Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb10 bl. 6-29
  • Glanspunte van die afgelope jaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glanspunte van die afgelope jaar
  • 2010 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • OPBOUENDE EN AANGENAME GESINSAANBIDDING
  • MEER WORD GEDOEN OM BYBELSTUDIES AAN TE BIED
  • TEGNOLOGIE HELP OM ‘DIT TE BESPOEDIG’
  • GEESTELIKE LIG SKYN DEUR MIDDEL VAN DIE INTERNET
  • ‘DIT SAL OP ’N GETUIENIS UITLOOP’
  • EUROPESE HOF VAN MENSEREGTE
  • ‘BEKWAAM OM ANDER TE LEER’
  • DIE TOEWYDING VAN TAKKANTORE VERSKAF VREUGDE
  • ‘HOU JULLE IN GOD SE LIEFDE’
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2009 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2011 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2013 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2008 Jaarboek van Jehovah se Getuies
Sien nog
2010 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb10 bl. 6-29

Glanspunte van die afgelope jaar

VERSLAE van regoor die wêreld bevestig dat Jehovah se Getuies besiger as ooit tevore is om die goeie nuus van die Koninkryk ‘in die hele bewoonde aarde as ’n getuienis vir al die nasies’ te verkondig (Matt. 24:14). As gevolg van hulle volharding en verenigde, onselfsugtige en liefdevolle arbeid ‘het die woord van Jehovah weerklink, en op elke plek het hulle geloof in God oral bekend geword’.—1 Tess. 1:8.

OPBOUENDE EN AANGENAME GESINSAANBIDDING

Op 1 Januarie 2009 het Jehovah se Getuies ’n betekenisvolle verandering in hulle weeklikse vergaderingrooster aangebring. Die Gemeentelike Boekstudie is hernoem tot die Gemeentelike Bybelstudie en is met die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering gekombineer. Almal is aangespoor om die aand wat voorheen vir die Gemeentelike Boekstudie gebruik is, aan Gesinsaanbidding te wy.

Hoe het Jehovah se knegte op hierdie liefdevolle verandering gereageer? Baie se gevoelens word opgesom deur een man wat geskryf het: “Dankie, dankie en nogmaals dankie. Woorde kan nie beskryf hoeveel ek en my vrou by die aand vir Gesinsaanbidding baat vind nie. Dit het ons liefde vir Jehovah vergroot en ons terselfdertyd as ’n egpaar nader aan mekaar gebring. Wat ’n wonderlike en wyse reëling deur ons hemelse Vader!”

Wat doen gesinne om hierdie nuwe geleentheid ten beste te benut? ’n Ma het geskryf: “Party aande bespreek ons bladsy 31 van die Ontwaak!, en ander aande kyk ons na een van die organisasie se video’s. Die kinders doen nie net hulle eie navorsing nie, maar geniet dit ook om te leer, en Gesinsaanbidding is vir hulle lekker. Een maand moet hulle navorsing doen oor ’n Bybelkarakter en die volgende maand moet hulle ’n toespraak hou. Dieselfde geld vir my en my man. Ons tienjarige seun se eerste toespraak oor Noag was uitstekend! Hy het selfs vir ons vertel hoe ons die inligting vandag kan toepas. Toe het hy ’n skaalmodel van Noag se ark wat hy gebou het, uitgehaal. Die volgende week het ons dogter ’n deel gehad oor die sendingreise van die apostel Paulus. Toe sy klaar was, het ons almal hande geklap, en daarna het sy ons vrae gevra in ’n deel wat sy ‘Onthou julle?’ genoem het. Dit was wonderlik!” Vir dié gesin is die reëling vir Gesinsaanbidding ’n ware seën van Jehovah. “Ek en my man het die afgelope jaar baie deurgemaak”, sê die ma, “en dít is wat ons werklik nodig gehad het om aan die gang te bly.”

’n Ander suster het geskryf: “Ek wil net sê hoe dankbaar ek is vir hierdie voorsiening, wat my geestelik wakker geskud het! Nadat ons kinders grootgeword en die huis verlaat het, het ek en my man nie meer ’n gereelde gesinstudie gehad nie. Nou het ons. Die studie duur gewoonlik twee uur, en die tyd vlieg eenvoudig verby!”

Mag die tyd wat julle vir Gesinsaanbidding opsygesit het, julle help om, namate die groot verdrukking nader kom, dieper in God se Woord te delf en julle geestelik te versterk om die Duiwel teë te staan. Benut hierdie kosbare tyd ten volle om ‘nader aan God te kom, en hy sal nader aan julle kom’.—Jak. 4:7, 8.

MEER WORD GEDOEN OM BYBELSTUDIES AAN TE BIED

Sedert Januarie 2009 word gemeentes aangespoor om een Saterdag of Sondag per maand opsy te sit om Bybelstudies aan te bied. Die resultate? Baie verkondigers was verbaas en verheug—verbaas omdat dit makliker is om ’n studie aan te bied as wat hulle verwag het, en verheug oor die verskeidenheid mense wat ’n studie in die boek Wat leer die Bybel werklik? aanvaar het. Reisende opsieners berig dat gemeentes geesdriftig is oor hierdie nuwe reëling, en die vroeë resultate is baie belowend. In Italië is daar byvoorbeeld in die eerste vyf maande meer as 8 000 nuwe Bybelstudies begin.

Verkondigers wat nog nooit studies gehou het nie, doen nou herbesoeke en begin studies. Carolina, in Peru, het gesê: “Voor hierdie reëling het ek geen Bybelstudies gehou nie, maar die voorstel om een dag per maand hieraan te wy, het my laat besef dat ek moet probeer om ’n Bybelstudie te begin. Ek het vir huisbewoners gewys dat ’n Bybelstudie maklik is en nie veel tyd in beslag neem nie. Danksy Jehovah het ek goeie resultate geniet deur die voorstelle toe te pas wat ons gegee is; ek hou nou twee Bybelstudies.”

Satya, ’n pioniersuster in Brittanje, was skrikkerig om tydens die eerste besoek ’n Bybelstudie aan te bied. Maar op die dag wat opsygesit is om Bybelstudies aan te bied, het sy besluit om nie huis toe te gaan voordat sy hierdie metode probeer het nie. Sy was verheug toe ’n vrou onmiddellik haar aanbod aanvaar het. Dit was baie makliker as wat Satya verwag het!

Luca, ’n jong broer in Palermo, Sisilië, het gereeld ons tydskrifte by ’n weduwee gelaat wat bang was om enigiemand in haar huis in te nooi. Een Saterdagmiddag, op die dag om Bybelstudies aan te bied, het Luca met die Leer Bybel-boek oop na die weduwee toe gegaan en ’n gedeelte uit die boek gelees. Die boek het die vrou se belangstelling geprikkel, en sy het tyd afgestaan om met Luca te praat. Hy het vir haar gesê dat hy die antwoorde op haar vrae in sy hand het—insluitende die vraag of sy ooit weer haar man sal sien. Luca het die boek oopgemaak op bladsy 72, wat verduidelik wie opgewek sal word. Hierdie Bybelse hoop het die vrou se hart geraak, en sy het ’n Bybelstudie aanvaar. Sy het nou gereeld ’n studie en nooi die Getuies sonder huiwering in haar huis in.

“Van die begin af”, het ’n kringopsiener in Peru berig, “het hierdie reëling die meeste gemeentes gehelp om meer Bybelstudies te hou. ’n Gemeente in Chiclayo het in een maand 25 nuwe studies gerapporteer, en in Chepén is 24 nuwe studies begin.”

Ook jong verkondigers het Bybelstudies met welslae aangebied. Die 11-jarige Giovanna in São Paulo, Brasilië, vertel: “Een Saterdagmiddag het ek saam met my ma van deur tot deur gewerk en Bybelstudies in die Leer Bybel-boek aangebied. By die eerste deur het ek die huisbewoner, ’n welbekende sakeman, gevra of hy glo dat die Bybel deur God geïnspireer is. Hy het ja gesê. Toe het ek vir hom 2 Timoteus 3:16 gewys. Hy het gesê dat hy beïndruk is dat ’n jong meisie vir hom sulke mooi dinge vertel, en hy het die boek geneem.

“Toe ek na die man teruggegaan het, het ek my oupa saamgeneem omdat hy en die huisbewoner mekaar ken. Die man het ons ingenooi, en ek het hom gevra om na die inhoudsopgawe van die Leer Bybel-boek te kyk en die onderwerp te kies waarin hy die meeste belangstel. Hy het hoofstuk 11 gekies, ‘Waarom laat God lyding toe?’ Nadat ons die eerste twee paragrawe gelees het, het hy en sy vrou baie vrae gevra. Hulle was werklik bly om al die antwoorde in die Bybel te vind en het tot ’n gereelde studie ingestem. Hoe bly was ek tog om ’n studie te begin by die eerste deur waaraan ons geklop het!”

Nie almal sal natuurlik ’n Bybelstudie aanvaar nie, en nie almal wat begin, sal aanhou nie. Maar as God se medewerkers hou ons aan om Bybelstudies vir soveel mense moontlik aan te bied, in die wete dat Jehovah voor die vernietiging van Satan se stelsel van dinge skaapgeaardes na sy organisasie trek.—Joh. 6:44; 1 Kor. 3:9.

TEGNOLOGIE HELP OM ‘DIT TE BESPOEDIG’

Jehovah se volk verheug hulle in die vervulling van die opwindende profesie: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig” (Jes. 60:22). Dit ly geen twyfel nie dat Jehovah steeds tegnologiese uitvindsels gebruik om die geestelike groei in hierdie opwindende tyd te bespoedig. Die Bestuursliggaam het dus goedkeuring gegee vir die ontwikkeling van administrasiesagteware wat deur al die takkantore regoor die wêreld gebruik kan word.

Die ontwikkelingspan, wat oorspronklik by die Suid-Afrikaanse takkantoor gewerk het, het oorgetrek na die Wêreldhoofkwartier, in Brooklyn, New York, waar hulle voortgaan om hierdie sagteware te ontwikkel en in stand te hou. Omtrent 20 takkantore dien as streekondersteuningsentrums en help nabygeleë takkantore om nuttige kenmerke van hierdie rekenaarstelsel te gebruik.

Watter voordele hou dit in? Omdat al die takkantore dieselfde sagteware gebruik, kan hulle inligting deel. Al die takkantore wat drukwerk doen, kan byvoorbeeld sien watter lektuur die ander takkantore in voorraad het. As een takkantoor te veel van ’n lektuuritem het, kan ’n ander takkantoor dit aanvra eerder as om ’n nuwe voorraad te druk. Hierdie kenmerk, asook ander wat die aanvraag na lektuur voorspel op grond van vorige versoeke vanuit die veld, het tot gevolg gehad dat lektuuritems waarvan daar te veel voorraad was, in alle takkantore verminder is.

Die program help Bethelwerkers om take soos die verwerking van lektuur- en tydskrifbestellings, die opstelling van jaarlikse velddiensrapporte, die organisering van byeenkomste en die toewysing van reisende opsieners en spesiale pioniers doeltreffend te verrig. Die sagteware help ook met aankope, rekeninge en voorraadbeheer, wat ons minder afhanklik maak van duur kommersiële sagteware.

GEESTELIKE LIG SKYN DEUR MIDDEL VAN DIE INTERNET

Net soos letterlike lig donker hoekies binnedring, laat God se volk ‘hulle lig skyn’ in alle dele van die aarde (Matt. 5:16). ’n Baie nuttige hulpmiddel wat die mees afgeleë plekke verlig, is ons amptelike webwerf www.watchtower.org. Op hierdie webwerf kan tydskrifartikels, traktate en brosjures in 383 tale gevind word, asook die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in 11 tale. Daar is altesaam meer as 700 artikels op die webwerf beskikbaar. Die tuisblad, wat elke week bygewerk word, bevat onlangse artikels oor gewilde onderwerpe. Watter resultate het dit gelewer om materiaal wat gedruk word, in soveel tale geredelik beskikbaar te hê op die Internet?

Pat, wat in Florida, VSA, woon, het gevind dat die webwerf die vinnigste manier is om lektuur in ander tale te bekom. Sy skryf: “Nadat ons die traktaat Die waarheid—Wil jy dit graag vind? versprei het, het ek dit begin druk in die tale van party van dié wat dit in Engels geneem het, maar wat ook ’n ander taal praat.” Wat was die resultate?

Pat het ’n Thaise traktaat gedruk vir ’n vrou wat ’n markstalletjie het. Die vrou was verheug en kon nie glo dat Pat so gou Thaise lektuur gevind het nie. Hierdie vrou en ander klante by die mark wou die naam van ons webwerf hê sodat hulle dit self kan besoek. Een van die vroue het Pat genooi om na haar huis te kom om hulle bespreking voort te sit. Soos Pat, vind baie dit nuttig om ’n paar bladsye in verskillende tale op die webwerf te druk om dit vir belangstellendes van ander nasionaliteite te gee.

Verlede jaar het meer as 24 miljoen mense van al die vastelande ons webwerf besoek. Sedert 2007 het die aantal besoekers met 33 persent toegeneem. Mense van regoor die wêreld, met inbegrip van afgeleë eilande, stuur versoeke in vir ’n persoonlike besoek of ’n tuisbybelstudie. Die aantal elektroniese koepons wat sedert 2007 ingestuur is, het met sowat 55 persent vermeerder. Ja, geestelike lig skyn in die mees afgeleë dele van die aarde, alles tot lof en verheerliking van ons Vader in die hemele.—Matt. 5:16.

Benewens die webwerf www.watchtower.org is www.pr2711.com saamgestel om sekere belangrike publikasies in digitale vorm beskikbaar te stel. Wat is die nut van hierdie webwerf?

Trisha, van Missouri, VSA, het die gevoelens van baie uitgespreek toe sy gesê het: “Ek sien gretig uit na Donderdag.” Waarom? Omdat Donderdag gewoonlik die dag is waarop sy opnames van nuwe nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! van www.pr2711.com kan aflaai. Trisha is een van duisende van ons broers en susters regoor die wêreld wat dikwels hierdie geestelike ryk webwerf besoek. Hulle laai oudiotydskrifte, die Bybel, dramas, boeke, brosjures en traktate in 27 tale af. Publikasies in Amerikaanse Gebaretaal is ook beskikbaar in twee gewilde videoformate.

Wie gebruik hierdie webwerf om ons publikasies af te laai? Hoofsaaklik ons geestelike broers en susters, maar ook lede van die publiek in meer as 200 lande, met inbegrip van ’n aantal lande waar ons werk beperk is. Ons het gereelde besoekers van plekke soos Papoea-Nieu-Guinee, St. Helena en selfs Antarktika. Hoe help dit ons broers en susters om oudiopublikasies te kan aflaai? In Frans-Polinesië kom voorrade van ons gedrukte tydskrifte byvoorbeeld dikwels weens skeepsvertragings ná die datum van die uitgawe daar aan. Aangesien selfs verkondigers op die mees afgeleë eilande toegang tot die Internet het, kan hulle na die jongste nommers luister die dag dat dit op die webwerf gesit word.

Deborah, van Illinois, VSA, het ernstige gesondheidsprobleme wat haar ietwat van die gemeente afsonder en dit ook vir haar moeilik maak om te onthou wat sy lees. Sy laai nou die publikasies af en luister daarna, en sy sê: “Ek onthou die materiaal beter, en ek kan met vertroue praat oor wat ek gehoor het.”

’n Egpaar in ’n dorpie in Texas, VSA, studeer met ’n Bybelstudent van Siberië, en hulle is bly dat hulle oudiotydskrifte in Russies vir haar kan aflaai. ’n Broer in Kalifornië, VSA, geniet dit om soggens vroeg met ’n digitale speler en oorfone te gaan draf en na ons tydskrifte te luister.

’n Egpaar in ’n dorpie in die noorde van Nieu-Seeland laai elke week oudiomateriaal vir die vergaderinge af—die Wagtoring-studieartikel, hoofstukke van die boeke ‘Hou julle in God se liefde’ en Leer by die Groot Onderwyser sowel as die toegewese Bybelleesgedeelte vir die week. Hulle luister dwarsdeur die week daarna. Die man sê: “Ons vind nou dat ons albei aansienlik meer oor geestelike dinge praat as oor die stres by die werk.” Baie gesinne regoor die wêreld volg ’n soortgelyke roetine.

Elke week word die hoofstukke vir die toegewese Bybelleesgedeelte duisende kere afgelaai—veral op Dinsdae. Die Wagtoring-studieartikel vir die week is die materiaal wat elke Saterdag en Sondag die meeste afgelaai word. Daarbenewens kan gemeentelike ouer manne organisatoriese vorms en toespraaksketse direk van die webwerf aflaai. Al hierdie voorsienings spaar die organisasie tyd, geld en werk.

‘DIT SAL OP ’N GETUIENIS UITLOOP’

Hoewel Jehovah se Getuies “’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid” probeer lei, verbaas dit hulle nie wanneer hulle vervolg word nie (1 Tim. 2:1, 2). Jesus Christus het sy dissipels gewaarsku dat hulle voorwerpe van haat sou wees toe hy gesê het: “Mense [sal] die hande aan julle slaan en julle vervolg en julle aan die sinagoges en gevangenisse oorlewer, en julle sal ter wille van my naam voor konings en goewerneurs gesleep word.” Maar Jesus het daarop gewys dat sulke vervolging sou boemerang teen vyande van rein aanbidding. Hy het voorspel: “Dit sal vir julle op ’n getuienis uitloop.”—Luk. 21:12, 13, 17.

Ter vervulling van Jesus se profesie word Jehovah se Getuies op baie plekke onregverdig behandel. Oorwinnings in die howe in baie lande het gehelp om hulle wetlike vryheid te beskerm, insluitende hulle reg om van huis tot huis te preek en vryelik vir aanbidding te vergader. Hoewel daar nog steeds uitdagings is, het ons vanjaar betekenisvolle regsoorwinnings behaal wat die godsdienstige aard van ons bedrywighede bevestig.

Oostenryk

Ná ’n 30 jaar lange stryd deur ons broers het die Federale Departement van Onderwys, Kuns en Kultuur van Oostenryk in Mei 2009 die hoogste moontlike vlak van erkenning aan Jehovah se Getuies as ’n godsdiensgemeenskap verleen. Die Getuies is nou die 14de godsdiensgenootskap in Oostenryk wat hierdie status geniet. Ná die gunstige uitspraak van die Europese Hof van Menseregte in Julie 2008 het die Hof nog drie uitsprake ten gunste van ons broers in Oostenryk gelewer, wat onbetwisbaar bevestig dat Jehovah se Getuies volle erkenning as ’n godsdiensgenootskap geniet.

Suid-Afrika

In 2005 is ’n regsgeding teen die Suid-Afrikaanse Departement van Arbeid na die Arbeidshof van Suid-Afrika geneem namens die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Suid-Afrika en lede van die Wêreldwye Orde van Spesiale Voltydse Dienaars van Jehovah se Getuies wat by die Suid-Afrikaanse Bethel dien. Die doel van die regsgeding was om ’n beslissing te verkry wat sou bepaal dat die Betheliete nie onder Suid-Afrika se arbeidswette as werknemers geklassifiseer moet word nie. In Maart 2009 het die Arbeidshof ’n gunstige uitspraak gelewer wat hierdie feit sowel as die godsdienstige aard van die bedrywighede by Bethel bevestig het.

Uganda

In 2007 het Uganda se Belastingowerheid (URA) ’n beslissing gelewer dat lede van die Wêreldwye Orde van Spesiale Voltydse Dienaars van Jehovah se Getuies wat by die Bethel in Uganda dien, werknemers is soos omskryf word in Uganda se Inkomstebelastingwet. Die saak is vir ’n beslissing voor die Hooggeregshof van Uganda in Kampala gebring namens die Internasionale Bybelstudente-vereniging (IBSA) teen die URA. In Junie 2009 het die Hooggeregshof ten gunste van IBSA beslis en bevind dat die Ugandese Betheliete nie werknemers is nie. Die hof het veral gelet op die feit dat die Betheliete “dieselfde onderhoud ontvang ongeag watter take hulle verrig”. Die hof het beslis dat die Betheliete lede van ’n godsdiensorde is en dat hulle kos en verblyf ontvang, asook ’n beskeie toelaag slegs vir persoonlike benodigdhede terwyl hulle liefdadige en godsdiensbedrywighede in Uganda verrig.

Armenië

Ons broers wat dienspligtig is, word nog steeds weens hulle gewetensbeswaar teen militêre diens deur die owerheid in hegtenis geneem en opgesluit. In Augustus 2009 was daar 74 broers in die tronk. Aangesien al die landshowe teen die broers beslis het, is vier afsonderlike aansoeke by die Europese Hof van Menseregte ingedien om verligting te probeer verkry. Die regering hef ook nog steeds buitensporige Belasting op Toegevoegde Waarde op die godsdienslektuur wat ons broers van ander lande ontvang. Of hierdie onregverdige finansiële las verwyder sal word of nie, ons is oortuig dat ons broers steeds geestelik goed gevoed sal word.—Jes. 65:13.

Azerbaidjan

Ons broers daar verloor geleidelik hulle godsdiensvryheid. Dit word vir hulle al hoe moeiliker om lektuur te verkry en vir aanbidding te vergader. Hoewel hulle in die hoofstad Bakoe wetlike status het, het die feit dat hulle nie in ander stede geregistreer is nie, daartoe gelei dat die polisie dikwels onwettige klopjagte op vergaderinge in huise uitvoer, waarop ure van aanhouding in polisiestasies volg. Dit is die geval hoewel die wet nie vereis dat aanbidders registreer om in huise te vergader nie. Op 9 April 2009 het ons broers by die regering van Azerbaidjan aansoek gedoen om nasionale registrasie. Ons hoop dat hierdie registrasie verligting sal bring van die probleme wat ons broers ondervind.

Egipte

Oor die afgelope drie jaar het broers van Egipte asook van België, Italië en die Verenigde State met die Egiptiese owerheid vergader om wetlike status vir ons werk te verkry. Gevolglik het die owerheid ons broers in Egipte toestemming gegee om vreedsaam in groepe van 30 in huise te aanbid. Nietemin behandel party elemente van die regering ons broers nog steeds sleg. Die Staatsveiligheidskantoor hou ons broers dop en ondervra en dreig gemeentelede van tyd tot tyd. Benewens vergaderinge met die owerheid wend ons broers ook pogings aan om wetlike status deur middel van die howe te verkry.

Eritrea

Met volkome verontagsaming van fundamentele menseregte het die owerheid op 28 Junie 2009 23 lede van een gemeente in hegtenis geneem, onder andere bejaarde susters en drie kinders tussen die ouderdom van twee en vier jaar. Hoewel die bejaarde susters sedertdien vrygelaat is, is die kinders nog steeds saam met hulle ma’s in die tronk; die pa’s is lank tevore opgesluit. Hele gesinne is dus nou in die gevangenis. Daar is nou 64 van ons broers en susters in die tronk, met inbegrip van drie broers wat al sedert 1994 daar is weens hulle neutrale standpunt ten opsigte van militêre diens, sonder dat daar vir hulle gesê is watter wette hulle na bewering verbreek het.

Indië

Oor die afgelope paar jaar het Jehovah se Getuies in Indië die slagoffers van geweld geword wanneer hulle aan die openbare bediening deelneem. Hulle het ook te kampe met verbale en fisiese mishandeling, dreigemente dat hulle opgesluit sal word en die verbranding van hulle lektuur. Dikwels word ons broers, nadat hulle geslaan is, in hegtenis geneem en in die tronk gegooi en staar hulle kriminele vervolging in die gesig. Woedende skares beïnvloed plaaslike owerhede om teen ons broers op te tree deur hulle valslik daarvan te beskuldig dat hulle plaaslike wette oortree.

Byvoorbeeld, in Desember 2008 het drie van Jehovah se Getuies (’n ma, haar dogter en haar tienjarige kleindogter) van Kundapura, Karnataka, teruggegaan om ’n vrou in Koni Village te besoek wat meer omtrent die Bybel wou weet. Later het vyf of ses mans die drie Getuies onder dwang na die plaaslike polisiestasie geneem. ’n Oproerige skare het vergader, en die polisie het die susters daarvan aangekla dat hulle oortree het, vyandskap tussen klasse bevorder het en ’n ander godsdiens beledig het. Die Getuies is uiteindelik toegelaat om huis toe te gaan. Ons broers en susters in hierdie omstandighede ontvang regshulp.

Moldowa

Ons broers in Transnistrië, die internasionaal onerkende deel van Moldowa, lê steeds ywer vir Koninkryksbelange aan die dag hoewel hulle al sowat 12 jaar lank onder bedreiging van ’n verbod of ontbinding is. Ondanks baie uitdagings geniet die broers Jehovah se seën en ’n mate van sukses in die verdediging van Koninkryksbelange in die howe. Hier is drie voorbeelde: ’n Ortodokse priester wat twee van ons susters uitgeskel en aangerand het terwyl hulle in die dorpie Ordăşei gepreek het, is daarvoor aanspreeklik gehou en beboet, die hof van die stad Tiraspol het ’n gunstige beslissing gelewer met betrekking tot die broers se pogings om ons gemeenskap daar te registreer, en ’n beslissing is teen die stad Rîbniţa se Belastinginspektoraat gelewer omdat dit wederregtelik belasting gehef het op kos wat aan vrywilligers voorsien is terwyl hulle aan ’n Koninkryksaalprojek gewerk het.

Kazakstan

Die Kantoor van die Staatsaanklaer van die Republiek van Kazakstan het besware aanhangig gemaak wat vir ons broers tot gunstige hofbeslissings gelei het. Vroeër het howe in Kyzyl Orda, Shymkent en Saryagash beveel dat ons godsdiensbedrywighede ses maande lank gestaak moet word. Maar danksy die beslissings in November 2008 is ons godsdiensvryheid in die Kyzyl Orda-streek, in Shymkent en in die hele suidelike deel van Kazakstan herstel. En in Desember 2008, ná sewe jaar van weiering deur die plaaslike regering, het die hof van die stad Atyraū beslis dat Jehovah se Getuies die reg het op wetlike registrasie in dié stad.

Rusland

Gedurende die afgelope diensjaar is ons Administratiewe Sentrum hier aan herhaalde ondersoeke deur die aanklaer en baie ander Staatsowerhede onderwerp, met die duidelike bedoeling om ons godsdiensbedrywighede wederregtelik stop te sit. Ons broers en susters word ook persoonlik aan teistering en honderde ongegronde ondersoeke onderwerp. In een geval het ’n swanger suster ’n miskraam gehad nadat die polisie ’n onwettige klopjag op ’n godsdiensvergadering gedoen het. ’n Vyftienjarige seun, wat ook by die vergadering was, is onwettig aangehou. Die aanklaers gebruik die Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede as ’n grondslag om etlike van ons plaaslike gemeentes te ontbind en ons godsdienslektuur te verbied. Hierdie ongegronde aantygings van ekstremisme het tot ander amptelike skendings van godsdiensvryheid gelei, insluitende onregmatige inhegtenisnemings, deportasies en die weiering om toegang te verleen aan vier buitelandse regsverteenwoordigers van Jehovah se Getuies wat gehelp het met die verdediging teen hierdie valse aanklagte. Een van hierdie broers is 23 uur lank in ’n sel in Moskou aangehou.

Lede van die Federale Veiligheidsdiens het met talle huurkontrakte vir plekke vir vergaderinge en byeenkomste ingemeng, met die gevolg dat huurooreenkomste gekanselleer is. Owerhede het ook die bou van nuwe Koninkryksale gedwarsboom. Die misdade teen die Getuies sluit marteling tydens polisie-aanhouding weens valse kriminele aanklagte in.

Suid-Korea

Op 16 Junie 2008 het die regering van Suid-Korea ’n aankondiging teruggetrek wat dit op 7 Mei 2008 gedoen het, naamlik om gewetensbeswaardes die geleentheid te gee om alternatiewe burgerlike diens te verrig. Dit het gesê dat “die kwessie van gewetensbeswaar teen militêre diens verder bestudeer moet word en dat ’n algemene landwye konsensus verkry moet word”. Tot op hede het die Koreaanse Nasionale Vergadering nog nie ’n wetsontwerp op alternatiewe diens bespreek nie. Die broers wag op beslissings van die Menseregtekomitee van die Verenigde Nasies, wat gunstige uitsprake oor twee aansoeke gelewer het. In Januarie 2009 het die Koreaanse Presidensiële Kommissie oor Verdagte Sterftes in die Leër erken dat die Koreaanse regering verantwoordelik is vir die gewelddadige dood van vyf van Jehovah se Getuies wat van die 1970’s tot die middel-1980’s onder dwang by die leër ingelyf is. Dit is die eerste belangrike beslissing wat die Staat se aanspreeklikheid vir sterftes as gevolg van geweld in die leër erken.

Tadjikistan

Die Godsdiensvereniging van Jehovah se Getuies in Tadjikistan is in 2007 verbied, en ons lektuur uit Duitsland is deur doeanebeamptes gekonfiskeer. ’n Appèl is by die militêre hof ingedien, en in September 2008 is die appèl van die hand gewys. Daarna is appèl by die Militêre Collegium van die Hooggeregshof aangeteken, wat dit ook verwerp het. Hierdie beslissings beteken dat die verbod en die konfiskering van lektuur nog van krag is. Verdere pogings word aangewend om ons broers te help.

Turkye

Die broers daar het te kampe met uitdagings ten opsigte van militêre diens. Een broer is al twee jaar lank in die tronk weens sy onwrikbare standpunt. Baie ander broers wat dienspligtig is, word voortdurend gedreig met boetes en tronkstraf sowel as afdanking. In Maart 2009 is die broers ingelig dat die Menseregtekomitee van die Verenigde Nasies twee klagtes wat namens die Getuies ingedien is. begin ondersoek het.

Verder het die Europese Hof van Menseregte in Mei 2009 besluit om drie hangende aansoeke saam te voeg sodat dit kon begin met die ondersoek om vas te stel of die menseregte van ses van ons broers geskend word—vier van hierdie broers het tronkvonnisse uitgedien. Jehovah se knegte is dankbaar vir die belangstelling wat hierdie twee regsliggame toon en hoop dat ’n mate van verligting in sig is.

Oesbekistan

Die regsposisie van Jehovah se aanbidders in Oesbekistan is geleidelik aan die versleg, en ons broers word al hoe meer die teiken van Staatsgesteunde vervolging. ’n Eggenoot en pa van twee seuns is op 14 Mei 2009 uit die tronk vrygelaat nadat hy ’n vonnis van twee jaar uitgedien het omdat hy godsdiens onderrig het. Hy is die volgende dag gedeporteer na Tadjikistan, sy land van burgerskap. Drie ander broers is nog steeds in die tronk omdat hulle “onwettige godsdiensbedrywighede” georganiseer het. Prokureurs vir die drie is van plan om na die Hooggeregshof van Oesbekistan te appelleer. Plaaslike broers en ’n afvaardiging van broers uit die buiteland het etlike besprekings met Oesbekistan se Staatskomitee van Godsdienssake en die verteenwoordigers daarvan gevoer in ’n poging om hierdie aangeleenthede uit te stryk.

EUROPESE HOF VAN MENSEREGTE

Altesaam 22 aansoeke van Jehovah se Getuies in Armenië, Azerbaidjan, Frankryk, Georgië, Oostenryk, Rusland, Serwië, Siprus en Turkye wat by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) in Straatsburg, Frankryk, ingedien is, is nog nie afgehandel nie. Die aansoeke meld skendings van basiese menseregte wat toegestaan word aan alle burgers wat onder die jurisdiksie van die Europese Konvensie oor Menseregte lewe. Nege van die aansoeke hou verband met die reg om militêre diens te weier, sewe met godsdiensvervolging en -diskriminasie, vier met die deregistrasie van of verbod op ’n regspersoon wat deur Jehovah se Getuies gebruik word om die werk te organiseer en twee maak beswaar teen staatsinmenging in die reg om vreedsaam vir aanbidding te vergader.

Op 17 Junie 2008 het die EHMR aandag geskenk aan die aansoek wat deur die Association Les Témoins de Jéhovah (ATJ) teen die regering van Frankryk ingedien is. Die aansoek handel oor die diskriminerende belasting van 60 persent wat gehef word op al die godsdiensbydraes wat die ATJ van 1993 tot 1996 ontvang het. Die Hof het bykomende vrae geopper oor die moontlike skending van Artikel 9 van die Europese Konvensie wat oor godsdiensvryheid handel. Jehovah se Getuies in Frankryk en in ander lande van die Europese Raad wag nou om te sien of die Hof hierdie saak sal aanhoor.

Terwyl Satan ware aanbidding probeer ontwrig deur “moeilikheid deur verordening [te] beraam”, bly Jehovah se knegte “vas in die geloof, in die wete dat dieselfde dinge in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van [hulle] broers in die wêreld veroorsaak word”. Mag alle ware aanbidders voortgaan om ’n onwrikbare standpunt teen Satan in te neem en om al hulle sorge op die God van alle onverdiende goedhartigheid te werp, in die wete dat hy vir hulle sorg en hulle standvastig en sterk sal maak.—Ps. 94:20; 1 Pet. 5:7-11.

‘BEKWAAM OM ANDER TE LEER’

Van die begin van die Christengemeente af is opleiding ’n kenmerk daarvan. Die apostel Paulus het vir Timoteus gesê: “Vertrou [hierdie dinge] aan getroue mense toe, wat op hulle beurt voldoende bekwaam sal wees om ander te leer” (2 Tim. 2:2). Jehovah se organisasie het ook vandag talle opleidingsprogramme. Byvoorbeeld, sedert 2008 het 6 528 ouer manne uit gebiede wat onder die Amerikaanse takkantoor val—insluitende Alaska, Bermuda en die Turks- en Caicos-eilande—70 klasse van die Skool vir Gemeentelike Ouer Manne by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, bygewoon.

Die intensiewe week lange onderrigting dek verskeie aspekte van ouer manne se lewe en help hulle om die leiding te neem in die predikingswerk en om bekwamer onderrigters te wees in die gemeente (2 Tim. 4:5; 1 Pet. 5:2, 3). Die kursus spoor hulle ook aan om hulle geestelikheid en dié van hulle gesin te bewaar en lei hulle op om “die woord van die waarheid reg [te] hanteer” wanneer hulle ander help (2 Tim. 2:15). Hier volg ’n paar van die baie dankbetuigings deur ouer manne wat die skool bygewoon het.

“Die nederigheid van die instrukteurs was ’n voorbeeld van hoe om die broers in die gemeente te behandel. My hart swel van waardering vir die Bestuursliggaam. Hierdie onderrigting was een van die grootste voorregte wat daar al ooit in my jare in die waarheid aan my bewys is.”

“Ons God, Jehovah, weet wat ons nodig het en wanneer om dit te voorsien. My geloof is versterk, en my geestelike battery is herlaai. Hierdie ondervinding het my gehelp om te besef wat Jehovah deur middel van die sigbare deel van sy organisasie doen en om ook te sien hoe hy vir al sy knegte sorg.”

“Dit was ’n wonderlike ondervinding. Hoe meer ek in die skool geleer het, hoe meer het ek besef hoeveel ek nie geweet het nie. Ek het nuwe waardering gekry vir persoonlike studie en waarom ek alles wat ek geleer het, op myself moet toepas.”

“Die opleiding het my beter toegerus om met die denke van Christus na my gesin en die gemeente om te sien (1 Kor. 2:16). Dit het my gehelp om na te dink oor watter soort mens ek is.”

“Ek sal hierdie week saam met Jehovah se onderrigters nie vir ’n universiteitsopleiding verruil nie.”

“Wat ’n verkwikkende en opbouende ondervinding! Dit het my versterk om in Jehovah se diens te volhard en om selfopofferend asook ’n bron van verkwikking vir ons broers en susters te wees (Jes. 32:2). Dankie, Jehovah!”

“Deur middel van hierdie kursus het ons Jehovah se liefde gesien. Dit was soos ’n herdersbesoek deur hom.”

“Ek dank Jehovah vir hierdie voorreg om te leer hoe om beter na my toewysing om te sien, tot sy verheerliking en lof.”

Later sal die Bestuursliggaam reëlings aankondig vir ouer manne op ander plekke om by hierdie tydige onderrigting baat te vind.

DIE TOEWYDING VAN TAKKANTORE VERSKAF VREUGDE

Op 24 Januarie 2009 was Samuel Herd van die Bestuursliggaam die gasspreker by die toewyding van die nuwe takkantoor in Tanzanië, in Oos-Afrika. Die takkantoor het 25 jaar gelede in ’n sintelsteengebou met drie vertrekke begin, wat onder Getuies regdeur Tanzanië as Huis Nommer 46, Magomeni-wyk, bekend gestaan het. Baie van die 779 vreugdevolle gaste uit 22 lande het trane in hulle oë gehad toe die vooruitgang van die werk sedert die opheffing van die verbod in 1987 bespreek is. “Net Jehovah kon so iets moontlik gemaak het in hierdie land”, het ’n bejaarde broer gesê. Nou floreer die predikingswerk, en meer as 14 000 verkondigers is vreugdevol, dank Jehovah en besing sy naam met melodieë.—Ps. 92:1, 4.

Op Saterdag 2 Mei 2009 het sowat 600 broers en susters uit 31 lande die toewydingstoespraak bygewoon wat deur Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam by die Nederlandse takkantoor gehou is. ’n Woonvleuel is gevoeg by die gebou wat oorspronklik in 1983 opgerig is, en die dele waar tydskrifte voorheen gedruk is, is omskep in kantore en ’n video-ateljee vir die Oudio-video-streeksentrum (RAVC). Die RAVC help met die vervaardiging van CD’s en DVD’s in 24 tale, waarvan die meeste in Europa gepraat word. Daarbenewens help die RAVC ook met die vervaardiging van videoproduksies in sowat 20 gebaretale. Hierdie werk behels die koördinering van die vervaardiging van CD’s in Europa, Afrika en Oseanië, en DVD’s regoor die wêreld. Die Nederlandse takkantoor koop en versend ook artikels wat takkantore in ander wêrelddele nodig het, en die omskepte fasiliteite is besonder geskik vir hierdie bedrywighede.

‘HOU JULLE IN GOD SE LIEFDE’

Ons het inderdaad baie redes tot vreugde. Hoe geseënd is ons tog om in hierdie opwindende tye te lewe! Ja, soos voorspel is, is “die laaste dae kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). Maar aangesien verlossing so naby is, is dit vir elkeen van ons noodsaaklik om vasbeslote te wees om ag te slaan op Judas se sterk aansporing: “Julle, geliefdes, moet julle op julle allerheiligste geloof opbou en met heilige gees bid en julle sodoende in God se liefde hou, terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig.”—Jud. 20, 21.

[Grafiek op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DAAGLIKSE BESOEKERS AAN www.watchtower.org

70 000

50 000

30 000

10 000

1999 2001 2003 2005 2007 2009

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

OOSTENRYK

EGIPTE

ERITREA

UGANDA

SUID-AFRIKA

MOLDOWA

ARMENIË

TURKYE

AZERBAIDJAN

RUSLAND

KAZAKSTAN

OESBEKISTAN

TADJIKISTAN

INDIË

SUID-KOREA

[Prent op bladsy 11]

Selfs jong verkondigers geniet dit om Bybel- studies aan te bied

[Prente op bladsy 27]

Die Skool vir Gemeentelike Ouer Manne rus hulle toe om hulle teokratiese verantwoordelikhede na te kom

[Prente op bladsy 28]

Broer Jaracz hou die toewydingstoespraak by die Nederlandse takkantoor

[Prente op bladsy 29]

Broer Herd hou die toewydingstoespraak by die takkantoor in Tanzanië

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel