Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 1/15 bl. 15-20
  • Dien Jehovah met vreugde van hart

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dien Jehovah met vreugde van hart
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om met “vreugde van hart” te dien
  • Wanneer vreugde ontbreek
  • Wag met vreugde
  • Vreugde ondanks vervolging
  • ‘Dien Jehovah met verheuging’
  • Verheug jou in jou hoop
  • Vreugde — ’n Eienskap wat ons van God kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Wees blymoedig in ’n wêreld vol moeilikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die vreugde van Jehovah is ons vesting
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Dien Jehovah met vreugde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 1/15 bl. 15-20

Dien Jehovah met vreugde van hart

“Al hierdie vervloekinge sal beslis oor jou kom . . . as gevolg van die feit dat jy Jehovah jou God nie met verheuging en vreugde van hart gedien het . . . nie.”—DEUTERONOMIUM 28:45-47, NW.

1. Watter bewys is daar dat diegene wat Jehovah dien vreugdevol is ongeag waar hulle hom dien?

JEHOVAH se knegte is vreugdevol, hetsy hulle sy wil in die hemel of op die aarde doen. Die “môresterre”, of engele, het gejubel toe die aarde gegrond is, en die miriades hemelse engele ‘volbring God se woord’ ongetwyfeld met vreugde (Job 38:4-7; Psalm 103:20). Jehovah se eniggebore Seun was ’n vreugdevolle “meesterwerker” in die hemel, en dit het hom genot verskaf om die Goddelike wil as die mens Jesus Christus op aarde te doen. Daarbenewens het hy “vir die vreugde wat hom voorgehou is . . . ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit”.—Spreuke 8:30, 31, NW; Hebreërs 10:5-10; 12:2, NW.

2. Wat het bepaal of die Israeliete seëninge of vervloekinge ervaar het?

2 Die Israeliete het vreugde ervaar wanneer hulle God behaag het. Maar gestel hulle was ongehoorsaam aan hom? Hulle is gewaarsku: “[Vervloekinge] moet tot onbepaalde tyd as ’n teken en ’n wonder op jou en jou nageslag rus, as gevolg van die feit dat jy Jehovah jou God nie met verheuging en vreugde van hart gedien het weens die oorvloed van alles nie. En jy sal jou vyande wat Jehovah teen jou sal stuur, moet dien met honger en dors en naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal jou beslis ’n ysterjuk op die nek lê totdat hy jou verdelg het” (Deuteronomium 28:45-48, NW). Seëninge en vervloekinge het duidelik getoon wie Jehovah se knegte was en wie nie. Sulke vervloekinge het ook bevestig dat God se beginsels en voornemens nie ligtelik opgeneem en ook nie geminag kan word nie. Omdat die Israeliete geweier het om op Jehovah se waarskuwings oor verwoesting en ballingskap ag te slaan, het Jerusalem “’n vervloeking vir al die nasies van die aarde” geword (Jeremia 26:6). Laat ons dus aan God gehoorsaam wees en sy guns geniet. Vreugde is een van die talle Goddelike seëninge wat deur die godvrugtiges geniet word.

Hoe om met “vreugde van hart” te dien

3. Wat is die figuurlike hart?

3 Die Israeliete moes Jehovah “met verheuging en vreugde van hart” dien. God se hedendaagse knegte moet ook. Om verheug te wees, is “om bly te wees; met vreugde vervul te wees”. Hoewel die fisiese hart in die Skrif genoem word, dink of redeneer dit nie letterlik nie (Exodus 28:30). Die hooffunksie daarvan is om die bloed te pomp wat die liggaamselle voed. In die meeste gevalle praat die Bybel egter van die figuurlike hart, wat meer as die setel van toegeneentheid, motivering en intellek is. Dit staan blykbaar vir “die sentrale deel oor die algemeen, die binnekant, en daarom vir die innerlike mens soos hy hom openbaar in al sy verskillende bedrywighede, in sy begeertes, toegeneenthede, emosies, hartstogte, doelwitte, sy gedagtes, gewaarwordings, voorstellings, sy wysheid, kennis, vaardigheid, sy opvattings en sy redenasies, sy geheue en sy bewustheid” (Journal of the Society of Biblical Literature and Exegesis, 1882, bladsy 67). Ons figuurlike hart behels ons gevoelens en emosies, wat vreugde insluit.—Johannes 16:22.

4. Wat kan ons help om Jehovah God met vreugde van hart te dien?

4 Wat kan ons help om Jehovah met vreugde van hart te dien? ’n Positiewe en waarderende beskouing van ons seëninge en godgegewe voorregte is nuttig. Ons kan byvoorbeeld vreugdevol nadink oor ons voorreg om “heilige diens” aan die ware God te verrig (Lukas 1:74, NW). ’n Voorreg wat daarmee verband hou, is om Jehovah se naam as sy Getuies te dra (Jesaja 43:10-12, NW). Daarbenewens is daar die vreugde van die wete dat ons God behaag deur sy Woord te volg. En watter vreugde verskaf dit tog om geestelike lig na ander te neem en sodoende baie te help om uit die duisternis te kom!—Mattheüs 5:14-16; vergelyk 1 Petrus 2:9.

5. Wat is die bron van godvrugtige vreugde?

5 Om Jehovah met vreugde van hart te dien, is egter nie net ’n kwessie van positiewe denke nie. Dit is nuttig om ’n positiewe uitkyk te hê. Maar godvrugtige vreugde is nie iets wat ons deur karakterontwikkeling voortbring nie. Dit is ’n vrug van Jehovah se gees (Galasiërs 5:22, 23, NW). As ons nie sulke vreugde het nie, is dit moontlik nodig dat ons aanpassings maak sodat ons enige onskriftuurlike denke of optrede kan vermy wat God se gees kan bedroef (Efesiërs 4:30). Maar as mense wat aan Jehovah toegewy is, moet ons nie vrees dat ’n gebrek aan hartgrondige vreugde nou en dan bewys van Goddelike misnoeë is nie. Ons is onvolmaak en het soms met pyn, hartseer en selfs depressie te kampe, maar Jehovah verstaan ons (Psalm 103:10-14). Laat ons dus om sy heilige gees bid en onthou dat vreugde, ’n vrug daarvan, van God kom. Ons liefdevolle hemelse Vader sal sulke gebede verhoor en ons in staat stel om hom met vreugde van hart te dien.—Lukas 11:13.

Wanneer vreugde ontbreek

6. Wat moet ons doen as vreugde in ons diens aan God ontbreek?

6 As vreugde in ons diens ontbreek, kan ons mettertyd traag word in ons diens aan Jehovah of selfs ontrou aan hom wees. Dit sal dus verstandig wees om ons beweegredes nederig en biddend te oorweeg en die nodige aanpassings te maak. Om godgegewe vreugde te hê, moet ons Jehovah uit liefde en met ons hele hart, siel en verstand dien (Mattheüs 22:37). Ons moenie met ’n gees van wedywering dien nie, want Paulus het geskryf: “As ons deur gees lewe, laat ons dan voortgaan om ook deur gees ordelik te wandel. Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie” (Galasiërs 5:25, 26, NW). Ons sal nie ware vreugde hê as ons dien omdat ons bo ander wil uitblink of eersugtig is nie.

7. Hoe kan ons ons vreugde van hart weer aanwakker?

7 Dit bring vreugde mee as ons ons toewyding aan Jehovah uitlewe. Toe ons ons pas aan God toegewy het, het ons die Christelike lewenswyse ywerig begin volg. Ons het die Skrif bestudeer en gereeld aan die vergaderinge deelgeneem (Hebreërs 10:24, 25). Dit het ons vreugde verskaf om aan die bediening deel te neem. Maar gestel ons vreugde het verflou? Bybelstudie, vergaderingbywoning, deelname aan die bediening—ja, ’n volle aandeel aan elke aspek van die Christelike geloof—behoort ons lewe geestelik stabiel te maak en ons eerste liefde asook ons vroeëre vreugde van hart weer aan te wakker (Openbaring 2:4). Dan sal ons nie wees soos sommige wat ’n gebrek aan vreugde het en dikwels geestelike hulp nodig het nie. Ouere manne wil graag help, maar ons moet self ons toewyding aan God nakom. Niemand anders kan dit vir ons doen nie. Laat ons ons dit dus ten doel stel om die gewone Christelike roetine te volg sodat ons ons toewyding aan Jehovah kan nakom en ware vreugde kan hê.

8. Waarom is ’n skoon gewete belangrik as ons vreugdevol wil wees?

8 As ons die vreugde wil hê wat ’n vrug van God se gees is, moet ons ’n skoon gewete hê. Solank as wat koning Dawid van Israel sy sonde probeer verberg het, was hy ongelukkig. Trouens, dit was asof sy lewensvog verdamp het, en hy het moontlik fisies siek geraak. Watter verligting het hy tog nie ervaar toe berou en belydenis plaasgevind het nie! (Psalm 32:1-5, vgl. NW). Ons kan nie vreugdevol wees as ons die een of ander ernstige sonde verberg nie. Dit kan selfs veroorsaak dat ons ’n kommervolle lewe lei. Dit is beslis nie die manier om vreugde te ervaar nie. Maar belydenis en berou bring verligting en die herstel van ’n vreugdevolle gees.—Spreuke 28:13.

Wag met vreugde

9, 10. (a) Watter belofte het Abraham ontvang, maar hoe is sy geloof en vreugde moontlik getoets? (b) Hoe kan ons baat vind by die voorbeelde van Abraham, Isak en Jakob?

9 Dit is een ding om vreugde te hê wanneer ons aanvanklik leer wat God se voorneme is, maar dit is iets heeltemal anders om met die verloop van jare vreugdevol te bly. Dit kan in die geval van die getroue Abraham toegelig word. Nadat hy probeer het om sy seun Isak op God se bevel te offer, het ’n engel hierdie boodskap gebring: “Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag [saad, NW] grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag [saad, NW] sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag [saad, NW] sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:15-18). Abraham was ongetwyfeld verheug oor hierdie belofte.

10 Abraham het moontlik verwag dat Isak die “saad” sou wees deur wie die beloofde seëninge sou kom. Maar die verloop van jare sonder dat enigiets wonderliks deur Isak tot stand gebring is, het moontlik Abraham en sy gesin se geloof en vreugde getoets. God se bevestiging van die belofte aan Isak en later aan sy seun Jakob het hulle die versekering gegee dat die Saad nog in die toekoms sou kom, en dit het hulle gehelp om hulle geloof en vreugde te behou. Abraham, Isak en Jakob het egter gesterf sonder om die vervulling van God se beloftes aan hulle te sien, maar hulle was nie vreugdelose knegte van Jehovah nie (Hebreërs 11:13). Ons kan ook aanhou om Jehovah met geloof en vreugde te dien terwyl ons op die vervulling van sy beloftes wag.

Vreugde ondanks vervolging

11. Waarom kan ons vreugdevol wees ondanks vervolging?

11 As Jehovah se knegte kan ons Jehovah met vreugde van hart dien al verduur ons vervolging. Jesus het gesê dat diegene wat om sy ontwil vervolg word gelukkig is, en die apostel Petrus het gesê: “Namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus” (1 Petrus 4:13, 14; Mattheüs 5:11, 12, vgl. NW). As jy vervolging en lyding verduur ter wille van geregtigheid, het jy Jehovah se gees en goedkeuring, en dit dra beslis tot vreugde by.

12. (a) Waarom kan ons geloofstoetse met vreugde die hoof bied? (b) Watter basiese les kan geleer word uit die geval van ’n sekere Leviet in ballingskap?

12 Ons kan geloofstoetse met vreugde die hoof bied omdat God ons Toevlug is. Dit blyk duidelik uit Psalms 42 en 43. ’n Sekere Leviet was om die een of ander rede in ballingskap. Hy het aanbidding in God se heiligdom só gemis dat hy soos ’n dorstige hinde, of vroulike hert, gevoel het wat in ’n droë en dorre streek na water smag. Hy het ‘gedors’, of gehunker, na Jehovah en na die voorreg om God by Sy heiligdom te aanbid (Psalm 42:2, 3, vgl. NW). Hierdie banneling se ondervinding moet ons beweeg om waardering te toon vir die omgang wat ons met Jehovah se volk geniet. As ’n situasie soos opsluiting vanweë vervolging ons tydelik verhinder om saam met hulle te wees, moet ons nadink oor vorige vreugdes wat ons saam in heilige diens gehad het en om volharding bid terwyl ons “hoop op God” om ons te herstel tot gereelde bedrywigheid saam met sy aanbidders.—Psalm 42:5, 6, 12; 43:3-5.

‘Dien Jehovah met verheuging’

13. Hoe toon Psalm 100:1, 2 dat vreugde ’n aspek van ons diens aan God moet wees?

13 Vreugde moet ’n aspek van ons diens aan God wees. Dit is getoon in ’n melodie van danksegging waarin die psalmis gesing het: “Juig Jehovah in triomf toe, o ganse aarde. Dien Jehovah met verheuging. Kom voor sy aangesig met vreugdegeroep” (Psalm 100:1, 2, NW). Jehovah is “die gelukkige God” en wil hê dat sy knegte vreugde vind wanneer hulle hulle toewyding aan hom nakom (1 Timotheüs 1:11, NW). Mense van alle nasies moet hulle in Jehovah verheug, en ons lofuitinge moet kragtig wees, soos die ‘triomfantlike gejubel’ van ’n seëvierende leër. Aangesien diens aan God verkwikkend is, moet dit met verheuging gepaardgaan. Daarom het die psalmis mense aangespoor om “met vreugdegeroep” voor God se aangesig te kom.

14, 15. Hoe is Psalm 100:3-5 vandag op Jehovah se vreugdevolle volk van toepassing?

14 Die psalmis het bygevoeg: “Erken dat [Jehovah] God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide” (Psalm 100:3). Aangesien Jehovah ons Skepper is, besit hy ons soos ’n herder sy skape besit. God sien so goed na ons om dat ons hom uit dankbaarheid loof (Psalm 23). Die psalmis het ook oor Jehovah gesing: “Gaan sy poorte in met lof [danksegging, NW], sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. Want die HERE is goed; sy goedertierenheid [liefderyke goedhartigheid, NW] is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.”—Psalm 100:4, 5.

15 Vandag gaan vreugdevolle mense uit alle nasies die voorhowe van Jehovah se heiligdom binne om danksegging en lofgesang aan te bied. Ons eer God se naam vreugdevol deur altyd gunstige dinge van Jehovah te sê, en sy grootse eienskappe beweeg ons om hom te loof. Hy is goed in alle opsigte, en daar kan altyd staatgemaak word op sy liefderyke goedhartigheid of medelydende geneentheid vir sy knegte, want dit duur tot in ewigheid. Jehovah betoon “van geslag tot geslag” getrou liefde aan diegene wat sy wil doen (Romeine 8:38, 39). Ons het dus beslis goeie rede om ‘Jehovah met verheuging te dien’.

Verheug jou in jou hoop

16. In watter verwagtinge en vooruitsigte kan Christene hulle verheug?

16 Paulus het geskryf: “Verheug julle in die hoop” (Romeine 12:12, NW). Gesalfde volgelinge van Jesus Christus verheug hulle in die heerlike hoop van onsterflike hemelse lewe wat God deur sy Seun vir hulle moontlik gemaak het (Romeine 8:16, 17; Filippense 3:20, 21). Christene met die hoop op die ewige lewe in die Paradys op aarde het ook rede tot verheuging (Lukas 23:43, NW). Al Jehovah se getroue knegte het rede om hulle in die Koninkrykshoop te verheug, aangesien hulle óf lede van daardie hemelse regering sal wees óf in die aardse domein daarvan sal lewe. Wat ’n vreugdevolle seën!—Mattheüs 6:9, 10; Romeine 8:18-21.

17, 18. (a) Wat is in Jesaja 25:6-8 voorspel? (b) Hoe word hierdie profesie van Jesaja nou vervul, en hoe sal dit ook in die toekoms vervul word?

17 Jesaja het ook ’n vreugdevolle toekoms vir die gehoorsame mensdom voorspel. Hy het geskryf: “En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.”—Jesaja 25:6-8.

18 Die geestelike fees waaraan ons vandag as Jehovah se aanbidders deel het, is inderdaad ’n vreugdevolle feesmaal. Trouens, ons loop oor van vreugde terwyl ons God ywerig dien in afwagting van die feesmaal van letterlik goeie dinge wat hy vir die nuwe wêreld belowe het (2 Petrus 3:13). Op grond van Jesus se offerande sal Jehovah “die omhulsel” verwyder wat die hele mensdom vanweë Adam se sonde bedek. Hoeveel vreugde sal dit tog verskaf om die verwydering van sonde en die dood te sien! Wat ’n genot om verrese geliefdes terug te verwelkom, om te sien dat trane verdwyn het en om op ’n paradysaarde te lewe waar Jehovah se volk nie gesmaad sal word nie, maar vir God ’n antwoord sal gegee het vir die groot smader, Satan die Duiwel!—Spreuke 27:11.

19. Hoe moet ons reageer op die vooruitsigte wat Jehovah voor ons as sy Getuies gestel het?

19 Vervul dit jou nie met vreugde en waardering om te weet wat Jehovah vir sy knegte gaan doen nie? Sulke grootse vooruitsigte dra inderdaad tot ons vreugde by! Daarbenewens laat ons geseënde hoop ons só oor ons gelukkige, liefdevolle, vrygewige God voel: “Kyk! Dit is ons God. Ons het op hom gehoop‚ en hy sal ons red. Dit is Jehovah. Ons het op hom gehoop. Laat ons bly wees en ons verheug in die redding deur hom” (Jesaja 25:9, NW). Laat ons, met ons wonderlike hoop duidelik voor oë, alles in ons vermoë doen om Jehovah met vreugde van hart te dien.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe kan ons Jehovah met “vreugde van hart” dien?

◻ Wat kan ons doen as vreugde in ons diens aan God ontbreek?

◻ Waarom kan Jehovah se volk vreugde hê ondanks vervolging?

◻ Watter redes het ons om ons in ons hoop te verheug?

[Prente op bladsy 17]

Dit sal ons vreugde vermeerder as ons aan al die aspekte van die Christelike lewe deelneem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel