Hoe kan ons diegene help wat die Gedenkmaal bywoon?
1. Watter kragtige getuienis sal op 22 Maart 2008 gegee word?
1 Op 22 Maart 2008 sal miljoene mense regoor die wêreld ’n kragtige getuienis ontvang. Diegene wat die Gedenkmaal bywoon, sal hoor van Jehovah se groot liefde wat hy betoon het deur ’n losprys vir die mensdom te voorsien (Joh. 3:16). Hulle sal leer van die Koninkryk en hoe Jehovah dit sal gebruik om sy wil vir die aarde te laat geskied (Matt. 6:9, 10). Hulle sal eerstehands die liefde en eenheid van God se volk sien en ons hartlike gasvryheid ondervind.—Ps. 133:1.
2. Hoe kan ons Bybelstudente wat teenwoordig is, help?
2 Bybelstudente: Party in die gehoor sal mense wees met wie ons onlangs die Bybel begin studeer het. Stel hulle aan die broers en susters voor. Verduidelik wat by die weeklikse vergaderinge gebeur, en gee hulle ’n kort toer van die Koninkryksaal. Gedurende die toespraak sal die spreker sulke persone aanmoedig om verdere geestelike vooruitgang te maak. Jy kan sy kommentare gebruik om jou studente aan te moedig.
3. Wat kan gedoen word om onbedrywige verkondigers wat die Gedenkmaal bywoon, aan te moedig?
3 Onbedrywiges: Sommige in die gehoor sal onbedrywige verkondigers wees. Neem die inisiatief om hulle hartlik te groet. Moenie persoonlike vrae vra of dinge sê wat hulle in die verleentheid kan stel nie. Kort ná die Gedenkmaal moet ouer manne enige onbedrywiges besoek wat dit bygewoon het, hulle daarvoor prys en hulle hartlik na die volgende gemeentelike vergadering nooi.
4. Hoe kan ons almal besoekers help?
4 Besoekers: Party van dié wat teenwoordig is, is dalk kennisse of gesinslede wat persoonlik deur ons genooi is. Ander het dalk ’n uitnodiging tydens die spesiale kampanje ontvang. As jy mense sien wat jy nie herken nie, neem die inisiatief om jou aan hulle voor te stel en hulle te verwelkom. Hulle het moontlik nog nooit voorheen een van ons vergaderinge bygewoon nie. Jy kan dalk tydens julle gesprek uitvind hoe om met hulle in aanraking te kom. Deur ’n besoek of ’n kort telefoonoproep ’n paar dae ná die Gedenkmaal kan jy verdere belangstelling probeer kweek en ’n Bybelstudie aanbied.
5. Wat kan ons sê om ’n Bybelstudie te begin?
5 Die inligting in die Gedenkmaaltoespraak kan gebruik word as ’n grondslag om die Leer Bybel-boek tydens ’n herbesoek aan te bied. Byvoorbeeld, die Gedenkmaalspreker sal Jesaja 65:21-23 lees of daarna verwys. Wanneer jy die herbesoek doen, kan jy die toespraak meld en sê: “Kom ek wys vir jou watter ander seëninge deur die losprys moontlik gemaak word.” Bespreek dan bladsye 4-5 van die Leer Bybel-boek. Of jy kan sê: “Baie mense wonder wanneer ons die vervulling van Jesaja se profesie sal sien.” Bespreek dan paragrawe 1-3 van hoofstuk 9. Nog ’n moontlikheid is om eenvoudig na die Gedenkmaalspreker se kommentare te verwys, die Leer Bybel-boek aan te bied en die studie te demonstreer.
6. Watter geleenthede het elkeen van ons wanneer ons Jesus se bevel gehoorsaam om sy dood te herdenk?
6 Laat elkeen van ons op die uitkyk wees na geleenthede om Bybelstudente, onbedrywige verkondigers en besoekers wat die Gedenkmaal bywoon, te help (Luk. 22:19). Jehovah sal beslis al ons pogings seën om meer in die Koninkryksdiens te doen.