Uganda
ONTDEKKINGSREISIGERS het eeue lank gesoek na die bron van die magtige Nylrivier, wat deur die helfte van Afrika kronkel en in die Middellandse See uitloop. Uiteindelik het party ontdekkingsreisigers die Victoria-meer en die omliggende berge as die vernaamste bronne van die Nyl se standhoudende waters geïdentifiseer. In onlangse dekades was baie van die inwoners van hierdie gebied verheug om die bron van kosbaarder water te ontdek—“lewende water” wat “die ewige lewe” gee (Joh. 4:10-14). Hier volg die verhaal van die mense van Uganda wat ‘gedors het na regverdigheid’.—Matt. 5:6.
“DIE PÊREL VAN AFRIKA”
Uganda, wat op die ewenaar in die middel van Afrika lê, is ’n pragtige land met ’n matige klimaat. Sprankelende waterstrome loop van smeltende gletsers hoog in die majestueuse Ruwenzori-gebergte—wat die Maanberge genoem word—af na tallose riviere en mere. Vrugbare grond en oorvloedige reën maak Uganda ’n ideale plek om koffie, tee en katoen te verbou. Meelpiesangs, ’n kookpiesang, groei welig en word gebruik vir matooke, een van Uganda se vernaamste geregte. Die plaaslike inwoners eet ook kassawe, mieliemeel, giers en sorghum.
Hierdie tropiese land is die tuiste van leeus, olifante, seekoeie, krokodille, luiperds, kameelperde en wildsbokke sowel as sjimpansees, ’n verskeidenheid fassinerende ape en die bedreigde berggorilla. Pragtige voëls vul die lug met melodieuse sang. Ja, Uganda is ’n land van soveel skoonheid dat dit al “die pêrel van Afrika” genoem is.
UGANDA SE LIEFLIKE MENSE
Sowat 30 miljoen mense uit ongeveer 30 etniese groepe woon in Uganda. Baie is godsdienstig en behoort aan die Christendom se kerke; maar soos op ander plekke, is formele aanbidding dikwels ten nouste verweef met tradisionele godsdiensgebruike. Ugandese is oor die algemeen vriendelik en gasvry, en dit is niks ongewoons vir party om te kniel wanneer hulle iemand wat ouer as hulle is, groet of bedien nie.
Maar ongelukkig het politieke beroeringe in die 1970’s en 1980’s sowel as die duisende sterftes wat dit tot gevolg gehad het, hierdie pragtige “pêrel” en sy kosbare mense met pynlike letsels gelaat. Daarbenewens het die verwoestende uitwerking van die vigsepidemie tot Uganda se smarte bygedra. Onder hierdie omstandighede het Jehovah se Getuies vertroosting en hoop aan hierdie veerkragtige mense gebring.
WARE PIONIERS
Die eerste verslag van die Koninkrykspredikingswerk in Uganda dateer uit 1931, toe die Suid-Afrikaanse takkantoor toesig gehou het oor die predikingswerk in die hele Afrika suid van die ewenaar. Om die werk in hierdie ontsaglike gebied te begin, het die takkantoor twee pioniers, Robert Nisbet en David Norman, gestuur om te preek in die gebied wat nou Kenia, Uganda en Tanzanië is.
Broer Nisbet en broer Norman was vasbeslote om die goeie nuus van die Koninkryk tot diep in die binneland van Afrika te neem. Hulle het hulle veldtog op 31 Augustus 1931 in Dar es Salaam begin, met 200 kartonne lektuur. Van daar af is hulle na die eiland Zanzibar en toe verder na die hawestad Mombasa op pad na die hoogland van Kenia. Hulle het per trein gereis en die predikingswerk in die dorpe langs die treinspoor tot by die oostelike oewer van die Victoria-meer gedoen. Die twee vreeslose pioniers het die meer op ’n stoomboot oorgesteek en in Kampala, die hoofstad van Uganda, aangekom. Nadat hulle baie lektuur versprei het en ook intekeninge op The Golden Age gekry het, is die twee broers per motor selfs verder die binneland in.
Vier jaar later, in 1935, het vier pioniers van Suid-Afrika nog ’n ekspedisie na Oos-Afrika onderneem. Dit was Gray Smith en sy vrou, Olga, tesame met Robert Nisbet en sy jonger broer George. Met twee goed toegeruste afleweringsvoertuie wat as woonwaens ingerig is, moes hierdie vindingryke pioniers slegte paaie trotseer en deur olifantsgras van tot drie meter hoog sukkel. “Hulle het dikwels in die veld geslaap”, sê een verslag, “en hulle kon die hartklop van Afrika met sy oorvloed wild sien, hoor en voel—leeus wat snags brul, sebras en kameelperde wat rustig wei en die angswekkende teenwoordigheid van renosters en olifante.” Hulle het onbevrees dorpe besoek wat nooit voorheen met die Koninkryksboodskap bereik is nie.
Terwyl Gray en Olga Smith ’n tyd lank in Tanganjika (nou Tanzanië) gebly het, het Robert en George Nisbet na Nairobi, Kenia, gereis. Later, toe die koloniale owerheid die Smiths beveel het om Tanganjika te verlaat, het hulle na Kampala, Uganda, gegaan. Hierdie keer was die omstandighede egter nie so gunstig nie, en die polisie in Kampala het hulle die hele tyd dopgehou. Dit het die Smiths nie afgeskrik nie, en hulle het in net twee maande 2 122 boeke en boekies by mense gelaat en ses openbare vergaderinge gereël. Maar uiteindelik het die goewerneur ’n deportasiebevel uitgereik wat die egpaar gedwing het om Uganda te verlaat. Hulle het na Nairobi gereis, waar hulle weer by die Nisbet- broers aangesluit het voordat hulle na Suid-Afrika teruggekeer het.
Danksy Jehovah se seën was hierdie predikingsveldtogte buitengewoon suksesvol, en ’n uitstekende getuienis is gegee. Ondanks godsdiensteenstand en toenemende druk van die koloniale owerhede het die pioniers meer as 3 000 boeke en oor die 7 000 boekies versprei en ook baie intekeninge gekry. Ná hierdie veldtogte het baie jare verloop voordat die predikingswerk in Uganda hervat is.
HERNIEUDE BEDRYWIGHEID
In April 1950 het ’n jong egpaar van Engeland, broer en suster Kilminster, hulle in Kampala gevestig. Hulle het die goeie nuus ywerig verkondig en was verheug toe twee gesinne, een Grieks en die ander Italiaans, op die Koninkryksboodskap gereageer het.
Toe, in Desember 1952, het broers Knorr en Henschel van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York ’n besoek aan Nairobi, Kenia, afgelê. Broer Kilminster wou nie die kans laat verbygaan om tyd saam met hulle deur te bring nie, en daarom het hy die hele pad van Kampala af na Nairobi gereis. Broers Knorr en Henschel het die klein groepie in Nairobi aangemoedig en gereël dat ’n gemeente in Kampala gestig word. Hierdie nuwe gemeente het weldra goeie resultate begin voortbring, en ’n hoogtepunt van tien verkondigers het gedurende die 1954-diensjaar aan die bediening deelgeneem.
Gedurende dieselfde jaar het Eric Cooke, van die takkantoor in Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe), Oos-Afrika besoek en tyd saam met die nuwe gemeente in Kampala deurgebring. Hoewel die broers ’n weeklikse gemeentelike studie van Die Wagtoring geniet het, was hulle nog nie baie bedrywig in die Christelike bediening nie. Broer Cooke het broer Kilminster dus aangespoor om al die gemeentelike vergaderinge te hou, insluitende ’n weeklikse Diensvergadering. Om die predikingswerk verder uit te brei, het broer Cooke die deur-tot-deur-bediening beklemtoon en self ’n aantal verkondigers liefdevol opgelei.
Tot op hierdie stadium is die predikingswerk hoofsaaklik gedoen onder Europeërs wat in Uganda gewoon het. Broer Cooke het opgemerk dat die meeste Ugandese in Kampala Luganda praat. Hy het voorgestel dat die broers ’n publikasie in Luganda vertaal om die harte van die plaaslike mense te bereik. In 1958 het verkondigers die pas vertaalde boekie “Hierdie goeie nuus van die koninkryk” begin gebruik. Wat ’n aansporing was dit tog! Die werk het gevorder, en in 1961 is ’n nuwe hoogtepunt bereik toe 19 Koninkryksverkondigers aan die bediening deelgeneem het.
By sy sekulêre werk het broer Kilminster vir George Kadu ontmoet, ’n entoesiastiese Ugandees in sy vroeë 40’s wat benewens sy moedertaal, Luganda, ook goed Engels gepraat het. George se belangstelling in Bybelwaarheid is aangewakker toe hy geleer het dat God se naam Jehovah is, en hy het die Bybel begin studeer. Kort voor lank het hy saamgegaan as ’n tolk wanneer broer Kilminster van huis tot huis gepreek het. In 1956, toe die eerste doopplegtigheid in Uganda in die Victoria-meer naby Entebbe plaasgevind het, het George sy toewyding aan Jehovah gesimboliseer.
Nie lank daarna nie het die Koninkrykswerk ongelukkig ’n terugslag ondervind. Van die buitelandse broers het na hulle geboorteland teruggekeer toe hulle werkskontrakte verstryk het. ’n Paar broers is uitgesit, en ’n aantal het gestruikel weens die onskriftuurlike gedrag van party in die gemeente. Maar broer Kadu was lief vir Jehovah en het geweet dat hy die waarheid gevind het. Hy het dit ‘in gunstige tye en in moeilike tye’ aangekleef en het tot sy dood in 1998 getrou as ’n ouer man gedien.—2 Tim. 4:2.
HULLE DIEN WAAR HULP NODIG IS
Die veld in Oos-Afrika was groot, en daar was ’n dringende behoefte aan Koninkryksverkondigers. Daar was ook nog ’n uitdaging. Die koloniale regering het sendelinge nie toegelaat om in die gebied in te kom nie. Wat kon gedoen word?
In 1957 het ’n wêreldwye oproep uitgegaan vir verkondigers om te dien waar hulp nodig is. Geestelik ryp broers is aangespoor om te trek na plekke waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Die uitnodiging was soortgelyk aan die een wat die apostel Paulus in ’n visioen gesien het toe ’n man hom gesoebat het: “Kom oor na Masedonië en help ons” (Hand. 16:9, 10). Watter uitwerking het hierdie hedendaagse uitnodiging op die vooruitgang van die Koninkrykspredikingswerk in Uganda gehad?
Frank en Mary Smith het met ’n gesindheid soos dié van Jesaja op die oproep gereageer en onmiddellik voorbereidings begin tref om na Oos-Afrika te verhuis (Jes. 6:8).a In Julie 1959 het hulle per boot van New York vertrek en via Kaapstad na Mombasa gereis. Toe is hulle per trein na Kampala, waar Frank ’n werkskontrak by die regering gekry het as ’n chemikus in die Departement van Geologiese Opnames. Die Smiths het sowat 35 kilometer suid van Kampala gaan woon in Entebbe, ’n pragtige stad op die oewer van die Victoria-meer waar die Koninkrykspredikingswerk nog glad nie gedoen was nie. Hulle het gereeld vergaderinge saam met die klein maar groeiende gemeente in Kampala bygewoon.
Die Smiths het weldra vir Peter Gyabi, wat ’n verantwoordelike posisie in die Ugandese staatsdiens beklee het, en sy vrou, Esther, die waarheid geleer. Peter het vroeër die boek Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen?b ontvang, maar hy het dit nie gelees nie omdat hy te besig was met sy sekulêre werk en dikwels verplaas is. Toe is Peter gestuur om as bemiddelaar op te tree in ’n gespanne, komplekse grondgeskil tussen twee stamgroepe. Hy het gebid: “God, as u my help, sal ek u soek.” Toe die situasie vreedsaam opgelos is, het hy sy gebed onthou en die boek begin lees. Hy het besef dat wat hy lees, die waarheid is en het na die Getuies begin soek. Hoe bly was hy tog om Frank Smith te ontmoet, wat ingestem het om ’n gereelde Bybelstudie met hom en sy vrou te hou! Gevolglik is hierdie lieflike egpaar gedoop, en ná meer as vier dekades van getroue diens is hulle nog steeds bedrywige Koninkryksverkondigers.
Ander buitelandse broers het ook gereageer op die uitnodiging om te dien waar hulp nodig is. Sommige het werkskontrakte gekry wat hulle geneem het na plekke wat ver van die klein groepie verkondigers in die Kampala-gemeente was. Een egpaar het in Mbarara gaan woon, ’n dorpie in die golwende heuwels in die suidweste van Uganda, sowat 300 kilometer van Kampala af. Hulle het gereël om die Wagtoring-studie en boekstudie in hulle huis te hou. Maar van tyd tot tyd het hulle die hele pad na Kampala of na Entebbe gereis om hartlike Christelike assosiasie te geniet. Hulle het ook in aanraking gebly met die takkantoor in Luanshya, Noord-Rhodesië (nou Zambië), wat destyds toesig gehou het oor die Koninkrykspredikingswerk in Oos-Afrika. Harry Arnott, wat op dié stadium oor hierdie takkantoor toesig gehou het, het as ’n sone-opsiener gedien en Kampala besoek om aanmoediging te voorsien aan die handjie vol verkondigers in Uganda. Hulle het sy liefdevolle sorg baie waardeer.
Nog ’n egpaar met ’n sterk begeerte om te dien waar daar ’n behoefte aan Koninkryksverkondigers was, was Tom en Ann Cooke van Engeland. Tom het in ’n aantal lande om werk aansoek gedoen en het ’n pos as ’n onderwysbeampte gekry in die Ministerie van Onderwys in Uganda. Aanvanklik het sy werk hom en Ann en hulle vierjarige dogtertjie, Sarah, geneem na die dorpie Iganga, ongeveer 130 kilometer oos van Kampala. Ná die geboorte van Rachel, hulle tweede dogter, het Tom en sy gesin getrek na Jinja, ’n dorp wat geleë is by wat algemeen die bron van die Nyl genoem word. Later het hulle na Kampala verhuis.
OPOFFERINGS EN SEËNINGE
Wat ’n waardevolle bydrae het al hierdie gesinne tog tot die Koninkrykspredikingswerk in Uganda gemaak! Hulle het wel ’n lewenstyl en geriewe waaraan hulle gewoond was, agtergelaat. Maar in ruil daarvoor het hulle die vreugde gesmaak om te sien hoe nederige mense hulle lewenswyse verander en op die goeie nuus van die Koninkryk reageer. Hulle het ook die sterk band van Christelike liefde ondervind wat tussen hulle gesinne en die plaaslike gesinne ontwikkel het terwyl hulle vir aanbidding en vreugdevolle assosiasie bymekaargekom het.
“Ons is beïndruk deur die hartlike vriendelikheid wat in die bediening aan ons betoon is, asook die stille waardigheid van die mense”, sê Tom Cooke. “Om ’n klein aandeel aan die groei van die gemeente te hê, was ’n baie spesiale voorreg.”
Wanneer Tom gevra word hoe hy gevoel het oor sy besluit om te trek, antwoord hy: “Daar was nie ’n beter milieu waarin ons Jehovah as ’n jong gesin kon dien nie. Ons het die uitstekende voorbeeld gehad van broers en susters uit baie lande, die geselskap van liefdevolle en lojale plaaslike broers, groot diensvoorregte, vryheid van die invloed van televisie, asook blootstelling aan die wonders van Afrika. Dit was maar net ’n paar van die seëninge wat ons geniet het.”
Diegene wat gedien het waar hulp nodig was, het ook hulle diep waardering vir Christelike assosiasie getoon deur hulle bereidwilligheid om selfs na Kenia te reis om kringbyeenkomste by te woon. Dit het ’n reis van 750 kilometer per bus of per trein in een rigting behels!
Streekbyeenkomste het selfs groter moeite geverg. In 1961 het broers van Uganda en Kenia byvoorbeeld ’n streekbyeenkoms in Kitwe, Noord-Rhodesië (Zambië), bygewoon. “Dit het ’n vier dae lange reis behels van meer as 1 600 kilometer op party van die slegste paaie—gewoonlik grondpaaie—in Tanganjika (Tanzanië)”, vertel een van die byeenkomsgangers, “en dan nóg vier dae deur die snikhete en stowwerige grasvlaktes van Afrika om na Uganda terug te keer. Dit was ’n groot avontuur, en ons vreugdevolle assosiasie met soveel broers en susters was ’n groot seën.” Dit was ’n veeleisende onderneming wat ontsaglike inspanning geverg het, maar hoe geestelik verkwikkend was dit tog!
SENDELINGE DOEN ’N NOODSAAKLIKE WERK
In 1962 het Uganda onafhanklikheid van Brittanje verkry. Die volgende jaar het broer Henschel Nairobi, Kenia, besoek en die moontlikheid bespreek om sendelinge na Uganda te stuur. Wie sou soontoe gestuur word?
Tom en Bethel McLain, van die 37ste Gileadklas, het kort tevore in Nairobi aangekom om daar te dien. Hoe verbaas was hulle tog toe hulle na Kampala gestuur word! Maar hulle het die verandering gewillig aanvaar en die eerste Gileadopgeleide sendelinge in Uganda geword. “Aan die begin het ons Kenia gemis”, erken Tom, “maar ons het Uganda sommer gou baie geniet—die vriendelike mense en die gretige reaksie op die getuieniswerk.”
Tom en Bethel het in Kenia Swahili begin leer, maar nou moes hulle ’n nuwe taal leer—Luganda. Hulle het nie veel tot hulle beskikking gehad behalwe absolute vasberadenheid, vertroue op Jehovah en ’n boek waaruit hulle maar self die taal moes leer nie. Gedurende hulle eerste maand in Uganda het hulle 250 uur daaraan bestee om hulle nuwe taal te leer, en gedurende die tweede maand 150 uur. Dit was benewens die 100 uur wat hulle in die veldbediening deurgebring het. Hulle het hulle nuwe taal geleidelik bemeester en uitstekende resultate in hulle bediening gehad.
In Januarie 1964 het Gilbert en Joan Walters van die 38ste Gileadklas by Tom en Bethel aangesluit. Nog twee egpare van die 38ste klas, Stephen en Barbara Hardy asook Ron en Jenny Bicknell, het ’n toewysing in die nabygeleë Burundi ontvang, maar weens visumprobleme is hulle ook na Uganda gestuur. Kampala het sommer gou nog ’n sendinghuis nodig gehad.
Die gemeente in Kampala was onvergeetlik. Dit het broer Kadu en sy gesin ingesluit; asook John en Eunice Bwali, ’n spesialepionier-egpaar van Noord-Rhodesië, en hulle kinders; en ook Margaret Nyende en haar kinders. Die vergaderinge is gehou op ’n plek waar ons feitlik geen privaatheid gehad het nie. “Verbygangers kon ons sien en hoor, al was ons maar min”, vertel Gilbert Walters. “Wanneer die Koninkryksliedere gesing moes word, het die Bwali-gesin sonder begeleiding uit volle bors in harmonie begin sing—daar waar almal ons kon sien. Dit het ons die moed gegee om te volhard.”
Kort voor lank het Gilbert en Joan Walters die toewysing ontvang om ’n sendinghuis in Jinja te open, waar die predikingswerk nog nie voorheen op ’n georganiseerde wyse gedoen is nie. Later is nog twee sendinghuise geopen—een in Mbale, naby die grens met Kenia, en die ander in Mbarara. Die sendelinge in hierdie huise het saam met ’n aantal spesiale pioniers uit ander lande gewerk. Dit was duidelik dat die veld ‘wit was vir die oes’ (Joh. 4:35). Maar hoe kon die insameling bespoedig word?
BETER ORGANISASIE
Die voltydse knegte in Uganda het hulle uitgestrekte gebied so stelselmatig moontlik probeer dek. Gedurende die week het hulle in die woonbuurte gepreek, waar daar straatname en huisnommers was. Maar hoe kon hulle gebiede stelselmatig dek waar strate nie name en huise nie nommers gehad het nie?
“Ons het die gebied in heuwels verdeel”, verduidelik Tom McLain. “Twee van ons het om die een kant van die heuwel gegaan terwyl twee ander om die ander kant gegaan het. Ons het die paadjies gevolg en op en af teen die heuwel gewerk totdat ons vier weer bymekaar uitgekom het.”
Die buitelandse broers het gou begin baat vind by die toenemende aantal Ugandese Getuies wat die gebied geken het en die plaaslike kultuur verstaan het. En die plaaslike verkondigers het waardevolle ondervinding opgedoen deur saam met die buitelandse broers en susters te werk. In Jinja het Ugandese broers byvoorbeeld reeds saam met die sendelinge velddiens gedoen. Op Sondae het hulle begin deur soggens van agtuur tot tienuur huis-tot-huis-werk te doen. Daarna het hulle ’n uur lank herbesoeke gedoen en dan tot twaalfuur ’n Bybelstudie gehou. So het almal in die gemeente baat gevind by die vaardigheid en aanmoediging van die ander.
Jinja, wat destyds die tweede grootste stad in die land was, het die luukse van ’n hidroëlektriese kragstasie gehad en was dus ’n ideale plek vir nywerheidsontwikkeling. Die sendelinge het groot sukses behaal deur by besige taxistaanplekke en busstasies te getuig. Reisigers van verafgeleë plekke het gretig Bybellektuur geneem om op hulle reis te lees. Koninkryksaad is dus wyd en syd na die omliggende plattelandse gebiede versprei.
Die broers het ook radio-uitsendings gebruik om die goeie nuus aan soveel mense moontlik oor te dra. Hulle het ’n gereelde weeklikse tydgleuf op nasionale radio gekry wat “Dinge waaroor mense dink” genoem is. Die broers het gedagteprikkelende onderwerpe soos “Bied die krisis in die gesinslewe die hoof” en “Hoe om jou teen misdaad en geweld te beskerm” aangebied in die vorm van ’n dialoog tussen “mnr. Robbins” en “mnr. Lee”. Een van die broers vertel: “Dit was nogal snaaks om na die uitsending te luister en ’n gesprek tussen ’n Amerikaner en ’n Skot op ’n radiostasie in Afrika te hoor. Ons het dikwels in ons veldbediening terugvoering oor die program gekry, wat getoon het dat dit ’n nuttige doel gedien het.”
HULP VIR NUWER VERKONDIGERS
Die Jinja-groep het op daardie stadium hulle vergaderinge in die gemeenskapsentrum van die vernaamste woonbuurt, Walukuba, gehou. “Baie van die broers was nuut”, sê Tom Cooke, “en het min publikasies gehad waaruit hulle hulle vergaderingdele kon voorberei.” Wat kon gedoen word?
“Die sendelinge het ’n biblioteek ingerig in die huis van ’n broer wat in die middel van die woonbuurt gewoon het”, vertel Tom. “Dié met vergaderingdele het elke Maandagaand soontoe gegaan om die biblioteek te gebruik en hulp met hulle toesprake te kry.” Nou is daar etlike gemeentes in en om Jinja wat vind dat die geestelike visvangs nog steeds suksesvol is by hierdie hoofbron van die Nyl.
REISENDE OPSIENERS BEVORDER GEESTELIKE GROEI
In September 1963 het die predikingswerk in Uganda onder die toesig van die nuwe Kenia-takkantoor gekom, en William en Muriel Nisbet is toegewys om Uganda te besoek as deel van hulle kring, waarvan Nairobi die middelpunt was. Interessant genoeg, William het in die voetspore gevolg van sy ouer broers, Robert en George, wat sowat 30 jaar vroeër baanbrekers in die predikingswerk in Uganda was. Die verkondigers het nou baat gevind by die harde werk van ’n “tweede skof” Nisbets.
Belangstelling het toegeneem, meer groepe is gestig en die verkondigers was oor ’n uitgestrekte gebied versprei. Gereelde besoeke van reisende opsieners het dus ’n noodsaaklike rol daarin gespeel om opleiding en aanmoediging te voorsien en om afgesonderde broers en susters te verseker dat “die oë van Jehovah . . . op die regverdiges” is.—1 Pet. 3:12.
In 1965 het Stephen en Barbara Hardy gemeentes besoek in ’n kring wat gestrek het van Uganda tot die Seychelle-eilande, wat 2 600 kilometer daarvandaan in die Indiese Oseaan geleë is. Eenkeer het hulle ’n “verkenningstog” deur Uganda onderneem om vas te stel waar pioniers moontlik die beste resultate sou hê. Met ’n Volkswagen Kombi wat vir vervoer en verblyf deur die Kenia-takkantoor aan hulle geleen is, het hulle in net ses weke deur die grootste deel van Uganda gereis en die dorpe Masaka, Mbarara, Kabale, Masindi, Hoima, Fort Portal, Arua, Gulu, Lira en Soroti besoek.
“Die reis was opwindend”, sê broer Hardy, “en die predikingswerk was ’n genot. Almal, insluitende die plaaslike owerhede, was behulpsaam en vriendelik. Wanneer ons ’n huis besoek het om met die huisbewoner te gesels, het die besoek dikwels in ’n ‘openbare toespraak’ verander namate bure en verbygangers nader gestaan het om na ons boodskap te luister. Selfs wanneer ons stilgehou het by wat ons gedink het ’n afgesonderde plek is, het mense met glimlagte ons kort voor lank begin nader omdat hulle gevoel het dat ons hulle besoekers is. Die lektuurvoorraad het vinnig verminder. Ons het sowat 500 boeke by mense gelaat en baie intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! gekry.”
Die Ugandese mense se vriendelikheid, nuuskierigheid en belangstelling in geestelike dinge was ’n aanduiding dat daar groot potensiaal was vir geestelike groei. Bowenal was die Hardys verheug om Jehovah se seën op die predikingswerk in hierdie vrugbare veld te sien.
JEHOVAH LAAT DIT GROEI
’n Mylpaal in die geskiedenis van Jehovah se volk in Uganda is op 12 Augustus 1965 bereik toe die Internasionale Bybelstudente-vereniging geregistreer is, wat wetlike erkenning aan ons dissipelmaakwerk verleen het. Opregte Ugandese—soos George Mayende, Peter en Esther Gyabi en Ida Ssali—het gedurende die 1960’s ’n klein maar sterk groepie standvastige Getuies uitgemaak. Teen 1969 het Uganda 75 verkondigers onder ’n bevolking van sowat agtmiljoen gerapporteer, ’n verhouding van meer as honderdduisend mense vir elke Getuie. Teen 1970 het die aantal Koninkryksverkondigers tot 97 toegeneem, en toe tot 128 in 1971. Teen 1972 was daar 162 bedrywige Getuies van Jehovah in Uganda.
Hoewel die groei aanmoedigend was, het die broers geweet dat hulle sterkte nie in hulle toenemende getalle lê nie, maar in “God wat dit laat groei” (1 Kor. 3:7). Wat hulle nie geweet het nie, is dat die 1970’s dramatiese veranderinge in hulle lewens en swaar toetse van geloof sou meebring. Generaal Idi Amin se militêre staatsgreep in 1971 is gevolg deur ’n diktatorskap wat die lewens van miljoene ontwrig het en derduisende sterftes tot gevolg gehad het. Daar was al hoe meer skermutselinge tussen die regering en faksies wat teen die nuwe politieke stelsel gekant was. Grense met buurlande is van tyd tot tyd gesluit. ’n Aandklokreël is ingestel. Mense het begin verdwyn. Ander is dopgehou. Hoe sou ons vredeliewende broers en susters in Uganda reageer op hierdie ontwrigting, intimidasie en geweld?
“GODDELIKE HEERSKAPPY” OF DIÉ VAN DIE MENS?
Die broers was juis op dié stadium besig om reëlings te tref om die “Goddelike Heerskappy”-streekbyeenkoms in 1972 in Kampala te hou, die eerste byeenkoms van hierdie aard in Uganda. Byeenkomsgangers sou van Kenia, Tanzanië en vergeleë Etiopië kom. Hoe sou hulle die broeiende spanning, toenemende politieke en stambotsings en uiters moeilike oorgang by die grens die hoof bied? Moes die streekbyeenkoms gekanselleer word? Die broers het die byeenkoms ’n saak van vurige gebed gemaak en Jehovah se leiding gevra in verband met die byeenkomsreëlings en die byeenkomsgangers wat sou reis.
Later het die situasie nog onheilspellender gelyk toe byeenkomsgangers by die grens aankom en groot groepe mense uit die land sien vlug! Die meeste het gevlug weens ’n staatsbevel wat alle Asiate wat nie burgers was nie—hoofsaaklik Indiërs en Pakistani’s—verban het. Baie, soos buitelandse onderwysers, het padgegee omdat hulle bang was dat die bevel niks goeds vir ander etniese groepe voorspel het nie. Die byeenkomsgangers het nogtans bly kom. Wat sou hulle vind in ’n stad waar daar soveel politieke spanning was?
Verbasend genoeg was Kampala baie kalm, en die broers en belangstellendes het vreugdevol by die byeenkomsterrein gewag vir hulle gaste om op te daag. Hulle was ook verbaas om te vind dat die owerheid toestemming gegee het dat ’n enorme banier wat die datum en plek van die byeenkoms geadverteer het, oor Kampala se besigste straat gespan kon word. Daar, in hierdie tyd van ongekende beroering, was die titel van die openbare toespraak in vetdruk: “Goddelike Heerskappy—Die enigste hoop vir die hele mensdom”!
Die program is suksesvol en sonder enige steurnis aangebied, met ’n bywoningshoogtepunt van 937—’n belangrike mylpaal in die geskiedenis van rein aanbidding in Uganda. Hoewel die terugkeer van buitelandse byeenkomsgangers later by die grense bemoeilik is, is hulle entoesiasme nie gedemp nie, en almal het veilig by die huis gekom. Te midde van toenemende politieke onsekerheid het Jehovah se volk hulle trou aan hulle Soewereine Heerser moedig bekend gemaak. En op hierdie kritieke tyd het God sy volk ‘vrymoedig gemaak met krag’.—Ps. 138:3.
George en Gertrude Ochola was onder die Ugandese wat die byeenkoms bygewoon het. “Dit was my heel eerste byeenkoms”, vertel Gertrude, “en die een waar ek gedoop is!” George was egter nog nie ’n Getuie nie. Hy was ’n groot sokkergeesdriftige en het meer belanggestel in die stadion as ’n sportfasiliteit. Nietemin het sy vrou se goeie gedrag en sy eie studie van die Bybel hom uiteindelik beweeg om in 1975 in Kenia sy toewyding deur middel van waterdoop te simboliseer.
Gertrude vertel dat sy een van die eerste mense in die noorde van Uganda was wat die waarheid geleer het. “Toe ek in 1972 gedoop is”, sê sy terwyl sy terugdink, “het ek gedink dat ons gebied baie afgeleë is. Nou is hier ’n Koninkryksaal sowel as ’n sendinghuis en ’n vertaalkantoor. Dit maak my selfs meer opgewonde as wat my doop my gemaak het!”
“MOEILIKE TYE”
Op 8 Junie 1973 is daar sonder enige waarskuwing oor die radio en televisie aangekondig dat 12 godsdiensgroepe, insluitende Jehovah se Getuies, verbied is. Die nuwe regering het ’n atmosfeer van vrees en agterdog onder die publiek geskep deur buitelanders valslik as spioene uit te beeld. Dit het al moeiliker geraak vir sendelinge om aan die openbare bediening deel te neem. Uiters “moeilike tye” het vir Jehovah se Getuies in Uganda voorgelê (2 Tim. 4:2). Wat sou met hulle gebeur?
Twee sendelingegpare het reeds daardie jaar die land verlaat omdat hulle aansoeke om hulle verblyfpermitte te laat hernieu, afgekeur is. Teen die middel van Julie is die oorblywende 12 sendelinge almal uit die land gesit. Buitelandse broers wat kom dien het waar hulp nodig is, kon ’n bietjie langer bly danksy hulle sekulêre werk, maar hulle vryheid was van korte duur. Teen die volgende jaar moes hulle almal die land verlaat.
‘STANDVASTIG EN ONBEWEEGLIK’
Die Ugandese verkondigers was natuurlik hartseer dat hulle dierbare buitelandse broers en susters die land moes verlaat. Maar met Jehovah se krag was hulle ‘standvastig en onbeweeglik’ (1 Kor. 15:58). Hulle lojale gees word goed toegelig deur die onmiddellike reaksie van ’n bejaarde broer, Ernest Wamala, toe hy gehoor het dat Jehovah se Getuies verbied is. Hy het gevra: “Hoe kan hulle verbied wat in my hart is?”
Hoe sou Ugandese ouer manne, soos George Kadu en Peter Gyabi, die mas opkom, aangesien al die buitelandse ouer manne weg was? Hulle diep geestelikheid en begrip van die plaaslike kultuur was ’n seën. “As iemand in Uganda in die waarheid wil kom en Jehovah wil dien”, verduidelik broer Gyabi, “verg dit groot selfdissipline om gebruike te laat vaar wat in stryd is met Jehovah se standaarde. Selfdissipline was veral noodsaaklik vir verantwoordelike broers wat net op geskrewe instruksies van Jehovah se organisasie moes staatmaak.” Die pligsgetroue persoonlike studie van die plaaslike ouer manne het hulle gehelp om nie deur foutiewe menslike wysheid mislei te word nie. Gevolglik was hierdie moeilike tydperk nie vir Jehovah se volk ’n terugslag nie, maar eerder ’n tyd van geestelike vooruitgang.
Daarenteen het die bevolking oor die algemeen al hoe onveiliger gevoel. Baie mense is aangerand, en party het in vrees vir die soldate gelewe. Korrupsie het hoogty gevier, en dit het tot die ineenstorting van die ekonomie gelei. ’n Pragtige land is pynlike wonde toegedien. Sou Jehovah se getroue knegte in Uganda gedurende hierdie tyd van beproewing steeds redes vir vreugde vind?
VREUGDEVOLLE SAMEKOMSTE
Die regering het alles in sy vermoë gedoen om te keer dat enige politieke vergaderinge gehou word wat skynbaar hulle regime bedreig. Jehovah se Getuies het streng neutraal gebly en het ook die Bybel se vermaning gerespekteer om nie hulle onderlinge vergadering om mekaar aan te moedig, na te laat nie (Heb. 10:24, 25). Dit het baie moed en vindingrykheid geverg om aan te hou vergader ondanks die feit dat hulle deur agterdogtige regeringsinstansies dopgehou is. Hoe kon God se knegte seker maak dat hulle onskuldige vergaderinge nie aandag trek nie?
Eers het hulle die meeste vergaderinge in kleiner groepe in huise georganiseer. Wanneer hulle in groter groepe bymekaargekom het, het hulle gemaak asof hulle ’n piekniek hou. Die hele gemeente het byvoorbeeld een keer per maand vir ’n toespraak en die Wagtoring-studie bymekaargekom. Die broers het ’n piekniek gereël in ’n openbare park of in iemand se tuin. Hierdie plan het goed gewerk onder die gesellige Ugandese, wat dit as niks vreemds beskou het as ’n groep vriende of familielede saamkom en ’n aangename tyd geniet nie. Die broers het nie net hulle Bybels en studieboeke ongemerk saamgeneem nie, maar het gekonfyt daarin geraak om alles saam te dra wat nodig is vir ’n volwaardige piekniek en braaivleis! Sulke vergaderinge het hulle laat dink aan hoe die eertydse Israeliete hulle godsdiensfeeste moes geniet het.—Deut. 16:15.
Gedurende die verbod is verkorte kringbyeenkomste op dieselfde manier gehou. Ondanks regeringspogings om hulle te verhinder, het die broers nooit opgehou om vergaderinge te hou of die goeie nuus te verkondig nie. Sommige broers kon selfs streekbyeenkomste in Nairobi bywoon en kon ander by hulle terugkeer van hulle hartverblydende ondervindinge vertel.
“VERSIGTIG SOOS SLANGE EN TOG ONSKULDIG SOOS DUIWE”
Verantwoordelike broers het rede gehad om te glo dat die verbod moontlik nie streng toegepas sou word nie en teokratiese bedrywighede voortgesit sou kon word as hulle “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” is (Matt. 10:16). Gevolglik het spesiale pioniers in hulle toewysings gebly en het die verkondigers die huis-tot-huis-bediening voortgesit, terwyl hulle almal die nodige versigtigheid aan die dag gelê het.
Party was natuurlik nie bly om Jehovah se Getuies by hulle deur te sien nie. Op ’n dag in die middel-70’s het Peter Gyabi saam met die tienderjarige Fred Nyende velddiens gedoen. Fred was ’n baba toe sy ma die waarheid in 1962 geleer het. Hy het sedertdien grootgeword, en sy geestelike volwassenheid sou weldra getoets word.
’n Woedende huisbewoner—blykbaar ’n veiligheidsbeampte in gewone klere—het die broers as Jehovah se Getuies herken. Hy het hulle in hegtenis geneem en hulle gedwing om in sy voertuig te klim. Hulle was natuurlik angstig, want duisende mense wat so in hegtenis geneem is, het eenvoudig verdwyn. Marteling was ook algemeen, of daar nou ’n sogenaamde rede was of nie. Op pad na die veiligheidsburo het Peter en Fred tyd gehad om tot Jehovah te bid vir krag om kalm en getrou te bly. Die man het hulle na sy bevelvoerder toe geneem, waar hy aantygings gemaak en hulle met vrae bestook het. Peter en Fred het egter eerstehands gesien hoe waar die woorde van Spreuke 25:15 is: “Deur geduld word ’n aanvoerder oorgehaal, en ’n sagte tong kan die gebeente breek.” Gelukkig is geen letterlike bene daardie middag gebreek nie. Peter se kalm verduideliking van ons wetsgehoorsame standpunt en ons gehoorsaamheid aan Bybelleringe, asook die broers se respekvolle houding en antwoorde, het die bevelvoerder se vooroordeel uit die weg geruim. Wat was die gevolg?
Die bevelvoerder het nie net vir Peter en die jong Fred vrygelaat nie, maar het ook die man wat hulle in hegtenis geneem het, beveel om hulle per motor terug te neem na die gebied! Hulle vernederde “begeleier” het dit teësinnig gedoen, en die broers het Jehovah gedank vir hulle ontkoming.
Ander voorvalle met die polisie was minder stresvol. Emmanuel Kyamiza en sy vrou het byvoorbeeld in die geheim vergaderinge vir hulle gesin en ’n groepie belangstellendes in hulle huis in Entebbe gehou. In ’n poging om nie dieselfde patroon van bedrywighede te volg nie, het Emmanuel die plek waar hy Bybelstudies gehou het, heeltyd verander. Ná ’n ruk het Emmanuel aangeneem dat sy metodes om die polisie te ontwyk, goed werk. Eendag, nadat Emmanuel ’n Bybelstudie in Entebbe se Botaniese Tuin afgesluit het, het ’n polisieman na hom toe aangestap gekom, terwyl hy sy studiemateriaal gou probeer wegsteek het. “Waarom steek jy jou boeke weg?” het die polisieman gevra. “Ons weet wat julle doen. Ons weet dat julle Jehovah se Getuies is. Ons weet selfs waar julle vergader. As ons wou, sou ons julle lankal in hegtenis geneem het. Maar julle kan maar voortgaan soos julle tot nou toe gedoen het.” En Emmanuel hét voortgegaan—met groot getrouheid!
Later, toe Emmanuel afgetree en na sy familiedorpie teruggekeer het, het hy baie teenstand en bespotting verduur. Soos Jesus was hy ‘ongeëerd in sy tuisgebied’ (Mark. 6:4). Maar Emmanuel, wat diep in sy sewentigerjare was, het “in die grysheid bly floreer”, en hy het gereeld 30 kilometer op sy fiets na die vergaderinge en terug gery (Ps. 92:14). Hy is vandag in sy laat tagtigerjare en dien nog steeds getrou as ’n bedieningskneg, hoewel hy nie meer so dikwels fietsry as wat hy wil nie.
PIONIERS MET VOLHARDING
Ondanks die voortdurende onsekerheid was daar altyd ’n paar wat ’n manier gevind het om aan die pionierdiens deel te neem. Een van die ywerige pioniers gedurende hierdie tyd was James Luwerekera, ’n staatslandmeter wat in 1974 gedoop is. Kort ná sy doop het hy begin boer sodat hy die goeie nuus aan die mense in die omgewing van sy tuisdorpie kon verkondig. Sy vrou het ook ’n ruk lank gestudeer, maar met verloop van tyd het sy James al hoe meer teëgestaan.
James en ’n paar broers het byvoorbeeld een oggend, terwyl dit nog donker was, vertrek om ’n streekbyeenkoms in Nairobi by te woon. Toe hulle voertuig later by ’n polisiekontrolepunt voorgekeer is, het die broers iets vreemds omtrent James se klere opgemerk—dit het nie bymekaar gepas of goed gesit nie, iets ongewoons vir James. Hy het aanvanklik ’n grap gemaak en gesê dat hy vinnig in die donker aangetrek het. Maar toe sy vriende by hom aandring om ’n verduideliking, het hy erken dat sy vrou sy vergaderingklere weggesteek het sodat hy nie die byeenkoms kon bywoon nie. Hy moes dus maar enige klere aantrek wat hy in die hande kon kry. James se reisgenote was so gaaf om vir hom van hulle klere te gee, en hy het netjies geklee by die byeenkoms aangekom.
Soms was die teenstand in James se huis en gemeenskap maar net lastig. Ander tye was dit hewiger. Maar dit het jare lank voortgeduur. Deur alles heen het James tot sy dood in 2005 met sagmoedigheid volhard en ’n rekord van getrouheid opgebou. Sy geloof word nog steeds deur die broers bewonder en ongetwyfeld deur sy God, Jehovah, onthou.
“’N BROER WAT GEBORE WORD VIR DIE TYD WANNEER DAAR BENOUDHEID IS”
“’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spr. 17:17). Die broers in Kenia was ware metgeselle gedurende die tyd van benoudheid en gevaar wat die Ugandese Getuies in die 1970’s deurgemaak het. Reisende opsieners en verteenwoordigers van die takkantoor moes moed aan die dag lê om oor die grens na Uganda te gaan om ondersteuning en aanmoediging aan hulle dierbare broers en susters te voorsien.
Politieke chaos het in 1978 uitgebreek toe ’n faksie van Uganda se leër Tanzaniese gebied binnegeval het. Tanzanië se leër het hierop gereageer deur die Ugandese regering in April 1979 omver te werp, wat Uganda se gevreesde diktator, Idi Amin, gedwing het om te vlug. Amin se haastige vertrek het baie veranderinge in Uganda meegebring. “Toe Amin weg is”, sê een broer, “is die verbod opgehef.” Die Uganda Times het aangekondig: “Sendelinge is vry om terug te keer.” Jehovah se volk het weer eens godsdiensvryheid geniet!
“AL WIL HULLE MY OOK DOODMAAK, SAL EK GAAN”
In die verwarring wat op die regeringsverandering gevolg het, is Uganda net soveel geplunder as wat dit bevry is. ’n Klimaat van anargie het tot diefstal en ongekende geweld gelei. Die broers in Kenia se takkantoor het nietemin onmiddellik gereël dat Günter Reschke en Stanley Makumba Uganda besoek en kringbyeenkomste begin hou.
“Twee weke voordat ons op hierdie naoorlogse besoek gegaan het”, vertel Günter, “het ons ’n pionierskool in Meru, naby die berg Kenia, gehou. Ek onthou dat ek in die koerant gelees het van al die mense wat in Kampala doodgemaak word, veral snags. Nadat ek ’n gedeelte hardop gelees het, het ek uitgeroep: ‘En dis die plek wat ons volgende week moet besoek!’ Maar toe het ek gedink: ‘Wil ek soos Jona wees en van my toewysing af weghardloop?’ My vrees het dadelik verdwyn, en ek het vir myself gesê: ‘Al wil hulle my ook doodmaak, sal ek gaan. Ek sal nie weghardloop soos Jona nie.’”
Die broers het gegaan soos beplan is, en Stanley het die gemeentes in die binneland besoek terwyl Günter die groter dorpe bedien het. “Baie dinge moes ná die oorlog herorganiseer word”, het hulle vertel. “Daar was op dié tydstip net omtrent 113 bedrywige verkondigers in Uganda. Almal was bly dat hulle weer vryelik kon vergader en ’n byeenkoms openlik kon hou, en dit was ’n vreugde om 241 by die byeenkoms te sien.” Hoewel die saadjies van waarheid erg vertrap was, was dit duidelik dat hulle nog vrug kon dra.
GEVAARLIKE TYE
In Mbale, naby Uganda se oostelike grens, het die twee besoekende broers, Günter en Stanley, hulle motor vir die nag voor hulle gasheer se huis geparkeer. Gedurende die nag het hulle gehoor hoe diewe dele van die voertuig verwyder. Günter was op die punt om op die diewe te skreeu, toe hy onthou dat boewe vroeër die week iemand doodgeskiet het wat ’n inbraak probeer keer het. Ná verdere oorweging het Günter tot die slotsom gekom dat die waarde van die motor nie vergelyk kan word met dié van ’n lewe nie en besluit om liewer niks te doen nie. Die volgende oggend het hulle gevind dat twee wiele en die voorruit gesteel is. Hulle het die diefstal by die polisie aangemeld, wat hulle aangeraai het: “Vat die motor weg voordat die diewe terugkom om nog goed te steel!”
Die broers het so gou moontlik na Kampala vertrek. Maar sonder ’n voorruit en met net ’n kombers om Günter te bedek en ’n hoed om Stanley te beskut, was die nat en winderige reis van 250 kilometer na Kampala allesbehalwe aangenaam. Hulle het een van die gesteelde wiele met die noodwiel vervang en ’n band wat lek, geleen om die ander een te vervang. Toe hulle hoor dat hulle die geleende band binne twee dae moet terugbesorg, het dit hulle net nog angstiger gemaak! Die broers het hulle asem opgehou en gehoop dat hulle nie ’n pap wiel sou kry nie.
Om dinge nog verder te kompliseer, moes Günter en Stanley ’n ent op ’n bospad ry wat bekend was vir rowers. “Ry vinnig”, was hulle gasheer se raad, “en moenie dat enigiemand julle verbysteek nie.” Die onverskrokke broers was verlig toe hulle veilig in Kampala aangekom het—en dit in rekordtyd. Trouens, hulle het net genoeg tyd gehad om iemand te vind om die geleende band terug te neem na Mbale.
NUWE UITDAGINGS EN GELEENTHEDE
Terwyl broer Reschke in 1980 die hoofkwartier in Brooklyn, New York, besoek het, is hy genooi om ’n verslag oor die verwikkelinge in Uganda aan die Bethelgesin te gee. Agterna het lede van die Bestuursliggaam die hoop uitgespreek dat sendelinge weer eens na Uganda gestuur sou kon word. Almal was dit eens dat die tyd beslis ryp is vir verdere sendingwerk. Groter samekomste was weer moontlik, en teen 1981 was daar al klaar weer 175 verkondigers in Uganda. Trouens, teen Julie daardie jaar was Uganda verheug toe ’n nuwe hoogtepunt van 206 verkondigers bereik is.
Maar ongelukkig het die gevegte gedurende die vorige tien jaar verouderde wapens en ammunisie in die hande van talle gewetenlose mense laat beland. Blindelingse skietery en roofaanvalle was verontrustend algemeen. Met omsigtigheid het verkondigers van die goeie nuus ons vertroostende Bybellektuur oral in die gebied by mense probeer laat, en hulle het gedurende Julie gemiddeld 12,5 tydskrifte per verkondiger versprei. Maar veiligheidshalwe moes velddiens, net soos ander bedrywighede, net in die dag gedoen word, want ná donker was die gevaar van ’n aanval baie groter. Maar ondanks die gevare was dit duidelik dat daar potensiaal vir groei was.
SENDELINGE WORD WEER VERWELKOM
Gileadgegradueerdes Jeffrey Welch en Ari Palviainen het in September 1982 van Kenia af in Kampala aangekom. Van die begin af het Jeff en Ari, soos die twee broers genoem is, bemoedigende resultate behaal. “Mense het destyds na geestelike dinge gehonger”, vertel Jeff, “gevolglik het die tydskrifte met hulle interessante onderwerpe as ’t ware hulleself versprei.”
In Desember het Heinz en Marianne Wertholz van die Gileaduitbreidingskool in Wiesbaden, Duitsland, by Jeff en Ari aangesluit. Die Wertholze was uit die staanspoor diep beïndruk deur die manier waarop hulle Ugandese broers gefloreer het in Uganda se ontwrigte en gevaarlike gemeenskappe.
“Baie dienste”, vertel Heinz, “soos watervoorsiening en kommunikasie, het feitlik nie meer bestaan nie. Die politieke situasie het gespanne gebly. Gerugte van ’n staatsgreep het meer as een keer die ronde gedoen, en daar was baie militêre padblokkades. Skietery en rowery was algemeen, veral snags. Ná donker was daar niemand op straat nie. Almal het tuis gebly en gehoop—en dikwels gebid—dat die nag sonder ongenooide gaste sou verbygaan.”
Heinz en Marianne is genooi om by Sam Waiswa en sy gesin te bly terwyl hulle ’n huis gesoek het wat as ’n sendinghuis kon dien. Hoewel Sam ’n opvoedkundige was, het die ekonomiese toestande in die land sy middele ernstig beperk, wat sy gesin se gasvryheid werklik merkwaardig gemaak het.
“Dit was moeilik om ’n huis in ’n veilige gebied te vind”, sê Heinz, “en daarom het ons altesaam vyf maande in Sam se huis gebly. Gedurende dié tyd het ons mekaar baie goed leer ken. Soms het sy groot gesin net een ete per dag gehad, maar hulle was altyd vreugdevol; en die kinders was gehoorsaam en eerbiedig. Omdat die stad se watervoorsiening nie behoorlik gewerk het nie, moes die kinders 20-literplastiekkanne vol water op hulle kop huis toe dra. Wanneer ons van velddiens af teruggekom het, was daar altyd vars water vir ons. Ons het natuurlik geleer om spaarsamig te werk te gaan. Ons het byvoorbeeld net ’n paar liter water gebruik om mee te was en het die afspoelwater in ’n kom gehou om die toilet mee te spoel.”
In April 1983, sowat tien jaar nadat die vroeëre sendelinge gedwing is om Uganda te verlaat, het die vier nuwe sendelinge ’n huis in ’n redelik veilige gebied gevind. Die algemene onveiligheid en die skaarste aan lewensmiddele het baie uitdagings gebied, maar die liefde van die plaaslike broers het dubbel en dwars vir hierdie ongerief vergoed.
“Ons het dit altyd geniet om die mense van die goeie nuus te vertel”, verduidelik Marianne. “Hulle was godsdienstig, die meeste het ’n Bybel gehad en hulle was bereid om ’n gesprek te hê. Dit was maklik om ’n gesprek met hulle te begin, en hulle was goedgemanierd. En ondanks die ekonomiese en ander ontberinge het hulle altyd breed geglimlag.”
BEJAARDES WIL MEER DOEN
Talle bejaardes, wat groot agting in die Ugandese kultuur geniet, het aan die goeie nuus gehoor gegee en dien Jehovah op hulle oudag. Byvoorbeeld, Paulo Mukasa, ’n voormalige onderwyser, was 89 jaar oud toe hy die waarheid geleer het. Aangesien hy twee wêreldoorloë, ’n koloniale bewind, ’n gewelddadige diktatorskap en ander politieke beroeringe beleef het, was Paulo gretig om van God se Koninkryk te leer. Hy was verheug toe hy uitvind dat die Messiaanse Koning, Jesus Christus, ‘die arme en die geteisterde van onderdrukking en van geweld sal verlos’.—Ps. 72:12, 14.
Toe Paulo twee jaar later aan die vereistes vir doop voldoen het, het die broers gewonder: ‘Kan ons werklik iemand wat so oud is, onder die water dompel?’ Maar hulle was verniet bekommerd. Terwyl ’n angstige jong kandidaat gehuiwer het om in die water in te gaan, is die 91-jarige Paulo gedoop, en hy het van oor tot oor geglimlag toe hy uit die water opkom. Hoewel Paulo ietwat beperk was in wat hy in die bediening kon doen, het hy tot sy dood ’n aantal jare later die goeie nuus van die Koninkryk ywerig bekend gemaak aan almal wat hom besoek het.
Lovinca Nakayima was nog iemand wat nie net met bejaardheid te kampe gehad het nie, maar ook met swak gesondheid. Weens siekte het haar bene so geswel dat sy nêrens kon gaan sonder hulp nie. Maar toe die gemeente aangespoor is om een maand gedurende die Gedenkmaalseisoen hulppionierdiens te doen, wou Lovinca nietemin probeer. Die gemeente het Lovinca gehelp om te pionier deur belangstellendes na haar huis te neem om die Bybel te studeer. Die sendelinge het haar ook geleer hoe om briewe aan mense in die dorpies te skryf, iets wat sy kon doen wanneer dit vir haar geleë was. En op Saterdae het ’n ouer man Lovinca na ’n besige openbare plek in Kampala geneem, waar sy gemaklik op ’n lae muurtjie kon sit en heeldag vir verbygangers kon getuig. Aan die einde van die maand was Lovinca gelukkig en tevrede en het sy gesê: “Nou sien ek dat ek dit kan doen—en dit kan geniet!” Sy het nie net daardie maand hulppionierdiens gedoen nie, maar met die liefdevolle ondersteuning van die gemeente het sy dit 11 opeenvolgende maande gedoen!
“HOE SÊ JY . . . ?”
Gedurende die 1980’s het die hardwerkende verkondigers in Uganda ’n bestendige stroom gretige sendelinge hartlik verwelkom. Party was nuwe Gileadgegradueerdes, en ander moes noodgedwonge sendingtoewysings in Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) verlaat. Die toename in sendelinge in Kampala en Jinja het dit moontlik gemaak om hierdie dig bevolkte gebiede deegliker te dek, en die sendelinge was verheug om te vind dat die Ugandese veld ryp was vir die oes. Die uitdaging was eintlik nie net om belangstelling te vind nie, maar om dit verder te ontwikkel.
Ná sy maande van Gileadopleiding was Mats Holmkvist vol geesdrif en gretig om die plaaslike taal te bemeester sodat hy mense se belangstelling in die waarheid verder kon ontwikkel. Teen hierdie tyd was Fred Nyende ’n spesiale pionier in Entebbe, en sy vertaal- en tolkvaardighede is goed benut om die nuwe sendelinge verstaanbare Luganda, ’n taal vol potensiële tongknopers, te leer praat. Om die waarheid te sê, vir Mats was die uitdaging om sy nuwe taal te leer, nogal oorweldigend.
“Hoe sê jy ‘God se Koninkryk’ in Luganda?” het Mats gedurende een van sy eerste taallesse gevra.
“Obwakabaka bwa Katonda”, was Fred se ritmiese antwoord.
‘Dit klink onmoontlik’, het Mats gedink, jammer dat hy eens die vraag gevra het. Mats het nietemin merkwaardige vordering gemaak en Luganda goed leer praat.
DIE INSAMELING VORDER
Ondanks die probleme wat Ugandese gedurende die grootste deel van die 1980’s geteister het, was die reaksie op Bybelwaarheid uitsonderlik. Die aantal verkondigers het met meer as 130 persent opgeskiet—van 328 in 1986 tot 766 in 1990. Nuwe groepe is oral in die land gevorm. In Kampala het die aantal gemeentes verdubbel. Die gemeente in Jinja was verheug om te sien dat die aantal verkondigers meer as verdriedubbel het, terwyl die groep in Iganga gou ’n volwaardige gemeente geword het.
“Die gemeente het so vinnig gegroei”, vertel ’n ouer man in Jinja, “dat ons gewonder het waar al die nuwe verkondigers vandaan kom. Ons moes ’n ruk lank byna elke Sondag tyd maak om te vergader met dié wat ongedoopte verkondigers wou word.”
UITBREIDING VAN DIE OESWERK
Een van die faktore wat tot die merkwaardige groei bygedra het, was die uitstekende pioniergees van die broers. Net soos die eerste-eeuse verkondigers Paulus, Silas en Timoteus, het voltydse dienaars in Uganda vir ander ‘’n voorbeeld gestel om na te volg’ (2 Tess. 3:9). Die toenemende behoefte in die veld en hierdie goeie voorbeelde het talle ywerige verkondigers beweeg om hulle bediening uit te brei. Jonk en oud, getroud en ongetroud, mans en vroue, en selfs party met gesinne om te onderhou, het by die hardwerkende pioniers aangesluit. Gedurende die laat 1980’s het gemiddeld meer as 25 persent van alle verkondigers aan die een of ander vorm van pionierdiens deelgeneem. Party is vandag nog in die voltydse diens.
Die pioniers het spesiale jaarlikse predikingsveldtogte, wat ook Masedoniese veldtogte genoem is, geredelik ondersteun (Hand. 16:9, 10). Hierdie veldtogte is deur die jare heen voortgesit. Gemeentes preek tot drie maande lank in ontoegekende gebied of in gebied wat selde gedek word. Daarbenewens word party gewone pioniers as tydelike spesiale pioniers aangestel in gebiede waar hulp nodig is. Die resultate is baie bemoedigend. Talle opregte mense het waardering uitgespreek vir hierdie predikingsveldtogte, wat hulle met die waarheid in aanraking laat kom het, en baie nuwe groepe en gemeentes is gestig.
Gedurende een so ’n veldtog het die sendelinge Peter Abramow en Michael Reiss in die dorp Kabale gepreek en Margaret Tofayo ontmoet, wat voorheen die Bybel gestudeer het. Sy was oortuig dat wat sy geleer is, die waarheid is, en sy het reeds informeel met ander oor haar opvattings gepraat. Om haar al die hulp te gee wat hulle kon, het die sendelinge vir haar hulle enigste eksemplaar van Redenering uit die Skrif gegee. Toe die broers Margaret die laaste keer voor hulle vertrek besoek het, het sy hulle verras met ’n ete wat sy spesiaal vir hulle voorberei het. Hulle is oorweldig deur haar goedhartigheid en vrygewigheid, maar dit het hulle ongemaklik laat voel omdat hulle besef het dat sy haar enigste hoender gaargemaak het. Hulle het geweet dat sy die eiers wat hierdie hoender gelê het, gebruik het om haar gesin se karige kosvoorraad aan te vul. “Moenie bekommerd wees nie”, het sy gesê, “gedurende julle besoek het julle vir my baie meer gegee as wat ek vir julle met hierdie ete gee.” Sy is uiteindelik gedoop en was tot haar dood ’n ywerige verkondiger.
Die vinnige groei kan ook toegeskryf word aan die manier waarop die broers die uitstekende publikasies gebruik het. “Hoewel ons ons vaardigheid as onderrigters probeer verbeter”, sê Mats, wat vroeër genoem is, “is dit die Bybel en die publikasies wat ’n indruk op mense maak en hulle beweeg om veranderinge in hulle lewe aan te bring. Ons praktiese brosjures kan selfs die harte raak van diegene wat nie goed kan lees nie, maar wat na die waarheid dors.”
STRUIKELBLOKKE
Die opwindende vooruitgang gedurende die laat 1980’s was egter nie sonder uitdagings nie. In ’n staatsgreep in Julie 1985 het die leër weer die bewind oorgeneem. Soos tevore het toestande onveilig geword, en die guerrillaoorlog het verhewig. Vlugtende soldate het amok gemaak en eiendom geplunder en mense blindelings geskiet. Die gevegte het ’n ruk lank gewoed in die omgewing waar die sendelinge in Jinja gewoon het. Eendag het soldate by hulle huis ingestorm om dit te plunder, maar toe die indringers uitvind wie die sendelinge is, het hulle niks vernietig nie en baie min gevat. Toe, in Januarie 1986, het daar weer eens ’n ander regime aan bewind gekom, wat ’n poging aangewend het om ’n mate van stabiliteit in die land te herstel.
Die nuwe regering het weldra te kampe gehad met ’n nuwe en verwoestende vyand—vigs. Toe die pandemie gedurende die 1980’s uitgebreek het, was Uganda een van die nasies wat die swaarste getref is. Na raming is ’n miljoen mense daaraan dood, moontlik meer as dié wat gedurende 15 jaar van politieke beroering en burgeroorlog doodgemaak is. Hoe het die siekte ons broers geraak?
“Party nuwe broers en susters het met groot ywer en energie in die waarheid ingekom”, verduidelik Washington Ssentongo, ’n gewone pionier, “maar is dan deur vigs verteer. Hulle is met MIV besmet voordat hulle die waarheid geleer het.” Ander is deur ongelowige huweliksmaats besmet.
“Soms het dit gelyk of skaars ’n maand verbygegaan het waarin ons nie gehoor het van die begrafnis van iemand wat ons geken en liefgehad het nie”, sê Washington, “en almal het gesinslede verloor. Daar was ook baie bygelowe oor vigs. Baie mense het dit met towery en vervloekinge verbind. Hierdie verwronge beskouing het mense bang gemaak, ongegronde vooroordele gewek en redeneervermoë ondermyn.” Ons broers en susters het mekaar nietemin lojaal vertroos met die opstandingshoop en die versekering van hulle opregte Christelike liefde.
Teen die einde van die 1980’s het daar groot optimisme in Uganda geheers. Reg en orde is gaandeweg herstel, en die land was besig om ook op ekonomiese gebied te herstel. Die infrastruktuur het verbeter, en maatskaplike programme is weer ingestel of geïmplementeer.
Maar aangesien meer mense groter klem op politieke ideale gelê het, is die neutraliteit van Jehovah se Getuies soms misverstaan. In een geval het die owerheid die bou van ’n Koninkryksaal sonder enige rede stopgesit. Toestemming vir sommige byeenkomste is geweier, en party sendelinge moes die land verlaat toe hulle permitte verval het. Teen die einde van 1991 was daar net twee sendelingbroers oor. Wat kon gedoen word om die situasie te verbeter?
Uiteindelik het ’n groep broers met die owerheid vergader om ons neutraliteit te verduidelik. Toe die owerheid ons posisie verstaan het, is sendelinge toegelaat om na Uganda terug te keer. Die werk het ongehinderd voortgegaan, en in 1993 was Uganda verheug om 1 000 verkondigers te rapporteer. Daarna het dit net nog vyf jaar geneem om 2 000 Koninkryksverkondigers te bereik. Vandag is daar sowat 40 sendelinge wat regoor die land goeie werk doen.
VERTALING BESPOEDIG DIE INSAMELING
Engels word oral in die land gepraat. Luganda is egter die algemeenste inheemse taal, terwyl meer as 30 tale deur verskillende etniese groepe gepraat word. ’n Sleutelfaktor wat in onlangse tye tot vinniger groei bygedra het, is dus die vooruitgang in vertaalwerk.
“Hoewel my ma ’n getroue getuie was”, het Fred Nyende gesê, “was die vergaderinge vir haar baie sinvoller wanneer ek die studieartikels uit Engels in Luganda vertaal het. Wat ek nie besef het nie, is dat dit opleiding was vir ’n baie groter vertaalwerk.” Wat het Fred bedoel?
Kort nadat Fred in 1984 begin pionier het, is hy gevra om ’n Luganda-taalkursus vir die sendelinge aan te bied. Die daaropvolgende jaar is hy genooi om ’n lid van die Luganda-vertaalspan te word. Aanvanklik het hy en die ander vertalers hulle werk gedurende hulle vrye tyd by die huis gedoen. Later kon die hele span hulle vertaalwerk voltyds in ’n klein buitekamer by die sendinghuis doen. Interessant genoeg, gedurende die verbod in die middel-1970’s is party nommers van Die Wagtoring in Luganda vertaal en gemimeografeer. Maar dié projek is ná ’n ruk gestaak. Die Wagtoring is eers weer in 1987 in Luganda gepubliseer. Sedertdien is die vertaalspan vergroot, en die vertalers het hard gewerk om baie ander publikasies vir die toenemende aantal Lugandasprekende gemeentes te vertaal. Vandag is byna die helfte van die gemeentes in die land Lugandasprekend.
Ons publikasies is met verloop van tyd ook in ander tale vertaal. Daar is nou permanente voltydse vertaalspanne vir Acholi, Lhukonzo en Runyankore. Daarbenewens is sekere publikasies in Ateso, Lugbara, Madi en Rutoro vertaal.
Die Acholi- en Runyankore-spanne werk in vertaalkantore in Gulu en Mbarara onderskeidelik, waar hierdie tale hoofsaaklik gepraat word. Dit help die vertalers om met hulle moedertaal in voeling te bly en ’n vertaling te lewer wat maklik verstaanbaar is. Terselfdertyd geniet die plaaslike gemeentes die ondersteuning van die vertalers.
Vertaalwerk vereis sonder twyfel groot inspanning en baie hulpmiddele. Die vlytige Ugandese vertalers, sowel as ander vertaalspanne regoor die wêreld, het baat gevind by gevorderde opleiding in taalbegrip en vertaalvaardighede. Die resultate was beslis die moeite en onkoste werd—meer mense in Uganda as ooit tevore, uit verskillende “stamme en volke en tale”, vind daarby baat om Bybelwaarheid in hulle eie taal te lees (Op. 7:9, 10). Gevolglik was daar teen 2003 meer as 3 000 Koninkryksverkondigers in Uganda, en net drie jaar later, in 2006, was daar 4 005.
MEER PLEKKE VAN AANBIDDING NODIG
In vroeëre jare het die broers in huise, gemeenskapsentrums en klaskamers vir vergaderinge bymekaargekom. Die eerste geboue wat uitsluitlik vir Christelike vergaderinge gebruik is, was kleigeboue met grasdakke in die plattelandse gebiede van Namaingo en Rusese. Die inisiatief en inspanning van die broers in hierdie twee gebiede is beslis geseën, en die gemeentes daar het sterk geword.
Maar in die dorpe is selfs ’n beskeie gebou baie duur, en weens die ekonomiese toestande in Uganda het enige verwagtinge om Koninkryksale te kry, onrealisties gelyk. Die eerste permanente Koninkryksaal is eers in Maart 1988 in Jinja toegewy. En watter inspanning het daardie bouwerk tog geverg—bome moes in ’n nabygeleë bos afgekap word, stompe moes op modderpaaie aangery word en die saal moes gebou word! Later het die broers in Mbale, Kampala en Tororo ook Koninkryksale gebou deur hulle inisiatief en vernuf te gebruik.
Koninkryksaalbouwerk is in 1999 bespoedig toe ’n bougroep gevorm is met die ondersteuning van die Streekingenieurskantoor by die Suid-Afrikaanse takkantoor. Dié takkantoor het ’n span van nege aangestel, wat twee internasionale dienaars en hulle vrouens ingesluit het. Die gretige span het die werk gou geleer, en hulle kon ook plaaslike broers oplei. Die bouprogram het momentum gekry, en 67 sale is elk in gemiddeld een en ’n half maand voltooi—’n merkwaardige tempo, aangesien kraggereedskap min is, water dikwels skaars is en die voorsiening van boumateriaal onbetroubaar is.
Die meeste gemeentes in Uganda hou nou hulle vergaderinge in hulle eie Koninkryksaal en geniet die voordele daarvan om ’n saal in hulle gemeenskap te hê. Belangstellendes is meer geneig om na ’n behoorlike plek van aanbidding as na ’n klaskamer te kom, en gevolglik het vergaderingbywoning die hoogte ingeskiet en het gemeentes vinnig gegroei.
DIE GEVOLG VAN VINNIGE GROEI
Weens die merkwaardige groei in die gemeentes was die paar vergaderplekke wat vir kring- en streekbyeenkomste gebruik kon word, egter nie meer voldoende nie. Wat kon gedoen word om geskikte plekke te vind sodat dit nie vir die broers nodig sou wees om ver te reis nie, veral van plattelandse gebiede af? ’n Goeie oplossing is gevind toe toestemming verkry is om vergrootbare Koninkryksale te bou. Dit is sale van gewone grootte met ’n groot verlenging wat net ’n dak en ’n vloer het. Wanneer die agterste muur van die Koninkryksaal vir ’n byeenkoms oopgemaak word, is daar plek vir die groter gehoor in die oordekte ruimte. Sulke sale is reeds in Kajansi, Rusese en Lira voltooi, en ’n vierde word in Seta gebou.
Jehovah se seën op die geestelike groei in Uganda het ook organisatoriese aanpassings geverg. Voor 1994 was daar net een kring vir die hele land. Later is meer kringe gevorm om na die toenemende aantal gemeentes en groepe en die verskillende tale om te sien. Vandag maak die 111 gemeentes en ongeveer 50 groepe in Uganda agt kringe uit, waarvan drie Lugandasprekend is.
Apollo Mukasa, een van Uganda se kringopsieners, is in 1972 gedoop. In 1980 het hy eerder die voltydse diens betree as om hoër onderwys na te streef. Is hy spyt oor sy besluit?
“Glad nie”, sê Apollo. “Ek het talle bevredigende ondervindinge gehad as ’n spesiale pionier en terwyl ek gemeentes en, in die vroeë dae, groepe as ’n reisende opsiener besoek het. Ek het veral die gevorderde geestelike en organisatoriese opleiding by die Bedieningsopleidingskool geniet.”
Benewens Apollo het meer as 50 broers van Uganda waardevolle onderrigting by die Bedieningsopleidingskool ontvang sedert die eerste klasse in 1994 by Kenia se takkantoor gehou is. Baie van hierdie gewillige broers dien as spesiale pioniers en voorsien noodsaaklike hulp in kleiner gemeentes en groepe, terwyl ander hulle broers en susters as reisende opsieners dien.
In 1995 is ’n Landskomitee in Uganda aangestel om onder die leiding van Kenia se takkantoor te dien. Een van die sendinghuise in Kampala het die tuiste geword van ’n nuwe gesin van agt voltydse vrywilligers, wat die Luganda-vertaalspan ingesluit het. In September 2003 het Uganda ’n takkantoor geword.
“ONS IS NOU IN DIE PARADYS”
Die Landskantoor het ’n tyd lank probeer om met die groei van die vertaalspanne tred te hou en na ander bykomende kantoorwerk om te sien. Twee eiendomme langs die kantoor in Kampala is gekoop om in hierdie behoefte te voorsien. Maar uiteindelik was groter fasiliteite nodig om verdere uitbreiding te organiseer. In 2001 het die Bestuursliggaam toestemming gegee dat ’n stuk grond van vier hektaar in die buitewyke van Kampala, naby die oewer van die Victoria-meer, vir nuwe takfasiliteite gekoop word.
Die maatskappy wat die beste toegerus was om die bouwerk te doen, het aanvanklik nie op ons versoek gereageer nie omdat hulle te besig was en nie nog werk kon aanvaar nie. Maar hulle het skielik van plan verander en, verbasend genoeg, die laagste tender vir die oprigting van die nuwe takkantoor ingestuur. Hulle het blykbaar onverwags ’n groot kontrak verloor, wat hulle laat instem het om die takkantoor so gou moontlik te bou.
In Januarie 2006 was die Bethelgesin verheug om in die aantreklike, nuwe dubbelverdiepingwoongebou met 32 kamers in te trek. Die kompleks het ’n kantoorgebou, ’n ruim eetsaal, ’n kombuis en ’n wassery ingesluit. Die eiendom het ook ’n omgewingsvriendelike rioolstelsel, ’n pakhuis vir die versendings- en lektuurafdelings asook geboue vir ’n instandhoudingswerkswinkel, wateropgaring en ’n elektriese kragopwekker. “Ons is nou in die paradys”, het een broer geesdriftig gesê, “ons moet nog net die ewige lewe kry!” Die toewydingstoespraak is op Saterdag 20 Januarie 2007 gehou deur Anthony Morris, ’n lid van die Bestuursliggaam.
WARE KENNIS WORD OORVLOEDIG
Gedurende onlangse dekades, in onstuimige sowel as kalm tye, het Jehovah se volk in Uganda geleer wat dit beteken om ‘die woord in gunstige en in moeilike tye te verkondig’ (2 Tim. 4:2). In 2008 was die 4 766 verkondigers verheug om 11 564 Bybelstudies te hou en om ’n opkoms van 16 644 by die Herdenking van Christus se dood te hê. Hierdie syfers, en die verhouding van 1 verkondiger vir elke 6 276 van die bevolking, toon dat die veld hier nog “wit is vir die oes”.—Joh. 4:35.
Terselfdertyd het ons broers en susters in Uganda uit bittere ondervinding geleer hoe skielik omstandighede kan verander en hoe gou toetse van geloof oor ons kan kom. Hulle ondervindinge het hulle nietemin geleer om op Jehovah sowel as die leiding van sy Woord en die ondersteuning van ons wêreldwye broederskap te vertrou.
’n Engel het vir die getroue bejaarde profeet Daniël gesê dat ‘ware kennis in die tyd van die einde oorvloedig sal word’ (Dan. 12:4). Danksy Jehovah se seën het ware kennis beslis oorvloedig geword in Uganda. In hierdie gebied waar die magtige Nyl sy oorsprong het, sal oorvloedige waters van waarheid ongetwyfeld aanhou opborrel om almal te bevredig wat na geestelike waarheid dors. Terwyl Jehovah voortgaan om die werk regoor die aarde te seën, sien ons gretig uit na die tyd wanneer almal in eenheid groot lof aan Jehovah sal bring—tot in alle ewigheid!
[Voetnote]
a ’n Verslag oor die lewensverhaal van Frank Smith het verskyn in Die Wagtoring van 1 Augustus 1995, bladsye 20-24. Frank se pa, Frank W. Smith, sowel as sy oom en tante, Gray en Olga Smith, was onder die eerstes wat in Oos-Afrika gepreek het. Frank se pa is dood aan malaria terwyl hy op pad terug was na Kaapstad, net twee maande voordat Frank gebore is.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.
[Lokteks op bladsy 84]
‘Dit was nogal snaaks om ’n gesprek tussen ’n Amerikaner en ’n Skot op ’n radiostasie in Afrika te hoor’
[Lokteks op bladsy 92]
“Hoe kan hulle verbied wat in my hart is?”
[Lokteks op bladsy 111]
“Hoe sê jy ‘God se Koninkryk’ in Luganda?” “Obwakabaka bwa Katonda”
[Venster/Prent op bladsy 72]
’n Oorsig van Uganda
Land
Uganda is ’n land van verbasende kontraste met sy digte tropiese reënwoude, uitgestrekte grasvlaktes, tallose riviere en mere, asook die majestueuse, sneeubedekte Ruwenzori-gebergte. Dit beslaan ’n gebied van 241 551 vierkante kilometer en sluit amper die helfte van die Victoria-meer, die grootste meer in Afrika, in.
Bevolking
Meer as 85 persent van die bevolking, wat uit sowat 30 etniese groepe bestaan, woon in plattelandse gebiede.
Taal
Luganda is die algemeenste van die meer as 32 tale wat in Uganda gepraat word. Die amptelike tale is Engels en Swahili.
Bestaansmiddele
Uganda is ’n landbouland, wat koffie, tee, katoen en ander kontantgewasse produseer. Die meeste Ugandese is bestaansboere wat lewe van die voedsel wat hulle vir hulleself kweek, maar party maak ’n bestaan uit visvang of toerisme.
Voedsel
’n Gestoomde dis, matooke (in die foto), wat van meelpiesangs gemaak word, is gewild in die grootste deel van die suide van die land. Mieliemeel, patats en brood wat van giers- of kassawemeel gemaak word, word saam met ’n verskeidenheid groente geëet.
Klimaat
Uganda, wat op ’n plato lê wat van ongeveer 1 500 meter in die suide tot nagenoeg 900 meter in die noorde daal, is ’n tropiese land met ’n matige klimaat. Die grootste gedeelte van die land het duidelik onderskeibare droë en nat seisoene.
[Venster/Prent op bladsy 77]
Opregte Christelike liefde raak harte
PETER GYABI
GEBORE 1932
GEDOOP 1965
PROFIEL ’n Ouer man wat gedurende die verbod gehelp het om publikasies te vertaal. Hy en sy vrou, Esther, het vier volwasse kinders.
◼ TOE die eerste sendelinge van Jehovah se Getuies in Uganda aangekom het, was daar baie rassevooroordeel in die land, en die meeste wit mense het nie met swart mense gemeng nie. Die sendelinge se opregte Christelike liefde het ons harte geraak, en ons het baie lief geword vir hulle.
Gedurende die 1970’s het ons gesin dit geniet om met die sendelinge, wat ongeveer 65 kilometer van ons af in Mbarara gewoon het, te assosieer en saam met hulle te preek. Eendag, toe ons op pad soontoe was, het soldate ons motor voorgekeer. “Julle kan verder ry as julle wil sterf”, het een van die soldate gesê. Ons het gedink dat dit raadsaam sou wees om liewer om te draai en huis toe te gaan. Maar namate die dae verbygegaan het, het ons ons al hoe meer oor die sendelinge bekommer. Ons wou so gou moontlik by die sendinghuis uitkom om uit te vind hoe dit met hulle gaan. Sekuriteit was baie streng, maar ek het my gesag as lid van die hospitaalbestuur gebruik, asook ’n hospitaalplakker op my motor, om my te help om deur die padblokkades te kom. Hoe verlig was ons tog om te vind dat die sendelinge veilig is! Ons het hulle kosvoorraad aangevul en ’n paar dae saam met hulle deurgebring. Daarna het ons hulle elke week besoek totdat dit vir hulle veilig was om na Kampala te trek. Hoe moeiliker die toestande geword het, hoe meer het ons die liefdevolle band van ons kosbare broederskap ondervind.
[Venster/Prent op bladsy 82]
‘Ek het gevoel dat ek nie in staat is om iets te sê nie’
MARGARET NYENDE
GEBORE 1926
GEDOOP 1962
PROFIEL Die eerste Ugandese suster wat die waarheid aangeneem het. Sy het meer as 20 jaar lank as ’n gewone pionier gedien. Sy is nog steeds ’n bedrywige verkondiger.
◼ MY MAN het die Bybelstudie geniet wat broer Kilminster met hom gehou het en het gedink dat ek ook moet studeer weens my groot liefde vir die Bybel. Gevolglik is reëlings getref vir John Bwali se vrou, Eunice, om met my te studeer.
Ek het baie gehou van wat ek geleer het, maar was bang om vir ander te getuig. Ek was van nature skaam en het gevoel dat ek nie in staat is om iets te sê nie. Maar Eunice was geduldig met my en het my eers gehelp om net een teks te lees. Toe het sy my, terwyl ons van die een besoek na die ander geloop het, geleer om kommentare oor die teks voor te berei. Met Jehovah se ondersteuning het ek my vrees oorkom.
Kort voor my doop was ek geskok toe my man die waarheid verwerp het en my en ons sewe kinders verlaat het. Maar die broers en susters was wonderlik; hulle het praktiese en geestelike hulp aan my en die kinders voorsien. ’n Buitelandse egpaar wat vir die vergaderinge Kampala toe gery het, het my en die kinders op pad soontoe opgelaai. Ek is baie dankbaar dat vier van my kinders en hulle gesinne besluit het om Jehovah te dien.
Ek kon uiteindelik as ’n gewone pionier dien. Toe gewrigsontsteking dit vir my moeilik gemaak het om te loop, het ek lektuur op ’n tafel buite my huis uitgestal en met verbygangers gepraat. So kon ek in die voltydse bediening bly.
[Venster/Prente op bladsy 98, 99]
God het ons geestelike oeswerk geseën
SAMUEL MUKWAYA
GEBORE 1932
GEDOOP 1974
PROFIEL Samuel het die organisasie baie jare lank in regsaangeleenthede verteenwoordig, en hy het ook as ’n ouer man en ’n pionier gedien.
◼ EK SAL nooit vergeet wat gedurende ’n toer van die takkantoor van Kenia in Nairobi gebeur het nie.
“Wat is die doel van hierdie gekleurde spelde?” het ek gevra terwyl ek na ’n kaart van Uganda gekyk het.
“Dit is plekke waar daar groot belangstelling is”, het Robert Hart, ’n lid van die Takkomitee in Kenia, geantwoord.
“Wanneer gaan julle pioniers soontoe stuur?” het ek gevra terwyl ek na ’n helderkleurige speld by Iganga, my tuisdorp, gewys het.
“Ons gaan niemand soontoe stuur nie”, het hy gesê. Toe het hy my reguit aangekyk en met ’n vonkeling in sy oog gesê: “Jy gaan soontoe.”
Broer Hart se antwoord het my verbaas, want ek was nie ’n pionier nie, en ek het nie in my tuisdorp gewoon nie. Maar om die een of ander rede het hierdie voorval my bygebly, en nadat ek as staatsamptenaar afgetree het, het ek besluit om terug te trek huis toe en ’n gewone pionier te word. Wat ’n vreugde was dit tog om te sien hoe die handjie vol verkondigers vinnig toeneem en ’n sterk gemeente met hulle eie Koninkryksaal word!
Toe Patrick Baligeya as ’n spesiale pionier na Iganga gestuur is, het hy by my gebly, en ons het saam gepionier. Ons het ook mielies geplant om ons te onderhou. Ons het elke dag vroeg begin met ’n bespreking van die dagteks en dan ’n paar uur in ons mielieland gewerk. Teen die middel van die oggend het ons na die gebied gegaan en die res van die dag in die bediening deurgebring.
Terwyl ons mielies gegroei het, het party van ons bure gesê dat ons predikingswerk veroorsaak dat ons ons mielieland verwaarloos. Ons het goed geweet dat mielies die heeltyd teen ape beskerm moet word terwyl die mieliekoppe ryp word. Maar ons wou nie ons geestelike oeswerk onderbreek om ape te verdryf nie.
Kort daarna het ons opgemerk dat twee groot honde op ons mielieland rondsnuffel. Ons het nie geweet waar hulle vandaan kom of aan wie hulle behoort nie, maar pleks van hulle weg te jaag, het ons elke dag vir hulle kos en water buite gelos. Terwyl die honde ons mielieland gepatrolleer het, was die ape natuurlik nêrens te sien nie. Toe, ná vier weke, het die honde net so skielik verdwyn as wat hulle gekom het—maar nie ’n dag voordat ons mielies buite gevaar was nie! Ons het Jehovah gedank vir die rekordoes wat vir ons, en nie vir die ape nie, as voedsel gedien het. Nog belangriker, hoe dankbaar was ons tog dat God ook ons geestelike oeswerk geseën het!
[Venster/Prent op bladsy 101, 102]
In aanhouding en tog onderskraag
PATRICK BALIGEYA
GEBORE 1955
GEDOOP 1983
PROFIEL Hy het die voltydse diens kort ná sy doop betree. Hy dien in die reisende werk saam met sy vrou, Symphronia.
◼ TOE ’n nuwe regering in 1979 aan bewind gekom het, is almal wat iets met die vorige regime te doen gehad het, “genooi” om in beskermende bewaring te gaan. Daar is aangekondig dat enigiemand wat nie met die reëling saamwerk nie, as onvriendelik teenoor die nuwe regering beskou sou word en dienooreenkomstig behandel sou word. Omdat ek as ’n musikant in die leër gedien het, moes ek my vir aanhouding aanmeld.
Ek was dankbaar dat ek, terwyl ek in aanhouding was, die Bybel elke dag kon lees om my verstand aktief te hou. Buitendien het ek na die waarheid gesoek, en ek het dit geniet om met medegevangenes oor Bybelonderwerpe te praat. John Mundua, een van Jehovah se Getuies, was in dieselfde aanhoudingsentrum omdat hy ’n staatsamptenaar was en aan die stam behoort het wat as ondersteuners van die vorige regime beskou is.
John het my gretig van die goeie nuus vertel, en ek het dit geredelik aangeneem. Ons het net 16 Wagtorings en die boek Goeie nuus—om jou gelukkig te maakc gehad, maar ek het onmiddellik besef dat wat ek leer, die waarheid is. Nadat ek die Bybel drie maande lank gestudeer het, het John gemeen dat ek aan die vereistes voldoen om ’n verkondiger te wees. Kort hierna is hy van alle aanklagte vrygespreek en vrygelaat. My enigste kontak met Jehovah se organisasie was daarmee heen. Maar ek het aangehou om na die beste van my vermoë studies te hou met belangstellendes in die aanhoudingsentrum.
Ek is in Oktober 1981 vrygelaat, en ek het na my dorpie teruggekeer, waar daar geen Getuies was nie. My familielede het druk op my uitgeoefen om saam met hulle aan hulle godsdiensgebruike deel te neem. Maar Jehovah het gesien dat ek hom wil dien, en hy het my onderskraag. Omdat ek geweet het dat ek Jesus se voorbeeld moet volg, het ek op my eie begin preek, en kort voor lank het ek baie studies gehad. Eendag het ’n huisbewoner Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gaan haal en gesê: “Wat jy daar sê, laat my dink aan wat ek in hierdie boek gelees het.”d Die man het nie veel belangstelling getoon nie, en ek wou baie graag sy boek sowel as sy hoop Wagtorings lees. In hierdie geval het die huisbewoner dus ingestem om vir my lektuur te gee!
Ek moes egter nog my medeaanbidders vind. Broer Mundua het gemeld dat daar Getuies in Jinja is. Ek het dus besluit om die broers daar op te spoor. Nadat ek feitlik die hele nag gebid het, het ek vroeg die volgende oggend vertrek, sonder om eens ontbyt te eet. Die heel eerste man wat ek teëgekom het toe ek begin stap het, het ’n deursigtige plastieksak gedra. Ek kon my oë skaars glo toe ek sien dat hy ’n Ontwaak! daarin het. Ek het een van my broers gevind!
In 1984 was ek verheug om die eerste klas van die Pionierdiensskool in Uganda by te woon. En wie was saam met my in die klas? Niemand anders nie as my geliefde broer John Mundua. Hy dien vandag nog op die ouderdom van 74 getrou as ’n gewone pionier.
[Voetnote]
c Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Nou uit druk.
d Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Nou uit druk.
[Venster/Prent op bladsy 113]
Hy het uiteindelik die ware godsdiens gevind
’n Suster het ’n sendeling, Mats Holmkvist, gevra om Mutesaasira Yafesi, ’n voormalige pastoor in die Sewendedagadventistekerk, te besoek. Hy het nou in Jehovah se Getuies belanggestel en het ’n lys met 20 vrae opgestel wat hy netjies uitgeskryf het. Toe hy Mats ontmoet, het hy die lys vir hom gegee.
Ná ’n twee uur lange Bybelbespreking het Mutesaasira gesê: “Ek dink ek het uiteindelik die ware godsdiens gevind! Kom besoek my asseblief in my dorpie. Daar is ander mense wat meer oor Jehovah se Getuies wil weet.”
Vyf dae later het Mats en nog ’n sendeling per motorfiets vertrek om Mutesaasira in Kalangalo te gaan besoek—’n reis van 110 kilometer oor moeilike en modderige paaie deur teeplantasies. Hulle was verbaas toe Mutesaasira hulle na ’n grasdakhut neem met ’n naambord waarop “Koninkryksaal” geskryf is. Ja, hy het reeds ’n plek gereedgemaak wat vir Bybelstudie en vergaderinge gebruik kon word!
Daar was tien ander persone wat belangstelling getoon het as gevolg van die waarhede waarvan Mutesaasira hulle vertel het. Bybelstudies is begin, en Mats, wat nie deur die groot afstand afgeskrik is nie, het dit twee keer per maand gehou. Die Bybelstudente het goeie vordering gemaak. Meer as 20 mense het verkondigers geword in Kalangalo, en daar is ’n florerende gemeente in die nabygeleë dorp Mityana. Intussen het Mutesaasira vinnig vooruitgang gemaak en is hy gedoop. Hy is nou diep in die 70 en dien as ’n gemeentelike ouer man.
[Tabel/Grafiek op bladsy 108, 109]
TYDLYN—Uganda
1930
1931 Robert Nisbet en David Norman preek in Oos-Afrika.
1940
1950
1950 Die Kilminsters verhuis na Uganda.
1952 Eerste gemeente word gestig.
1956 Eerste doopplegtigheid vind plaas.
1959 Buitelandse broers voorsien geestelike hulp.
1960
1963 Gilead sendelinge kom in die land aan.
1972 Eerste streekbyeenkoms word gehou.
1973 Verbod op Jehovah se Getuies word ingestel, en sendelinge word uit die land gesit.
1979 Verbod word opgehef.
1980
1982 Sendelinge word weer eens in die land toegelaat.
1987 Die Wagtoring word gereeld in Luganda vertaal.
1988 Eerste permanente Koninkryksaal word toegewy.
1990
2000
2003 Takkantoor word gestig.
2007 Nuwe takfasiliteite word toegewy.
2010
[Grafiek]
(Sien publikasie)
Aantal verkondigers
Aantal pioniers
5,000
3,000
1,000
1930 1940 1950 1960 1980 1990 2000 2010
[Kaarte op bladsy 73]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO
SOEDAN
KENIA
UGANDA
KAMPALA
Arua
Gulu
Lira
Soroti
Kyoga-meer
Masindi
Hoima
Mbale
Tororo
Namaingo
Iganga
Jinja
Seta
Kajansi
Entebbe
Mityana
Kalangalo
Fort Portal
Rusese
Albert-meer
Ruwenzori-gebergte
Ewenaar
Edward-meer
Masaka
Mbarara
Kabale
KENIA
VICTORIA-MEER
TANZANIA
BURUNDI
RWANDA
UGANDA
KAMPALA
KENYA
NAIROBI
Meru
Mt. Kenya
Mombasa
TANZANIË
DAR ES SALAAM
Zanzibar
[Kaart/Prent op bladsy 87]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
UGANDA
KAMPALA
Arua
Gulu
Lira
Soroti
Masindi
Hoima
Fort Portal
Masaka
Mbarara
Kabale
VICTORIA-MEER
[Prent]
Broer Hardy en sy vrou het in ses weke deur die grootste deel van Uganda gereis
[Volbladillustrasie op bladsy 66]
[Prent op bladsy 69]
David Norman en Robert Nisbet het die goeie nuus na Oos-Afrika gebring
[Prent op bladsy 71]
George en Robert Nisbet en Gray en Olga Smith met hulle voertuie op ’n vlot, gereed om ’n rivier oor te steek
[Prent op bladsy 75]
Mary en Frank Smith, net voor hulle troue in 1956
[Prent op bladsy 78]
Ann Cooke en haar kinders saam met broer en suster Makumba
[Prent op bladsy 80]
Tom en Bethel McLain was die eerste Gileadopgeleide sendelinge in Uganda
[Prent op bladsy 81]
Die eerste sendinghuis in Jinja
[Prent op bladsy 83]
Gileadsendelinge Barbara en Stephen Hardy
[Prent op bladsy 85]
Mary Nisbet (middel) saam met haar seuns Robert (links), George (regs) en William en sy vrou, Muriel (agter)
[Prent op bladsy 89]
Tom Cooke hou ’n toespraak by die “Goddelike Heerskappy”-streekbyeenkoms in Kampala
[Prent op bladsy 90]
George en Gertrude Ochola
[Prente op bladsy 94]
Ondanks die verbod het ons broers aangehou om vergaderinge te hou
[Prent op bladsy 95]
Fred Nyende
[Prent op bladsy 96]
Emmanuel Kyamiza
[Prent op bladsy 104]
Stanley Makumba saam met sy vrou, Esinala, in 1998
[Prent op bladsy 107]
Heinz en Marianne Wertholz het die eerste klas van die Gileaduitbreidingskool in Duitsland bygewoon
[Prente op bladsy 118]
Vertaalspanne
Luganda
Acholi
Lhukonzo
Runyankore
[Prente op bladsy 123]
Hedendaagse Koninkryksale verskil grootliks van vroeëre geboue (links)
[Prente op bladsy 124]
Takkantoor in Uganda
Takkomitee: Mats Holmkvist, Martin Lowum, Michael Reiss en Fred Nyende; kantoorgebou (onder) en woongebou (regs)