Selfs nadat die eerste-eeuse bestuursliggaam die besnydenisgeskil opgelos het, het party wat gesê het dat hulle Christene is, hardkoppig geweier om die saak daar te laat. Die apostel Paulus het hulle “valse broers” genoem wat “die goeie nuus oor die Christus wil verdraai”. – Gal. 1:7; 2:4; Tit. 1:10.
Die Judaïseerders wou die Jode blykbaar tevrede stel sodat hulle die Christelike geloof nie met soveel geweld sou teëstaan nie (Gal. 6:12, 13). Die Judaïseerders het aangevoer dat mense hulle regverdigheid bewys deur werke van die Mosaïese Wet in sake soos dieet, die besnydenis en Joodse feeste. – Kol. 2:16.
Dit is te verstane dat dié wat sulke beskouings gehad het, ongemaklik gevoel het in die teenwoordigheid van nie-Joodse gelowiges. Ongelukkig het selfs ’n aantal gerespekteerde Christene uit ’n Joodse agtergrond hierdie onheilsame gevoelens geopenbaar. Byvoorbeeld, toe verteenwoordigers van die gemeente in Jerusalem Antiogië besoek het, het hulle nie met hulle nie-Joodse broers gemeng nie. Selfs Petrus, wat tot op dié stadium vryelik met die nie-Jode geassosieer het, het hom onttrek – hy het nie eens saam met hulle geëet nie. Ja, hy het opgetree in stryd met die einste beginsels wat hy vroeër verdedig het. Gevolglik het Paulus Petrus streng vermaan. – Gal. 2:11-14.