Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 15 bl. 117-123
  • “Hy het . . . die gemeentes versterk”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hy het . . . die gemeentes versterk”
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Kom ons gaan besoek nou die broers” (Handelinge 15:36)
  • “Toe het hulle vir mekaar kwaad geword en begin stry” (Handelinge 15:37-41)
  • “Die broers . . . het goeie dinge oor hom gesê” (Handelinge 16:1-3)
  • Hulle het “sterker geword in die geloof” (Handelinge 16:4, 5)
  • “My geliefde en getroue kind in die Here”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Timoteus—Gereed en gewillig om te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Markus—“Nuttig om diens te verrig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Timoteus—“’n Ware kind in die geloof”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 15 bl. 117-123

HOOFSTUK 15

“Hy het . . . die gemeentes versterk”

Reisende opsieners help die gemeentes om standvastig te word in die geloof

Gebaseer op Handelinge 15:36–16:5

1-3. (a) Wie is Paulus se nuwe reisgenoot, en watter soort persoon is hy? (b) Wat sal ons in hierdie hoofstuk leer?

TERWYL hulle oor die ruwe terrein tussen dorpies loop, kyk die apostel Paulus peinsend na die jong man langs hom. Sy naam is Timoteus. Timoteus is moontlik in sy laat tiener- of vroeë twintigerjare, jonk en vol lewenslus. Elke tree op hierdie nuwe reis neem hom verder van sy huis af. Teen skemer lê die streke Listra en Ikonium reeds ’n hele ent agter hulle. Wat lê voor? Paulus het ’n idee van wat hulle te wagte kan wees omdat dit sy tweede sendingreis is. Hy weet dat daar baie gevare en probleme sal wees. Hoe sal die jong man aan sy sy vaar?

2 Paulus het vertroue in Timoteus, moontlik meer as wat hierdie nederige jong man in homself het. Onlangse gebeure het Paulus meer as ooit daarvan oortuig dat dit belangrik is dat hy die regte reisgenoot het. Paulus weet dat die werk wat voorlê – om die gemeentes te besoek en te versterk – onwankelbare vasbeslotenheid en eenheid van denke van die reisende bedienaars sal vereis. Waarom dink Paulus dalk so? Een faktor kan ’n meningsverskil wees wat vroeër ’n breuk tussen Paulus en Barnabas veroorsaak het.

3 In hierdie hoofstuk sal ons baie leer oor die beste manier om meningsverskille te hanteer. Ons sal ook uitvind waarom Paulus Timoteus as ’n reisgenoot gekies het, en ons sal insig kry in die noodsaaklike rol van diegene wat vandag as kringopsieners dien.

“Kom ons gaan besoek nou die broers” (Handelinge 15:36)

4. Wat wou Paulus gedurende sy tweede sendingreis doen?

4 In die vorige hoofstuk het ons gesien hoe ’n afvaardiging van vier broers – Paulus, Barnabas, Judas en Silas – die gemeente in Antiogië bemoedig het met die bestuursliggaam se besluit aangaande die besnydenis. Wat het Paulus hierna gedoen? Hy het ’n nuwe reisplan aan Barnabas voorgestel en gesê: “Kom ons gaan besoek nou die broers in elke stad waar ons die woord van Jehovah verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan” (Hand. 15:36). Paulus het nie voorgestel dat hulle ’n blote sosiale besoek by hierdie pas bekeerde Christene aflê nie. Die boek Handelinge toon wat die ware doel van Paulus se tweede sendingreis was. Eerstens, hy sou voortgaan om die broers en susters te laat weet wat die bestuursliggaam besluit het (Hand. 16:4). Tweedens, as reisende opsiener was Paulus vasbeslote om die gemeentes geestelik op te bou en hulle te help om standvastig te word in die geloof (Rom. 1:11, 12). Hoe volg die hedendaagse organisasie van Jehovah se Getuies die patroon wat deur die apostels vasgestel is?

5. Hoe gee die hedendaagse Bestuursliggaam leiding en aanmoediging aan die gemeentes?

5 Vandag gebruik Christus die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies om sy gemeente te rig. Deur middel van briewe, aanlyn en gedrukte publikasies, vergaderinge en ander kommunikasiemiddele gee hierdie getroue gesalfde manne leiding en aanmoediging aan al die gemeentes regoor die wêreld. Die Bestuursliggaam probeer ook noue kontak met elke gemeente behou. Hulle gebruik dus die reëling van reisende opsieners. Die Bestuursliggaam het duisende bekwame ouermanne regoor die wêreld regstreeks aangestel om as kringopsieners te dien.

6, 7. Wat is ’n paar van die verantwoordelikhede van kringopsieners?

6 Hedendaagse reisende opsieners spits hulle daarop toe om persoonlike aandag en geestelike aanmoediging te gee aan almal in die gemeentes wat hulle besoek. Hoe? Deur die patroon te volg wat deur eerste-eeuse Christene soos Paulus vasgestel is. Hy het sy medeopsiener vermaan: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig in goeie tye en in moeilike tye. Wys tereg, gee streng raad, moedig aan. Doen dit met alle geduld en deur goed te onderrig. . . . [Doen] die werk van ’n evangelieprediker.” – 2 Tim. 4:2, 5.

7 In ooreenstemming met hierdie woorde neem die kringopsiener – en sy vrou as hy getroud is – saam met die plaaslike verkondigers deel aan verskillende fasette van die veldbediening. Hierdie reisende predikers is ywerig vir die bediening en is bekwame onderrigters – eienskappe wat ’n positiewe uitwerking op die kudde het (Rom. 12:11; 2 Tim. 2:15). Diegene in die kringwerk is veral vir hulle selfopofferende liefde bekend. Hulle gee vryelik van hulleself, al moet hulle in ongure weer of selfs in gevaarlike gebiede reis (Fil. 2:3, 4). Kringopsieners bemoedig, onderrig en vermaan ook elke gemeente deur middel van Bybeltoesprake. Almal in die gemeente vind daarby baat as hulle noukeurig na hierdie reisende opsieners se gedrag kyk en hulle geloof navolg. – Heb. 13:7.

“Toe het hulle vir mekaar kwaad geword en begin stry” (Handelinge 15:37-41)

8. Hoe het Barnabas op Paulus se uitnodiging gereageer?

8 Barnabas het Paulus se voorstel om ‘die broers te besoek’, geredelik aanvaar (Hand. 15:36). Die twee het in die verlede goed saamgewerk as reisgenote, en albei was reeds bekend met die gebiede en die mense wat hulle sou besoek (Hand. 13:2–14:28). Die idee om hierdie toewysing saam uit te voer, het dus waarskynlik logies en prakties gelyk. Maar ’n probleem het ontstaan. Handelinge 15:37 sê: “Barnabas was vasbeslote om Johannes, wat Markus genoem is, saam te vat.” Barnabas het nie bloot ’n voorstel gemaak nie. Hy “was vasbeslote” om sy neef Markus as reisgenoot op hierdie sendingreis saam te neem.

9. Waarom het Paulus nie met Barnabas saamgestem nie?

9 Paulus het nie saamgestem nie. Waarom nie? Die verslag sê: “Maar Paulus het nie gedink dat dit ’n goeie idee is om [Markus] saam te vat nie, omdat hy hulle in Pamfilië verlaat het en nie saam met hulle gegaan het om die werk te doen nie” (Hand. 15:38). Markus het Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingreis vergesel, maar het nie enduit by hulle gebly nie (Hand. 12:25; 13:13). Vroeg in die reis, terwyl hulle nog in Pamfilië was, het Markus sy toewysing verlaat en teruggegaan huis toe, na Jerusalem. Die Bybel sê nie waarom hy hulle verlaat het nie, maar die apostel Paulus het Markus se optrede blykbaar as onverantwoordelik beskou. Paulus het dalk getwyfel oor Markus se betroubaarheid.

10. Waartoe het die meningsverskil tussen Paulus en Barnabas gelei, en met watter gevolg?

10 Nietemin was Barnabas vasbeslote om Markus saam te neem. Paulus was net so vasbeslote om dit nie te doen nie. “Toe het hulle vir mekaar kwaad geword en begin stry, en hulle het uitmekaargegaan”, sê Handelinge 15:39. Barnabas het weggeseil na sy tuiseiland Siprus en Markus saam met hom geneem. Paulus het met sy planne voortgegaan. Die verslag sê: “Paulus het Silas gekies, en hulle het vertrek nadat die broers gebid het dat Jehovah onverdiende goedheid aan Paulus betoon” (Hand. 15:40). Saam het hulle “deur Sirië en Silisië gegaan en die gemeentes versterk”. – Hand. 15:41.

11. Watter eienskappe is noodsaaklik om te voorkom dat ’n permanente breuk ontstaan tussen ons en iemand wat vir ons aanstoot gegee het?

11 Hierdie verslag laat ons dalk aan ons eie onvolmaaktheid dink. Paulus en Barnabas is as spesiale verteenwoordigers van die bestuursliggaam aangestel. Paulus self het waarskynlik ’n lid van daardie liggaam geword. Nietemin het onvolmaakte menslike neigings in dié geval die oorhand oor Paulus en Barnabas gekry. Het hulle toegelaat dat hierdie situasie ’n permanente breuk tussen hulle veroorsaak? Hoewel Paulus en Barnabas onvolmaak was, was hulle nederige manne wat die denke van Christus gehad het. Hulle het ongetwyfeld mettertyd ’n gees van Christelike broederskap en vergewensgesindheid aan die dag gelê (Ef. 4:1-3). Later het Paulus en Markus in ander teokratiese toewysings saam gewerk.a – Kol. 4:10.

12. Wat behoort ’n kenmerk van hedendaagse opsieners te wees, in navolging van Paulus en Barnabas?

12 Hierdie enkele woedeuitbarsting was nie kenmerkend van Barnabas of Paulus nie. Barnabas was bekend as ’n liefdevolle en vrygewige man – soseer dat die apostels hom nie by sy naam, Josef, genoem het nie, maar hom die bynaam Barnabas gegee het, wat “seun van vertroosting” beteken (Hand. 4:36). Ook Paulus was daarvoor bekend dat hy ander liefdevol en sag behandel het (1 Tess. 2:7, 8). In navolging van Paulus en Barnabas behoort alle Christenopsieners van vandag, insluitende kringopsieners, altyd daarna te streef om nederigheid aan die dag te lê en om mede-ouermanne asook die hele kudde met teerheid te behandel. – 1 Pet. 5:2, 3.

“Die broers . . . het goeie dinge oor hom gesê” (Handelinge 16:1-3)

13, 14. (a) Wie was Timoteus, en onder watter omstandighede het Paulus hom moontlik ontmoet? (b) Waarom het Paulus besondere belangstelling in Timoteus getoon? (c) Watter toewysing het Timoteus ontvang?

13 Op Paulus se tweede sendingreis het hy by die Romeinse provinsie Galasië gekom, waar ’n paar gemeentes gestig is. Uiteindelik “het hy in Derbe en ook in Listra aangekom”. Die verslag voeg by: “Daar was ’n dissipel met die naam Timoteus, die seun van ’n gelowige Joodse vrou maar van ’n Griekse pa.” – Hand. 16:1.b

14 Paulus het Timoteus se familie klaarblyklik ontmoet toe hy omstreeks die jaar 47 HJ vir die eerste keer na die gebied gekom het. Nou, gedurende sy tweede besoek twee of drie jaar later, het Paulus besondere belangstelling in die jong man Timoteus getoon. Waarom? Omdat die broers “goeie dinge” oor Timoteus gesê het. Hy het nie net ’n goeie indruk op die broers in sy tuisdorp gemaak nie, maar het ook buite sy tuisgemeente ’n goeie naam gehad. Die verslag verduidelik dat die broers in Listra sowel as in Ikonium, ongeveer 30 kilometer daarvandaan, goeie dinge oor hom gesê het (Hand. 16:2). Onder leiding van die heilige gees het die ouermanne aan jong Timoteus ’n gewigtige verantwoordelikheid gegee – om Paulus en Silas as ’n reisende bedienaar by te staan. – Hand. 16:3.

15, 16. Hoe het Timoteus so ’n goeie naam opgebou?

15 Hoe het Timoteus so ’n goeie naam opgebou al was hy nog so jonk? Was dit weens sy intelligensie, sy voorkoms of sy natuurlike vermoëns? Mense word dikwels deur sulke dinge beïndruk. Selfs die profeet Samuel is eenkeer te veel deur uiterlike voorkoms beïnvloed. Maar Jehovah het vir hom gesê: “Mense sien nie soos God sien nie, want mense sien net die uiterlike, maar Jehovah sien wat in die hart is” (1 Sam. 16:7). Timoteus het nie weens enige persoonlike hoedanighede ’n goeie naam onder sy mede-Christene opgebou nie, maar eerder weens sy innerlike eienskappe.

16 Jare later het die apostel Paulus na ’n paar van Timoteus se geestelike eienskappe verwys. Paulus het Timoteus se goeie gesindheid, sy selfopofferende liefde en die ywer waarmee hy na teokratiese toewysings omgesien het, beskryf (Fil. 2:20-22). Timoteus was ook bekend vir sy “opregte geloof”. – 2 Tim. 1:5.

17. Hoe kan jongmense vandag Timoteus navolg?

17 Vandag volg baie jongmense Timoteus na deur godvrugtige eienskappe aan te kweek. Hulle bou sodoende ’n goeie naam by Jehovah en sy volk op, al is hulle nog baie jonk (Spr. 22:1; 1 Tim. 4:15). Hulle openbaar opregte geloof en weier om ’n dubbele lewe te lei (Ps. 26:4). Gevolglik kan baie jongmense, soos Timoteus, ’n belangrike rol in die gemeente speel. Watter aanmoediging is hulle tog vir alle liefhebbers van Jehovah in die gemeente wanneer hulle as verkondigers van die goeie nuus kwalifiseer en hulle hulle mettertyd aan Jehovah toewy en laat doop!

Hulle het “sterker geword in die geloof” (Handelinge 16:4, 5)

18. (a) Watter voorregte het Paulus en Timoteus as reisende bedienaars geniet? (b) Hoe is die gemeentes geseën?

18 Paulus en Timoteus het jare lank saam gewerk. As reisende bedienaars het hulle die bestuursliggaam op verskeie sendings verteenwoordig. Die Bybelverslag sê: “Terwyl hulle deur die stede gereis het, het hulle die broers en susters laat weet wat die apostels en ouermanne in Jerusalem besluit het, sodat hulle dit kan gehoorsaam” (Hand. 16:4). Die gemeentes het klaarblyklik die leiding van die apostels en ouermanne in Jerusalem gevolg. Weens hierdie gehoorsaamheid “het die gemeentes heeltyd sterker geword in die geloof en het hulle dag ná dag bly vermeerder”. – Hand. 16:5.

19, 20. Waarom moet Christene gehoorsaam wees aan ‘dié wat die leiding neem’?

19 Jehovah se Getuies geniet vandag eweneens die seëninge wat gepaardgaan met onderdanige gehoorsaamheid aan die riglyne van “dié wat die leiding onder [hulle] neem” (Heb. 13:17). Omdat die toneel van die wêreld heeltyd besig is om te verander, is dit noodsaaklik dat Christene op hoogte bly van die geestelike voedsel wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien (Matt. 24:45; 1 Kor. 7:29-31). Dit kan ons help om geestelike rampspoed te vermy en om ons nie deur die wêreld te laat besmet nie. – Jak. 1:27.

20 Hedendaagse Christenopsieners, insluitende die lede van die Bestuursliggaam, is weliswaar onvolmaak, soos Paulus, Barnabas, Markus en ander gesalfde ouermanne in die eerste eeu ook was (Rom. 5:12; Jak. 3:2). Maar omdat die Bestuursliggaam God se Woord streng volg en by die patroon bly wat deur die apostels vasgestel is, toon hulle dat hulle betroubaar is (2 Tim. 1:13, 14). Gevolglik word die gemeentes sterker gemaak in die geloof.

TIMOTEUS DIEN SOOS ’N SLAAF “OM DIE GOEIE NUUS TE BEVORDER”

Timoteus was ’n hoogs gewaardeerde helper van die apostel Paulus. Nadat die twee manne omtrent 11 jaar lank skouer aan skouer gewerk het, kon Paulus aangaande Timoteus skryf: “Ek het niemand anders om te stuur wat dieselfde gesindheid as hy het en wat opreg na julle belange sal omsien nie. . . . Julle weet dat hy bewys het dat hy nie so is nie omdat hy, soos ’n kind saam met sy pa, saam met my soos ’n slaaf gedien het om die goeie nuus te bevorder” (Fil. 2:20, 22). Timoteus het geredelik van homself gegee om die predikingswerk te bevorder, waardeur hy hom geliefd gemaak het by Paulus en ’n goeie voorbeeld vir ons gestel het.

Timoteus.

Timoteus, die seun van ’n Griekse pa en ’n Joodse ma, is blykbaar in Listra grootgemaak. Sy ma, Eunice, en sy ouma Loïs het hom van jongs af die Skrif geleer (Hand. 16:1, 3; 2 Tim. 1:5; 3:14, 15). Timoteus het waarskynlik saam met hulle die Christelike geloof aangeneem gedurende Paulus se eerste besoek aan Timoteus se tuisdorp.

Teen die tyd dat Paulus ’n paar jaar later teruggekeer het, was Timoteus moontlik in sy laat tiener- of vroeë twintigerjare en het “die broers in Listra en Ikonium . . . goeie dinge oor hom gesê” (Hand. 16:2). God se gees het “profesieë” in verband met die jong man geïnspireer, en in ooreenstemming daarmee het Paulus en die plaaslike ouermanne aanbeveel dat Timoteus ’n spesiale vorm van diens verrig (1 Tim. 1:18; 4:14; 2 Tim. 1:6). Hy moes Paulus as ’n sendelingmaat vergesel. Timoteus sou sy familie moes verlaat, en om te voorkom dat hy die Jode wat hy sou besoek, ’n rede gee om te kla, moes hy hom laat besny. – Hand. 16:3.

Timoteus het baie gereis. Hy het saam met Paulus en Silas in Filippi gepreek, toe saam met Silas in Berea en daarna alleen in Tessalonika. Toe hy Paulus later weer in Korinte ontmoet het, het Timoteus goeie nuus gebring oor die liefde en getrouheid wat die Tessalonisense aan die dag gelê het ten spyte van hulle verdrukking (Hand. 16:6–17:14; 1 Tess. 3:2-6). Nadat Paulus, wat toe in Efese was, ontstellende nuus oor die Korintiërs ontvang het, het hy dit oorweeg om Timoteus na Korinte terug te stuur (1 Kor. 4:17). Vanuit Efese het Paulus later vir Timoteus en Erastus na Masedonië gestuur. Maar toe Paulus aan die Romeine geskryf het, was Timoteus weer saam met hom in Korinte (Hand. 19:22; Rom. 16:21). Dit is maar net ’n paar van die reise wat Timoteus onderneem het om die goeie nuus te bevorder.

Timoteus was dalk ’n bietjie huiwerig om sy gesag uit te oefen, soos blyk uit Paulus se aansporing: “Laat niemand ooit op jou neersien omdat jy jonk is nie” (1 Tim. 4:12). Maar Paulus kon Timoteus met vertroue na ’n gemeente vol probleme stuur met die opdrag: ‘Beveel sekere persone om nie valse leringe te versprei nie’ (1 Tim. 1:3). Paulus het Timoteus ook gesag gegee om opsieners en bedieningsknegte in die gemeente aan te stel. – 1 Tim. 5:22.

Timoteus se voortreflike eienskappe het hom geliefd gemaak by Paulus. Die Skrif openbaar dat die jonger man ’n hegte, getroue en liefdevolle metgesel was, soos ’n seun. Paulus kon skryf dat hy aan Timoteus se trane dink, dat hy verlang om hom te sien en dat hy vir hom bid. Soos ’n besorgde pa, het Paulus ook vir Timoteus raad gegee “omdat [hy] so dikwels siek” was – blykbaar as gevolg van ’n maagkwaal. – 1 Tim. 5:23; 2 Tim. 1:3, 4.

Gedurende Paulus se eerste gevangenskap in Rome was Timoteus by hom. Timoteus was ook ten minste ’n ruk lank in gevangenisboeie (Filem. 1; Heb. 13:23). Die diepte van die gevoelens tussen hierdie twee manne kan gesien word aan die feit dat Paulus, toe hy besef het dat sy dood naby was, Timoteus laat roep het: “Doen jou bes om binnekort na my toe te kom” (2 Tim. 4:6-9). Die Skrif sê nie of Timoteus betyds opgedaag het om sy geliefde mentor weer te sien nie.

MARKUS GENIET BAIE VOORREGTE

Markus se Evangelie sê dat dié wat Jesus in hegtenis geneem het, ook “’n sekere jong man” probeer gryp het wat “kaal weggekom” het (Mark. 14:51, 52). Aangesien Markus, ook bekend as Johannes Markus, die enigste een is wat hierdie gebeurtenis opgeteken het, was die jong man dalk die skrywer self. Indien wel, het Markus ten minste ’n mate van persoonlike kontak met Jesus gehad.

Markus luister en neem notas terwyl ’n ou broer praat.

Ongeveer 11 jaar later, gedurende Herodes Agrippa se vervolging van die Christene, het “’n hele paar” lede van die gemeente in Jerusalem by die huis van Maria, Markus se ma, vergader om te bid. Die apostel Petrus het na haar huis gegaan toe hy wonderdadig uit die tronk bevry is (Hand. 12:12). Markus het dus moontlik grootgeword in ’n huis wat later vir Christelike vergaderinge gebruik is. Hy het Jesus se vroeë dissipels ongetwyfeld goed geken, en hulle het ’n goeie invloed op hom gehad.

Markus het skouer aan skouer saam met ’n hele paar opsieners van vroeë Christengemeentes gedien. Sover ons weet, was sy eerste diensvoorreg om saam met sy neef Barnabas en die apostel Paulus in hulle toewysing in Antiogië van Sirië te werk (Hand. 12:25). Toe Barnabas en Paulus op hulle eerste sendingreis vertrek het, het Markus saam met hulle gereis, eers na Siprus en toe na Klein-Asië. Van daar af het Markus, om onverklaarde redes, na Jerusalem teruggekeer (Hand. 13:4, 13). Ná ’n meningsverskil tussen Barnabas en Paulus in verband met Markus, soos beskryf word in Handelinge hoofstuk 15, het Markus en Barnabas hulle sendingdiens in Siprus voortgesit. – Hand. 15:36-39.

Alle herinneringe aan daardie meningsverskil was teen 60 of 61 HJ ongetwyfeld lank reeds vergete toe Markus weer eens saam met Paulus gewerk het, dié keer in Rome. Paulus, wat ’n gevangene in daardie stad was, het aan die gemeente in Kolosse geskryf: “Aristargus, my medegevangene, stuur vir julle groete, en so ook Markus, die neef van Barnabas (oor wie julle instruksies ontvang het om hom te verwelkom as hy ooit na julle toe kom)” (Kol. 4:10). Paulus het dus beplan om Johannes Markus as sy verteenwoordiger van Rome na Kolosse te stuur.

Die een of ander tyd tussen 62 en 64 HJ het Markus saam met die apostel Petrus in Babilon gewerk. Soos ons in Hoofstuk 10 van hierdie publikasie gesien het, het hulle ’n hegte verhouding opgebou, want Petrus het na die jonger man as “Markus, my seun”, verwys. – 1 Pet. 5:13.

Laastens, omstreeks 65 HJ, toe die apostel Paulus vir die tweede keer ’n gevangene in Rome was, het hy aan sy medewerker Timoteus, wat in Efese was, geskryf: “Bring Markus saam met jou, want ek kan hom goed gebruik in die bediening” (2 Tim. 4:11). Markus het hierdie uitnodiging ongetwyfeld geredelik aanvaar en van Efese af teruggegaan na Rome. Dit is geen wonder dat Barnabas, Paulus en Petrus soveel waardering vir hierdie man gehad het nie!

Die allergrootste voorreg wat Markus geniet het, was om deur Jehovah geïnspireer te word om ’n Evangelieverslag te skryf. Volgens oorlewering het Markus baie van sy inligting by die apostel Petrus gekry. Die feite ondersteun blykbaar hierdie beskouing, want Markus se verslag bevat eerstehandse besonderhede waarvan ’n ooggetuie, soos Petrus, sou geweet het. Maar dit wil voorkom of Markus sy Evangelie in Rome geskryf het, en nie in Babilon toe hy saam met Petrus was nie. Markus gebruik baie Latynse uitdrukkings en vertaal Hebreeuse terme wat andersins vir nie-Jode moeilik sou wees om te verstaan; hy het dit dus blykbaar hoofsaaklik vir nie-Joodse lesers geskryf.

a Sien die venster “Markus geniet baie voorregte”.

b Sien die venster “Timoteus dien soos ’n slaaf ‘om die goeie nuus te bevorder’”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel