Kan jy groter onderskeidingsvermoë aankweek?
ONDERSKEIDINGSVERMOË is “die krag of vermoë van die verstand waardeur dit dinge van mekaar onderskei”. Dit kan ook “skerpsinnigheid” wees of die “vermoë om verskille in dinge of idees waar te neem”. So sê Webster’s Universal Dictionary. Dit is duidelik dat onderskeidingsvermoë ’n begeerlike eienskap is. Die waarde daarvan word in Salomo se woorde gesien: “Wanneer wysheid in jou hart inkom en kennis self vir jou siel aangenaam word, . . . sal onderskeidingsvermoë self jou beveilig, om jou van die slegte weg te bevry.”—Spreuke 2:10-12, NW.
Ja, onderskeidingsvermoë sal ons help om “die slegte weg” te weerstaan, wat vandag oral om ons is. En dit bring baie ander voordele mee. Ouers hoor byvoorbeeld dikwels dat hulle kinders sê: ‘Julle verstaan net nie!’ Maar ouers met onderskeidingsvermoë weet hoe om met net ’n paar vrae die gevoelens en probleme wat hulle kinders kwel uit te bring (Spreuke 20:5, NW). ’n Man met onderskeidingsvermoë sal na sy vrou luister en eerder insig in haar denke en gevoelens kry as om ’n oorhaastige gevolgtrekking te maak. Die vrou sal dieselfde met haar man doen. Dus ‘sal ’n huisgesin deur wysheid opgebou word en deur onderskeidingsvermoë stewig bevestig wees’.—Spreuke 24:3, NW.
Onderskeidingsvermoë help ’n mens om situasies met welslae te hanteer. Spreuke 17:27 sê: “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ’n man van [onderskeidingsvermoë, NW].” Iemand met onderskeidingsvermoë is nie impulsief nie en durf nie elke situasie aan sonder om te dink nie. Hy oorweeg die moontlike gevolge sorgvuldig voor hy hom tot iets verbind (Lukas 14:28, 29). Hy geniet ook vreedsamer verhoudinge met ander, want ’n “mond van verstandigheid” laat hom sy woorde versigtig kies (Spreuke 10:19; 12:8, NW). Maar bowenal sal iemand met onderskeidingsvermoë sy eie beperkings nederig erken en eerder op God as op mense vir leiding vertrou. Dit is vir Jehovah welgevallig en is nog ’n rede om onderskeidingsvermoë aan te kweek.—Spreuke 2:1-9; Jakobus 4:6.
Israel se gebrek aan onderskeidingsvermoë
Die gevaar wat dit inhou om nie onderskeidingsvermoë aan die dag te lê nie, word gesien in ’n gebeurtenis in die vroeë geskiedenis van Israel. Die geïnspireerde psalmis het oor daardie tyd nagedink en gesê: “Wat ons voorvaders in Egipte betref, hulle het geen insig in u wonderlike werke getoon nie. Hulle het nie die oorvloed van u grootse liefderyke goedhartigheid onthou nie, maar hulle het opstandig gehandel by die see, by die Rooi See.”—Psalm 106:7, NW.
Toe Moses Israel uit Egipte gelei het, het Jehovah reeds sy krag en sy vasberadenheid om sy volk te bevry, getoon deur daardie magtige wêreldmoondheid met tien plae te besoek. Nadat Farao die Israeliete laat gaan het, het Moses hulle na die oewers van die Rooi See gelei. Maar die leërs van Egipte het hulle agternagesit. Dit het gelyk asof die Israeliete vasgekeer was en asof hulle nuutgevonde vryheid baie kort van duur sou wees. Die Bybelverslag sê dus: “Hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep.” En hulle het Moses aangeval deur te sê: “Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipte uitgelei het? . . . Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.”—Exodus 14:10-12.
Hulle vrees lyk moontlik vir ons redelik totdat ons onthou dat hulle reeds tien uitsonderlike vertonings van Jehovah se krag gesien het. Hulle het eerstehandse kennis gehad van dít waaraan Moses hulle sowat 40 jaar later sou herinner: “Die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders” (Deuteronomium 26:8). Gevolglik het die Israeliete, soos die psalmis geskryf het, ‘geen insig getoon’ toe hulle Moses se leiding verwerp het nie. Jehovah het nietemin, getrou aan sy belofte, die magte van Egipte ’n verpletterende nederlaag toegedien.—Exodus 14:19-31.
Ons geloof kan eweneens wankel as ons beproewinge met twyfel of besluiteloosheid sou tegemoetgaan. Onderskeidingsvermoë sal ons help om dinge altyd in perspektief te sien en te onthou hoeveel groter Jehovah is as enigiemand wat ons dalk teëstaan. Onderskeidingsvermoë sal ons ook help om te onthou wat Jehovah reeds vir ons gedoen het. Dit sal ons help om nooit die feit uit die oog te verloor dat hy die Een is wat ‘almal bewaar wat Hom liefhet’ nie.—Psalm 145:18-20.
Verkry geestelike onderskeidingsvermoë
Onderskeidingsvermoë kom nie vanself namate ’n mens ouer word nie. Dit moet aangekweek word. Die wyse koning Salomo, wat internasionale bekendheid vir sy onderskeidingsvermoë verwerf het, het gesê: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat [onderskeidingsvermoë, NW] verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud” (Spreuke 3:13, 14). Waar het Salomo sy onderskeidingsvermoë gekry? Van Jehovah. Toe Jehovah Salomo gevra het watter seën hy wil hê, het Salomo geantwoord: “Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei” (1 Konings 3:9). Ja, Salomo het op Jehovah as sy helper vertrou. Hy het onderskeidingsvermoë gevra, en Jehovah het hom dit in buitengewone mate gegee. Die gevolg? ‘Die wysheid van Salomo was groter as die wysheid van al die kinders van die Ooste en as al die wysheid van Egipte’.—1 Konings 4:30.
Salomo se ondervinding toon vir ons waarheen ons ons moet wend in ons soeke na onderskeidingsvermoë. Soos Salomo moet ons op Jehovah vertrou. Hoe? Wel, Jehovah het sy Woord, die Bybel, voorsien wat ons insig in sy denke gee. Wanneer ons die Bybel lees, delf ons in ’n waardevolle steengroef van kennis wat ons van die boustene vir geestelike onderskeidingsvermoë sal voorsien. Ons moet peins oor die inligting wat ons uit ons Bybellees versamel. Dan kan dit gebruik word om die regte besluite te neem. Mettertyd ontwikkel ons waarnemingsvermoëns in die mate dat ons “volgroeid in begripsvermoëns” word, in staat om te “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—1 Korintiërs 14:20; Hebreërs 5:14; vergelyk 1 Korintiërs 2:10.
Dit is interessant dat ons steeds baat kan vind by die onderskeidingsvermoë wat Jehovah vir Salomo gegee het. Hoe? Salomo het bedrewe daarin geword om wysheid in die vorm van spreuke te uiter, wat in werklikheid brokkies Goddelik geïnspireerde wysheid was. Baie van hierdie spreuke is in die Bybelboek Spreuke bewaar. ’n Studie van daardie boek help ons om by Salomo se onderskeidingsvermoë baat te vind en om self ook onderskeidingsvermoë te ontwikkel.
Ons kan Bybelstudiehulpe, soos Die Wagtoring en Ontwaak!, gebruik om ons met ons Bybelstudie te help. Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk al meer as 116 jaar lank vir opregtes van hart aan. Die Ontwaak! en sy voorgangers lewer al sedert 1919 kommentaar oor wêreldtoestande. Hierdie twee tydskrifte ondersoek Bybelwaarhede en voorsien progressiewe geestelike lig wat ons help om onjuisthede te onderskei, hetsy dit deur die Christendom geleer is of in ons eie denkpatrone gevorm is.—Spreuke 4:18.
Nog ’n hulp om onderskeidingsvermoë te ontwikkel, is die regte assosiasie. Een van koning Salomo se spreuke lui: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Dit is baie jammer dat koning Salomo se seun Rehabeam hierdie spreuk op ’n belangrike tydstip in sy lewe vergeet het. Ná sy vader se dood het die stamme van Israel na hom gekom en geëis dat hy hulle laste verlig. Rehabeam het eers met die oudstes beraadslaag, en hulle het onderskeidingsvermoë aan die dag gelê toe hulle hom aangemoedig het om na sy onderdane te luister. Toe het hy na die jonger manne gegaan. Hulle het ’n gebrek aan ondervinding en onderskeidingsvermoë getoon deur Rehabeam aan te moedig om die Israeliete met dreigemente te antwoord. Rehabeam het na die jonger manne geluister. Die gevolg? Israel het in opstand gekom, en Rehabeam het ’n groot deel van sy koninkryk verloor.—1 Konings 12:1-17.
’n Belangrike deel van die ontwikkeling van onderskeidingsvermoë is om die hulp van die heilige gees te vra. In ’n hersiening van Jehovah se handelinge met die Israeliete nadat hulle van gevangenskap in Egipte bevry is, het die Bybelskrywer Nehemia gesê: “U goeie Gees het U gegee om hulle [omsigtig te maak, NW]” (Nehemia 9:20). Jehovah se gees kan ook help om ons omsigtig te maak. Wanneer jy bid dat Jehovah se gees jou onderskeidingsvermoë moet gee, moet jy met vertroue bid, want Jehovah “gee mildelik aan almal en sonder om te verwyt”.—Jakobus 1:5; Matteus 7:7-11; 21:22.
Onderskeidingsvermoë en insig
Die apostel Paulus het onderskeidingsvermoë aan die dag gelê toe hy die waarheid aan mense van die nasies verkondig het. Hy het byvoorbeeld eenkeer, terwyl hy in Atene was, ‘rondgegaan en sorgvuldig’ hulle voorwerpe van verering “waargeneem”. Paulus was omring van afgode, en sy gees het in hom geïrriteerd geword. Hy moes nou ’n besluit neem. Moet hy die veilige weg volg en stilbly? Of moet hy reguit praat oor die afgodediens wat so algemeen was en wat hom so geïrriteer het, al sou dit gevaarlik wees om dit te doen?
Paulus het met onderskeidingsvermoë opgetree. Hy het ’n altaar gesien waarop gegraveer is: “Aan ’n Onbekende God.” Paulus het hulle verering van afgode op taktvolle wyse erken en toe daardie altaar gebruik as ’n manier om die onderwerp van “die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het” in te lei. Ja, Jehovah was die God wat vir hulle onbekend was! Paulus het sodoende hulle sensitiwiteit oor die saak in aanmerking geneem en kon ’n wonderlike getuienis gee. Met watter resultaat? ’n Aantal mense het die waarheid aangeneem, waaronder “Dionisius, ’n regter van die geregshof van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris, en ander benewens hulle” (Handelinge 17:16-34). Wat ’n voorbeeld van onderskeidingsvermoë was Paulus tog!
Onderskeidingsvermoë kom ongetwyfeld nie sommer maklik of van nature nie. Maar met geduld, gebed, kragtige inspanning, wyse omgang, ’n studie van die Bybel en bepeinsing daaroor, asook vertroue op Jehovah se heilige gees, kan jy dit ook aankweek.