Bêre
Voorgestelde velddiensaanbiedings
Hoe om hierdie byvoegsel te gebruik
Die meeste van die volgende aanbiedings het in vorige nommers van Ons Koninkryksbediening verskyn. Probeer soveel van hulle as wat jy wil in jou getuieniswerk, en kyk watter resultate jy kry. Bêre hierdie byvoegsel, en gebruik dit wanneer jy vir die bediening voorberei.
Jy sal dalk ’n persoon se belangstelling in God se Woord wek as jy vinnig tot die punt kom. Vra ’n spesifieke vraag en lees dan die kort skriftuurlike antwoord. Jy kan hierdie aanbiedings probeer:
“Voel jy hoopvol of onseker as jy oor die toekoms dink? [Wag vir ’n antwoord.] Die Bybel het die ontstellende gebeure voorspel wat ons vandag sien, sowel as wat die uiteinde daarvan sal wees.”—2 Tim. 3:1, 2, 5; Spr. 2:21, 22.
“Daar is vandag groot kommer oor gesondheidsorg. Het jy geweet God belowe dat hy alle gesondheidsprobleme permanent gaan oplos?”—Jes. 33:24; Op. 21:3, 4.
“Het jy geweet die Bybel voorspel dat daar uiteindelik net een regering sal wees wat oor die hele wêreld regeer?”—Dan. 2:44; Matt. 6:9, 10.
“Hoe dink jy sou toestande gewees het as Jesus Christus oor die aarde regeer het?”—Ps. 72:7, 8.
“Daar word teen baie mense gediskrimineer weens hulle geslag, godsdiens of velkleur. Hoe dink jy voel God oor sulke vooroordeel?”—Hand. 10:34, 35.
“Ons weet dat Jesus Christus baie wonderwerke in sy dag verrig het. As jy hom kon vra om nog een wonderwerk te verrig, wat sou dit wees?”—Ps. 72:12-14, 16.
“Die meeste mense is moeg om na probleme te luister. Hulle wil oplossings hê. Maar waar kan ons ware oplossings vir ons probleme vind?”—2 Tim. 3:16, 17.
“Weet jy wat die Koninkryk is waarvoor jy in die Onse Vader bid?”—Op. 11:15.
Onderwerpe om ’n gesprek te begin
Die lys vrae hieronder, wat saamgestel is uit onderwerpe in die Redenering-boek, gee die bladsynommer in die boek waar elke antwoord gevind kan word:
Waarom word ons oud en sterf ons? (85)
Wat is die toestand van die dode? (86)
Bestaan daar gegronde redes om aan God te glo? (160)
Gee God werklik om wat met ons gebeur? (162)
Is God ’n werklike persoon? (162)
Gaan alle goeie mense hemel toe? (195)
Moet ’n mens hemel toe gaan om ’n waarlik gelukkige toekoms te hê? (196)
Waarom is dit belangrik om God se persoonlike naam te ken en te gebruik? (217)
Is Jesus Christus eintlik God? (232)
Wat gaan God se Koninkryk doen? (248)
Wat is die doel van menselewe? (268)
Hoe kan ’n egpaar hulle huwelik verbeter? (206)
Is alle gelowe vir God aanneemlik? (172)
Hoe kan ’n mens weet watter geloof reg is? (178)
Hoeveel mag oefen Satan in vandag se wêreld uit? (367)
Waarom laat God lyding toe? (279)
Hoekom is daar soveel goddeloosheid? (167)
Wie heers oor hierdie wêreld—God of Satan? (436)
Wenke om die Vereis-brosjure aan te bied
“Jy sal ongetwyfeld saamstem dat baie mense in God glo. Almal wat in hom glo, is dit eens dat God iets van ons vereis. Iets waaroor mense nie kan saamstem nie, is: Wat vereis God van ons?” Bied dan die Vereis-brosjure aan, blaai na les 1 en bespreek dit.
“Met soveel probleme in die gesinslewe vandag, het jy al ooit gewonder wat die geheim van gesinsgeluk is?” Wag vir ’n antwoord, en verduidelik dan dat God in die Bybel die ware geheim van gesinsgeluk openbaar. Lees Jesaja 48:17. Blaai dan na les 8 in die Vereis-brosjure en vestig die aandag op ’n paar van die teksverwysings wat betroubare leiding vir elke lid van die gesin voorsien. Lees die lys vrae aan die begin van die les. Vra of die persoon graag die antwoorde daarop wil lees.
“Hierdie brosjure bevat ’n omvattende studiekursus wat die basiese leringe van die Bybel bespreek. Op elke bladsy sal jy antwoorde vind op vrae waaroor mense al eeue lank wonder. Byvoorbeeld: Wat is God se voorneme met die aarde?” Blaai na les 5 en lees die vrae aan die begin van die les. Vra die huisbewoner in watter een hy die meeste belangstel, en lees dan die ooreenstemmende paragraaf of paragrawe en slaan gepaste tekste na. Verduidelik dat bevredigende antwoorde op die ander vrae net so maklik soos hierdie een gevind kan word. Bied aan om terug te kom en ’n ander vraag te bespreek.
“Wat dink jy is die rede vir al die geweld in openbare skole? Is dit as gevolg van ’n gebrek aan ouerlike leiding? Of kan dit iets anders wees, soos die invloed van die Duiwel?” Wag vir ’n antwoord. As die persoon sê dat dit as gevolg van die Duiwel se invloed is, kan jy Openbaring 12:9, 12 lees. Vestig die aandag op die rol wat die Duiwel speel om tot die probleme in die wêreld by te dra. Maak dan die Vereis-brosjure oop by les 4 en vra of die persoon ooit gewonder het waar die Duiwel vandaan kom. Lees en bespreek dan die eerste twee paragrawe. As die persoon “’n gebrek aan ouerlike leiding” kies as die rede vir geweld in die skole, kan jy 2 Timoteus 3:1-3 lees en die eienskappe uitlig wat klaarblyklik tot hierdie probleem bydra. Maak dan die Vereis-brosjure oop by les 8, lees paragraaf 5 en sit die gesprek voort.
“Dink jy dit is redelik om te verwag dat die Skepper ons die nodige kennis sal gee om ’n suksesvolle gesinslewe te bou?” Wag vir ’n antwoord, en wys dan die Vereis-brosjure. Blaai na les 8 en verduidelik dat dit beginsels uit die Bybel bevat vir elke lid van die gesin. Bied aan om te demonstreer hoe die brosjure saam met die Bybel gebruik kan word om die grootste voordeel daaruit te trek.
“Met al die uitdagings waarvoor ons in die hedendaagse lewe te staan kom, dink jy dat gebed ons werklik kan help? [Wag vir ’n antwoord.] Baie sê dat gebed hulle innerlike krag gee. [Lees Filippense 4:6, 7.] Maar ’n mens voel dalk dat jou gebede nie verhoor word nie. [Maak die Vereis-brosjure by les 7 oop.] Hierdie brosjure verduidelik hoe ons die meeste by gebed kan baat vind.”
“Ons praat met ons bure oor waarom daar soveel verskillende godsdienste in die wêreld is. Tog is daar net een Bybel. Wat dink jy is die rede waarom daar hierdie godsdiensverwarring is? [Wag vir ’n antwoord. Maak die Vereis-brosjure by les 13 oop en lees die vrae aan die begin van die les.] Jy sal bevredigende antwoorde op hierdie vrae vind deur hierdie les te lees.”
Nadat jy Die Wagtoring en Ontwaak! by iemand gelaat het, kan jy vra of jy vir hom een kort paragraaf kan lees. As hy instem, kan jy die Vereis-brosjure by les 5 oopmaak. Wys hom die vrae aan die begin van die les, en vra hom om te luister vir die antwoord op die eerste vraag terwyl jy die eerste paragraaf lees. Nadat jy die paragraaf gelees het, kan jy die vraag vra en hom laat antwoord. Bied die brosjure aan, en as hy dit neem, kan jy reël om terug te kom om die volgende twee vrae in die lys op dieselfde manier te bespreek.
Wenke om die Kennis-boek aan te bied
Met jou Bybel in jou hand kan jy begin deur te sê: “Ons lees vandag ’n Bybelteks vir almal wat in julle straat woon. Dit sê . . . ” Lees Johannes 17:3 en vra dan: “Het jy opgelet wat belowe word as ons die regte soort kennis het? [Wag vir ’n antwoord.] Waar sou ’n mens hierdie kennis vind?” Nadat die persoon geantwoord het, kan jy hom die Kennis-boek wys en sê: “Hierdie boek toon watter soort kennis tot ewige lewe lei. Dit doen dit deur die algemeenste vrae te beantwoord wat mense oor die Bybel het.” Wys hom die inhoudsopgawe en vra of hy al ooit oor enige van hierdie onderwerpe gewonder het.
“Het jy al ooit gewonder of God werklik besorg is oor die ongeregtigheid en lyding wat ons om ons sien of selfs persoonlik ondervind? [Wag vir ’n antwoord.] Die Bybel verseker ons dat God ons liefhet en dat hy ons deur moeilike tye sal help.” Lees dele van Psalm 72:12-17. Maak die Kennis-boek by hoofstuk 8 oop en wys daarop dat dit ’n bemoedigende antwoord gee op ’n vraag wat miljoene mense al gevra het: Waarom laat God lyding toe? Bespreek indien moontlik van die skriftuurlike gedagtes wat in paragrawe 3 tot 5 gedek word, of doen dit gedurende die herbesoek.
“Die meeste van ons het al geliefdes aan die dood afgestaan. Het jy al gewonder of ons hulle weer sal sien? [Wag vir ’n antwoord.] Jesus het bewys dat ons geliefdes uit die dood gered kan word. [Lees Johannes 11:11, 25, 44.] Hoewel dit eeue gelede plaasgevind het, toon dit wat God belowe het om vir ons te doen.” Maak die Kennis-boek by die prent op bladsy 85 oop en lees die byskrif. Wys dan die prent op bladsy 86 en lewer kommentaar daaroor. Lê die grondslag vir die volgende besoek deur te vra: “Sal jy graag wil weet waarom mense oud word en sterf?” Gaan terug om hoofstuk 6 te bespreek.
“Het jy al ooit gewonder waarom mense na ’n langer lewe smag?” Wag vir ’n antwoord, maak dan die Kennis-boek by hoofstuk 6 oop en lees paragraaf 3. Redeneer oor die tekste wat aangegee word. Verwys na die twee vrae aan die einde van die paragraaf en vra die persoon of hy graag self die antwoorde wil sien. As hy gunstig reageer, kan jy die volgende paar paragrawe bespreek.
“Ons vra mense of hulle dit glo . . . ” Lees Genesis 1:1 en vra dan: “Stem jy saam met hierdie woorde?” As die persoon saamstem, kan jy sê: “Ek glo dit ook. Maar as God alles geskep het, dink jy dat hy dan ook vir goddeloosheid verantwoordelik is?” Nadat jy waardering vir die persoon se antwoord uitgespreek het, kan jy Prediker 7:29 lees. Maak die Kennis-boek by hoofstuk 8 oop en lees paragraaf 2. As hy nie met Genesis 1:1 saamstem nie, kan jy hom aanspoor om die bewyse te ondersoek dat die Skepper bestaan.—Sien Redenering-boek, bladsye 379-81.
“Sou jy saamstem dat ons ’n betroubare gids in die lewe nodig het, as mens in ag neem hoe vinnig die sedelike waardes vandag verander? [Wag vir ’n antwoord.] Hoewel die Bybel die oudste boek is, gee dit praktiese raad vir die moderne lewe en vir ’n gelukkige gesinslewe.” Blaai dan na hoofstuk 2 in die Kennis-boek en lees paragraaf 10 en die eerste sin van paragraaf 11, asook 2 Timoteus 3:16, 17.
“Sal jy graag wil weet wat die toekoms vir ons en vir die aarde inhou? [Wag vir ’n antwoord.] Die Bybel som die toekoms op in een woord—Paradys! Dit is waar God die eerste mensepaar gesit het toe hy hulle geskep het. Luister na hierdie beskrywing van hoe dit moes gewees het.” Maak die Kennis-boek op bladsy 8 oop en lees paragraaf 9, onder die onderhofie “Die lewe in die Paradys”. Bespreek dan die punte in paragraaf 10 en lees die teks wat aangegee word, Jesaja 55:10, 11. Bied aan om die bespreking voort te sit van hoe die lewe in die herstelde Paradys sal wees deur paragrawe 11-16 saam te bespreek.
Wanneer jy herbesoeke doen by diegene by wie jy Die Wagtoring en Ontwaak! gelaat het, kan jy sê:
“Toe ek jou laas besoek het, het ek Die Wagtoring by jou gelaat. Jy het dalk opgelet dat die volle titel van die tydskrif is: Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. Vandag wil ek graag verduidelik wat hierdie Koninkryk is en wat dit vir jou en jou gesin kan beteken.” Maak die Vereis-brosjure dan by les 6 oop en lees en bespreek soveel as waarvoor die persoon tyd het.
“Ek het jou onlangs besoek en Die Wagtoring en Ontwaak! by jou gelaat. Hierdie tydskrifte gee ’n mens groter respek vir die Bybel en die sedelike riglyne daarin. Omdat ek meen dat dit belangrik is vir almal om God se Woord te verstaan, het ek teruggekom om jou iets te wys wat jou sal help om dit te doen.” Wys vir die persoon die Vereis-brosjure of die Kennis-boek en bied ’n Bybelstudie aan.
Wanneer jy enige van die ouer boeke met 192 bladsye gebruik, kan jy hierdie aanbieding probeer:
“Die belangrikheid van ’n goeie geleerdheid is al baie beklemtoon. Watter soort geleerdheid moet iemand na jou mening nastreef om die grootste geluk en sukses in die lewe te verseker? [Wag vir ’n antwoord. Lees dan Spreuke 9:10, 11.] Hierdie handboek [gee die titel van die boek wat jy aanbied] is op die Bybel gebaseer. Dit vestig die aandag op die enigste bron van kennis wat tot die ewige lewe kan lei.” Wys ’n spesifieke voorbeeld in die boek en spoor die persoon aan om dit te lees.
Ander publikasies
Voorgestelde aanbiedings vir ander boeke en brosjures kan in die Watch Tower Publications Index gevind word onder:
Presentations
List by Publication
Die direkte benadering
Om ’n Bybelstudie te begin, kan jy een van hierdie direkte benaderings probeer:
“Het jy geweet dat jy binne net ’n paar minute die antwoord op ’n belangrike Bybelvraag kan vind? Byvoorbeeld, . . . ” Vra dan ’n vraag wat aan die begin van een van die lesse in die Vereis-brosjure verskyn en wat jy dink by die individu byval sal vind.
“Ek het gekom om vir jou ons gratis Bybelstudieprogram te wys. Dit neem ongeveer vyf minute om te demonstreer. Kan jy vyf minute afstaan?” As die antwoord ja is, kan jy les 1 in die Vereis-brosjure gebruik om die studie te demonstreer terwyl jy net een of twee uitgesoekte tekste lees. Vra daarna: “Wanneer sal jy ongeveer 15 minute kan afstaan sodat ons die volgende les kan dek?”
“Baie mense het ’n Bybel, maar hulle besef nie dat dit die antwoorde bevat op die belangrike vrae wat ons almal oor ons toekoms het nie. Deur elke week hierdie studiehulp [die Vereis-brosjure of die Kennis-boek] ’n uur of wat te gebruik, kan jy binne net ’n paar maande ’n basiese begrip van die Bybel kry. Ek sal graag vir jou wil wys hoe die program werk.”
“Ek besoek jou om jou ’n gratis tuisbybelstudiekursus aan te bied. As ek mag, wil ek net ’n paar minute gebruik om te demonstreer hoe mense in meer as 200 lande die Bybel tuis as gesinsgroepe bespreek. Ons kan enige van hierdie onderwerpe as grondslag vir ons bespreking gebruik. [Wys die inhoudsopgawe in die Kennis-boek.] In watter een stel jy veral belang?” Wag vir die persoon om een te kies. Blaai na die gekose hoofstuk, en begin die studie in die eerste paragraaf.
“Ek gee gratis Bybellesse en het plek in my rooster vir nog studente. Dit is die Bybelstudiehulp wat ons gebruik. [Wys die Kennis-boek.] Die kursus duur net ’n paar maande en voorsien antwoorde op vrae soos: Waarom laat God lyding toe? Waarom word ons oud en sterf ons? Wat gebeur met ons afgestorwe dierbares? En hoe kan ons na aan God kom? Kan ek ’n les demonstreer?”
As jy ’n doeltreffende aanbieding gevind het waarmee jy belangstelling wek, moet jy dit beslis aanhou gebruik! Pas dit eenvoudig aan by die lektuuraanbod vir die huidige maand.