Albanië
ALBANIË is ’n klein land met ’n ryk, komplekse verhaal. Dit is deur stamme en nasies deurkruis, deur die een wêreldmag ná die ander oorheers en aan dekades van radikale afsondering onderwerp. Hoewel Jehovah se Getuies hier met talle uitdagings te kampe gehad het en baie swaar gekry het, het Jehovah God hulle ondersteun en hulle met wonderlike geestelike voorspoed geseën. Die volgende bladsye beskryf kortliks hulle opwindende geskiedenis en toon hoe “die hand van Jehovah” sy nederige knegte in hierdie land onderskraag het.—Hand. 11:21.
Buitelandse magte het eeue lank om beheer van Albanië gestry, en hulle stryd het godsdienskonflik meegebring. Teen die vroeë 1500’s was die gebied godsdienstig verdeeld, met party mense wat beweer het dat hulle Moslem is, ander Ortodoks en nog ander Katoliek.
In die laat 1800’s het nasionalisme in Albanië toegeneem en is talle patriotiese verenigings gestig. Die meeste mense in Albanië was bestaansboere, en baie het jare van buitelandse inmenging vir hulle armoede blameer. Teen 1900 was selfregering en onafhanklikheid brandende kwessies wat tot oorloë met Griekeland, Serwië en Turkye gelei het. Uiteindelik, in 1912, het Albanië sy onafhanklikheid verklaar.
Later het regeringsbeleid die beoefening van georganiseerde godsdiens so te sê beëindig. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die kommunistiese owerheid alle godsdiens afgeskaf en Albanië as die wêreld se eerste ateïstiese staat uitgeroep.
HULLE ‘NEEM DIE WAARHEID MET VREUGDE AAN’
Voor 56 HJ het die apostel Paulus gesê dat hy en sy metgeselle die goeie nuus deeglik verkondig het “tot by Illirikum”, ’n Romeinse provinsie wat ’n deel van hedendaagse Albanië ingesluit het (Rom. 15:19). In daardie tyd het party in die gebied heel waarskynlik ware Christene geword, want volgens die sekulêre geskiedenis het die Christelike godsdiens in die eerste eeu in Albanië wortelgeskiet.
Die eerste opgetekende geval van ware aanbidding in hedendaagse tye in hierdie streek was in 1921, toe John Bosdogiannis uit Kreta aan die Brooklynse Bethel geskryf het oor ’n besoek aan die Bybelstudie-“klas” in Ioannina, nou deel van Noord-Griekeland. Omstreeks dieselfde tyd het baie Albanese hulle in Nieu-Engeland, in die Verenigde State, gevestig, onder andere Thanas (Nasho) Idrizi en Costa Mitchell. Toe hulle die waarheid geleer het, is hulle onmiddellik gedoop. Broer Idrizi het in 1922 na Gjirokastër, Albanië, teruggekeer—die eerste Albanees wat met Bybelwaarhede na sy land teruggegaan het. Jehovah het sy selfopofferende gees geseën, en mense het gunstig begin reageer. Kort daarna het ander gelowige Albanese wat in Amerika gewoon het, ook teruggekeer huis toe. Intussen het Costa Mitchell voortgegaan om in die Albanese veld in Boston, Massachusetts, VSA, te preek.
Sokrat en Thanas Duli (Athan Doulis) is in Albanië gebore, maar is as seuns na Turkye geneem. Sokrat het in 1922 na Albanië teruggekeer. Die volgende jaar het die 14-jarige Thanas ook teruggegaan op soek na sy broer. “Toe ek by ons ou huis aankom”, het hy geskryf, “het ek my broer nie dadelik gevind nie, want hy het ongeveer 200 kilometer daarvandaan gewerk. Maar ek het wel The Watch Tower, die Bybel en sewe dele van Studies in the Scriptures asook ander pamflette oor Bybelonderwerpe gevind. Selfs in hierdie verafgeleë bergstreek was daar klaarblyklik bedrywige Bybelstudente wat na Amerika gegaan het en ’n kennis van die Bybel en ’n liefde daarvoor saam met hulle teruggebring het.” Toe die twee uiteindelik bymekaar uitkom, het Sokrat—teen dié tyd reeds ’n gedoopte Bybelstudent—nie gehuiwer om sy broer, Thanas, die waarheid te leer nie.
In 1924 is die kantoor in Roemenië aangestel om oor die nuwe veld in Albanië toesig te hou. Hoewel daar nog maar min getuieniswerk gedoen is, het The Watch Tower van 1 Desember 1925 gesê: “Die harp van God asook die boekies The Desirable Government en The World Distress is in die landstaal vertaal en gedruk . . . ’n Aansienlike hoeveelheid [is] in die hande van die mense gelaat, en die Albanese neem die waarheid met groot vreugde aan.”
Gedurende dié tyd was Albanië uiters verdeeld op politieke gebied. Maar wat van Jehovah se knegte? “In 1925 was daar drie georganiseerde gemeentes in Albanië, asook afgesonderde Bybelstudente”, het Thanas geskryf. Hy het ook gemeld dat die liefde onder hulle ’n skerp teenstelling gevorm het met die onenigheid, egotisme en wedywering van die mense om hulle. Terwyl baie Albanese die land verlaat het, het ander wat die waarheid geleer het, teruggekeer, gretig om hulle familielede van Christus se pas opgerigte Koninkryk te leer.
Intussen is daar in Boston op Sondagoggende openbare toesprake in Albanees voor gehore van ongeveer 60 mense gehou. Dié wat dit bygewoon het, was ernstige studente wat dit geniet het om die Studies in the Scriptures aandagtig te bestudeer. Die boek Die harp van God is ook deeglik bestudeer, ondanks ’n paar vertaalfoute. (Die titel is byvoorbeeld eers vertaal as Die kitaar van God.) Hierdie boek het nietemin tientalle Albanese gehelp om Bybelwaarheid te leer en sterk geloof op te bou.
“MOET HULLE NIE LASTIG VAL NIE”
In 1926 het The Watch Tower berig dat 13 persone in Albanië die Herdenking van Christus se dood bygewoon het. “Daar is net ongeveer vyftien toegewyde broeders in Albanië”, het die 1927 Yearbook gesê, “en hulle doen hulle bes om die boodskap van die koninkryk te versprei.” Die Yearbook het gesê: “In Amerika is daar sowat dertig toegewyde Albanese broeders, en hulle is gretig om hulle landgenote te help om ’n kennis van die Waarheid te verkry.” In 1927 was die 15 broers in Albanië verheug om 27 by die Gedenkmaal te hê, meer as twee keer soveel as die vorige jaar.
Gedurende die laat 1920’s was daar nog steeds baie politieke onrus in Albanië. ’n Regering onder die leierskap van Fan Noli, ’n Ortodokse biskop, het die bewind vir ’n kort rukkie oorgeneem, maar dit is deur president Ahmed Bey Zogu omvergewerp. Hy het Albanië tot ’n koninkryk verklaar waarin hy, as koning Zog I, die laaste sê gehad het.
In 1928 het Lazar Nasson, Petro Stavro en twee ander broers van die Verenigde State na Albanië gereis om die “Fotodrama van die Skepping” te vertoon. Terselfdertyd was ’n Katolieke priester en ’n Ortodokse priester uit die Verenigde State ook in Albanië, op besoek by koning Zog I.
“Pasop!” het die Katolieke priester Zog gewaarsku. “Mans het uit Amerika gekom om vir jou moeilikheid te maak.”
Die Ortodokse priester het egter nie saamgestem nie. Hy het die broers geken omdat hulle kort tevore juis sy kerk in Boston verlaat het. “As almal in Albanië soos hierdie mans was”, het hy vir Zog gesê, “sou jy nie jou paleisdeure hoef te sluit nie!”
“Los hulle dan uit”, het Zog geantwoord, “en moet hulle nie lastig val nie!”
Gedurende dieselfde jaar is Songs of Praise to Jehovah in Albanees in Boston gedruk, en gevolglik het die broers in Albanië uiteindelik die melodieë en woorde van daardie liedere geleer. Twee gunstelinge was “Fear Not, O Little Flock” en “To the Work!”—liedere wat die broers in die daaropvolgende moeilike jare versterk het.
Albanese draai oor die algemeen nie doekies om nie, en hulle waardeer dit wanneer mense reguit praat. Wat ander dalk as skerp woorde sou beskou, is dikwels vir Albanese normale, lewendige kommunikasie. Albanese wat sterk voel oor ’n saak, spreek nie net graag hulle menings uit nie, maar praat en handel dikwels met sterk oortuiging. Hierdie eienskappe het beslis hulle reaksie op die goeie nuus beïnvloed.
PROBLEME LEWER POSITIEWE RESULTATE
Weens toenemende politieke en ekonomiese probleme het nog Albanese die land verlaat, en party van hulle het die waarheid in Nieu-Engeland en New York geleer. Oral waar daar ’n konsentrasie van Albanese was, het die waarheid gefloreer. Die broers wou graag meer lektuur hê en was verheug om die boekies Die Koninkryk en Die Krisis in Albanees te ontvang.
Gedurende dieselfde tyd het die owerheid in Albanië van ons lektuur gekonfiskeer. Maar in 1934 het die Bulletin (nou Ons Koninkryksbediening) uit Albanië berig: “Ons skryf met groot vreugde aan julle dat die Minister van Justisie so pas ’n bevel aan al die provinsies uitgevaardig het wat daarop neerkom dat al ons lektuur van nou af vryelik versprei mag word . . . Al die boeke en boekies wat deur die verskillende prefekte gekonfiskeer is, is aan die broeders terugbesorg . . . Sewe broeders het nou ’n voertuig gehuur [en] besoek die afgeleë stede met boeke terwyl die ander broeders in nabygeleë plekke werk.” Gevolglik het die broers in 1935 en 1936 meer as 6 500 stukke lektuur versprei!
“MOONTLIK DIE WYDS VERSPREIDE UITSENDING IN DIE GESKIEDENIS”
“Moontlik die wyds verspreide uitsending in die geskiedenis sal onderneem word”, het die Britse koerant Leeds Mercury vroeg in 1936 aangekondig. “Die geleentheid sal ’n toespraak in Los Angeles deur regter Rutherford, die evangelis, wees.” J.F. Rutherford, wat destyds die leiding onder Jehovah se Getuies geneem het, sou ’n toespraak lewer wat deur middel van radiotelefoon regoor die Verenigde State en Groot-Brittanje uitgesaai en in ’n aantal Europese lande heruitgesaai sou word. “Daar is een Europese land waar die toespraak beslis nie gehoor sal word nie”, het die artikel in die Mercury afgesluit. “Dit is Albanië, wat geen telefoondiens het nie.”
Maar ’n paar weke ná die toespraak het Nicholas Christo in die Albanese gemeente in Boston aan die wêreldhoofkwartier geskryf: “Ons wil julle meedeel dat kommunikasie wat onlangs uit Albanië ontvang is, bevestig dat regter Rutherford se toespraak oor ‘Skeiding van die nasies’ in daardie land gehoor is, wat dus nog ’n land voeg by die reeds lang lys van dié wat dit gehoor het. Dit is op twee verskillende plekke opgevang . . . , blykbaar deur middel van kortgolfuitsending. . . . Die vriende was oorstelp van vreugde om regter Rutherford se stem te hoor.”
Hoe het die Albanese verkondigers hulle vergaderinge gehou voordat Die Wagtoring in Albanees gepubliseer is? Die meeste Albanese wat die waarheid aangeneem het, was mans wat Griekse skole in Suid-Albanië bygewoon het. Dit was dus vir hulle glad nie moeilik om die Griekse Wagtoring te studeer nie. Ander het dit in Italiaans of Frans gestudeer. Gedurende die vergaderinge wat in Albanees gehou is, het die broers die lektuur algaande vertaal.
Ook in Boston is die Albanese Wagtoring-studie op Maandagaande met behulp van die Griekse tydskrif gehou. Baie broers het hulle kinders nietemin goed geleer, en jare later het hulle seuns en dogters, niggies en neefs, kleinkinders en agterkleinkinders voltydse bedienaars geword. Trouens, die Albanese broers het so bekend geword vir hulle ywerige getuieniswerk dat mense hulle ungjillorë, wat “evangeliedienaars” beteken, begin noem het.
HOOGGEPLAASTES ONTVANG ’N GETUIENIS
In 1938, ’n jaar voordat koning Zog se monargie omvergewerp is, het twee van sy susters na Boston gereis. In Desember het die tydskrif Vertroosting (nou Ontwaak!) berig: “Toe die Albanese prinsesse Boston toe gekom het, het twee van ons uit die Albanese eenheid van die Bostonse groep van Jehovah se getuies hulle by hulle hotel besoek en ’n boodskap oor God se koninkryk aan hulle oorgedra. Hulle het ons baie vriendelik ontvang.”
Die twee Getuies was Nicholas Christo en sy suster, Lina. Hulle het nie net die prinsesse ontmoet nie, maar ook vyf ander hooggeplaastes, insluitende die destydse Albanese ambassadeur in die Verenigde State, Faik Konitza [Konica]. Voor die ontmoeting is ’n Albanese getuieniskaart vir die groep gelees wat verduidelik het op watter groot skaal die waarheid onder Albanese verkondig word. “Ons is bly om julle mee te deel”, het dit onder andere gesê, “dat hierdie boodskap ook al baie jare in Albanië verkondig word en dat tienduisende boeke in die hande van beamptes en die mense van Albanië gelaat is om aan hulle kennis en vertroosting te verskaf.”
Ambassadeur Konitza het vir die prinsesse gesê: “Hulle wil hê dat julle julle invloed moet gebruik sodat hulle predikingswerk in Albanië ongehinderd kan voortgaan. Hulle godsdiens is ‘nuut’, en hulle glo dat die wêreld [huidige wêreldorganisasie] binnekort tot ’n einde sal kom en dat Christus daarna sal heers en dat selfs die dooies dan opgewek sal word.”
Hoe het mnr. Konitza soveel omtrent die Koninkryksboodskap geweet? Die Vertroosting het verduidelik dat “’n getuie, voordat hy jare gelede in die waarheid gekom het, hom goed geken het . . . en by etlike geleenthede die waarheid met hom bespreek het”.
DIE TWEEDE WÊRELDOORLOG BRING TOETSE MEE
Gedurende die 1930’s het Italië die beheer oor Albanië oorgeneem, en koning Zog en sy familie het in 1939 uit die land gevlug. Die invallende Fascistiese leër van Italië het ons lektuur verbied en verklaar dat dit onwettig is vir die 50 verkondigers om te preek. In die somer van 1940 is sowat 15 000 stukke lektuur gekonfiskeer. Op 6 Augustus het die Fasciste nege van die broers in Këlcyrë in hegtenis geneem en hulle in ’n sel van twee meter by vier meter opgesluit. Later is hulle na ’n tronk in Tirana verskuif. Hulle is agt maande lank sonder verhoor aangehou en is toe vonnisse van tien maande tot twee en ’n half jaar opgelê.
Op daardie stadium moes gevangenes kos van hulle gesinne kry. Maar in dié geval was die broodwinners, wat gewoonlik vir hulle gesinne gesorg het, in die tronk. Hoe sou hulle vir hulleself sorg?
“Ons het elke 15 dae 800 gram droë brood, drie kilogram steenkool en ’n koekie seep gekry”, vertel Nasho Dori. “Ek en Jani Komino het genoeg geld gehad vir een kilogram boontjies. Ons het die steenkool gebruik om die boontjies te kook, wat ander gevangenes dan aangebied het om by die lepelvol te koop. Heel gou kon ons vyf groot potte boontjies kook. Ons het uiteindelik genoeg geld gehad om vleis te koop.”
In die winter van 1940/1941 het die Griekse leër Suid-Albanië binnegeval en die mans gedwing om by hulle aan te sluit. Toe ’n broer in een dorpie weier en sê dat hy neutraal is, het die soldate hom aan sy hare rondgesleep en hom geslaan totdat hy sy bewussyn verloor het.
“Is jy nog steeds ongehoorsaam?” het die bevelvoerder die broer toegesnou toe hy sy bewussyn herwin het.
“Ek is nog steeds neutraal!” het die broer gesê.
Die gefrustreerde soldate het hom laat gaan.
Etlike dae later het die offisier na die huis van die broer wat hy gemartel het, gegaan en hom vir sy moed geprys. “’n Paar dae gelede het ek 12 Italianers doodgemaak en ’n medalje ontvang”, het hy gesê. “Maar my gewete pla my, en ek is skaam om dit te dra. Ek hou die medalje in my sak, want ek weet dat dit ’n bewys is van ’n skandelike daad.”
NUWE HEERSERS—DIESELFDE TOETSE
Te midde van die gevegte en beroering van die oorlog het die Albanese Kommunistiese Party ongemerk ’n vastrapplek gekry, ondanks die Fasciste se stryd om beheer te behou. In 1943 het soldate wat teen die Kommuniste geveg het, ’n broer gevange geneem, in ’n vragmotor gegooi, na die gevegslinie geneem en vir hom ’n geweer gegee. Hy het geweier om dit te neem.
“Jy is ’n Kommunis!” het die bevelvoerder geskreeu. “As jy ’n Christen was, sou jy geveg het, net soos die priesters!”
Die bevelvoerder het die soldate beveel om die broer dood te maak. Net toe die vuurpeloton wou skiet, het ’n ander offisier daar verbygekom en gevra wat aangaan. Toe hy van die broer se neutrale standpunt hoor, het hy ’n teenbevel gegee om nie te skiet nie, en die broer is vrygelaat.
In September 1943 het die Fasciste teruggetrek en het die Duitse leër die land binnegeval, en 84 mense is in net een nag in Tirana doodgemaak. Honderde is na konsentrasiekampe gestuur. Intussen het die broers boodskappe van hoop en bemoediging uit die Bybel getik. Wanneer iemand die getikte boodskap klaar gelees het, is hy gevra om dit terug te gee sodat dit vir iemand anders gegee kon word. Verder het die broers eenvoudig aangehou preek met behulp van die paar boekies wat hulle weggesteek het. Hulle het net sekere dele van die Bybel gehad om mee te preek, en hulle het eers in die middel-1990’s ’n volledige Bybelvertaling gehad.
Teen 1945 het 15 broers gevangenisstraf uitgedien. Twee van hulle is na konsentrasiekampe gestuur, waar een doodgemartel is. Ironies genoeg, terwyl die broers in Albanië vervolg is omdat hulle nie by die leërs van die Spilmoondhede wou aansluit nie, is party Albanese broers in die Verenigde State in die tronk gegooi omdat hulle nie teen die leërs van die Spilmoondhede wou veg nie.
In die oorloggeteisterde Albanië is gekonfiskeerde lektuur by ’n doeanekantoor gehou. Weens ’n hewige geveg daar naby het die gebou inmekaargestort, en baie van ons lektuur het in die straat beland. Nuuskierige verbygangers het boeke en boekies opgetel en dit begin lees! Die broers het nie op hulle laat wag nie en het die oorblywende lektuur bymekaargemaak.
In 1944 het die Duitse troepe uit Albanië teruggetrek, en die kommunistiese leër het ’n voorlopige regering opgerig. Die broers het onmiddellik aansoek gedoen om boekies te herdruk, maar hulle versoek is geweier. “Die Wagtoring val die geestelikes aan”, is daar vir die broers gesê, “en in Albanië erken ons nog die geestelikes.”
DIE OORLOG EINDIG, MAAR VERVOLGING DUUR VOORT
Die nuwe kommunistiese regering het hoë belastings gehef en eiendom, fabrieke, besighede, winkels en bioskope oorgeneem. Mense is nie toegelaat om grond te koop, te verkoop of te huur nie, en alle opbrengste moes aan die Staat oorhandig word. Op 11 Januarie 1946 het Albanië hom tot die Volksrepubliek van Albanië verklaar. Die Kommunistiese Party het die verkiesing gewen en sy regering met Enver Hoxha as staatshoof gestig.
Nog skole is geopen, en kinders is geleer om te lees, hoewel die regering nie wou hê dat enigiemand enige lektuur moes lees wat nie kommunisme bevorder nie. Ons publikasies is gekonfiskeer, en die regering het ook beslag gelê op die klein voorraad papier en die paar tikmasjiene wat die broers gehad het.
Elke keer dat die broers toestemming probeer kry het om lektuur te druk, is hulle afgewys en gedreig. Maar hulle het standvastig gebly. “Jehovah het ons die verantwoordelikheid gegee om die mense van Albanië van sy goddelike voorneme te vertel”, het hulle vir die owerheid gesê, “en julle verbied ons. Nou rus die verantwoordelikheid op julle.”
Die regering se antwoord het hierop neergekom: ‘Hier in Albanië is ons die meesters! Ons duld nie teokrasie nie, en ons steur ons nie aan julle of aan julle God, Jehovah, vir wie ons nie erken nie!’ Die broers het hulle nie laat afskrik nie en het voortgegaan om die goeie nuus te verkondig waar en wanneer hulle kon.
In 1946 het dit verpligtend geword om te stem, en enigiemand wat dit gewaag het om nie te stem nie, is as ’n vyand van die Staat beskou. Wette is uitgevaardig wat vergaderinge verbied het, en dit was ’n misdaad om te preek. Hoe het die broers gereageer?
In 1947 het die broers in Tirana, ongeveer 15, ’n predikingsveldtog georganiseer. Hulle is onmiddellik in hegtenis geneem. Hulle Bybels is opgeskeur, en hulle is gemartel. Toe hulle vrygelaat is, is hulle beveel om nêrens te reis sonder die toestemming van die polisie nie. Koerante het die spot gedryf met Jesus en Jehovah.
Die Albanese broers in Boston het hiervan te hore gekom, en op 22 Maart 1947 het hulle ’n respekvolle brief van twee bladsye ten behoewe van Jehovah se Getuies in Albanië aan Enver Hoxha geskryf. Hulle het verduidelik dat Jehovah se Getuies geen bedreiging vir die regering inhou nie en het daarop gewys dat godsdiensteenstanders valse aantygings gemaak het omdat ons publikasies hulle onchristelike gebruike tereg blootlê. Die brief het ten slotte gesê: “Toe die Albanese afvaardiging na die Verenigde Nasies onder leiding van mnr. Kapo in Boston besoek afgelê het, het ons sy hotel besoek. Mnr. Kapo het ons vriendelik ontvang en sonder vooroordeel na ons boodskap geluister.” Hysni Kapo was jare lank een van die mees hooggeplaaste amptenare in Albanië. Ten spyte van hierdie pleidooi het probleme in Albanië eenvoudig toegeneem.
In 1947 het Albanië ’n bondgenootskap met die Sowjetunie en Joego-Slawië gesluit en in konflikte met Griekeland betrokke geraak. Die volgende jaar het Albanië sy bande met Joego-Slawië verbreek en dié met die Sowjetunie versterk. Enigiemand wat nie die regering se ideologie ondersteun het nie, is uit die gemeenskap uitgesluit. Die broers se neutrale standpunt het al hoe meer teenstand en vyandigheid uitgelok.
In 1948 het ses broers en susters byvoorbeeld in ’n klein dorpie vir die Gedenkmaal bymekaargekom. Die polisie het by die vergadering ingestorm en die verkondigers ure lank geslaan voordat hulle hulle laat gaan het. ’n Paar weke later het die polisie die broer wat die Gedenkmaaltoespraak gehou het, in hegtenis geneem en hom gedwing om 12 uur lank te staan. Om middernag het die polisiehoof hom toegesnou: “Waarom het jy die wet verbreek?”
“Ons kan nie die Staat se wet bo die wet van die Here stel nie!” het die broer geantwoord.
Die woedende polisiehoof het die broer geklap en gevra: “Wat doen jy?” toe hy sien dat die broer sy kop na die kant toe draai.
“Ek het reeds vir jou gesê dat ons Christene is”, het die broer geantwoord. “Jesus het ons geleer dat jy die ander wang moet aanbied wanneer iemand jou slaan.”
“Omdat jou Here dit beveel”, het die briesende hoof bars vir hom gesê, “sal ek hom nie gehoorsaam nie, en ek sal jou nie meer slaan nie! Gee pad hier!”
“EK SAL AANHOU PREEK”
Sotir Ceqi was ’n getroue lidmaat van die Ortodokse kerk en het in Tirana gewoon. As kind het hy beentuberkulose opgedoen en verskriklike pyn in sy bene gehad. Toe hy 17 jaar oud was, het hy so terneergedruk geword dat hy besluit het om selfmoord te pleeg deur voor ’n trein in te spring. Kort voordat hy dit sou doen, het Leonidha Pope, ’n familielid, hom besoek. Onbewus van Sotir se plan, het Leonidha vir hom vertel dat Jesus die siekes genees het en dat die aarde ’n paradys gaan wees. Hy het ook vir Sotir ’n eksemplaar van die Griekse Geskrifte gegee, wat Sotir dadelik begin lees het.
“Dit was asof water in my ingestroom het”, het Sotir gesê. “Ek het die waarheid gevind!”
Binne ’n paar dae en sonder verdere kontak met Leonidha het Sotir geredeneer: ‘Die Bybel sê dat Jesus gepreek het. Die apostels en dissipels het almal gepreek. Dan moet ek dit natuurlik ook doen.’
Sotir het dus begin preek. Met die Griekse Geskrifte in die een hand en sy kruk in die ander het hy moedig van deur tot deur gegaan.
Dit was destyds die verantwoordelikheid van die Sigurimi, of Direktoraat van Staatsveiligheid, om die nasie se veiligheid te verseker. Hulle was altyd op hulle hoede vir enige sogenaamde bedreiging vir kommunisme en kon nouliks Sotir se moedige predikingswerk miskyk. Hulle het hom in hegtenis geneem, ure lank aangehou, geslaan en beveel om nie te preek nie.
Toe Sotir vrygelaat is, het hy met Leonidha in verbinding getree, wat hom geneem het na Spiro Karajani, ’n dokter wat ’n paar jaar vroeër die waarheid geleer het. Spiro het Sotir nie net medies versorg nie, maar hom ook gehelp om die waarheid beter te verstaan.
“As hulle jou weer in hegtenis neem”, het Spiro vir Sotir gesê, “moet jy elke woord en elke reël tel voordat jy enigiets teken. Trek ’n streep ná hulle woorde. Moenie enige spasie los nie. Lees alles sorgvuldig deur. Maak seker dat wat jy onderteken, is wat jy gesê het.”
Net twee dae later het die polisie op Sotir afgekom terwyl hy weer gepreek het. By die polisiestasie het die polisiebeamptes hom beveel om ’n verklaring te onderteken. Net toe hy wou teken, het hy Spiro se raad onthou. Ondanks druk deur die polisiemanne om dadelik te teken, het Sotir die tyd geneem om elke woord te lees.
“Ek is jammer”, het hy gesê, “maar ek kan dit nie teken nie. Dit is nie wat ek gesê het nie. As ek hierdie dokument teken, sal dit ’n leuen wees, en ek kan nie lieg nie.”
Die polisiemanne het gereageer deur ’n tou as ’n sweep te gebruik en Sotir ure lank daarmee te slaan. Toe hy nog steeds nie wou teken nie, het hulle hom gedwing om twee drade vas te hou en hom herhaaldelik pynlike elektriese skokke gegee.
“Toe die pyn amper ondraaglik was”, het Sotir later vertel, “het ek met trane gebid. Skielik het die deur oopgeswaai. Daar het die polisiehoof gestaan. Hy het vlugtig na my kant toe gekyk en toe vinnig weggekyk. ‘Hou op!’ het hy beveel. ‘Julle is nie veronderstel om dit te doen nie!’” Hulle het almal goed geweet dat marteling teen die wet is. Die polisiemanne het opgehou met die marteling, maar het nie opgehou om druk op Sotir uit te oefen om die dokument te teken nie. Hy het steeds geweier.
“Jy wen!” het hulle uiteindelik gesê. Teësinnig het hulle Sotir se ware verklaring neergeskryf waarin hy ’n goeie getuienis gegee het. Hulle het vir hom die dokument gegee. Ondanks ure van slae en elektriese skokke het Sotir elke woord noukeurig gelees. Wanneer ’n sin halfpad op die bladsy geëindig het, het hy ’n streep aan die einde van die sin getrek.
“Waar op aarde het jy dít geleer?” het die verbaasde polisiemanne gevra.
“Jehovah het my geleer om nie te teken wat ek nie gesê het nie”, het Sotir geantwoord.
“Goed dan, maar wie gee dít vir jou?” het ’n polisieman gevra terwyl hy vir Sotir ’n stuk brood en ’n stuk kaas gegee het. Teen dié tyd was dit negeuur in die aand, en Sotir was rasend honger, want hy het heeldag niks geëet nie. “Is dit Jehovah? Nee. Ons het dit vir jou gegee.”
“Jehovah voorsien dinge op baie maniere”, het Sotir geantwoord. “Hy het net julle harte sag gemaak.”
“Ons sal jou laat gaan”, het die gefrustreerde polisiemanne gesê, “maar jy weet wat sal gebeur as jy weer preek.”
“Moet my dan nie laat gaan nie, want ek sal aanhou preek.”
“Sorg dat jy vir niemand vertel wat hier gebeur het nie!” het die polisieman beveel.
“Ek kan nie lieg as hulle vra nie”, het Sotir geantwoord.
“Gee tog net pad hier!” het die polisieman geblaf.
Sotir was een van baie wat só gemartel is. Dit was eers ná hierdie geloofbeproewende voorval dat Sotir gedoop is.
Die pos is jare lank gesensor, en net vae berigte het uit Albanië gesypel. Namate dit al hoe gevaarliker geword het om te reis en vergaderinge by te woon, het broers regoor die land kontak met mekaar begin verloor. Sonder ’n sentrale organisasie was dit moeilik om ’n duidelike beeld te kry van wat besig was om te gebeur. Nietemin het mense nog steeds die waarheid aangeneem. In 1940 was daar 50 broers en susters in Albanië, en in 1949 was daar 71.
TEOKRATIESE VERMEERDERING TE MIDDE VAN POLITIEKE SPANNING
In die 1950’s is selfs strenger beheer op alle lewensgebiede uitgeoefen. Die politieke spanning tussen Albanië en Griekeland het toegeneem. Daar was geen diplomatieke betrekkinge met Engeland en die Verenigde State nie. Selfs verhoudings met die Sowjetunie was gespanne. Albanië het hom van die buitewêreld afgesonder, en alle kommunikasie is noukeurig gemonitor.
Twee broers het nietemin daarin geslaag om soms briewe en poskaarte aan die broers in Switserland te stuur. Die Switserse broers het in Frans of Italiaans geantwoord en kodetaal gebruik. Deur middel van hierdie poskaarte het die Albanese broers te hore gekom van die byeenkoms wat in 1955 in Neurenberg gehou is. Die nuus van die vryheid wat die Duitse broers ná die einde van Hitler se regime geniet het, het die Albanese broers aangespoor om standvastig in die geloof te bly.
Teen 1957 het Albanië 75 verkondigers gerapporteer. Hoewel presiese syfers nie beskikbaar was nie, is die Gedenkmaal “deur ’n redelike aantal mense” bygewoon, het die 1958 Yearbook berig, en “die Albanese broers preek nog steeds”.
Die 1959 Yearbook het berig: “Hierdie getroue getuies van Jehovah doen steeds wat hulle kan. Hulle het die waarheid rondborstig aan ander bekend gemaak en het selfs probeer om van die lektuur te publiseer. Hulle is dankbaar vir die voedsel op die regte tyd wat hulle soms bereik het, maar die kommunistiese heersers het klaarblyklik alle kommunikasie vanuit die buitewêreld afgesny.” Die verslag het afgesluit: “Al kan die heersers van die land die broers in Albanië van die res van die Nuwe Wêreld-gemeenskap afsny, kan hulle nie die werking van God se heilige gees op hulle verhinder nie.”
MOEILIKE TYE DUUR VOORT
Almal moes destyds ’n militêre identiteitskaart dra. Diegene wat geweier het, het hulle werk verloor of is opgesluit. Gevolglik was Nasho Dori en Jani Komino weer ’n paar maande in die tronk. ’n Paar het wel hulle geloof versaak uit vrees dat hulle hulle werk sou verloor, maar ’n soliede kern van lojale broers het die Gedenkmaal in 1959 gehou, en baie broers en susters het nog vreesloos gepreek.
In 1959 is die Departement van Justisie ontbind, en regsgeleerdes is nie meer toegelaat om te praktiseer nie. Die Kommunistiese Party het self al die wette gemaak en toegepas. Diegene wat nie in verkiesings gestem het nie, is as die vyand beskou. Vrees en agterdog het hoogty gevier.
Die Albanese broers het boodskappe uitgestuur wat aangedui het hoe moeilik dinge was, maar dat hulle vasbeslote was om lojaal te bly. Intussen het die wêreldhoofkwartier in Brooklyn die hele tyd met die broers in Albanië kontak probeer maak. John Marks, wat in Suid-Albanië gebore is maar in die Verenigde State gewoon het, is gevra om ’n visum vir Albanië te probeer kry.
’n Jaar en ’n half later het John uiteindelik ’n visum gekry om Albanië binne te gaan, maar sy vrou, Helen, het nie. In Februarie 1961 het John in Durrës aangekom en na Tirana gereis. Daar het hy sy suster, Melpo, ontmoet, wat vroeër belangstelling in die waarheid getoon het. Sy het John gehelp om sommer die volgende dag met die broers kontak te maak.
John het lank met die broers gepraat en vir hulle lektuur gegee wat hy in ’n geheime kompartement van sy koffer weggesteek het. Die broers was verheug. Hulle het meer as 24 jaar laas ’n besoek van broers uit die buiteland gehad.
John het uitgewerk dat daar 60 broers in vyf dorpe en nog ’n paar in kleiner dorpies was. In Tirana het die broers probeer om een keer per week, op Sondae, in die geheim bymekaar te kom om die publikasies te bespreek wat hulle al sedert 1938 weggesteek het.
Omdat die Albanese broers so lank so min kontak met die organisasie gehad het, moes hulle ingelig word omtrent die jongste organisatoriese reëlings en waarhede. Broers sowel as susters het byvoorbeeld die vergaderinge gelei, en susters het selfs daar gebid. John het later geskryf: “Die broers was redelik skepties en besorg oor hoe die susters die gewysigde reëlings sou aanvaar, en daarom het hulle my gevra om dit privaat aan die susters te verduidelik, wat ek toe gedoen het. Ek was bly om te sien dat hulle dit aanvaar het.”
Ondanks hulle armoede het hierdie getroue knegte die Koninkrykswerk ywerig ondersteun. John het byvoorbeeld melding gemaak van twee bejaarde broers van Gjirokastër wat “van hulle geldjies [gespaar] en ’n sekere bedrag bymekaargemaak het as bydraes aan die Genootskap”. Elkeen het goue muntstukke ter waarde van meer as 800 rand gespaar.
Die broers in Tirana het dit waardeer om die boekie Preek en onderwys in vrede en eenheid te ontvang, wat riglyne voorsien het oor hoe die gemeentes moet funksioneer, selfs gedurende ’n verbod. Toe, in Maart, het John die Gedenkmaal in Tirana by die huis van Leonidha Pope gehou, en dit is deur 37 bygewoon. Onmiddellik ná die toespraak is John per boot terug na Griekeland.
Nadat die broers by die hoofkwartier John se verslag oor sy besoek aan Albanië deurgegaan het, het hulle Leonidha Pope, Sotir Papa en Luçi Xheka aangestel om na die Tirana-gemeente asook die werk in Albanië om te sien. Spiro Vruho is as kringopsiener aangestel. Hy moes gemeentes besoek en elke aand met die broers vergader om toesprake te hou en die publikasies te bespreek. Die organisasie het alles moontlik gedoen om die broers in Albanië te help om geestelik sterker te word en op hoogte te kom.
Die organisasie kon natuurlik nie ’n amptelike brief met hierdie instruksies stuur nie, aangesien die pos sorgvuldig gesensor is. John het eerder die inligting brokkiesgewys aan die broers in Albanië oorgedra deur ’n kode te gebruik wat na bladsye in die publikasies verwys het. Berigte is weldra ontvang wat getoon het dat die broers die punt duidelik gesnap het. Die drie broers in Tirana het as ’n Landskomitee opgetree, en Spiro het die gemeentes gereeld besoek.
Die Albanese broers moes vindingryke maniere vind om velddiensrapporte aan die hoofkwartier te stuur. Een manier was op poskaarte wat aan sekere broers in die buiteland gestuur is. ’n Pen met ’n fyn punt is dan gebruik om die rapporte in kode onder die seël te skryf. Hulle het byvoorbeeld die bladsynommer van die Preek en onderwys-boekie neergeskryf waar die onderwerp “verkondigers” bespreek word. Langsaan het hulle die aantal verkondigers geskryf wat vir die maand gerapporteer het. Die broers in die buiteland het jare lank soortgelyke metodes gebruik om met die broers in Albanië te kommunikeer.
’N GOEIE BEGIN—TOE ’N TERUGSLAG
Hoewel die Landskomitee hard gewerk het om rein aanbidding te bevorder, het moeilikheid voor die deur gelê. In 1963 het Melpo Marks aan haar broer John geskryf dat twee van die drie broers op die Landskomitee, Leonidha Pope en Luçi Xheka, “weg van hulle gesinne” is en dat vergaderinge nie gehou word nie. Later is berig ontvang dat Spiro Vruho in die hospitaal is en dat Leonidha Pope en Luçi Xheka siek is, met verwysing na Handelinge 8:1, 3, wat sê dat Saulus van Tarsus Christene tronk toe gestuur het. Wat was aan die gang?
Leonidha Pope, Luçi Xheka en Sotir Ceqi het in ’n fabriek gewerk waar lede van die Kommunistiese Party toesprake vir al die werkers gehou het om kommunistiese ideale te bevorder. Eendag, gedurende ’n toespraak oor evolusie, het Leonidha en Luçi opgestaan en gesê: “Nee! Die mens kom nie van ape af nie!” Die volgende dag is albei weggeneem van hulle gesinne en gestuur om as ballinge in vergeleë stede te werk, ’n straf wat die Albanese internim (internering) genoem het. Luçi is na die berge van Gramsh gestuur. Omdat hulle gedink het dat Leonidha “aan die hoof gestaan het”, is hy na die ruwe, koue berge van Burrel gestuur. Sewe jaar sou verloop voordat hy na sy huis in Tirana kon terugkeer.
Teen Augustus 1964 is so te sê geen vergaderinge meer gehou nie. Die bietjie inligting wat uitgesypel het, het aangedui dat die broers baie fyn dopgehou word deur die Sigurimi. Een boodskap onder ’n seël het gelui: “Bid tot die Here vir ons. Konfiskering van lektuur van huis tot huis. Hulle laat ons nie toe om te studeer nie. Drie persone in internim.” Daar is aanvanklik gedink dat broer Pope en broer Xheka vrygelaat is, want hulle was die enigstes wat geweet het om onder seëls te skryf. Maar later het dit aan die lig gekom dat Luçi se vrou, Frosina, hierdie boodskap gestuur het.
Die broers wat die leiding geneem het, is weggestuur. Die waaksame oog van die Sigurimi het die ander nie toegelaat om met mekaar te kommunikeer nie. Die broers in internim het nietemin ’n merkwaardige getuienis gegee vir almal wat hulle teëgekom het. Die mense van Gramsh het gesê: “Die ungjillorë [evangeliedienaars] is hier. Hulle gaan nie leër toe nie, maar hulle bou ons brûe en maak ons kragopwekkers reg.” Hierdie lojale broers het ’n wonderlike reputasie opgebou waarvan mense dekades lank gepraat het.
’N ATEÏSTIESE STAAT WORD GEBORE
Albanië het alle politieke bande met die Sowjetunie verbreek en nouer bande met China gesmee. Die kommunistiese ideologie het so gewild begin word dat party Albanese selfs soortgelyke uitrustings as dié van die voorsitter van die Chinese Kommunistiese Party, Mao Tse-toeng, gedra het. Teen 1966 het Enver Hoxha militêre range afgeskaf, en in ’n klimaat van wantroue is geen strydige menings geduld nie.
Staatsbeheerde koerante het artikels teen godsdiens begin druk en dit “’n gevaarlike element” genoem. Toe het ’n groep studente in Durrës ’n stootskraper gebruik om ’n kerk te vernietig. Ander godsdiensgeboue is op ’n streep in die een stad ná die ander vernietig. Die regering het die vuur van antigodsdienstige gevoelens aangeblaas, en in 1967 het Albanië die eerste algeheel ateïstiese land geword. Terwyl ander kommunistiese state godsdiens in bedwang gehou het, het Albanië dit glad nie geduld nie.
Party Moslem-, Ortodokse en Katolieke priesters is opgesluit weens hulle politieke bedrywighede. Baie priesters het beter gevaar omdat hulle godsdiens eenvoudig die rug toegekeer het. ’n Paar geskiedkundige godsdiensgeboue is in museums omskep. Geen godsdienstekens is toegelaat nie—geen kruise of ikone nie, en ook geen moskees of minarette nie. Die woord “God” is slegs op neerhalende wyse gebruik. Hierdie verwikkelinge het dinge vir die broers moeilik gemaak.
Gedurende die 1960’s het van die broers gesterf. Die oorblywende verkondigers, wat verstrooi was, het voortgegaan om die waarheid te verdedig wanneer hulle kon. Maar selfs mense wat belanggestel het, was te bang om te luister.
LIEFDE VIR DIE WAARHEID HET NOOIT VERFLOU NIE
In 1968 het Gole Flloko aan John en Helen Marks geskryf dat sy gesondheid versleg. Dit was onwettig om te preek, en vergaderinge is verbied. Maar Gole, toe in sy 80’s, het vertel hoe hy gereeld met vriende en met mense praat wat hy by die mark, in die park of in koffiehuise ontmoet. Kort daarna het Gole getrou gesterf. Soos in die geval van baie ander in Albanië, kon niks sy onwrikbare liefde vir Jehovah en die waarheid blus nie.
Spiro Vruho kon weens sy ouderdom nie meer kringbesoeke doen soos vroeër nie. Toe, vroeg in 1969, is hy dood aangetref, onder in ’n put. Die Sigurimi het gesê dat hy selfmoord gepleeg het. Maar was dit waar?
Hoewel Spiro kamma ’n selfmoordbrief gelos het waarin hy gesê het dat hy terneergedruk is, was die brief nie in sy handskrif nie. En daar is bevestig dat Spiro voor sy dood heel opgeruimd was. Daarbenewens was daar onmiskenbare swart merke om sy nek, wat daarop gedui het dat hy op die een of ander manier aangerand is. Geen toue is by die put gevind waaraan hy hom kon opgehang het nie, en daar was geen water in sy longe nie.
Jare later het dit aan die lig gekom dat daar vir Spiro gesê is dat hy en sy gesin in die tronk gegooi sou word en dat hulle nie meer kos sou kon kry as hy nie stem nie. Die broers in Tirana het uitgevind dat Spiro die dag voor die verkiesing doodgemaak en toe in die put gegooi is. Dit was nie die laaste keer dat valse berigte van selfmoorde teen Jehovah se Getuies gebruik is nie.
’N DEKADE VAN GEDWONGE AFSONDERING
In 1971 was Jehovah se Getuies regoor die wêreld verheug toe nog lede by die Bestuursliggaam in Brooklyn, New York, gevoeg is. Toe die reëling vir die aanstelling van ouer manne en bedieningsknegte aangekondig is, het dit groot afwagting geskep. Maar jare het verloop voordat ons broers in Albanië van hierdie organisatoriese aanpassings gehoor het. Toe hulle dit wel gehoor het, was dit by toeriste uit die Verenigde State wat kortliks met Llopi Bllani, ’n suster in Tirana, kontak gemaak het. Die toeriste het uitgevind dat geen vergaderinge gehou word nie, en daar is vir hulle gesê dat daar net drie bedrywige Getuies in die stad is, hoewel daar in werklikheid baie meer was.
Kosta Dabe was al sedert 1966 in Griekeland om ’n visum te probeer kry om na sy geboorteland Albanië terug te keer. Op die ouderdom van 76 wou hy sy kinders die waarheid leer. Toe Kosta nie ’n visum kon kry nie, het hy sy Amerikaanse paspoort by die Albanese grens oorhandig en die land binnegegaan, wetende dat hy dit moontlik nooit sal kan verlaat nie.
In 1975 het ’n Albanese egpaar uit die Verenigde State Albanië as toeriste besoek. Hulle het geskryf dat die Staat mense “fyner as ooit dophou” en dat dit veral die geval is met Jehovah se Getuies. Buitelanders is oral vergesel deur amptelike toergidse, waarvan talle lede van die Sigurimi was. Wanneer die buitelanders vertrek het, het die Sigurimi hulle aandag toegespits op diegene met wie die besoekers kontak gemaak het. Toeriste is ook met agterdog bejeën en was onwelkom. Mense was bang vir buitelanders.
In November 1976 het ’n brief van Kosta Dabe gesê dat vyf die Gedenkmaal in Vlorë bygewoon het. Hy het geweet dat een Getuie in die stad Përmet asook een in die stad Fier die Gedenkmaal alleen gehou het. In Tirana het twee by een plek en vier by ’n ander plek bymekaargekom. So ver hy geweet het, was daar dus in 1976 ten minste 13 by die Gedenkmaal.
Jare later het Kulla Gjidhari vertel hoe sy die Gedenkmaal gehou het: “Ek het die oggend brood gebak en wyn uitgehaal. Daardie aand het ek die gordyne toegetrek en die Bybel gaan haal wat ek agter die toilet weggesteek het. Ek het in Matteus hoofstuk 26 gelees hoe Jesus die Gedenkmaal ingestel het. Ek het gebid, die brood opgetel en dit toe neergesit. Ek het verder gelees in Matteus, weer gebid, die wyn opgetel en dit toe neergesit. Daarna het ek ’n lied gesing. Ek was fisies alleen, maar ek het geweet dat ek met my broers regoor die wêreld verenig is!”
Kulla het min familie gehad. Spiro Karajani het haar jare tevore, toe sy jonk was, aangeneem, en sy het saam met hom en sy dogter Penellopi in Tirana gewoon. Hy is omstreeks 1950 dood.
TOENEMENDE AFSONDERING VIR ALBANIË
’n Nuwe era van afsondering het in 1978 begin toe Albanië alle bande met China verbreek het. ’n Nuwe grondwet was daarop gemik om Albanië heeltemal selfonderhoudend te maak, met streng riglyne vir elke aspek van die lewe, insluitende die teater, ballet, lektuur en kuns. Klassieke musiek wat as opruiend beskou is, is verbied. Net goedgekeurde skrywers is toegelaat om hulle eie tikmasjien te hê. Enigiemand wat betrap is dat hy na televisieprogramme uit ander lande kyk, is deur die Sigurimi ondervra.
In hierdie klimaat van hewige onderdrukking het broers uit Duitsland, Oostenryk, Swede, Switserland en die Verenigde State die land as toeriste binnegegaan in ’n poging om met die plaaslike broers in aanraking te kom. Die paar met wie hulle wel in aanraking gekom het, het hierdie pogings werklik waardeer. Maar die broers het oor die algemeen baie min kontak met mekaar gehad, en daarom het min geweet wanneer ’n besoeker kom.
In 1985 het Albanese oor die dood van die langtermyndiktator Enver Hoxha getreur. Regerings- en maatskaplike veranderinge sou weldra gemaak word. Teen die volgende jaar was John Marks oorlede en het sy weduwee, Helen, toe in haar middel-60’s, besluit om Albanië te besoek. “As enigiets met jou gebeur terwyl jy daar is”, het die owerheid vir haar gesê toe sy haar visum gaan haal, “moet jy nie hulp van die buitewêreld verwag nie.”
Helen se twee weke lange reis was ’n mylpaal vir die handjie vol verkondigers in Albanië. Helen het uiteindelik vir Melpo, John se suster, ontmoet, wat die waarheid 25 jaar tevore by haar broer gehoor het. Hoewel Melpo nog nie gedoop was nie, was sy jare lank ’n belangrike kontakpersoon vir die organisasie.
Helen het ook met Leonidha Pope en Vasil Gjoka, wat in 1960 gedoop is, vergader. Sy het verneem dat daar sewe Getuies was wat nog gelewe het en in verskillende dele van die land gewoon het. Sy het die broers in Albanië die jongste feite omtrent die organisasie meegedeel en vir hulle vertel hoe die werk in ander kommunistiese lande vooruitgaan. Helen het met groot omsigtigheid informeel getuig vir die mense wat sy teëgekom het. Sy het egter opgemerk dat daar baie ekonomiese probleme in Albanië was.
“Om ’n klein rantsoen melk te kry”, het sy gesê, “moes mense normaalweg van drie-uur in die oggend tou staan. Baie winkels het geen kosvoorraad gehad nie.”
In 1987 het die takkantore in Oostenryk en Griekeland saamgespan om nog besoekers in Albanië in te kry. In 1988 het ’n egpaar van Oostenryk, Peter Malobabic en sy vrou, as toeriste ingegaan en vir Melpo ’n bloes gegee, waaroor sy baie bly was. Maar sy was nog blyer om die boek “Dinge waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg” in die bloes versteek te vind.
Later daardie jaar het ’n ander egpaar wat ook lektuur gehad het, met Melpo kontak gemaak, maar hulle moes baie versigtig wees, want die Sigurimi het hulle fyn dopgehou. In die paar minute dat die besoekers nie deur hulle sogenaamde amptelike gidse vergesel is nie, kon hulle net vlugtig met haar praat. Hulle het uitgevind dat Leonidha siek is en dat baie ander broers in Albanië oud geword het en nie vryelik kon rondbeweeg nie.
TOESTANDE BEGIN VERANDER
In 1989 was die politieke situasie aan die verander. Die doodsvonnis vir ’n poging om uit Albanië te vlug, is afgeskaf. Daardie somer het Helen weer die land besoek. Dit het haar ure geneem om inligting en instruksies wat aan haar toevertrou is, oor te dra. Vasil Gjoka het kort besoeke by die broers afgelê wanneer hy kon.
Die Sigurimi het uitgevind dat Helen daar is en het haar besoek. Hulle het nie probleme veroorsaak nie, maar het gesê dat hulle ’n geskenk uit Amerika wil hê. Hoe gou het mense tog verander!
Die Berlynse muur het op 9 November 1989 geval, en die gevolge het gou na Albanië uitgekring. In Maart 1990 het ’n oproer teen kommunisme in Kavajë uitgebreek. Duisende mense het buitelandse ambassades in Tirana oorstroom in ’n poging om die land te verlaat. Studente het hervormings geëis en op hongerstakings gegaan.
In Februarie 1991 het ’n groot skare die tien meter hoë standbeeld van Enver Hoxha, wat Tirana se Skanderbeg-plein jare lank oorheers het, omgegooi. Wat die mense betref het, was die diktator weg. Gedurende Maart is skepe van Durrës en Vlorë deur sowat 30 000 Albanese gekaap, wat toe as vlugtelinge na Italië geseil het. Daardie maand is ’n veelpartyverkiesing vir die eerste keer in jare gehou. Hoewel die Kommunistiese Party gewen het, was dit duidelik dat die regering besig was om sy houvas te verloor.
In Augustus 1991 het Helen Marks Albanië vir die laaste keer besoek, maar hierdie keer het sy gevind dat toestande verander het. Net ’n maand tevore het die regering ’n Ministerie van Godsdienssake gestig, wat godsdiensbedrywighede ná 24 jaar weer gewettig het. Die broers het onmiddellik meer in die predikingswerk begin doen en gemeentelike vergaderinge georganiseer.
Vasil Gjoka het na Griekeland gereis en tyd by die takkantoor deurgebring om te leer hoe om die predikingswerk te organiseer. Omdat hy nie Grieks goed kon praat nie, het die broers wat ’n bietjie Albanees kon praat, Vasil na die beste van hulle vermoë geleer. Nadat Vasil na Tirana teruggekeer het, het hy nougeset toegepas wat hy geleer het en probeer om die twee weeklikse vergaderinge, waarvan een ’n studie van die onlangs vrygestelde Albanese uitgawe van Die Wagtoring was, beter te organiseer.
“Vroeër is die vergaderinge met lied en gebed geopen”, vertel een broer, “en ons het die liedere gebruik wat die ouer broers ons geleer het. Ons het die studie gehou, dan afgesluit met ’n lied—of twee, of drie, of meer! Uiteindelik het ons met gebed afgesluit.”
In Oktober 1991 en Februarie 1992 het Thomas Zafiras en Silas Thomaidis lektuur van Griekeland na Albanië gebring. Hulle het met die broers in Tirana en met ongedoopte verkondigers in Berat vergader en het ’n lys opgestel van die talle belangstellendes wat hulp nodig gehad het. Ná dekades van geestelike afsondering was die mense geestelik uitgehonger. In Berat het belangstellendes byvoorbeeld vergaderinge gehou, al was daar geen gedoopte broers in die stad nie. Wat kon gedoen word om in hierdie geestelike behoefte te voorsien?
’N ONVERWAGTE TOEWYSING
Michael en Linda DiGregorio het in die Dominikaanse Republiek as sendelinge gedien. Michael se ouma en oupa was onder die Albanese wat in die 1920’s in Boston gedoop is, en hy het genoeg Albanees geken om oor die weg te kom. Toe die DiGregorio’s in 1992 besluit het om familie in Albanië te besoek, het hulle die Bestuursliggaam dus gevra of dit vir hulle raadsaam sou wees om gedurende hulle driedaagse besoek met die broers kontak te maak. Tot hulle verbasing het die Bestuursliggaam hulle gevra om drie maande lank in Albanië te bly om die predikingswerk te help organiseer.
By die takkantoor in Rome het broers van Griekeland en Italië die DiGregorio’s ingelig oor die situasie in Albanië en vir hulle foto’s gewys van party van die Albanese broers, insluitende Vasil Gjoka. Toe die DiGregorio’s in April 1992 na Tirana gevlieg het, was Albanese uit die buiteland weer eens welkom in die land. Nietemin was daar nog steeds groot burgerlike onrus, en mense was bekommerd oor die toekoms.
Toe Michael en Linda by die lughawe uitloop, het Michael se familie op hulle afgestorm om hulle te groet. Terselfdertyd het Michael Vasil Gjoka herken, wat ook in kennis gestel is dat die DiGregorio’s daardie dag daar sou aankom.
“Gaan jy saam met die familie”, het Michael vir Linda gesê, “ek is nou terug.”
Nadat die familie Linda omhels het, het hulle die DiGregorio’s se bagasie geneem en hulle na die motors gehaas, terwyl Michael gou met Vasil gaan praat het.
“Ek sal Sondag terug wees in Tirana”, het Michael haastig vir Vasil gesê, “en dan sal ek jou opsoek.”
Koço, ’n lid van Michael se familie in Albanië, wat nie geweet het dat Michael en Linda Jehovah se Getuies is nie, het dadelik na hom toe gekom en gesê: “Wat doen jy? Ons praat nie met vreemdelinge nie!”
Gedurende die rit deur die platteland op pad na Korçë het die DiGregorio’s besef hoe anders dit is as die Karibiese Eilande. “Alles was oud, bruin of grys en met stof bedek”, vertel Michael. “Daar was orals doringdraad. Mense het neerslagtig gelyk. Daar was skaars enige motors te sien. Vensters was stukkend. Boere het die lande met die hand bewerk. Nie veel het sedert my oupa en ouma se dag verander nie! Dit het gevoel asof ons terug was in die verre verlede!”
‘JULLE BESOEK WORD DEUR GOD GERIG’
Koço het iets gehad wat hy jare lank weggesteek het, en hy wou dit vir Michael wys. Toe Michael se ouma gesterf het, het die familie in Boston ’n lang brief aan die familie in Albanië geskryf. Die eerste tien bladsye het hoofsaaklik oor gesinsaangeleenthede gehandel, maar na aan die einde van die brief het die familie die opstanding verduidelik.
“Die polisie het die brief deurgegaan”, het Koço vir Michael gesê, “en die eerste paar bladsye gelees. Toe het hulle verveeld geraak en gesê: ‘Vat dit! Dis net familiepraatjies!’ Toe ek die laaste deel gelees het, was ek so bly om iets oor God te hoor!”
Toe het Michael vir Koço vertel dat hy en Linda Jehovah se Getuies is en vir hom ’n deeglike getuienis gegee.
Soos mense in Bybeltye, voel Albanese verplig om vir hulle gaste te sorg en hulle te beskerm. Koço het dus daarop aangedring om saam met Michael en Linda na Tirana te gaan.
“In Tirana kon ons nie Vasil se huis vind nie”, vertel Michael, “omdat daar geen straatname was nie. Koço het dus voorgestel dat ons by die poskantoor vra.”
“Toe hy van die poskantoor af terugkom”, vertel Linda verder, “het Koço verstom gelyk, en ons het reguit na Vasil se woonstel gery.”
Later het Koço verduidelik: “Toe ek by die poskantoor ingegaan het en oor Vasil gevra het, het hulle gesê: ‘Hy is ’n heilige man! Weet jy wat hy alles deurgemaak het? Daar is nie ’n edelmoediger man in Tirana nie!’ Toe ek dit hoor, het ek geweet dat julle besoek deur God gerig word! Ek kan nie in julle pad staan nie!”
DIE WERK IN TIRANA WORD GEORGANISEER
Vasil was verheug om die DiGregorio’s te sien, en hulle het ure lank gepraat. Eers aan die einde van die aand het Vasil vir hulle vertel dat Jani Komino, wat saam met Nasho Dori in die tronk was, daardie oggend oorlede is. Waarom het Vasil by die huis gebly en nie die begrafnis van hierdie dierbare broer en hegte vriend bygewoon nie? Hy het verduidelik: “Omdat iemand wat deur die Bestuursliggaam gestuur is, sou kom.”
Michael en Linda moes in Tirana bly, maar die destydse regering het vreemdelinge nie toegelaat om in die stad te woon nie. Wat kon hulle doen?
“Ons het die saak in Jehovah se hande gelaat”, het Michael gesê, “en uiteindelik het ons ’n klein woonstel gevind en ingetrek.”
“Die eienaars het die sleutel gehou”, sê Linda terwyl sy terugdink, “en gekom en gegaan soos hulle wil. Boonop moes ons deur iemand anders se woonstel loop om by ons s’n te kom. Maar ons plekkie was ten minste uit die oog, en ons het verkies om nie aandag te trek nie.”
Die DiGregorio’s het ure lank geluister terwyl die ouer broers in Tirana vertel het van die beproewinge wat hulle deurgemaak het. Een van die probleme was egter dat party van die ouer broers agterdogtig was teenoor mekaar.
“As individue was hulle lojaal”, vertel Michael, “maar hulle het gewonder of die ander getrou gebly het. Al het party hulle afstand van mekaar gehou, het hulle nie van ons af weggebly nie. Nadat ons die saak kalm bespreek het, het hulle saamgestem dat die bekendmaking van Jehovah se naam die belangrikste is. Hulle was verenig in hulle liefde vir Jehovah en was opgewonde oor die toekoms.”
Die feit dat daar nie ’n werkende gemeente was nie, kon duidelik gesien word. Toe Kulla Gjidhari en Stavri Ceqi byvoorbeeld vir die eerste keer die boekie Ondersoek die Skrif elke dag gesien het, het hulle geen idee gehad waardeur hulle blaai nie.
“O, Manna!” het Stavri skielik uitgeroep, met verwysing na die boek Daily Heavenly Manna for the Household of Faith, wat in gebruik was toe Stavri die waarheid geleer het.
“Terloops, hoe gaan dit met die president, broer Knorr?” het Kulla gevra. “En gaan dit goed met sy vriend Fred Franz?” Dit het getoon hoeveel jare verloop het sedert hulle afgesonderd geraak het!
WAT ’N GEDENKMAAL WAS DIT TOG!
Die vertrek van drie meter by vier meter in Vasil Gjoka se woonstel waarin die broers gewoonlik hulle vergaderinge gehou het, was te klein vir die Gedenkmaal. Die 105 wat dit bygewoon het, het dus eerder bymekaargekom in ’n vertrek wat voorheen die hoofkwartier van die Kommunisteparty se koerant was. Dit was die eerste keer dat die Gedenkmaal in Tirana nie in ’n huis gehou is nie. Hoewel daar in 1992 net 30 verkondigers in Albanië was, was hulle verheug om 325 by die Gedenkmaal te hê.
Die groep belangstellendes in Tirana het geleidelik toegeneem, en tot 40 mense het die vergadering in Vasil se woonstel bygewoon. Party van die nuwelinge wou ongedoopte verkondigers word, en ander wou gedoop word. Die broers het baie ure daaraan bestee om te vergader met dié wat gedoop wou word. Aangesien die boek Georganiseer om ons bediening te vervul nog nie in Albanees beskikbaar was nie, moes elke vraag mondelings vir die doopkandidate vertaal word. Daar is intensief gestudeer met party van die nuwelinge om seker te maak dat hulle die waarheid verstaan. Hoewel nie een van hulle ooit werklik ’n Bybelstudie gehad het nie, was hulle Bybelkennis verbasend goed.
UITEINDELIK WETLIKE ERKENNING!
Gedurende die daaropvolgende weke het die broers baie ure saam met regsgeleerdes en amptenare deurgebring in ’n poging om die Koninkrykspredikingswerk wetlik te laat registreer. ’n Groep broers en belangstellendes in Tirana het reeds ’n formele versoek ingedien, maar ’n nuwe regering het aan bewind gekom, en daarom moes hulle met hulle pogings volhou.
“Alles moes te voet gedoen word”, vertel een broer. “Terwyl ons deur die stad geloop het, het ons soms die Minister van Menseregte, die Minister van Binnelandse Sake, die Minister van Justisie, die polisiehoof, lede van die Konstitusionele Hof en ander invloedryke mans teëgekom. Hierdie mans was vriendelik en bly dat daar al hoe meer vryheid is. Die meeste van hulle het reeds van die ungjillorë geweet. Daar het geen twyfel bestaan dat Jehovah se Getuies in Albanië teenwoordig en bedrywig was nie.”
Amptenare het weke lank gesê dat die regering wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies sou verleen, maar niks het daarvan gekom nie. Daar was egter ’n deurbraak toe Angelo Felio, ’n broer van die Verenigde State met ’n Albanese agtergrond, sy familie in Tirana besoek het. Terwyl Angelo in Albanië was, het hy die broers vergesel op ’n besoek aan die regsadviseur van die minister wat gemagtig is om wetlike erkenning toe te staan. Die adviseur was bly om te hoor dat Angelo se familie van dieselfde deel van Albanië kom as sy.
“Van watter dorpie is jou familie?” het sy Angelo gevra. Verbasend genoeg was dit haar tuisdorp.
“Wat is jou familienaam?” het sy gevra.
Tot hulle verbasing was Angelo aan haar verwant, maar hulle families het jare tevore kontak verloor.
“Julle handves het my alreeds beïndruk, en ek wou help”, het sy gesê. “Maar nou is ek verplig om te help, want jy is familie!”
’n Paar dae later het die regsadviseur Bevel nr. 100 aan die broers oorhandig, wat wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies in Albanië verleen het. Uiteindelik was die aanbidding van die ware God, Jehovah, wat sedert 1939 verbied was, nou wetlik erken en vry van enige beperkings! “Woorde kan nie beskryf hoe ons daardie dag in ons harte gevoel het nie”, het die DiGregorio’s gesê.
’n Paar weke later het die takkantoor in Griekeland, wat oor die werk in Albanië toesig gehou het, Robert Kern gestuur om Tirana te besoek. Robert het die plaaslike broers ingelig oor die registrasie van die werk en die stigting van die Tirana-gemeente. Hy het ook vir hulle gesê dat “die hele land Albanië” hulle gemeente se gebied is. Georganiseerde deur-tot-deur-predikingswerk moes in alle erns begin. ’n Drieslaapkamerhuis is in Tirana gehuur om as ’n sendinghuis en kantoor te dien, met ’n groot ekstra kamer wat as die eerste Koninkryksaal gebruik kon word.
’N AFGESONDERDE SKAAP WORD GEVIND
“Is daar enige Getuies in Vlorë?” het die broers gevra toe hulle die bevordering van die predikingswerk in Albanië bespreek het. Party het net van ’n bejaarde vrou geweet wat glo seniel was. Toe het ’n vrou na die kantoor gekom en gesê dat sy en haar gesin ungjillorë is en dat iemand met die naam Areti hulle in Vlorë die waarheid geleer het. Broers van Tirana het dus na Vlorë gereis om Areti te vind.
Areti Pina, ’n kort, bejaarde dame, het die besoekers in haar huis ingenooi, maar sy was ietwat terughoudend. Toe hulle verduidelik dat hulle haar geestelike broers is, het sy glad nie daarop gereageer nie.
“Kan ek julle ’n paar vrae vra?” het Areti skielik ná ’n paar minute gesê. Toe het sy hulle met vrae begin bestook: “Glo julle in die Drie-eenheid? Wat is God se naam? Glo julle in die helse vuur? Wat gebeur wanneer ons doodgaan? Wat van die aarde? Hoeveel sal hemel toe gaan?”
Die broers het al die vrae beantwoord.
“Preek julle?” het Areti toe gevra.
“Ja”, het een broer gesê, “ons preek.”
“Maar”, het sy gevra, “hoe preek julle?”
“Ons preek van huis tot huis”, het die broer geantwoord.
Areti het in trane uitgebars, opgespring en die broer omhels.
“Nou weet ek dat julle my broers is!” het sy uitgeroep. “Net Jehovah se volk preek van huis tot huis!”
Protestantse groepe in Vlorë het gehoor dat Areti ’n godsdienstige persoon is en het haar gevra om by hulle aan te sluit. “Maar ek wou niks met Babilon die Grote te doen hê nie!” het sy aan die broers verduidelik. “Daarom moes ek seker maak dat julle werklik my geestelike familie is!”
Areti is in 1928 op die ouderdom van 18 gedoop. Sy het teen berge op- en afgestap en met haar Bybel in die hand gepreek. Hoewel Areti jare lank geen kontak met die broers gehad het nie, het sy getrou aangehou om op haar eie te preek.
“Jehovah is wonderlik”, het Areti deur haar trane gesê. “Hy het my nooit vergeet nie!”
Mense het gedink dat Areti van haar verstand af is omdat sy onder Albanië se totalitêre ysterbewind in God bly glo het. Maar Areti was allesbehalwe seniel. Haar verstand was so helder as ooit!
SOVEEL OM TE DOEN!
Noudat ons werk wetlik geregistreer was, was daar baie om te doen om Koninkryksbelange in Albanië te bevorder. Die broers moes op hoogte gebring en geestelik versterk word. Publikasies in Albanees was nodig vir gebruik deur die broers en in die veld. En daar was dringend meer verkondigers nodig. Wie kon help?
In 1992 het spesiale pioniers van Italië en Griekeland gekom en Albanese taallesse ontvang. Gedurende dieselfde tyd het ’n klein span ons lektuur begin vertaal. Hoewel daar soms tot 21 dae lank geen elektrisiteit was nie, het die broers ’n goeie sin vir humor behou en met die werk besig gebly.
Daar was ook baie handearbeid om te verrig. Wanneer dit koud was, moes die sendinghuis verhit word. Maar dit was nie moontlik om in Albanië hout te koop nie. Hoe sou die broers warm bly? Broers van Griekeland het hulle te hulp gekom deur vir hulle ’n voorraad groot stukke hout en ’n elektriese saag te stuur. Maar daar was nog steeds ’n probleem, want die opening in die houtstoof was baie klein, en daar was geen elektrisiteit vir die saag nie. Gelukkig het ’n vriend van een van die broers aan die ander kant van Tirana ’n byl gehad. Omdat daar geen busse was nie, het dit twee uur geneem om die byl by die sendinghuis te kry, en dit moes voor donker terugbesorg word. “Ons het almal beurte gemaak om hout te kap terwyl ons die byl gehad het”, vertel een van die sendelinge, “maar ons het warm gebly!”
Te midde van al die houtkappery en taallesse het die Albanese vertaalspan die eerste van baie besoeke ontvang deur Nick en Amy Ahladis van die Vertaaldienste, nou in Patterson, New York. Hulle vriendelike en gebalanseerde benadering was ’n ontsaglike hulp vir die nuwe vertalers, wat vinnig geleer en goeie werk gedoen het. Die Italiaanse takkantoor het die lektuur gedruk en dit na Albanië versend.
Die wonderlike reaksie wat die verkondigers in die veldbediening gekry het, het beslis al die harde werk die moeite werd gemaak. Nuwe verkondigers was ook vuur en vlam. Lola het byvoorbeeld kort tevore ’n verkondiger geword, maar sy het 150, 200 of selfs meer uur per maand in die bediening deurgebring! Toe sy aangeraai is om op te pas dat sy haar nie in die bediening uitput nie, het Lola geantwoord: “Tot nou toe het ek my lewe verkwis! Wat anders is die moeite werd?”
DIE WERK GAAN VOORUIT
Maart 1993 was ’n geskiedkundige maand vir Albanië. Die spesiale pioniers het in nuwe toewysings in Berat, Durrës, Gjirokastër, Shkodër, Tirana en Vlorë begin dien; Die Wagtoring van 1 Maart was die eerste nommer wat deur die Albanese vertaalspan vertaal is; die broers het hulle eerste Teokratiese Bedieningskool gehad, en al vyf vergaderinge is dus vir die eerste keer gehou; die eerste Albanese uitgawe van Ons Koninkryksbediening is gepubliseer; en die eerste spesiale byeenkomsdag is in die Ballet-Opera-teater op Tirana se Skanderbeg-plein gehou.
Byeenkomsgangers het van Griekeland en Italië gekom om hierdie geskiedkundige spesiale byeenkomsdag by te woon. Nasho Dori het die byeenkoms met gebed geopen en Jehovah gedank vir al die seëninge wat hulle geniet. Die opkomshoogtepunt was 585, en 41 is gedoop! Onder hulle was kinders en kleinkinders van broers wat Jehovah getrou in Albanië gedien het.
In 1993 was daar groot opgewondenheid omdat ’n streekbyeenkoms vir die eerste keer in Albanië gehou sou word. Meer as 600 mense het dit bygewoon, insluitende afgevaardigdes van Frankryk, Griekeland, Italië, Oostenryk en Switserland. Hoe verheug was die Albanese broers tog dat hulle vryelik met soveel broers van soveel lande kon assosieer nadat hulle so lank afgesonderd was!
Ter wille van beter organisasie het die Bestuursliggaam ’n Landskomitee aangestel, bestaande uit Nasho Dori, Vito Mastrorosa en Michael DiGregorio, wat onder die toesig van die Italiaanse takkantoor sou dien. Een van hulle eerste prioriteite was om ’n eiendom te vind wat die kantoor en die groeiende vertaalspan kon huisves.
Stefano Anatrelli van Italië was onder die volgende groep spesiale pioniers wat Albanees begin leer het. Ná vyf weke van taallesse is hy gevra om na die kantoor te kom en is daar vir hom gesê: “Ons wil graag hê dat jy die spesiale pioniers en groepe as kringopsiener moet besoek.”
“Maar ek kan nie eens Albanees ordentlik praat nie!” was Stefano se eerste reaksie. Nogtans het hy hierdie toewysing as ’n wonderlike voorreg beskou. Nadat hy gehelp is om ’n paar toesprake voor te berei, het Stefano na die uithoeke van Albanië vertrek. Omtrent 30 jaar het verloop sedert Spiro Vruho die broers gedurende die verbod as kringopsiener besoek het. In 1995 is Stefano as ’n lid van die Landskomitee aangestel.
In 1994 het ’n derde groep pioniers, van Italië, na Albanië gekom. Die nuwe Albanese verkondigers is aangevuur deur die ywerige gees van al hierdie pioniers. Aan die einde van die 1994-diensjaar het 354 verkondigers aan die predikingswerk deelgeneem.
Maar vir baie verkondigers was daar emosionele uitdagings. Die verandering van ’n uiters onderdrukkende stelsel na ’n gemeenskap wat heeltemal vry is, was nie maklik nie. Om onder totalitarisme aan die lewe te bly, moes hulle versigtig wees dat hulle nooit hulle gevoelens openlik teenoor ander uitspreek nie—veral nie teenoor buitelanders nie. Die buitelandse broers en susters het dit egter verstaan en hulle geduldig ingespan om die vertroue van die nuwelinge te wen.
Daardie selfde jaar was die bejaarde broers en susters asook die nuwe verkondigers verheug om kennis te maak met Theodore Jaracz, die eerste lid van die Bestuursliggaam wat Albanië besoek het. Meer as 600 het vergader vir ’n toespraak wat hy in Tirana gehou het.
Intussen is ’n eiendom in Tirana vir ’n kantoor gekoop. In minder as ses maande het ’n hardwerkende span buitelandse broers ’n ou villa in moderne kantore omskep en ’n woongebou vir 24 mense gebou. Die toewyding is op 12 Mei 1996 gehou, toe Milton Henschel van die Bestuursliggaam Albanië besoek het.
HULLE HET ALLEEN GEPREEK
’n Jong man in Korçë met die naam Arben het die Bybellektuur gelees wat sy suster vir hom gestuur het en het besef dat dit die waarheid is. Hy het aan die Albanese kantoor geskryf en het ’n tyd lank die waarheid geleer deur middel van korrespondensie met die broers. Twee broers het ’n spesiale reis afgelê om hom te ontmoet sodat hulle vir hom verdere geestelike hulp kon gee. Gedurende die gesprek met Arben het dit duidelik geword dat hy aan die vereistes voldoen om ’n verkondiger te wees. Die twee broers het hom toe na die middel van Korçë geneem en hom laat toekyk terwyl hulle vir verbygangers preek.
Arben vertel: “Toe het hulle vir my tydskrifte gegee en gesê: ‘Nou is dit jou beurt.’ Hulle het vir my gesê om alleen te gaan, en ek het.”
’n Paar maande het verloop voordat spesiale pioniers hom kom help het. Maar intussen het mense gunstig op sy predikingswerk gereageer. Kort nadat die spesiale pioniers daar aangekom het, is ’n groep gevorm.
Teen die einde van die jaar het die pioniers in Vlorë die kantoor gebel en gesê dat Areti Pina siek is en dat sy wil hê dat een van die verantwoordelike broers haar moet besoek. Toe die broer daar aankom, het Areti almal gevra om die kamer te verlaat sodat sy alleen met hom kon praat.
“Ek het nie lank om te lewe nie”, het sy gesê terwyl sy na asem gehyg het. “Daar’s iets waaroor ek wonder, en ek moet jou daaroor vra. Ek kan nie al die besonderhede inneem nie, maar ek moet weet: Is die boek Openbaring al vervul?”
“Ja, Areti, die meeste daarvan is”, het die broer geantwoord, en toe het hy ’n paar dinge gemeld wat nog in vervulling moet gaan. Areti het aandagtig na elke woord geluister.
“Nou kan ek in vrede sterf”, het sy gesê. “Ek moes eenvoudig weet hoe naby ons is.”
Areti was jare lank ’n geesdriftige verkondiger—of sy nou alleen in die berge gepreek het of siek en in die bed was. Kort ná hierdie gesprek het Areti haar aardse loopbaan getrou voltooi.
SY GELOOF WAS TOT DIE EINDE TOE STERK
Nasho Dori, in sy 80’s, was siek en besig om te verswak. Maar daar was een groep broers in die besonder wat sy aanmoediging nodig gehad het—die jong broers wat vir militêre diens opgeroep is. Die Ortodokse geestelikes in Berat, wat afgunstig was op die vinnige groei van Jehovah se Getuies, het druk op die owerheid geplaas om hierdie jong mans te vervolg.
Ses jong broers in dié stad wat geweier het om by die leër aan te sluit, het etlike maande tronkstraf in die gesig gestaar. Omdat Nasho besef het dat hulle aanmoediging nodig het, het hy in sy bed regop gesit en vir hulle ’n boodskap op video opgeneem.
“Moenie bang wees nie”, het Nasho die jong broers aangespoor. “Ons is al voorheen hierdeur. Jehovah sal met julle wees. Moenie bekommerd wees as julle tronk toe gaan nie. Dit sal Jehovah se naam tot eer strek.”
Toe Nasho se gesondheid verder agteruitgegaan het, het hy broers na sy bed toe geroep en gesê: “Ek moes om vergifnis bid. Laas week was ek in soveel pyn dat ek gebid het om te sterf. Toe het ek gedink: ‘Jehovah, u is die Bron van die lewe. Alles waarvoor u staan, is lewe. Ek het iets gevra wat in stryd is met u wil. Vergewe my asseblief!’”
Toe Nasho hoor dat die aantal verkondigers in Albanië tot 942 toegeneem het, het hy gesê: “Ons het uiteindelik ’n groot menigte in Albanië!” ’n Paar dae later is hy oorlede en het hy so sy aardse loopbaan voltooi.
DIE TRAZIRA—’N TYD VAN ANARGIE
Teen 1997 was uitbuiting, omkopery en korrupsie algemeen. Baie Albanese het alles wat hulle gehad het, verkoop en al hulle geld in kitsrykword-piramideskemas belê. Toe hulle hulle beleggings verloor, het die verbitterde burgers in die strate betoog.
Gedurende dieselfde tyd, terwyl ’n spesiale byeenkomsdag aan die gang was, het ’n suster wat vir ’n hooggeplaaste amptenaar gewerk het, vir die broers gesê dat die eerste minister op die punt staan om te bedank. Sy het uitgevind dat ongeëwenaarde geweld sou uitbreek. Die spesiale byeenkomsdagprogram is kortgeknip sodat die broers gou by die huis kon kom. Twee uur nadat die program geëindig het, was die land in ’n noodtoestand en is ’n aandklokreël ingestel.
Niemand het geweet wat eintlik aangaan nie. Baie gerugte het die ronde gedoen. Was dit buitelandse inmenging of plaaslike politiek? Die piramideskemas het ineengestort, en die meeste mense het alles verloor wat hulle belê het. Onluste het in Vlorë uitgebreek. Mense het by staatsarsenale ingebreek en al die wapens en ammunisie geplunder. Namate nuusuitsendings oor die gebeure berig gelewer het, het mense hulle in stad ná stad tot geweld gewend. Die land was in opskudding, en die polisie het beheer verloor. Gewapende opstand en anargie het Albanië verskeur.
Die meeste van die 125 buitelandse voltydse dienaars in Albanië het ter wille van veiligheid Tirana toe gegaan. Baie Albanese het buitelanders vir die gebeure blameer, en daarom was dit vir die buitelandse pioniers raadsaam om die land te verlaat. Omdat die lughawe gesluit was, is party van die Italiaanse pioniers na Durrës geneem, waar plaaslike gewapende mans in beheer was van die hawe. Nadat hulle 12 spanningsvolle ure gewag het, het die pioniers op ’n boot na hulle geboorteland geklim.
Die Landskomitee was elke dag telefonies in verbinding met broers in verskillende dele van die land. Soggens was daar ’n onheilspellende kalmte in die strate. Maar teen die middag het mense hulle wapens begin afvuur en dit regdeur die nag tot dagbreek gedoen. Party het selfs lugafweergeskut gehad. Die stryd het as die trazira, of onrus, bekend geword.
“DIT SAL JEHOVAH SE NAAM TOT EER STREK”
Arben Merko, een van die ses broers van Berat wat vir sy neutraliteit opgesluit is, vertel: “Daar was ’n gaatjie in my selmuur. ’n Man in die sel langsaan het gevra wie ek is.” Arben het weke lank vir hom getuig. Eendag was die stem weg.
Nadat Arben uit die tronk vrygelaat is, het ’n jong man na sy deur gekom. Arben het nie die man se gesig herken nie, maar sy stem was bekend—dit was die man wat in die tronksel langs syne was.
“Ek het dít vir jou kom gee”, het hy vir Arben gesê en vir hom ’n klankversterker gegee.
“Gedurende die trazira”, het hy vir Arben gesê, “het ek hierdie klankversterker uit julle Koninkryksaal gesteel. Maar wat jy my in die tronk vertel het, het my hart geraak. Ek het dit vir jou teruggebring omdat ek ’n skoon gewete voor God wil hê.”
Arben kon nie anders as om te dink aan Nasho Dori se laaste boodskap aan die groep jong handhawers van onkreukbaarheid nie: “Dit sal Jehovah se naam tot eer strek.”
JEHOVAH SE SKAPE WORD VERSORG
Die vertrek van die buitelandse ouer manne het die meeste gemeentes en groot groepe in die sorg van 19- en 20-jarige bedieningsknegte gelaat. Eendag het drie van hierdie jong broers, ondanks groot gevaar, van Vlorë na Tirana gereis. Die Landskomitee was besorg oor die voedseltekort en het gevra of die broers enige spesifieke materiële voorsienings nodig het.
“Ons het net nie meer velddiensrapportvormpies oor nie”, het die jong mans geantwoord. Soos bejaarde getroue knegte van jare gelede was hulle meer besorg oor geestelike behoeftes as oor fisiese behoeftes. Hulle het toe vertel dat baie mense weens al die vrees en onsekerheid positief op die goeie nuus reageer.
Kort ná die Gedenkmaal het die kantoor ’n telefoonoproep ontvang. “Ons is ’n groep van julle susters in Kukës”, het een van hulle gesê, “en sedert die pioniers teruggegaan het, hou ons die vergaderinge op ons eie.”
As gevolg van die beroeringe het die broers in Tirana kontak met die verkondigers in Kukës verloor. ’n Groep van sewe ongedoopte verkondigers het nietemin die Gedenkmaal op twee plekke gehou. Hoewel hulle bekommerd was dat hulle dalk nie die Gedenkmaal heeltemal reg gehou het nie, was hulle bly om die broers mee te deel dat 19 mense dit by die twee plekke bygewoon het. Verbasend genoeg, ondanks die aandklokreël en moeilike toestande in 1997 het 3 154 die Gedenkmaal regoor Albanië bygewoon. En die verkondigers het ten spyte van die anargie aangehou om te preek en vertroosting te bring, terwyl hulle omsigtigheid aan die dag gelê het.
Toe die Landskomitee uitvind dat die broers in Gjirokastër kos en lektuur nodig het, het hulle bespreek of dit veilig sou wees om ’n trokvrag voorraad soontoe te stuur. Hulle bespreking is egter onderbreek deur ’n suster wat gesê het dat ’n nuusomroepster wat moontlik nuttige inligting het, die broers kom spreek het.
Sonder dat die omroepster geweet het wat die komitee bespreek, het sy aanbeveel: “Wat julle ook al doen, moenie môre na die suide gaan nie. Ons het berigte ontvang dat iets gevaarliks in Tepelenë beplan word.” Aangesien die vragmotor op pad na Gjirokastër deur Tepelenë sou moes gaan, het die broers besluit om die rit te kanselleer.
Die volgende dag het ’n spesiale nuusuitsending kort ná elfuur berig dat ’n uiters gewelddadige en bloedige geveg in Tepelenë plaasgevind het en dat die brug in die stad opgeblaas is. Hoe dankbaar was die broers tog teenoor Jehovah dat hulle verhinder is om daardie dag soontoe te gaan!
Die Bethelgesin het weke lank regdeur die nag geweerskote gehoor, en hulle het dikwels oggendaanbidding gehou met die geluid van masjiengeweervuur en bomme in die agtergrond. Gewere is blindelings in die lug afgeskiet, en daar was altyd die gevaar van verdwaalde koeëls. Veiligheidshalwe het die Bethelgesin binnenshuis gebly, en die vertalers het op die vloer, weg van die vensters, gesit terwyl hulle met hulle werk voortgegaan het.
In April 1997 het 7 000 soldate van die Verenigde Nasies in die land aangekom om die orde te herstel. Teen Augustus was die VN-troepe alreeds uit Albanië, en dit was vir die broers moontlik om ’n streekbyeenkoms te reël. Die verkondigers was verheug; hulle kon maande lank net in klein groepies bymekaarkom.
Sommige van die busse wat die broers gehuur het om hulle na die byeenkoms te neem, is deur gewapende rowers voorgekeer. Maar toe hulle uitvind dat die passasiers Jehovah se Getuies is, het hulle gesê: “Julle is anders! Ons kan julle nie leed aandoen nie.”
Watter uitwerking het die trazira op die predikingswerk in Albanië gehad? Die gevaar en angs het nie die groei belemmer nie, maar het baie mense blykbaar net meer bewus gemaak van hulle geestelike behoefte. In net 15 maande het 500 nuwe verkondigers dus velddiens begin doen, wat die aantal verkondigers tot meer as 1 500 laat styg het.
KOSOVO IN DIE KOLLIG
Ná die trazira het die vuurwapens skynbaar verdwyn, en die gemeentes het aangehou groei. Maar probleme het skielik in die aangrensende Kosovo ontstaan. Die gevolge van die oorlog daar is in Albanië gevoel, aangesien ’n menigte vlugtelinge kort-kort oor die grens gestroom het. Die Albanese verkondigers het onmiddellik vir die vlugtelinge ’n boodskap van hoop asook vertroostende lektuur gegee. Hulle het ook goed omgesien na ’n groep van 22 wat uit Jehovah se Getuies en hulle kindertjies bestaan het.
In Augustus, toe die oorlog verby is, het die Kosovaarse broers na hulle huise teruggekeer, maar nie alleen nie. Hulle is vergesel van Albanese en Italiaanse broers, insluitende tien spesiale pioniers, wat nodige geestelike hulp wou voorsien. Teen die einde van die 1999-diensjaar was daar 1 805 verkondigers in Albanië en 40 in Kosovo.
GROTER GEESTELIKE STABILITEIT
“Ek is bly dat ons soveel vertaal”, het Nasho Dori voor sy dood gesê, “maar wat ons werklik nodig het, is die Nuwe Wêreld-vertaling—’n goeie Bybel waarop ons ons geloof kan bou!” Net drie jaar ná Nasho se dood, in 1999, het die Bestuursliggaam toestemming gegee dat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Albanees vertaal word.
By die streekbyeenkoms in 2000 het ’n wonderlike verrassing op die Albanese gehoor gewag—die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Albanees! Die hardwerkende vertaalspan het die projek met hart en siel aangepak en dit in net minder as ’n jaar voltooi. ’n Gewone pionier wat voorheen ’n kommunistiese parlementslid was, het geskryf: “Hoe wonderlik! Eers nadat ek hierdie vertaling bestudeer het, het ek waardeer hoe pragtig die Bybel is, met sy prosa, poësie en vloeiende vertellings. Toe ek gelees het hoe Jesus wonderwerke verrig het en hoe hy sleggesê en bespot is, het dit my dieper getref as ooit tevore. Ek kon my elke aangrypende toneel so duidelik voorstel!”
Teen hierdie tyd was daar 2 200 verkondigers in Albanië, en die Bethelgesin het tot 40 gegroei. Woonstelle is gehuur, maar nog ruimte was nodig. Gevolglik het die Bestuursliggaam toestemming gegee dat ’n stuk grond van drie hektaar aan die buitewyke van Tirana in Mëzez gekoop word. Om beter toesig te hou oor die groeiende veld in Albanië en Kosovo, het die Landskomitee in 2000 as ’n Takkomitee begin dien.
In September 2003, toe daar met die bou van die nuwe takfasiliteite begin is, was daar 3 122 verkondigers in Albanië. Terselfdertyd was die vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in Albanees goed op dreef. Nie net het die predikingswerk met rasse skrede gevorder nie, maar die verkondigers het ook prysenswaardige geestelike vooruitgang gemaak. Baie van die 20 jong mans wat die eerste klas van die Bedieningsopleidingskool in Augustus 2004 in Albanië bygewoon het, was tieners toe hulle ’n paar jaar tevore gedurende die trazira na gemeentes omgesien het. Hoe verheug was hulle tog nou om verdere teokratiese opleiding te ontvang!
‘DIE DUIWEL WAS KWAAD’
“Jehovah leer mense om selfmoord te pleeg!” het die koerantopskrifte in Februarie 2005 gesê. Nuusberigte op televisie en in koerante het valse gerugte versprei dat ’n tienermeisie wat selfmoord gepleeg het, een van Jehovah se Getuies was. Die meisie het in werklikheid nie gestudeer of vergaderinge bygewoon nie. Teenstanders het nietemin die voorval gebruik om ’n volskaalse aanval te loods.
Onderwysers het met Getuiekinders die spot gedryf. Broers het hulle werk verloor. Mense het daarop aangedring dat ons werk verbied moet word. Hoewel broers met die media probeer redeneer het, het die nuusberigte net erger geword.
Dit was duidelik dat Jehovah se knegte leiding en ondersteuning nodig gehad het om hierdie nuwe aanval die hoof te bied. Gevolglik het die takkantoor gereël dat ’n spesiale toespraak gehou word om te toon hoe belangrik dit is om aan te hou om die waarheid te verkondig om die giftige leuens teë te werk. Die broers is aangespoor om met mense te redeneer en nie voor mensevrees te swig nie. Hulle kon opregtes van hart daarop wys dat Jehovah se Getuies oor die afgelope paar jaar geweldig toegeneem het, wat nie die geval sou gewees het as Getuies selfmoord gepleeg het nie. Hierdie soort aanval was niks nuuts nie. Die broers is herinner aan die valse selfmoordberigte oor Spiro Vruho in die 1960’s. Die huidige berigte sou klaaglik misluk, en dit is presies wat gebeur het!
Net ’n paar maande later, in Augustus, het David Splane van die Bestuursliggaam die streekbyeenkoms tesame met 4 675 byeenkomsgangers van Albanië en Kosovo bygewoon. Die gehoor kon skaars hulle vreugde inhou toe broer Splane die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Albanees vrygestel het!
“Geen wonder Satan het so hard probeer om dinge vir ons moeilik te maak nie!” het ’n broer gesê wat Jehovah al lank dien. “Hy was kwaad omdat soveel goeie dinge met Jehovah se volk gebeur.”
Ondanks negatiewe berigte in die media het God se knegte in Albanië steeds sterker geword. Baie ongelowige mans en familielede wat besef het wat agter die valse nuusberigte skuil, het die Bybel begin studeer en verkondigers geword. Ten spyte van Satan se wreedste aanvalle is Jehovah se wil uitgevoer. Die Bethelgesin het in die nuwe takkantoor ingetrek, en die tweede klas van die Bedieningsopleidingskool het begin.
TOEWYDING VAN DIE TAKKANTOOR
In Junie 2006 was Theodore Jaracz en Gerrit Lösch, albei van die Bestuursliggaam, onder die 350 afgevaardigdes van 32 lande wat die toewyding van die nuwe takfasiliteite bygewoon het. Sotir Ceqi, wat in die 1940’s met elektriese skokke gemartel is, was ook by die toewyding. Hy is nou in sy laat 70’s en dien nog steeds met vreugde.
“Ek het net van hierdie dag gedroom”, het Frosina Xheka gesê, wat nog steeds lojaal dien ondanks dekades van groot ontbering. Polikseni Komino, Jani se weduwee, was daar om te vertel van haar dogters en kleindogter, wat as gewone pioniers dien. Ook Vasil Gjoka, nou geboë ná jare van lyding, was teenwoordig. Sy oë het vol trane geskiet terwyl hy vertel het van sy besoek aan Leonidha Pope en hoe hy in 1960 in die geheim gedoop is.
Die voormalige takkantoor in Tirana is in ’n Koninkryksaalkompleks en sendinghuis vir 14 sendelinge omskep. Ses klasse van die Bedieningsopleidingskool het ’n groep getroue, selfopofferende spesiale pioniers opgelewer wat ’n ontsaglike aanwins vir die Albanese veld is. Meer as 950 plaaslike gewone en spesiale pioniers weerspieël ’n soortgelyke ywerige evangelisasiegees.
DIE PAD VORENTOE
Ons broers en susters in Albanië het diep waardering vir die Bybel en die lektuur wat in hulle moedertaal vertaal is. Jehovah se werk in hierdie deel van die veld vorder steeds bestendig. Benewens die ywerige en bekwame manne wat opgelei word om teokratiese verantwoordelikhede te aanvaar, is “die vroue wat die goeie nuus verkondig, . . . ’n groot leër”.—Ps. 68:11.
Jehovah se Getuies in Albanië is ’n lewende bewys van hoe waar hierdie geïnspireerde woorde is: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie, en elke tong wat in die gereg teen jou sal opstaan, sal jy veroordeel. Dit is die erfbesitting van die knegte van Jehovah” (Jes. 54:17). Danksy Jehovah se onverdiende goedhartigheid en krag het hulle hulle onkreukbaarheid gehandhaaf ondanks ’n totalitêre bewind, marteling, afsondering, venynige mediaberigte en persoonlike probleme.
Jehovah se volk in Albanië gaan die toekoms tegemoet met absolute vertroue in God se lojale liefde en seën. Ten spyte van moeilikhede verheug hulle hulle in die voorreg om hulle hemelse Vader se hart bly te maak en in die hoop wat hulle voorgehou word (Spr. 27:11; Heb. 12:1, 2). Een ding wat oor en oor in Albanië se geskiedenis waar bewys is, is: Jehovah vergeet nooit die opofferings, groot en klein, wat sy lojale knegte, jonk en oud, maak nie.—Heb. 6:10; 13:16.
[Lokteks op bladsy 130]
Die titel is eers vertaal as Die kitaar van God
[Lokteks op bladsy 140]
“As jy ’n Christen was, sou jy geveg het, net soos die priesters!”
[Lokteks op bladsy 189]
“Ons het net nie meer velddiensrapportvormpies oor nie”
[Venster/Prent op bladsy 132]
’n Oorsig van Albanië
Land
Albanië is in die suidooste van Europa geleë, noord van Griekeland en oos van die hak van Italië se stewel. Dit beslaan ’n gebied van 28 750 vierkante kilometer, en sy 362 kilometer lange kus grens aan die Adriatiese en die Ioniese See. Wit sandstrande en blougroen water met ’n agtergrond van hoë berge versier Albanië se kusstreek, wat van Vlorë tot Sarandë strek. In die noorde van die land en in die binneland is daar talle ruwe bergreekse, terwyl daar in die suidweste vrugbare laaglande is, wat vir boerdery gebruik word.
Bevolking
Die bevolking word op 3 600 000 gestel en bestaan hoofsaaklik uit etniese Albanese, met ’n klein persentasie van Roma-, Griekse en Serwiese etniese groepe.
Klimaat
Op die suidelike kusvlaktes is die gemiddelde temperatuur in die somer 26 grade Celsius. Maar in die noordelike berge van Dibër kan die temperatuur in die winter tot minus 25 grade Celsius daal.
Voedsel
’n Pastei met ’n skilferkors en ’n vulsel van spinasie, kaas, tamaties en uie of ’n verskeidenheid ander groente- of vleisvulsels word byrek genoem. En hoender of lam wat in ’n geurige jogurt-en-dille-sous gebak is, word tava e kosit genoem. Albanese eet graag met ’n lepel, aangesien hulle baie sop en bredies eet. Wanneer lam by spesiale geleenthede op die spyskaart is, word die kop dikwels vir die eregas voorgesit. Twee van Albanië se talle nageregte is baklava (foto regs) en kadaif—gebakte tertdeeg wat met stroop of heuning en neute bedek is. Vir die Albanese is brood ’n stapelvoedsel. As jy vir iemand wil sê dat jy reeds geëet het, sê jy eenvoudig: “Hëngra bukë”, wat beteken: “Ek het brood geëet.”
[Venster/Prente op bladsy 134]
Vroeë streekbyeenkomste
Met die uitsondering van die Openbare Vergadering wat op Sondae in Albanees gehou is, het die Albanese in Nieu-Engeland, VSA, oor die algemeen met Engelse of Griekse gemeentes geassosieer. Gedurende die 1920’s en 1930’s het die Albanese streekbyeenkomste bygewoon wat in Grieks gehou is. Maar hulle was Albanees en was bly om ’n lapelkaart in hulle eie taal te hê waarop gestaan het: “Albanese Bybelstudente se driedaagse streekbyeenkoms”!
[Prente]
Lapelkaart (regs) wat Albanese broers (onder) in die laat 1920’s by ’n streekbyeenkoms in Boston gedra het
[Venster/Prente op bladsy 151, 152]
“Jehovah het ons nooit verlaat nie!”
FROSINA XHEKA
GEBORE 1926
GEDOOP 1946
PROFIEL Sy het die waarheid as tiener geleer. Hoewel haar ouers haar teëgestaan het, en die owerheid haar afgesonder het, het sy altyd na aan Jehovah en sy organisasie gevoel. Sy het in 2007 getrou gesterf.
◼ FROSINA het die waarheid in die 1940’s by haar broers geleer. Haar ouers, wat nie Getuies was nie, het haar uit die huis gesit omdat sy geweier het om tot ’n gereëlde huwelik in te stem. ’n Broer, Gole Flloko, het haar in sy gesin opgeneem en haar soos ’n dogter behandel.
“Eenkeer is ek in hegtenis geneem omdat ek geweier het om te stem”, het Frosina gesê. “Ek was alleen in ’n vertrek toe omtrent 30 polisiemanne my omring het. Een het geskreeu: ‘Het jy enige idee wat ons aan jou kan doen?’ Ek het gevoel dat Jehovah met my is en gesê: ‘Julle kan niks doen wat die Soewereine Heer Jehovah julle nie toelaat om te doen nie!’ Hulle het gedink dat ek van my verstand af is en het dus gesê: ‘Vat haar hier uit!’ Sien jy, ek was reg. Jehovah was met my!”
In 1957 het Frosina met Luçi Xheka getrou, en met verloop van tyd het hulle drie kinders gehad. In die vroeë 1960’s is Luçi as lid van die nuwe landskomitee aangestel, wat oor die werk in Albanië moes toesig hou. Kort daarna is hy gevonnis tot vyf jaar internim (internering) in Gramsh, ver van Frosina en die kinders af. Daar het Luçi voortgegaan om te preek en oor die organisasie te praat. Mense in Gramsh onthou hom tot vandag toe.
Omdat Luçi in internim was, het die Kommunistiese Party Frosina op die swartlys geplaas, en daarom kon sy nie amptelik kos koop nie. Frosina sê: “Dit het nie saak gemaak nie. Die paar broers het alles wat hulle gehad het, met my gedeel. Ons het klaargekom, want Jehovah het ons nooit verlaat nie!”
Ná Luçi se dood het sy minder kontak met die broers gehad. Maar Frosina het aangehou preek. Sy vertel: “John Marks het ons in die 1960’s besoek. Toe ek sy vrou, Helen, uiteindelik in 1986 ontmoet het, het dit gevoel asof ons mekaar al jare ken! Ek en Luçi het in die geheim boodskappe aan die Markse gestuur, en hulle het dit aan die broers in Brooklyn oorgedra.”
Toe die verbod in 1992 opgehef is, was Frosina een van die nege gedoopte Getuies wat nog in Albanië oor was. Sy het die vergaderinge gereeld bygewoon en was selfs die dag toe sy in 2007 gesterf het, uit in velddiens. Kort voor haar dood het Frosina gesê: “Ek het Jehovah met my hele hart lief! Dit het nooit eens by my opgekom om my geloof prys te gee nie. Ek het geweet dat ek ’n groot familie regoor die wêreld het, maar nou is dit vir my oorweldigend om te sien hoe groot ons teokratiese familie in Albanië is. Jehovah was altyd met ons, en hy hou ons nog steeds in sy liefdevolle hande!”
[Prent]
Frosina Xheka in 2007
[Venster/Prente op bladsy 159, 160]
Van min lektuur tot ’n oorvloed
VASIL GJOKA
GEBORE 1930
GEDOOP 1960
PROFIEL Hy het tydens die totalitêre bewind ferm standpunt vir die waarheid ingeneem. Vandag dien hy as ’n ouer man in Tirana.
◼ EK ONTHOU dat ek die Griekse Wagtoring in die 1930’s in my dorpie Barmash gesien het. My pa het na die tydskrif gewys en gesê: “Daardie mense is reg!” Ek het eers jare later verstaan wat hy bedoel het. Ek het dit geniet om die Bybel te lees, hoewel dit gevaarlik geword het om een te besit. By die begrafnis van ’n aangetroude familielid het ek ’n broer van Tirana ontmoet. Ek het hom gevra oor die teken van die “laaste dae” in Matteus hoofstuk 24. Hy het dit verduidelik, en ek het onmiddellik sover moontlik vir almal begin vertel wat ek leer.
In 1959 het ek saam met die broers ’n private vergadering by Leonidha Pope se woonstel bygewoon. Ek was besig om die boek Openbaring te lees en het gevra wat die wilde dier en Babilon die Grote is. Toe die broers dit aan my verduidelik het, het ek geweet dat ek die waarheid gevind het! Ek is ’n jaar later gedoop.
Ek het ywerig gepreek, en as gevolg daarvan is ek afgedank. Ek het toe ’n ou lendelam houtwa aangeskaf en goedere in Tirana afgelewer. Hoewel ek min kontak met die broers en geen lektuur gehad het nie, het ek aangehou preek.
In die vroeë 1960’s, voordat Leonidha Pope tot internim gevonnis is, het hy ’n paar Griekse publikasies wat in Albanië ingesmokkel is, in die hande te kry. Hy het dit hardop vertaal, en ek het wat hy gesê het, in ’n aantekeningboek neergeskryf. Daarna het ek, op sy versoek, afskrifte daarvan gemaak en dit aan ’n paar broers in Berat, Fier en Vlorë gestuur.
Watter veranderinge het tog sedert die 1990’s plaasgevind! Ek is verheug om die oorvloed lektuur te sien wat Jehovah ons gee. Vanaf 1992 tot vandag toe het ons oor die 17 miljoen tydskrifte in Albanees versprei! Die nuwe publikasies word in Albanees vertaal, en ons het die hele Nuwe Wêreld-vertaling in ons taal! Wanneer ek dink aan al die jare sonder lektuur, kan ek nie my trane van vreugde bedwing nie. Omdat ons so lank so min gehad het, het ons groot waardering daarvoor!
[Venster/Prente op bladsy 163, 164]
Ek het sinvolle werk in my geboorteland gevind
ARDIAN TUTRA
GEBORE 1969
GEDOOP 1992
PROFIEL Hy het die waarheid in Italië geleer en later na Albanië teruggekeer. Hy is ’n lid van die Takkomitee in Albanië.
◼ EK WAS 21 jaar oud toe ek Albanië in 1991 saam met duisende vlugtelinge verlaat het. Ons het ’n skip gekaap wat na Italië op pad was. Albanië was in ’n benarde toestand, en daarom was ek verheug dat ek uit die land kon padgee. Vir my was dit ’n droom wat bewaarheid is.
Ná twee dae in Brindisi, Italië, het ek uit die vlugtelingkamp weggeglip om werk te gaan soek. ’n Man het vir my ’n klein gefotokopieerde Bybelboodskap in Albanees gegee en my na ’n vergadering genooi wat daardie middag gehou sou word. My eerste gedagte was: ‘Waarom nie? Miskien sal iemand vir my werk gee!’
Ek het nooit verwag dat ek so vriendelik verwelkom sou word nie. Ná die vergadering by die Koninkryksaal het almal na my toe gekom, en hulle was vriendelik en liefdevol. ’n Gesin het my vir aandete genooi. Met watter vriendelikheid en waardigheid het hulle my—’n onversorgde, onwettige Albanese vlugteling—tog nie behandel nie!
By die volgende vergadering het Vito Mastrorosa vir my ’n Bybelstudie aangebied. Ek het dit aanvaar en het gou besef dat dít die waarheid is. In Augustus 1992 is ek in Italië gedoop.
’n Verblyfpermit is uiteindelik aan my uitgereik. Ek het ’n goeie werk gehad en het geld aan my familie in Albanië gestuur. Maar ek het begin dink: ‘Noudat die werk in Albanië wettig is, is daar ’n groot behoefte aan Koninkryksverkondigers. Moet ek teruggaan en daar dien? Maar hoe sal my familie reageer? Hulle het die geld nodig wat ek aan hulle stuur. Wat sal die mense sê?’
Toe het ek ’n telefoonoproep van die kantoor in Tirana ontvang om my te vra of ek bereid sou wees om soontoe te gaan en Albanees te leer aan ’n groep Italiaanse spesiale pioniers wat daardie November na Albanië sou verhuis. Hulle voorbeeld het my ernstig laat dink. Hulle was op pad na die gebied wat ek verlaat het. Hulle het nie die taal geken nie en tog was hulle verheug om te gaan. My taal en kultuur is Albanees. Wat het ek in Italië gedoen?
Ek het my besluit geneem en saam met daardie spesiale pioniers op die boot geklim. Ek het onmiddellik by die klein Bethel begin dien. In die oggend het ek Albanese lesse gegee en in die middag het ek saam met die vertaalspan gewerk. Aan die begin was my familie glad nie gelukkig nie. Maar toe hulle verstaan het waarom ek na Albanië teruggekeer het, het hulle na die goeie nuus begin luister. Kort voor lank is my ouers, twee susters en een van my broers gedoop.
Is ek spyt dat ek die werk en die geld in Italië prysgegee het? Nie vir ’n oomblik nie! Ek het sinvolle werk in Albanië gevind. Wat my betref, is die werk wat waarlik saak maak en wat blywende vreugde bring, heelhartige diens aan Jehovah!
[Prent]
Ardian saam met sy vrou, Noadia
[Venster/Prente op bladsy 173, 174]
Die einde van geheime veraderinge
ADRIANA MAHMUTAJ
GEBORE 1971
GEDOOP 1993
PROFIEL Sy is na ’n geheime vergadering genooi, en toe het dinge drasties verander. Sy dien tans as ’n spesiale pionier.
◼ TOE my neef in 1991 oorlede is, het ek gehoor hoe ’n vrou met die naam Barie my tante met gedagtes uit die Bybel bemoedig. Ek het dadelik vrae gevra en is genooi om haar vriendin Rajmonda by haar werksplek te ontmoet. Rajmonda se gesin het by die “klas” bymekaargekom. Rajmonda het vir my gesê dat ek ’n tyd lank Bybelbesprekings sal moet hê omdat nuwelinge nie dadelik in die klas toegelaat word nie. Ek het baie gehou van wat ek geleer het, en ek is kort voor lank toegelaat om die klas by te woon.
Die klas het bestaan uit ongedoopte mense wat oorspronklik saam met Sotir Papa en Sulo Hasani begin vergader het. Die Sigurimi het jare vroeër die klasse geïnfiltreer en die broers aan die polisie oorgelewer. Almal was dus op hulle hoede, en hulle was versigtig wie hulle na die vergaderinge genooi het!
By my eerste vergadering het ek gehoor dat ons ’n lys van ons vriende moet maak en vir hulle moet vertel wat ons leer. Ek het dadelik met Ilma Tani gepraat. Ná ’n kort rukkie is sy toegelaat om die klas by te woon. Ons klassie van 15 het vinnig gegroei.
In April 1992 het Michael en Linda DiGregorio Berat besoek. Ons is aangespoor om mense openlik na sy toespraak te nooi. Gevolglik het 54 mense gekom. Nie een van ons was gedoop nie. Ná hierdie vergadering het ons die DiGregorio’s ure lank met vrae bestook. Ons het uiteindelik geleer hoe ons groep veronderstel is om te funksioneer.
Jehovah se Getuies het kort hierna wetlike erkenning ontvang. Ek en Ilma, tesame met twee broers, het na Tirana gegaan om te leer hoe om van deur tot deur te preek. Ons is gevra om vir ander in Berat te wys wat ons geleer het. Ons het ons bes gedoen. Toe vier Italiaanse spesiale pioniers in Maart 1993 na Berat gestuur is, het die gemeente werklik vordering begin maak, met twee openbare vergaderinge per week.
Daardie Maart is ek en Ilma by die eerste spesiale byeenkomsdag in Tirana gedoop. Dit is deur 585 mense bygewoon. Ons het gewone pioniers geword en is kort daarna genooi om as die eerste plaaslike spesiale pioniers te dien. Niks is meer in die geheim gedoen nie. Ons is na Korçë gestuur.
Ilma is later getroud met Arben Lubonja, wat net ’n paar maande vroeër alleen in Korçë gepreek het. Hulle het uiteindelik kringwerk begin doen, en hulle dien nou by Bethel. Hoe bly is ek tog dat ek Ilma na daardie klas genooi het!
Terwyl ek onlangs saam met meer as 5 500 mense by ’n streekbyeenkoms gesit het, het ek aan ons geheime klas gedink. Watter veranderinge het Jehovah tog nie aangebring nie! Vergaderinge en byeenkomste word nou oop en bloot gehou. Hoewel honderde broers Berat as gevolg van die ekonomie verlaat het, is ons klassie nou vyf bedrywige gemeentes!
[Prent]
Ilma (Tani) en Arben Lubonja
[Venster/Prent op bladsy 183]
“Goed, kom ons gaan!”
ALTIN HOXHA EN ADRIAN SHKËMBI
GEBORE Albei in 1973
GEDOOP Albei in 1993
PROFIEL Hulle het die universiteit verlaat om te pionier, en hulle dien tans as gemeentelike ouer manne.
◼ VROEG in 1993 was hulle universiteitstudente in Tirana. ’n Vriend het ure lank met hulle gepraat oor wat hy by Jehovah se Getuies leer. Alles is deur die Bybel gestaaf. Hulle het later meer geleer, toegepas wat hulle geleer het en is dieselfde jaar gedoop. Daardie somer het hulle in Kuçovë gaan preek, waar daar geen verkondigers was nie.
Nadat hulle na Tirana teruggekeer het, het Adrian vir Altin gesê: “Wat doen ons op universiteit? Kom ons kry die werk behoorlik aan die gang in Kuçovë!”
Altin se antwoord was: “Goed, kom ons gaan!” Sewe maande ná hulle doop was hulle terug in Kuçovë.
Jehovah het hulle pogings ryklik geseën. Vandag is daar meer as 90 bedrywige verkondigers in Kuçovë. Ongeveer 25 Getuies van Kuçovë dien elders as pioniers of by Bethel. Adrian en Altin het met baie van hulle gestudeer.
Wanneer Altin aan die universiteit dink, glimlag hy en sê: “Die apostel Paulus het besluit om nie ’n wêreldse loopbaan na te streef nie, en in 1993 het ek ’n soortgelyke besluit geneem. Ek was nog nooit spyt dat ek gesê het: ‘Goed, kom ons gaan!’ nie.”
[Venster/Prente op bladsy 191, 192]
’n Onderrigter van ateïsme leer ander nou die waarheid
ANASTAS RUVINA
GEBORE 1942
GEDOOP 1997
PROFIEL Hy het ateïsme aan ondergeskiktes in die weermag geleer voordat hy die waarheid by sy kinders geleer het. Vandag dien hy as ’n ouer man en spesiale pionier.
◼ IN 1971 het ek, nadat ek aan die militêre akademie gegradueer het, ’n politieke brigadekommissaris geword. Hierdie term is gebruik omdat die regering militêre range in 1966 afgeskaf het. Een van my verantwoordelikhede was om diegene onder my bevel te indoktrineer met die ideologie dat God nie bestaan nie. Ek het die filosofie verkondig dat godsdiens die opium van die volk is.
Ek het ’n vrou en drie kinders. In 1992 het my seun, Artan, die godsdiensvergaderinge van Jehovah se Getuies in Tirana begin bywoon. Toe het hy sy suster Anila saamgeneem. Ek het gemeen dat hulle hulle tyd verkwis en baie dwaas is. Gevolglik was daar baie rusies in ons huis.
Eendag het ek uit nuuskierigheid ’n Wagtoring begin lees. Eienaardig genoeg, dit het redelik geklink. Maar al het Artan en Anila my bly aanspoor, wou ek nie die Bybel bestudeer nie. Ek het gereken dat jy nie die Bybel kan bestudeer as jy nie aan God glo nie. In 1995 is die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? in Albanees vrygestel. Artan en Anila het vir my ’n eksemplaar gegee. Dit is al wat nodig was om my te oortuig. God bestaan wel! Ek het geen verskoning meer gehad nie; ek moes studeer. Kort voor lank het my vrou, Lirie, ook begin studeer, en ons is oortuig van die waarheid.
Om eerlik te wees, ek het stadig vordering gemaak. Ek was 53 jaar oud. Dit was nie maklik om my politieke en militêre denkwyse te verander nie. Ek moet sê dat dit die Skepper, Jehovah, was wat my gehelp het om vordering te maak.
Ek wou nie ’n verkondiger word nie, want ek was bekommerd dat ek vir die einste mense sou moes preek aan wie ek ateïsme geleer het. Wat sou hulle dink? Eendag het Vito Mastrorosa gedurende ons studie vir my die verhaal van Saulus van Tarsus gelees. Dit het die gewenste uitwerking gehad! Saulus het Christene vervolg, maar het die waarheid geleer en toe gepreek. Ek het geweet dat ek dit ook met Jehovah se hulp kon doen.
Soms lag ek nog vir myself wanneer Jehovah my steeds help om minder streng, redeliker en minder soos ’n bevelvoerder te wees. Ek maak nietemin stadig maar seker vordering.
Ek stry nie meer met my kinders oor die waarheid nie. Inteendeel, ek is trots op hulle. Artan dien as ’n spesiale pionier en ouer man. Albei my dogters, Anila en Eliona, dien by Bethel in Tirana.
Ek en Lirie is spesiale pioniers. Ons beskou dit as ’n voorreg om mense die waarheid oor ons Grootse Skepper te leer en om die veranderinge in hulle lewe te sien. Wat ’n vreugde is dit tog om mense ware hoop te bied wat gegrond is op die beloftes van die enigste lewende en ware God, Jehovah!
[Prent]
Van links na regs: Artan, Anila, Lirie, Anastas, Eliona en haar man, Rinaldo Galli
[Tabel/Grafiek op bladsy 176, 177]
TYDLYN—Albanië
1920-1922 Albanese leer die waarheid in die Verenigde State.
1922 Thanas Idrizi keer terug na Gjirokastër met die waarheid.
1925 Drie klein Bybelstudieklasse funksioneer in Albanië.
1928 Die “Fotodrama van die Skepping” word in baie stede vertoon.
1930
1935-1936 ’n Grootskaalse predikingsveldtog word onderneem.
1939 Jehovah se Getuies word verbied.
1940
1940 Nege broers word opgesluit weens hulle neutraliteit.
1946 ’n Kommunistiese regering kom aan die bewind.
1950
1060
1960 ’n Landskomitee begin oor die werk in Albanië toesig hou.
1962 Lede van die komitee word na strafkampe gestuur.
1967 Albanië word amptelik ’n ateïstiese staat.
1980
1990
1992 Jehovah se Getuies word wetlik erken.
1996 Milton Henschel woon die toewyding van die eerste Bethel by.
1997 Die trazira begin.
2000
2005 Die volledige Nuwe Wêreld-vertaling word in Albanees vrygestel.
2006 Die takkantoor in Mëzez, Tirana, word toegewy.Albanië
2010
[Grafiek]
(Sien publikasie)
Aantal verkodingers
Aantal pioniers
4,000
3,000
2,000
1,000
1930 1940 1950 1960 1980 1990 2000 2010
[Kaarte op bladsy 133]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MONTENEGRO
KOSOVO
MASEDONIË
GRIEKELAND
Ioannina
Shkodër-meer
Ohrid-meer
Prespa-meer
ADRIATIESE SEE
ALBANIË
TIRANA
Shkodër
Kukës
Burrel
Mëzez
Durrës
Kavajë
Gramsh
Kuçovë
Fier
Berat
Korçë
Vlorë
Tepelenë
Këlcyrë
Barmash
Përmet
Gjirokastër
Sarandë
[Volbladillustrasie op bladsy 126]
[Prent op bladsy 128]
Nadat Thanas Idrizi die waarheid in Nieu-Engeland, VSA, geleer het, het hy die goeie nuus na Gjirokastër, Albanië, geneem
[Prent op bladsy 129]
Sokrat Duli het sy broer die waarheid geleer
[Prent op bladsy 137]
Nicholas Christo het die goeie nuus aan Albanese hooggeplaastes bekend gemaak
[Prent op bladsy 142]
Die brief van twee bladsye wat Albanese broers in Boston aan Enver Hoxha gestuur het
[Prent op bladsy 145]
Leonidha Pope
[Prent op bladsy 147]
“Jehovah het my geleer om nie te teken wat ek nie gesê het nie.”—Sotir Ceqi
[Prent op bladsy 149]
Helen en John Marks voordat hy na Albanië teruggekeer het
[Prent op bladsy 154]
Spiro Vruho het as ’n reisende opsiener gedien
[Prent op bladsy 157]
Llopi Bllani
[Prent op bladsy 158]
Al was Kulla Gjidhari alleen, het sy nog steeds die Gedenkmaal gehou
[Prent op bladsy 167]
Michael en Linda DiGregorio
[Prent op bladsy 172]
Bevel nr. 100 het wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies verleen
[Prent op bladsy 175]
Gemeentelike vergadering in die eerste Koninkryksaal, 1992, Tirana
[Prent op bladsy 178]
Areti Pina het getrou op haar eie gepreek
[Prente op bladsy 184]
’n Ou villa is in moderne kantore omskep
[Prent op bladsy 186]
“Moenie bekommerd wees as julle tronk toe gaan nie.”—Nasho Dori
[Prente op bladsy 194]
David Splane stel die volledige “Nuwe Wêreld-vertaling” in Albanees vry
[Prent op bladsy 197]
Sendelinge wat nou in Albanië dien
[Prente op bladsy 199]
Takkantoor in Albanië
Takkomitee: Artan Duka, Ardian Tutra, Michael DiGregorio, Davide Appignanesi, Stefano Anatrelli