Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 2/15 bl. 12-16
  • Waarom moet ons die Here se Aandmaal vier?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet ons die Here se Aandmaal vier?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Hou aan om dit te doen’
  • Waarom dit ingestel is
  • Wanneer moet dit gevier word?
  • Betekenis van die brood
  • Betekenis van die wyn
  • Die Gedenkmaal—’n gemeenskaplike maal
  • ‘Doen dit tot my gedagtenis’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hoe ons gedurende die Gedenkmaaltyd kan ‘onderskei wat ons is’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Waarom ons die Here se Aandmaal herdenk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Die Here se Aandmaal—Hoe moet dit herdenk word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 2/15 bl. 12-16

Waarom moet ons die Here se Aandmaal vier?

“Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgedra het.”—1 KORINTIËRS 11:23.

1, 2. Wat het Jesus op die Pasganag in 33 G.J. gedoen?

JEHOVAH se enigverwekte Seun was teenwoordig. So ook 11 manne wat ‘in sy beproewinge altyddeur by hom gebly het’ (Lukas 22:28). Dit was Donderdagaand, 31 Maart 33 G.J., en bo Jerusalem het daar heel waarskynlik ’n volmaan geskyn. Jesus Christus en sy apostels het pas die Pasgaviering afgesluit. Die verraaier Judas Iskariot is uitgestuur, maar dit was nog nie tyd vir die ander om te gaan nie. Waarom nie? Omdat Jesus op die punt gestaan het om iets baie belangriks te doen. Wat was dit?

2 Kom ons laat die Evangelieskrywer Matteus ons vertel, aangesien hy daar was. Hy het geskryf: “Jesus [het] ’n brood geneem, en nadat hy ’n seën gevra het, het hy dit gebreek en dit vir die dissipels gegee en gesê: ‘Neem, eet. Dit beteken my liggaam.’ Ook het hy ’n beker geneem, en nadat hy gedank het, het hy dit vir hulle gegee en gesê: ‘Drink almal daaruit; want dit beteken my “bloed van die verbond”, wat vir baie uitgestort sal word tot vergifnis van sondes’” (Matteus 26:26-28). Sou dit ’n eenmalige gebeurtenis wees? Wat het dit beteken? Het dit vandag enige betekenis vir ons?

‘Hou aan om dit te doen’

3. Waarom was dit wat Jesus die aand van 14 Nisan 33 G.J. gedoen het, betekenisvol?

3 Wat Jesus Christus die aand van 14 Nisan 33 G.J. gedoen het, was nie net ’n toevallige gebeurtenis in sy lewe nie. Die apostel Paulus het dit bespreek toe hy aan die gesalfde Christene in Korinte geskryf het, waar die patroon meer as 20 jaar later nog steeds gevolg is. Hoewel Paulus nie in 33 G.J. saam met Jesus en die 11 apostels was nie, het hy ongetwyfeld by party van die apostels gehoor wat by daardie geleentheid gebeur het. Daarbenewens het Paulus blykbaar deur inspirasie ’n openbaring ontvang wat sekere aspekte van daardie gebeurtenis bevestig het. Paulus het gesê: “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgedra het, dat die Here Jesus in die nag waarin hy oorgelewer sou word, ’n brood geneem het, en nadat hy gedank het, het hy dit gebreek en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle is. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.’ Nadat hy die aandmaal geëet het, het hy ook dieselfde met betrekking tot die beker gedoen en gesê: ‘Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed. Hou aan om dit, so dikwels as julle dit drink, tot my gedagtenis te doen.’”—1 Korintiërs 11:23-25.

4. Waarom moet Christene die Here se Aandmaal vier?

4 Die Evangelieskrywer Lukas bevestig dat Jesus beveel het: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Lukas 22:19). Hierdie woorde is ook al vertaal met: “Doen dit ter nagedagtenis aan my” (Today’s English Version) en “Doen dit ter herinnering aan my” (The Jerusalem Bible). Trouens, daar word dikwels na hierdie viering verwys as die herdenking van Christus se dood. Paulus noem dit ook die Here se Aandmaal—’n gepaste benaming, aangesien dit in die aand ingestel is (1 Korintiërs 11:20). Christene word beveel om die Here se Aandmaal te vier. Maar waarom is hierdie viering ingestel?

Waarom dit ingestel is

5, 6. (a) Wat is een rede waarom Jesus die Gedenkmaal ingestel het? (b) Gee nog ’n rede waarom die Here se Aandmaal ingestel is.

5 Een rede waarom die Gedenkmaal ingestel is, het te doen met iets wat deur Jesus se dood bereik is. Hy het gesterf as ’n ondersteuner van sy hemelse Vader se soewereiniteit. Christus het sodoende getoon dat Satan die Duiwel, wat die valse aantyging gemaak het dat mense God net om selfsugtige redes dien, ’n leuenaar is (Job 2:1-5). Die feit dat Jesus getrou gesterf het, het bewys dat hierdie bewering vals is en het Jehovah se hart bly gemaak.—Spreuke 27:11.

6 Nog ’n rede waarom die Here se Aandmaal ingestel is, is om ons daaraan te herinner dat Jesus deur middel van sy dood as ’n volmaakte, sondelose mens ‘sy siel as ’n losprys in ruil vir baie gegee het’ (Matteus 20:28). Toe die eerste mens teen God gesondig het, het hy volmaakte menselewe en al die vooruitsigte wat daarmee gepaardgaan, verbeur. Jesus het egter gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Ja, “die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Die viering van die Here se Aandmaal herinner ons aan die groot liefde wat Jehovah sowel as sy Seun met Jesus se offerdood getoon het. Hoe moet ons tog nie daardie liefde waardeer nie!

Wanneer moet dit gevier word?

7. In watter sin gebruik gesalfde Christene die Gedenkmaalembleme “dikwels”?

7 Aangaande die Here se Aandmaal het Paulus gesê: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, hou julle aan om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom” (1 Korintiërs 11:26). Gesalfde Christene sou tot hulle dood van die Gedenkmaalembleme gebruik. Hulle sou dus herhaaldelik voor Jehovah God en die wêreld hulle geloof in God se voorsiening van Jesus se losprysoffer verkondig.

8. Hoe lank moes die gesalfdes die Here se Aandmaal vier?

8 Hoe lank sal die gesalfde Christene die herdenking van Christus se dood vier? “Totdat hy kom”, het Paulus gesê, wat klaarblyklik beteken dat hierdie vierings sou voortduur totdat Jesus kom om sy gesalfde volgelinge deur ’n opstanding gedurende sy “teenwoordigheid” in die hemel te ontvang (1 Tessalonisense 4:14-17). Dit stem ooreen met Jesus se woorde aan die 11 lojale apostels: “As ek gaan en vir julle ’n plek berei, kom ek weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is.”—Johannes 14:3.

9. Wat beteken Jesus se woorde wat in Markus 14:25 opgeteken is?

9 Toe Jesus die Gedenkmaal ingestel het, het hy na die beker wyn verwys en vir sy getroue apostels gesê: “Ek sal hoegenaamd nie meer van die vrug van die wingerdstok drink tot op daardie dag wanneer ek dit nuut in die koninkryk van God drink nie” (Markus 14:25). Aangesien Jesus nie letterlike wyn in die hemel sou drink nie, het hy ongetwyfeld die vreugde in gedagte gehad wat soms deur wyn voorgestel word (Psalm 104:15; Prediker 10:19). Om saam in die Koninkryk te wees, sou ’n vreugdevolle ervaring wees waarna hy en sy voetstapnavolgers met groot afwagting uitgesien het.—Romeine 8:23; 2 Korintiërs 5:2.

10. Hoe dikwels moet die Gedenkmaal gevier word?

10 Moet Jesus se dood maandeliks, weekliks of selfs daagliks herdenk word? Nee. Jesus het die Here se Aandmaal ingestel en is doodgemaak op Pasgadag, wat gehou is “as ’n gedagtenis” aan Israel se bevryding in 1513 v.G.J. uit slawerny in Egipte (Eksodus 12:14). Die Pasga is slegs een maal per jaar gehou, op die 14de dag van die Joodse maand Nisan (Eksodus 12:1-6; Levitikus 23:5). Dit dui aan dat Jesus se dood net so dikwels soos die Pasga gevier moet word—naamlik jaarliks—nie maandeliks, weekliks of daagliks nie.

11, 12. Wat toon die geskiedenis omtrent vroeë vierings van die Gedenkmaal?

11 Dit is dus gepas om die Gedenkmaal jaarliks op 14 Nisan te vier. Een naslaanwerk sê: “Die Christene van Klein-Asië is Quartodecimane [Veertienders] genoem na aanleiding van hulle gebruik om die pascha [Here se Aandmaal] sonder uitsondering op die 14de Nisan te vier . . . Die datum kan op ’n Vrydag of enige ander dag van die week val.”—The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, Deel IV, bladsy 44.

12 Die geskiedkundige J. L. von Mosheim sê aangaande die gebruik in die tweede eeu G.J. dat die Quartodecimane die Gedenkmaal op 14 Nisan gevier het omdat “hulle Christus se voorbeeld net so bindend soos ’n wet beskou het”. ’n Ander geskiedkundige sê: “Die gebruik van die Quartodecimaanse kerke van Asië het gestrook met dié van die kerk in Jerusalem. In die 2de eeu het hierdie kerke tydens hulle Pascha op die 14de Nisan die verlossing herdenk wat die dood van Christus teweeggebring het.”—Studia Patristica, Deel V, 1962, bladsy 8.

Betekenis van die brood

13. Watter soort brood het Jesus gebruik toe hy die Here se Aandmaal ingestel het?

13 Toe Jesus die Gedenkmaal ingestel het, “het hy ’n brood geneem, ’n seën gevra, dit gebreek en dit vir [die apostels] gegee” (Markus 14:22). Die brood wat by daardie geleentheid beskikbaar was, was die soort wat so pas vir die Pasga gebruik is (Eksodus 13:6-10). Aangesien dit sonder suurdeeg gebak is, was dit plat en bros en moes dit gebreek word om dit uit te deel. Toe Jesus brood wonderdadig vermeerder het vir duisende, was dit ook plat en bros, want hy het dit gebreek sodat dit uitgedeel kon word (Matteus 14:19; 15:36). Om die Gedenkmaalbrood te breek, het dus klaarblyklik geen geestelike betekenis nie.

14. (a) Waarom is dit gepas dat die Gedenkmaalbrood ongesuurd is? (b) Watter soort brood kan vir die Here se Aandmaal gekoop of gebak word?

14 Aangaande die brood wat gebruik is om die Gedenkmaal in te stel, het Jesus gesê: “Dit beteken my liggaam, wat vir julle is” (1 Korintiërs 11:24; Markus 14:22). Dit was gepas dat die brood ongesuurd was. Waarom? Omdat suurdeeg na slegtheid, goddeloosheid of sonde kan verwys (1 Korintiërs 5:6-8). Die brood het Jesus se volmaakte, sondelose menseliggaam voorgestel, wat gepas as ’n losprysoffer aangebied is (Hebreërs 7:26; 10:5-10). Jehovah se Getuies hou dit in gedagte en volg die presedent wat Jesus gestel het deur ongesuurde brood by Gedenkmaalvierings te gebruik. In sommige gevalle gebruik hulle ongekruide Joodse matso’s wat geen ekstra bestanddele soos uie of eiers bevat nie. Andersins kan ongesuurde brood gemaak word met ’n bietjie volgraanmeel (waar moontlik, koringmeel) gemeng met ’n bietjie water. Die deeg moet dun uitgerol word en kan gebak word op ’n bakplaat wat liggies met olie gesmeer is totdat die brood droog en bros is.

Betekenis van die wyn

15. Wat was in die beker wat gebruik is toe Christus die herdenking van sy dood ingestel het?

15 Nadat Jesus die ongesuurde brood omgestuur het, het hy ’n beker geneem, “gedank en dit vir [die apostels] gegee, en hulle het almal daaruit gedrink”. Jesus het verduidelik: “Dit beteken my ‘bloed van die verbond’, wat vir baie uitgestort sal word” (Markus 14:23, 24). Wat was in die beker? Gegiste wyn, nie ongegiste druiwesap nie. Wanneer die Skrif na wyn verwys, praat dit nie van ongegiste druiwesap nie. Gegiste wyn, nie druiwesap nie, sal byvoorbeeld “ou wynsakke” laat bars, soos Jesus gesê het. En Christus se vyande het hom daarvan beskuldig dat hy “aan wyn verslaaf” was. Dit sou ’n sinlose aantyging gewees het as die wyn net druiwesap was (Matteus 9:17; 11:19). Wyn is gedurende die Pasgaviering gedrink, en Christus het dit gebruik toe hy die herdenking van sy dood ingestel het.

16, 17. Watter soort wyn is geskik vir Gedenkmaalvierings, en waarom?

16 Net rooi wyn is ’n gepaste simbool van wat die beker se inhoud voorstel, naamlik Jesus se vergote bloed. Hy het self gesê: “Dit beteken my ‘bloed van die verbond’, wat vir baie uitgestort sal word.” En die apostel Petrus het geskryf: “Julle [gesalfde Christene] weet dat julle nie met verderflike dinge, met silwer of goud, verlos is van julle vrugtelose gedragswyse wat julle deur oorlewering van julle voorvaders ontvang het nie. Maar dit was met kosbare bloed, soos dié van ’n smetlose en vlekkelose lam, ja, Christus s’n.”—1 Petrus 1:18, 19.

17 Jesus het ongetwyfeld rooi wyn gebruik toe hy die Gedenkmaal ingestel het. Van vandag se rooi wyne is egter onaanvaarbaar omdat dit met spiritus of brandewyn gefortifiseer word of omdat kruie en speserye daarby gevoeg is. Jesus se bloed was voldoende; dit was nie nodig dat enigiets daarby gevoeg word nie. Wyne soos port, sjerrie en vermoet sal dus nie geskik wees nie. Die Gedenkmaalbeker moet onversoete en ongefortifiseerde rooi wyn bevat. Tuisgemaakte, onversoete rooi wyn kan gebruik word, en so ook wyne soos boergonje en klaret.

18. Waarom kan ons sê dat Jesus nie ’n wonderwerk verrig het wat die Gedenkmaalbrood en -wyn betref nie?

18 Toe Jesus hierdie maal ingestel het, het hy nie ’n wonderwerk verrig en die embleme in sy letterlike vlees en bloed verander nie. Om die vlees en bloed van ’n mens te eet en te drink, sou neerkom op kannibalisme, ’n skending van God se wet (Genesis 9:3, 4; Levitikus 17:10). Jesus het nog sy hele vleeslike liggaam en al sy bloed gehad. Sy liggaam is as ’n volmaakte offerande geoffer, en sy bloed is die volgende middag van dieselfde Joodse dag, 14 Nisan, uitgestort. Die Gedenkmaalbrood en -wyn is dus embleme wat Christus se vlees en bloed voorstel.a

Die Gedenkmaal—’n gemeenskaplike maal

19. Waarom kan meer as een bord en een beker tydens die viering van die Here se Aandmaal gebruik word?

19 Toe Jesus die Gedenkmaal ingestel het, het hy sy getroue apostels genooi om uit ’n gemeenskaplike beker te drink. Matteus se Evangelie sê: “[Jesus het] ’n beker geneem, en nadat hy gedank het, het hy dit vir hulle gegee en gesê: ‘Drink almal daaruit’” (Matteus 26:27). Die gebruik van “’n beker”, en nie ’n paar bekers nie, het geensins ’n probleem geskep nie, aangesien daar by daardie geleentheid net 11 was wat om een tafel gesit het en die beker maklik vir mekaar kon aangee. Vanjaar sal miljoene wêreldwyd in meer as 94 000 gemeentes van Jehovah se Getuies vir die Here se Aandmaal bymekaarkom. Aangesien so baie op dieselfde aand vir hierdie viering vergader, kan net een beker onmoontlik vir almal gebruik word. Maar die beginsel word nog steeds in groot gemeentes toegepas deur ’n paar bekers te gebruik sodat dit binne ’n redelike tyd deur die gehoor gestuur kan word. Net so kan meer as een bord vir die brood gebruik word. Daar is niks in die Skrif wat daarop dui dat die beker of glas ’n spesifieke vorm moet hê nie. Maar dít sowel as die bord moet die waardigheid van die geleentheid weerspieël. Dit is verstandig om die beker nie so vol te maak dat die wyn dalk kan uitstort wanneer dit omgestuur word nie.

20, 21. Waarom kan ons sê dat die Gedenkmaal ’n gemeenskaplike maal is?

20 Hoewel meer as een bord met brood en meer as een beker wyn dalk gebruik word, is die Gedenkmaal ’n gemeenskaplike maal. In eertydse Israel kon ’n man ’n gemeenskaplike maal voorsien deur ’n dier na God se heiligdom te bring, waar dit geslag is. ’n Deel van die dier is op die altaar verbrand, ’n deel is gegee aan die diensdoende priester en ’n deel aan Aäron se priesterlike seuns, terwyl die een wat die offer gebring het en sy gesin die maal saam met hulle geniet het (Levitikus 3:1-16; 7:28-36). Die Gedenkmaal is ook ’n gemeenskaplike maal omdat mense dit saam geniet.

21 Jehovah is by hierdie gemeenskaplike maal betrokke as die Insteller van die reëling. Jesus is die offerande, en gesalfde Christene gebruik die embleme as deelgenote. Die feit dat dié wat die embleme gebruik, aan Jehovah se tafel eet, beteken dat hulle vrede met hom geniet. Gevolglik het Paulus geskryf: “Die beker van seën wat ons seën, is dit nie deelgenootskap in die bloed van die Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie deelgenootskap in die liggaam van die Christus nie? Omdat daar een brood is, is ons, hoewel baie, een liggaam, want ons het almal deel aan daardie een brood.”—1 Korintiërs 10:16, 17.

22. Watter vrae oor die Gedenkmaal moet ons nog bespreek?

22 Die Here se Aandmaal is die enigste jaarlikse godsdiensviering onder Jehovah se Getuies. Dit is gepas, want Jesus het sy volgelinge beveel: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.” By die Gedenkmaal herdenk ons Jesus se dood, ’n dood wat Jehovah se soewereiniteit verdedig het. Soos ons gesien het, stel die brood by hierdie gemeenskaplike maal Christus se menseliggaam voor wat hy opgeoffer het, en die wyn stel sy bloed voor wat hy uitgegiet het. Tog gebruik baie min van die embleme, die brood en wyn. Waarom? Het die Gedenkmaal ware betekenis vir die miljoene wat nie van die embleme gebruik nie? Trouens, wat behoort die Here se Aandmaal vir jou te beteken?

[Voetnoot]

a Sien Deel 2, bladsy 271, van Insight on the Scriptures, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom het Jesus die Here se Aandmaal ingestel?

• Hoe dikwels moet die Gedenkmaal gevier word?

• Wat is die betekenis van die ongesuurde Gedenkmaalbrood?

• Wat stel die Gedenkmaalwyn voor?

[Prent op bladsy 15]

Jesus het die Here se Aandmaal ingestel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel