Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 327-bl. 331
  • Organisasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Organisasie
  • Redenering uit die Skrif
  • Soortgelyke materiaal
  • Vind veiligheid as deel van God se organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jehovah is ’n God van organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Georganiseer om Jehovah te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Georganiseer om Jehovah se wil te doen
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 327-bl. 331

Organisasie

Definisie: ’n Vereniging of genootskap van persone wie se pogings gekoördineer is met ’n bepaalde werk of doel voor oë. Die lede van ’n organisasie is verenig deur administratiewe reëlings en deur standaarde of vereistes. Persone wat gedoopte en toegewyde getuies van Jehovah is, word uit eie keuse, nie deur geboorte of dwang nie, ’n deel van Jehovah se organisasie. Hulle het tot sy aardse organisasie aangetrokke gevoel as gevolg van die leerstellings en gebruike daarvan en omdat hulle ’n aandeel wil hê in die werk wat dit doen.

Het Jehovah werklik ’n organisasie hier op aarde?

Om die antwoord op daardie vraag te kry, kan ons die volgende beskou:

Is God se hemelse skepsele, die engele, georganiseer?

Dan. 7:9, 10: “Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ’n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ’n brandende vuur; ’n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.”

Ps. 103:20, 21: “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!” (’n “Leërskare” is ’n georganiseerde groep.)

Hoe het God in die verlede instruksies aan sy knegte op aarde oorgedra?

Toe daar min aanbidders van Jehovah was, het hy voorskrifte aan gesinshoofde soos Noag en Abraham gegee, en dan het hulle as Jehovah se woordvoerders in hulle gesinne opgetree (Gen. 7:1, 7; 12:1-5). Toe Jehovah die Israeliete uit Egipte verlos het, het hy vir hulle voorskrifte deur Moses gegee (Ex. 3:10). By die berg Sinai het God die volk tot ’n nasie georganiseer en wette en verordeninge gegee om hulle aanbidding en hulle verhoudinge met mekaar te beheer (Ex. 24:12). Hy het ’n priesterdom tot stand gebring om die leiding in sake van aanbidding te gee en om die volk Jehovah se vereistes te leer; soms het hy ook profete verwek om die nodige vermaninge en waarskuwings tot die volk te rig (Deut. 33:8, 10; Jer. 7:24, 25). Hoewel Jehovah dus na die gebede van individuele aanbidders geluister het, het hy vir hulle instruksie deur ’n organisatoriese reëling voorsien.

Toe die tyd genader het vir Jehovah om ware aanbidders deur Jesus Christus met homself te verenig, het God hom na die aarde gestuur om as Sy woordvoerder op te tree (Hebr. 1:1, 2). Met die uitgieting van die heilige gees op Pinkster van 33 G.J. is die Christengemeente in aansyn geroep. Na Jesus se terugkeer na die hemel het hierdie gemeente Jehovah se reëling geword om individuele Christene te onderrig en hulle werk te koördineer. Daar was opsieners wat die leiding in plaaslike gemeentes moes gee, en ’n sentrale bestuursliggaam het die nodige besluite geneem en gehelp om die werk te koördineer. Dit is duidelik dat Jehovah ’n organisasie wat uit ware Christene bestaan op aarde tot stand gebring het.—Hand. 14:23; 16:4, 5; Gal. 2:7-10.

Toon Jehovah se fisiese skeppingswerke dat hy ’n God van organisasie is?

Jes. 40:26: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.” (Die sterre is in melkweë gegroepeer en beweeg in verhouding tot mekaar, selfs al verskil die kenmerke van die individuele sterre van mekaar. Die planete beweeg met die grootste presisie in hulle toegewese bane. Die elektrone in elke atoom van elke element het ook bane. En die struktuur van alle materie volg matematiese patrone wat so konsekwent is dat dit vir wetenskaplikes moontlik was om die bestaan van sekere elemente te voorspel voordat hulle hulle nog ontdek het. Dit alles lewer bewys van buitengewone organisasie.)

Toon die Bybel dat ware Christene ’n georganiseerde volk sou wees?

Matt. 24:14; 28:19: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle . . . en leer hulle.” (Hoe sou dit moontlik wees sonder organisasie? Toe Jesus sy vroeë dissipels opgelei het vir hierdie werk, het Hy nie bloot vir elkeen gesê om te gaan waarheen hy wou en om sy geloof aan ander te verkondig soos hy wou nie. Hy het hulle opgelei, vir hulle instruksies gegee en hulle op ’n georganiseerde wyse uitgestuur. Kyk Lukas 8:1; 9:1-6; 10:1-16.)

Hebr. 10:24, 25: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Maar waarheen kon ’n persoon belangstellendes rig sodat hulle hierdie bevel kon gehoorsaam indien daar geen organisasie met gereelde vergaderinge was waar hulle kon vergader nie?)

1 Kor. 14:33, 40: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede . . . Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.” (Die apostel Paulus bespreek hier die ordelike prosedure by gemeentelike vergaderinge. Die toepassing van hierdie geïnspireerde raad verg eerbied vir organisasie.)

1 Pet. 2:9, 17: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig . . . Julle moet . . . die broederskap liefhê.” (’n Broederskap wat hulle daarop toelê om ’n bepaalde taak te verrig, is ’n organisasie.)

Is diegene wat getroue knegte van God is bloot individue wat in die verskillende kerke van die Christendom verstrooi is?

2 Kor. 6:15-18: “Watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” (Is iemand waarlik ’n getroue kneg van God as hy voortgaan om te aanbid saam met diegene wat deur hulle lewenswyse toon dat hulle in werklikheid ongelowiges is? Kyk “Babilon die Grote”.)

1 Kor. 1:10: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.” (Sulke eenheid bestaan nie onder die veelsoortige kerke van die Christendom nie.)

Joh. 10:16: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.” (Aangesien Jesus sulke persone in “een kudde” sou inbring, is dit mos duidelik dat hulle nie in die Christendom se kerke verstrooi kan wees nie, nie waar nie?)

Hoe kan Jehovah se sigbare organisasie in ons dag geïdentifiseer word?

(1) Dit verhef Jehovah waarlik as die enigste ware God en verheerlik sy naam.—Matt. 4:10; Joh. 17:3.

(2) Dit erken ten volle die lewensbelangrike rol van Jesus Christus in Jehovah se voorneme—as die verdediger van Jehovah se soewereiniteit, die Leidsman tot die lewe, die hoof van die Christengemeente, die heersende Messiaanse Koning.—Openb. 19:11-13; 12:10; Hand. 5:31; Ef. 1:22, 23.

(3) Dit hou streng by God se geïnspireerde Woord en baseer al sy leerstellings en gedragstandaarde op die Bybel.—2 Tim. 3:16, 17.

(4) Dit bly afgeskeie van die wêreld.—Jak. 1:27; 4:4.

(5) Dit handhaaf ’n hoë standaard van sedelike reinheid onder sy lede, want Jehovah self is heilig.—1 Pet. 1:15, 16; 1 Kor. 5:9-13.

(6) Dit gee die voorkeur aan die werk wat die Bybel vir ons dag voorspel het, naamlik die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis.—Matt. 24:14.

(7) Ondanks menslike onvolmaaktheid kweek en openbaar die lede daarvan die vrug van God se gees—liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing—en wel in so ’n mate dat dit hulle van die wêreld oor die algemeen onderskei.—Gal. 5:22; Joh. 13:35.

Hoe kan ons eerbied vir Jehovah se organisasie toon?

1 Kor. 10:31: “Doen alles tot verheerliking van God.”

Hebr. 13:17: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee.”

Jak. 1:22: “Word daders van die woord en nie net hoorders . . . nie.”

Tit. 2:11, 12: “Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.”

1 Pet. 2:17: “Julle moet . . . die broederskap liefhê.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel