Papoea-Nieu-Guinee
IN DIE verre verlede het talle groepe mense—oor ’n tydperk van baie jare—suidwaarts deur Asië gemigreer op soek na ’n nuwe tuiste. Aan die oostelike punt van die Maleisiese argipel het hulle op Nieu-Guinee afgekom, ’n ruie tropiese eiland—die tweede grootste in die wêreld.a Hulle het met die bedompige kuslyn langs getrek en hulle in die uitgestrekte moerasse, in die digte oerwoude en op die verspreide buite-eilande gevestig. Party het teen die bergagtige rug opgetrek om op die matige hooglande met hulle breë valleie en vrugbare grond te gaan woon.
Die bevolking het nie ’n verenigde volksgroep gevorm nie, maar het bestaan uit meer as duisend klein stamme wat dikwels teen mekaar geveg het. Hulle het verskillende gebruike gehad, kenmerkende klere gedra en meer as 800 tale gepraat. Die meeste groepe het in ingeslote grondgebiede gewoon wat hulle met alle mag verdedig het, heeltemal onbewus van die buitewêreld. Baie het geglo dat daar agter die horison ’n ryk van demone en afgestorwe voorouers lê wat hulle lewe ten kwade of ten goede beïnvloed. Mense se lewe het daarom gedraai om hierdie geeste te paai.
Die bevolking het ook in voorkoms verskil—met die uitsondering van een algemene kenmerk. Jorge de Meneses, ’n Portugese amptenaar wat in 1526 ’n besoek daar afgelê het, het hierdie kenmerk opgemerk en die eiland Ilhas dos Papuas genoem, wat “die land van die kroeshaarmense” beteken. Die Spaanse seevaarder Ynigo Ortiz de Retes het gedink dat die eilanders soos die inwoners van Guinee, Wes-Afrika, lyk en het die eiland dus Nueva Guinea, of Nieu-Guinee, genoem.
In die 19de eeu het Europese magte die eiland in drie verdeel. Die Nederlanders, wat eerste daar aangekom het, het beslag gelê op die westelike helfte, wat vandag deel van Indonesië is. Die Britte en die Duitsers het die oostelike helfte verdeel in Brits-Nieu-Guinee in die suide (wat later Papoea genoem is) en Duits-Nieu-Guinee in die noorde (later, Nieu-Guinee). Ná die Eerste Wêreldoorlog het albei hierdie gebiede onder Australiese beheer gekom. Uiteindelik, in 1975, het Papoea en Nieu-Guinee verenig om die onafhanklike nasie Papoea-Nieu-Guinee te vorm.b
Vandag is Papoea-Nieu-Guinee nog steeds besig om deel van die moderne wêreld te word. Party van die burgers lewe in moderne stede omring deur hipertegnologiese geriewe. Maar 4 uit 5 van die bevolking woon in bosdorpies waar die lewe oor honderde jare min verander het en die besit van varke ’n aanduiding van rykdom is, die bruidsprys algemeen is, spiritisme wydverspreid is en stamlojaliteit van die allergrootste belang is.
Maar in onlangse dekades het ’n belangriker verandering in hierdie land van kontraste plaasgevind, ’n verandering wat opregte mense uit alle etniese groepe raak en hulle lewe op tallose maniere verbeter. Dit is ’n geestelike verandering wat spruit uit die studie en toepassing van die waarhede wat in God se Woord, die Bybel, gevind word.—Rom. 12:2.
VROEË DRAERS VAN GOEIE NUUS
Bybelwaarheid het Papoea-Nieu-Guinee in 1932 bereik toe ’n Britse pionier met die naam Peck sy reis na Maleia (nou Maleisië) hier onderbreek het. Peck, wat nooit ’n geleentheid laat verbygaan het nie, het etlike weke lank vir die plaaslike mense gepreek. Hy het honderde stukke Bybellektuur versprei voordat hy na sy toewysing vertrek het.
Drie jaar later het sewe pioniers aan boord die gemotoriseerde kaag Lightbearer in Port Moresby vasgemeer om hulle beskadigde motor te herstel. Gedurende die maand dat hulle daar was, het hulle ywerig in Port Moresby en die omgewing gepreek. Een van hulle, Frank Dewar, ’n geharde Nieu-Seelander, het met ’n vrag boeke na die binneland gestap en tot 50 kilometer van die kus af Bybellektuur by mense gelaat.
Van hierdie lektuur het in die hande van Heni Heni Nioki, ’n toordokter van die Koiari-stam, beland. Daarna het die Bybelwaarhede wat hy geleer het, sluimerend in sy hart gelê totdat Jehovah se Getuies teruggekeer en die geplante saad natgemaak het.—1 Kor. 3:6.
Gedurende die laat 1930’s het ’n ander pionier ’n uitgebreide predikingstog onderneem wat die hoofdorpe in Papoea-Nieu-Guinee, insluitende die eilande Nieu-Brittanje, Nieu-Ierland en Bougainville, gedek het. Hy het baie Bybellektuur versprei. Maar voordat ander op sy pogings kon voortbou, is die gebied in die chaos van die Tweede Wêreldoorlog gedompel.
PREDIKINGSWERK IN DIE “GROOT DORP”
Twaalf jaar later, op 22 September 1951, het ’n lang Australiër per vliegtuig in die drukkende hitte in Port Moresby aangekom. Tom Kitto—’n 47-jarige Getuie—het gehoor gegee aan die uitnodiging wat aan vrywilligers gerig is om die Koninkrykswerk op die eilande van die Stille Oseaan te begin doen. Sy vrou, Rowena, het ses weke later by hom aangesluit. Hulle gebied het die hele Papoea-Nieu-Guinee ingesluit.
Die Kitto’s het gou agtergekom dat die meeste Europeërs in Port Moresby nie in die Koninkryksboodskap belangstel nie. Maar toe het hulle Geoff Bucknell, ’n mede-Australiër, ontmoet wat as jong man van die waarheid weggedryf het. Geoff het ’n studie aanvaar en het later ’n getroue Getuie geword, en sy vrou, Irene, ook.
Tom en Rowena het toe na Hanuabada verhuis, ’n naam wat “groot dorp” beteken in Motu, die plaaslike taal. Die dorp, wat oor die Port Moresby-hawe gestrek het, het bestaan uit honderde huise op houtpale wat verbind is deur lang plankpaadjies wat tot op die strand geloop het. “Mense het om ons saamgedrom om die goeie nuus te hoor”, skryf Rowena. “Daar was soveel belangstelling dat ons elke aand teruggegaan het om Bybelstudies te hou, en in twee maande het ons net twee aande oorgeslaan.” Tom voeg by: “Die hoop van die opstanding en lewe op ’n paradysaarde het werklik by hierdie mense byval gevind. Toe sendelinge van die Christendom en ’n plaaslike polisieman druk op hulle geplaas het om op te hou studeer, het almal sonder uitsondering geweier om dit te doen. Die waarheid het reeds diep in hulle harte wortelgeskiet.”
Onder dié wat hulle standpunt vir die waarheid ingeneem het, was Raho en Konio Rakatani, Oda Sioni, Geua Nioki en haar man, Heni Heni, wat 16 jaar vroeër lektuur by die bemanning van die Lightbearer gekry het. Kort voor lank het ’n groep van sowat 30 belangstellendes gereelde vergaderinge by Heni Heni se huis bygewoon. “Mans en vroue het apart aan teenoorgestelde kante van die vertrek gesit”, vertel Oda Sioni, wat destyds ’n jong seun was. “Die vroue het grasrompe sonder bloese gedra, en hulle het hulle babas in kleurvolle sakke van tou gedra wat hulle aan die dakbalke in die vertrek gehang het. Nadat hulle hulle babas geborsvoed het, het hulle hulle in die sakke gesit en hulle liggies aan die slaap gewieg.”
Tom Kitto het hierdie vergaderinge met behulp van ’n tolk gehou. Dinge het natuurlik nie altyd glad verloop nie. “By een vergadering het Heni Heni se broer, Badu Heni, as tolk gedien”, vertel Don Fielder, wat in 1953 daar aangekom het. “Dinge het skynbaar goed verloop, met Badu wat Tom se woorde getolk en selfs sy gebare nageboots het. Eers later het Badu erken dat hy nie ’n woord verstaan het van wat Tom gesê het nie. Hy het net die waarhede wat hy geken het, oorvertel en Tom se gebare nageboots sodat die toespraak reg lyk.” Ondanks hierdie uitdagings het die groep vinnig gegroei, en daar was weldra ’n tweede groep by Raho Rakatani se huis, wat ook in Hanuabada was.
“KOM LEER MY MENSE”
Vroeg in 1952 het Bobogi Naiori, ’n Koiari-stamhoof en prominente toordokter, Heni Heni—sy wantok, of stamgenoot—besoek en ’n vergadering by sy huis bygewoon. Beïndruk deur wat hy gesien en gehoor het, het Bobogi later na Tom Kitto toe gegaan en gesmeek: “Kom leer my mense asseblief van die waarheid!”
Kort daarna het Tom en Rowena met hulle ou bakkie oor modderige grondpaaie gery na Bobogi se huis in Haima, ’n dorpie ongeveer 25 kilometer noord van Port Moresby. Tom het vir die vergaderde dorpsbewoners gepreek terwyl Bobogi getolk het. Gevolglik het sowat 30 mense die Bybel begin studeer.
Later daardie maand het die groep in Haima ’n saaltjie vir Christelike vergaderinge gebou. “Die saal het ’n houtraamwerk, ’n grasdak en mure van gevlegte bamboes gehad wat tot by jou middellyf gestrek het”, vertel Elsie Horsburgh, wat later hier vergaderinge bygewoon het. “Sitplekke gemaak van boomtakke, ’n paraffienlamp en ’n klein swartbord het die somtotaal van die meubels uitgemaak.” Hierdie beskeie geboutjie het die eerste Koninkryksaal in Papoea-Nieu-Guinee geword.
Toe wou Bobogi hê dat sy wantoks in die nabygeleë berge ook die goeie nuus moet hoor. Hy en Tom het dus ’n steil bergpad na die Sogeriplato aangepak. Kort voor lank het hulle met meer as 90 mense in drie dorpies gestudeer.
Hierdie bedrywighede het nie onopgemerk by die regeringsowerheid verbygegaan nie. In Ioadabu het ’n regeringsbeampte by die vergaderplek ingebars, en hy wou weet wie Jehovah se Getuies die toestemming gegee het om die dorpsbewoners te onderrig. Die polisie het ook ’n hele paar belangstellendes oor ons werk uitgevra. Party dorpspredikante en plantasie-eienaars het die broers selfs met geweld gedreig.
Party belangstellendes het voor hierdie druk geswig. Maar ’n kerngroepie het vasgestaan. In 1954 is die eerste doopplegtigheid in Papoea-Nieu-Guinee gehou, en 13 Bybelstudente is in die Lalokirivier by Haima gedoop. Bobogi was een van hulle en het gesê: “Al hou al die Koiari’s op, sal ek nie, want ek weet dat dit die waarheid is.” Net soos hy gesê het, het Bobogi sy onkreukbaarheid gehandhaaf en tot sy dood in 1974 getrou as ’n ouer man in die Haima-gemeente gedien.
ONVERGEETLIKE SAMEKOMSTE
In Julie 1955 het John Cutforth, ’n Kanadese sendeling wat in Australië gedien het, in Port Moresby aangekom as die eerste kringopsiener. John het dadelik van die trope, die lewenswyse daar en die nederige mense gehou. Min het hy geweet dat hy meer as 35 jaar in Papoea-Nieu-Guinee sou dien.
John het The New World Society in Action, ’n dokumentêre film oor die organisatoriese werk en byeenkomste van Jehovah se Getuies, saam met hom gebring. Gedurende sy drie week lange besoek het hy die film 14 keer vertoon aan gehore wat gewissel het van ’n paar honderd mense tot byna 2 000. Dit het ’n groot impak op die plaaslike bevolking gehad, van wie baie nog nooit tevore ’n film gesien het nie.
John se besoek het geëindig met ’n eendaagse kringbyeenkoms in Haima. “Toe die doopkandidate gevra is om op te staan, . . . het sewentig dit gedoen!” vertel Tom Kitto. “Ons harte het letterlik oorgeloop van dankbaarheid toe ons veertig broers en dertig susters in ’n ry langs die oerwoudrivier sien staan het, gereed om hulle toewyding aan Jehovah te simboliseer.”
Die volgende jaar het die broers reëlings getref om ’n tweede kringbyeenkoms in Haima te hou. Bobogi, die hoofman, is gevra om die nodige fasiliteite te bou en kos voor te berei vir dié wat dit sou bywoon. Drie dae voor die byeenkoms het John (Ted) Sewell, die nuwe kringopsiener uit Australië, Bobogi kom sien om die voorbereidings te bespreek.
“Wat het jy gebou?” het Ted met die deur in die huis geval.
“Nog niks nie”, het Bobogi geantwoord.
“Maar dis al Donderdag, Bobogi, en die byeenkoms is Sondag!” het Ted uitgeroep.
“Moenie bekommerd wees nie, broer”, het Bobogi geantwoord. “Ons sal Saterdag alles doen.”
Ted was geskok en het na Port Moresby teruggekeer, oortuig dat die byeenkoms ’n organisatoriese ramp sou wees.
Daardie Sondag was hy baie senuweeagtig toe hy na Haima gery het om te sien wat gedoen is. Wat ’n verandering! Onder ’n boom met uitgespreide takke, voor ’n groot uitgekapte oopte, het ’n stewige houtverhoog gestaan. ’n Entjie verder was daar klipkookgate, waarin varke, wallabies, takbokke, duiwe, vis, jams en patats gebraai is. Teeketels het op ’n oop vuur gekook. Skares mense het vreugdevol gestaan en gesels by ’n kafeteria wat van materiaal uit die bos gebou is. En daar, te midde van al die bedrywighede, het Bobogi gestaan, heel ontspanne. Ted was verstom!
“Bobogi, waar het jy geleer om dit alles te doen?” het hy oorbluf gevra.
“O, ek het dit alles in die film gesien wat John Cutforth laas jaar vir ons gewys het”, het Bobogi geantwoord.
Meer as 400 mense van agt etniese groepe het hierdie byeenkoms bygewoon, en 73 is gedoop. In latere jare is dit Bobogi se byeenkoms genoem.
PREDIKINGSWERK MET PRENTE
In 1957 het John Cutforth permanent na Papoea-Nieu-Guinee verhuis en daar in die reisende werk begin dien. Sedert sy eerste besoek het hy lank en diep gedink oor die beste manier om vir die plaaslike mense te preek, van wie die meeste ongeletterd was. Nou was hy gereed om sy idees op die proef te stel.
Wanneer John ’n gemeente of afgesonderde groep toegespreek het, het hy eers sy naam en die naam van sy tolk op ’n swartbord geskryf. Dan het hy na die hemel gewys en die gehoor gevra: “God se naam?” Hy het hulle antwoord “Jehovah” sowel as “Psalm 83:18” bo-aan die swartbord geskryf. Daaronder, aan die linkerkant, het hy dan die opskrif “Ou wêreld” geskryf en stokfigure van twee mans wat baklei, iemand wat huil asook ’n graf geteken en “Romeine 5:12” geskryf. Aan die regterkant het hy die opskrif “Nuwe wêreld” geskryf en twee mans geteken wat hand skud, asook ’n glimlaggende gesig en ’n graf wat doodgetrek is en “Openbaring 21:4” geskryf. Daarna het hy ’n lewendige toespraak gehou om die tekeninge te verduidelik. Dan het hy mense uit die gehoor genooi om vorentoe te kom en sy aanbieding te herhaal. Wanneer hulle dit bemeester het, het hy hulle genooi om dieselfde prente op ’n stuk papier te teken en dit in hulle predikingswerk te gebruik.
“Prentepreek nommer een”, soos dit genoem is, het ’n groot impak op die predikingswerk in Papoea-Nieu-Guinee gehad. Ander preke met prente het weldra gevolg. “Ons het ure daaraan bestee om hierdie prentepreke in skryfboeke oor te teken. Elke Bybelstudent het ’n eksemplaar ontvang, wat hy gebruik het om vir ander te preek”, sê Lena Davison, wat 47 jaar lank in die land gedien het. Kinders het hulle eie prenteboeke gemaak en dit met groot trots ingekleur.
Hierdie onderrigmetode is ook vir gemeentelike vergaderinge aangepas. “Swartbordtekeninge is algemeen gedurende die Openbare Vergadering en Wagtoring-studie gebruik, en dit het dié wat nie kon lees nie, grootliks gehelp”, verduidelik Joyce Willis, ’n Kanadese pionier wat meer as 40 jaar in Papoea-Nieu-Guinee was. Prentepreke wat op seildoek geverf is, is ook by byeenkomste as onderrigmiddele gebruik. “Hierdie groot prente was baie gewild en het belangrike onderrigpunte in die verstande van die gehoor ingeprent”, sê Mike Fisher, wat daar in die kringwerk gedien het. “Baie van hierdie prente het in die huise van afgesonderde verkondigers beland, waar hulle dit opgehang en trots gebruik het om vir besoekers te getuig.”
Dekades later, toe meer mense geleer lees en skryf het en geïllustreerde lektuur algemeen beskikbaar geword het, is prentepreke nie meer gebruik nie.
DIE GETUIENISWERK BREI UIT
Gedurende die laat 1950’s het ’n bestendige stroom ywerige Australiërs na Papoea-Nieu-Guinee verhuis, gretig om die goeie nuus te verkondig. Daarbenewens het baie mense wat die waarheid in Port Moresby geleer het, met die Koninkryksboodskap na hulle dorpies teruggekeer. Die goeie nuus het dus vinnig deur die hele land versprei.
In 1957 het David Walker, ’n 26-jarige Australiese broer wat in Port Moresby gewoon het, gehoor dat mense in die aangrensende dorpie Manu Manu en in die Gabadistreek in die waarheid belangstel. David het uit sy werk bedank, spesiale pionierdiens begin doen en ’n jaar lank in die gebied gepreek, waar hy die hele tyd alleen gewerk het. Ander het later op sy pogings voortgebou, en nou is daar ’n gemeente en ’n Koninkryksaal in Manu Manu.
Intussen het Don Fielder, terwyl hy op die Koki-mark in Port Moresby gepreek het, etlike vissermanne ontmoet wat in die waarheid belanggestel het. Die mans was van Hula, ’n kusdorpie omtrent 100 kilometer na die ooste. Om hulle en hulle gesinne verder te help, het Don, tesame met Athol (Dap) Robson en ’n paar belangstellendes van Hula, in Don se nuwe agt meter lange dubbelrompkano na Hula geseil. Hulle het drie dae in Hula gebly en ’n studiegroepie daar begin.
Kort daarna het Don as ’n spesiale pionier na Hula getrek, tesame met sy vrou, Shirley, en hulle tweejarige dogtertjie, Debbie. “Ons het ’n klein hut gebou en in die vyf dorpies in die omgewing begin preek”, vertel Don. “Dit beteken dat ons elke dag omtrent 12 kilometer geloop het. Dit was fisies uitputtend maar geestelik verkwikkend, aangesien ons baie Bybelstudies begin het en daar kort voor lank agt nuwe verkondigers was wat saam met ons gewerk het.”
Don en Shirley se predikingswerk het die plaaslike predikant van die Verenigde Kerk woedend gemaak, en hy het druk geplaas op die man op wie se grond hulle gebly het, om vir hulle te sê dat hulle hulle hut moet verwyder. “Toe mense van ’n nabygeleë dorpie hiervan hoor, was hulle baie kwaad omdat hulle nie wou hê dat ons moet weggaan nie”, sê Don. “Omtrent 20 van hulle het ons gehelp om ons hut—met fondasie en al—te skuif na ’n ander stuk grond wat aan hulle dorpie behoort het.”
Die woedende predikant het nie tou opgegooi nie. Hy het by die owerheid van Port Moresby aangedring om die Fielders te verbied om hulle hut op enige plek in die distrik op te rig. “In plaas van ons toewysing te verlaat”, sê Don, “het ons vir Alf Green, ’n bedrewe timmerman, gevra om hout van ons hut te gebruik om ’n klein vertrek op ons dubbelrompkano te bou. Toe het ons die kano in ’n wortelboommoeras naby die mond van ’n nabygeleë rivier vasgemeer. Daar, tussen swerms muskiete en loerende krokodille, het ons die volgende twee en ’n half jaar lank gewoon terwyl ons gepionier het.” Toe hulle tweede dogter, Vicki, gebore is, het die Fielders na Port Moresby teruggekeer. Later het hulle aan die reisende werk deelgeneem, en Don het op die Takkomitee gedien.
ANDER HOOR DIE GOEIE NUUS
Omstreeks dié tyd het Lance en Daphne Gosson in Port Moresby met etlike jong mans begin studeer wat van Kerema gekom het, ’n kusdorpie ongeveer 225 kilometer wes van Port Moresby. Toe die mans met vakansie huis toe gegaan het, het Lance en Jim Chambliss besluit om hulle twee weke lank te besoek om die goeie nuus in Kerema te verkondig.
“Die hele dorpie het bymekaargekom om na ons te luister”, skryf Lance. “Terwyl ons gepraat het, het die plaaslike predikant van die Londense Sendinggenootskap daar ingestorm en ons tolk aangeval. Hy het hom ’n paar keer met die vuis geslaan voordat die dorpsbewoners ingegryp het. Hy het volgehou dat die plaaslike mense ons nie daar wil hê nie en het ons beveel om ‘sy’ gebied te verlaat. Ons het gesê dat dié wat na ons wil luister, saam met ons na die ander kant van die dorpie kan gaan en dat die res by hom kan bly. Die hele dorpie het ons gevolg.
“Die volgende oggend het ons na die distrikskommissaris gegaan om die voorval aan te meld. Op pad soontoe het ons ’n vrou teëgekom wat baie siek was. Ons het aangebied om haar na die plaaslike hospitaal te neem, maar sy was bang om te gaan. Eers ná baie oorreding het sy uiteindelik ingestem om saam met ons te gaan. Nadat ons haar in die sorg van die hospitaaldokter gelaat het, is ons na die distrikskommissaris toe, wat beslis nie ons besoek verwelkom het nie. Trouens, hy het ons woedend daarvan beskuldig dat ons mense leer om nie mediese hulp te aanvaar nie! Maar juis op daardie oomblik het die hospitaaldokter ingestap en sy beskuldiging gehoor. Hy het vir die kommissaris gesê dat ons kort tevore ’n siek vrou oortuig het om vir mediese behandeling hospitaal toe te gaan. Tot die kommissaris se eer moet gesê word dat hy dadelik om verskoning gevra het. Hy het vir ons gesê dat die plaaslike Katolieke priester hom so pas besoek het en leuens oor ons opvattings vertel het. Toe het hy twee gewapende polisiemanne die opdrag gegee om ons teen verdere moeilikheid te beskerm. Dit was nogal ’n ondervinding om twee polisiemanne met gewere te hê wat tydens ons Bybelstudies bysit!”
Kort daarna is twee jong Australiërs, Jim Smith en Lionel Dingle, as spesiale pioniers na Kerema gestuur. Hulle het onmiddellik die plaaslike taal Tairuma begin leer. “Ons het elke woord in Motu gesê, en ons Bybelstudente het vir ons gesê wat die ekwivalente woord in Tairuma is, wat ons dan neergeskryf het”, verduidelik Jim. “Op hierdie manier het ons ’n klein woordeskat opgebou en ’n eenvoudige Bybelaanbieding gememoriseer. Die plaaslike mense was verbaas om ons hulle taal te hoor praat, aangesien geen ander Europeërs in die streek dit kon doen nie. Ná drie maande het ons aan albei kante van Keremabaai weeklikse vergaderinge in Tairuma gehou.”
Later het Glenn Finlay, nog ’n jong Australiese pionier, by Jim en Lionel oorgeneem en 18 maande lank alleen in Kerema gepreek. “Dit was vir my ’n moeilike tyd”, sê Glenn, “en soms het ek gewonder of my werk enigiets bereik. Maar toe is my beskouing verander deur ’n voorval wat my nederig laat voel het.
“Een van my Bybelstudente was ’n bejaarde dorpsbakker genaamd Hevoko. Hy was heeltemal ongeletterd, en ná etlike maande kon hy net ’n paar basiese waarhede onthou. Ek het gewonder of dit die moeite werd is om hom te leer. Maar toe ek een oggend naby sy huis kom, het ek ’n stem gehoor en stilgestaan om te luister. Dit was Hevoko wat hardop tot Jehovah gebid het en Hom met ’n ernstige stem gedank het dat Hy hom die waarheid oor Sy naam en die Koninkryk geleer het. Sy opregte gebed het my daaraan herinner dat Jehovah na mense se harte kyk, nie na hulle intellek nie. Hy weet goed wie hom liefhet.”—Joh. 6:44.
’N VRAGKULTUS
In 1960 het twee ander Australiese spesiale pioniers, Stephen Blundy en Allen Hosking, verhuis na Savaiviri, ’n dorpie omtrent 50 kilometer oos van Kerema. Nadat hulle drie maande lank in ’n tent gebly het, het Stephen en Allen na ’n boshuisie op ’n kokosplantasie getrek, wat deur ’n groot moeras omring is.
Savaiviri was ’n bekende vesting van die vragkultus. Hoe het hierdie kultus ontstaan? Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die plaaslike mense hulle verwonder oor die groot rykdom, of die vrag, waarmee oorsese soldate gekom het. Toe het die oorlog geëindig, en die soldate het hulle goed gepak en vertrek. Party dorpsbewoners het geredeneer dat die vrag, aangesien dit van oor die horison—die rigting van die geestewêreld—gekom het, ongetwyfeld deur hulle afgestorwe voorouers aan hulle gestuur is, maar dat die soldate dit onderskep het. Om die geeste van hulle behoefte bewus te maak, het die mense driloefeninge met nagemaakte militêre toerusting uitgevoer en stewige kaaie gebou om voor te berei vir die glorieryke dag wanneer daar ’n stortvloed van nuwe vrag sou kom.
Kort voor lank het Stephen en Allen met ongeveer 250 lede van die vragkultus gestudeer, insluitende die leier en ’n paar van sy “twaalf apostels”. “Baie van hierdie mense het in die waarheid gekom”, vertel Stephen. “Trouens, die plaaslike staatspatrolliebeampte het vir ons gesê dat ons predikingswerk grootliks tot die ondergang van die Savaiviri-vragkultus bygedra het.”
DIE PUBLISERING VAN BYBELLEKTUUR
Daardie vroeë pioniers het gou die waarde daarvan ingesien om Bybellektuur in die plaaslike tale te vertaal. Maar hoe kon hulle lektuur aan 820 verskillende taalgroepe voorsien?
In 1954 het Tom Kitto die eerste stap gedoen deur te reël dat plaaslike broers ’n hoofstuk van die boek “Laat God waaragtig wees”c vertaal in Motu, die inheemse taal wat in Port Moresby gepraat is. Meer as tweehonderd eksemplare van hierdie gemimeografeerde hoofstuk met die titel “’n Nuwe Aarde” is in die vorm van ’n pamflet versprei, waaroor baie Motusprekende mense verheug was.
Toe die werk in nuwe gebiede begin is, het pioniers geswoeg en gesweet om lektuur in ander inheemse tale te vertaal. Jim Smith vertel: “Deur nuwe woorde en uitdrukkings neer te skryf, het ek sorgvuldig ’n Tairuma-woordeboek en aantekeninge oor grammatika saamgestel, wat ek gebruik het om Wagtoring-studieartikels te vertaal. Ek het dikwels tot laat in die nag gewerk om vertaalde artikels op velle papier te tik, wat uitgedeel is aan mense wat die vergaderinge bygewoon het. Later het ek ’n traktaat en ’n boekie in Tairuma vertaal. Daardie vroeë publikasies het baie mense van Kerema gehelp om die waarheid te leer.”
Ander publikasies is in Hula en Toaripi uitgegee. Aangesien dit onmoontlik gelyk het om publikasies in elke taal te druk, het die broers later hulle pogings toegespits op die twee handelstale—Hiri Motu en Tok Pisin. Hiri Motu, ’n vereenvoudigde vorm van Motu, is deur baie mense langs die kus van Papoea gepraat. “Ons het hard gewerk om die geskrewe vorm van hierdie taal te verbeter”, sê Don Fielder. “Trouens, Die Wagtoring en ons ander publikasies in Hiri Motu het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van die taal in sy huidige verstaanbare vorm.” Tok Pisin—’n mengsel van Duits, Engels, Kuanua en ander tale—word algemeen in die hooglande, kusgebiede en eilande van noordelike Papoea-Nieu-Guinee gepraat. Hoe het die predikingswerk in dié gebied met sy groot verskeidenheid mense begin?
DIE GOEIE NUUS VERSPREI NOORDWAARTS
In Junie 1956 was die pas getroude Ken en Rosina Frame die eerste Getuies wat verhuis het na Nieu-Ierland, ’n eiland in die Bismarck-argipel in die noordooste van Papoea-Nieu-Guinee. Ken, ’n rekenmeester, het by ’n groot handelsmaatskappy in Kavieng, die hoofdorp op die eiland, gewerk. “Voordat ons uit Sydney weg is”, vertel Ken, “is daar vir ons gesê dat ons die mense eers aan ons moet laat gewoond raak voordat ons openlik begin preek. Rosina was ’n goeie kleremaakster en het weldra baie klante gehad. Ons het informeel vir hulle getuig, en kort voor lank het ’n groepie belangstellendes een keer per week onopsigtelik by ons huis bymekaargekom.
“Agtien maande later het John Cutforth, die kringopsiener, ons besoek en gevra of hy die film The Happiness of the New World Society kan vertoon. Ek het met die eienaar van die plaaslike bioskoop gepraat, en hy het ingestem om ons gratis ‘sending’-film verniet te vertoon. Sy personeel het ander ongetwyfeld van die vertoning vertel. Toe ons by die bioskoop aankom, was daar ’n klomp mense by die ingang, en die polisie moes ons help om in te kom. Meer as 230 mense het die vertoning bygewoon, buiten dié wat deur die oop vensters gekyk het. Hierna het ons vryeliker gepreek.”
In Julie 1957 is ’n gemeente gestig in Rabaul, Nieu-Brittanje, ’n pragtige hawedorp wat tussen twee aktiewe vulkane lê. Die Rabaul-gemeente het vergader in die agterplaas van ’n huis wat deur spesiale pioniers gehuur is. “Meer as honderd mense het elke aand na die huis gekom om die Bybel te studeer”, sê die pionier Norm Sharein. “Ons het hulle in groepe van ongeveer 20 verdeel en hulle by lamplig onder die bome geleer.”
Toe die gemeente hulle eerste kringbyeenkoms gehou het, is sewe mense by ’n plaaslike strand gedoop. Vyf van hulle het kort daarna begin pionier. Maar waar kon hulle ten beste dien? Die Australiese takkantoor het die antwoord verskaf—Madang.
In Madang, ’n dorpie aan die noordooskus van die hoofeiland, was die “lande” wit vir die oes (Joh. 4:35). Trouens, die klein groepie verkondigers daar het gesukkel om al die belangstellendes te help. Toe die Kanadese pionier Matthew Pope en sy gesin daar aangekom en ’n huis met etlike hutte in die agterplaas gekoop het, kon meer pioniers soontoe gestuur word.
Agt pioniers uit Rabaul het soontoe gegaan en op verskillende plekke in die Madangdistrik gaan dien. Een van hulle, Tamul Marung, het ’n fiets in die hande gekry en is met ’n kusboot na Basken, sy tuisdorpie, 48 kilometer noord van Madang. Nadat hy in Basken gepreek het, het hy met sy fiets teruggery na Madang en getuig so ver hy gegaan het. Toe het hy na Basken teruggekeer, ’n gemeente begin en nog 25 jaar lank gepionier. Gedurende hierdie tyd het hy getrou en ’n gesin grootgemaak. Sy dogter en sy broer se dogter het later by Bethel gedien.
Intussen het John en Lena Davison in Madang vir Kalip Kanai ontmoet, ’n onderwyser van Talidig, ’n dorpie tussen Basken en Madang. Kort voor lank het John en Lena gereeld na Talidig gery om met Kalip en sy familielede te studeer. Dit het die skoolinspekteur, ’n Katoliek, woedend gemaak, en hy het die polisie beveel om Kalip en sy familielede uit hulle huise te sit. Dit het die groep nie afgeskrik nie, en hulle het na Bagildig, ’n naburige dorpie, getrek en ’n florerende gemeente geword. Hulle het later ’n groot Koninkryksaal gebou wat vir kring- en streekbyeenkomste gebruik is. Nou is daar sewe gemeentes en twee groepe in die Madangdistrik.
Terwyl die predikingswerk in Madang gevorder het, het Jim Baird en John en Magdalen Endor goeie vooruitgang gemaak in Lae, ’n groot kusdorp sowat 210 kilometer na die suidooste. “Ons het feitlik elke aand met groot groepe mense by ons huis gestudeer. Binne ses maande het tien van ons Bybelstudente saam met ons velddiens begin doen”, vertel John. Later daardie jaar het meer as 1 200 mense ’n vertoning van die film The New World Society in Action in Lae se bioskoop bygewoon. Baie in die gehoor was kontrakwerkers wat die goeie nuus na hulle afgeleë bergdorpies teruggeneem het.
Verder van Lae af na die binneland het ywerige verkondigers ook goeie werk gedoen. By Wau het Jack Arifeae, ’n groot man met ’n ronde gesig en ’n ware ywer vir Jehovah se diens, ’n florerende gemeente in sy huis begin. Omtrent 30 lede van die Kukukukustam—wat vroeër gevreesde kannibale was—het ook die Bybel gestudeer en goeie geestelike vooruitgang gemaak.
Intussen, in die naburige Boelolo, het die ywerige predikingswerk van Wally en Joy Busbridge hulle die woede van die Nuwe Stamme-sending op die hals gehaal, wat die omgewing as hulle uitsluitlike gebied beskou het. As gevolg van druk wat op hom uitgeoefen is, het Wally se werkgewer ’n ultimatum aan hom gestel: “Gee jou godsdiens op, of gaan soek ander werk.” Wally en Joy het na Lae verhuis en aangehou preek. Hulle het later die voltydse bediening betree en jare lank in die reisende werk gedien.
Die mense van Popondetta, ’n dorpie suidoos van Lae, het die goeie nuus by Jerome en Lavinia Hotota gehoor, wat van Port Moresby na hulle tuisprovinsie teruggekeer het. Jerome was ’n man met groot inisiatief en het die Skrif met oorredingskrag gebruik, terwyl Lavinia ’n goedhartige vrou was wat opregte belangstelling in ander getoon het. Toe hulle begin preek het, het die Anglikaanse biskop en ’n groot groep van sy volgelinge, soos verwag kan word, gou by hulle huis opgedaag om te eis dat hulle daarmee ophou. Maar Jerome en Lavinia het hulle nie laat intimideer nie. Hulle het aangehou preek en ’n klein maar ywerige gemeente begin.
Teen 1963 het die goeie nuus Wewak, ’n dorpie aan Papoea-Nieu-Guinee se afgeleë noordkus, bereik. Karl Teynor en Otto Eberhardt, twee Duitse bouers, het bedags aan die Wewak-hospitaal gewerk en saans en oor naweke met meer as 100 belangstellendes gestudeer. Hulle predikingswerk het die plaaslike Katolieke priester briesend kwaad gemaak, en hy het ’n skare bymekaargemaak en Karl en Otto se motorfietse in die see gegooi. Een van die priester se handlangers, ’n prominente dorpsleier, het ’n seun gehad wat later ’n Getuie geword het. Die veranderinge wat die man in sy seun se lewenswyse gesien het, het hom beïndruk en sy gesindheid laat versag, en hy het die Getuies toestemming gegee om in die dorpies onder sy beheer te preek.
’N TAKKANTOOR WORD GESTIG
Terwyl die geestelikes met die Getuie-“probleem” geworstel het, het die broers hulle op die hoogste gesag beroep om ‘die goeie nuus wetlik te bevestig’ (Fil. 1:7). Gevolglik is die Internasionale Bybelstudente-vereniging, ’n wetlike korporasie wat in baie lande deur Jehovah se Getuies gebruik word, op 25 Mei 1960 amptelik by die regering geregistreer. Dit het die weg gebaan vir die broers om staatsgrond te verkry waarop hulle Koninkryksale en ander fasiliteite kon bou wat nodig was vir die bevordering van die Koninkrykswerk.
Later dieselfde jaar is daar ook ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Papoea-Nieu-Guinee gestig. John Cutforth is as takkneg aangestel. Maar waar sou die kantoor gevestig word, aangesien daar so min plekke te huur was?
Die antwoord het gekom deur middel van ’n egpaar wat kort tevore daar aangekom het—Jim en Florence Dobbins. Jim het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Amerikaanse vloot in Papoea-Nieu-Guinee gedien. Later het hy en Florence die waarheid aangeneem en hulle dit ten doel gestel om hulle bediening uit te brei. “In 1958 het ’n broer van Port Moresby ons by ons huis in Ohio besoek en vir ons skyfies van Papoea-Nieu-Guinee gewys”, vertel Jim. “Later het ons ’n skyfie gevind wat hy per ongeluk agtergelaat het. Op die skyfie was een van die mooiste natuurtonele wat ons nog ooit gesien het. ‘Ons sal dit vir hom pos’, het my vrou gesê. Maar ek het gesê: ‘Nee, kom ons neem dit vir hom.’”
’n Jaar later het Jim en Florence, tesame met hulle dogters, Sherry en Deborah, in ’n betonhuisie in Six Mile, ’n voorstad van Port Moresby, ingetrek. Kort daarna het Jim met John Cutforth begin praat oor ’n plek vir die takkantoor.
“Ek het oral in Port Moresby na ’n plek vir die takkantoor gesoek, maar daar is niks beskikbaar nie”, het John gekla.
“Wel, wat van ons huis?” het Jim gesê. “Julle kan die drie voorvertrekke gebruik, en ek en my gesin kan agter woon.”
Alles het goed uitgewerk, en op 1 September 1960 is die Dobbins se huis amptelik as Papoea-Nieu-Guinee se eerste takkantoor geregistreer.
‘PLAAS ’N VERBOD OP DIE GETUIES’
Al hierdie vooruitgang het ons teenstanders nie aangestaan nie. Van 1960 af het die Christendom se kerke, die Bond van Teruggekeerde Soldate (RSL) en die plaaslike media verenig om ’n gekoördineerde veldtog te loods om Jehovah se Getuies te beswadder en ’n verbod op hulle te plaas.
Die situasie het ’n kritieke punt bereik toe ’n pamflet wat ons standpunt oor bloedoortappings verduidelik het, aan gekose dokters, geestelikes en regeringsbeamptes gegee is. Soos gewoonlik het die Christendom se geestelikes eerste gereageer. Op 30 Augustus 1960 het die South Pacific Post uitgekom met die opskrif: “Kerke woedend oor bloedkwessie.” In die bygaande artikel het kerkleiers die Getuies as “antichriste [en] vyande van die kerk” veroordeel.
Daaropvolgende artikels het valslik beweer dat Jehovah se Getuies ondermynend is en dat hulle leringe skoolversuim, die niebetaling van belasting, vragkultusse en selfs slegte higiëne bevorder. In ander berigte is hulle ten onregte daarvan beskuldig dat hulle ’n naderende sonsverduistering gebruik om angs te wek en “beheer oor die verstande van eenvoudige inboorlinge te verkry”. Een hoofartikel het die Getuies selfs skerp berispe omdat hulle “saam met dorpsbewoners woon, eet en werk”. Die South Pacific Post het hulle gekritiseer omdat hulle leer dat “alle mense gelyk is” en het gesê dat die Getuies “’n groter gevaar as Kommunisme” is.
Op 25 Maart 1962 het die RSL uiteindelik ’n beroep op die koloniale owerheid gedoen om ’n verbod op die Getuies te plaas. Maar die Australiese regering het die versoek openlik verwerp. “Hierdie aankondiging het ’n goeie uitwerking dwarsdeur die land gehad”, sê Don Fielder. “Onbevooroordeelde mense kon sien dat ons teenstanders se bewerings eenvoudig nie waar is nie.”
IN DIE HOOGLANDE
In daardie selfde maand het Tom en Rowena Kitto uit Port Moresby vertrek op ’n uitmergelende reis wat etlike weke geduur het. Hulle het die goeie nuus na ’n onaangeraakte gebied geneem—die ruwe hooglande van Nieu-Guinee.
Dertig jaar vroeër het Australiese goudprospekteerders na die hooglande gekom en ’n beskawing van ongeveer eenmiljoen mense ontdek wat heeltemal van die buitewêreld afgesny was. Die verskrikte hooglanders het gedink dat die witmense voorvaderlike geeste is wat uit die dode teruggekeer het.
Die Christendom se sendelinge was kort op die hakke van die prospekteerders. “Toe die sendelinge hoor dat ons kom, het hulle die dorpsbewoners beveel om nie na ons te luister nie”, vertel Rowena. “Maar hulle waarskuwing was eintlik goeie reklame. Die hooglanders—wat van nature nuuskierig is—het gretig op ons koms gewag.”
Tom en Rowena het ’n winkeltjie geopen in Wabag, 80 kilometer noordwes van die dorp Mount Hagen. “Die geestelikes het hulle kuddes beveel om niks by ons te koop of aan ons te verkoop nie en om nie met ons te praat nie, en hulle het selfs druk op hulle geplaas om te vra dat ons huurkontrak gekanselleer moet word”, sê Tom. “Maar die dorpsbewoners het mettertyd gesien dat ons anders is as die ander Europeërs wat hulle ken. Wat die opvallendste was, is dat ons hulle liefdevol behandel het. Trouens, ons goedhartige dade het dikwels hulle oë vol trane laat skiet, en hulle wou hê dat ons daar moet bly!”
GEDULDIGE ONDERRIGTING LEWER RESULTATE
Van 1963 af het Getuies uit die buiteland na die hooglande gestroom om te help met die uitbreiding van die predikingswerk. Hierdie broers en susters het geleidelik van die ooste na die weste gewerk en uiteindelik die hele gebied gedek, en hulle het groepe en gemeentes op baie plekke gestig.
In Goroka, in die Oostelike Hoogland-provinsie, het ’n klein gemeente aanvanklik in ’n huis bymekaargekom. Later het hulle ’n beskeie vergaderplek van materiaal uit die bos gebou. Toe het hulle in 1967 ’n aantreklike Koninkryksaal met 40 stoele opgerig. “Ek het grappenderwys gesê dat ons dalk teen Armageddon die stoele sou vul”, vertel George Coxsen, wat tien jaar lank in die hooglande gedien het. “Hoe verkeerd was ek tog! Binne 12 maande het soveel mense die vergaderinge bygewoon dat ons ’n tweede gemeente moes vorm!”
Verder na die ooste, naby Kainantoe, het Norm Sharein die Bybel met meer as 50 dorpsbewoners gestudeer wat elke dag na sy hut toe gekom het. Later het die pioniers Berndt en Erna Andersson twee en ’n half jaar lank na hierdie groep omgesien. “Die mense het selde gewas, het min klere gedra, was heeltemal ongeletterd en was diep betrokke by demonisme”, vertel Erna. “Maar met geduldige en liefdevolle hulp kon party van hulle kort voor lank 150 tekste opsê en verduidelik.”
Berndt en Erna het ’n hegte band met hulle groep gevorm. “Toe ons ’n toewysing in Kavieng ontvang het, het die vroue om my saamgedrom en bitterlik gehuil!” sê Erna. “Hulle het een na die ander my arms en gesig gestreel terwyl hulle trane vryelik gevloei het. Elke nou en dan het ek in ons hut gaan huil terwyl Berndt hulle probeer vertroos het, maar hulle was ontroosbaar. Toe ons uiteindelik vertrek het, het ’n groot skare agter ons motor met die berg af gehardloop, terwyl die vroue die hele tyd gehuil het. Dit is nog steeds vir my moeilik om die hartverskeurende emosies te beskryf wat ek daardie dag ervaar het. Hoe smag ons tog daarna om daardie geliefdes in die nuwe wêreld te sien!” Ander pioniers het op Berndt en Erna se werk voortgebou, en ’n gemeente is in Kainantoe gestig.
KONINKRYKSAAD DRA VRUG
Teen die vroeë 1970’s het ’n groepie Getuies in Mount Hagen, ongeveer 130 kilometer wes van Goroka, gaan woon. Hierdie dorp was bekend vir sy groot weeklikse mark, wat duisende dorpsbewoners van ver gelok het. “Ons het honderde stukke lektuur by hierdie mark versprei”, sê Dorothy Wright, ’n vreeslose pionier. Wanneer die mense na hulle dorpies teruggekeer het, het hulle die Koninkryksboodskap saam met hulle geneem, soms na afgeleë gebiede wat die verkondigers nie destyds kon bereik nie.
Later is Dorothy se seun, Jim Wright, en sy pioniermaat, Kerry Kay-Smith, gestuur na Banz, ’n tee- en koffieproduserende streek in die skilderagtige Wahgivallei, oos van Mount Hagen. Hier is hulle hewig teëgestaan deur die sendingkerke, wat kinders aangehits het om hulle met klippe te bestook en hulle uit hulle dorpies te verdryf. Toe Kerry ’n ander toewysing ontvang het, het Jim in Banz agtergebly en alleen gepionier. Hy vertel: “Ek het dikwels snags in my grashutjie wakker gelê en gebid: ‘Jehovah, waarom is ek hier?’ Ek het eers jare later ’n antwoord op hierdie vraag gekry.
“In 2007 het ek van Australië na Banz gereis om ’n streekbyeenkoms by te woon”, vertel Jim verder. “Naby die plek waar my ou grashut gestaan het, was daar nou ’n pragtige nuwe Koninkryksaal wat vergroot kon word om as ’n Byeenkomssaal met 1 000 sitplekke te dien. Toe ek daar aankom, het ’n broer na my toe gehardloop, my omhels en op my skouer begin huil. Toe hy uiteindelik gekalmeer het, het die broer, Paul Tai, verduidelik dat ek 36 jaar vroeër met sy pa gestudeer het. Paul het later sy pa se studieboeke gelees en die waarheid aangeneem. Hy het vir my gesê dat hy as ’n ouer man dien.
“Gedurende die byeenkoms is daar ’n onderhoud met my gevoer, en ek het die vervolging beskryf wat ons in die vroeë dae in Banz verduur het”, sê Jim. “Daar was skaars ’n droë oog in die gehoor. Ná die program het etlike broers my kom omhels en met trane in hulle oë om verskoning gevra. Toe hulle jong seuns was, het hulle my uit hulle dorpie verdryf terwyl hulle my met klippe bestook en op my geskel het. Wat meer is, een van hulle, Mange Samgar—nou ’n ouer man—was die voormalige Lutherse predikant wat hulle aangehits het! Wat ’n wonderlike hereniging was daardie byeenkoms tog!”
SAAD ONTKIEM IN AFGELEË GEBIEDE
Hoewel baie mense in Papoea-Nieu-Guinee die waarheid deur middel van direkte kontak met die Getuies geleer het, het ander dit geleer deur middel van saadjies van waarheid wat in afgeleë gebiede beland het (Pred. 11:6). Byvoorbeeld, omstreeks 1970 het die takkantoor gereelde velddiensrapporte begin ontvang van ’n vreemde persoon in ’n niebestaande gemeente in ’n onbekende dorpie op die afgeleë Sepikrivier. Die takkantoor het Mike Fisher, ’n kringopsiener, gevra om ondersoek in te stel.
“Om die dorpie te bereik, het ek tien uur lank met ’n gemotoriseerde kano op smal waterweë gevaar deur ’n deel van die oerwoud wat gewemel het van die muskiete”, vertel Mike. “Toe ek uiteindelik laat in die dag daar aangekom het, het ek ons onbekende korrespondent ontmoet, ’n man wat jare tevore in ’n ander gebied uitgesit is. Hy het na sy dorpie teruggekeer, oor sy sondes berou gehad en vir ander begin preek. Meer as 30 volwassenes in die dorpie het hulle as Jehovah se Getuies beskou, van wie party aan die vereistes vir doop voldoen het. Die berouvolle man is kort daarna herstel, en die groep is amptelik deur die tak erken.”
In 1992 het ’n ander kringopsiener, Daryl Bryon, gehoor van ’n afgeleë binnelandse dorpie waar die mense na bewering in die waarheid belangstel. “Om die dorpie te bereik, het ek 80 kilometer na die binneland gery, ’n uur en ’n half lank deur digte oerwoud gestap en toe nog ’n uur met ’n kano rivierop geroei”, verduidelik Daryl. “Tot my verbasing het daar op die oewer van die rivier, omring deur toringhoë berge, ’n splinternuwe gebou gestaan, met ’n teken daarop wat sê: ‘Koninkryksaal van Jehovah se Getuies.’
“Ongeveer 25 belangstellendes het elke Sondag by die saal bymekaargekom om die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe te studeer. Aangesien hulle gesê het dat hulle Getuies is, het ek hulle gevra of hulle betelneut kou. ‘O, nee’, het hulle geantwoord. ‘Ons het dit ’n jaar gelede opgegee toe ons in die waarheid gekom het!’ Ek was natuurlik verheug toe die takkantoor die groep deel van my kring gemaak het.”
SENDELINGE STROOM IN
Gedurende die 1980’s en 1990’s is die werk in Papoea-Nieu-Guinee ’n hupstoot gegee deur die aankoms van talle Gileadopgeleide sendelinge, gegradueerdes van die Bedieningsopleidingskool en spesiale pioniers uit Australië, Duitsland, Engeland, die Filippyne, Finland, Japan, Kanada, Nieu-Seeland, Swede, die Verenigde State en ander lande. Dit was dikwels ’n dubbele seën, aangesien party van hierdie evangeliedienaars later getrou het en hulle maats, wat net so ywerig was, by hulle aangesluit het.
Ná hulle aankoms in die land het die meeste nuwe aankomelinge twee of drie maande lank taallesse in Tok Pisin of Hiri Motu ontvang. In die oggend het die studente die taal bestudeer en in die middag het hulle dan hulle lesse in die bediening toegepas. Hierdie opleiding het baie van hulle in staat gestel om binne ’n paar maande sinvolle Bybelstudies te hou en toesprake te lewer.
Die feit dat hulle ’n nuwe taal aangeleer het, het hulle ook gehelp om geduld en empatie te hê wanneer hulle mense geleer het wat nie kon lees of skryf nie. Hulle het sodoende talle belangstellendes gehelp om die basiese vaardighede te bemeester wat nodig is om God se Woord te lees (Jes. 50:4). Gevolglik het die aantal verkondigers van 2 000 in 1989 tot ongeveer 3 000 in 1998 toegeneem, ’n toename van 50 persent in net nege jaar!
Hoewel baie van daardie evangeliedienaars Papoea-Nieu-Guinee later weens gesondheids- of ander redes moes verlaat, het hulle ’n blywende erfenis nagelaat. Trouens, daardie dierbares word nog steeds met geneentheid onthou vir hulle getrouheid en hulle liefdevolle dade.—Heb. 6:10.
BOUWERK BEVORDER VOORUITGANG
Namate die Koninkryksverkondigers vermeerder het, het die behoefte aan Koninkryksale, Byeenkomssale en groter takfasiliteite toegeneem. Hoe is daar in hierdie behoefte voorsien?
Voor 1975 het die Departement van Grondsake gereeld nuwe erwe vir godsdiensgebruik opsy gesit. Kerke wat daarin belanggestel het, het om die erwe aansoek gedoen en hulle saak voorgelê aan ’n Landraad wat deur die regering aangestel is. Die suksesvolle bieër het die grond verniet gekry, maar moes binne ’n redelike tydperk daarop bou.
In 1963 is ’n pragtige erf in Port Moresby, ondanks hewige teenstand van die Christendom se geestelikes, aan die Internasionale Bybelstudente-vereniging toegeken. Aangesien die perseel teen ’n heuwel was, het dit ’n asemrowende uitsig oor die Koki-mark en die hemelsbloue Koraalsee gebied. ’n Dubbelverdiepingtakkantoor en Koninkrysaal is later op hierdie perseel gebou. Nog erwe wat in Port Moresby toegeken is, is vir Koninkryksale in Sabama, Hohola, Gerehu en Gordon gebruik.
Die perseel in Gordon, wat op ’n prominente plek naby die middestad geleë is, is oorspronklik vir ’n Anglikaanse katedraal opsy gesit. “Maar by die openbare verhoor het die voorsitter van die Landraad vir die Anglikaanse predikant gesê dat die raad nie gelukkig is met die manier waarop die kerk grond vergaar het en dit dikwels vir kommersiële doeleindes misbruik het nie”, verduidelik Ron Fynn, wat 25 jaar lank in Papoea-Nieu-Guinee gedien het. “Die voorsitter het bygevoeg dat die Anglikane nie meer grond sou ontvang totdat die raad oortuig is dat hulle die grond wat reeds aan hulle toegeken is, vir die bestemde doel gebruik nie.
“Nadat hy dit gesê het, het die voorsitter my gevra watter grond ons nodig het. Ek het vir hom gesê dat ons eerste keuse die ‘katedraal’-erf in Gordon is. Die Anglikaanse predikant het opgespring om beswaar aan te teken, maar die voorsitter het hom ferm aangesê om te sit. Ek het my aanbieding voltooi. Tot die verbasing van almal daar het die komitee die grond aan ons gemeente toegeken.”
’n Koninkryksaal en die vierverdiepingtakkantoor is op hierdie erf gebou. Die nuwe takfasiliteite is op 12 Desember 1987 toegewy. Die eiendom in Koki is verkoop. Tussen 2005 en 2010 is ’n vierverdiepingwoongebou, ’n Koninkryksaal en ’n vertaalkantoor by die takfasiliteite gevoeg. Hierdie geboue is op 29 Mei 2010 toegewy.
Vandag is daar 89 Koninkryksale en ander vergaderplekke dwarsoor die land. In baie plattelandse gebiede word plaaslike materiaal uit die bos nog steeds gebruik om vergaderplekke te bou. Maar in groter dorpe word moderne boumateriaal gebruik. Baie van hierdie nuwer sale is gebou as deel van die program vir lande met beperkte middele, wat sedert 1999 in Papoea-Nieu-Guinee in werking is.
VOLHARDING ONDANKS UITDAGINGS
Die verskillende godsdienste wat in Papoea-Nieu-Guinee bedrywig was, het ’n stilswyende ooreenkoms gehad oor waar elke sending werksaam kon wees. Elke kerkgroep het hulle eie gebied gehad en het verwag dat ander godsdienste daaruit wegbly. Jehovah se Getuies verkondig natuurlik die goeie nuus aan almal wat dit wil hoor, ongeag waar hulle woon. Hierdie standpunt en die positiewe reaksie van baie wat na die waarheid geluister het, het die geestelikes woedend gemaak.
“Nadat ek na die klein eiland Kurmalak, Wes-Nieu-Brittanje, getrek het, was een van my eerste besoekers ’n Anglikaanse priester”, vertel Norm Sharein. “‘Jy het geen reg om in my gebied te preek nie’, het hy gesê. ‘Die mense is reeds Christene!’
“Later het ek gesien hoe een van my Bybelstudente sy boomkano in swaar reën en ’n onstuimige see naarstig na die strand roei. Trouens, hy het sy lewe in gevaar gestel deur dit in sulke weer te doen. Hy het sy kano op die strand gesleep en hygend vir my vertel dat ’n boot vol Katolieke onder leiding van ’n sendinghelper op pad is om my te kom slaan. Ek kon nêrens heen vlug nie en het Jehovah om wysheid en krag gevra.
“Toe die boot daar aankom, het ongeveer 15 mans met rooi geverfde gesigte uitgeklim—’n gewisse teken van kwade bedoelings. Ek het nie gewag dat hulle na my toe kom nie, maar het eerder na hulle toe geloop. Vroeër was ek bang, maar nou was die vrees weg. Toe ek nader kom, het hulle my uitgeskel, in die hoop dat ek hulle ’n verskoning sou gee om my te lyf te gaan, maar ek het kalm gebly.
“Een van my ander Bybelstudente, ’n bejaarde man wat die eienaar van die eiland was, was ook daar. Met die beste bedoelings het hy vir die mans gesê: ‘Jehovah se Getuies baklei nie. Komaan, slaan hom! Julle sal sien!’
“‘Aan wie se kant is hy?’ het ek by myself gedink en gewens hy wil stilbly.
“Nadat ek ’n paar minute lank met die mans geredeneer het, het ek voorgestel dat hulle gaan, en as ’n gebaar van welwillendheid het ek my regterhand na hulle leier uitgesteek. Hy het verbaas na die ander gekyk, en hulle na hom. Toe het hy my uitgestrekte hand geskud. Dit het die spanning verlig, en ons het almal hand geskud. Toe het hulle vertrek, tot my groot verligting! Ek kon nie anders as om aan Paulus se woorde aan Timoteus te dink nie: ‘’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal [en] hom onder die kwaad in bedwang hou.’”—2 Tim. 2:24.
Berndt Andersson vertel van ’n voorval in een dorpie in die hooglande toe die Lutherse predikant en ’n oproerige skare van sowat 70 mans uit ’n ander dorpie die Getuies probeer verdryf het en hulle Koninkryksaal wou vernietig. Berndt het die skare van stryk gebring deur hulle buite die dorpie te gaan ontmoet. Hy het die predikant gevra waarom die Lutherse sending sê dat God se naam Anutu is, ’n plaaslike naam wat deur party sendelinge van die Christendom oorgeneem is. Die predikant het gesê dat dit in die Bybel is, en Berndt het hom toe gevra waar. Die predikant het sy Bybel oopgeslaan, en toe dit duidelik was dat hy nie so ’n teks kan vind nie, het Berndt hom gevra om Psalm 83:18 te lees. Nadat hy gehelp is om die boek Psalms te vind, het die predikant hardop begin lees. Toe hy by die naam Jehovah kom, het hy die Bybel toegeslaan en geskreeu: “Dis ’n leuen!” Te laat het hy besef dat hy pas sy eie Bybel veroordeel het. Ná hierdie voorval het baie van sy volgelinge hulle gesindheid teenoor die Getuies verander.
Godsdiensteenstanders het wel soms Koninkryksale wat van bosmateriaal gemaak was, afgebrand, soos in die dorpie Agi, in die Milne Bay-provinsie. Maar in hierdie geval was een van die brandstigters, wat dronk was tydens die misdaad, baie spyt oor sy aandeel daaraan. Trouens, hy het later met die broers gaan praat, ’n Bybelstudie aanvaar en ’n pionier geword. Hy is boonop die gebruik van die pionierhuis langs die herboude saal aangebied. Hy moes dus nou die einste plek oppas waar hy die misdaad gepleeg het!
Vandag is daar feitlik geen godsdiensvervolging meer nie. “Ons het ’n tydperk van vrede ingegaan”, sê Craig Speegle. “Maar ’n ander probleem het ontstaan—geweld, wat dikwels gepleeg word deur boewe en diewe wat raskols genoem word. Wanneer die broers dus in gevaarlike gebiede getuig, werk hulle in groepe en hou hulle mekaar in die oog.”
“Dit help om as ’n Getuie bekend te staan”, sê die sendelinge Adrian en Andrea Reilly. “Of jy inkopies doen of preek, dit is verstandig om lektuur by jou te hê”, sê Adrian. “Dit verseker dalk nie altyd jou veiligheid nie, maar dit kan help omdat dit jou as ’n bedienaar van Jehovah identifiseer.” “By een geleentheid het my motor in ’n rowwe deel van Lae gaan staan. Ek was alleen, en kort voor lank het ’n groep jongmense wat gevaarlik gelyk het, om my saamgedrom. Danksy ’n Bybelbespreking wat ons kort tevore gehad het, het twee van hulle my herken. Hulle het dus vir my opgekom. In plaas van iets te steel of my leed aan te doen, het die hele groep—tot my groot verbasing en verligting—my stukkende motor die hele 400 meter na die sendinghuis teruggestoot.”
By ’n ander geleentheid was ’n suster by ’n mark toe raskols wat met messe gewapen was, vir haar gefluister het: “Gee vir ons jou sak.” Sy het dit dadelik vir hulle gegee, en hulle het weggehardloop. ’n Paar minute later het hulle teruggekom, om verskoning gevra en vir haar die sak met alles daarin teruggegee. Waarom? Toe hulle die sak oopgemaak het, het hulle haar Bybel en Redenering-boek gesien en skuldig gevoel oor wat hulle gedoen het.
VERSKILLENDE PREDIKINGSMETODES
“Ons het gepreek waar ons ook al mense gevind het”, het Elsie Thew vertel, wat van 1958 tot 1966 saam met haar man, Bill, in Papoea-Nieu-Guinee gedien het. “Ons het met mense gepraat in hulle dorpies, in hulle huise, in hulle tuine, by markte en op bospaadjies. Ons het met vissermanne op strande en rivieroewers gepraat. In die vroeë dae het ons ook ’n wêreldkaart saam met ons geneem sodat ons vir mense in die afgeleë gebiede kon wys waarvandaan ons kom. Dit was belangrik omdat ons soms met ’n vliegtuig daar aangekom het, en die dorpsbewoners, wat onbewus was van die buitewêreld, het gedink dat ons uit die hemel gekom het! Ons het dus vir hulle gewys dat ons maar net uit ’n ander deel kom van die dieselfde aarde waarop hulle woon.”
Die enigste manier om baie van die dorpies langs Papoea-Nieu-Guinee se lang kuslyn en op die talle rivieroewers te bereik, is per boot of kano. Steve Blundy vertel: “Broer Daera Guba, van Hanuabada, Port Moresby, was ’n bejaarde man en het baie ondervinding met bote gehad. Hy het twee uitgeholde stompe onder sy huis gehad, en ek en my pioniermaat het hom dus gehelp om die nodige hout te verkry om ’n puapua, ’n plaaslike soort katamaran, te bou. Dit het ’n seil van seildoek gehad. Met Daera as kaptein en twee of drie ander broers van Hanuabada as bemanning het ons ’n hele paar togte na kusdorpies naby Port Moresby onderneem.”
In die laat 1960’s het Berndt Andersson gedien op Nieu-Ierland, ’n pragtige eiland sowat 650 kilometer noordoos van die hoofeiland. Berndt skryf: “Mense het van die eilandjies daar naby gekom en ons gevra om hulle te besoek. Maar om dit te doen, het ons ’n boot nodig gehad, wat skynbaar ’n onmoontlike droom was in die lig van ons klein maandelikse toelaag. Ons het wel ’n paar planke gehad wat ons in ’n skuur gebêre het, maar nie naastenby genoeg om ’n boot te bou nie. Ons het dus tot Jehovah oor die saak gebid. Toe, uit die bloute, het ’n broer in Lae vir ons $200 gestuur om ons te help om die buite-eilande te besoek. Ons kon dus ’n boot bou, wat ons Pioneer genoem het. Maar dit het nie ’n motor gehad nie. Daardie dierbare broer het weer eens die geld voorsien wat ons nodig gehad het, dié keer om ’n klein buiteboordmotor te koop. Nou kon ons daardie skilderagtige eilande besoek!”
Omstreeks 1990 het ’n kringopsiener, Jim Davies, saam met drie ander broers reëlings getref om vir ’n vlugtelingkamp ver noord op die Flyrivier naby die grens van Indonesië te gaan getuig. Die broers het verblyf gereël by ’n belangstellende vrou wie se man die onderhoof van die kamp was. “Die tog met die Flyrivier op het byna twee uur in ’n gemotoriseerde boomkano geneem”, sê Jim. “Omtrent negeuur die oggend het ons by ’n oopte in die oerwoud aangekom, waar ons ’n grondpaadjie gesien het wat na die vergeleë kamp lei. Ons het daar vir vervoer gewag.
“Uiteindelik, vyfuur die middag, het ’n voertuig opgedaag. Ons het ons voorraad daarin gelaai, ingeklim en toe net omtrent 90 meter gery voordat die stuurmeganisme gebreek het! Die bestuurder het ewe rustig die probleem geïdentifiseer, ’n stuk heiningdraad gevind, onder die motor ingeskuif en die onderdele wat losgekom het, vasgebind. ‘Dít sal ons nie ver neem nie’, het ek gedink. Maar ek was verkeerd. Die draad het die hele rit gehou—vyf uur lank, heeltyd in vierwielaandrywing weens die toestand van die pad. Trouens, ons het dikwels in die modder vasgesit en moes die voertuig uitstoot. Ons het tienuur daardie aand by die kamp aangekom, uitgeput en vol modder.
“Ons het drie dae lank in die kamp gepreek, wat oor ’n groot gebied in die oerwoud versprei was, en het al ons lektuur by die mense gelaat. Ons het ook ’n uitgesette man ontmoet wat gesê het dat hy tot Jehovah wil terugkeer. Later was ons verheug om te hoor dat hy wel teruggekom het. Sy vrou en party van sy kinders is ook nou in die waarheid. Dit is ook die geval met die belangstellende vrou en haar man wat goedgunstig verblyf aan ons verskaf het.”
KRINGWERK OP DIE SEPIKRIVIER
Die Sepikrivier, wat meer as 1 100 kilometer lank is, is soos ’n groot bruin slang wat van die hooglande na die see kronkel. Op party plekke is dit so breed dat dit moeilik is om die oorkantste oewer te sien. Die rivier is ’n groot hoofweg wat gereeld deur die broers, insluitende reisende opsieners en hulle vrouens, gebruik word. Kom ons sluit aan by ’n kringopsiener en sy vrou terwyl hulle gemeentes langs hierdie magtige waterweg besoek.
Warren Reynolds skryf: “Ek en my vrou, Leann, vertrek vroeg in die oggend uit die dorp Wewak met ons drie en ’n half meter lange aluminiumbootjie vasgemaak op die dakrak van ons voertuig. Ná ’n drie uur lange rit, die grootste deel daarvan in vierwielaandrywing, parkeer ons ons voertuig vir ’n paar dae by die rivier terwyl ons stroomop vaar om die ongeveer 30 verkondigers in vier dorpies langs die Sepik se syriviere te besoek.
“Met ons platboombootjie belaai met voorraad, skakel ons die buiteboordmotor van 18 kilowatt aan en vertrek ons stroomop. ’n Uur later draai ons af in die Yuatrivier, ’n syrivier van die Sepik, en reis ons nog twee uur voordat ons by die dorpie Biwat aankom. Daar word ons hartlik verwelkom deur die broers en hulle Bybelstudente, van wie party ons bootjie uit die water sleep en dit by een van hulle huise hou. Ná ’n ete van meelpiesangs en kokosmelk vertrek ons almal op ’n twee uur lange staptog deur ’n moerasagtige deel van die oerwoud, met die verkondigers wat voor loop en ons voorraad help dra. Uiteindelik kom ons by ’n klein dorpie genaamd Dimiri aan, waar ons ons dors met kokosmelk les, ons muskietnet ophang en ons bed opslaan in ’n huis wat van bosmateriaal en op houtpale gebou is. Ná ’n ete van gekookte jams gaan ons uiteindelik bed toe.
“Veertien verkondigers woon in drie dorpies in hierdie gebied. Gedurende die volgende paar dae preek ons in elke dorpie en vind ons baie belangstellendes. Ons smaak ook die vreugde om te sien hoe twee Bybelstudente hulle huwelik wettig en goedgekeur word om as Koninkryksverkondigers te dien. Die ander verkondigers voorsien ’n eenvoudige huweliksmaaltyd van jams, sago, eetbare blare en twee hoenders.
“Sondag is ons verheug om 93 dorpsbewoners by die openbare toespraak te sien! Ná die vergadering keer ons in die middagson, met vol rugsakke, terug na Biwat, waar ons ons rugsakke by ’n Bybelstudent se huis laat en begin preek. ’n Hele paar mense neem lektuur; en party aanvaar ’n Bybelstudie. Daardie aand, in die huis van ’n Bybelstudent, eet ons om ’n vuur, terwyl die rook die swerms muskiete weghou.
“Vroeg die volgende dag keer ons terug na ons bootjie, stoot ons dit weer in die rivier en vaar ons die oggendmis in, vol verwondering oor die voëllewe en die visse wat in die water plons. Gesinne op bamboesvlotte belaai met goedere vir die plaaslike mark vaar in stilte by ons verby in die teenoorgestelde rigting.
“Wanneer ons terugkom by ons voertuig, maak ons die bootjie se brandstoftenk vol en vul ons ons drinkwater en ander voorraad aan. Dan vertrek ons weer, hierdie keer om die 14 verkondigers in Kambot te gaan besoek. Ons kom twee uur later daar aan, sopnat weens ’n tropiese stortbui. Van Kambot vaar ons stroomop—dié keer met ons bootjie vol verkondigers—na ’n groot dorp wat weerskante van die rivier geleë is. Ons preek tot laat die middag vir hierdie waarderende mense. Op pad terug getuig ons vir mense wat op hulle drywende bamboesplatforms staan. Hulle het ons die oggend rivierop sien gaan en wag vir ons om terug te keer. Aangesien geld in hierdie afgeleë gebied iets seldsaams is, toon die dorpsbewoners hulle waardering vir ons besoek en die traktate wat ons by hulle gelaat het, deur vir ons kos te gee—kokosneute, pampoene, gerookte vis en piesangs. Teen sonsondergang is ons terug in Kambot, besig om die kos te kook.
“In Kambot is die vergaderplek op houtpale gebou, soos al die huise in die gebied. Gedurende die nat seisoen, wanneer die hele gebied onder water is, roei mense met hulle kano’s tot by die vergaderplek se trap. Ons besoek eindig met die openbare toespraak, wat deur 72 bygewoon word, insluitende party wat vyf uur lank gestap het om hier te kom.
“Nadat ons by ons kringvoertuig teruggekom en die bootjie op die dak vasgemaak het, pak ons die drie uur lange rit huis toe aan. Op pad dink ons aan ons dierbare broers wat langs die Sepikrivier woon. Ons dink ook aan Jehovah se liefde vir hulle, soos gesien kan word in die moeite wat sy organisasie doen om te verseker dat hulle geestelik goed gevoed word. Wat ’n voorreg het ons tog om deel van so ’n wonderlike familie te wees!”
’N WORSTELSTRYD TEEN BOSE GEESTE
Hoewel ’n groot persentasie Papoea-Nieu-Guinese sê dat hulle Christene is, klou baie ook vas aan tradisionele opvattings, insluitende vooroueraanbidding en die vrees vir bose geeste. En volgens een reisgids was daar in onlangse jare “’n sterk herlewing van swartkuns en towery”. Gevolglik skryf mense siekte en die dood dikwels aan toordokters of voorouergeeste toe.
In so ’n milieu is Bybelwaarheid werklik bevrydend. Trouens, selfs party toordokters het die krag van God se Woord erken, hulle gebruike laat vaar en ware aanbidding begin beoefen. Kyk na twee voorbeelde:
Soare Maiga het in ’n dorpie sowat 50 kilometer van Port Moresby gewoon, en mense was baie bang vir hom weens sy kragte. Hy het egter nuuskierig geraak oor die opvattings van Jehovah se Getuies en het groepbybelstudies begin bywoon. Kort voor lank het hy die waarheid aangeneem en sy ou weë laat vaar. Maar toe hy van sy spiritistiese voorwerpe probeer ontslae raak, het dit op die een of ander geheimsinnige manier bly terugkom! Soare was nietemin vasbeslote om ‘die Duiwel teë te staan’, en daarom het hy op ’n dag al die voorwerpe in ’n sak gesit, ’n swaar klip daaraan vasgemaak en dit by Port Moresby in die see gegooi (Jak. 4:7). Dié keer het sy voorwerpe nie teruggekom nie. Daarna het hierdie moedige man ’n ywerige Getuie van die ware God, Jehovah, geword.
Kora Leke het towery en kruierate gebruik om die siekes te genees. Maar toe hy die Bybel begin studeer het, het hy gesukkel om ontslae te raak van ’n gees wat hom met sy toorkuns gehelp het. Soos Soare, was Kora vasbeslote om sy betrokkenheid met die demone te beëindig, en met Jehovah se hulp het hy dit reggekry. Later het hy as ’n gewone pionier en as ’n spesiale pionier gedien. Selfs op sy oudag, toe sy bene begin ingee het, het hierdie lojale broer nog steeds die goeie nuus verkondig.
Hoe het Kora by sy gunstelingpreekplek gekom? Die broers het hom in ’n kruiwa soontoe gedra, die praktiesste manier vir hulle. Later het ’n vindingryke broer wat by die takkantoor gewerk het, liefdevol vir hom ’n rolstoel gemaak deur die staalraam van ’n gewone stoel en fietswiele te gebruik, asook seildoek vir die sitplek. Sy nuwe vervoermiddel het vir Kora groter onafhanklikheid gegee, en hy het ten volle daarvan gebruik gemaak! Ja, wat ’n inspirerende voorbeeld is sulke bejaardes tog, en hulle verbly ongetwyfeld Jehovah se hart!—Spr. 27:11.
MENSE WORD GELEER OM TE LEES EN SKRYF
“Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf”, sê Romeine 15:4. God wil ongetwyfeld hê dat sy volk moet kan lees en skryf. Soos ons alreeds gemeld het, het Jehovah se Getuies in Papoea-Nieu-Guinee dus groot moeite gedoen om mense te leer lees en skryf.
Om te leer lees en skryf, kan natuurlik ’n uitdaging wees, veral vir bejaardes, maar as ’n student ’n gewillige hart het, sal hy gewoonlik suksesvol wees. God se Woord kan inderdaad ’n kragtige uitwerking op die nederigste en ongeletterdste mense hê.
Beskou die voorbeeld van Save Nanpen, ’n jong man van die boloop van die Sepikrivier. Toe Save na Lae verhuis het, was dit vir hom ’n groot kulturele sprong, aangesien hy vir die eerste keer fasette van die Westerse wêreld gesien het. Daarbenewens het hy Jehovah se Getuies ontmoet, wat hom van die Koninkrykshoop vertel het. Dit het Save se hart geraak, en hy het Christenvergaderinge begin bywoon, en kort voor lank het hy as ’n ongedoopte verkondiger gekwalifiseer. Maar hy het gehuiwer om die volgende stap—doop—te doen. Waarom? Hy het Jehovah belowe dat hy nie gedoop sou word totdat hy self die Bybel kon lees nie. Hy het dus hard gestudeer en sy geestelike doelwitte bereik.
Ongeletterdheid is nog steeds algemeen, maar sekulêre skole is in ’n aantal gebiede geopen, en Getuiekinders woon hierdie skole by. Trouens, ons jonges is dikwels goeie voorbeelde van geletterdheid—grootliks te danke aan die goeie opvoeding van hulle ouers en die opleiding wat hulle by gemeentelike vergaderinge, soos die Teokratiese Bedieningskool, ontvang.
BYBELWAARHEID VERANDER LEWENS
Die apostel Paulus het geskryf: “Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om sterk verskanste dinge omver te werp” (2 Kor. 10:4). Soms kan ’n enkele teks ’n kragtige uitwerking hê, soos in die geval van ’n vrou met die naam Elfreda. Nadat Elfreda God se naam in haar Wedau-Bybel gewys is, het sy ’n ensiklopedie geraadpleeg, wat bevestig het wat die Bybel oor God se naam sê. ‘Jehovah se Getuies leer die waarheid’, het sy gedink. Maar haar man, Armitage, wou niks met die Getuies te doen hê nie. Hy was ’n dronkaard wat betelneut gekou en tabak gerook het, en hy het ’n slegte humeur gehad.
Nadat Armitage in Lae afgetree het, het hy en Elfreda na Alotau in die Milne Bay-provinsie getrek, waar daar geen Getuies was nie. Intussen het Elfreda op Die Wagtoring en Ontwaak! ingeteken en per brief met Kaylene Nilsen, ’n pionier, gestudeer. “Elfreda het elke week getrou vir my haar geskrewe antwoorde gestuur”, sê Kaylene.
Later is die Gileadgegradueerdes Geordie en Joanne Ryle na Milne Bay gestuur, en hulle het Elfreda besoek om haar aan te moedig en saam met haar in die bediening te werk. “Armitage het my gevra om die Bybel met hom te studeer”, vertel Geordie. “Sy reputasie het my laat wonder wat sy ware beweegrede is. Maar nadat ek ’n maand lank met hom gestudeer het, het ek geweet dat hy opreg is. Hy is later gedoop en het uiteindelik ’n bedieningskneg geword.” Nou is drie geslagte van sy familie in die waarheid, en sy kleinseun, Kegawale Biyama, wat vroeër aangehaal is, dien op die Takkomitee in Port Moresby.
Terwyl Don en Shirley Fielder in Hula gepionier het, het hulle ’n Bybelstudie met Alogi en Renagi Pala begin. “Alogi was ’n dief en het gedurig met ander baklei”, skryf Don. “Hy het aan ’n tropiese siekte gely wat sy vel ’n onooglike voorkoms gegee het, en ’n gedeelte van sy mond is deur ’n tropiese seer verteer. Hy en sy vrou het ook albei betelneut gekou, en dus was die gapings tussen hulle swart tande dikwels bloedrooi. Alogi was die laaste persoon wat ’n mens sou gedink het na die waarheid aangetrek sou word. Nietemin het hy en sy vrou in die waarheid begin belangstel en ons vergaderinge bygewoon, waar hulle tjoepstil heel agter gesit het.
“Oor ’n tydperk van ses maande”, vertel Don, “het ons ’n verstommende verandering in Alogi gesien. Hy het opgehou steel, baklei en stry, en hy en Renagi het hulle voorkoms verbeter en aan die vergaderinge begin deelneem. Hulle het ook die goeie nuus aan ander begin bekend maak. Trouens, hulle en ’n handjie vol ander het die eerste verkondigers in die Hula-omgewing geword.”
Abel Warak het op Nieu-Ierland gewoon en het aan melaatsheid gely. Gevolglik was daar geen gevoel in sy hande en voete nie. Toe Abel met die waarheid in aanraking gekom het, kon hy skaars loop en het hy geen belangstelling in die lewe gehad nie. Maar die waarheid het sy gesindheid en uitkyk heeltemal verander en hom nuwe vreugde en krag gegee. Hy het later selfs ’n pionier geword. Om sy dieet aan te vul, het Abel visgevang, maar omdat daar geen gevoel in sy voete was nie, kon hy nie meer op die rif loop nie. Die broers het dus vir hom kniehoë rubberstewels gekoop. Hy het ook leer fietsry, wat hom in staat gestel het om die goeie nuus oor groter afstande te versprei. Trouens, hy het soms 100 kilometer met die fiets gery om herbesoeke by belangstellendes te doen, en eenkeer het hy 145 kilometer ver in een rigting gery om ’n belangstellende man na die Gedenkmaal te nooi.
Soms het “die kennis van Jehovah” selfs mense met dierlike eienskappe gehelp om groot veranderinge aan te bring (Jes. 11:6, 9). In 1986 het ongeveer 60 mense uit twee dorpies naby Banz byvoorbeeld by ’n streekbyeenkoms in Lae ingeloop en in die voorste rye gaan sit. Hierdie hooglanders was tradisionele vyande wat dikwels teen mekaar geveg het. Maar nadat hulle die goeie nuus by spesiale pioniers gehoor het, het hulle besluit om in vrede saam te lewe. Sulke ondervindinge laat ’n mens dink aan die woorde in Sagaria 4:6: “‘Nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur my gees’, het Jehovah van die leërs gesê.” Dieselfde gees het talle opregte mense aangespoor om hulle lewe in ooreenstemming met die Bybel se sedelike standaarde te bring.
RESPEK VIR GOD SE GAWE VAN DIE HUWELIK
In baie lande verontagsaam plaaslike gebruike sowel as die kerke van die Christendom gewoonlik die skriftuurlike beskouing van die huwelik (Matt. 19:5; Rom. 13:1). Dit is ook die geval in Papoea-Nieu-Guinee. Om Jehovah te behaag, het baie egpare wat saamgelewe of poligamie beoefen het, dus groot veranderinge in hulle lewe aangebring. Beskou die voorbeeld van Francis en sy vrou, Christine.
Toe Francis uit die leër bedank het, het hy en sy vrou uitmekaargegaan. Christine en hulle twee kinders het teruggegaan na haar tuisdorpie op Goodenough-eiland, Milne Bay-provinsie, en hy het na Mount Hagen teruggekeer. Daar het Francis later met ’n ander vrou, wat kinders gehad het, begin saamlewe. Hulle het na die “Assemblies of God”-kerk gegaan. Ná verloop van tyd het die Getuies hierdie vrou ontmoet en die Bybel met haar begin studeer. Ná ’n ruk het Francis ook begin belangstel, en kort voor lank het albei Christelike vergaderinge bygewoon.
Francis wou ’n Koninkryksverkondiger word, wat beteken het dat hy sy huweliksituasie moes regstel. Nadat hy die saak biddend oorweeg het, het hy dit met die vrou bespreek. Sy en haar kinders het toe na ’n ander huis getrek, en Francis het Christine gaan besoek, van wie hy nou ses jaar vervreemd was. Christine en haar familielede was natuurlik baie verbaas om Francis te sien. Met behulp van die Bybel het Francis vriendelik aan hulle almal verduidelik dat hy graag wil doen wat reg is in Jehovah se oë. Toe het hy sy vrou gevra om met hulle kinders na Mount Hagen terug te kom sodat hulle weer ’n gesin kan wees. Almal was verstom oor hierdie verandering van gesindheid. Christine het haar man se uitnodiging aanvaar, en hy het sy vrou se familielede finansieel vergoed vir alles wat hulle gedurende die vorige ses jaar vir sy gesin gedoen het.
Nadat Christine teruggekom het in Mount Hagen, het sy ook die Bybel begin studeer, wat beteken het dat sy moes leer lees. Intussen het sy opgehou om betelneut te kou en tabak te rook. Hierdie egpaar is nou toegewyde knegte van Jehovah.
KINDERS WAT HULLE SKEPPER EER
Deur hulle Bybelopgeleide gewete moedig te volg, het baie kinders in Papoea-Nieu-Guinee ’n goeie getuienis gelewer. Byvoorbeeld, vroeg in 1966 het ’n laerskoolonderwyseres vir sewe kinders van plaaslike Getuies gesê dat hulle die vlag sal moet salueer gedurende seremonies wat die volgende week gehou sou word. Toe die tyd aanbreek, het al sewe kinders voor sowat 300 leerlinge geweier om die vlag te salueer. Gevolglik is hulle uit die skool gesit, al het hulle ouers skriftelik versoek dat hulle kinders van die seremonies verskoon moet word. ’n Ouer man in die plaaslike gemeente het die saak aan regeringsamptenare in Papoea-Nieu-Guinee sowel as Australië voorgelê.
Op 23 Maart het die Australiese Administrateur van Papoea-Nieu-Guinee die skoolowerheid gebel en beveel dat die kinders onmiddellik in die skool teruggeneem moet word. Ware aanbidding het ’n klein regsoorwinning behaal. Vandag nog respekteer die regering van Papoea-Nieu-Guinee kinders se reg om die vlag om gewetensredes nie te salueer nie.
“Klein kindertjies en suigelinge” kan Jehovah ook op ander maniere loof (Matt. 21:16). Beskou die voorbeeld van Naomi van die hooglande, wie se ouers, Joe en Helen, nie in die waarheid was nie. Toe Naomi omtrent drie jaar oud was, het sy sowat ’n jaar in Lae by Helen se suster, ’n ywerige Getuie, gebly. Naomi se tannie het haar gereeld in velddiens uitgeneem, dikwels in ’n sak wat sy oor haar skouer gehang het. Naomi het dus van die Koninkrykshoop geleer, en veral omdat haar tannie die prente in My boek met Bybelverhale goed benut het.
Toe Naomi terug was by haar ouers, het sy ’n boek van die Getuies geneem, buitentoe gegaan en hard aan die deur geklop. “Kom terug in die huis”, het haar ouers uitgeroep. Die dogtertjie het ingegaan en gesê: “Hallo. Ek is een van Jehovah se Getuies, en ek het met julle oor die Bybel kom praat.” Terwyl Joe en Helen verbaas toegekyk het, het Naomi voortgegaan: “Die Bybel sê dat hierdie land ’n paradys sal word; en een Koning, Jesus, sal oor ons regeer. Alles wat ons om ons sien, is deur Jehovah gemaak.”
Joe en Helen was verstom. “Wat sal die bure dink!” het Joe vir sy vrou gesê. “Sorg dat jy haar môre in die huis hou.”
Die volgende dag het Naomi, terwyl haar ouers buite gesit het, hard aan haar slaapkamermuur geklop. “Kom uit”, het Joe gesê. Naomi het uitgekom en geesdriftig met nog ’n aanbieding begin: “Hallo. Ek is een van Jehovah se Getuies, en ek het vir julle kom preek. Goeie mense sal vir ewig op die aarde lewe. Maar mense wat kwaad word en slegte dinge doen, sal nie in die Paradys wees nie.” Helen was heeltemal verbysterd en het in trane uitgebars, terwyl Joe die huis ingestorm het, bed toe.
Daardie aand het Joe uit nuuskierigheid deur sy ou King James-Bybel geblaai en op die naam Jehovah afgekom. In plaas van die volgende oggend werk toe te gaan, het hy ’n brief aan die Getuies geskryf en toe 40 kilometer na Mount Hagen gery om dit by die Koninkryksaal te los.
Die broers het Joe en Helen by hulle huis besoek en reëlings getref om ’n gereelde Bybelstudie te hou. Hulle het Helen ook geleer lees. Uiteindelik is Joe sowel as Helen gedoop, en Helen het ander Bybelstudente gehelp om te leer lees—dit alles omdat ’n dogtertjie se hart oorgeloop het van lof vir Jehovah!
POGINGS OM CHRISTELIKE SAMEKOMSTE BY TE WOON
In party wêrelddele moet broers besige, besoedelde hoofweë of stampvol moltreine gebruik om Christelike vergaderinge en byeenkomste by te woon. Maar in Papoea-Nieu-Guinee is die probleem dikwels die gebrek aan goeie paaie en vervoer. Gevolglik moet baie gesinne ten minste ’n deel van die reis te voet of per kano aflê of selfs van albei maniere gebruik maak. Verkondigers, tesame met hulle kinders, loop byvoorbeeld gereeld meer as 160 kilometer oor glibberige, ruwe berge om die jaarlikse streekbyeenkoms in Port Moresby by te woon. Hulle uitmergelende, week lange trek volg die wêreldberoemde Kokoda-pad, waar talle bittere gevegte gedurende die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind het. Hulle dra hulle kos, kookgerei, klere en ander artikels wat hulle vir die byeenkoms nodig het, saam.
Die broers op die afgeleë Nukumanu-ringeiland woon gewoonlik die jaarlikse streekbyeenkomste by in Rabaul, 800 kilometer na die weste. “Om seker te maak dat hulle betyds daar aankom”, sê Jim Davies, “vertrek hulle soms ses weke voor die tyd omdat die bootdiens so onbetroubaar is. Die terugreis kan ook baie onvoorspelbaar wees. Eenkeer het die enigste boot na Nukumanu eers by Australië aangedoen vir herstelwerk, en toe het die eienaars finansiële probleme gehad. Gevolglik het dit die broers meer as ses maande geneem om by die huis te kom! Dit was weliswaar ’n uiterste geval, maar vertragings van etlike weke is niks ongewoons nie, en dit dwing die gestrande verkondigers dan om by mede-Getuies of familielede te bly.”
DIE GOEIE VOORBEELD VAN SENDELINGE
Om in ’n vreemde land te dien waar die lewenstandaard moontlik laer is as by die huis, kan vir sendelinge ’n groot aanpassing wees. Maar soos baie getoon het, is dit ’n aanpassing wat gemaak kan word en wat dikwels deur die plaaslike mense waardeer word. Een vrou in Papoea-Nieu-Guinee het van die twee sendelingsusters wat met haar gestudeer het, gesê: “Hulle vel is wit, maar hulle harte is soos ons harte.”
Party sendelinge dien in die reisende werk. Om gemeentes te besoek, moet hulle gebruik maak van watter vorm van vervoer ook al beskikbaar is. Dit was die geval met Edgar Mangoma. Die kringe wat hy bedien het, het die Flyrivier en die Murraymeer ingesluit. “Wanneer ek die twee gemeentes op die meer bedien het, het ek per kano gereis—soms met en soms sonder ’n motor. In laasgenoemde geval het dit my tot agt uur geneem om van die een gemeente tot by die ander te kom. Drie of vier broers het my gewoonlik vergesel, wetende dat hulle die hele ent sou moes terugroei nadat hulle my afgelaai het. Hoe het ek hulle tog waardeer!”
Die goeie voorbeeld van sendelinge, insluitende hulle nederigheid en liefde vir mense, het ’n uitstekende getuienis gelewer. “Die dorpsbewoners was verbaas om te sien dat ek by belangstellendes in hulle huise woon en saam met hulle eet”, het ’n kringopsiener geskryf. “Trouens, van die plaaslike mense het al vir my gesê: ‘Jou aanbidding van God is opreg. Ons predikante assosieer nie met ons soos jy nie.’”
Vind buitelandse susters dit moeilik om by die lewe in Papoea-Nieu-Guinee aan te pas? “Die eerste paar maande was vir my baie moeilik”, vertel Ruth Boland, wat haar man, David, in die reisende werk vergesel het. “Ek wou dikwels tou opgooi. Maar ek is bly ek het nie, want ek het geleer om die broers en susters te waardeer en lief te kry. Ek en my man het al hoe minder aan onsself gedink en al hoe meer aan ander. Om die waarheid te sê, die vreugde wat ons ondervind het, was ongeëwenaard. In materiële sin het ons niks gehad nie, maar in geestelike sin was ons ryk. En ons het Jehovah se hand so dikwels in gebeure gesien—nie net in verband met die bevordering van die goeie nuus nie, maar ook in ons eie lewe. Wanneer ’n mens niks in materiële sin het nie—dít is wanneer jy werklik op Jehovah vertrou en sy seën sien.”
BURGEROORLOG OP BOUGAINVILLE
In 1989 het die bedrywighede van ’n lank bestaande afskeidingsbeweging op Bougainville-eiland uiteindelik op ’n volskaalse burgeroorlog uitgeloop. Gedurende die 12 jaar lange konflik is sowat 60 000 mense ontwortel en het 15 000 gesterf. Onder die ontworteldes was daar baie verkondigers, van wie die meeste in ander dele van Papoea-Nieu-Guinee gaan woon het.
Kort voordat Dan Ernest, ’n pionier, die eiland verlaat het, is hy deur soldate van die Bougainville- Revolusionêre Weermag (BRA) gevange geneem en na ’n groot pakhuis geneem. Dan vertel: “In die pakhuis was daar ’n BRA-generaal in ’n uniform vol medaljes en met ’n swaard aan sy sy.
“‘Is jy Dan Ernest?’ het hy gevra.
“‘Ja’, het ek geantwoord.
“‘Ek het gehoor dat jy ’n spioen vir die Papoea-Nieu-Guinese weermag is’, het hy gesê.
“Ek het begin verduidelik dat Jehovah se Getuies nie by die konflikte van enige land betrokke raak nie, maar hy het my in die rede geval en gesê: ‘Ons weet! Ons het julle dopgehou. Ander godsdienste het die kant gekies van wie ook al gelyk het asof hulle wen. Julle godsdiens is die enigste wat heeltemal neutraal gebly het.’ Toe het hy bygevoeg: ‘Ons mense is deur hierdie oorlog ontwrig en het julle vertroostende boodskap nodig. Ons wil hê dat jy op Bougainville moet bly en moet aanhou preek. Maar as jy moet gaan, sal ek seker maak dat al jou besittings veilig uit die land kom.’ Twee weke later, toe ek en my vrou na ’n nuwe pioniertoewysing op Manus-eiland vertrek het, het die generaal sy woord gehou.”
Die takkantoor het alles in hulle vermoë gedoen om met die verkondigers in die oorloggeteisterde gebied in aanraking te bly en kon ondanks ’n seeblokkade vir hulle kos, medisyne en lektuur stuur. ’n Besoekende kringopsiener het geskryf: “Die oorlogletsels is oral te sien, maar die broers en susters preek nog steeds en hou hulle vergaderinge. Baie Bybelstudies word ook gehou.”
Uiteindelik, in 2001, het die strydende partye ’n vredesooreenkoms gesluit wat Bougainville en die nabygeleë eilande ’n selfregerende gebied gemaak het. Op die oomblik woon daar geen Getuies op Bougainville-eiland nie, maar daar is ’n sterk gemeente van 39 verkondigers op die naburige Buka-eiland.
’N VULKAAN VERWOES RABAUL
Die stad Rabaul het ’n groot hawe wat eintlik die kaldera is van ’n ou vulkaan. In September 1994 het aktiewe vulkaanopeninge aan weerskante van die hawe uitgebars, wat Rabaul verwoes het en die lewenswyse in die provinsie grootliks verander het. Die Koninkryksaal en die sendinghuis langsaan is vernietig, maar geen broers is dood nie. Een broer het egter ’n hartprobleem gehad en het gesterf terwyl hy van die uitbarsting weggevlug het. Die broers het almal na voorafgereëlde gebiede kilometers daarvandaan gegaan, ooreenkomstig ’n evakuasieplan wat al jare lank op die kennisgewingbord in die Koninkryksaal was.
Die takkantoor het onmiddellik stappe gedoen om dié wat hierdeur geraak is, te help en om noodleniging te organiseer. Geskenkte klere, muskietnette, medisyne, petrol, dieselbrandstof en ander items is gestuur, sowel as rys en taro van ’n nabygeleë gemeente. Trouens, die noodlenigingspoging het so vlot verloop dat plaaslike beamptes en ander ’n aantal gunstige kommentare gelewer het.
Die Rabaul-gemeente het uiteindelik nie meer bestaan nie. Twee dae ná die uitbarstings het ongeveer 70 verkondigers en hulle kinders in ’n verlate ambagskool bymekaargekom. Toe die ouer manne daar aankom, het die verkondigers gevra: “Hoe laat begin die boekstudie?” Ja, ondanks die ontberinge is vergaderingbywoning en die getuieniswerk nooit afgeskeep nie (Heb. 10:24, 25). Die meeste broers het na nabygeleë groepe getrek, waarvan een gevolglik ’n gemeente geword het.
Die provinsiale regering het al die godsdienste wat eiendom verloor het, belowe dat hulle grond gegee sal word in die dorp Kokopo, omtrent 24 kilometer van Rabaul af. Maar hoewel ander godsdienste grond gekry het, het die Getuies nie. Toe, ongeveer sewe jaar ná die uitbarsting, het ’n broer van Afrika vir die dorpsbeplanningsdepartement begin werk. Toe hy sien hoe onregverdig die Getuies behandel is, het hy onmiddellik ’n geskikte stuk grond in Kokopo gevind en die broers gehelp met hulle aansoek, wat goedgekeur is. ’n Vrywillige bouspan het ’n Koninkryksaal en sendinghuis help bou. Trouens, die aanvanklike onreg was op die ou end ’n seën. Hoe so? Die grond wat vroeër aan die kerke gegee is, is teen ’n steil heuwel. Maar die perseel wat aan die broers gegee is, is op ’n ideale plek in die middel van die dorp.
VERTALING VORDER
“In ’n land met meer as 800 tale is dit noodsaaklik om ’n gemeenskaplike taal of gemeenskaplike tale te hê sodat mense met mekaar kan kommunikeer”, sê Timo Rajalehto, wat ’n lid van die Takkomitee en die opsiener van die Vertaalafdeling is. “Eenvoudige handelstale, soos Tok Pisin en Hiri Motu, is ideaal hiervoor. Hulle is redelik maklik om as ’n tweede taal aan te leer, en ’n mens kan goed oor alledaagse sake daarin kommunikeer. Maar hulle is nie ideaal om ingewikkelde konsepte oor te dra nie. Gevolglik sukkel ons vertalers dikwels met sekere terme.
“Ons het byvoorbeeld gevind dat Tok Pisin nie ’n voldoende ekwivalent vir die woord ‘beginsel’ het nie. Ons vertalers het dus twee Tok Pisin-woorde saamgevoeg om die woord stiatok (“steer talk”, stuurgepraat) te vorm, wat beskryf hoe beginsels werk deur mense in die regte rigting te ‘stuur’, of te rig. Die term het in die media ingang gevind en word nou deur baie Tok Pisin-sprekendes gebruik.”
Die Wagtoring is in 1958 in Motu uitgegee en in 1960 in Tok Pisin. Studieartikels is in Sydney, Australië, op los velle papier gedruk wat vasgekram is en dan na Port Moresby gestuur is. In 1970 is die tydskrif tot 24 bladsye vergroot, en die sirkulasie daarvan het tot meer as 3 500 gestyg. ’n Uitgawe van 24 bladsye van die Ontwaak! in Tok Pisin is in Januarie 1972 gepubliseer. Op die oomblik word ’n halfmaandelikse Wagtoring en ’n driemaandelikse Ontwaak! in Tok Pisin by die tak vertaal, sowel as ’n maandelikse studie-uitgawe van Die Wagtoring en ’n driemaandelikse publieke uitgawe in Hiri Motu.
“Ons het onlangs sekere traktate in ’n aantal nuwe tale vertaal, insluitende Enga, Jiwaka, Kuanua, Melpa en Orokaiva”, sê Timo Rajalehto. “Waarom is dit gedoen, aangesien mense wat hierdie tale praat ook Tok Pisin of Engels of albei praat? Ons wou sien hoe mense op die Koninkryksboodskap in hulle moedertaal reageer. Sou dit hulle belangstelling in die waarheid wek en ’n goeie gesindheid teenoor die Getuies bevorder?
“Die antwoord is ’n besliste ja! Trouens, talle positiewe kommentare is deur die publiek gelewer. Bybelstudies is begin, en selfs party voormalige teenstanders het hulle gesindheid teenoor die Getuies verander. Wanneer mense ’n publikasie in hulle moedertaal ontvang, het dit groot trefkrag.”
Daar is nou 31 in die Vertaalafdeling, wat die Hiri Motu- en Tok Pisin-vertaalspanne insluit. In Desember 2009 was ons almal verheug om in ’n nuwe vertaalkantoor in te trek.
BAIE VIND BAAT BY DIE PIONIERDIENSSKOOL
Vir baie van Jehovah se knegte is die pionierdiensskool ’n hoogtepunt in hulle lewe. Die skool help die pioniers nie net om geestelik te groei nie, maar rus hulle ook toe om beter pioniers te word. Kyk na wat party gesê het nadat hulle die skool bygewoon het.
Lucy Koimb: “Die skool het my gehelp om te sien dat een van die beste dinge wat ek met my lewe kan doen, is om in die voltydse diens te wees.”
Michael Karap: “Voor die skool het ek baie herbesoeke gehad en geen Bybelstudies nie. Nou het ek baie studies!”
Ben Kuna: “Die skool het my geleer om meer soos Jehovah te dink.”
Siphon Popo: “Ek het harder gestudeer as ooit tevore in my lewe! En ek het geleer om nie haastig te wees wanneer ek studeer nie.”
Julie Kine: “Die skool het my geleer om die regte beskouing van materiële dinge te hê. Ons het nie werklik soveel nodig as wat ander sê nie.”
Dan Burks, ’n lid van die Takkomitee, het gesê: “Wanneer pioniers produktiewer word, word hulle ook gelukkiger en yweriger. Ons is seker dat honderde pioniers in die land nog by die Pionierdiensskool sal baat vind. Hierdie voordele sal natuurlik ook uitbrei tot die verkondigers en belangstellendes in die gebied.”
LIEFDE BEVORDER GROEI
Jesus Christus het gesê: “Almal [sal] weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). In Papoea-Nieu-Guinee het Christelike liefde allerhande klowe oorbrug: taal- en rasseverskille, stamkulture asook ekonomiese ongelykheid. Wanneer opregtes van hart hierdie liefde sien, word hulle beweeg om te sê: “God is met julle.”
Dit is hoe Mange Samgar gevoel het, ’n buseienaar en voormalige Lutherse predikant van Banz, wat vroeër gemeld is. Wat het hom tot hierdie slotsom laat kom? Die plaaslike gemeente het een van Mange se busse gehuur om ’n streekbyeenkoms in Lae by te woon. “Omdat hy nuuskierig was oor die Getuies, het hy saamgery”, het Steve en Kathryn Dawal gesê, wat by die byeenkomsterrein was toe die bus daar aankom. “Mange was baie beïndruk met die organisasie en die eenheid tussen die rasse en stamme onder Jehovah se volk. Teen die tyd dat hy saam met die bus vol Getuies teruggekeer het huis toe, was hy oortuig dat hy die waarheid gevind het. Later het hy en sy seun Christen- ouer manne geword.”
Suster Hoela Forova, ’n jong weduwee en gewone pionier wat vir haar weduweemoeder gesorg het, het dringend ’n nuwe huis nodig gehad. By twee geleenthede het sy geld bymekaargeskraap, dit vir ’n familielid gegee om hout te koop en dit nooit weer gesien nie. Die plaaslike Getuies, wat bewus was van haar situasie, het haar huis in net drie dae herbou. Hoela het gedurende die drie dae kort-kort gehuil omdat die broers se liefde haar heeltemal oorweldig het. Die projek het ook ’n uitstekende getuienis gegee. ’n Plaaslike diaken het uitgeroep: “Hoe kan mense wat nie geld vra nie en net met boektasse rondloop, ’n huis in drie dae bou!”
Die apostel Johannes het geskryf: “Kindertjies, laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Joh. 3:18). As gevolg van hierdie liefde, wat op baie maniere betoon word, maak die werk in Papoea-Nieu-Guinee steeds vooruitgang. Ja, die 3 672 verkondigers hou 4 908 Bybelstudies, en 25 875 mense het in 2010 die Herdenking van Christus se dood bygewoon—’n kragtige bewys van Jehovah se volgehoue seën!—1 Kor. 3:6.
Ongeveer 70 jaar gelede het net ’n handjie vol moedige broers en susters dit in hierdie wonderlike en misterieuse land gewaag en die waarheid wat mense vrymaak, saam met hulle gebring (Joh. 8:32). In die daaropvolgende dekades het baie ander Getuies—buitelanders sowel as plaaslike mense—by hulle in die werk aangesluit. Hulle het skynbaar onoorkomelike struikelblokke in die gesig gestaar: digte oerwoude, malariabesmette moerasse, slegte paaie of glad geen paaie nie, sowel as armoede, stamgeweld, wydverspreide spiritisme en soms hewige teenstand van die Christendom se geestelikes en hulle ondersteuners. Die broers het ook te kampe gehad met ongeletterdheid en die uitdaging om vir duisende stamgemeenskappe te preek wat meer as 800 tale praat! Hulle onselfsugtige bydrae tot die Koninkrykspredikingswerk word grootliks waardeer deur diegene wat ná hulle gekom het en voortgebou het op die fondament wat hulle gelê het.
Jehovah se knegte in Papoea-Nieu-Guinee het egter nog steeds met baie van hierdie uitdagings te kampe. Maar by God is alles moontlik (Mark. 10:27). Met volle vertroue in hom is die broers en susters in hierdie land met sy ryk verskeidenheid dus seker dat Jehovah nog talle regverdiggesindes “tot ’n suiwer taal [sal] laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien”.—Sef. 3:9.
[Voetnote]
a Groenland is die grootste eiland in die wêreld. Australië word as ’n vasteland beskou, nie as ’n eiland nie.
b In hierdie verslag sal ons deurgaans die huidige naam Papoea-Nieu-Guinee eerder as die vroeëre benamings gebruik.
c Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.
[Lokteks op bladsy 88]
“Bobogi, waar het jy geleer om dit alles te doen?”
[Lokteks op bladsy 100]
‘Hy het ingestem om ons film verniet te vertoon’
[Lokteks op bladsy 104]
“Gee jou godsdiens op, of gaan soek ander werk”
[Lokteks op bladsy 124]
Toe hulle sien wat in haar sak is, het hulle skuldig gevoel oor wat hulle gedoen het
[Lokteks op bladsy 149]
“Hulle vel is wit, maar hulle harte is soos ons harte”
[Venster/Prent op bladsy 80]
’n Oorsig van Papoea-Nieu-Guinee
Land
Papoea-Nieu-Guinee beslaan die oostelike helfte van die eiland Nieu-Guinee. Die land sluit 151 kleiner eilande in en is ietwat groter as die Noord-Kaap. Ruwe berge oorheers die binneland; digte reënwoude en moerasse kom al langs die kus voor.
Bevolking
Van die 6,7 miljoen inwoners is 99 persent Papoeaas en Melanesies. Die res is Polinesies, Chinees en Europees. Die meeste mense is verklaarde Christene.
Taal
Papoea-Nieu-Guinee is die land met die grootste aantal tale op aarde, naamlik 820—12 persent van al die tale in die wêreld. Buiten hulle inheemse taal praat die meeste mense ook Tok Pisin, Hiri Motu of Engels.
Bestaansmiddele
Sowat 85 persent van die bevolking lei ’n tradisionele lewe in dorpies waar hulle hulle eie groentetuintjie het. Koffie en tee word as kontantgewasse in die hooglande verbou. Minerale, gas, olie en bosbouprodukte dra ook tot die ekonomie by.
Voedsel
Die vernaamste voedselsoorte is onder andere patats, taro, kassawe, sago en piesangs, wat rou geëet of gekook word. Groente, tropiese vrugte en blikkiesvleis en -vis is ook gewild. Varkvleis word by spesiale geleenthede geëet.
Klimaat
Daar is twee seisoene—nat en nie so nat nie. Omdat Papoea-Nieu-Guinee naby die ewenaar geleë is, het dit ’n tropiese klimaat langs die kus, maar is dit koeler in die hooglande.
[Venster/Prente op bladsye 83, 84]
‘Ek het my skaamheid oorwin’
ODA SIONI
GEBORE 1939
GEDOOP 1956
PROFIEL Die eerste plaaslike pionier in Papoea-Nieu-Guinee. Hy dien nou as ’n spesiale pionier in die Hohola Motu-gemeente, Port Moresby.
◼ TOE my ouer suster Tom en Rowena Kitto op die plankpaadjies van die dorpie Hanuabada sien preek het, het sy my gevra om hulle vergaderinge by te woon om meer omtrent hierdie “nuwe godsdiens” uit te vind. Die vergaderinge is destyds by die huis van Heni Heni Nioki, ’n plaaslike Bybelstudent, gehou.
Ek was 13 jaar oud en baie skaam. Ek het na Heni Heni se huis gegaan, waar omtrent 40 dorpsbewoners bymekaargekom het, en stil eenkant gaan sit met my kop in my hande. Ek het gehou van wat ek gehoor het en het bly teruggaan. Kort voor lank het Heni Heni my gevra om Tom Kitto se Engelse toesprake in Motu te tolk, die taal wat die meeste in die gehoor gepraat het.
’n Paar jaar later, toe ek by ’n plaaslike hospitaal begin werk het met die doel om as ’n dokter opgelei te word, het John Cutforth my eenkant geneem, vriendelik met my geredeneer en gesê: “As jy ’n mediese dokter word, kan jy mense fisies help, maar as jy ’n geestelike ‘dokter’ word, kan jy hulle help om die ewige lewe te verkry.” Ek het daardie week begin pionier.
My eerste toewysing was in Wau. Ek het die dorp kort tevore besoek en etlike mense gevind wat in die waarheid belangstel. Een van hulle, Jack Arifeae, het my genooi om in die plaaslike Lutherse kerk te preek. Ek het God se wet oor bloed as my onderwerp gekies. Die 600 mense in die gemeente het met gespanne aandag geluister, aangesien baie van hulle geglo het dat ’n mens, deur iemand anders se bloed te eet, sy gees jou liggaam kan laat oorneem. Die priester was woedend en het vir die gemeente gesê dat hulle niks met my te doen moet hê nie. Maar baie het gehou van wat hulle gehoor het en het verdere geestelike vooruitgang gemaak.
Omtrent ’n jaar later het ek ’n nuwe toewysing in Manu Manu ontvang, ongeveer 50 kilometer noordwes van Port Moresby. Daar het ek ’n plaaslike hoofman, Tom Surau, ontmoet, wat my genooi het om in sy dorpie te kom preek. Nadat ek drie dae met die dorpsbewoners gestudeer het, het hulle hulle houtbeeld van die Maagd Maria opgekap en in die rivier gegooi.
Mense wat stroomaf gewoon het, het die oorblyfsels bymekaargemaak en dit na die Katolieke priesters in hulle dorpie geneem en uitgeroep: “Hulle het Maria doodgemaak!” Twee priesters het my kom konfronteer. Een van hulle het reguit na my toe geloop en my met sy vuis in die gesig geslaan, en sy ring het my wang oopgesny. Toe die plaaslike dorpsbewoners my te hulp gesnel het, het die priesters weggehardloop.
Ek het na Port Moresby gegaan om die sny te laat toewerk en ’n klag by die polisie in te dien. Die priesters is later ’n boete opgelê en van hulle amp onthef. Intussen het ek na die dorpie teruggekeer en ’n afgesonderde groep begin. Met Jehovah se hulp het ek my skaamheid oorwin.
[Prent]
Die vergaderinge is aanvanklik in Heni Heni se huis gehou
[Venster op bladsy 86]
Die Wantok-stelsel
Die term wantok, wat “een gepraat” in Tok Pisin beteken, hou verband met ’n kragtige kulturele band wat mense verbind wat aan dieselfde etniese groep behoort en dieselfde taal praat. Die band sluit sekere verpligtinge en voorregte in. Daar word byvoorbeeld verwag dat mense in die materiële behoeftes voorsien van hulle bejaarde wantoks (mense wat hulle taal praat) of van dié wat werkloos is of nie kan werk nie. Dit is ’n groot hulp in ’n land met beperkte volkswelsyn.
Die stelsel het ook sy nadele. Byvoorbeeld, wanneer Bybelstudente hulle standpunt vir die waarheid inneem, verwerp ander familielede hulle dalk. In sulke gevalle moet nuwelinge op Jehovah vertrou vir hulp as hulle hulle werk verloor of om die een of ander rede gebrek ly (Ps. 27:10; Matt. 6:33). “Die wantok-stelsel kan broers ook onder groot druk plaas om onnodig met familielede te assosieer wat nie Getuies is nie, insluitende dié wat moontlik uitgesit is”, sê die Takkomiteelid Kegawale Biyama. “En gedurende politieke verkiesings word daar dikwels druk op Getuiefamilielede van kandidate uitgeoefen om hulle Christelike neutraliteit prys te gee.” Hulle doen dit natuurlik nie.
[Venster/Prent op bladsy 91]
Hy het baie harte verower
Gedurende sy sendingdiens in Papoea-Nieu-Guinee het John Cutforth baie harte verower. Kyk na wat party van sy mede-sendelinge en ander saam met wie hy gewerk het, van hom gesê het.—Spr. 27:2.
Erna Andersson: “John het vir ons gesê: ‘’n Ware sendeling word alles vir alle mense. As mense jou ’n stomp gee om op te sit, sit daarop; dit is die beste wat hulle kan gee. As hulle vir jou ’n ruwe houtbed gee, slaap daarop; hulle voorsien dit uit die goedheid van hulle hart. As hulle jou ongewone kos gee, eet dit; dit is met liefde voorberei.’ John was ’n uitstekende voorbeeld van ’n selfopofferende sendeling.”
Awak Duvun: “Gedurende die koloniale bewind het John vooroordeel tussen swart mense en wit mense nie net afgebreek nie, maar vernietig! ‘Swart man, wit man—geen verskil nie!’ het hy dikwels gesê. Hy het almal liefgehad.”
Peter Linke: “Een middag het John vol stof en moeg by ons huis in Goroka aangekom nadat hy amper die hele dag op die pad was. Maar ná aandete het hy gesê: ‘Ek het vandag niks vir enigiemand anders gedoen nie’, en hom in die skemerlig voortgesleep na ’n plaaslike familie om hulle te bemoedig. Hy was altyd besorg oor ander. Ons was almal lief vir hom.”
Jim Dobbins: “John het ons geleer om eenvoudig te lewe en om eenvoudig te onderrig en illustrasies te gebruik wat mense kan verstaan, soos Jesus gedoen het. Dit het ons in staat gestel om met mense te kommunikeer wat nie kon lees of skryf nie.”
[Venster/Prent op bladsy 101]
‘Ons sal nooit ons geloof prysgee nie’
KALIP KANAI
GEBORE 1922
GEDOOP 1962
PROFIEL Een van die eerste mense wat die waarheid in die Madanggebied aangeneem het. Soos vertel deur sy seun Ulpep Kalip.
◼ MY PA was ’n nederige man en ’n diep denker. Wanneer hy iemand moes help met ’n probleem, het hy aandagtig geluister en die saak ontleed voordat hy sy mening gegee het.
Toe ek 15 was, is ek in die hospitaal opgeneem omdat ’n haai my been net onder die knie afgebyt het. Terwyl my pa my besoek het, het hy John Davison ontmoet. “In die nuwe wêreld”, het John gesê, “kan Jehovah vir jou seun ’n nuwe been gee.” My pa se belangstelling is gewek, en hy het die Bybel ernstig begin studeer en gou sterk geloof ontwikkel.
Omdat my pa en sy familie die Katolieke Kerk verlaat het, is die polisie aangehits om ons uit ons huise te sit. Ons 12 huise, wat omring was deur pragtige blomtuine, was nog nie eens ’n jaar oud nie. Die polisie het brandende fakkels op die grasdakke gegooi, wat in vlamme uitgebars het. Ons het ingehardloop om ons besittings te red, maar die vlamme en rook het ons uitgedryf. Ons het gehuil terwyl ons huise tot as verbrand het.
Met swaar harte het ons na Bagildig, die buurdorpie, geloop, waar die hoofman ons goedgunstig toegelaat het om in ’n klein hut met net een vertrek in te trek. Daar het my pa met ons gesin gepraat en gesê: ‘Jesus is vervolg. Ons kan dus verwag dat mense ons ook sal vervolg, maar ons sal nooit ons geloof prysgee nie!’
[Venster/Prent op bladsye 107, 108]
Hy was dankbaar dat hy na die “verkeerde” skool gegaan het
MICHAEL SAUNGA
GEBORE 1936
GEDOOP 1962
PROFIEL Het in September 1964 ’n spesiale pionier geword en het langer as enigiemand anders in Papoea-Nieu-Guinee as ’n spesiale pionier gedien.
◼ IN 1959 het ek na Rabaul getrek om verder te studeer. Toe ek hoor dat die Getuies ’n skool het, het ek na die huis van die “onderwyser”, Lance Gosson, gegaan, onder die indruk dat ek na ’n vakskool gaan. Lance het my genooi om die Bybelstudie by te woon wat elke Woensdag gehou is. Ondanks die misverstand het ek die uitnodiging aanvaar. Ek het groot waardering gehad vir die dinge wat ek geleer het, veral dat God se naam Jehovah is en dat daar “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” sal wees (2 Pet. 3:13). Ek is die oggend van 7 Julie 1962 gedoop, baie dankbaar dat ek na die “verkeerde” skool gegaan het.
Dieselfde dag het ek ’n vergadering bygewoon wat gehou is vir dié wat in pionierdiens belangstel. Die broer wat dit waargeneem het, John Cutforth, die streekopsiener, het beklemtoon dat die lande wit is vir die oes en dat meer werkers nodig is (Matt. 9:37). Ek het so gou moontlik vakansiepionierdiens begin doen, soos hulppionierdiens destyds genoem is. In Mei 1964 het ek ’n gewone pionier geword, en in September, ’n spesiale pionier.
Ek onthou ’n geleentheid toe ek naby Rabaul gepreek het. ’n Tolai-man het gevra of hy my Bybel kan vashou sodat hy ’n teks self kan lees. Toe ek hom die Bybel gee, het hy dit opgeskeur en op die grond gegooi. In plaas van kwaad te word, het ek die saak by die polisiehoof aangemeld, wat dadelik ’n konstabel gestuur het om die oortreder in hegtenis te neem. Die polisiehoof het vir die man gesê: “Jy is ’n slegte man. Jy het God se wet en die wet van die land verbreek. Jy moet môre vir die man ’n nuwe Bybel koop, en as jy dit nie doen nie, sal ons jou tronk toe stuur.” Die polisiehoof het toe vir my gesê om tienuur die volgende oggend die geld vir die Bybel by die polisiestasie te kom haal. Toe ek daar aankom, was die geld daar. Sedertdien het baie Tolai-mense in die waarheid gekom.
By ’n ander geleentheid was ek saam met ’n groep Getuies wat die Koninkryksnuus in ’n gebied wes van Wewak versprei het. Die ander het vooruit gewerk. ’n Plaaslike dorpsleier het egter uitgevind wat die broers doen en het die traktate wat hulle versprei het, bymekaargemaak. Hy moes geweet het dat ek nog kom, want hy het in die middel van die pad vir my gewag, met sy hande op sy heupe en eksemplare van die Koninkryksnuus in een hand. Ek het gevra of daar ’n probleem is. Hy het dit na my toe uitgehou en gesê: “Ek is in bevel hier, en ek wil nie hê dat julle hierdie traktate moet versprei nie.”
Ek het dit by hom geneem. Intussen het dorpsbewoners om ons saamgedrom. Ek het na hulle gekyk en gevra: “Moet julle amptelike toestemming kry as julle in julle tuin wil werk of wil gaan visvang?”
“Nee!” het een vrou gesê.
Toe het ek die dorpsbewoners gevra: “Wil julle dit lees?”
“Ja”, het hulle gesê. Ek het dus die eksemplare van die Koninkryksnuus sonder teenstand uitgedeel. Later moes ek my egter voor ’n vergadering van sowat 20 dorpsleiers verdedig. Gelukkig het almal met die uitsondering van twee ten gunste van ons predikingswerk gestem.
[Venster/Prent op bladsy 112]
‘Het hulle jou hart geëet?’
AIOKOWAN
GEBORE 1940
GEDOOP 1975
PROFIEL Een van die eerste persone uit die Engavolk wat die waarheid geleer het.
◼ TOE Tom en Rowena Kitto na Wabag, in die Engaprovinsie, gekom het, het die plaaslike sendingkerke valse stories oor hulle versprei. Die sendingkerke het byvoorbeeld gesê dat Tom en Rowena lyke opgrawe en eet. Hierdie stories het my baie bang gemaak.
Eendag het Tom my pa gevra of hy van ’n jong vrou weet wat sy vrou met haar huiswerk kan help. My pa het na my gewys. Ek was vreesbevange, maar my pa het my gedwing om die werk te aanvaar.
Later het Tom en Rowena vir my gevra: “Wat dink jy gebeur met mense wanneer hulle sterf?”
“Goeie mense gaan hemel toe”, het ek geantwoord.
“Het jy dit in die Bybel gelees?” het hulle gevra.
“Ek het nie skoolgegaan nie en kan dus nie lees nie”, het ek geantwoord.
Hulle het my begin leer om te lees, en ek het Bybelwaarheid geleidelik begin verstaan. Toe ek ophou om na die Katolieke Kerk te gaan, het een van die kerkleiers vir my gevra: “Waarom kom jy nie meer kerk toe nie? Het daardie witmense jou hart geëet?”
“Ja”, het ek geantwoord, “my figuurlike hart is nou met hulle omdat ek weet dat hulle my die waarheid leer.”
[Venster/Prent op bladsy 117]
“Gee my ’n hoender en dis joune”
AWAIWA SARE
GEBORE 1950
GEDOOP 1993
PROFIEL Het die waarheid in ’n afgesonderde gebied geleer. Dien nou as ’n bedieningskneg in die Mundip-gemeente.
◼ TERWYL ek by ’n vriend gekuier het, het ek die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gesien. Ek het ’n paar hoofstukke gelees en hom gevra of ek dit kan kry. “Gee my ’n hoender en dis joune”, het hy geantwoord.
Ek het vir hom die hoender gegee en het die boek huis toe geneem en dit noukeurig gelees. Kort voor lank het ek ander vertel van die wonderlike dinge wat ek geleer het, al moes ek twee keer voor kerkleiers verskyn, wat gesê het dat ek moet ophou preek!
Kort daarna het ek aan die takkantoor geskryf en gevra hoe ek met die plaaslike Getuies van Jehovah in aanraking kan kom. Hulle het my in aanraking gebring met Alfredo de Guzman, wat my na ’n streekbyeenkoms in Madang genooi het.
Ek het in verslete bosklere en met ’n groot swart baard by die byeenkoms aangekom. Almal het my nietemin vriendelik en met respek behandel. Gedurende die program het ek begin huil omdat die dinge wat ek gehoor het, my hart geraak het. Die volgende dag het ek glad geskeer by die byeenkoms aangekom.
Ná die byeenkoms het Alfredo van Madang af na my dorpie gekom—wat beteken het dat hy twee uur per vragmotor moes ry en nog vyf uur moes stap. My familie en vriende het hom met vrae bestook, en hy het elke vraag uit die Bybel beantwoord.
Vandag is daar 23 verkondigers in die Mundip-gemeente, en meer as 60 woon die vergaderinge hier by.
[Venster/Prent op bladsye 125, 126]
“Wat het jy te sê?”
MAKUI MAREG
GEBORE 1954
GEDOOP 1986
PROFIEL Sy het baie jare lank alleen gepionier op ’n eiland waarop daar geen ander Getuies was nie.
◼ IN 1980 het ek ’n traktaat by ’n pionier in Madang geneem en dit saamgeneem huis toe na Bagabag-eiland, ses uur per boot daarvandaan. Ek het gehou van wat dit sê en het aan die takkantoor geskryf en meer inligting gevra. Kort daarna het ek ’n brief ontvang van Badam Duvun, ’n pionier in Madang, waarin sy my genooi het om ’n streekbyeenkoms by te woon. Ek het twee weke by haar gekuier en die Bybel begin studeer. Ek het ook al die vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal bygewoon. Toe ek teruggekeer het huis toe, het ek my studie per brief voortgesit.
Kort voor lank het ek Bybelstudies met 12 ander gesinne op Bagabag-eiland begin. Ons het gereelde vergaderinge in my oom se huis gehou, op dieselfde wyse as die groepbybelstudies wat ek in Madang gesien het. Dit het my pa, ’n prominente lidmaat van die Lutherse Kerk, kwaad gemaak. “Ek ken Jahweh, maar ek ken Jehovah nie”, het hy gebulder. Ek het my Tok Pisin-Bybel oopgemaak en vir hom die voetnoot by Eksodus 3:15 gewys, wat die goddelike naam bespreek. My pa kon niks in antwoord hierop sê nie.
Hy het my drie keer voor kerkleiers laat verskyn om my geloof te verdedig. Een van hierdie vergaderinge is in die grootste kerk op die eiland gehou. Daar was meer as honderd mense in die gebou. Die atmosfeer was gespanne. “Wat het jy te sê?” wou die voorsitter weet. “Ek wil net Matteus 6:33 gehoorsaam en God se Koninkryk eerste stel”, het ek geantwoord, terwyl ek my Bybel styf vasgehou het. My pa het opgespring. “Probeer jy ons leer?” het hy woedend uitgeroep. Een van my ooms het opgestaan om my te klap, maar ’n ander familielid het gou tot my verdediging gekom. Die vergadering het in chaos ontaard. Hulle het my uiteindelik laat gaan.
My probleme was egter nog lank nie oor nie. Ongelukkig het een van die vroue wat ons vergaderinge bygewoon het, ’n siek baba gehad wat gesterf het. Party in die gemeenskap het my vir die dood geblameer en gesê dat dit gebeur het omdat ek die ma ’n nuwe godsdiens geleer het. My pa het my, met ’n ysterstaaf in sy hand, uit ons huis gejaag. Ek en my tannie, Lamit Mareg, wat ook die waarheid aangeneem het, het na Madang gevlug. Kort daarna is ons albei gedoop.
Later het my pa baie siek geword. Ek het hom in my huis in Madang ingeneem en hom tot sy dood versorg. Gedurende daardie tyd het sy hart versag teenoor my godsdiens. Voordat hy dood is, het hy my aangespoor om na Bagabag-eiland terug te keer en vir die mense daar te preek. In 1987 het ek dit gedoen. My familielede het goedgunstig vir my ’n huisie gebou, en ek was 14 jaar lank die enigste Getuie daar. Ek het gedurende twaalf van hierdie jare as ’n gewone pionier gedien.
Later het ek na Madang teruggekeer om saam met Lamit te pionier. In 2009 het ses mense van Bagabag-eiland na Madang gekom om die jaarlikse Herdenking van Christus se dood by te woon. Ek het nooit getrou nie, en ek is verheug dat ek my ongetroude lewe kon gebruik om Jehovah ten volle te dien.
[Venster/Prente op bladsye 141, 142]
Jehovah het my ingeneem
DORAH NINGI
GEBORE 1977
GEDOOP 1998
PROFIEL Sy het die waarheid as ’n jong meisie geleer en is deur haar familie verstoot. Sy het later begin pionier en dien nou by die takkantoor.
◼ TOE ek 17 jaar oud was, het ek ’n eksemplaar van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gevind. Ek het gou besef dat ek iets baie spesiaals gevind het. Ek het die boek met Jehovah se Getuies geassosieer, want toe ek omtrent vier jaar oud was, het twee Getuies met my oor God se belofte van ’n paradys op aarde gepraat het.
Kort nadat ek die Paradys op aarde-boek gevind het, het my aanneemouers vir my gesê dat ek na my familie moet teruggaan, wat in die kusdorp Wewak gewoon het, aangesien hulle klaar vyf kinders het. Toe ek daar aangekom het, het ek eers by my pa se broer gebly.
Omdat ek gretig was om die Getuies te ontmoet, het ek die Koninkryksaal gesoek, en ek het daar aangekom net toe ’n broer die slotlied aankondig. Nietemin het ’n sendeling van die Verenigde State met die naam Pam gereël om die Bybel met my te studeer. Ek het baie geniet wat ek geleer het, maar ná net drie studies het ek ’n konfrontasie met my oom gehad.
Toe ek ná ’n Sondagvergadering naby die huis kom, het ek rook uit my oom se voortuin sien trek. Hy was besig om al my besittings te verbrand, insluitende my Bybelstudiehulpe. Toe hy my sien, het hy geskreeu: “As jy saam met daardie mense wil aanbid, kan hulle vir jou sorg.” Omdat ek nie meer daar welkom was nie, het ek geen ander keuse gehad nie as om na my biologiese ouers te gaan, wat in ’n dorpie ongeveer twee uur per motor van Wewak af gewoon het.
Toe ek na my pa aangestap kom, het ek hom vir my broers en susters hoor sê: “Wie is hierdie meisie? Ons ken haar nie. Ons het haar weggegee toe sy drie was.” Ek het besef dat hy my ook nie wil hê nie; ek het dus weggegaan en gebly waar ek ook al kon.
Omtrent twee jaar later het twee spesiale pionierbroers my in my ouers se dorpie teëgekom. Ek het vir hulle gesê: “Sê asseblief vir Pam dat ek nie vergeet het wat sy my geleer het nie, maar dit is nie vir my moontlik om haar te sien nie.” Kort daarna kon ek Pam egter in Wewak ontmoet en my studie hervat. Gedurende daardie tyd het ek by drie verskillende gesinne gebly, maar weens my assosiasie met die Getuies is ek elke keer uitgeskop. Pam het liefdevol gereël dat ek by ’n Getuiegesin in Wewak woon. Ek is in 1998 gedoop en het in September 1999 gewone pionierdiens begin doen. In 2000 is ek na Bethel genooi, waar ek die voorreg het om saam met die Tok Pisin-vertaalspan te werk.
Hoewel my eie familie my verstoot het, wat my diep seergemaak het, het my geestelike familie dubbel en dwars vir die verlies vergoed. Een van my gunstelingtekste is Psalm 27:10, wat sê: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem.”
[Prent]
Lektuur in Tok Pisin
[Venster/Prente op bladsye 147, 148]
“Jehovah is ons grootste Onderrigter”
JOHN TAVOISA
GEBORE 1964
GEDOOP 1979
PROFIEL As kind is hy wreed deur sy onderwysers en medeleerlinge vervolg en moes hy ná net twee jaar die skool verlaat. Hy dien nou as ’n kringopsiener.
◼ EK IS in die dorpie Govigovi in die Milne Bay-provinsie gebore. My pa het die Bybel begin studeer toe ek sewe jaar oud was, en hy het my die dinge geleer wat hy geleer het.
Omstreeks dié tyd het ek begin skoolgaan. Toe my twee onderwysers, wat Anglikaans was, uitvind dat ek met die Getuies assosieer, het hulle my begin vervolg. Van die ander leerlinge het dit ook gedoen en het my selfs met stokke geslaan. Gevolglik moes ek ná net twee jaar die skool verlaat.
Ongeveer ’n jaar later het ek een van my onderwysers by die plaaslike mark raakgeloop. “Jy is ’n slim seun wat baie goed sou gedoen het op skool”, het hy gesê. “Maar weens jou godsdiens sal jy eendag vir jou medeleerlinge moet werk.” Toe ek vir my pa vertel wat die onderwyser gesê het, het sy antwoord my baie vertroos. “As die wêreld jou nie wil leer nie”, het hy gesê, “sal Jehovah.”
My pa en ’n spesiale pionierbroer het my gehelp om die waardevolste opvoeding wat daar is, te verkry—die kennis wat tot die ewige lewe lei (Joh. 17:3). My moedertaal is Dawawa, maar hulle het my die Bybel geleer in Hiri Motu, wat my tweede taal geword het, en in Tok Pisin, wat my derde taal geword het. Ek is gedoop toe ek 15 was. Twee jaar later het ek begin pionier.
In 1998 is ek genooi om die Bedieningsopleidingskool by te woon. Destyds was my Engels beperk. Om my vir die skool voor te berei, het die takkantoor my dus na ’n Engelse gemeente in Port Moresby gestuur. Engels het derhalwe my vierde taal geword.
By die graduering het ek die toewysing ontvang om in die Alotau-gemeente in die Milne Bay-provinsie te dien. Ses maande later was ek baie verras—en verheug—om as ’n kringopsiener aangestel te word. My eerste kring het Nieu-Brittanje, Nieu-Ierland, Manus-eiland en ander naburige eilande ingesluit. Ek is in 2006 met my geliefde vrou, Judy, getroud, en ons het ’n jaar lank as spesiale pioniers gedien, waarna ons kringwerk begin doen het.
Wanneer ek gemeentes besoek, sê ek dikwels vir jongmense: “Jehovah is ons grootste Onderrigter. Laat hy jou dus leer, want hy kan jou toerus om werklik suksesvol in die lewe te wees.” Dit is beslis ’n belangrike les wat ek geleer het.
[Prent]
Saam met my vrou, Judy
Tabel/Prente op bladsye 156, 157]
TYDLYN—Papoea-Nieu-Guinee
1930
1935 Pioniers op die Genootskap se kaag Lightbearer preek in Port Moresby.
1940
1950
1951 Tom en Rowena Kitto kom in Port Moresby aan.
1956 Pioniers trek na Nieu-Ierland en Nieu-Brittanje.
1957 John Cutforth gebruik prentepreke.
1960
1960 Die Internasionale Bybelstudente-vereniging word geregistreer.
1962 Tom en Rowena Kitto verhuis na die hooglande van Nieu-Guinee.
1965 ’n Takkantoor word in Koki, Port Moresby, gebou.
1969 Die “Vrede op aarde”- Internasionale Byeenkoms word in Haima, Papoea, gehou.
1970
1975 Papoea en Nieu-Guinee verenig om Papoea-Nieu- Guinee te vorm.
1977-1979 Gewelddadige skares vernietig Koninkryksale in die Milne Bay-provinsie.
1980
1987 ’n Nuwe takkantoor word toegewy.
1989 Burgeroorlog breek uit op Bougainville-eiland.
1990
1991 Die Wagtoring in Tok Pisin en Hiri Motu word gelyktydig met die Engels uitgegee.
1994 ’n Hospitaalskakelkomitee begin funksioneer.
1994 Vulkaniese uitbarstings verwoes Rabaul, Nieu-Brittanje.
1999 ’n Koninkryksaalbou- afdeling word by die takkantoor gestig.
2000
2002 ’n Byeenkomssaal word in Gerehu, Port Moresby, gebou.
2010
2010 ’n Nuwe uitbreiding van die takkantoor word toegewy.
2020
[Grafiek/Prent op bladsy 118]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Aantal verkondigers
Aantal pioniers
3,500
2,500
1,500
500
1955 1965 1975 1985 1995 2005
[Kaarte op bladsy 81]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
[Kaarte op bladsy 81]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PAPOEA-NIEU-GUINEE
PORT MORESBY
Wewak
Sepikrivier
Kambot
Dimiri
Biwat
Yuatrivier
Wabag
Mount Hagan
Banz
Wahgivallei
HOOGLANDE VAN NIEU-GUINEE
Murraymeer
Flyrivier
Basken
Talidig
Bagildig
Madang
Goroka
Kainantoe
Lae
Boelolo
Wau
Kerema
Savaiviri
Golf van Papoea
Popondetta
Kokoda-pad
Hula
Agi
Govigovi
Alotau
KORAALSEE
Manus-eiland
Bismarck-argipel
BISMARCK-SEE
Bagabag-eiland
Nieu-Brittanje
Rabaul
Kokopo
Kurmalak-eiland
Nieu-Ierland
Kavieng
SOLOMON-SEE
Goodenough-eiland
Buka-eiland
Bougainville-eiland
Nukumanu-ringeiland
Ewenaar
Haima
Six Mile
Hanuabada
Port Moresby-hawe
Koki-mark
Sogeriplato
Ioadabu
[Volbladillustrasie op bladsy 74]
[Prent op bladsy 77]
“Lightbearer”
[Prent op bladsy 78]
Die eerste plaaslike verkondigers, van links na regs: Bobogi Naiori, Heni Heni Nioki, Raho Rakatani en Oda Sioni
[Prent op bladsy 79]
Die dorpie Hanuabada met die middestad van Port Moresby op die agtergrond
[Prent op bladsy 82]
Shirley en Don Fielder net voor hulle aankoms
[Prent op bladsy 85]
Die land se eerste Koninkryksaal, in Haima, Port Moresby
[Prent op bladsy 87]
John Cutforth
[Prent op bladsy 89]
Voorbeeld van ’n prentepreek
[Prente op bladsy 90]
Regs: John Cutforth onderrig met behulp van prente; onder: ’n broer dra ’n prentebord om in die bosdorpies te preek
[Prent op bladsy 92]]
Alf Green, David Walker en Jim Smith
[Prente op bladsy 93]
Links: Shirley, Debbie en Don Fielder; regs: Don en in sy kano
[Prent op bladsy 96]
Jim Smith en Glenn Finlay
[Prent op bladsy 97]
Stephen Blundy steek Keremabaai oor
[Prent op bladsy 99]
Rosina en Ken Frame
[Prent op bladsy 102]
Matthew en Doris Pope
[Prente op bladsy 103]
Magdalen en John Endor se huis was die eerste vergaderplek in Lae
[Prent op bladsy 109]
Die hooglande
[Prent op bladsy 110]
Tom en Rowena Kitto voor hulle winkeltjie en huis in Wabag
[Prent op bladsy 113]
Erna en Berndt Andersson
[Prent op bladsy 114]
Kerry Kay-Smith en Jim Wright
[Prent op bladsy 115]
Mike Fisher op die Sepikrivier
[Prente op bladsy 123]
Die Koninkryksaal in Agi is deur brandstigters afgebrand, maar is toe herbou en vergroot
[Prent op bladsy 127]
Elsie en Bill Thew
[Prent op bladsy 128]
’n “Puapua” met volle seile
[Prent op bladsy 128]
Die boot “Pioneer”, gebou deur Berndt Andersson
[Prente op bladsy 131]
Op die Sepikrivier
[Prente op bladsye 132, 133]
Links: Die kringopsiener Warren Reynolds en sy vrou, Leann, besoek die dorpie Biwat; bo: openbare toespraak gedurende sy besoek aan die dorpie Dimiri
[Prent op bladsy 135]
Kora Leke
[Prent op bladsy 135]
Soare Maiga
[Prent op bladsy 136]
Save Nanpen
[Prent op bladsy 139]
Geordie en Joanne Ryle
[Prent op bladsy 145]
Party van hierdie kinders is uit die skool gesit omdat hulle nie die vlag gesalueer het nie
[Prente op bladsye 152, 153]
Links: Rabaul met die Tavurvur-vulkaan in die agtergrond; onder: die Rabaul-Koninkryksaal wat in 1994 vernietig is
[Prent op bladsy 155]
Vertaalspan, 2010
[Prente op bladsy 161]
Takkantoor in Papoea-Nieu-Guinee
Takkomitee: Dan Burks, Timo Rajalehto, Kegawale Biyama, Craig Speegle