Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb10 bl. 43-64
  • Aardwye predikings- en onderrigtingswerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aardwye predikings- en onderrigtingswerk
  • 2010 Jaarboek van Jehovah se Getuies
2010 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb10 bl. 43-64

Aardwye predikings- en onderrigtingswerk

AFRIKA

LANDE 57

BEVOLKING 878 000 158

VERKONDIGERS 1 171 674

BYBELSTUDIES 2 382 709

Benin

Claude en sy vrou, Marie-Claire, is al 27 jaar lank entoesiastiese sendelinge. In Februarie het Marie-Claire gegly en haar voet gebreek. Twee weke later het Claude geval en sy voet gebreek terwyl hy in die sendinghuis gewerk het. Albei het ’n voet in gips gehad, Marie-Claire haar regtervoet en Claude sy linkervoet. Claude het met ’n skewe glimlag gesê: “Ons hou daarvan om alles saam te doen!”

Claude kon nog in sekere mate met sy voet in gips rondbeweeg, maar Marie-Claire moes weke lank by die huis bly. Hoewel sy gereël het om 4 van haar 12 Bybelstudies by die sendinghuis te hou, het sy ander aspekte van die bediening gemis. Sy het dus besluit om voor die sendinghuis by ’n tafel vol publikasies te sit en met verbygangers te praat. In Maart het sy 83 uur by haar tafel deurgebring. Het Jehovah haar inisiatief geseën? Daardie maand het sy 14 boeke, 452 brosjures, 290 tydskrifte en meer as 500 traktate by mense gelaat.

Etiopië

Arega, wat in ’n afgesonderde dorpie woon, het besluit om sy huis met muurpapier te versier. Hoewel party mense in sy land koerante daarvoor gebruik, wou hy iets kleurvols hê. By die mark het hy gesien dat ’n man die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! vir mense aanbied. Arega het ’n eksemplaar geneem, dit uitmekaar getrek en op sy huis se mure geplak sonder om dit te lees. Twee jaar later het hy op die “muurpapier” hierdie woorde opgemerk: “Jesus was God se Seun.” Dit het verskil van die geheimsinnige Drie-eenheid wat hy geleer is. Arega se belangstelling is gewek, en daarom het hy nege uur lank na die naaste dorp geloop om die mense te vind wat sê dat God ’n Seun het. Sy eerste poging was onsuksesvol, en hy het teleurgesteld teruggekeer huis toe. Later het hy weer probeer, maar hierdie keer het mense hom vertel waar die broer woon by wie hy die brosjure gekry het. Arega se vasbeslotenheid is verder getoets, aangesien hy ure moes wag voordat die broer huis toe gekom het. ’n Bespreking het tot ’n Bybelstudie gelei. In die daaropvolgende maande het Arega nog etlike kere dorp toe gegaan om kennis van God in te neem. Toe hy met ander in sy dorpie gepraat het oor wat hy geleer het, is hy hewig teëgestaan en het baie mense hom verstoot. Maar hy het nie tou opgegooi nie, en ander het belangstelling begin toon. Toe daar 13 belangstellendes was, is twee spesiale pioniers na die gebied gestuur. Kort voor lank het hulle meer as 40 Bybelstudies gehou, en byna net soveel mense het die vergaderinge bygewoon. Agt plaaslike verkondigers is nou in die gebied bedrywig. Vir ons nuwe broer Arega het die prente op sy muur meer as net kleurvolle versiering geword.

Ghana

Weens die vinnige verspreiding van selfone deur Afrika word daar gesê dat ’n “kommunikasierevolusie” begin het. As ’n aansporing vir selfoongebruikers voorsien baie maatskappye tydens sekere ure van die nag ’n gratis diens. ’n Suster met die naam Grace het van hierdie diens gebruik gemaak. Dit was vir haar moeilik om met Monica, haar Bybelstudent, te studeer omdat Monica altyd besig was met ander dinge. Grace het alles in haar vermoë gedoen om die studie voort te sit en het selfs gereël om vyfuur in die oggend na Monica se huis te gaan. Maar Monica se rooster het verander, en selfs hierdie tyd was nie prakties nie. Toe het die gedagte by Grace opgekom dat sy van die gratis oproepe in die nag gebruik kan maak. Monica het ingestem, en hulle het gereël om vieruur in die oggend oor die telefoon te studeer. Hulle was teleurgesteld om te vind dat soveel mense alreeds daardie tyd die netwerk gebruik dat dit byna onmoontlik was om deur te kom. Hulle het dus gereël om selfs vroeër op te staan sodat hulle om drie-uur kon studeer, al was dit vir hierdie twee werkende ma’s ’n uitdaging. Grace sê: “Ek het tot Jehovah gebid en hom gevra om my die krag en begeerte te gee om aan te hou sodat ek my student se belangstelling lewendig kon hou. Ek het die alarm op my selfoon gestel en myself gedwing om daardie tyd op te staan. Al was ek baie moeg, het ek nie toegelaat dat dit my ontmoedig nie.” Hoe bly was sy tog dat sy die moeite gedoen het, want sy was daar om te sien hoe Monica in 2008 by die “Gerig deur God se gees”-streekbyeenkoms gedoop word! Grace het onlangs weer die gratis oproepe in die nag gebruik om met ’n vrou te studeer wat nou vergaderinge begin bywoon het.

Mosambiek

In Augustus 2008 het ’n baadjie uit ’n verbygaande voertuig geval en naby die kleihuisie van ’n arm weduweesuster beland. Die suster het die baadjie opgetel en het dokumente, drie klein sakkies met duur juweliersware en byna R8 000 in kontant in die sakke gevind. Sy het daarop aangedring dat iemand in die dorpie die telefoonnommers op die dokumente skakel om die verlore goedere aan te meld. Daardie aand het vier mans in ’n motor in die dorpie aangekom. In die teenwoordigheid van die dorpsowerheid het ons suster die baadjie aan die eienaar oorhandig, met alles wat oorspronklik daarin was. Die man het begin huil en gesê dat hy waarskynlik nooit sy besittings sou teruggekry het as iemand wat nie ’n Getuie van Jehovah is nie, dit gevind het. Hoewel sy arm is, het ons getroue suster ’n getuienis in die gemeenskap gegee wat die naam van haar God, Jehovah, tot groot eer gestrek het.

DIE AMERIKAS

LANDE 55

BEVOLKING 910 761 124

VERKONDIGERS 3 575 123

BYBELSTUDIES 3 778 321

Barbados

Baie ouers vind dit voordelig om hulle kinders te leer om Bybeltekste te memoriseer. Een gesin in Grenada het die bevrediging gehad om uit te vind dat hulle sesjarige seuntjie ’n Bybelteks gebruik het om die grondwaarheid dat Jehovah bo alles en almal verhewe is, te verdedig. Die seuntjie se pa skryf: “Een middag toe my vrou, Laura, ons seun, Stefan, by die skool gaan haal het, het sy onderwyseres haar opsy geneem en vir haar gesê: ‘Ek moet net vir jou sê hoe beïndruk ek is met jou seun. Al glo ek nie dieselfde as julle nie, moet ek erken dat ek hom bewonder omdat hy sy oortuigings so goed kan verduidelik.’

“Toe hulle tuiskom, het my vrou gretig vir Stefan gevra wat by die skool gebeur het wat tot die onderwyseres se kompliment aanleiding gegee het. Hy het toe vertel dat die onderwyseres gedurende die eerste periode gesê het dat ‘Jesus God is’.

“Stefan het sy hand opgesteek, en toe die onderwyseres hom vra, het hy gesê: ‘Nee, Juffrou. Jesus is nie God nie. Die Bybel sê dat Jesus die Seun van Jehovah is; dan kan hy nie Jehovah wees nie.’

“Die onderwyseres het geantwoord: ‘Wel, ek glo dat Jesus en Jehovah dieselfde persoon is.’

“Toe het Stefan gesê: ‘Maar die Bybel sê dat Jehovah alleen die Allerhoogste is, nie Jesus nie. Net Jehovah is die Allerhoogste.’ Hy het aangehaal uit Psalm 83:18, ’n teks wat ons hom vroeër gehelp het om te memoriseer en te verstaan. Hoewel die onderwyseres ’n baie ernstige persoon is, was sy nie opgewasse teen ’n sesjarige wat met juiste Bybelkennis toegerus is nie.”

Ecuador

’n Groep broers het ’n bus teruggeneem huis toe nadat hulle in ’n Quechuasprekende gebied op die platteland gewerk het. Aangesien die bus toegerus was om video’s te speel, het hulle toestemming gekry om die Quechua-video oor Noag en Dawid aan al die passasiers te vertoon, wat almal Quechua gepraat het. Hoe verras was hulle tog om iets in hulle eie taal te sien en te hoor! Hulle het so mooi aandag geskenk dat hulle, toe die bus stilhou om ’n passasier op te tel, vir hom gevra het om gou te gaan sit sodat hulle niks mis nie. Aan die einde van die program het baie ’n video gevra. Sommige passasiers het Bybelvrae gehad en wou lektuur hê; ander het hulle naam en adres gegee sodat iemand hulle in die stad kon besoek, en almal het ’n uitnodiging ontvang na die Gedenkmaal wat in Quechua gehou sou word. Dit het ongetwyfeld tot ’n uitstekende Gedenkmaalbywoning in die gebied bygedra.

Mexiko

Terwyl Gabino, ’n pionierbroer, aan die predikingswerk deelgeneem het, het hy by ’n huis gekom en aan die deur geklop. Niemand het oopgemaak nie. Hy het ’n tweede en toe ’n derde keer geklop. Ná ’n rukkie het hy ’n vierde keer geklop. Die deur het oopgegaan, en ’n baie ontstelde man het daar gestaan en huil. Hy het Gabino onmiddellik ingenooi, maar kon nie praat nie omdat hy so ontsteld was. Gabino het vertroostend oor die goeie nuus begin praat, en die man het gekalmeer. “Sien jy daardie stoel?” het die man gevra. “Toe jy die derde keer geklop het, het ek op daardie stoel gestaan. Sien jy die tou daar bo? Toe jy die vierde keer geklop het, het ek die strop om my nek gehad. Maar ek het dit afgehaal om die deur oop te maak. Dankie dat jy aangehou klop het, want as jy dit nie gedoen het nie, sou ek my opgehang het.” Hy het verduidelik dat hy radeloos was weens probleme met sy vrou. Gabino het reëlings getref vir ’n Bybelstudie. Gewoonlik klop hierdie pionier net een of twee keer aan ’n deur. Maar hierdie keer het sy volharding, moontlik onder leiding van die engele, goeie resultate gelewer.

Chili

Gedurende die kampanje om belangstellendes na die Herdenking van Christus se dood te nooi, het ’n kind na ’n Getuie toe gekom en haar gevra: “Hoe oud is Tannie?” Die suster, wat ietwat onkant gevang is, het geantwoord: “En hoe oud is jy?” Die dogtertjie het gesê dat sy ses jaar oud is en dat haar ma vir haar ’n brief gegee het om vir een van Jehovah se Getuies te gee. Die ma het vir haar dogtertjie gesê dat sy ’n Getuie moet vind wat nie ’n kind is nie, maar ook nie bejaard is nie. Die suster het dus vir haar gesê dat sy 25 jaar oud is. Die dogtertjie het vir haar die brief gegee. Dit het gesê: “Elke keer dat julle my huis besoek het, kon ek nie die moed bymekaarskraap om die deur oop te maak nie. Ek lei aan ernstige depressie en het God om hulp gevra. Ek het ook probeer om toe te pas wat julle leer en om die Bybel te lees, maar dit was vir my baie moeilik. Ek wil graag die Bybel studeer saam met iemand wat my kan help om oor ’n mislukte huwelik te kom. As jy my kan help, moet jy asseblief vanmiddag na my huis toe kom, aangesien ek vanoggend in die bed is. Dankie.”

Daardie middag het die suster die vrou besoek en haar na die Gedenkmaal en die spesiale toespraak genooi, en albei het vir haar ware vertroosting gebring. Sedertdien vind sy baat by gereelde vergaderingbywoning en vorder sy goed in haar Bybelstudie in die boek Wat leer die Bybel werklik? En haar sesjarige dogtertjie? Sy, sowel as haar 12-jarige suster, het ook hulle eie Bybelstudie.

Puerto Rico

’n Suster skryf: “Ek het tydskrifte op straat aangebied toe ek ’n jong vrou sien wat haar motorbande laat oppomp. Ek het na haar toe gegaan, maar voordat ek iets kon sê, het sy vir my Die Wagtoring en Ontwaak! gevra en gesê dat sy dit baie geniet om dit te lees. Ek het vir haar ’n tuisbybelstudie aangebied, maar sy het gesê dat sy dit nie kan aanvaar nie omdat sy op die eerste verdieping van haar ma se huis bly en haar ma baie gekant is teen ons werk. Toe ek haar adres gevra het, het sy net vir my die straatnaam gegee. By ’n ander geleentheid het ek na die straat gegaan en probeer vind waar sy woon, maar sonder welslae. Toe het ek eendag na die straat gegaan en van die bure gevra of hulle iemand met die naam Nancy, ’n ma met twee jong kinders, ken. Tot my vreugde het ek uiteindelik haar adres gekry. Ek kon haar egter nog steeds nie by die huis vind nie en het dus vir haar tydskrifte en briefies gelos. Toe ek uiteindelik met haar kontak gemaak het, het sy begin huil en gesê dat sy na die Koninkryksaal toe wil kom. Sy het gekom en het die hartlike, liefdevolle gees onder die broers en susters geniet. Sy het vir my gesê dat sy nie op my vorige besoeke kon reageer nie omdat haar ma my briefies en die tydskrifte vernietig het voordat sy by die huis gekom het. Ons het die Bybel in haar suster se huis begin studeer, en kort voor lank het Nancy die vergaderinge gereeld bygewoon. Nou bly sy nooit van ’n vergadering weg nie. Sy het by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit, en dit is wonderlik om te hoor hoe sy en haar twee jong kinders aan die vergaderinge deelneem.”

ASIË EN DIE MIDDE-OOSTE

LANDE 47

BEVOLKING 4 073 556 172

VERKONDIGERS 635 896

BYBELSTUDIES 579 554

Suid-Korea

’n Man wat naby ’n Koninkryksaal woon, het ’n briefie op sy motor gevind, wat voor sy huis geparkeer was. Die briefie het gesê: “Ek het per ongeluk jou motor gekrap toe ek geparkeer het. Bel my asseblief, en ek sal dit vir jou laat regmaak.” Aangesien die man die gedrag waargeneem het van die Getuies wat na die saal daar naby gaan, het hy gedink: ‘Iemand wat so eerlik is, moet een van Jehovah se Getuies wees.’

’n Suster genaamd Soe-jeon het die briefie daar gelaat, en toe die man haar bel, het sy om verskoning gevra en weer aangebied om sy motor te laat regmaak. Stel jou voor hoe verbaas sy was toe die man vra: “Verskoon my, maar is jy een van Jehovah se Getuies?” Die man het gesê dat hý sy motor sal laat regmaak en dat sy haar nie daaroor hoef te bekommer nie! Toe het hy gesê dat hy haar graag wil ontmoet, aangesien daar dinge is wat hy omtrent die Getuies wil weet. Soe-jeon, tesame met haar pa en nog ’n geestelike broer, het hom gaan ontmoet. “Ek het die geleentheid gehad om die Getuies waar te neem”, het die man gesê, “want ek woon naby die Koninkryksaal. Julle is goeie mense. Ek kan nie verstaan waarom julle so gehaat word nie.” Met behulp van die Bybel en die boek Wat leer die Bybel werklik? kon Soe-jeon se pa al die man se vrae beantwoord. Hy het nou ’n gereelde Bybelstudie met Soe-jeon se pa en maak goeie geestelike vooruitgang.

Lande waar die werk beperk of verbied is

’n Kolonel in die weermag is beïndruk deur die positiewe uitwerking wat die waarheid op sy vrou, een van Jehovah se Getuies, gehad het. Gevolglik het hy tot ’n Bybelstudie ingestem. Sy bevelvoerder, ’n generaal, het hiervan te hore gekom en hom ingeroep om met hom te praat. Die generaal het vir hom gesê dat hy na die mees afgesonderde plek in die land gestuur sou word as hy nie ophou om met Jehovah se Getuies te assosieer nie. Die kolonel het moedig geantwoord dat sy vrou lank die Bybel gestudeer het en dat hy niks gevaarliks daaromtrent sien nie. Hy sou dus nie ophou om die Bybel te studeer nie. Ná verloop van tyd het die kolonel besluit om uit militêre diens te tree. Hy is nou ’n gedoopte Getuie en dien as ’n gewone pionier en bedieningskneg. Interessant genoeg, die vrou van die generaal met wie hy gepraat het, het ook die Bybel begin studeer. Die generaal kon haar ook nie keer nie, en sy dien nou ook as ’n gewone pionier.

In ’n ander land het ’n suster ’n Bybelstudie begin met ’n jong vrou wie se man haar hewig teëgestaan het. Aangesien die Bybelstudie nie by die vrou se huis gehou kon word nie, het die twee vroue gereël om in ’n parkie te studeer. Tydens hulle studie het ’n ou man wat in die park gestap het, die heeltyd om hulle geloop, gekyk wat hulle doen en na hulle gesprek geluister. Op ’n dag het hy nader gekom en ’n paar vrae oor die Bybel gevra. Gedurende die volgende studie het hy dit weer gedoen. Die vrou wat gestudeer het, het haar effens vererg en gesê: “Ek het net een uur om die Bybel te studeer, maar jy kom neem al my tyd op deur te veel vrae te vra.” Daarna het die suster gereël dat ’n broer met die man studeer, en hy het vinnig geestelike vooruitgang gemaak en vergaderinge begin bywoon. Elke Sondag het twee vroue in sy buurt gesien dat hy, goed geklee en met ’n aktetas in sy hand, die huis verlaat. Hulle was nuuskierig om te weet waarheen hy gaan en het uitgevind dat hy aan ’n sekere “nuwe godsdiens” begin glo het. Die twee vroue het besluit om ondersoek in te stel en het die man tot by die Koninkryksaal gevolg. ’n Hele paar susters het met hulle gepraat en gevra of hulle die Bybel wou studeer. Een het ’n studie aanvaar. Hierdie drie persone—die jong vrou wat in die park gestudeer het, die man wat in die park gekontak is en een van die vroue wat hom gevolg het—het uitstekende geestelike vooruitgang gemaak en is onlangs gedoop.

Kambodja

Loei, ’n pionier in Kambodja, ry gereeld met haar fiets na ’n dorpie waar die huise van bamboes gemaak en op pale gebou is. Daar hou sy Bybelstudies. Toe sy drie dae voor die Gedenkmaal in die dorpie was en die doel van die Gedenkmaal aan een van haar Bybelstudente verduidelik het, het nuuskierige kinders om hulle begin saamdrom en vrae gevra. Die groep kinders het al hoe groter geword. Loei het 57 Gedenkmaaluitnodigings uitgegee. Die volgende dag is Loei weer met haar fiets na die dorpie om ’n ander studie te gaan hou, en dié student het gesê dat haar familie en vriende die Gedenkmaal wil bywoon. Loei het dus nog 20 uitnodigings vir die Bybelstudent gegee om uit te deel. Toe het Loei bekommerd begin raak oor hoe sy al hierdie mense kon help om die Gedenkmaal by te woon. Nadat sy gebid het, het sy met die pa van een van haar Bybelstudente gepraat, wat die dorpskoördineerder is. Hy het Loei verseker dat almal sou kon gaan as sy reëlings kon tref vir net een toek-toek (’n klein waentjie wat gewoonlik sitplek het vir vier en deur ’n motorfiets getrek word), aangesien hulle óf sou staan óf op mekaar se skote sou sit. Loei was verheug om 18 mense van hierdie dorpie by die Gedenkmaal te sien.

Indië

’n Broer wat as ’n outoriksjabestuurder werk, het die geleentheid aangegryp om vir ’n passasier te getuig wat ’n joernalis is. Sy was beïndruk deur sy moed, aangesien party Getuies in daardie gebied deur teenstanders aangerand is terwyl hulle die goeie nuus verkondig het. Die joernalis het besluit om hulle gesprek in ’n nasionale koerant te publiseer. Sy het geskryf: “Ek het besluit om bietjie ’n reaksie te probeer uitlok: ‘Het jy nie vandag die nuus gehoor nie? Hoe julle mense aangerand en julle kerke aangeval is in verskillende dele van die staat?’ Hy het gesê: ‘Ja, ek het in vandag se koerant daaroor gelees.’ ‘Wat sal julle dan doen as [die teenstanders] aanhou om dinge vir julle moeilik te maak?’ Hy het sy kop geskud en gesê: ‘Dit maak nie saak nie. Ons sal aanhou om [die waarheid] te glo.’”

Sy het die traktaat beskryf wat die Getuie vir haar gegee het en gesê: “By die huis het ek die pamflet uit my sak gehaal. ’n Ongelooflik idilliese toneel word daarop uitgebeeld, met groen weivelde, ’n meer, bome vol blomme, mense wat graan en vrugte oes en sneeubedekte berge. ‘Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld’, het dit gesê. Dit het ’n godsdienstige boodskap bevat. Gewoonlik sal niemand daarteen kapsie maak as iemand vir hulle ’n pamflet gee nie, hetsy dit ’n sariwinkel of ’n lewenswyse adverteer. Maar begin net van ’n vreedsame nuwe wêreld praat, en jy kan jou ander se haat op die hals haal.”

Die Filippyne

In een deel van die Zamboanga-streek is daar ’n berg wat so hoog is dat sy piek 200 kilometer daarvandaan gesien kan word. Broers wat naby die berg woon, het dikwels gedurende velddiens grappenderwys gesê: “Wat sal ons doen as daar ’n belangstellende op daardie berg woon?” Eendag, terwyl hulle aan die voet van die berg gepreek het, het ’n man na hulle toe gekom en gesê dat hy na Jehovah se Getuies soek. Hy het gesê dat hy wil hê dat hulle hom moet help om die Bybel te studeer. Die broers het hom gevra waar hy woon. Toe hy na die piek van die berg wys, was die broers sprakeloos. Die man het verduidelik dat sy huis nie bo-op die berg is nie, maar daaragter en dat ’n mens slegs daar kan kom deur oor die berg te klim. Nadat die broers van die skok herstel het, het hulle ingestem om te gaan. ’n Bybelstudie is begin, en die man woon nou die weeklikse vergaderinge by die Koninkryksaal by, hoewel dit baie ver van sy huis af is. Hierdie man is nou een van die mense van alle nasies wat na “die berg van die huis van Jehovah” stroom.—Jes. 2:2.

EUROPA

LANDE 47

BEVOLKING 736 988 468

VERKONDIGERS 1 563 910

BYBELSTUDIES 819 067

Finland

Twee broers het tuisbybelstudies van huis tot huis aangebied met behulp van die traktaat Die waarheid—Wil jy dit graag vind? ’n Man het die deur oopgemaak, hulle inleiding onderbreek en hulle ingenooi. “Ek het baie vrae”, het hy gesê. “Waarom kom julle juis nou?”

“Wel”, het die broers geantwoord, “ons is saam met ons gemeente in hierdie gebied.”

Die man het geantwoord: “Ek het gebid dat Jehovah se Getuies na my deur moet kom. Ek draf gewoonlik hierdie tyd, maar ek het nie vandag gegaan nie. En nou het julle gekom!” Die man het gevoel dat sy gebede verhoor is. By sy werk het mense dikwels negatiewe dinge oor Jehovah se Getuies gesê. Hy wou weet of hierdie bewerings waar is, en daarom het hy na ’n biblioteek gegaan om inligting te soek. Hy het die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk gevind, dit gelees en besef dat die beskuldigings teen ons leuens is. Hy wou Jehovah se Getuies dus graag ontmoet. ’n Studie is begin, en hy het onmiddellik ons vergaderinge begin bywoon. Hy het vir sy gewese vrou en hulle dogter getuig, en hulle het ook begin studeer.

Brittanje

Kirsty, ’n gewone pionier, het Frans en Lingala geleer sodat sy vir die Kongolese in haar gebied kon getuig. Eendag het sy ’n Kongolese vrou gesien wat gesukkel het om op die bus te klim omdat sy baie inkopiesakke gehad het. Kirsty het in Lingala aangebied om haar te help en het haar inkopiesakke vir haar in die bus gesit. “Waarom praat jy, ’n wit mens, Lingala?” het die vrou gevra. Kirsty het verduidelik dat sy in ’n Lingalasprekende gemeente is en dat die plaaslike Getuies haar die taal geleer het sodat sy met mense oor die Bybel kan praat. Omdat Kirsty vir die vrou ’n Bybelstudie wou aanbied, het sy op die bus gebly totdat die vrou haar bestemming bereik het. Toe het Kirsty die vrou se inkopiesakke opgedra na haar woonstel op die derde verdieping. Kirsty is deur die vrou se man en hulle vier kinders verwelkom, en sy het vir die gesin gewys hoe ’n Bybelstudie met behulp van die boek Wat leer die Bybel werklik? gehou word. Die vrou en die twee ouer kinders studeer nou die Bybel. Al drie probeer om Jehovah te behaag.

Georgië

Twee jong pionierbroers het besluit om na ’n bergagtige deel van die land te trek waar daar min Getuies was. Hulle het van dorpie tot dorpie begin preek, en die reaksie was uitstekend. Hulle het honderde publikasies by mense gelaat en baie Bybelstudies begin. Toe die broers in die berge begin preek het, het hulle min kos gehad en nie geweet waar hulle sou slaap nie. Maar daar is altyd in hulle behoeftes voorsien. Mense in die dorpies het hulle genooi om by hulle te oornag en vir hulle kos gegee. Soms het selfs mense wat nie na hulle boodskap wou luister nie, hulle genooi om die nag by hulle oor te bly en by hulle te eet. Later is die broers as spesiale pioniers in hierdie gebied aangestel. Omdat hulle soveel Bybelstudies gehad het, het hulle beperk hoeveel studies hulle redelikerwys kon hou sodat hulle na almal kon omsien. Dit is nog steeds niks ongewoons vir mense om op straat na hulle toe te kom en ’n Bybelstudie te vra nie, en al het hulle die getal beperk, hou elke broer gemiddeld meer as 20 Bybelstudies per maand.

Hongarye

’n Suster ontvang gereeld bottels melk wat in ’n sak aan haar heining gehang word. Toe sy eendag die leë bottels terugstuur, het sy die traktaat Die waarheid—Wil jy dit graag vind? in die sak gesit. Tot haar verbasing het die melkmeisie met die volgende aflewering van vars melk ’n briefie in die sak gesit waarin sy ’n paar vrae oor die traktaat asook ’n Bybel vra. Die suster het die melkmeisie onmiddellik besoek op die plaas waar sy gewoon het en ’n Bybelstudie begin met behulp van die boek Wat leer die Bybel werklik? Vroeër het die vrou in verskillende kerke na antwoorde op haar vrae gesoek, maar haar geestelike honger is nie bevredig nie. Trouens, haar soeke het selfs meer vrae by haar laat ontstaan. Toe een van haar dogters ook baie belangstelling getoon het, het die suster vir haar die boek Leer by die Groot Onderwyser gegee. Die ma het verduidelik dat die meisie dikwels snags wakker skrik as gevolg van nagmerries. Maar nadat die meisie ’n paar van die hoofstukke in hierdie boek gelees het, was sy nie meer so bang nie en slaap sy nou snags rustig. Die Bybelstudie gaan voort, en die ma woon gereeld Sondae die vergaderinge saam met haar twee dogters by.

Italië

Cristina en Manel, twee voltydse predikers, het die traktaat Die waarheid—Wil jy dit graag vind? in ’n plattelandse gebied van Sentraal-Italië versprei. Op een plaas het hulle geluide gehoor wat van die agterplaas af kom. Toe die huisbewoner die Getuies sien, het sy onmiddellik uitgeroep: “Maak gou! Hardloop! Kom help my!” Toe die Getuies haar te hulp snel, het hulle gesien dat sy probeer keer dat ’n yslike, woedende vark uit die varkhok kom. Die hek was stukkend, en die vrou was bekommerd dat die vark in die nabygeleë woud sou inhardloop. Sy was alleen en het die hek desperaat probeer toehou. “Hou dit toe terwyl ek iets gaan kry om dit mee reg te maak!” het die vrou vir Cristina geskreeu. Cristina het onmiddellik geantwoord dat sy doodbang is vir die vark. Toe het die vrou vir Manel ’n pampoen en ’n mes gegee en vir haar gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Gooi net die heeltyd vir die vark stukkies pampoen om hom besig te hou terwyl ek ’n nuwe grendel gaan soek.”

Toe het die vrou verdwyn, en etlike minute het verloop. Intussen het Cristina Manel aangepor om gou te maak en vir die vark kos te gooi, maar Manel het gesukkel om deur die pampoen se harde skil te sny. Uiteindelik het die vrou teruggekom en die hek reggemaak. Met ’n sug van verligting het sy uitgeroep: “Julle twee is deur die Almagtige gestuur!”

“U is heeltemal reg, Mevrou!” het hulle geantwoord terwyl hulle die traktaat uitgehaal en vir haar gewys het.

Die vrou het onmiddellik gesê: “Dit is te belangrik om hier daaroor te staan en praat. Ons moet gaan sit en rustig praat.” Sy het dus ’n paar stoele gaan haal, en terwyl hulle in die son op die plaaswerf gesit het, het die vrou baie vrae gevra en met groot belangstelling en waardering geluister. Later is reëlings getref om ’n Bybelstudie te begin. Cristina en Manel sê dat hulle hierdie ondervinding te danke het aan ’n vark wat net op die regte tyd wou ontsnap.

OSEANIË

LANDE 30

BEVOLKING 38 338 482

VERKONDIGERS 99 816

BYBELSTUDIES 59 619

Australië

Fred, ’n Getuie in ’n stil kusdorp, het drie van ons DVD’s by ’n man gelaat. Later het Fred ’n brief van die man ontvang wat onder andere gesê het: “Terwyl ek aandagtig na die DVD’s gekyk en geluister het, het ’n kalmte oor my gekom. Ek kon die vrede, vreugde en glimlagte van die mense waarna ek gekyk het, voel. Ek het jare laas so gevoel. Nou begin ek glo dat daar moontlik ’n beter lewe vir my voorlê. In die verlede was ek dikwels onbeskof teenoor Getuies wat aan my deur geklop het. Ek vra opreg om verskoning hiervoor. Julle het met niks behalwe vriendelikheid en die begeerte om die goeie nuus te versprei, na my toe gekom nie. Wie weet, dalk sal jy nog eendag by julle Koninkryksaal oor jou skouer kyk en my agter jou sien sit.”

Nieu-Seeland

Twee susters het ’n staatsbeheerde trustorganisasie vir gesinne besoek en ’n afspraak met die direkteur gereël. Ter voorbereiding het hulle ’n “gesinspakkie” saamgestel, wat spesifiek onderwerpe ingesluit het waarin die direkteur sou belangstel weens haar werk met gesinne. Die pakkie het bestaan uit die boeke Die geheim van gesinsgeluk en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk sowel as die Ontwaak! van Augustus 2007 met die voorbladreeks “Sewe stappe om ’n beter ouer te wees” en die nommer vir Oktober 2007 met die voorbladreeks “Beskerm jou kinders!”

Met die besoek het die susters die vrywillige aard van ons werk verduidelik en gesê dat ons baie daarin belangstel om gesinne te help, veral op geestelike gebied. Hulle het tyd geneem om vir haar te wys wat die pakkie bevat. Die direkteur het geluister, die lektuur geneem en gesê dat sy die inligting aan al 35 werknemers wil oordra. Sy het bygevoeg dat die 503 gesinne op haar lys almal by die Ontwaak!-artikels sou baat vind. Die susters het dit reggekry om 557 eksemplare van die Ontwaak! bymekaar te maak. Twee weke later het hulle ’n oproep ontvang waarin hulle in kennis gestel is dat al die tydskrifte na die gesinne gestuur is.

Fidji

’n Jong man met die naam Viliame was ’n uitstekende rugbyspeler en wou eendag graag sy land verteenwoordig. Sy broer, Leone, wou ook rugby sy loopbaan maak, maar nadat hy ’n Bybelstudie met ’n spesiale pionier aanvaar het, het hy besef dat hy nie twee here kan dien nie. Hy het vergaderinge begin bywoon en rugby prysgegee. Sy ma, ’n Getuie, het vir hom klere gekoop om na die vergaderinge te dra, maar tydens ’n rusie het Viliame Leone se vergaderingklere geskeur. Leone was verpletter, maar het besluit om hom nie in gelyke munt terug te betaal nie. ’n Ruk later het Leone sy waatlemoenoes na die mark geneem, en met ’n deel van die opbrengs het hy vir hom vergaderingklere gekoop, asook ’n Bybel, penne en neonmerkpenne om by die vergaderinge te gebruik. Hy het dieselfde dinge vir Viliame gekoop. Viliame het gedink aan sy eie venynige daad en is diep geraak deur sy broer se goedhartigheid. Hy het die nuwe klere aangetrek en sy broer verras deur ’n vergadering by te woon. Viliame het ook ’n Bybelstudie aanvaar, en die twee broers het geestelike vooruitgang gemaak. Toe albei hulle vir doop voorberei het, het Viliame ’n lonende aanbod ontvang om in Europa rugby te gaan speel, ’n aanbod waarvan baie jong mans droom, aangesien dit finansiële sekuriteit en roem kan meebring. Maar sy doelwitte het nou verander, en hy het besluit om hom eerder aan Jehovah toe te wy. Viliame sowel as Leone het vir die eerste ses maande ná hulle doop as hulppioniers gedien. Toe hulle pa, Waisea, hulle goeie voorbeeld sien, het hy ook ’n Bybelstudie aanvaar. Waisea het groot veranderinge aangebring en is tesame met sy twee dogters by ’n spesiale byeenkomsdag gedoop.

[Prente op bladsy 45]

Selfdissipline en moderne tegnologie het ’n suster gehelp om ’n Bybelstudie te hou

[Prent op bladsy 46]

Haar getrouheid het ’n getuienis gegee

[Prent op bladsy 48]

Gesinsaanbidding het Stefan in staat gestel om by die skool te getuig

[Prent op bladsy 49]

Sy volharding het ’n lewe gered

[Prent op bladsy 50]

Sy het ’n Getuie gevind wat nie jonk of oud was nie

[Prent op bladsy 55]

Sy het reëlings vir net een “toek-toek” getref

[Prent op bladsy 58]

Omdat sy ’n vreemde taal aangeleer het, kon sy ’n Bybelstudie begin

[Prent op bladsy 60]

Informele getuieniswerk kan baie vorme aanneem

[Prent op bladsy 63]

Voorbereiding van die “gesinspakkie”

[Prent op bladsy 64]

Hulle het ’n lonende rugbyloopbaan prysgegee om Jehovah te dien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel