Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 4 bl. 28-35
  • “Ongeleerde en gewone mense”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ongeleerde en gewone mense”
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nie “deur . . . eie krag” nie (Handelinge 3:11-26)
  • “Ons kan nie ophou praat . . . nie” (Handelinge 4:1-22)
  • Hulle het “tot God gebid” (Handelinge 4:23-31)
  • Aanspreeklik, nie teenoor mense nie, maar teenoor God (Handelinge 4:32–5:11)
  • Hy het vergewensgesindheid by sy Heer geleer
    Volg hulle geloof na
  • Hy het by sy Heer vergifnis geleer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hy het gestry teen vrees en twyfelgedagtes
    Volg hulle geloof na
  • Hy was lojaal ondanks beproewinge
    Volg hulle geloof na
Sien nog
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 4 bl. 28-35

HOOFSTUK 4

“Ongeleerde en gewone mense”

Die apostels tree moedig op, en Jehovah seën hulle

Gebaseer op Handelinge 3:1–5:11

1, 2. Watter wonderwerk het Petrus en Johannes naby die tempelpoort verrig?

DIE flou middagson skyn op die malende skare. Vroom Jode en dissipels van Christus stroom die tempelkompleks binne. Dit is kort voor “die uur van gebed” (Hand. 2:46; 3:1).a Te midde van hierdie mensemassa beweeg Petrus en Johannes stadig in die rigting van die tempelpoort wat Mooi genoem word. Die stem van ’n middeljarige bedelaar, wat van sy geboorte af kreupel is en om aalmoese roep, styg uit bo die lawaai van pratende mense en die geluid van skuifelende voete. – Hand. 3:2; 4:22.

2 Terwyl Petrus en Johannes nader kom, sê die bedelaar sy gewone rympie op om vir geld te vra. Die apostels gaan staan en kry die hoopvolle man se aandag. “Silwer en goud het ek nie,” sê Petrus, “maar wat ek het, gee ek vir jou. In die naam van Jesus Christus die Nasarener, loop!” Stel jou die verbasing van die skare voor wanneer Petrus die kreupel man by sy hand vat en die man – vir die eerste keer in sy lewe – regop staan! (Hand. 3:6, 7). Kan jy voor jou geestesoog sien hoe die man na sy geneesde bene afkyk en sy eerste versigtige treetjies gee? Dit is geen wonder nie dat hy begin rondspring en God luidkeels loof!

3. Watter voortreflike gawe kon die man wat kreupel was sowel as die skare ontvang?

3 Die opgewonde skare hardloop na Petrus en Johannes by Salomo se pilaargang. Hier, op dieselfde plek waar Jesus mense vroeër geleer het, lig Petrus hulle in omtrent die ware betekenis van wat so pas gebeur het (Joh. 10:23). Hy bied vir die skare en die man wat kreupel was, iets aan wat waardevoller is as silwer of goud. Hierdie gawe behels veel meer as herstelde gesondheid. Dit is die geleentheid om berou te toon, om hulle sondes uitgewis te kry en om volgelinge van Jehovah se aangestelde “Hoofbewerker van die lewe”, Jesus Christus, te word. – Hand. 3:15, vtn.

4. (a) Op watter konfrontasie sou die wonderdadige genesing uitloop? (b) Watter twee vrae sal ons beantwoord?

4 Wat ’n wonderlike dag! Een persoon is fisies genees en kan nou loop. Duisende ander is die geleentheid gegee om in geestelike sin genees te word sodat hulle kan wandel op ’n wyse wat God waardig is (Kol. 1:9, 10). Die gebeure van daardie dag sou ook uitloop op ’n konfrontasie tussen lojale volgelinge van Christus en mense in gesagsposisies wat hulle wou probeer keer om Jesus se opdrag om die Koninkryksboodskap te verkondig, uit te voer (Hand. 1:8). Wat kan ons leer uit die metodes wat Petrus en Johannes – “ongeleerde en gewone mense” – gebruik het en die gesindheid wat hulle geopenbaar het toe hulle vir die skare getuig het? (Hand. 4:13).b En hoe kan ons die manier navolg waarop hulle en die ander dissipels teenstand die hoof gebied het?

Nie “deur . . . eie krag” nie (Handelinge 3:11-26)

5. Wat leer ons uit die manier waarop Petrus die skare toegespreek het?

5 Petrus en Johannes het voor die skare gestaan en het geweet dat party van hulle moontlik onder dié was wat kort tevore daarop aangedring het dat Jesus doodgemaak moes word (Mark. 15:8-15; Hand. 3:13-15). Dink aan die moed wat Petrus aan die dag gelê het toe hy vreesloos gesê het dat die kreupel man in Jesus se naam genees is. Petrus het nie die waarheid afgewater nie. Hy het die skare se medepligtigheid aan die dood van Christus onomwonde veroordeel. Maar Petrus het geen vyandige gevoelens teenoor hierdie mense gekoester nie, want hulle het “nie geweet . . . wat [hulle] doen nie” (Hand. 3:17). Hy het met hulle gepraat as sy broers en op die positiewe aspekte van die Koninkryksboodskap gekonsentreer. As hulle berou getoon en geloof in Christus beoefen het, sou hulle “tye van verfrissing” van Jehovah ontvang (Hand. 3:19). Ons moet eweneens moedig en reguit wees wanneer ons God se naderende oordeel bekend maak. Terselfdertyd moet ons nooit vermetel, ongevoelig of veroordelend wees nie. Ons moet eerder die mense vir wie ons preek, as ons potensiële broers beskou; en soos Petrus, konsentreer ons op die positiewe aspekte van die Koninkryksboodskap.

6. Hoe het Petrus en Johannes nederigheid en beskeidenheid aan die dag gelê?

6 Die apostels was beskeie manne. Hulle het hulle nie die eer toegeëien vir die wonderwerk wat hulle verrig het nie. Petrus het vir die skare gesê: “Hoekom staar julle ons aan asof ons hom deur ons eie krag of toegewydheid aan God laat loop het?” (Hand. 3:12). Petrus en die ander apostels het geweet dat enigiets goeds wat hulle in hulle bediening bereik, te danke was aan God se krag, nie hulle eie nie. Hulle was dus beskeie en het al die lof vir hulle prestasies aan Jehovah en Jesus gegee.

7, 8. (a) Watter gawe kan ons vir mense aanbied? (b) Hoe word die belofte van “die herstel van alles” vandag vervul?

7 Ons moet ook sulke beskeidenheid aan die dag lê wanneer ons aan die Koninkrykspredikingswerk deelneem. God se gees stel hedendaagse Christene weliswaar nie in staat om wonderdadige genesings te verrig nie. Nietemin kan ons mense help om geloof in God en Christus aan te kweek en om dieselfde gawe te ontvang wat Petrus aangebied het – die geleentheid om vergifnis vir hulle sondes te verkry en om deur Jehovah verkwik te word. Elke jaar aanvaar honderdduisende hierdie aanbod en word hulle gedoopte dissipels van Christus.

8 Ons lewe inderdaad in die tyd “wanneer alle dinge herstel word” waarvan Petrus gepraat het. Ter vervulling van die woord wat “God deur middel van sy heilige profete van die ou tyd gepraat het”, is die Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig (Hand. 3:21; Ps. 110:1-3; Dan. 4:16, 17). Kort daarna het Christus begin toesig hou oor ’n geestelike herstellingswerk op die aarde. Gevolglik is miljoene in ’n geestelike paradys ingebring en het hulle onderdane van God se Koninkryk geword. Hulle het die ou, verdorwe persoonlikheid afgelê “en die nuwe persoonlikheid [aangetrek], wat in ooreenstemming met God se wil . . . geskep is” (Ef. 4:22-24). Net soos in die geval van die genesing van die kreupel bedelaar, word hierdie merkwaardige werk nie deur mensepogings verrig nie, maar deur God se gees. Soos Petrus, moet ons God se Woord moedig en doeltreffend gebruik om ander te leer. Enige sukses wat ons behaal om mense te help om dissipels van Christus te word, word deur God se krag bereik, nie ons eie nie.

“Ons kan nie ophou praat . . . nie” (Handelinge 4:1-22)

9-11. (a) Hoe het die Joodse leiers op Petrus en Johannes se boodskap gereageer? (b) Wat was die apostels vasbeslote om te doen?

9 Petrus se toespraak en die man wat kreupel was maar nou van vreugde uitgeroep en rondgespring het, het nogal ’n beroering veroorsaak. Gevolglik het die hoofman van die tempel – wat verantwoordelik was vir die veiligheid van die tempelgebied – en die hoofpriesters hulle daarheen gehaas om ondersoek in te stel. Hierdie manne was waarskynlik Sadduseërs, ’n ryk en polities magtige sekte wat vreedsame verhoudings met die Romeine probeer behou het, wat die mondelinge wet waarvoor die Fariseërs so lief was, verwerp het en wat geloof in die opstanding as belaglik beskou het.c Hoe moes dit hulle tog geïrriteer het toe hulle Petrus en Johannes in die tempel vind waar hulle moedig verkondig dat Jesus opgewek is!

10 Die woedende teenstanders het Petrus en Johannes in die tronk gestop en hulle die volgende dag voor die Joodse hooggeregshof gesleep. Uit die oogpunt van die snobistiese heersers was Petrus en Johannes “ongeleerde en gewone mense” wat geen reg gehad het om mense in die tempel te leer nie. Hulle het nie aan enige erkende godsdiensskool gestudeer nie. En tog was die hof verwonderd oor hulle uitgesprokenheid en hulle sterk oortuiging. Waarom was Petrus en Johannes so doeltreffend? Een rede was omdat hulle “saam met Jesus was” (Hand. 4:13). Hulle Heer het met ware gesag geleer, nie soos die skrifgeleerdes nie. – Matt. 7:28, 29.

11 Die hof het die apostels beveel om op te hou preek. In daardie gemeenskap het die hof se bevele groot gesag gedra. Net ’n paar weke vroeër het hierdie selfde liggaam aangaande Jesus gesê: “Hy verdien om te sterf” (Matt. 26:59-66). Maar Petrus en Johannes was nie geïntimideer nie. Toe hulle voor daardie ryk, geleerde en invloedryke manne gestaan het, het Petrus en Johannes vreesloos maar eerbiedig gesê: “Oordeel self of dit in God se oë reg is om na julle te luister eerder as na God. Maar ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” – Hand. 4:19, 20.

DIE HOËPRIESTER EN DIE HOOFPRIESTERS

Die hoëpriester het sy volk voor God verteenwoordig. In die eerste eeu HJ was hy ook die hoof van die Sanhedrin. Saam met hom was hoofpriesters, wat as leiers van die Jode gedien het. Onder hulle was voormalige hoëpriesters, soos Annas, sowel as ander volwasse mans van die families – moontlik maar net vier of vyf families – waaruit hoëpriesters gekies is. “Die blote feit dat iemand aan een van die bevoorregte families behoort het”, het die geleerde Emil Schürer geskryf, “het waarskynlik aan hom besondere vernaamheid [onder die priesters] gegee.”

Die Skrif toon dat hoëpriesters lewenslank gedien het (Num. 35:25). Maar gedurende die tydperk wat deur die boek Handelinge gedek word, het Romeinse goewerneurs en konings wat met die toestemming van Rome regeer het, hoëpriesters na willekeur aangestel en afgesit. Dit lyk egter of hierdie heidense heersers wel hulle kandidate gekies het uit die lyn van priesters wat van Aäron afgestam het.

12. Wat kan ons help om moed en oortuiging aan te kweek?

12 Kan jy soortgelyke moed aan die dag lê? Hoe voel jy wanneer jy die geleentheid kry om vir die rykes, die geleerdes of die invloedrykes in julle gemeenskap te getuig? Sê nou gesinslede, skoolmaats of werksmaats spot met jou oor jou oortuigings? Voel jy geïntimideer? Wees verseker dat jy sulke gevoelens te bowe kan kom. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy die apostels geleer hoe om hulle oortuigings met vertroue en op ’n respekvolle manier te verdedig (Matt. 10:11-18). Ná sy opstanding het Jesus sy dissipels belowe dat hy “al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” met hulle sal wees (Matt. 28:20). Onder Jesus se leiding leer “die getroue en verstandige slaaf” ons hoe om ons oortuigings te verdedig (Matt. 24:45-47; 1 Pet. 3:15). Dit word gedoen deur onderrigting by gemeentelike vergaderinge, soos Ons Christelike Lewe en Bediening, en deur Bybelpublikasies, soos die “Antwoorde op Bybelvrae”-artikels op die jw.org-webwerf. Maak jy goeie gebruik van hierdie voorsienings? As jy dit doen, sal dit jou moed en oortuiging vergroot. En soos die apostels, sal jy nie toelaat dat enigiets jou keer om oor die wonderlike geestelike waarhede te praat wat jy gesien en gehoor het nie.

’n Suster getuig vir ’n kollega gedurende hulle teetyd.

Laat niks jou daarvan weerhou om te praat oor die wonderlike geestelike waarhede wat jy geleer het nie

Hulle het “tot God gebid” (Handelinge 4:23-31)

13, 14. Wat moet ons doen as ons voor teenstand te staan kom, en waarom?

13 Onmiddellik nadat hulle uit aanhouding vrygelaat is, het Petrus en Johannes saam met die res van die gemeente vergader. Saam het hulle “tot God gebid” vir moed om aan te hou preek (Hand. 4:24). Petrus het maar alte goed geweet hoe dwaas dit is om op jou eie vermoë te vertrou wanneer jy God se wil probeer doen. Net ’n paar weke vroeër het hy vol selfvertroue vir Jesus gesê: “Al struikel al die ander as gevolg van u, sal ek nooit struikel nie!” Maar soos Jesus voorspel het, het Petrus kort daarna voor mensevrees geswig en sy vriend en leermeester verloën. Maar Petrus het uit sy fout geleer. – Matt. 26:33, 34, 69-75.

14 Vasbeslotenheid alleen sal ’n mens nie help om te volhard terwyl jy jou opdrag vervul om ’n getuie van Christus te wees nie. Wanneer teenstanders probeer om jou geloof af te breek of jou te laat ophou preek, moet jy die voorbeeld van Petrus en Johannes volg. Bid tot Jehovah vir krag. Soek die gemeente se ondersteuning. Vertel die ouermanne en ander ryp persone van jou probleme. Die gebede van ander kan jou grootliks onderskraag. – Ef. 6:18; Jak. 5:16.

15. Waarom kan diegene wat vroeër ’n tyd lank opgehou het om te preek, moed skep?

15 As jy vroeër voor druk geswig en ’n tyd lank opgehou het om te preek, kan jy moed skep. Onthou, ná Jesus se dood het al die apostels ’n ruk lank opgehou om te preek, maar hulle het gou weer bedrywig geraak (Matt. 26:56; 28:10, 16-20). Kan jy, in plaas daarvan om toe te laat dat foute uit die verlede jou onderkry, eerder uit die ondervinding leer en daardie lesse gebruik om ander te versterk?

16, 17. Wat kan ons leer uit die gebed van Christus se volgelinge in Jerusalem?

16 Waarvoor moet ons bid wanneer diegene in gesagsposisies ons onderdruk? Let daarop dat die dissipels nie gevra het om van beproewinge gespaar te word nie. Hulle het goed onthou dat Jesus gesê het: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Joh. 15:20). Hierdie lojale dissipels het Jehovah eerder gevra om ‘aandag te skenk’ aan die dreigemente van die teenstanders (Hand. 4:29). Die dissipels het die geheelbeeld duidelik gesien en besef dat die vervolging waarvoor hulle te staan gekom het, in werklikheid ter vervulling van profesie was. Hulle het geweet dat God se wil ‘op die aarde sou plaasvind’, soos Jesus hulle leer bid het, ongeag wat blote menseheersers sê. – Matt. 6:9, 10.

17 Sodat hulle God se wil kon doen, het die dissipels tot Jehovah gebid: “Help u slawe om u woord moedig te verkondig.” Wat was Jehovah se onmiddellike reaksie? “Die plek waar hulle bymekaargekom het, [het] geskud, en hulle is almal met die heilige gees gevul en het die woord van God moedig verkondig” (Hand. 4:29-31). Niks kan keer dat God se wil uitgevoer word nie (Jes. 55:11). Ongeag hoe onmoontlik dit lyk, ongeag hoe sterk die teenstander, as ons God in gebed nader, kan ons seker wees dat Hy ons die krag sal gee om Sy woord moedig te bly verkondig.

Aanspreeklik, nie teenoor mense nie, maar teenoor God (Handelinge 4:32–5:11)

18. Wat het lede van die gemeente in Jerusalem vir mekaar gedoen?

18 Die jong gemeente in Jerusalem het kort voor lank tot meer as 5 000 lede gegroei.d Ten spyte van hulle uiteenlopende agtergronde was die dissipels “een van hart en siel”. Hulle was verenig in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang (Hand. 4:32; 1 Kor. 1:10). Die dissipels het nie net tot Jehovah gebid om hulle pogings te seën nie. Hulle het mekaar geestelik ondersteun, asook materieel, wanneer dit nodig was (1 Joh. 3:16-18). Die dissipel Josef, wat deur die apostels die bynaam Barnabas gegee is, het byvoorbeeld van sy grond verkoop en die hele bedrag onselfsugtig geskenk sodat dié wat van verre lande gekom het, langer in Jerusalem kon bly om meer oor hulle nuwe geloof te leer.

19. Waarom het Jehovah Ananias en Saffira tereggestel?

19 ’n Egpaar genaamd Ananias en Saffira het ook ’n eiendom verkoop en ’n bydrae gegee. Hulle het voorgegee dat hulle die hele bedrag gegee het; maar hulle het “in die geheim van die geld teruggehou” (Hand. 5:2). Jehovah het hierdie egpaar met die dood gestraf, nie omdat hulle te min gegee het nie, maar omdat hulle beweegrede goddeloos was en hulle bedrieglik gehandel het. Hulle “het nie vir mense gelieg nie, maar vir God” (Hand. 5:4). Soos die huigelaars wat deur Jesus veroordeel is, was Ananias en Saffira meer besorg daaroor om deur mense vereer te word as om God se goedkeuring te verkry. – Matt. 6:1-3.

20. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons aan Jehovah gee?

20 Met dieselfde mededeelsame gees as dié van die getroue dissipels in eerste-eeuse Jerusalem ondersteun miljoene hedendaagse Getuies die wêreldwye predikingswerk deur vrywillige bydraes te gee. Niemand word gedwing om sy tyd of sy geld ter ondersteuning van hierdie werk te gee nie. Trouens, Jehovah wil nie hê dat ons hom teësinnig of onder dwang moet dien nie (2 Kor. 9:7). Wanneer ons wel iets gee, stel Jehovah nie belang in hoeveel ons gee nie, maar in ons beweegrede (Mark. 12:41-44). Ons wil nooit soos Ananias en Saffira wees en toelaat dat eiebelang of eersug die dryfkrag agter ons diens aan God word nie. Mag ons diens aan Jehovah eerder altyd gemotiveer word deur opregte liefde vir God en ons medemens, soos die geval was met Petrus, Johannes en Barnabas. – Matt. 22:37-40.

PETRUS – VAN VISSERMAN TOT DINAMIESE APOSTEL

Petrus word in die Skrif deur vyf name geïdentifiseer. Hy staan bekend as Simeon in Hebreeus en die Griekse ekwivalent, Simon, en ook as Petrus en die Semitiese ekwivalent, Sefas. Die apostel word ook geïdentifiseer as Simon Petrus, ’n kombinasie van twee name. – Matt. 10:2; Joh. 1:42; Hand. 15:14.

Die apostel Petrus dra ’n mandjie vol vis.

Petrus was getroud, en sy skoonma en broer het by hom gebly (Mark. 1:29-31). Hy was ’n visserman van Betsaida, ’n dorp aan die noordekant van die See van Galilea (Joh. 1:44). Hy het later daar naby in Kapernaum gewoon (Luk. 4:31, 38). Jesus het in Petrus se boot gesit toe hy ’n menigte toegespreek het wat op die oewer van die See van Galilea bymekaargekom het. Onmiddellik daarna het Petrus op Jesus se bevel ’n wonderbaarlike visvangs ingetrek. Petrus het uit vrees op sy knieë neergeval, maar Jesus het vir hom gesê: “Hou op om bang te wees. Van nou af sal jy mense lewend vang” (Luk. 5:1-11). Petrus het saam met sy broer Andreas, sowel as Jakobus en Johannes, visgevang. Al vier het hulle vissersonderneming agtergelaat toe hulle Jesus se uitnodiging aanvaar het om sy volgelinge te word (Matt. 4:18-22; Mark. 1:16-18). Omtrent ’n jaar later was Petrus onder die 12 wat deur Jesus gekies is om sy “apostels” te wees, wat ‘uitgestuurdes’ beteken. – Mark. 3:13-16.

Jesus het dikwels vir Petrus, Jakobus en Johannes gekies om tydens spesiale geleenthede by hom te wees. Hulle het Jesus se gedaanteverandering gesien, was by toe hy Jaïrus se dogtertjie opgewek het en was saam met hom bedroef in die tuin van Getsemane (Matt. 17:1, 2; 26:36-46; Mark. 5:22-24, 35-42; Luk. 22:39-46). Dieselfde drie, saam met Andreas, het Jesus uitgevra oor die teken van sy teenwoordigheid. – Mark. 13:1-4.

Petrus was reguit, dinamies en soms impulsief. Dit lyk asof hy dikwels vóór die ander apostels gepraat het. Sy woorde is meer dikwels in die Evangelies opgeteken as dié van die ander 11 apostels tesame. Petrus het vrae gestel wanneer die ander stilgebly het (Matt. 15:15; 18:21; 19:27-29; Luk. 12:41; Joh. 13:36-38). Dit was hý wat beswaar gemaak het toe Jesus sy voete wou was en toe, nadat hy tereggewys is, gevra het dat Jesus ook sy hande en kop was! – Joh. 13:5-10.

Sterk gevoelens het Petrus beweeg om Jesus te probeer oortuig dat Hy nie sou ly en sterf nie. Jesus het hom ferm tereggewys oor hierdie gebrek aan goeie oordeel (Matt. 16:21-23). Gedurende Jesus se laaste nag op die aarde het Petrus gesê dat hy Jesus nooit sou verlaat nie, al sou al die ander apostels dit doen. Toe Jesus se vyande Hom in hegtenis geneem het, is Petrus deur moed beweeg om Jesus met die swaard te verdedig en om hom later tot in die voorhof van die hoëpriester te volg. Maar nie lank daarna nie het Petrus sy Heer drie keer verloën en toe bitterlik gehuil toe hy besef wat hy gedoen het. – Matt. 26:31-35, 51, 52, 69-75.

Kort voordat Jesus die eerste keer ná sy opstanding aan sy apostels in Galilea verskyn het, het Petrus gesê dat hy gaan visvang, en ander apostels het by hom aangesluit. Toe Petrus Jesus op die strand herken, het hy impulsief in die water gespring en strand toe geswem. By die ontbyt van vis wat Jesus vir sy apostels voorberei het, het Jesus vir Petrus gevra of hy hom liewer het as “hulle” – dit wil sê die vis wat voor hulle gelê het. Jesus het Petrus aangespoor om te kies om hóm voltyds te volg eerder as om ’n loopbaan te volg, soos een in die vissersbedryf. – Joh. 21:1-22.

Omstreeks 62-64 HJ het Petrus die goeie nuus verkondig in Babilon, in hedendaagse Irak, waar ’n groot Joodse bevolking was (1 Pet. 5:13). In Babilon het Petrus die eerste en moontlik ook die tweede van die twee geïnspireerde briewe geskryf wat sy naam dra. Jesus het aan Petrus “die krag gegee . . . vir ’n apostelskap onder dié wat besny is” (Gal. 2:8, 9). Petrus het sy opdrag met medelye en ywer uitgevoer.

JOHANNES – DIE DISSIPEL VIR WIE JESUS LIEF WAS

Die apostel Johannes was ’n seun van Sebedeus en die broer van die apostel Jakobus. Sy ma se naam was blykbaar Salome, wat dalk die suster van Maria, die ma van Jesus, was (Matt. 10:2; 27:55, 56; Mark. 15:40; Luk. 5:9, 10). Johannes was dus moontlik familie van Jesus. Johannes se familie was blykbaar welaf. Sebedeus se vissersonderneming was groot genoeg om gehuurde werkers te hê (Mark. 1:20). Salome het saam met Jesus gereis, hom bedien wanneer hy in Galilea was en later speserye gebring om Jesus se liggaam vir die begrafnis voor te berei (Mark. 16:1; Joh. 19:40). Johannes het heel waarskynlik sy eie huis gehad. – Joh. 19:26, 27.

Die apostel Johannes hou ’n boekrol vas.

Johannes was moontlik die dissipel van Johannes die Doper wat by Andreas gestaan het toe Johannes die Doper na Jesus gekyk en gesê het: “Kyk, die Lam van God!” (Joh. 1:35, 36, 40). Ná hierdie bekendstelling het Johannes, die seun van Sebedeus, klaarblyklik saam met Jesus na Kana gegaan en was hy ’n ooggetuie van Jesus se eerste wonderwerk (Joh. 2:1-11). Die lewendige en volledige beskrywings wat Johannes van Jesus se latere bedrywighede in Jerusalem, Samaria en Galilea verskaf, gee te kenne dat die Evangelieskrywer ook hierdie gebeurtenisse eerstehands gesien het. Die geredelikheid waarmee Johannes – soos ook Jakobus, Petrus en Andreas – sy visnette, boot en lewensonderhoud agtergelaat het toe Jesus hom geroep het om Sy volgeling te wees, lewer bewys van sy geloof. – Matt. 4:18-22.

Johannes is nie so prominent soos Petrus in die Evangelieverslae nie. Maar Johannes het ook ’n sterk persoonlikheid gehad, soos gesien kan word aan die bynaam wat Jesus aan hom en sy broer Jakobus gegee het – Boanerges, wat “seuns van die donder” beteken (Mark. 3:17). Aanvanklik het Johannes vernaamheid nagestreef, en hy en sy broer het selfs hulle ma oorreed om Jesus te vra om aan haar seuns bevoorregte posisies in sy Koninkryk te gee. Hoewel dit ’n selfsugtige begeerte was, was dit ook ’n aanduiding van hulle geloof in die werklikheid van die Koninkryk. Die broers se ambisie het Jesus die geleentheid gegee om al sy apostels te vermaan oor die belangrikheid van nederigheid. – Matt. 20:20-28.

Johannes het sy sterk persoonlikheid geopenbaar toe hy probeer keer het dat ’n sekere man wat nie een van Jesus se volgelinge was nie, demone in Sy naam uitdryf. By ’n ander geleentheid was Johannes gereed om vuur uit die hemel neer te roep om die inwoners van ’n Samaritaanse dorpie te vernietig wat hulle nie wou ontvang toe Jesus boodskappers gestuur het om vir hom voorbereidings te tref nie. Jesus het Johannes vir hierdie reaksies bestraf. Mettertyd het Johannes klaarblyklik die balans en barmhartigheid aangekweek wat hy vroeër blykbaar nie gehad het nie (Luk. 9:49-56). Ten spyte van sy tekortkominge was Johannes egter “die dissipel vir wie Jesus lief was”. Daarom het Jesus, toe Hy sterwend was, sy ma, Maria, in Johannes se sorg gelaat. – Joh. 19:26, 27; 21:7, 20, 24.

Johannes het langer as al die ander apostels gelewe, net soos Jesus voorspel het (Joh. 21:20-22). Johannes het Jehovah sowat 70 jaar lank getrou gedien. Naby die einde van sy lewe, gedurende die heerskappy van die Romeinse keiser Domitianus, is Johannes na die eiland Patmos verban “omdat [hy] oor God gepraat en van Jesus getuig het”. Daar het Johannes, in ongeveer 96 HJ, die visioene ontvang wat hy in die boek Openbaring opgeteken het (Op. 1:1, 2, 9). Volgens oorlewering het Johannes ná sy vrylating na Efese gegaan, waar hy die Evangelie geskryf het wat sy naam dra, asook die briewe wat as 1, 2 en 3 Johannes bekend staan, en het hy omstreeks 100 HJ in Efese gesterf.

a Gebede is saam met die oggend- en aandoffers by die tempel gedoen. Die aandoffer is op “die negende uur”, of omtrent drie-uur die middag, gebring.

b Sien die vensters “Petrus – Van visserman tot dinamiese apostel” en “Johannes – Die dissipel vir wie Jesus lief was”.

c Sien die venster “Die hoëpriester en die hoofpriesters”.

d Daar was moontlik in 33 HJ net omtrent 6 000 Fariseërs en nog minder Sadduseërs in Jerusalem. Dit kan nog ’n rede wees waarom hierdie twee groepe al hoe meer bedreig gevoel het deur die leringe van Jesus.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel