Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 3/15 bl. 13-18
  • Hou tred met Jehovah se hemelse strydwa

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou tred met Jehovah se hemelse strydwa
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Esegiël aanvaar en vervul die opdrag
  • God se woorde in die hart opgeneem
  • Nie afgeskrik deur onverskilligheid nie
  • Aangespoor om tred te hou
  • Hou aan om tred te hou
  • Jehovah se hemelse strydwa ruk op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Luister—Jehovah se wag spreek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Hoe Jehovah ons help om ons bediening uit te voer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Glanspunte uitdie boek Esegiël—I
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 3/15 bl. 13-18

Hou tred met Jehovah se hemelse strydwa

“Jy moet hulle my woorde verkondig, of hulle al luister of nie.”—ESEGIËL 2:7.

1, 2. Watter koninklike koets het Esegiël gesien, en wat is vir hom gesê?

JEHOVAH se hemelse strydwa staan nou voor sy knegte. Hulle sien met oë van die geloof daardie koninklike vervoermiddel van hulle Soewereine Heer. Dit is glorieryk, ontsagwekkend, majestueus.

2 Dieselfde koninklike koets het 2 600 jaar gelede in ’n gesig voor God se profeet Esegiël stilgehou. Vanaf hierdie troondraende strydwa—God se hemelse organisasie van geesskepsele—het Jehovah hierdie dramatiese bevel aan Esegiël gegee: “Die kinders is hard van aangesig en verstok van hart. Ek stuur jou na hulle, en jy moet vir hulle sê: So spreek die Here HERE! Maar of hulle nou al luister of nie—want hulle is ’n wederstrewige huis—hulle sal moet erken dat daar ’n profeet in hulle midde gewees het.”—Esegiël 2:4, 5.

3. Watter hedendaagse teenbeeld het Esegiël?

3 Esegiël het daardie opdrag vasberade uitgevoer, en het as ’n enkele werktuig in God se hand opgetree. God het eweneens nou ’n enkele organisatoriese werktuig in sy beheer. Die Esegiël-klas, die gesalfde oorblyfsel, is aan die spits van die werk om ’n finale getuienis te lewer, met “’n groot menigte” “ander skape” wat hulle ondersteun (Openbaring 7:9, 10; Johannes 10:16). Hulle vorm saam “een kudde” en die Goeie Herder, Jesus Christus, lei hulle onder die soewereiniteit van die groot Strydwaryer, Jehovah God.

4, 5. Hoe het God se sigbare organisasie ontstaan, en wat het dit in ooreenstemming met Jesaja 60:22 beleef?

4 Onder Jehovah se leiding het hierdie wêreldwye organisasie van ’n klein begin gegroei en het dit ’n kragtige werktuig geword om die gebod bekend te maak om ‘God te vrees en Hom heerlikheid te gee, want die uur van sy oordeel het gekom’ (Openbaring 14:7). Net soos Esegiël homself nie as profeet opgerig of aangestel het nie, het God se sigbare organisasie homself nie geskep of homself aangestel nie. Dit het nie ontstaan as gevolg van die wense of pogings van mense nie. Die goddelike Strydwaryer het hierdie organisasie in aansyn geroep. Jehovah se volk, wat deur God se gees versterk en deur heilige engele gesteun is, het sulke dramatiese vermeerdering beleef dat ‘die geringste ’n magtige nasie geword het’.—Jesaja 60:22.

5 Meer as 4 000 000 Getuies van Jehovah verkondig die Koninkryksboodskap in 212 lande. Hulle is in meer as 63 000 gemeentes ingedeel wat in kringe en streke georganiseer is. Groot takkantore en drukkerye funksioneer onder die leiding van die Bestuursliggaam wat die middelpunt van die organisasie by die hoofkwartier is. Hulle gaan soos een man vooruit en verkondig die goeie nuus, onderrig diegene wat daarop reageer en bou vergaderplekke. Ja, Jehovah se sigbare organisasie hou tred met die hemelse strydwa en die Een wat daarop ry.

6. Wat is daarby betrokke om met Jehovah se sigbare organisasie tred te hou?

6 Hou jy, as jy een van Jehovah se Getuies is, tred met God se sigbare organisasie? Dit is nie bloot ’n saak van bywoning van Christenvergaderinge en deelname aan die bediening nie. Om tred te hou het hoofsaaklik te doen met vooruitgang en geestelike groei. Dit behels dat jy ’n positiewe gesindheid het, behoorlike prioriteite stel en sorg dat jy nie agterraak nie. As ons tred hou met Jehovah se hemelse strydwa strook ons lewe met die boodskap wat ons verkondig.

7. Waarom moet ons op Esegiël se optrede as God se profeet let?

7 Wat die kwessie van tred hou betref, kan Jehovah se hedendaagse knegte baie uit Esegiël se voorbeeld leer. Al het Jehovah hom spesiaal as profeet aangestel, het Esegiël nog altyd gevoelens, bekommernisse en behoeftes gehad. Hy het byvoorbeeld as ’n betreklik jong getroude man die smart ervaar om sy vrou aan die dood af te staan. Maar hy het nooit sy opdrag as Jehovah se profeet uit die oog verloor nie. As ons let op hoe Esegiël ook in ander opsigte opgetree het, sal ons onsself versterk sodat ons sal tred hou met God se sigbare organisasie. Dit sal ons in staat stel om met sy onsigbare organisasie tred te hou.

Esegiël aanvaar en vervul die opdrag

8. Watter voorbeeld het Esegiël ten opsigte van sy opdrag gestel?

8 Esegiël het ’n goeie voorbeeld gestel deur sy opdrag te aanvaar en dit te vervul. Maar gehoorsaamheid en moed was nodig om dit uit te voer, want ons lees: “En jy, mensekind, wees nie vir hulle woorde bevrees nie, omdat distels en dorings by jou is, en jy by skerpioene woon; wees nie bevrees vir hulle woorde en wees voor hulle aangesig nie verskrik nie, want hulle is ’n wederstrewige huis. Maar jy moet hulle my woorde verkondig, of hulle al luister of nie; want hulle is wederstrewig. Maar jy, mensekind, luister na wat Ek jou sê; wees nie wederstrewig soos die wederstrewige huis nie.”—Esegiël 2:6-8.

9. Alleenlik deur wat te doen sou Esegiël vry van bloedskuld wees?

9 Esegiël moes nie onverskillig of bevrees wees en gedurig aangepor word om sy opdrag uit te voer nie. Hy sou net vry van bloedskuld wees as hy Jehovah se woorde gewillig en met vrymoedigheid gespreek het. Daar is vir Esegiël gesê: “As jý die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jý het jou siel gered.”—Esegiël 3:19.

10. In watter opsig was die Esegiël-klas soos die profeet?

10 Soos in die geval van Esegiël het die gesalfde Esegiël-klas hulle godgegewe opdrag aanvaar en vervul hulle dit. As ons Getuies van Jehovah is, moet ons onthou dat ons lewe en die lewe van ander van ons gehoorsaamheid afhang (1 Timotheüs 4:15, 16). Elke Getuie moet tred hou met Jehovah se organisasie. God sal ons nie aan sy strydwa vasbind en saamsleep nie. Onverskilligheid en ’n verdeelde hart is ’n belediging vir die Strydwaryer. Daarom maan Jehovah se sigbare organisasie ons om goddelike belange as die middelpunt van ons lewe te behou. ’n Volgehoue reaksie op sodanige raad hou ons in harmonie met God se organisasie en verhef ons heilige bediening bo die alledaagse, die werktuiglike. In sy geheel betoon Jehovah se volk beslis merkwaardige toegewydheid. Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om die pas vol te hou.

God se woorde in die hart opgeneem

11. Watter voorbeeld het Esegiël gestel met betrekking tot God se woorde?

11 Esegiël het ook ’n goeie voorbeeld gestel deur God se woorde in sy hart op te neem. Hy het op God se bevel ’n godgegewe boekrol geëet. “Dit was in my mond soos heuning so soet”, het Esegiël gesê. Al was die boekrol vol “klaagliedere en gesug en wee” was dit vir Esegiël soet omdat hy die eer om Jehovah te verteenwoordig, waardeer het. Dit was ’n soete ondervinding vir die profeet om sy godgegewe toewysing te vervul. God het vir hom gesê: “Mensekind, neem al my woorde wat Ek vir jou sal sê, in jou hart op, en hoor hulle met jou ore” (Esegiël 2:9–3:3, 10). Daardie gesigte het Esegiël alte bewus gemaak van die dinge waaraan God hom toegelaat het om deel te neem, en dit het sy verhouding met Jehovah versterk.

12. Wat het Esegiël gedurende meer as twee dekades van profetiese diens gedoen?

12 Die boodskappe en gesigte wat aan Esegiël gegee is, is om verskillende redes gegee en is vir verskillende mense bedoel. Hy moes goed luister en dan volgens sy instruksies praat en optree. Nuwe inligting en prosedures is progressief gedurende sowat 22 jaar van diens as ’n profeet aan hom bekend gemaak. Soms het Esegiël ’n spesiaal bewoorde boodskap oorgedra. By ander geleenthede het hy hom tot ’n gebarespel gewend, soos toe hy voor ’n baksteen moes lê wat Jerusalem afgebeeld het (Esegiël 4:1-8). Sy voorbeeld in persoonlike sake, soos sy reaksie op sy vrou se dood, het ook ’n boodskap oorgedra (Esegiël 24:15-19). Hy moes tred hou met gebeure en sorg dat hy altyd die regte boodskap oordra en op die regte tyd tot die regte optrede oorgaan. Esegiël was in ’n uiters intieme, progressiewe, samewerkende verhouding met Jehovah verbonde.

13. Hoe kan ons ’n intieme verhouding met Jehovah bou?

13 Ons moet God se Woord eweneens in ons hart opneem as ons ’n intieme verhouding met Jehovah as sy medewerkers wil bou en handhaaf (1 Korinthiërs 3:9). Om in hierdie opsig met God se sigbare organisasie tred te hou vereis dat ons nie agterraak wat die vloei van geestelike voedsel wat op die regte tyd voorsien word, betref nie (Mattheüs 24:45-47). Die “suiwer taal” brei voortdurend uit (Sefanja 3:9, NW). Slegs as ons op die hoogte daarvan is, sal ons werklik gehoorsaam op die leiding van die Strydwaryer kan reageer.

14, 15. Watter roetine is nodig om die pas te handhaaf wat God se organisasie aangee?

14 Daarom het ons ’n goeie roetine van persoonlike gebed, private studie en deelname aan die heilige bediening van die goeie nuus nodig (Romeine 15:16). Onthou Esegiël se voorbeeld toe hy die boekrol met God se boodskap geëet het. Esegiël het die hele boekrol geëet, nie net ’n deel daarvan nie. Hy het nie brokkies gekies wat miskien meer in sy persoonlike smaak geval het nie. Ons persoonlike studie van die Bybel en Christelike publikasies moet eweneens gereguleer word om tred te hou met die vloei van geestelike voedsel, en ons moet eet van alles wat op die geestelike tafel is, selfs van die dieper waarhede.

15 Wend ons ’n biddende poging aan om die vaste spyse te verstaan? Om tred te hou, beteken dat ons kennis en begrip verby die elementêre sal vorder, want ons lees: “Elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ’n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:13, 14). Ja, om geestelike vordering te maak, is ’n noodsaaklike deel daarvan om die pas wat God se organisasie aangee vol te hou.

Nie afgeskrik deur onverskilligheid nie

16, 17. Hoe het Esegiël op onverskilligheid, bespotting en ’n gebrek aan reaksie gereageer?

16 Esegiël het ook ’n puik voorbeeld gestel deur gehoorsaam te wees en nie toe te laat dat onverskilligheid of bespotting hom afskrik nie. As ons eweneens met die ontwikkeling van die suiwer taal tred hou, is ons ingestel op die rigting wat die koninklike Strydwaryer inslaan. Sodoende is ons toegerus om te reageer op sy bevele, versterk om nie afgeskrik te word deur die onverskilligheid of bespotting van diegene teenoor wie ons Jehovah se oordeelsboodskap verkondig nie. Soos in Esegiël se geval het God ons gewaarsku dat party mense ons daadwerklik sal teenstaan en dat hulle hardkoppig en hardvogtig sal wees. Ander sal nie hoor nie omdat hulle nie na Jehovah wil luister nie (Esegiël 3:7-9). Nog ander sou geveins wees, soos Esegiël 33:31, 32 sê: “Hulle kom na jou toe soos ’n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos ’n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.”

17 Wat sal die gevolg wees? Vers 33 voeg by: “Maar as dit kom—kyk, dit kom!—dan sal hulle weet dat daar ’n profeet onder hulle gewees het.” Daardie woorde toon dat Esegiël nie weens ’n gebrek aan reaksie moed opgegee het nie. Die onverskilligheid van ander het hom nie onverskillig gemaak nie. Of mense geluister het of nie, hy het God gehoorsaam en sy opdrag uitgevoer.

18. Watter vrae kan jy jou afvra?

18 Jehovah se sigbare organisasie verskerp nou die bekendmaking dat almal God moet vrees en hom heerlikheid moet gee. Volhard jy wanneer jy gekritiseer word omdat jy ’n ferm standpunt inneem wanneer jy van die Koninkryk getuig of omdat jy ’n sedelike lewe lei? Staan jy vas wanneer jy onder druk geplaas word omdat jy nie bloed aanvaar nie, nie nasionale embleme aanbid nie of nie wêreldse vakansiedae vier nie?—Mattheüs 5:11, 12; 1 Petrus 4:4, 5.

19. Wat sal ons doen wat leiding betref as ons met Jehovah se hemelse strydwa tred hou?

19 Hierdie weg is nie maklik nie, maar diegene wat tot die einde toe volhard, sal gered word (Mattheüs 24:13). Ons het Jehovah se hulp nodig, want ons sal nie toelaat dat mense van die wêreld ons soos hulle laat word en maak dat ons gevolglik uit pas raak met Jehovah se hemelse strydwa nie (Esegiël 2:8; Romeine 12:21). As ons met die strydwa-agtige organisasie van engele tred hou, sal ons onverwyld ag gee op leiding en instruksies wat deur middel van God se sigbare organisasie ontvang word. Jehovah voorsien wat ons nodig het om aanvalle op ons geloof te deurstaan, om ons greep op die Woord van die lewe te behou en om ons oë gevestig te hou op die geestelike werklikhede wat draai om die koninklike Persoon wat op die hemelse strydwa ry.

Aangespoor om tred te hou

20. Wat is van die dinge wat Esegiël opgeteken het wat ons moet aandryf om tred te hou?

20 Die gesigte van Esegiël moet ons aanspoor om tred te hou. Hy het nie alleen God se oordeelsboodskappe oor Israel verkondig nie, maar het ook profesieë van herstelling opgeteken. Esegiël het heengewys na die Een wat die wetlike reg sou hê om op die regte tyd op Jehovah se troon te sit (Esegiël 21:27). Daardie koninklike Kneg, “Dawid”, sou God se volk weer versamel en as ’n herder oor hulle toesig hou (Esegiël 34:23, 24). Al sou Gog van Magog hulle aanval, sal God hulle red, en Sy vyande sal gedwing word om te ‘weet wie Jehovah is’ wanneer hulle vernietig word (Esegiël 38:8-12; 39:4, 7). Dan sal God se knegte eindelose lewe in ’n stelsel van ware aanbidding geniet, wat ’n geestelike tempel insluit. Water van die lewe wat uit die heiligdom vloei, sal ’n bron van voeding en genesing wees, en hulle sal grondgebied gegee word as ’n seëning.—Esegiël 40:2; 47:9, 12, 21.

21. Waarom is die rol van Jehovah se hedendaagse Getuies groter as dié van Esegiël?

21 Hoe verheug moes Esegiël gewees het om hierdie profesieë op te teken! En tog is die rol van Jehovah se hedendaagse Getuies groter. Ons lewe wanneer party van daardie profesieë vervul gaan word. Trouens, ons neem daadwerklik deel aan sekere vervullings. Toon ons elkeen deur die manier waarop ons ons lewe lei dat ons oortuig is dat Jesus nou heers as die Een wat die wetlike reg het? Is ons persoonlik oortuig dat Jehovah homself binnekort gaan heilig en diegene wat met sy organisasie tred hou tot in sy nuwe wêreld behoue sal laat bly? (2 Petrus 3:13). Sodanige oortuiging, tesame met werke van geloof, toon dat ons inderdaad met Jehovah se hemelse strydwa tred hou.

Hou aan om tred te hou

22. Wat kan gedoen word om afleidings te vermy sodat ons ’n helder geestelike uitkyk kan behou?

22 As ons eers ‘ons hand aan die ploeg geslaan het’, moet ons nie verlangend terugkyk na enigiets wat die wêreld kan bied nie (Lukas 9:62; 17:32; Titus 2:11-13). Laat ons dus enige neiging teëwerk om skatte op aarde bymekaar te maak, en laat ons ons oog reg hou, ingestel op die Koninkryk (Mattheüs 6:19-22, 33). As ons ons lewe vereenvoudig en wêreldse laste sover moontlik aflê, sal dit ons help om tred te hou met Jehovah se organisasie (Hebreërs 12:1-3). Afleidings kan ons visie van die hemelse strydwa en die Een wat daarop ry, laat verdof. Maar met sy hulp kan ons ’n duidelike geestelike uitkyk behou, soos Esegiël gedoen het.

23. Wat moet getroue Getuies ten behoewe van nuwelinge doen?

23 Deel van ons verantwoordelikheid as Getuies van Jehovah behels dat ons al die nuwelinge help om tred te hou met God se hemelse strydwa. In 1990 het byna 10 000 000 die herdenking van Christus se dood bygewoon. Hoewel baie van hierdie persone moontlik ’n paar Christenvergaderinge bywoon, moet hulle besef hoe belangrik dit is om saam met Jehovah se sigbare organisasie vooruit te gaan. As getroue Getuies kan ons hulle help deur die gees wat ons aan die dag lê en die aanmoediging wat ons gee.

24. Wat moet ons in hierdie kritieke tye doen?

24 Hierdie is kritieke tye. Ons het met ons oë van die geloof gesien hoe die hemelse strydwa voor ons stilhou. Die koninklike Strydwaryer het sy sigbare organisasie ’n opdrag gegee om vir die nasies te preek sodat hulle uiteindelik sal weet wie Jehovah is (Esegiël 39:7). Maak ten volle gebruik van hierdie wonderlike geleentheid om deel te hê aan die regverdiging van God se soewereiniteit en die heiliging van sy heilige naam deur tred te hou met Jehovah se hemelse strydwa.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Watter voorbeeld het Esegiël gestel wat sy opdrag betref?

◻ Wat beteken dit om tred te hou met God se organisasie?

◻ Hoe het Esegiël Jehovah se woorde beskou?

◻ Hoe kan ons Esegiël se voorbeeld navolg wat ons reaksie op onverskilligheid betref?

◻ Wat moet Jehovah se knegte aandryf om met sy hemelse strydwa tred te hou?

[Prente op bladsy 15]

Wat is nodig as ons met Jehovah se hemelse strydwa wil tred hou?

[Prent op bladsy 16]

Esegiël het sy godgegewe voorregte waardeer. Waardeer jy dit?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel