Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 9/15 bl. 10-15
  • Luister—Jehovah se wag spreek!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Luister—Jehovah se wag spreek!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se wag ontvang sy opdrag
  • Gedramatiseerde profesieë
  • Vernietiging lê voor!
  • Die wat sug oor die gruwels
  • Geteken vir oorlewing
  • Vurige vernietiging lê voor!
  • Glanspunte uitdie boek Esegiël—I
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bybelboek nommer 26—Esegiël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Jehovah ontbloot sy swaard!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 9/15 bl. 10-15

Luister—Jehovah se wag spreek!

“Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en . . . jy [moet] hulle van my kant waarsku.”—ESEGIËL 3:17.

1. Waarom moet ons luister wanneer Jehovah se “wag” spreek?

JEHOVAH se “wag” spreek nóú God se boodskap. Luister jy? Jou lewe hang daarvan af dat jy waarderend en daadwerklik op daardie boodskap reageer. Binnekort ‘sal die nasies weet’ wie Jehovah is wanneer hy sy heilige naam regverdig deur hierdie goddelose stelsel te vernietig en sy volk te bewaar. Hoop jy om onder hulle te wees? (Esegiël 36:23; 39:7; 2 Petrus 3:8-13). Jy kan, maar net as jy luister wanneer Jehovah se “wag” spreek.

2. Waartoe het versuim om na God se profete te luister vir die koninkryk van Juda gelei?

2 Versuim om na God se profete te luister, het in 607 v.G.J. onheil oor die koninkryk van Juda gebring. Vyandige nasies het hulle verkneuter oor daardie verwoesting deur die Babiloniërs. Maar hoe is Jehovah se naam tog nie verheerlik toe hy in 537 v.G.J. die terugkeer van getroue Jode na hulle tuisland bewerkstellig het nie!

3. Wat bevat die boek Esegiël?

3 Daardie verwoesting sowel as die herstel is deur Jehovah se wag, Esegiël, voorspel. Die Bybelboek met sy naam wat hy omstreeks 591 v.G.J. in Babilonië voltooi het, bevat (1) Esegiël se opdrag; (2) gedramatiseerde profesieë; (3) boodskappe teen Israel; (4) voorspellings van Jerusalem se oordeel; (5) profesieë teen ander nasies; (6) herstellingsbeloftes; (7) ’n profesie teen Gog van Magog en (8) ’n gesig van God se heiligdom. Ons nooi jou om die boek te lees terwyl ons dit bestudeer. Jy sal sodoende sien hoe dit ons vandag raak en jy sal luister terwyl Jehovah se “wag” spreek.a

God se wag ontvang sy opdrag

4. (a) Wat het Esegiël in ’n gesig gesien? (b) Wie was die “wesens”, en watter eienskappe het hulle gehad?

4 Op 5 Tammus 613 v.G.J. (in die vyfde jaar van Judese koning Jojagin se ballingskap in Babilon) was die 30-jarige priester Esegiël een van die Joodse gevangenes by “die Kebarrivier”, ’n vername kanaal van die Eufraatrivier. In ’n gesig het hy Jehovah se hemelse strydwa gesien, vergesel van “vier wesens”. (Lees Esegiël 1:4-10.) Elke ‘wese’, of gevleuelde gerub, het vier gesigte gehad (Esegiël 10:1-20; 11:22). Dit toon dat die gerubs Godgegewe liefde (die mens), geregtigheid (die leeu), krag (die bees, of bul) en wysheid (die arend) het. Elke gerub het langs ’n groot ‘wiel binne-in ’n wiel’ gestaan, en God se gees, of werkende krag, kon hulle in enige rigting beweeg.—Esegiël 1:1-21.

5. Wat stel die hemelse strydwa voor, en hoe behoort hierdie gesig daarvan Jehovah se volk te raak?

5 Die Een wat op die strydwa ry, was ’n glorieryke voorstelling van Jehovah. (Lees Esegiël 1:22-28.) Hoe goed stel die strydwa tog God se geeste-organisasie van engele voor! (Psalm 18:11; 103:20, 21; Daniël 7:9, 10). Jehovah ry daarop in die sin dat hy oor hierdie wesens heers en hulle ooreenkomstig sy voorneme gebruik. Die Een op die strydwa was kalm, soos die gepaardgaande reenboog, maar Esegiël was oorstelp. Hierdie ontsagwekkende gesig van Jehovah se heerlikheid en krag as die Opperorganiseerder van sy hemelse leërs moet gewis nederige dankbaarheid in ons wek vir die voorreg om hom as ’n deel van sy aardse organisasie te dien.

6. (a) Watter aanstelling het Esegiël ontvang, en hoe het hy diens aan God beskou? (b) Onder watter soort mense moes Esegiël profeteer, en watter voordeel hou dit in om te weet hoe God teenoor hom opgetree het?

6 Hoewel hy aan sy menslike afkoms en nederige staat herinner is deurdat hy “mensekind” genoem is, is Esegiël as Jehovah se profeet aangestel. (Lees Esegiël 2:1-5.) Esegiël sou na “opstandige nasies”, die koninkryke van Israel en Juda, gaan. Eerstens het hy volgens ’n goddelike bevel ’n boekrolgeëet wat klaagliedere bevat het, maar dit het soos heuning gesmaak, want hy was dankbaar om God se profeet te wees. Dit is eweneens vir gesalfde Christene en hulle medeknegte ’n soete ondervinding om getuies van Jehovah te wees. Esegiël moes onder ongevoelige en hardkoppige mense profeteer, maar God sou sy gesig so vasbeslote soos hulle gesigte maak, sy voorhoof so hard soos ’n diamant. Hy sou moedig profeteer, hetsy hulle luister of nie. Dit is bemoedigend om te weet dat, net soos God Esegiël in moeilike omstandighede onderskraag het, Hy ons sal help om in enige gebied moedig te getuig.—Esegiël 2:6-3:11.

7. Watter verantwoordelikheid het Esegiël se aanstelling behels?

7 Toe Esegiël die boekrol geëet het, het dit in hom ‘’n grimmigheid van gees’, gepas vir die boodskap daarin, gewek. Hy het “sewe dae lank verstom” in Tel-Abib gebly en die boodskap verteer (Esegiël 3:12-15). Ons moet ook gedurig peins en studeer om diep geestelike dinge te verstaan. Omdat hy ’n boodskap gehad het om te verkondig, is Esegiël as God se wag aangestel. (Lees Esegiël 3:16-21.) Die pas aangestelde wag moes die wetsverbrekende Israeliete waarsku dat goddelike teregstelling hulle in die gesig staar.

8. Wie dien vandag as Jehovah se “wag”, en wie is hulle metgeselle?

8 As Esegiël as ’n wag te kort sou skiet, sou Jehovah hom verantwoordelik hou vir die dood van die slagoffers. Alhoewel diegene wat nie wou hê dat hy teregwysing moes gee nie hom met figuurlike toue sou vasbind, sou hy God se boodskap moedig verkondig (Esegiël 3:22-27). In ons dag weier die Christendom om te luister en probeer sy om gesalfde Christene beperkinge op te lê. Maar hierdie gesalfdes dien sedert 1919 as Jehovah se “wag” en verkondig moedig sy boodskap vir hierdie stelsel se “tyd van die einde” (Daniël 12:4). ’n Toenemende “groot menigte” van Jesus se “ander skape” neem saam met hulle aan hierdie werk deel (Openbaring 7:9, 10; Johannes 10:16). Aangesien die “wag”-klas God se boodskap bly spreek, sal elkeen van die gesalfdes en die “groot menigte” dit tog seker as ’n gereelde verkondiger wil verkondig.

Gedramatiseerde profesieë

9. (a) Hoe het Esegiël vir ons ’n voorbeeld gestel? (b) Wat het Esegiël gedoen om die Babiloniëse beleëring van Jerusalem uit te beeld, en wat is deur die 390 dae en die 40 dae aangedui?

9 Esegiël het vervolgens nederig en moedig profesieë gedramatiseer, en sodoende ’n voorbeeld gestel wat ons behoort te beweeg om Godgegewe toewysings nederig en moedig uit te voer. Om die Babiloniëse beleëring uit te beeld, moes hy met sy voorkant na ’n baksteen gaan lê waarop hy ’n prent van Jerusalem gegraveer het. Esegiël moes 390 dae op sy linkersy lê om die ongeregtigheid van die tienstammeryk van Israel te dra, toe 40 dae op sy regtersy om die sonde van die tweestammeryk van Juda te dra. ’n Dag het ’n jaar verteenwoordig. Die 390 jaar het dus gestrek vandat Israel in 997 v.G.J. in aansyn geroep is tot Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig is. Juda se 40 jaar het gestrek van Jeremia se aanstelling as God se profeet in 647 v.G.J. tot Juda se verwoesting in 607 v.G.J.—Esegiël 4:1-8; Jeremia 1:1-3.

10. Hoe het Esegiël die gevolge van die beleëring gedramatiseer, en watter les kan ons leer uit die feit dat God hom onderskraag het?

10 Esegiël het toe die gevolge van die beleëring gedramatiseer. Om hongersnood aan te dui, het hy van ’n bietjie meer as 200 gram voedsel en sowat ’n halwe liter water per dag geleef. Sy brood (’n onwettige mengsel van koring, gars, bone, lensies, giers en spelt wat oor mis gebak is) was onrein (Levitikus 19:19). Hierdie handeling het getoon dat Jerusalem se inwoners groot gebrek sou ly. Maar hoe bemoedigend is dit om te weet dat, net soos Jehovah Esegiël onder moeilike omstandighede onderskraag het, God ons sal help om ondanks enige ontbering getrou te bly en ons predikingsopdrag uit te voer!—Esegiël 4:9-17.

11. (a) Watter dade word in Esegiël 5:1-4 gemeld, en wat het dit beteken? (b) Hoe moet die feit dat Jehovah die dinge vervul het wat Esegiël gedramatiseer het ons raak?

11 Daarna het Esegiël sy hare en baard met ’n swaard afgeskeer. (Lees Esegiël 5:1-4.) Diegene wat weens hongersnood en pessiekte sou sterf, sou soos die derde van die profeet se hare wees wat hy binne-in Jerusalem verbrand het. Die oorlogsterfgevalle sou soos die derde wees wat met die swaard stukkend gekap is. Die oorlewendes sou onder die nasies verstrooi word soos die derde van sy hare wat in die wind gestrooi is. Maar party bannelinge sou soos die paar hare wees wat uit daardie gestrooide deel geneem en in Esegiël se kleed toegedraai is om te toon dat hulle na die 70 jaar van verlatenheid weer ware aanbidding in Juda sou voortsit (Esegiël 5:5-17). Die feit dat Jehovah hierdie en die ander gedramatiseerde profesieë vervul het, moet ons beweeg om op hom as die Vervuller van profesieë te vertrou.—Jesaja 42:9; 55:11.

Vernietiging lê voor!

12. (a) Wat sou invallers volgens Esegiël 6:1-7 doen? (b) Wat is teenbeeldige Jerusalem volgens Esegiël se profesie, en wat sal met haar gebeur?

12 In 613 v.G.J. het Esegiël die land aangespreek om te toon wat oor Juda se afgodsaanbiddende inwoners sou kom. (Lees Esegiël 6:1-7.) Invallers sou die hoogtes, wierooktafels en altare wat in valse aanbidding gebruik is, vernietig. Die blote gedagte aan verwoesting deur hongersnood, pessiekte en oorlogvoering sou ’n mens laat uitroep “Wee!” en dit beklemtoon deur in die hand te slaan en die voet te stamp. Die lyke van geestelike hoereerders sou oral op die hoogtes lê. Wanneer die Christendom, teenbeeldige Jerusalem, soortgelyke vernietiging ondergaan, sal sy weet dat haar onheil van Jehovah kom.—Esegiël 6:8-14.

13. Wat was “die roede” in Jehovah se hand, en wat het die gebruik daarvan tot gevolg gehad?

13 ‘Die einde sou kom oor die vier hoeke van die land’, Juda se ontroue godsdiensstelsel. ’n “Krans” (“lotsverandering”, AB) van onheilspellende dinge sou ’n afgodedienaar se kop omkring wanneer “die roede” in God se hand—Nebukadnesar en sy Babiloniëse hordes—teen Jehovah se volk en sy tempel optree. Diegene wat tot Juda se “menigte” kopers en verkopers behoort het, sou om die lewe gebring of as bannelinge weggevoer word, en die hande van enigiemand wat bly lewe het, sou slap word van swakheid. Met die omverwerping van hulle valse godsdiensstelsel sou hulle as ’t ware hulle hoofde in rou kaal skeer.—Esegiël 7:1-18, vgl. NW.

14. Wat kon omkopery nie vir Jerusalem doen nie, en wat toon dit aangaande die Christendom?

14 Jehovah en sy teregstellingsmagte kan nie omgekoop word nie. (Lees Esegiël 7:19.) Omkopery kon nie die “skat” (“verborge plek”, NW), die Allerheiligste, red van ontheiliging toe Chaldeeuse “inbrekers” heilige voorwerpe buitgemaak en die tempel in puin agtergelaat het nie. Jehovah ‘het die trots van die sterkes laat ophou’ toe koning Sedekia gevange geneem en vernames van die Levitiese priesterdom gedood is (2 Konings 25:4-7, 18-21). Nee, sondaars in beleërde Jerusalem kon nie onheil deur middel van omkopery vryspring toe God hulle as verbondsoortreders ‘gevonnis het’ nie. Gedurende die naderende ontheiliging van dinge wat die Christendom as heilig beskou, sal sy eweneens nie die goddelike oordeel wat aan haar voltrek gaan word deur omkopery kan vryspring nie. Dit sal dan te laat wees om na Jehovah se “wag” te luister.—Esegiël 7:20-27.

Die wat sug oor die gruwels

15. Wat het Esegiël in Jerusalem gesien, en hoe behoort dit ons te raak?

15 Toe Esegiël God se heerlikheid op 5 Elul 612 v.G.J. gesien het, het ‘iets wat die vorm van ’n hand gehad het hom aan die kuifhare gevat’ en hom deur die gees van inspirasie na Jerusalem geneem. Die hemelse strydwa het ook soontoe beweeg. Wat Esegiël toe gesien het, behoort ons te laat terugdeins by die blote gedagte daaraan om na afvalliges te luister (Spreuke 11:9, vgl. NW). By die tempel het Israelitiese afvalliges ’n afgodsimbool (moontlik ’n heilige paal) aanbid wat God se jaloesie gewek het (Exodus 20:2-6). En watter gruwels het Esegiël tog nie gesien toe hy die binneste voorhof ingaan nie! (Lees Esegiël 8:10, 11.) Hoe skandelik tog dat 70 Israelitiese oudstes wierook geoffer het aan valse gode wat deur veragtelike muursnywerk voorgestel is!—Esegiël 8:1-12.

16. Wat toon Esegiël se gesig omtrent die gevolge van afvalligheid?

16 Esegiël se gesig toon hoe geestelik dodelik afvalligheid is. Die Israelitiese vroue is dan glad oorreed om Tammus, ’n Babiloniëse godheid en minnaar van die vrugbaarheidsgodin Isjtar, te beween! En wat ’n gruwel was dit tog om 25 Israelitiese manne in die tempel se binneste voorhof die son te sien aanbid! (Deuteronomium 4:15-19). Hulle het ’n onwelvoeglike tak, wat moontlik ’n voorstelling van die manlike orgaan was, na God se neus uitgesteek. Geen wonder dat Jehovah nie na hulle gebede wou luister nie, net soos die Christendom tevergeefs sy hulp gedurende die “groot verdrukking” sal soek!—Esegiël 8:13-18, vgl. NW; Mattheüs 24:21.

Geteken vir oorlewing

17. Watter sewe manne is in ’n gesig gesien, en wat het hulle gedoen?

17 Vervolgens sien ons sewe manne—een ’n skrywer met linne bekleed en ses ander met verbryselingswapens. (Lees Esegiël 9:1-7.) Die “ses manne” het Jehovah se hemelse teregstellingsmagte voorgestel, hoewel hy aardse werktuie kan gebruik. Diegene op wie se voorhoofde die ‘man in linne’ ’n teken aangebring het, sou God se medelye ontvang omdat hulle dit nie eens was met die gruwels wat by die tempel gedoen is nie. Teregstelling deur die “ses manne” het daar met die 70 afgodsaanbiddende oudstes, die vroue wat Tammus beween het en die 25 sonaanbidders begin. Hulle en ander ontroues aan God is in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs om die lewe gebring.

18. (a) Wie is die hedendaagse ‘man in linne’? (b) Wat is die “teken”, wie het dit nou, en waartoe lei dit vir die wat dit het?

18 Die teenbeeldige ‘man in linne’ is die klas gesalfde Christene. Hulle gaan van huis tot huis om ’n simboliese teken op diegene aan te bring wat ’n deel van die “groot menigte” van Christus se “ander skape” word. Die “teken” is die bewys dat sulke skape toegewyde, gedoopte persone met ’n Christelike persoonlikheid is. Hulle ‘sug en steun oor die gruwels’ wat in die Christendom gedoen word, en hulle het uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gekom (Openbaring 18:4, 5). Hulle “teken” sal duidelik vir God se teregstellingsmagte toon dat hulle gedurende die “groot verdrukking” gespaar moet word. Hulle kan daardie “teken” behou deur die gesalfdes te help om ander te teken. As jy ‘geteken’ is, moet jy dus ywerig aan die ‘tekenwerk’ deelneem.—Esegiël 9:8-11.

Vurige vernietiging lê voor!

19. Wat strooi die hedendaagse ‘man in linne’ dwarsdeur die Christendom?

19 Die man in linne het tussen die wiele van die hemelse strydwa ingegaan om vurige kole te kry. Dit is oor Jerusalem gestrooi, en dit was ’n waarskuwing dat die vernietiging daarvan ’n uiting van God se vurige grimmigheid sou wees (Esegiël 10:1-8; Klaagliedere 2:2-4; 4:11). In Esegiël se dag is Jehovah se toorn deur middel van die Babiloniërs uitgestort (2 Kronieke 36:15-21; Jeremia 25:9-11). Maar wat van ons dag? Die teenbeeldige ‘man in linne’ strooi God se vurige boodskap dwarsdeur die Christendom as waarskuwing dat goddelike toorn binnekort oor haar en die res van Babilon die Grote uitgestort sal word. Diegene wat weier om na Jehovah se “wag” te luister, het natuurlik geen hoop op oorlewing nie.—Jesaja 61:1, 2; Openbaring 18:8-10, 20.

20. (a) Hoe behoort die harmonie tussen die wiele van die hemelse strydwa en die gerubs ons te raak? (b) Wat het sommige vorste gedoen, en waarmee het hulle Jerusalem verkeerdelik vergelyk?

20 Die aandag word weer op die hemelse strydwa, God se hemelse organisasie, gevestig. Met die oog op die harmonie tussen die strydwa se wiele en die gerubs moet ons beweeg word om ten volle met God se aardse organisasie saam te werk. Uit lojaliteit moet ons dit ook teen verraderlike manne beskerm (Esegiël 10:9-22). Daar was sulke manne in Esegiël se dag, want hy het 25 regeringsvorste gesien wat met Egiptiese hulp ’n opstand teen God se teregstellingsmagte beplan het. Hulle het Jerusalem met ’n kookpot vergelyk, en hulleself met vleis wat veilig daarin is. Maar hoe verkeerd was hulle tog! Die “swaard” van Babiloniëse “vreemdes” sou party van die knoeiers doodmaak, terwyl ander gevangenes sou word. Dit sou gebeur omdat God die Jode aanspreeklik gehou het vir die verbreking van sy verbond (Esegiël 11:1-13; Exodus 19:1-8; 24:1-7; Jeremia 52:24-27). Omdat die Christendom beweer dat sy in ’n verbondsverhouding met God is maar haar vertroue in wêreldlike bondgenootskappe stel, sal sy omkom deur die swaard van God se teregstellingsmagte.

21. Wat het ná Juda se 70 jaar van verlatenheid gebeur, en watter soortgelyke ontwikkeling het die gesalfde oorblyfsel geraak?

21 Hoewel Israeliete ‘in die lande verstrooi’ is, soos in 617 v.G.J., was God “’n heiligdom”, of ’n toevlug, vir berouvolle bannelinge (Esegiël 11:14-16). Maar wat anders kon verwag word? (Lees Esegiël 11:17-21.) Na Juda se 70 jaar van verlatenheid is ’n oorblyfsel in die gereinigde “land Israel” herstel. Net so is die gesalfde oorblyfsel, na Babiloniëse gevangenskap, in 1919 verlos, en onder die leiding van God se gees is die eens verlate “land” van geestelike Israel gereinig. Gevolglik geniet diegene wat vir behoud ‘geteken’ is nou goddelike guns saam met die herstelde oorblyfsel van geestelike Israel. En as jy aanhou om na God se “wag” te luister, kan jy onder die oorlewendes wees wanneer Jehovah sy swaard uit die skede trek.

[Voetnoot]

a Soos die tyd toelaat, moet die studiehouer kursiewe verwysings gedurende gemeentelike studie van hierdie artikel en die twee daaropvolgendes laat lees. Die artikels kan ook gebruik word vir die Teokratiese Bedieningskool se Bybelglanspunte van huidige studies van die boek Esegiël.

Onthou jy?

◻ Waarom moet ons luister wanneer Jehovah se “wag” spreek?

◻ Wat is deur God se hemelse strydwa voorgestel?

◻ Wie dien vandag as Jehovah se “wag”?

◻ Watter afvallige dade het Esegiël in Jerusalem gesien, en hoe behoort hierdie gesig ons te raak?

◻ Wie is die hedendaagse ‘man in linne’, en wat is die “teken” wat hy op voorhoofde aanbring?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel