die venster “Wat die Bybel leer”. Vestig die aandag op die tekste wat aangegee word. Om uit te vind wat in die student se hart is, kan jy partykeer vra: “Hoe voel jy oor wat die Bybel hieroor leer?” Sodoende beklemtoon jy nie net die hoofpunte van die hoofstuk nie, maar kry jy ook waardevolle insig in wat die student werklik glo. Dit sal die student help om ’n verhouding met Jehovah op te bou.