Rwanda
RWANDA is een van die kleinste lande in Afrika. Dit is ook een van die pragtigstes. Dit word die Land van ’n Duisend Heuwels genoem en het berge, woude, mere en watervalle, asook ’n skynbaar eindelose verskeidenheid plante en diere. Die indrukwekkende Virunga-gebergte oorheers die bergstreek wat grens aan die Demokratiese Republiek van die Kongoa in die weste en aan Uganda in die noorde. Die berg Karisimbi, die hoogste berg van die reeks, is ’n rustende vulkaan wat ongeveer 4 480 meter hoog is, en die top daarvan is dikwels wit weens ysreën en hael. Die laer hange van hierdie berge is bedek met digte bamboesbos en reënwoud, waar bedreigde samango-ape moeiteloos deur die takke en slingerplante swaai. En dit is hier, in hierdie welige omgewing, waar een van Rwanda se kosbaarste skatte aangetref word—die berggorilla.
Eksotiese plante en welige plantegroei oordek die landskap tot aan die oewer van die Kivu-meer en die Nyungwe-woud. Hierdie woud is die tuiste van sjimpansees, swart-en-wit kolobus-ape en meer as 70 ander soorte soogdiere. Sowat 270 soorte bome en amper 300 soorte voëls kom hier voor. Daar is ’n oorvloed vlinders en orgideë wat bydra tot die prag van hierdie beskermde gebied.
In die hartjie van die Nyungwe-woud ontspring ’n klein stroompie wat stadig ooswaarts loop. Ander strome en riviere sluit een na die ander daarby aan voordat dit in die Victoria-meer vloei. Van daar af loop die water vinnig afwaarts, wat dit sterk genoeg laat vloei om sy lang reis noordwaarts voort te sit verby Etiopië, deur Soedan en uiteindelik tot in Egipte, waar dit in die Middellandse See uitmond. Van sy klein begin in die boomryke heuwels van Sentraal-Afrika, strek hierdie rivier, die Nyl, oor ’n afstand van amper 6 825 kilometer, wat dit een van die langste riviere op aarde maak.
MOEILIKE TYE
Maar ongelukkig het die klein land Rwanda ’n tyd van verskriklike geweld ondervind. Honderdduisende mans, vroue en kinders is wreed vermoor in een van die ergste volksmoorde van moderne tye. Skokkende beelde van onbeteuelde geweld is wêreldwyd uitgesaai, wat baie met afgryse vervul het oor mense se wreedheid teenoor mekaar.—Pred. 8:9.
Hoe het Jehovah se getroue knegte gedurende daardie verskriklike tye en die jare daarna gevaar? Net soos die skynbaar onbeduidende stroompie wat uit die Nyungwe-woud vloei, alle hindernisse oorkom, die versengende hitte van die Afrikason deurstaan en ’n magtige rivier word, so het Jehovah se knegte in Rwanda in hulle diens aan God volhard. Hulle het kwaai vervolging en groot moeilikhede die hoof gebied en het ’n bron van krag en aanmoediging vir hulle broers en susters regoor die wêreld geword. Die verhaal van Rwanda sal jou hart raak terwyl jy roerende verslae lees waarin liefde, geloof en lojaliteit seëvier. Ons hoop dat hierdie verslag jou sal aanmoedig om jou verhouding met Jehovah selfs kosbaarder te ag en jou Christenbroederskap selfs meer te waardeer.
DIE EERSTE STRAALTJIES LIG
Die eerste verslag oor die verkondiging van die goeie nuus in Rwanda het in die 1971 Yearbook of Jehovah’s Witnesses verskyn. Dit het gesê: “In Maart vanjaar [1970] was twee spesiale pioniers in staat om in Rwanda in te gaan en die predikingswerk in die hoofstad, Kigali, te begin. Hulle het gevind dat die mense hartlik is en gunstig op die Koninkryksboodskap reageer, en een belangstellende het reeds aan die bediening begin deelneem. Die pioniers het reeds tien studies onder die klein aantal Swahilisprekende mense begin. Hulle werk nou baie hard om Kinyarwanda te leer sodat hulle ’n groter getuienis kan gee.”
Die twee spesiale pioniers wat in daardie verslag genoem is, was Oden Mwaisoba en sy vrou, Enea, van Tanzanië. Omdat hulle nog nie die plaaslike taal, Kinyarwanda, geken het nie, het hulle aan die begin net Swahilisprekende mense besoek, waarvan baie van Kongo of Tanzanië gekom het. Teen Februarie 1971 was daar vier verkondigers wat gerapporteer het, maar ons publikasies was nog glad nie in Kinyarwanda beskikbaar nie, en die taalprobleem het die groei belemmer.
Stanley Makumba, ’n vreeslose kringopsiener wat in Kenia gedien het, het Rwanda vir die eerste keer in 1974 besoek. Hy vertel: “Min busse het tussen die Uganda/Rwanda-grenspos en Ruhengeri, Rwanda, geloop. Ek moes in ’n vragmotor staan wat so vol was dat ek nie eers my voete kon beweeg nie. My vrou het voor by die bestuurder gesit. Toe ons by ons bestemming kom, was my gesig en hare so vol stof dat sy my skaars herken het. My rug was so seer as gevolg van die reis dat ek die week voor die klein kringbyeenkoms asook tydens die byeenkoms moes sit terwyl ek toesprake gehou het. Wat besoeke aan die broers betref, kon ek nie vir hulle sê wanneer ek by hulle sou opdaag nie, aangesien ons nie geweet het hoe ons daar sou kom nie!”
’N BOORLING KEER TERUG
Intussen het Gaspard Rwakabubu, ’n boorling van Rwanda, as ’n werktuigkundige in die kopermyne in Kongo gewerk. Hy vertel: “In 1974 het ek die Koninkryksbedieningskool in Kolwezi bygewoon. Een van die instrukteurs, Michael Pottage, het gesê dat die takkantoor in Kinshasa op soek is na ’n Rwandese ouer man wat bereid sou wees om na sy geboorteland terug te keer om met die predikingswerk te help. Sou ek bereid wees om te gaan? Ek het gesê dat ek dit met my vrou, Melanie, sou bespreek.
“My werkgewer in die mynmaatskappy het my kort tevore ’n uitnodiging gegee om Duitsland toe te gaan vir opleiding. Ek het goed gedoen by die werk en het gereeld salarisverhogings gekry. Maar binne net ’n paar dae het ons ’n besluit geneem. Ek het vir broer Pottage gesê dat ons die uitnodiging sou aanvaar om na Rwanda terug te keer. My werkgewer kon nie hierdie besluit verstaan nie. ‘Waarom kan jy nie hier een van Jehovah se Getuies wees nie?’ het hy gevra. ‘Waarom moet jy na Rwanda terugkeer?’ Selfs party welmenende broers het my afgeraai om dit te doen. Hulle het gesê: ‘Jy het vier kinders. Gaan lees Lukas 14:28-30 en dink daaroor.’ Maar ons het by ons besluit gebly.
“My werkgewer het al ons vliegkoste na Rwanda gedek. Toe ons in Mei 1975 in Kigali, aankom, het ons ’n rousteenhuis met kleivloere gehuur; baie anders as die goed toegeruste huis wat ons gehad het terwyl ek vir die mynmaatskappy gewerk het. Nietemin was ons hierop voorbereid en was ons vasbeslote om ’n sukses daarvan te maak.”
Aangesien die spesiale pioniers uit ander lande in Swahili met die mense gekommunikeer het, het baie mense gedink dat die pioniers gekom het om hulle hierdie taal te leer. Hierdie idee het verander toe Gaspard en sy gesin daar aangekom het, aangesien hulle mense Koninkrykswaarheid uit die Kinyarwanda-Bybel kon leer.
Daarbenewens het broer Rwakabubu die boekie met 32 bladsye, “Hierdie goeie nuus van die koninkryk”, in Kinyarwanda vertaal. Dit is in 1976 uitgegee en het baie belangstelling gewek. Mense het dit op busse en op straat gelees. Die gebruik van die naam Jehovah het tot baie besprekings gelei.
RWANDESE NEEM DIE WAARHEID AAN
Destyds was daar net ongeveer 11 verkondigers in die land, waarvan die meeste nie Rwandese burgers was nie. Een van die eerste Rwandese wat die waarheid geleer het, was Justin Rwagatore, ’n uitgaande, vriendelike mens. Hy het saam met spesiale pioniers van Tanzanië in Swahili begin studeer, aangesien hulle nie Frans of Kinyarwanda kon praat nie. Hy is in 1976 gedoop en het in Save gewoon, waar die koning van Rwanda in 1900 Katolieke sendelinge toegelaat het om die eerste sendinghuis te stig. Justin sê dat mense nuuskierig was om te weet wat die Bybel werklik leer. Maar die geestelikes was vyandiggesind teenoor Jehovah se Getuies en het hulle lidmate verbied om na hulle te luister of hulle lektuur te neem.
Ferdinand Mugarura, ’n moedige broer, was ook onder die eerste Rwandese wat die waarheid aangeneem het. In 1969, terwyl hy in Oos-Kongo gewoon het, het hy ’n eksemplaar van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe in Swahili gekry. Later, toe hy uitvind waar die naaste Getuies was, het hy en twee metgeselle elke Vrydag 80 kilometer ver gestap om die vergaderinge by te woon en ’n Bybelstudie te hê, en dan het hulle Maandag huis toe gestap. Ferdinand is in 1975 gedoop, op dieselfde dag as een van sy Bybelstudente. Hy is in 1977 aangestel om as ’n spesiale pionier in Rwanda te dien en vertel dat ’n kringbyeenkoms die vorige jaar in die sitkamer van die Rwakabubu’s se huis gehou is, en 34 het dit bygewoon. Drie is gedoop.
SENDELINGE WORD TOEGANG GEWEIER
Die Bestuursliggaam, wat altyd bewus is van die behoeftes van die wêreldwye veld, het sendelinge vroeër toegewys om in Rwanda te dien. In 1969 is vier gegradueerdes van die 47ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi om daar te dien.
Nicholas Fone vertel: “Laat in Januarie het broer Knorr die klastoewysings uitgedeel. Ons het gehoor hoe hy vir Paul en Marilyn Evans sê dat hulle Rwanda toe gaan. Daarna het hy vir my en my vrou gesê: ‘En julle gaan saam met hulle!’ Ons was baie opgewonde en het ná die vergadering reguit na die Gilead-biblioteek gegaan en ’n groot atlas uitgehaal om te sien waar Rwanda is. Maar later het ons ’n brief ontvang wat gesê het dat die broers nie toestemming kon verkry sodat ons in Rwanda kon ingaan nie. Ons was teleurgesteld, maar het ’n ander toewysing aanvaar om saam met Paul en Marilyn in Kongo te dien.”
In 1976 is twee ander egpare na Rwanda gestuur nadat hulle aan die 60ste Gileadklas gegradueer het. Die vier sendelinge, wat in die land toegelaat is, het in ’n gehuurde huis ingetrek, moedig getuig en Kinyarwanda begin leer. Toe hulle visums drie maande later verval het, het die Departement van Immigrasie geweier om dit te hernieu, en daarom is die sendelinge na Bukavu, Oos-Kongo, teruggestuur.
“HULLE WAS HARDWERKEND”
In die middel-1970’s het die spesiale pioniers van Tanzanië en Kongo om verskeie redes Rwanda begin verlaat. Intussen het Rwandese broers begin om te pionier en die predikingswerk in alle dele van die land uit te brei. Toe, in 1978, is die Waarheid-boek en twee traktate in Kinyarwanda vertaal. Daarbenewens het ’n maandelikse uitgawe van Die Wagtoring verskyn. Hierdie publikasies het gehelp om die Koninkrykspredikingswerk te bevorder. Die sendeling Manfred Tonak het die volgende aangaande die Rwandese pioniers in daardie vroeë dae gesê: “Hulle was hardwerkend, en hulle het baie tyd aan die bediening gewy. Nuwelinge het hulle voorbeeld gevolg.”
Gaspard Niyongira vertel hoe die goeie nuus destyds versprei het. “Teen die tyd dat ek in 1978 gedoop is, het die geestelikes bekommerd begin word toe hulle sien dat soveel mense die waarheid aanneem. Honderde het ons byeenkomste bygewoon. Wanneer ons gaan preek het, was ons soos ’n swerm sprinkane! Heel dikwels het omtrent 20 verkondigers van die middestad van Kigali af na Kanombe geloop, ’n afstand van ongeveer nege kilometer, en die hele pad soontoe gepreek. Ná middagete het hulle nog sewe kilometer verder gegaan na Masaka voordat hulle in die aand per bus na Kigali teruggekeer het. Groepe verkondigers het iets soortgelyks in ander dele van die land gedoen. Dit is nie verbasend dat hierdie intensiewe predikingswerk mense die indruk gegee het dat daar duisende Getuies van Jehovah is nie. Daarom het mense aantygings teen ons gemaak, wat tot gevolg gehad het dat die owerheid geweier het om ons wetlike erkenning te gee.”
Die broers in Rwanda het oorgeloop van entoesiasme vir die waarheid en wou die vreugde ervaar om met hulle broers van ander lande te assosieer. Gevolglik het 37 van Rwanda, insluitende kinders, in Desember 1978 deur Uganda na Nairobi, Kenia, gereis—’n afstand van meer as 1 200 kilometer—om die “Seëvierende geloof”- internasionale byeenkoms by te woon. Dit was ’n moeilike reis. Vervoer was onbetroubaar, en die voertuie het dikwels onklaar geraak. Wat meer is, Uganda was polities onstabiel. Toe die byeenkomsgangers uiteindelik by die Kenia-grens aankom, het Ugandese grensbeamptes hulle daarvan beskuldig dat hulle spioene is, hulle in hegtenis geneem en hulle na die leërhoofkwartier in Kampala, Uganda, geneem. Idi Amin, wat destyds die president van Uganda was, het hulle persoonlik ondervra. Hy was tevrede met hulle antwoorde en het opdrag gegee dat hulle vrygelaat moet word. Hoewel hulle die eerste dag van die byeenkoms in Nairobi misgeloop het, was hulle verheug om duisende broers van baie lande te sien wat in vrede verenig was.
POGINGS OM WETLIKE ERKENNING TE VERKRY
Nie almal het gehou van die Bybelwaarhede en hoë sedelike standaarde wat die Getuies aan ander geleer het nie. Veral die geestelikes was ontsteld toe hulle sien dat soveel mense gunstig reageer. Broer Rwakabubu vertel: “Baie mense wat aktiewe Katolieke, Protestante en Adventiste was, het bedankingsbriewe aan hulle voormalige kerke gestuur. ’n Ander broer het gesê dat die predikingswerk amper soos ’n vuur was wat in die gevestigde kerke aangesteek is. Die aantal persone wat die vergaderinge van die Kigali-gemeente bygewoon het, het kort voor lank tot meer as 200 gestyg. Aanvanklik het die geestelikes nie veel aandag aan ons geskenk nie omdat ons so min was. Maar toe ons meer geword het, het party aangevoer dat ons ’n gevaar vir die land inhou. Dit is noemenswaardig dat die aartsbiskop van die Katolieke Kerk in Rwanda, Vincent Nsengiyumva, omstreeks hierdie tyd ’n lid van die sentrale komitee van die heersende politieke party geword het.
“Aangesien ons vinnig vermeerder het, het ons wetlike status nodig gehad om sendelinge in te bring, Koninkryksale te bou en groot byeenkomste te hou. Die Kenia-takkantoor het gereël dat Ernest Heuse, van België, met regeringsministers in aanraking kom om wetlike erkenning te versoek, maar sy pogings was onsuksesvol. Later, in 1982, het die Kenia-takkantoor aanbeveel dat ons ’n brief aan die Minister van Justisie en die Minister van Binnelandse Sake skryf om wetlike erkenning te versoek. Ek en twee ander spesiale pioniers het hierdie versoek onderteken. Maar ons het geen antwoord gekry nie.”
Intussen het die teenstand toegeneem. Antoine Rugwiza, ’n stil, waardige broer, onthou dat die president in ’n landwye radio-uitsending gesê het dat hy diegene wat die “Rwandese geloof” in ’n slegte lig stel, nie sou duld nie. Almal het geweet dat hy na Jehovah se Getuies verwys. Kort daarna is die broers verbied om bymekaar te kom. Gerugte het die rondte gedoen dat daar binnekort inhegtenisnemings sou wees. Broer Rwakabubu is twee keer deur die Staatsveiligheidspolisie ontbied vir ondervraging.
Toe, in November 1982, is Kiala Mwango en sy vrou, Elaine, van Nairobi af gestuur om toesig te hou oor kringbyeenkomste in Butare, Gisenyi en Kigali. Broer Rwakabubu was die voorsitter by hierdie byeenkomste. Onmiddellik ná die Kigali-byeenkoms is hy vir die derde keer na die presidentswoning ontbied. Maar hierdie keer het hy nie teruggekom nie! Binne vier dae is die twee ander spesiale pioniers wat die versoek om wetlike erkenning onderteken het, in hegtenis geneem. Al drie is opgesluit sonder verhoor en sonder ’n geleentheid om hulle regterlik te verdedig. Ander inhegtenisnemings het gevolg. Die Koninkryksaal is gesluit en die deure is verseël. ’n Brief van die Minister van Justisie aan die prefekture het Jehovah se Getuies verban.
In Oktober 1983 is die drie broers wat die versoek om wetlike erkenning onderteken het, uiteindelik voor die hof gebring. Die hof het hulle van swendelary en bedrog beskuldig—heeltemal ongegronde aantygings. Gedurende die verhoor is nie ’n enkele getuie ingeroep of dokument voorgelê as bewys nie. Nogtans is die drie broers tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Toe veroordeelde moordenaars ooreenkomstig ’n amnestieprogram vrygelaat is, is daar geen guns aan hierdie getroue broers bewys nie. In Gisenyi het vyf ander Getuies byna twee jaar in die gevangenis deurgebring sonder dat hulle gevonnis is en sonder ’n geldige hofbevel.
DIE LEWE IN DIE GEVANGENIS
Die lewe in die gevangenis was verskriklik. Daar was slegs een maaltyd per dag, wat uit kassawe en boontjies bestaan het. Die gevangenes het slegs ongeveer een keer per maand vleis gekry. Daar was weeluise in die beddegoed, maar omdat daar te veel gevangenes was, het baie van hulle op die grond geslaap. Daar was min water om mee te was. Die broers het selle met veroordeelde en gewelddadige misdadigers gedeel. Tronkbewaarders was dikwels wreed, maar een van hulle, Jean Fataki, was goedhartig teenoor die broers. Hy het ’n Bybelstudie aanvaar, uiteindelik ’n gedoopte Getuie geword en dien tot vandag toe as ’n getroue pionier.
Broer Rwakabubu vertel: “Terwyl ons in die gevangenis was, het die aartsbiskop die mis daar gehou. Hy het vir sy gehoor gesê om versigtig te wees vir Jehovah se Getuies. Later het party van die Katolieke gevangenes ons gevra waarom die aartsbiskop dit gesê het, want hulle kon sien dat Jehovah se Getuies nie gevaarlik is nie.”
Intussen het Roger en Noella Poels uit België in Kigali aangekom. Roger het ’n werkskontrak gehad. Die drie broers was nog steeds in die gevangenis, en daarom het Roger ’n oudiënsie by die Minister van Justisie aangevra sodat hy ons oortuigings kon verduidelik en beleef kon vra wat die regering teen Jehovah se Getuies het. Die minister het die gesprek kortgeknip deur te sê: “Mnr. Poels, ek het nou genoeg gehoor! Jy sal op die volgende vlug na Brussel wees. Jy is nie meer welkom in die land nie!”
Aangesien die drie broers standvastig gebly het en hulle nie laat intimideer het nie, moes hulle hulle vonnis van twee jaar uitdien, hoewel hulle vir die tweede jaar na ’n gevangenis oorgeplaas is waar die toestande baie beter was. Hulle is in November 1984 vrygelaat.
VERVOLGING NEEM TOE
Teenstand het aangehou. ’n Radio-uitsending het verklaar dat Jehovah se Getuies slegte mense en ekstremiste is. Teen Maart 1986 het inhegtenisnemings landwyd algemeen geword. Een van dié wat in hegtenis geneem is, was Augustin Murayi, wat weens sy Christelike neutraliteit uit sy amp as direkteur-generaal van die Departement van Primêre en Sekondêre Opvoeding ontslaan is. Hy is deur die koerante en selfs meer oor die radio aangeval.
Regoor die land is ander broers en susters, selfs swanger susters met klein kindertjies, in hegtenis geneem. Teen die einde van 1986 is hulle na die sentrale gevangenis in Kigali oorgeplaas waar hulle gewag het om verhoor te word. Omdat die broers nie patriotiese liedere gesing, die presidensiële kenteken gedra of die politieke partykaart gekoop het nie, het mense verkeerdelik gedink dat Jehovah se Getuies die regering teëstaan en dit wou omverwerp.
Phocas Hakizumwami vertel met ’n vriendelike glimlag: “Broers in die Nyabisindu-gemeente was van die eerstes wat in hegtenis geneem is. Aangesien die res van ons verwag het om vroeër of later in hegtenis geneem te word, het ons besef dat ons gebiedstoewysing kort voor lank sou verander, van buite die gevangenis na binne die gevangenis. Ons het dus besluit om eers ’n uitgebreide predikingskampanje in ons gebied buite die gevangenis te voer. Ons het na die markte gegaan en baie tydskrifte en boeke versprei. Ons het tot Jehovah gebid om ons te help om ons gebied te dek voordat ons opgesluit word. Jehovah het ons gehelp, want ons het ons gebied teen 1 Oktober 1985 gedek. Ons is sewe dae later opgesluit.”
Die volgende jaar is Palatin Nsanzurwimo en sy vrou, Fatuma, deur die Staatsveiligheidspolisie in hegtenis geneem. Nadat hulle agt uur lank ondervra en hulle huis deeglik deursoek is, is hulle en hulle drie kinders na die gevangenis geneem. Op pad na die gevangenis het Palatin se jonger broer, wat hulle op ’n kort afstand gevolg het, hulle vyfjarige seun en vierjarige dogter in sy sorg geneem. Palatin en Fatuma is saam met hulle 14 maande oue baba opgesluit. Fatuma is later na ’n ander gevangenis oorgeplaas en is eers nege maande later vrygelaat.
Gedurende daardie tyd is Jean Tshiteya se vier kinders uit die skool gesit. ’n Rukkie later, toe hy by die huis aankom, het hy gevind dat sy huis deursoek, sy vrou in hegtenis geneem en sy kinders alleen in die huis agtergelaat is. Kort daarna is broer Tshiteya ook in hegtenis geneem en in die gevangenis in Butare opgesluit, waar sy vrou en ander broers reeds was. Daarna is al die gevangenes in Butare na die sentrale gevangenis in Kigali oorgeplaas. Intussen het broers in Kigali vir broer Tshiteya se kinders gesorg.
Broer Tshiteya vertel: “Wanneer die broers en susters van gevangenisse in ander streke na die sentrale gevangenis in Kigali gebring is, het hulle mekaar vreugdevol gegroet en gesê: ‘Komera!’, wat ‘Skep moed!’ beteken. Toe een van die tronkbewaarders dit hoor, het hy gesê: ‘Julle mense is mal! Hoe kan mense in die gevangenis moed skep?’”
Ondanks hierdie inhegtenisnemings het opregtes van hart nie mismoedig geraak nie, en die vervolging het dikwels positiewe resultate gehad. Odette Mukandekezi, ’n energieke, uitgaande suster, was een van talle wat destyds in hegtenis geneem is. Sy vertel: “Tydens die vervolging is broers in hegtenis geneem en geslaan. Eendag het ons verby ’n meisietjie met die naam Josephine gestap wat beeste opgepas het. Sy het ’n Bybel gehad en het daarin gelees dat die vroeë Christene beswadder, vervolg, gegesel en opgesluit is. Aangesien sy geweet het dat die Getuies vervolg word, het sy tot die gevolgtrekking gekom dat hulle die ware godsdiens beoefen, en daarom het sy vir ’n Bybelstudie gevra. Sy is nou ’n gedoopte suster.”
Tydens die verbod het Gaspard Niyongira as ’n vragmotorbestuurder gewerk, en hy het dikwels vir werksdoeleindes na Nairobi, Kenia, gegaan. Hy het publikasies in Rwanda ingesmokkel in ’n spesiale houer wat aan sy vragmotor gemonteer is. Ses kartondose lektuur het in die houer gepas. In daardie selfde tyd het Henry Ssenyonga, van Wes-Uganda, gereeld tydskrifte op sy motorfiets oor die grens gebring.
Gemeentelike vergaderinge moes in klein groepies gehou word. As die owerheid vermoed het dat Jehovah se Getuies vergaderinge hou, het hulle klopjagte gedoen. Broer Niyongira vertel: “Ek het ’n kamer aan my huis laat aanbou waar ons vergaderinge in die geheim kon hou. Ons het ons lektuur in plastieksakke in die grond begrawe en dit met steenkool bedek.”
Toe die vlaag van inhegtenisnemings begin het, het Jean-Marie Mutezintare, wat kort tevore gedoop is, die spesiale internasionale “Handhawers van onkreukbaarheid”-streekbyeenkoms in Desember 1985 in Nairobi bygewoon. Op pad terug na Rwanda het hy en Isaie Sibomana tydskrifte by die broers in Wes-Uganda gekry. By die grens het beamptes die tydskrifte gevind, die broers geboei en hulle weggelei vir ondervraging, waarna hulle ’n koue nag in ’n tronksel deurgebring het. Kort voor lank is die broers na die sentrale gevangenis in Kigali geneem. Daar het hulle ongeveer 140 broers en susters ontmoet, wat verheug was om ’n eerstehandse verslag van die byeenkoms in Nairobi te hoor. Wat hulle die broers vertel het, was ongetwyfeld bemoedigend, en dit het gehelp om hulle te versterk!
Die broers in die gevangenis het vergaderinge gehou en het die predikingswerk op ’n georganiseerde manier uitgevoer. Behalwe dat hulle gepreek het, het hulle ook party van die gevangenes leer lees en skryf. Daarbenewens het hulle Bybelstudies met belangstellendes gehou en talle nuwe verkondigers vir doop help voorberei. Sommige van hulle het reeds gestudeer toe hulle in hegtenis geneem is, en ander het die waarheid in die gevangenis geleer.
’N KRINGOPSIENER “BESOEK” DIE GEVANGENIS
Een van die broers beskryf wat in 1986 in die Kigali-gevangenis gebeur het: “Daar was baie broers in die gevangenis. Ons het ’n vergadering gehou om te sien hoe ons die broers buite die gevangenis kan help. Ons het besluit om vir hulle ’n brief te skryf om hulle aan te moedig. Ons het vir hulle gesê dat ons huis toe sal kom wanneer ons ons predikingsgebied in die gevangenis gedek het. Ons het van bed tot bed gepreek en Bybelstudies gehou. Later, toe ons hoor dat ’n kringopsiener die gemeentes buite die gevangenis besoek, wou ons ook ’n besoek hê, en daarom het ons tot Jehovah daaroor gebid. Kort daarna is broer Rwakabubu, wat die kringopsiener was, vir die tweede keer opgesluit. Ons het gevoel dat dit gebeur het sodat hy ons kan besoek.”
Gedurende die vervolging het net een broer sy geloof verloën. Nadat hy die politieke kenteken aangesit het, het die gevangenes wat nie Getuies was nie, hom geslaan, geskop en beledig en hom ’n lafaard genoem. Sy vrou, wat ’n Bybelstudent was, het hom gevra waarom hy nie getrou gebly het nie. Hy het later ’n brief aan die regters geskryf waarin hy vir hulle gesê het dat hy ’n fout gemaak het en nog steeds een van Jehovah se Getuies is. Hy het selfs aan die Kenia-takkantoor geskryf om verskoning te vra. Nou dien hy Jehovah weer eens getrou.
DIE PREDIKINGSWERK BUITE DIE GEVANGENIS
Diegene wat nie in hegtenis geneem is nie, het met onblusbare ywer aangehou preek en gemiddeld 20 uur per maand in die bediening deurgebring. Alfred Semali, een van dié wat nie opgesluit is nie, vertel: “Hoewel ek nooit opgesluit is nie, het ek verwag dat dit sou gebeur en het ek my daarop voorberei. Die Koninkryksaal was gesluit, en daarom het ons in klein groepies bymekaargekom en aangehou preek. Ek het my tydskrifte in ’n kakiekleurige koevert gesit, stad toe gegaan en gemaak asof ek na werk soek, en dan het ek ’n geleentheid gesoek om die tydskrifte aan te bied en oor die Bybel te praat.
“In 1986 is baie van ons broers en belangstellendes opgesluit, selfs diegene wat kort tevore die Bybel begin studeer het. Dit was wonderlik om te sien hoe die broers en selfs die nuwelinge standvastig bly. Intussen het Getuies uit baie lande aan die president van Rwanda geskryf om beswaar aan te teken teen die onregverdige behandeling, en volgens die nuus op die radio het hy elke dag honderde van hierdie briewe ontvang. Dit het goeie resultate opgelewer, want ons broers en susters en belangstellendes is die volgende jaar ooreenkomstig ’n presidensiële verordening vrygelaat. Ons het oorgeloop van vreugde.” Onmiddellik ná hulle vrylating het die ouer manne ’n doopplegtigheid in Kigali gereël, waartydens 36 gedoop is, en 34 van hulle het onmiddellik as hulppioniers ingeskryf!
Gedurende die hoogtepunt van die vervolging in 1986 het gemiddeld 435 verkondigers gerapporteer, waarvan ongeveer 140 broers en susters al voorheen in die gevangenis was. Hierdie Getuies was die kern van Jehovah se organisasie in Rwanda. Hulle geloof was van ’n “beproefde hoedanigheid”.—Jak. 1:3.
Ná die onstuimige jare van die 1980’s het die gemeentes in Rwanda uiteindelik ’n tydperk van relatiewe vrede en vermeerdering geniet. Maar wat het die toekoms ingehou? Nog mense het die waarheid aangeneem. Sou die nuwelinge ook toon dat hulle dissipels is wat as ’t ware met vuurvaste materiaal gebou is? (1 Kor. 3:10-15). Sou hulle geloof opgewasse wees teen die beproewinge wat voorgelê het? Net die tyd sou leer.
OORLOG EN POLITIEKE ONRUS
Teen 1990 was daar amper 1 000 bedrywige verkondigers in Rwanda. Maar die politieke klimaat het onstabiel begin raak, en in Oktober het magte van die Rwandese Patriotiese Front (RPF) uit die naburige Uganda die noordelike deel van Rwanda ingeval.
Ferdinand Mugarura, ’n moedige broer wat al twee keer vir sy geloof opgesluit is, het in Ruhengeri gewoon toe hierdie inval begin het. Hy vertel: “Haat en stamtrots het al hoe algemener geword. Maar Jehovah se Getuies het neutraal gebly en nie betrokke geraak by die politieke faksies of hulle laat beïnvloed deur etniese vooroordele nie. Omdat die broers geweier het om hulle neutraliteit prys te gee, moes party uit hulle huise vlug en het party hulle werk verloor.”
Een suster, wat ’n onderwyseres en ’n weduwee met drie kinders was, het geweier om bydraes aan die leër te gee. Die skoolhoof het haar dus by die militêre owerheid aangekla, en sy is ’n tweede keer opgesluit; sy is die eerste keer gedurende die 1980’s opgesluit. Toe die invallende leërs die stad bereik het waar sy opgesluit is, is daar in die gevangenis ingebreek en het al die gevangenes ontsnap. Die suster het egter nie saam met die ander gevangenes gevlug nie, maar het eerder in die gevangenis gebly. Nadat die invallende leërs teruggeval het, is sy weer in hegtenis geneem en na die sentrale gevangenis in Kigali oorgeplaas. Daar het sy gebid dat sy die datum van die Gedenkmaal sou uitvind, aangesien sy dit nie wou misloop nie. Tot haar groot verbasing is sy later op presies die dag van die Gedenkmaal vrygelaat! Weens haar neutrale standpunt het sy haar huis en haar werk as onderwyseres verloor, maar sy het toe ’n ywerige pionier geword.
Die inval uit Uganda is tydelik stopgesit danksy internasionale ingryping. In 1991 is pogings aangewend om ’n veelparty- politieke stelsel in die land tot stand te bring. Etlike groot partye en ’n aantal kleiner partye is gestig, wat ’n gees van streek- en stamtrots laat posvat het. Sommige partye het gematigde oogmerke gehad, maar ander was militant en ekstremisties. Die neutrale standpunt van Jehovah se Getuies is vir die eerste keer in ’n gunstige lig gesien. Omdat die Getuies nie in die politieke en stamverwante konflikte kant gekies het nie, het die regering en mense oor die algemeen hulle nie meer as vyande beskou nie.
In September 1991 het ’n internasionale afvaardiging van broers en twee broers van Rwanda—Gaspard Rwakabubu en Tharcisse Seminega—vooraanstaande regeringsministers in Kigali gaan spreek. Die broers het met die nuwe Minister van Justisie gepraat, wat met simpatie na hulle geluister het. Die broers het hom bedank vir die positiewe stappe wat reeds gedoen is en hom aangespoor om selfs meer te doen deur ons algehele godsdiensvryheid te gee.
In Januarie 1992, voordat wetlike erkenning aan ons toegestaan is, het die broers ’n streekbyeenkoms in Kigali gehou. Godfrey en Jennie Bint vertel: “Ons het destyds in Uganda gedien en was verbaas toe ons ’n brief van die Kenia-takkantoor ontvang waarin ons gevra is om drie weke na Rwanda te gaan om met die streekbyeenkomsreëlings en die drama-opname te help. Ons is oorweldig deur die broers se gasvryheid, en ons is elke dag genooi om by ’n ander gesin te gaan eet. ’n Private sokkerstadion is reeds gehuur, en die reëlings was goed op dreef toe ons daar aankom. Die broers het toe reeds vir die drama-opname voorberei, en dit het goed afgeloop hoewel ons min toerusting gehad het. Al kon baie broers van die noorde van die land nie reisdokumente kry nie en al was die grense met Burundi en Uganda gesluit, was daar Sondag 2 079 teenwoordig, en 75 is gedoop.”
UITEINDELIK WETLIKE ERKENNING!
’n Paar maande later, op 13 April 1992, is die werk van Jehovah se Getuies in Rwanda uiteindelik—en vir die eerste keer—wetlik geregistreer! Die lang stryd om die goeie nuus ten spyte van verbooie, teistering en gevangenskap te verkondig, was verby. Die broers kon uitsien na ’n nuwe era van teokratiese groei en uitbreiding.
Die Bestuursliggaam het sonder versuim sendelinge na die land gestuur. Henk van Bussel, wat voorheen in die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Tsjad gedien het, en Godfrey en Jennie Bint, wat voorheen in Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) en Uganda gedien het, was die eerste sendelinge wat verblyfpermitte gekry het. ’n Landskomitee is aangestel om oor die predikingswerk toesig te hou.
Broer Bint vertel wat gebeur het toe hulle saam met Henk van Bussel daar aangekom het: “Ons het gou ’n geskikte plek baie na aan die Koninkryksaal gevind wat as ’n sendinghuis kon dien. Ons het ons onmiddellik daarop toegelê om Kinyarwanda te leer, wat ons baie moeilik gevind het, net soos dit vir die eerste spesiale pioniers in 1970 was. Een van die handboeke het gesê: ‘Die letters CW word as TCHKW uitgespreek!’ Die suster wat ons geleer het, het ook gesê: ‘Julle sal die “shy” in “isi nshya” [die nuwe aarde] nooit reg uitspreek nie, tensy julle glimlag!’”
Later daardie jaar is ’n nuwe verkondigerhoogtepunt van 1 665 bereik, en in Januarie 1993 is nog ’n streekbyeenkoms in Kigali gehou. Hierdie keer was die bywoningsyfer 4 498, en 182 is gedoop. Kiala Mwango het as verteenwoordiger van die Kenia-takkantoor gekom. Niemand het destyds gedink dat ’n takkantoor in 2006 gebou sou word op ’n stuk grond reg oorkant die stadion waar die byeenkoms gehou is nie.
Ondanks nog ’n inval uit die noorde het die predikingswerk onversteurd voortgegaan. Teen 1993 was die invallende leër ’n paar kilometer van Kigali af. Die grens met Uganda was nog steeds gesluit, en die geluid van swaar artillerievuur net anderkant die heuwels kon in die hoofstad gehoor word. Ongeveer eenmiljoen mense het uit die noorde van die land gevlug. Dit het 381 broers en susters ingesluit, en die broers in en om Kigali het vir hulle gesorg. Maar in Arusha, Tanzanië, is ’n skietstilstand uitgeroep en ’n buffersone geskep, en die regering het ingestem om mag met die invallende magte en ’n aantal groter en kleiner politieke partye te deel.
’N BAIE SPESIALE BYEENKOMSDAG!
Reëlings is getref om daardie jaar ’n spesiale byeenkomsdag in Kigali se Regional-stadion te hou. Maar die bestuur het die stadion ook uitgehuur vir ’n sokkerwedstryd op dieselfde dag om drieuur in die middag. Die broers het die oggendsessie bygewoon, maar voordat die middagsessie kon begin, het die sokkerondersteuners begin opdaag—en die polisie kon hulle nie verhinder om in die stadion in te gaan nie. Die bestuurder van die stadion het gesê dat die wedstryd eers sesuur die aand verby sou wees. Die broers het dus weggegaan en sesuur die aand teruggekeer om na die res van die program te luister.
Dit was kommerwekkend, aangesien daar ’n aandklokreël was. Voertuie is nie toegelaat om ná sesuur die aand op die pad te wees nie, en mense kon nie ná negeuur die aand buite wees nie. Maar teen ongeveer seweuur die aand het ’n aankondiging oor die radio gesê dat die aandklokreël tot elfuur die aand uitgestel is. Daarbenewens was daar geen betroubare kragtoevoer vir beligting nie. Aangesien die bepalings van die huurkontrak van die stadion nie nagekom is nie, het die burgemeester van Kigali beligting gereël. Hy het selfs gratis vervoer gereël, wat ná die program aan die broers beskikbaar gestel is. Die broers kon dus die hele byeenkomsprogram geniet. Stel jou hulle verbasing voor toe hulle buite die stadion kom en sien dat baie busse op hulle wag!
Günter Reschke vertel dat hy Rwanda aan die einde van September 1993 besoek het. Hy sê: “Die Kenia-takkantoor het my na Kigali gestuur om die Koninkryksbedieningskool saam met broer Rwakabubu te hou. Destyds was daar net 63 ouer manne in Rwanda, hoewel die aantal verkondigers tot 1 881 vermeerder het. Daar was reeds baie spanning in die land, en ons het gerugte van gevegte in die noorde gehoor. Niemand het natuurlik die verskriklike tye verwag wat voorgelê het nie, maar die skool het beslis voedsel op die regte tyd voorsien. Dit het die ouer manne se geloof versterk en hulle as herders toegerus, wat noodsaaklik was, aangesien donker oorlogswolke saamgepak het.”
PLANNE VIR ’N LANDSKANTOOR
Aan die einde van Maart 1994 het Leonard Ellis en sy vrou, Nancy, van Nairobi gekom om spesiale byeenkomsdae by te woon en om die vertaalkantoor te help. Die takkantoor in Nairobi het aanbeveel dat die sendinghuis en die vertaalkantoor in Rwanda saamsmelt. Maandag 4 April het ’n vergrote vertaalspan, die Landskomitee, die sendelinge en broer en suster Ellis die Wagtoringstudie bygewoon. Dit was ’n opwindende tyd—die begin van verdere uitbreiding.
Nadat broer en suster Ellis hulle werk voltooi het, het hulle Kigali verlaat op wat die laaste passasiersvlug vir baie maande sou wees. Die volgende middag het broer Rwakabubu die sendinghuis gebel om te sê dat die Russiese ambassade hulle eis op ’n stuk grond waarop ons ’n landskantoor wou bou, laat vaar het. Dit kon nou aan Jehovah se Getuies toegeken word, en die broers sou die volgende oggend, Donderdag 7 April, ’n vergadering daaroor hou. Die vergadering is nooit gehou nie.
DIE VOLKSMOORD BEGIN!
Woensdagaand 6 April is ’n vliegtuig naby Kigali afgeskiet, en dit het aan die brand geslaan. Die presidente van Rwanda en Burundi was aan boord. Daar was geen oorlewendes nie. Min mense het geweet van die vliegramp daardie aand; daar was geen aankondiging deur die nasionale radiostasie nie.
Die drie sendelinge—die Bints en Henk—sal die daaropvolgende dae nooit vergeet nie. Broer Bint verduidelik: “Vroeg op 7 April het ons wakker geword met die geluid van geweerskote en ontploffings van handgranate in ons ore. Dit was niks ongewoons nie omdat die politieke situasie in die land in onlangse maande baie onstabiel begin raak het. Maar terwyl ons ontbyt voorberei het, het ons ’n oproep ontvang. Emmanuel Ngirente, wat by die vertaalkantoor was, het vir ons gesê dat die plaaslike radiostasie die dood van die twee presidente wat op die vliegtuig was, aangekondig het. Die Departement van Verdediging het almal in Kigali aangesê om in hulle huis te bly.
“Omtrent negeuur die oggend het ons gehoor hoe plunderaars by ons bure se huis inbreek. Hulle het die gesin se motor gesteel en die moeder doodgemaak.
“Kort voor lank het soldate en plunderaars na ons huis gekom, hard teen ons metaalhek geslaan en ons klokkie gelui. Ons het geen geluid gemaak nie en binne gebly. Om die een of ander rede het hulle die hek nie probeer oopbreek nie en na ander huise gegaan. Ons het oral om ons die geluid van outomatiese wapens en ontploffings gehoor; daar was geen uitkomkans nie. Ons het harde geweerskote naby ons gehoor, en daarom het ons in die gang tussen die vertrekke in die middel van die huis geskuil, waar ons veilig sou wees teen verdwaalde koeëls. Omdat ons besef het dat die situasie nie gou sal opklaar nie, het ons besluit om net een maaltyd per dag vir ons almal voor te berei sodat die kos langer sou hou. Die volgende dag, kort nadat ons middagete geëet het en terwyl ons na die internasionale nuus op die radio geluister het, het Henk uitgeroep: ‘Hulle klim oor ons heining!’
“Daar was min tyd om te dink. Ons het na die badkamer gegaan en die deur gesluit. Ons het saam gebid en Jehovah gevra om ons die krag te gee vir wat ook al sou gebeur. Voordat ons klaar gebid het, het ons gehoor hoe burgermaglede en die plunderaars die vensters en deure breek. Hulle was binne minute in die huis en het geskreeu en die meubels omgekeer. Daar was omtrent 40 plunderaars—mans, vroue en kinders—wat saam met die burgermaglede ingekom het. Ons het ook skote gehoor terwyl mense baklei het oor dinge wat hulle gevind het.
“Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het—maar eintlik net ongeveer 40 minute was—het hulle die badkamerdeur probeer oopmaak. Maar omdat dit gesluit was, het hulle dit begin oopbreek. Ons het toe besef dat ons sal moet uitgaan. Die manne was onder die invloed van dwelms en het soos kranksinniges opgetree. Hulle het ons met kapmesse en messe gedreig. Jennie het hardop tot Jehovah om hulp geroep. Een man het Henk met die plat kant van sy kapmes teen die onderkant van sy nek geslaan. Henk het in die bad geval. Ek het geld gevind en dit vir die aanvallers gegee. Hulle het daaroor baklei.
“Skielik het ons besef dat ’n jong man na ons staar. Hoewel ons hom nie geken het nie, het hy ons herken, dalk weens die predikingswerk. Hy het ons gegryp, ons in die badkamer teruggestoot en vir ons gesê om die deur toe te maak. Hy het gesê dat hy ons sal red.
“Ons het nog omtrent 30 minute lank gehoor hoe hulle ons huis plunder, en toe het dit uiteindelik stil geraak. Later het die jong man teruggekom om vir ons te sê dat ons kan uitkom. Hy het daarop aangedring dat ons onmiddellik padgee en het ons uit die huis gelei. Ons het niks probeer saamneem nie. Ons is met afgryse vervul toe ons die lyke van sommige van ons bure sien wat vermoor is. Twee lede van die Presidensiële Wag het ons na die huis van ’n militêre offisier daar naby begelei. Die offisier het ons toe na die Mille Collines-hotel geneem, waar baie mense geskuil het. Uiteindelik, op 11 April, is ons, ná nog baie angstige ure en ’n senutergende militêre operasie waartydens ons met ’n ompad uit die stad na die agterkant van die lughawe vervoer is, na Kenia geneem. Ons het heeltemal gehawend by die ontvangs van die Nairobi-Bethel aangekom. Henk, wat gedurende die ontruiming van ons geskei is, het ’n paar uur later daar aangekom. Die Bethelgesin het ons oorweldig met hulle liefdevolle sorg en ondersteuning.”
GERED DEUR ’N DOGTERTJIE SE GEBED
Op die dag ná die vliegramp waarin die presidente van Rwanda en Burundi gesterf het, het ses regeringsoldate na broer Rwakabubu se huis gegaan. Hulle oë was bloedbelope, hulle asem het na alkohol geruik en hulle gedrag het aangedui dat hulle onder die invloed van dwelms is. Hulle wou wapens hê. Broer Rwakabubu het vir hulle gesê dat hy en sy gesin Jehovah se Getuies is en geen wapens het nie.
Die soldate het geweet dat Jehovah se Getuies weens hulle neutrale standpunt geweier het om die regering te ondersteun en geen bydraes aan die leër gegee het nie. Dit het die soldate briesend gemaak. Gaspard en Melanie Rwakabubu is nie Tutsi’s nie, maar die Interahamwe-burgermag van die Hutu’s het nie net Tutsi’s doodgemaak nie, maar ook gematigde Hutu’s, veral as daar vermoed is dat hulle met die Tutsi’s of die invallende leër simpatiseer.
Die soldate het Gaspard en Melanie met stokke geslaan en hulle, tesame met hulle vyf kinders, na die slaapkamer geneem. Hulle het die lakens van die bed afgehaal en die gesin daarmee begin toegooi. Party het granate in hulle hande gehad; dit was duidelik wat hulle wou doen. Gaspard het gevra: “Mag ons asseblief bid?”
Een soldaat het hulle versoek minagtend geweier. Toe, nadat die soldate onder mekaar daaroor gepraat het, het hulle teësinnig ingestem om hulle te laat bid. “Oukei”, het hulle gesê, “julle kan twee minute lank bid.”
Hulle het ’n stil gebed gedoen, maar Deborah Rwakabubu, wat ses jaar oud was, het hardop gebid: “Jehovah, hulle wil ons doodmaak, maar hoe gaan ons herbesoeke doen by die mense vir wie ek en Pappa gepreek het en by wie ek vyf tydskrifte gelaat het? Hulle wag vir ons om terug te kom, en hulle moet die waarheid leer. Ek belowe dat ek ’n verkondiger sal word, my sal laat doop en ’n pionier sal word as ons gespaar word! Jehovah, red ons!”
Toe die soldate dit hoor, het hulle verbasing uitgespreek. Uiteindelik het een van hulle gesê: “As gevolg van hierdie dogtertjie se gebed sal ons julle nie doodmaak nie. As ander hierheen kom, moet julle vir hulle sê dat ons reeds hier was.”b
DIE SITUASIE VERERGER
Die oorlog het al hoe erger geword namate die invallende leër (die Rwandese Patriotiese Front) nader aan die hoofstad, Kigali, gekom het. Dit het die desperate Interahamwe-burgermaglede beweeg om nog mense dood te maak.
Padblokkades wat deur soldate en gewapende Interahamwe-burgermaglede sowel as plaaslike mense beman is, is oral in die stad en by alle padkruisings opgestel. Alle weerbare mans is gedwing om die padblokkades dag en nag saam met die Interahamwe te beman. Die padblokkades is opgestel met die doel om Tutsi’s te identifiseer en te vermoor.
Terwyl die slagting oral in die land voortgewoed het, het honderdduisende van Rwanda se inwoners hulle huise verlaat. Baie van hulle, insluitende Jehovah se Getuies, het na die nabygeleë Kongo en Tanzanië gevlug.
STANDVASTIG ONDANKS OORLOG EN DIE DOOD
Die volgende is verslae van wat ons broers en susters deurgemaak het terwyl hulle wêreld in duie gestort het. Onthou dat Jehovah se Getuies in Rwanda in die 1980’s vurige beproewinge ondervind het, beproewinge wat hulle moed en geloof versterk en gelouter het. Hulle geloof het hulle in staat gestel om “geen deel van die wêreld” te bly deur nie betrokke te raak by verkiesings, plaaslike verdedigingsgroepe en politieke aangeleenthede nie (Joh. 15:19). Hulle moed het hulle gehelp om die gevolge van hierdie standpunt—bespotting, gevangenskap, vervolging en die dood—die hoof te bied. Daardie beproefde eienskappe, tesame met hulle liefde vir God en hulle naaste, het Jehovah se Getuies nie net in staat gestel om nie aan die volksmoord deel te neem nie, maar ook om hulle lewe op die spel te plaas om mekaar te beskerm.
Daar is baie ondervindinge wat nie by hierdie verslag ingesluit is nie. Die meeste broers sou verkies om die verskriklike besonderhede te vergeet, aangesien hulle hulle nie wreek nie. Ons hoop dat die verhaal van hulle geloof ons almal sal aanvuur om die liefde wat ware dissipels van Jesus Christus identifiseer, in voller mate aan die dag te lê.—Joh. 13:34, 35.
DIE VERHAAL VAN JEAN EN CHANTAL
Jean de Dieu (John) Mugabo, ’n opgeruimde, liefdevolle broer, het in 1982 saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Voor sy doop in 1984 was hy reeds drie keer opgesluit weens die standpunt wat hy as een van Jehovah se Getuies ingeneem het. Sy vrou, Chantal, is ook in 1984 gedoop, en hulle het in 1987 getrou. Toe die volksmoord begin het, het hulle drie kinders gehad, almal meisies. Die twee ouer kinders het by hulle grootouers buite die stad gewoon, en net die baba van ses maande was by John en Chantal.
Op die eerste dag van die volksmoord, 7 April 1994, het soldate en die Interahamwe die huise van alle Tutsi’s begin aanval. John is in hegtenis geneem en is met knuppels geslaan; maar hy het ontsnap en het saam met nog ’n broer na die nabygeleë Koninkryksaal gehardloop. Intussen het Chantal, wat nie geweet het wat van haar man geword het nie, desperaat probeer om met die baba uit die stad te kom en by hulle ander twee kinders aan te sluit.
John vertel wat met hom gebeur het: “Die Koninkryksaal was voorheen ’n bakkery en het nog steeds ’n groot skoorsteen gehad. Ek en die broer het ’n week lank in die Koninkryksaal self weggekruip, en ’n Hutu-suster het vir ons kos gebring wanneer dit veilig was. Later moes ons in die dak wegkruip, tussen die daksinkplate en die plafon, waar dit gedurende die dag bloedig warm was. Desperaat om ’n beter wegkruipplek te vind, het ons bakstene van die skoorsteen verwyder en daarin geklim, waar ons meer as ’n maand lank in ’n gehurkte posisie weggekruip het.
“Daar was ’n padblokkade daar naby, en die Interahamwe-burgermaglede het dikwels in die Koninkryksaal ingekom om te gesels of skuiling teen die reën te soek. Ons kon hulle onder ons hoor gesels. Die suster het aangehou om vir ons kos te bring wanneer dit ook al moontlik was. Soms het ek gedink dat ek dit nie langer kan verduur nie, maar ons het vir volharding bly bid. Uiteindelik, op 16 Mei, het die suster gekom om vir ons te sê dat die Rwandese Patriotiese Front beheer oor ons deel van die stad oorgeneem het en dat ons uit ons skuilplek kan kom.”
Wat het intussen met John se vrou, Chantal, gebeur? Sy vertel: “Op 8 April het ek dit reggekry om met ons baba uit die huis te vlug. Ek het twee susters gevind, Immaculée, wie se identiteitskaart aangedui het dat sy ’n Hutu is, en Suzanne, ’n Tutsi. Ons wou na Bugesera gaan, ’n dorp ongeveer 50 kilometer daarvandaan, waar my ander twee kinders saam met my ouers gebly het. Maar ons het gehoor dat daar padblokkades op alle paaie uit die stad is, en daarom het ons besluit om na ’n nabygeleë dorp aan die buitewyke van Kigali te gaan, waar Immaculée ’n familielid met die naam Gahizi gehad het, wat ook een van Jehovah se Getuies was. Gahizi, ’n Hutu, het ons verwelkom, en ondanks dreigemente van die bure het hy alles in sy vermoë gedoen om ons te help. Toe die regeringsoldate en die Interahamwe uitvind dat Gahizi Tutsi’s beskerm het, het hulle hom geskiet.
“Nadat die soldate Gahizi vermoor het, het hulle ons na die rivier geneem om ons dood te maak. Ons het vreesbevange gewag om vermoor te word. Skielik het ’n hewige woordewisseling onder die soldate losgebars, en een van hulle het gesê: ‘Moenie die vroue doodmaak nie. Dit gaan vir ons onheil bring. Dit is die tyd om net mans dood te maak.’ Toe het een van die broers wat ons gevolg het, André Twahirwa, wat net die vorige week gedoop is, dit reggekry om ons na sy huis te neem ondanks besware van sy bure. Die volgende dag het hy saam met ons na Kigali teruggegaan, waar hy gehoop het om ’n veilige plek vir ons te vind. Hy het ons gehelp om verby ’n hele paar uiters gevaarlike padblokkades te kom. Immaculée het my baba gedra sodat die baba dalk gespaar word as ons voorgekeer word. Ek en Suzanne het ons identiteitskaarte opgeskeur in ’n poging om ons identiteit te verberg.
“By een van die padblokkades het die Interahamwe Immaculée geslaan en gesê: ‘Waarom reis jy saam met hierdie Tutsi’s?’ Hulle het my en Suzanne nie laat deurgaan nie. Immaculée en André het dus verder gegaan na broer Rwakabubu se huis. Ondanks groot gevaar het André en twee ander broers, Simon en Mathias, ons gehelp om verby die laaste padblokkade te kom en my na broer Rwakabubu se huis geneem, terwyl Suzanne na die huis van een van haar familielede gegaan het.
“Maar omdat dit nou te gevaarlik vir my was om by broer Rwakabubu se huis te bly, het die broers my met groot moeite na die Koninkryksaal geneem, waar ander Getuies weggesteek is. Teen daardie tyd was tien Tutsi-broers en -susters en ander wat gevlug het, reeds daar. Immaculée was so getrou dat sy geweier het om my te verlaat. Sy het gesê: ‘As hulle jou doodmaak en my laat lewe, sal ek jou baba red.’”c
Intussen het ’n broer, Védaste Bimenyimana, wat daar naby gewoon het en wie se vrou ’n Tutsi is, dit kort tevore reggekry om sy gesin na ’n veilige plek te neem. Daarna het hy teruggekom om diegene wat nog in die Koninkryksaal was, te help om ’n veilige plek te vind. Gelukkig het nie een van hulle omgekom nie.
Ná die volksmoord het John en Chantal uiteindelik uitgevind dat hulle ouers en hulle twee- en vyfjarige dogters, wat by hulle grootouers gewoon het, vermoor is, asook nog ongeveer 100 van hulle familielede. Hoe het hulle oor hierdie verpletterende verlies gevoel? “Aan die begin was dit ondraaglik”, erken Chantal. “Ons het ’n soort emosionele gevoelloosheid ervaar. Die lewensverlies was baie groter as wat enigiemand hom ooit voorgestel het. Ons kon dinge slegs in Jehovah se hande laat, in die hoop dat ons ons kinders weer in die opstanding sal sien.”
HULLE IS 75 DAE LANK WEGGESTEEK!
Tharcisse Seminega is in 1983 in Kongo gedoop. Tydens die volksmoord het hy in Butare, Rwanda, ongeveer 120 kilometer van Kigali, gewoon. “Nadat die presidensiële vliegtuig in Kigali neergestort het, het ons gehoor dat ’n bevel gegee is om al die Tutsi’s dood te maak”, het hy gesê. “Twee broers het ons probeer help om deur Burundi te ontsnap, maar al die paaie en voetpaadjies is deur Interahamwe-burgermaglede bewaak.
“Ons was gevangenes in ons eie huis en het nie geweet waarheen om te gaan nie. Vier soldate het ons huis dopgehou, en een van hulle het ’n masjiengeweer ongeveer 180 meter daarvandaan opgestel. In ’n vurige gebed tot Jehovah het ek uitgeroep: ‘Jehovah, ons kan niks doen om ons lewe te red nie. Net u kan ons red!’ Teen die aand het ’n broer na ons huis gehardloop omdat hy gevrees het dat ons reeds dood is. Die soldate het hom toegelaat om vir ’n paar minute in die huis in te gaan. Hy was verlig toe hy sien dat ons nog lewe, en hy het dit op die een of ander manier reggekry om twee van ons kinders na sy huis te neem. Toe het hy twee ander broers, Justin Rwagatore en Joseph Nduwayezu, ingelig dat my gesin wegkruip en dat ons hulle hulp nodig het. Toe dit aand word, het hulle onmiddellik gekom en ons na Justin se huis gelei, al was dit moeilik en gevaarlik.
“Ons het nie lank by Justin se huis gebly nie, want teen die volgende dag het mense geweet dat ons daar wegkruip. Dieselfde dag het ’n man met die naam Vincent ons kom waarsku dat die Interahamwe hulle gereedmaak om ons aan te val en dood te maak. Hierdie man was een van Justin se voormalige Bybelstudente wat nie ’n standpunt vir die waarheid ingeneem het nie. Vincent het voorgestel dat ons eers in die onderbos naby Justin se huis wegkruip. Later, ná sononder, het hy ons na sy huis geneem. Hy het ons in ’n ronde hut weggesteek waar bokke gehou is. Dit het kleimure, ’n kleivloer en ’n strooidak gehad, maar daar was geen vensters nie.
“Ons het lang dae en nagte in daardie hut deurgebring, naby ’n kruising slegs ’n paar meter van die besigste mark in die omgewing. Ons kon verbygangers hoor gesels oor wat hulle gedurende daardie dag gedoen het, wat afgryslike verhale van hoe hulle mense doodgemaak het en beskrywings van hulle toekomsplanne ingesluit het. Hierdie atmosfeer het ons vrees laat toeneem, en ons het aanhou bid dat ons mag bly lewe.
“Vincent het alles in sy vermoë gedoen om in ons behoeftes te voorsien. Ons het ’n maand lank daar gebly, maar teen die einde van Mei het die plek te gevaarlik geword omdat Interahamwe-burgermaglede wat uit Kigali gevlug het, daar opgedaag het. Die broers het besluit om ons na die huis van ’n broer te neem wat ’n soort kelder onder sy huis gehad het. Hy het reeds drie broers in die kelder weggesteek. Om die huis te bereik, het ons ’n gevaarlike reis van vier en ’n half uur in die nag te voet afgelê. Dit het daardie nag swaar gereën, wat ’n seën was, aangesien dit ons van die moordenaars verberg het.
“Hierdie nuwe wegkruipplek was ’n gat ongeveer een en ’n half meter diep, met ’n plank wat as ’n deur gedien het. Om by die gat uit te kom, moes ons met ’n leer afklim en dan deur ’n tonnel kruip totdat ons ’n vertrek van ongeveer twee vierkante meter bereik het. Dit het muf geruik, en slegs ’n piepklein ligstraaltjie het deur ’n kraak in die muur geskyn. Ek en my vrou, Chantal, en ons vyf kinders het hierdie vertrek met drie ander gedeel. Al tien van ons het ses weke lank in hierdie beknopte gat gebly. Ons kon dit nie waag om ’n kers aan te steek nie, aangesien dit dalk ons teenwoordigheid sou verraai. Maar gedurende al daardie beproewinge en lyding het Jehovah ons ondersteun. Broers het hulle lewe gewaag om vir ons kos en medisyne te bring en ons te kom aanmoedig. Soms kon ons gedurende die dag een kers aansteek sodat ons die Bybel, Die Wagtoring of die dagteks kon lees.
“Elke verhaal kom tot ’n einde”, sê Tharcisse verder. “Hierdie verhaal het op 5 Julie 1994 geëindig. Vincent het vir ons vertel dat Butare deur die invallende leër ingeneem is. Toe ons uit ons kelder kom, het party mense nie besef dat ons Rwandees is nie, want ons vel het bleek geword as gevolg van ’n gebrek aan sonlig. Daarbenewens kon ons ’n tyd lank nie hardop praat nie; ons kon slegs fluister. Dit het ons weke geneem om te herstel.
“Al hierdie gebeurtenisse het my vrou diep geraak. Sy het die voorafgaande tien jaar geweier om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Maar nou het sy die Bybel begin studeer. Toe mense haar vra waarom, het sy geantwoord: ‘Ek is geraak deur die liefde wat die broers aan ons betoon het en die opofferings wat hulle gemaak het om ons te red. Ek het ook die magtige hand van Jehovah gesien, wat ons teen die kapmesse van die moordenaars beskerm het.’ Sy het haar lewe aan Jehovah toegewy en is by die eerste byeenkoms ná die oorlog gedoop.
“Ons is soveel verskuldig aan al die broers en susters wat deur middel van hulle dade en hartgrondige gebede gehelp het om ons lewe te red. Ons het hulle innige en opregte liefde ervaar, wat etniese grense oorbrug het.”
HULP AAN EEN WAT ANDER GEHELP HET
Justin Rwagatore, een van die broers wat gehelp het om broer Seminega se gesin te red, het self later hulp nodig gehad. In 1986 is hy opgesluit omdat hy geweier het om by die politieke aangeleenthede van die destydse regering betrokke te raak. ’n Paar jaar nadat Justin broer Seminega se gesin beskerm het, is hy en ’n paar ander broers weer in hegtenis geneem weens hulle neutrale standpunt. Broer Seminega was deel van ’n afvaardiging wat na die plaaslike owerheid gegaan het om die standpunt van Jehovah se Getuies in verband met betrokkenheid by die politiek op te klaar. Hy het aan die owerheid verduidelik dat Justin ’n sleutelrol daarin gespeel het om sy gesin te red. Gevolglik is al die broers uit die gevangenis vrygelaat.
Die voorbeeld van ons broers gedurende die volksmoord het ander beweeg om die waarheid aan te neem. Suzanne Lizinde, ’n Katoliek in haar middelsestigerjare, het gesien hoe haar kerk die volksmoord ondersteun. Die gedrag van Jehovah se Getuies in haar omgewing tydens die volksmoord en die liefde wat onder hulle bestaan, het haar beweeg om vinnig vordering te maak. Suzanne is in Januarie 1998 gedoop, en sy het nooit ’n gemeentelike vergadering misgeloop nie, al moes sy vyf kilometer ver oor heuwels stap om dit by te woon. Sy het ook haar familie gehelp om die waarheid te leer. Vandag is een van haar seuns ’n ouer man, en een van haar kleinkinders is ’n bedieningskneg.
HONDERDDUISENDE VLUG
Nadat Henk van Bussel, ’n sendeling wat in 1992 na Rwanda gestuur is, in April 1994 van Rwanda na Kenia geneem is, het hy reise na Goma, in Oos-Kongo, onderneem om met die noodlenigingsprogram vir Rwandese vlugtelinge te help. Die broers het die grensposte aan die Kongolese kant gepatrolleer en Bybellektuur omhoog gehou of Koninkryksliedere gefluit sodat Getuies wat van Rwanda af oor die grens kom, hulle broers sou herken.
Baie mense was paniekbevange. Terwyl oorlog tussen die regeringsmagte en die Rwandese Patriotiese Front gewoed het, het honderdduisende mense na Kongo en Tanzanië gevlug. Die broers wat na Goma gevlug het, het by die Koninkryksaal bymekaargekom. Later is ’n vlugtelingkamp net buite die stad opgerig, wat skuiling gebied het vir meer as 2 000 mense—uitsluitlik Jehovah se Getuies, hulle kinders en belangstellendes. Die broers het soortgelyke kampe in ander dele van Oos-Kongo opgerig.
Terwyl die vlugtendes hoofsaaklik Hutu’s was wat weerwraak gevrees het, was die broers wat saam gevlug het, Hutu’s en Tutsi’s. Dit was baie gevaarlik om Tutsi’s oor die grens en in Goma in te neem, aangesien die moord op Tutsi’s voortgeduur het. Op een stadium het dit $100 (VSA) per persoon gekos om Tutsi-broers uit die land te smokkel.
Wanneer die broers eers in Kongo aangekom het, wou hulle bymekaarbly. Hulle wou niks te doen hê met die Interahamwe nie, wat bedrywig was in die kampe wat deur die Verenigde Nasies opgerig is. Daarbenewens het die meeste vlugtelinge wat nie Getuies was nie, met die verbrokkelende regering gesimpatiseer. Hulle, en veral die Interahamwe, het nie van Jehovah se Getuies gehou nie omdat hulle nie by hulle aangesluit het nie. Die broers wou ook afgeskeie bly sodat hulle hulle Tutsi-broers kon beskerm.
Aangesien diegene wat uit Rwanda gevlug het, hulle besittings agtergelaat het, het hulle hulp nodig gehad. Daardie hulp het van Jehovah se Getuies in België, Frankryk, Kenia, Kongo en Switserland gekom in die vorm van geld, medisyne, kos en klere sowel as dokters en verpleegsters. Op een van die eerste noodlenigingsvlugte was daar talle klein tente wat deur die Franse takkantoor gestuur is. Later het die Belgiese takkantoor groot tente gestuur, waarin hele gesinne kon woon. Veldbeddens en opblaasmatrasse is ook gestuur. Die Kenia-takkantoor het meer as twee ton klere en meer as 2 000 komberse gestuur.
CHOLERA BREEK UIT
Nadat hulle uit Rwanda gevlug het, het meer as 1 000 Getuies en belangstellendes by die Koninkryksaal in Goma en op die aangrensende stuk grond gebly. As gevolg van die groot aantal vlugtelinge in Goma het cholera ongelukkig uitgebreek. Die takkantoor in Kongo (Kinshasa) het onmiddellik medisyne gestuur om die epidemie te bestry, en broer Van Bussel het met 60 bokse medisyne van Nairobi na Goma gevlieg. Die Koninkryksaal is tydelik as ’n hospitaal gebruik, en pogings is aangewend om die siekes af te sonder. Loic Domalain en nog ’n broer, albei dokters, tesame met Aimable Habimana, ’n mediese assistent van Rwanda, het onvermoeid van hulleself gegee. Broer Hamel van Frankryk het ook waardevolle hulp met al daardie probleme verleen, sowel as die talle ander broers en susters met mediese ondervinding wat as vrywilligers gekom het om vir die siekes te sorg.
Ondanks al die voorsorgmaatreëls wat getref is, is meer as 150 broers en belangstellendes besmet, en sowat 40 het gesterf voordat die verspreiding van hierdie dodelike siekte onder beheer gebring kon word. Later is ’n groot stuk grond gehuur, wat as ’n vlugtelingkamp vir Jehovah se Getuies gebruik sou word. Honderde klein tente is opgeslaan, en ’n groot tent wat van Kenia gestuur is, het as ’n hospitaal gedien. Amerikaanse gesondheidswerkers wat die kamp besoek het, was beïndruk met hoe skoon en georganiseerd dit was.
Teen vroeg in Augustus 1994 het die noodlenigingskomitee in Goma vir 2 274 vlugtelinge gesorg—Getuies, kinders en belangstellendes. Terselfdertyd was daar baie ander broers wat vlugtelinge was in Bukavu en Uvira, Oos-Kongo, sowel as in Burundi. Nog 230 was in ’n vlugtelingkamp in Tanzanië.
Toe die broers van die vertaalkantoor in Kigali gedwing is om na Goma te vlug, het hulle ’n huis gehuur sodat hulle met die vertaalwerk kon voortgaan. Die broers kon hierdie werk doen omdat hulle dit reggekry het om ten spyte van die oorlog ’n rekenaar en ’n kragopwekker van Kigali na Goma saam te bring.
In Goma was daar feitlik geen telefoon- en posdiens nie. Maar met behulp van Getuies wat by die lughawe gewerk het, het die broers vertaalde materiaal en ander pos gestuur op ’n weeklikse vlug van Goma na Nairobi. Broers by die Kenia-takkantoor het pos op dieselfde manier na Goma gestuur.
Emmanuel Ngirente en twee ander vertalers het na die beste van hulle vermoë met die vertaalwerk voortgegaan, hoewel hulle dit onder moeilike omstandighede moes doen. Hulle moes weens die oorlog artikels in Die Wagtoring uitlaat, maar hierdie artikels is later vertaal en in spesiale brosjures gedruk wat die broers tydens hulle Gemeentelike Boekstudie gestudeer het.
DIE LEWE IN DIE VLUGTELINGKAMPE
Terwyl die bevolking nog uit Kigali gevlug het, is Francine, wat ná die moord op haar man, Ananie, na Goma gevlug het, na een van die kampe oorgeplaas wat deur die Getuies opgerig is. Sy beskryf die lewe in die kamp: “Elke dag is broers en susters toegewys om kos voor te berei. Ons het ’n eenvoudige ontbyt van gierspap of mieliepap voorberei. Ons het ook middagete voorberei. Nadat ons ons pligte uitgevoer het, kon ons aan die velddiens deelneem. Ons het hoofsaaklik vir nie-Getuiefamilielede binne die kamp sowel as vir ander buite die kamp getuig. Maar ná ’n ruk het die Interahamwe-burgermaglede, wat in ander kampe gebly het, kwaad geword toe hulle sien dat die Getuies in afsonderlike kampe is, en die situasie het gevaarlik geword.”
Teen November 1994 het dit duidelik geword dat dit vir die broers veilig is om na Rwanda terug te keer. Trouens, dit was raadsaam om dit te doen weens die onveilige toestande in die nie-Getuiekampe in Kongo. Maar dit sou moeilik wees om terug te keer. Die Interahamwe het gehoop om te hergroepeer en Rwanda aan te val, en hulle het enigiemand wat Kongo verlaat om na Rwanda terug te keer, as ’n oorloper beskou.
Die broers het die Rwandese regering in kennis gestel dat Jehovah se Getuies, wat tydens die oorlog neutraal gebly het en nie aan die volksmoord op die Tutsi’s deelgeneem het nie, na hulle land wou terugkom. Die regering het aanbeveel dat die broers met die Verenigde Nasies se Hoë Kommissie vir Vlugtelinge (UNHCR) onderhandel, wat voertuie gehad het wat gebruik kon word om die broers na Rwanda terug te neem. Maar omdat die burgermaglede hulle sou verhinder om na Rwanda terug te keer, moes die broers strategies te werke gaan.
Die broers het aangekondig dat daar ’n spesiale byeenkomsdag in Goma sou wees, en byeenkomsbaniere is gemaak. Hulle het die broers toe in die geheim in kennis gestel dat hulle na Rwanda teruggeneem sou word. Om nie agterdog te wek nie, is die broers aangesê om al hulle besittings in die kampe agter te laat en slegs hulle Bybels en liedereboeke saam te neem asof hulle na ’n byeenkoms gaan.
Francine onthou dat hulle ná ’n paar uur se stap uiteindelik by vragmotors gekom het wat gewag het om hulle na die grens te neem. Aan die Rwandese kant van die grens het die UNHCR gereël om hulle na Kigali en dan verder na hulle tuisgebiede te neem. Die meeste van die broers en hulle gesinne tesame met belangstellendes is dus in Desember 1994 na Rwanda teruggeneem. Die Belgiese koerant Le Soir van 3 Desember 1994 het berig: “1 500 Rwandese vlugtelinge het besluit om Zaïre [Kongo] te verlaat omdat hulle gevoel het dat daar nie voldoende waarborge vir hulle veiligheid is nie. Hulle is Jehovah se Getuies wat hulle eie kamp bo die Katale-kamp opgerig het. Jehovah se Getuies is kwaai vervolg deur die vorige regering omdat hulle geweier het om wapens op te neem en aan enige politieke saamtrek deel te neem.”
Nadat Francine na Rwanda teruggekeer het, het sy ’n streekbyeenkoms in Nairobi bygewoon. Francine is vertroos ná die dood van haar man en opgebou deur assosiasie met die broers en susters en het na die vertaalkantoor teruggekeer, wat weer in Kigali gevestig is. Later het sy met Emmanuel Ngirente getrou, en hulle werk nou nog by die takkantoor.
Wat het dit vir Francine moontlik gemaak om haar gevoelens gedurende die oorlog te verwerk? Sy het gesê: “Ons het destyds op net een ding gefokus—om tot die einde toe te volhard. Ons het besluit om nie gedurigdeur te dink aan die verskriklike dinge wat gebeur nie. Ek het vertroosting geput uit Habakuk 3:17-19, wat praat van hoe ’n mens in moeilike situasies vreugde kan vind. Die broers en susters het my baie aangemoedig. Party het vir my briewe geskryf. Dit het my gehelp om ’n positiewe, geestelike gesindheid te behou. Ek het in gedagte gehou dat Satan baie sette het. As ons oor een stel probleme tob, word ons dalk slagoffers van ’n ander stel probleme. As ons nie waaksaam is nie, sal ons moontlik op die een of ander manier verswak.”
TERUG IN RWANDA
Broer Van Bussel het die broers wat teruggekeer het, baie gehelp. Hy verduidelik: “’n ‘Hervestigingsprogram’ is ingestel om die broers te help om ná die oorlog weer op die been te kom, en dit het ook diegene gehelp wat in Rwanda gebly en amper alles verloor het. Aangestelde broers het elke gemeente besoek om vas te stel wat die behoeftes is. Gesinne en individue is ooreenkomstig hulle omstandighede ’n voorraadpakkie gegee. Die broers het verstaan dat hulle ná drie maande vir hulleself sou moes sorg.”
Daar is natuurlik aandag gegee aan die broers se geestelike behoeftes. Die vertaalspan het teruggekeer na die huis in Kigali waar hulle voorheen gewerk het. Broer Van Bussel vertel dat daar oral koeëlgate in die huis was wat as ons kantoor gedien het, maar die meeste van die boeke in die depot was nog daar. Hulle het maande daarna nog koeëls in bokse lektuur gevind. Een van die vertalers het selfs ’n handgranaat in die tuin gevind! Die volgende jaar, omstreeks Oktober 1995, het die vertaalspan in ’n heelwat groter en geskikter gebou aan die ander kant van die stad ingetrek. Hierdie gehuurde gebou is as die kantoor- en woongebou gebruik totdat ’n nuwe takkantoor in 2006 gebou is.
“DIT WAS SOOS DIE OPSTANDING!”
Teen Desember 1994 het die meeste van die broers van Kongo teruggekeer, net betyds vir die streekbyeenkoms, wat die gepaste tema “Godvrugtige Vrees” gehad het. Daar is gereël dat dit op die erf van een van die Koninkryksale in Kigali gehou word. Broers van Frankryk, Kenia en Uganda het gekom om dit by te woon. Vrydagoggend was die erf om die saal vol broers. Een suster vertel: “Dit was hartroerend om te sien hoe broers en susters mekaar met trane in hulle oë omhels. Dit was die eerste keer sedert die begin van die oorlog dat hulle mekaar gesien het. Hulle het vriende gesien wat hulle gedink het dood is!” Nog een het gesê: “Dit was soos die opstanding!”
Günter Reschke was een van die broers wat van Kenia af gekom het. Hy het gesê: “Wat ’n vreugde was dit tog om ná al die moeilikhede weer bymekaar te wees en dié te sien wat oorleef het! Daar was egter ’n probleem. Die owerheid het nie daarvan gehou dat so ’n groot skare mense bymekaarkom nie. Vroeg daardie middag het gewapende soldate opgedaag en gesê dat die byeenkoms om sekuriteitsredes gekanselleer is. Ons moes die perseel onmiddellik verlaat. Ons het ’n bietjie tyd met die broers deurgebring en hulle aangemoedig, maar uiteindelik moes ons na Nairobi terugkeer, teleurgesteld dat die broers nie die byeenkomsprogram kon geniet nie. Hoewel dit ontmoedigend was, het ons gevoel dat ons alles in ons vermoë gedoen het om ons broers individueel aan te spoor om in die geloof te volhard, en toe ons vertrek, was ons seker dat hulle vasbeslote was om juis dit te doen.”
Noudat daar weer ’n mate van vrede in die land geheers het, het baie mense van Rwandese afkoms wat buite die land gewoon het, besluit om terug te keer. Party wat buite Rwanda gebore is nadat hulle ouers gedurende die etniese en politieke beroeringe van die laat-1950’s en 1960’s uit die land gevlug het, het ook gekom. Onder dié wat in die land ingestroom het, was mense wat die waarheid in ander lande geleer het. Byvoorbeeld, James Munyaburanga en sy gesin het rein aanbidding in die Sentraal-Afrikaanse Republiek aangeneem. Omdat die nuwe regering in Rwanda gretig was om regeringsposte aan terugkerende uitgewekenes te gee, is broer Munyaburanga werk aangebied. Maar nadat hy na Rwanda teruggekeer het, het sy familielede en werksmaats hom teëgestaan en bespot omdat hy volgens Christelike beginsels gelewe het. Uiteindelik het hy om vroeë aftrede aansoek gedoen en ’n gewone pionier geword. Hy is nou ’n regsverteenwoordiger van die plaaslike organisasie.
Ngirabakunzi Mashariki het die waarheid in Oos-Kongo geleer. Hy het gesê: “Omdat ek ’n Tutsi is, het ek baie jare lank diskriminasie verduur. Toe ek met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het, was dit asof ek op ’n nuwe planeet was! Dit was soos ’n wonderwerk om met opregte mense te assosieer wat in ooreenstemming lewe met wat hulle leer. Hierdie liefde het selfs sterker na vore gekom gedurende die volksmoord op die Tutsi’s in 1994. Broers het my gesin weggesteek en ons beskerm. Ek is in 1998 na Bethel genooi, waar ek en my vrou, Emerance, nou dien. Ek sien gretig uit na die nuwe wêreld, waar alle vooroordeel en diskriminasie iets van die verlede sal wees en die aarde vol mense sal wees wat Jehovah se naam aanroep en in eenheid saamwoon.”
DIE WERK KOM WEER OP DREEF
In Maart 1994, net voor die oorlog, was daar 2 500 verkondigers in Rwanda. Teen Mei 1995 is ’n nuwe verkondigerhoogtepunt van 2 807 bereik, ondanks die feit dat soveel gedurende die volksmoord doodgemaak is. Opregtes het na Jehovah se organisasie gestroom. Een suster wat ’n spesiale pionier is, het byvoorbeeld meer as 22 Bybelstudies gehou, en daar was nog ander op haar waglys! ’n Kringopsiener het gesê: “Die oorlog het mense help besef dat dit tevergeefs is om materiële dinge na te jaag.”
In Januarie 1996 het die broers die “Vreugdevolle Lowers”-streekbyeenkoms gehou. Wat ’n vreugdevolle streekbyeenkoms was dit tog! Aangesien die vorige jaar s’n gekanselleer is, was dit die eerste streekbyeenkoms ná die oorlog. Een waarnemer het gesê: “Die broers het mekaar met trane in hulle oë omhels, en dit was iets besonders om te sien hoe Hutu- en Tutsi-broers en -susters mekaar omhels.” Die bywoningshoogtepunt was 4 424, en 285 is gedoop. Broer Reschke vertel: “Dit was hartroerend om te hoor hoe die doopkandidate hardop ‘Yego!’ (ja) antwoord op die twee doopvrae. Hulle het op die speelveld tougestaan om gedoop te word, en ’n swaar donderstorm het hulle sopnat gereën. Dit het hulle nie gepla nie. Hulle het gereken: ‘Ons gaan in elk geval nat word!’”
Henk van Bussel het na Rwanda teruggekeer; en Günter Reschke, wat gekom het om die werk weer aan die gang te kry, is gevra om permanent daar te dien. Kort daarna het Godfrey en Jennie Bint ook na Rwanda teruggekeer.
HULLE SEUN WAS VERMIS EN IS WEER GEVIND!
In die jare ná die oorlog is gesinne wat geskei is, herenig. Byvoorbeeld, in 1994, toe die gevegte tussen die twee leërs in Kigali vererger het, het die hele bevolking gevlug, en in die paniek wat daarop gevolg het, is Oreste Murinda van sy vrou geskei en het hy met sy twee en ’n half jaar oue seun na Gitarama gevlug. Toe Oreste uitgegaan het om kos te vind, het gevegte weer uitgebreek, en in die chaos is hy van sy seun geskei.
Ná die oorlog is Oreste en sy vrou herenig, maar hulle seun was nog steeds vermis. Hulle het gedink dat hy doodgemaak is. Maar meer as twee jaar later het ’n man van die platteland, wat nie ’n Getuie is nie, na Kigali gekom om te werk. Hy het ’n paar broers ontmoet en terloops vir hulle gesê dat sy bure in Gisenyi hulle kinders in die oorlog verloor het, maar dat hulle vir ’n weeskind sorg. Hierdie kind het sy vader se naam onthou en gesê dat sy ouers Jehovah se Getuies is. Die broers het die naam herken en met die ouers in aanraking gekom, wat toe vir die man foto’s van hulle seun gewys het. Ja, dit was hulle seun! Oreste het hom onmiddellik gaan haal, en die ouers en hulle seun was ná twee en ’n half jaar weer bymekaar! Die seun is nou ’n gedoopte verkondiger.
Dit is noemenswaardig dat die broers vir al die kinders wie se Getuie-ouers oorlede is, gesorg het. Nie een van hulle is in ’n weeshuis geplaas nie. Soms het die broers ook vir die kinders van oorlede bure of familielede gesorg. Een egpaar, wat self tien kinders het, het tien weeskinders ingeneem.
DIE NOORDE WORD WEER ONVEILIG
Teen die einde van 1996 het burgeroorlog in Kongo dit al hoe moeiliker gemaak om veiligheid in die vlugtelingkampe te verseker, waar daar nog meer as ’n miljoen Rwandese vlugtelinge was. In November is die vlugtelinge gedwing om na Rwanda terug te keer of dieper in die Kongolese reënwoud in te vlug. Die meeste het teruggekeer, insluitende die oorblywende broers wat dit nie in Desember 1994 gedoen het nie. Dit was ’n onvergeetlike toneel toe tallose mense, oud en jonk, deur die strate van Kigali gestroom het in klere vaal van die Afrikastof en met bondels op hulle kop. Al daardie vlugtelinge moes teruggaan na die gemeenskap waar hulle vandaan gekom het om geregistreer te word. ’n Ruk lank is streng veiligheidsmaatreëls toegepas.
Ongelukkig het talle ongewenste elemente saam met die vlugtelinge teruggekeer, insluitende Interahamwe-burgermaglede, wat probeer het om hulle bedrywighede in die noordweste van die land voort te sit. In reaksie hierop is die leër soontoe gestuur om die gebied weer veilig te maak. Baie van ons broers het in die gebied gewoon, en dit was baie moeilik vir hulle om neutraal te bly. Meer as 100 verkondigers het gedurende 1997 en 1998 hulle lewe verloor, in die meeste gevalle omdat hulle hulle Christelike neutraliteit lojaal gehandhaaf het. Soms was die gebied so gevaarlik dat die kringopsieners die broers nie gereeld kon besoek nie.
’N MOEDIGE EGPAAR
Théobald Munyampundu was een van die min kringopsieners wat, saam met sy vrou, Berancille, die gemeentes in hierdie onveilige gebied kon besoek. Hulle was gewoond aan gevaar. Théobald is in 1984 gedoop, en twee jaar later was hy een van die talle broers en susters wat in die gevangenis gesit is, waar hy erg geslaan is. Hy en sy vrou het ook hulle lewe gewaag deur ander gedurende die Tutsi-volksmoord weg te steek. Nadat hulle die lewe gered het van ’n tienerseun wie se moeder in die volksmoord doodgemaak is, het hulle na Tanzanië gegaan. Daar het Théobald die twee vlugtelingkampe in Benaco en Karagwe besoek om die broers aan te moedig, hoewel struikrowers dit baie gevaarlik gemaak het om tussen die kampe te reis.
Toe Théobald en sy vrou terug in Rwanda was, het hulle weer hulle lewe gewaag om Getuies in die konflikgeteisterde noordwestelike gebied van die land te besoek. “Soms het ons verafgeleë gemeentes besoek”, het Théobald gesê. “Omdat dit onveilig was, kon ons nie by die broers oornag nie. Ek onthou dat ons gedurende een besoek elke dag vier uur lank in elke rigting in die stortbuie tydens die reënseisoen moes stap om die broers te besoek, en dan moes ons in die aand na ons blyplek terugkeer.”
Théobald het ’n broer beskryf wat hy tydens ’n besoek aan ’n afgesonderde groep in die gebied ontmoet het: “Jean-Pierre is blind, maar ek was verbaas toe ek sien dat hy opstaan om die Bybellees op die Teokratiese Bedieningskool te doen en die toegewese leesgedeelte foutloos, en selfs met die regte punktuasie, uit die hoof opsê! Hy het ’n broer wat ’n goeie leser is, gevra om die leesgedeelte vooraf vir hom te lees sodat hy die materiaal kon memoriseer. Sy vasbeslotenheid het my werklik aangemoedig.”
Théobald sê in verband met sy vol en soms gevaarlike lewe: “Gedurende al daardie moeilike tye het ons op Jehovah vertrou en dikwels aan die woorde in Hebreërs 13:6 gedink: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?’” Hy en sy vrou het getrou in die kring- en streekwerk gedien, en dien nou as spesiale pioniers ten spyte van gesondheidsprobleme.
BYEENKOMSSAALPROJEK
Namate die aantal Getuies toegeneem het, het dit al hoe moeiliker geword om gepaste byeenkomsfasiliteite in Kigali te vind. Byvoorbeeld, ’n rioolpyp waaruit riool van ’n nabygeleë gevangenis gevloei het, het die “Boodskappers van Goddelike vrede”-streekbyeenkoms bederf wat in Desember 1996 in ’n stadion gehou is. Broers het oor die reuk gekla, en ouers was bang dat hulle kinders siek sou word. As gevolg van die slegte toestande het die Landskomitee eenstemmig besluit dat dit die laaste streekbyeenkoms sou wees wat hulle in daardie stadion sou hou. Maar waar anders kon byeenkomste gehou word?
Die Departement van Grondsake het grond aan een van die Kigali-gemeentes toegeken vir die bou van ’n Koninkryksaal. Die stuk grond was baie groter as wat vir ’n saal nodig sou wees, en as die broers slegs planne vir ’n Koninkryksaal ingedien het, sou die departement waarskynlik ’n deel van die erf aan iemand anders toeken. Vol vertroue in Jehovah het hulle dus planne vir ’n Koninkryksaal en ’n eenvoudige Byeenkomssaal ingedien, met die opsie om later ’n tweede Koninkryksaal te bou. Die plaaslike owerheid het die planne goedgekeur.
Die broers het die grond gelykgemaak en dit omhein. Honderde vrywilligers het die onderbos verwyder en diep gate vir puttoilette gegrawe. Hulle het nou ’n pragtige stuk grond met ’n sagte helling gehad, ’n ideale plek vir ’n Byeenkomssaal.
Gedurende die volgende maande het die broers twee byeenkomste en ’n spesiale vergadering op die perseel gehou, maar sterk winde en reën het die broers gedwing om onder seildoeke en sambrele te skuil. Gevolglik is ’n aanbeveling aan die Bestuursliggaam gemaak dat ’n eenvoudige Byeenkomssaal met oop kante gebou word.
In Maart 1998 het die Bestuursliggaam toestemming gegee om die Byeenkomssaal te bou. Die voorbereidingswerk het gou begin. Gedurende die konstruksieperiode het hele gesinne saam gewerk en die gate vir die fondasies van die staalstutte gegrawe. Almal het skouer aan skouer in eenheid saam gewerk. Op 6 Maart 1999 het Jean-Jules Guilloud van die takkantoor in Switserland die toewydingstoespraak vir hierdie pragtige nuwe fasiliteit gehou.
Teen 1999 was die hele land weer veilig. In Februarie daardie jaar is ’n nuwe sendelingegpaar, Ralph en Jennifer Jones, toegewys om by die Rwandese landskantoor te werk, en die Bethelgesin het tot 21 gegroei.
Twee Rwandese broers het aan die Bedieningsopleidingskool (wat nou die Bybelskool vir Ongetroude Broers genoem word) in Kinshasa, Kongo, omtrent 1 600 kilometer daarvandaan, gegradueer. Maar noudat daar ’n oorlog in Kongo was, het dit al hoe moeiliker vir Rwandese geword om na Kinshasa te reis. Daarom het die Bestuursliggaam goedkeuring gegee om die Bedieningsopleidingskool in Kigali te hou. Die eerste klas van 28 studente van Burundi, Kongo en Rwanda het in Desember 2000 gegradueer.
In Mei 2000 het Rwanda ’n takkantoor geword, en kort daarna het die broers ’n geskikte stuk grond gevind waarop hulle ’n takkantoor kon bou om na die werk om te sien wat so vinnig uitgebrei het. In April 2001 het hulle ’n stuk grond van twee hektaar gekoop. Baie broers in Kigali sal onthou hoe moeilik dit was om die onderbos op daardie stuk grond te verwyder wat jare lank verwaarloos is.
’N VULKAANUITBARSTING IN OOS-KONGO
Op 17 Januarie 2002 het die Nyiragongo-vulkaan, wat ongeveer 16 kilometer van Goma in Oos-Kongo geleë is, begin uitbars, en die meeste van die mense in die gebied moes uit hulle huise vlug. Baie van die 1 600 verkondigers daar het met hulle kinders en belangstellendes oor die grens na die nabygeleë Gisenyi, Rwanda, gevlug, waar hulle na Koninkryksale in die omgewing gestuur is.
Die volgende dag het broers by die takkantoor in Rwanda ’n drietonvragmotor met basiese benodigdhede gelaai, wat kos, komberse en medisyne ingesluit het. Die benodigdhede is gou by ses Koninkryksale in die gebied naby die grens met Kongo afgelewer.
Om sekuriteitsredes wou die Rwandese regering nie soveel Kongolese burgers in die Koninkryksale laat bly nie en het hulle aangedring dat die broers na vlugtelingkampe oorgeplaas word. ’n Afvaardiging van die Rwandese Takkomitee het twee lede van die Kongolese Takkomitee en ouer manne van die Goma-gemeentes in Goma ontmoet om te besluit wat om te doen. Die Kongolese broers het volgehou dat hulle nie wou hê dat hulle broers na vlugtelingkampe in Rwanda gaan nie. “In 1994 het ons vir meer as 2 000 Rwandese broers en hulle gesinne sowel as belangstellendes gesorg”, het hulle gesê, “daarom sal ons verkies dat ons broers eerder na Goma terugkom as om in kampe te bly, en ons sal vir hulle sorg net soos ons vir die Rwandese broers gesorg het.”
Die Kongolese broers het liefdevolle gasvryheid bewys deur hulle Kongolese medegelowiges terug te neem en hulle onder die broers te verdeel in plaas daarvan om hulle in kampe te laat bly wat deur nie-Getuie-organisasies bestuur is. Die broers en hulle gesinne het dus na Goma teruggekeer, waar hulle gehuisves is. Daarna is nog benodigdhede, insluitende plastiekseile, van België, Frankryk en Switserland gestuur om die broers gedurende daardie tyd te help. Die broers het in Goma gebly totdat nuwe huise vir hulle gebou kon word.
TEOKRATIESE MYLPALE
Wat die nuwe takkantoor betref, die Streekingenieurskantoor in Suid-Afrika het die planne opgetrek, en ’n plaaslike kontrakteur is gebruik om die bouwerk te doen. Internasionale vrywilligers het met die projek gehelp, en baie plaaslike Getuievrywilligers het gehelp om die tuine aan te lê en ander afrondingswerk te doen. Ondanks terugslae en uitdagings het die Bethelgesin in Maart 2006 in die pragtige nuwe takkantoor ingetrek. Later daardie jaar het Guy Pierce van die Bestuursliggaam saam met sy vrou vir die spesiale toewydingsprogram op 2 Desember 2006 gekom. Altesaam 553 broers en susters, onder andere 112 afgevaardigdes van 15 lande, was teenwoordig.
Jim en Rachel Holmes, van Kanada, het aan die konstruksieprojek deelgeneem. Hulle ken Amerikaanse Gebaretaal en het aangebied om dit op ’n Maandag ná die Bethelgesin se Wagtoring-studie aan enige Bethelgesinslede te leer wat belangstel. Ses het belanggestel, en hulle het so bedrewe daarin geword dat ’n gebaretaalgroep kort voor lank gevorm is.
Toe, in Junie 2007, het Kevin Rupp, wat aan die Bedieningsopleidingskool in Switserland gegradueer het, as ’n sendeling na Rwanda gekom om in die gebaretaalveld te help. Kort daarna het ’n Kanadese sendelingegpaar met ondervinding in gebaretaal in Rwanda aangekom. In Julie 2008 het die broers ’n gebaretaalgemeente gestig, en kort voor lank is nog groepe gevorm.
Hoe opgewonde was die broers tog toe hulle die aankondiging by die 2007-streekbyeenkoms hoor dat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Kinyarwanda voltooi is! Die Verenigde Bybelgenootskappe het in 1956 die volledige Bybel in Kinyarwanda uitgegee. Hoewel hierdie vertaling ’n opregte poging was om die Bybel in die plaaslike taal weer te gee, en dit selfs die naam YEHOVA (Jehovah) sewe keer in die Hebreeuse Geskrifte gebruik, is die Nuwe Wêreld-vertaling makliker bekombaar vir almal, veral vir dié wat nie so welaf is nie. Hierdie nuwe vertaling is akkuraat en maklik om te lees, danksy die harde werk van die plaaslike vertalers in samewerking met die Vertaaldiensteafdeling in New York. Hoe hartverblydend is dit tog om te sien dat die meeste van die kinders in die Koninkryksaal hulle eie eksemplaar van die Griekse Geskrifte het en gretig tydens die vergaderinge hulle hand opsteek om ’n teks te lees!
NUWE UITDAGINGS IN VERBAND MET NEUTRALITEIT
Hoewel die broers godsdiensvryheid geniet sedert hulle in 1992 wetlike erkenning verkry het, ondervind hulle kort-kort probleme as gevolg van hulle Christelike neutraliteit. Gedurende die afgelope 15 jaar is honderde broers in hegtenis geneem omdat hulle nie deelgeneem het aan nagpatrollies waaroor die weermag toesig hou nie. Maar nadat afgevaardigdes met regeringsministers ontmoet het, het die owerheid die broers toegelaat om alternatiewe werk te doen.
In onlangse jare het 215 onderwysers hulle werk verloor omdat hulle geweier het om ’n polities georiënteerde seminaar by te woon. Daarna is 118 skoolkinders geskors omdat hulle geweier het om die volkslied te sing. Verteenwoordigers van die takkantoor het na die owerheid gegaan om ons neutrale standpunt te verduidelik, en ná baie maande is die meeste van die kinders toegelaat om na die skool terug te keer. Met verwysing na die geskiedenis van die werk in Rwanda het die broers daarop gewys dat Jehovah se Getuies in 1986 weens hulle neutraliteit opgesluit is, maar dat hulle neutraliteit in 1994 ’n belangrike rede was waarom hulle nie aan die volksmoord deelgeneem het nie.—Joh. 17:16.
Jehovah se Getuies is gehoorsaam aan die regering se wette, en hulle bly polities neutraal ongeag watter regering aan die bewind is. Byvoorbeeld, in 1986 is François-Xavier Hakizimana 18 maande lank weens sy neutrale standpunt opgesluit. Nadat ’n nuwe regering ná die volksmoord aan die bewind gekom het, is hy weer in 1997 en 1998 om dieselfde rede opgesluit. Sulke voorbeelde toon dat Jehovah se Getuies konsekwent by hulle neutrale standpunt bly en dat hulle hierdie standpunt nie uit verset teen enige spesifieke regering inneem nie. Christelike neutraliteit is stewig gegrond op beginsels in die Skrif.
Ten spyte van hierdie voortdurende uitdagings geniet die broers die vryheid om weeklikse vergaderinge sowel as byeenkomste te hou en word hulle ook toegelaat om te preek en vergaderinge in baie gevangenisse te hou, waar heelwat gevangenes die waarheid aangeneem het. Boonop is daar tydens die 2009-diensjaar ses hofsake ten gunste van Jehovah se volk in Rwanda beslis.
’N BLINK TOEKOMS
’n Verslag oor Rwanda sou onvolledig wees sonder ’n woordjie oor die ongelooflik suksesvolle Koninkryksaalbouprogram. Sedert 1999, toe die reëling begin is om Koninkryksale in lande met beperkte middele te bou, is sowat 290 eenvoudige maar aantreklike Koninkryksale deur ywerige vrywilligers daar opgerig.
Met die entoesiastiese ondersteuning van die plaaslike verkondigers, voltooi die broers die meeste van hierdie sale in drie maande. Terwyl talle Koninkryksale landwyd een na die ander opgerig word, prikkel die werk omstanders se nuuskierigheid en skep dit geleenthede vir Jehovah se knegte om ’n getuienis te gee. Buiten die Byeenkomssaal in Kigali het die broers ook tien kleiner en eenvoudiger Byeenkomssale met oop kante gebou sodat die verkondigers nie te ver oor bergagtige terrein hoef te stap om byeenkomste by te woon nie. Die broers het ook vier vergrootbare Koninkryksale voltooi, wat dit moontlik maak om byeenkomste op hierdie persele te hou.
In die eerste paar maande van elke kalenderjaar neem alle gemeentes ywerig deel aan die predikingswerk in ontoegekende gebied en gebied wat selde gewerk word. Verkondigers reis soms baie ver op eie koste om hierdie gebied te dek. Om meer afgeleë gebiede te dek, word tydelike spesiale pioniers vir drie maande soontoe gestuur. As gevolg daarvan word nuwe groepe gevorm, wat die grondslag vir toekomstige gemeentes is. Byvoorbeeld, gedurende die kampanje van Januarie tot Maart 2010 is honderde Bybelstudies begin en nege nuwe groepe gevorm. Daarbenewens het 30 tydelike spesiale pioniers gedurende dieselfde tydperk 15 nuwe groepe begin.
NOG ’N MYLPAAL VIR RWANDA
By die “Hou aan waak!”-streekbyeenkoms in 2009 was die broers in Rwanda verheug oor die vrystelling van die nuwe liedereboek en om ’n paar van die nuwe liedere in Kinyarwanda te hoor. Die nuwe liedereboek is nie net onmiddellik in Kinyarwanda vertaal nie, maar die gemeentes het hulle eksemplare ook betyds ontvang om die nuwe liedere in Januarie 2010 saam met die res van die wêreldwye broederskap by die vergaderinge te begin sing.
Ná die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in 2007 in Kinyarwanda het almal natuurlik gewonder wanneer die volledige Bybel in Kinyarwanda vertaal sou word. Toe die tyd vir die 2010-streekbyeenkomste nader gekom het, is daar aangekondig dat Guy Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam, Rwanda gedurende die tyd van die Kigali-byeenkoms in Augustus sou besoek. Die byeenkoms sou in ’n sportstadion net oorkant die takkantoor gehou word. Daar was opgewondenheid in die lug, en hoe wonderlik was dit tog toe broer Pierce die vrystelling van die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Kinyarwanda aangekondig het! Elkeen van die 7 149 wat Vrydagoggend teenwoordig was, het ’n persoonlike eksemplaar van die nuwe Bybel ontvang. Sondag het die bywoningsyfer tot 11 355 gestyg omdat broers uit ander streke van Rwanda by die byeenkomsgangers aangesluit het. Gedurende die byeenkoms het soldate wat buite gemarsjeer het, vir eksemplare van die nuwe Bybel gevra, en 180 eksemplare is aan hulle gegee. Die burgemeester van Kigali, die polisiehoof en amptenare van die Departement van Sport het ook met dankbaarheid eksemplare daarvan aanvaar.
Die verkondiging van die goeie nuus in Rwanda het in 1970 met drie verkondigers begin. Nou is daar ongeveer 20 000 verkondigers in die land. Hulle hou elke maand sowat 50 000 Bybelstudies. In April 2011 het 87- 010 die Gedenkmaal bygewoon. Die broers in Rwanda het ’n geskiedenis van en ’n reputasie vir ywerige bedrywigheid. Ongeveer 25 persent van die verkondigers is in die een of ander vorm van die voltydse diens en die res van die verkondigers bestee gemiddeld 20 uur per maand aan die bediening. Hulle werk dus hard saam met “die Heer van die oes” in hierdie vrugbare veld, en hulle is glad nie van plan om die pas te verslap nie. Terwyl Jehovah voortgaan om die werk te seën, kyk ons met groot afwagting na die toekoms om te sien hoeveel mense nog na Jehovah se berg van ware aanbidding in hierdie Land van ’n Duisend Heuwels sal stroom.—Matt. 9:38; Miga 4:1, 2.
[Voetnoot]
a Dit word gewoonlik Kongo of Kongo (Kinshasa) genoem om dit van die naburige Kongo (Brazzaville) te onderskei. Ons sal die naam Kongo deurgaans in hierdie verslag gebruik.
b Deborah het ’n verkondiger geword, haar laat doop toe sy tien jaar oud was en dien nou saam met haar ma as ’n gewone pionier.
c Daardie baba is nou ’n gedoopte suster.
[Lokteks op bladsy 178]
Hy het vir sy gehoor gesê om versigtig te wees vir Jehovah se Getuies
[Lokteks op bladsy 181]
Hulle het mekaar met die woord “Komera!” gegroet, wat “Skep moed!” beteken
[Lokteks op bladsy 218]
Tharcisse en Justin langs die hut waar Tharcisse en sy gesin ’n maand lank weggesteek is
[Venster/Prent op bladsy 166]
’n Oorsig van Rwanda
Land
Rwanda strek oor slegs 177 kilometer van noord tot suid en is 233 kilometer breed. Na raming het dit ’n bevolking van meer as 11 000 000 en is dit die digs bevolkte land in Afrika. Kigali is die hoofstad.
Bevolking
Die bevolking bestaan uit Hutu’s, Tutsi’s en Twa’s sowel as Asiate en Europeërs. Meer as die helfte van die mense is Rooms-Katolieke en meer as ’n kwart is Protestante, wat baie Adventiste insluit. Die res behoort aan die Moslemgeloof en ander plaaslike gelowe.
Taal
Die amptelike tale is Kinyarwanda, Engels en Frans. Swahili is die taal wat gebruik word wanneer daar met buurlande handel gedryf word.
Bestaansmiddele
Die meeste Rwandese is boere. Aangesien baie van die grond onvrugbaar is, kan baie mense net genoeg kos vir hulle eie gesin kweek. Tee, sowel as piretrum—’n plant wat in insekdoders gebruik word—word verbou, asook koffie, wat die land se vernaamste uitvoerproduk is.
Voedsel
Die basiese voedselsoorte sluit aartappels, piesangs en boontjies in.
Klimaat
Hoewel Rwanda na aan die ewenaar geleë is, is die klimaat oor die algemeen matig. Oor die hoogland in die binneland is die gemiddelde temperatuur 21 grade Celsius, en die jaarlikse reënval is ongeveer 1 140 millimeter.
[Venster/Prent op bladsy 185]
‘Jehovah sal agter ons aan kom!’
EMMANUEL NGIRENTE
GEBORE 1955
GEDOOP 1982
PROFIEL Lid van die Rwandese Takkomitee en opsiener van die Vertaalafdeling.
◼ IN 1989 het ek in Oos-Rwanda gepionier. Aan die einde van daardie jaar is ek gevra om met die werk by die vertaalkantoor te help. Omdat ek geen ondervinding in vertaling gehad het nie, was ek baie verbaas en het ek nie gevoel dat ek opgewasse is vir die taak nie. Nietemin het ek aan drie publikasies begin werk. Ons het ’n huis gevind om te huur, en ons het ’n paar woordeboeke gekry. Soms het ek die hele nag deurgewerk en koffie gedrink om wakker te bly.
Toe die land in Oktober 1990 ingeval is, het sekere mense gedink dat Jehovah se Getuies by die invalsmagte betrokke is. Lede van die veiligheidspolisie het ondersoek ingestel. Aangesien ek by die huis gewerk het, het dit vir hulle gelyk of ek werkloos is; daarom wou hulle weet wat ek doen. Eendag het hulle ’n klopjag op ons huis uitgevoer. Ek het die hele aand deurgetik en om vyfuur in die oggend het ek probeer slaap. Skielik het ek ’n oproep ontvang om die huis te verlaat om aan gemeenskapswerk deel te neem.
Terwyl ek weg was, het die plaaslike owerheid my huis deursoek. Toe ek terugkom, het my bure vir my gesê dat ’n polisieman en ’n plaaslike amptenaar ’n uur lank deur my vertaalmanuskripte gelees het, wat herhaaldelik na Jehovah verwys het. Uiteindelik het hulle gesê: “Kom ons gee pad uit hierdie huis anders sal Jehovah agter ons aan kom!”
[Venster/Prent op bladsy 194]
Binne 100 dae het ’n miljoen mense gesterf
“Die volksmoord in 1994 in Rwanda verteenwoordig een van die duidelikste gevalle van volksmoord in die moderne geskiedenis. Van vroeg April 1994 tot die middel van Julie 1994 het lede van die etniese Hutu-meerderheidsgroep van hierdie klein Sentraal-Afrikaanse land lede van die etniese Tutsi-minderheidsgroep stelselmatig uitgemoor. ’n Ekstremistiese Hutu-regime, wat gevrees het dat hulle hulle mag sou verloor weens ’n demokratiese beweging en ’n burgeroorlog, het beplan om almal wat hulle as ’n bedreiging vir hulle gesag beskou—gematigde Hutu’s sowel as Tutsi’s—dood te maak. Die volksmoord het eers geëindig toe ’n hoofsaaklik Tutsi-rebelleleër die land beset het en die moorddadige regime uit die land verdryf het. Binne net eenhonderd dae het tot eenmiljoen mense hulle lewe in die volksmoord en oorlog verloor—wat die slagting in Rwanda een van die grootste bloedbaddens in die opgetekende geskiedenis maak.”—Encyclopedia of Genocide and Crimes Against Humanity.
Ongeveer 400 van Jehovah se Getuies is gedurende die volksmoord vermoor, insluitende Hutu’s wat doodgemaak is omdat hulle hulle Tutsi-broers en -susters beskerm het. Nie een Getuie is deur medegelowiges doodgemaak nie.
[Prent]
Vlugtelinge op pad uit Rwanda
[Venster/Prent op bladsy 197]
“Dodekamers”
“Organiseerders van die volksmoord het die historiese konsep van asiel uitgebuit om tienduisende Tutsi’s in kerkgeboue in te lok met valse beloftes van beskerming; toe het Hutu-burgermaglede en -soldate die ongelukkige mense wat in kerke en skoolgeboue toevlug gesoek het, stelselmatig vermoor deur hulle met vuurwapens te skiet en handgranate in die skares mense te gooi, en oorlewendes is sistematies met kapmesse, snoeihake en messe doodgemaak. . . . Die betrokkenheid van die kerke het egter baie verder gegaan as die feit dat hulle toegelaat het dat kerkgeboue as dodekamers gebruik word. In party gemeenskappe het die geestelikes, kategiste en ander werknemers van die kerk hulle kennis van die plaaslike bevolking gebruik om Tutsi’s te identifiseer sodat hulle doodgemaak kon word. In ander gevalle het kerkpersoneel aktief aan die slagting deelgeneem.”—Christianity and Genocide in Rwanda.
“Die hoofaantyging teen die [Katolieke] Kerk is dat dit van ondersteuning van die Tutsi-elite na ondersteuning van ’n Hutu-aangevoerde revolusie oorgeslaan het en sodoende bygedra het tot Habyarimana se magsoorname in ’n land met ’n Hutu-meerderheid. Wat die volksmoord self betref, beskuldig kritici die Kerk weer eens daarvan dat dit haat aangestook het, skuldiges toevlug gegee het en versuim het om dié te beskerm wat in kerkgeboue toevlug gesoek het. Daar is ook dié wat glo dat die Kerk, as geestelike leier van die meerderheidsbevolkingsgroep in Rwanda, sedelik aanspreeklik is vir sy versuim om alles in sy vermoë te doen om die slagting te beëindig.”—Encyclopedia of Genocide and Crimes Against Humanity.
[Venster/Prente op bladsye 201-203]
“Hoe kan ons iemand doodmaak vir wie almal pleit?”
JEAN-MARIE MUTEZINTARE
GEBORE 1959
GEDOOP 1985
PROFIEL ’n Bouer van beroep en ’n getroue broer met ’n vriendelike glimlag wat kort ná sy doop agt maande lank in 1986 in die tronk was. Jean-Marie is in 1993 met Jeanne getroud en is nou die voorsitter van die komitee van die Kigali-byeenkomssaal.
◼ OP 7 April is ek en my vrou, Jeanne, sowel as ons een maand oue babadogtertjie, Jemima, met ’n slag wakker gemaak deur die geluid van geweerskote. Ons het eers gedink dat dit net ’n politiese probleem was, maar ons het gou uitgevind dat die Interahamwe-burgermag alle Tutsi’s stelselmatig begin doodmaak het. Omdat ons Tutsi’s is, kon ons dit nie waag om buitentoe te gaan nie. Ons het vurig tot Jehovah gebid om ons te help om te weet wat om te doen. Intussen het drie moedige Hutu-broers—Athanase, Charles en Emmanuel—hulle lewe in gevaar gestel om vir ons kos te bring.
Ek en my vrou is gedwing om sowat ’n maand lank in verskillende broers se huise weg te kruip. Toe die jag op Tutsi’s ’n hoogtepunt bereik het, het burgermaglede met messe, spiese en kapmesse gekom na waar ek weggekruip het. Ek het hulle sien kom en so vinnig gehardloop as wat ek kon om in ’n paar bosse weg te kruip, maar hulle het my gevind. Ek is omring deur ’n groep gewapende mans en het pleitend vir hulle gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is, maar hulle het gesê: “Jy is ’n rebel!” Hulle het my teen die grond neergeskop en my met knuppels en geweerkolwe geslaan. Teen hierdie tyd het ’n skare saamgedrom. Daar was ’n man in die skare vir wie ek gepreek het. Hy het moedig uitgeroep: “Wees hom genadig!” Toe het een van die Hutu-broers, Charles, op die toneel verskyn. Charles se vrou en kinders het begin huil toe hulle my daar vol bloed sien lê. Die moordenaars is so ontsenu dat hulle my laat gaan het en het gesê: “Hoe kan ons iemand doodmaak vir wie almal pleit?” Charles het my na sy huis teruggeneem om my wonde te versorg. Die burgermaglede het ons gewaarsku dat hulle Charles in plaas van my sal doodmaak as ek ontsnap.
Intussen is ek van Jeanne en ons baba geskei. Sy is ook tydens ’n verskriklike aanval geslaan en het naelskraap aan die dood ontkom. Later het mense vir haar gesê dat ek doodgemaak is. Hulle het haar selfs gevra om lakens te kry en my liggaam te kom toedraai.
By Athanase se huis het ek en Jeanne trane van verligting gestort toe ons herenig is. Nietemin het ons verwag om die volgende dag te sterf. Dit was nog ’n dag van verskrikking, ’n nagmerrie, omdat ons in die een plek ná die ander moes wegkruip. Ek onthou hoe ek Jehovah om hulp gesmeek het: “Gister het u ons gehelp. Help ons asseblief weer. Ons wil ons babatjie grootmaak en wil voortgaan om u te dien!” Laat daardie middag het drie Hutu-broers ondanks groot lewensgevaar daarin geslaag om ons saam met ’n groep van byna 30 Tutsi’s deur die gevaarlike padblokkades na veiligheid te neem. Uit daardie groep het ses die waarheid aangeneem.
Ons het later gehoor dat Charles en sy groep voortgegaan het om ander te help, maar dat die Interahamwe-burgermag woedend was toe hulle uitvind dat die broers tientalle Tutsi’s help ontsnap het. Uiteindelik het hulle Charles en ’n Hutu-verkondiger met die naam Leonard gevang. Charles se vrou het hulle hoor sê: “Julle moet sterf, want julle het die Tutsi’s help ontsnap.” Toe het hulle hulle albei vermoor. Dit herinner ons aan Jesus se woorde: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende.”—Joh. 15:13.
Voor die oorlog, terwyl ek en Jeanne gereedgemaak het om te trou, het ons besluit dat een van ons ’n pionier moet word. Maar ná die oorlog het ons, hoewel ons destyds twee kinders van ons eie gehad het, ses weeskinders aangeneem omdat baie van ons familielede doodgemaak is. Nietemin kon Jeanne ná die oorlog begin pionier, en sy doen dit al 12 jaar lank. En al ses ons weeskinders—wie se ouers nie Jehovah se Getuies was nie—is nou gedoop. Die drie seuns het bedieningsknegte geword, en een van ons dogters dien nou saam met haar man by Bethel. Ons het nou vier kinders van ons eie, en ons twee oudste dogters is gedoop.
[Prent]
Broer en suster Mutezintare saam met twee van hulle kinders en vyf van die weeskinders
[Venster/Prent op bladsye 204, 205]
“Danksy die waarheid het ons ons balans behou”
Valerie Musabyimana en Angeline Musabwe is vleeslike susters. Hulle kom uit ’n sterk Katolieke agtergrond, en hulle pa was die voorsitter van een van die kerkkomitees. Valerie het vier jaar lank gestudeer om ’n non te word. Maar weens die teleurstellende gedrag van ’n priester het sy haar studies in 1974 laat vaar. Later het sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, is sy gedoop, en sy het in 1979 begin pionier. Haar suster, Angeline, het ook die Bybel gestudeer en is gedoop. Terwyl hulle saam as spesiale pioniers gedien het, het dié twee susters baie mense gehelp om die waarheid te leer.
Angeline en Valerie het tydens die volksmoord in Kigali gewoon en het nege mense in hulle huis weggesteek, insluitende twee swanger vroue, een wie se man kort tevore doodgemaak is. Ná ’n ruk het hierdie vrou geboorte geskenk. Aangesien dit te gevaarlik was om die huis te verlaat, het die susters met die geboorte gehelp. Toe die bure hiervan hoor, het hulle kos en water gebring.
Toe die Interahamwe uitvind dat Angeline en Valerie Tutsi’s wegsteek, het hulle gekom en gesê: “Ons het gekom om die Tutsi-Getuies dood te maak.” Maar aangesien die huis wat die susters gehuur het aan ’n leëroffisier behoort het, was die moordenaars bang om in te gaan.d Almal in die huis het oorleef.
Maar toe die oorlog vererger en daar voortdurend ’n geskietery was, moes Angeline en Valerie uiteindelik die gebied verlaat. Hulle het saam met ander Getuies na Goma gevlug, waar die Kongolese broers hulle hartlik verwelkom het. Hulle het voortgegaan om daar te preek en baie Bybelstudies gehou.
Hoe het hulle hulle gevoelens ná die volksmoord verwerk? Valerie het hartseer gesê: “Ek het baie van my geestelike kinders verloor, insluitende Eugène Ntabana en sy gesin. Danksy die waarheid het ons ons balans behou. Ons weet dat Jehovah kwaaddoeners sal oordeel.”
[Voetnoot]
d Ná die oorlog het die eienaar die Bybel begin studeer. Hy het gesterf, maar sy vrou en hulle twee kinders het Getuies geword.
[Venster/Prent op bladsye 206, 207]
Hulle was bereid om vir ons te sterf
ALFRED SEMALI
GEBORE 1964
GEDOOP 1981
PROFIEL Het saam met sy vrou, Georgette, in een van die voorstede van Kigali gewoon. Alfred, ’n liefdevolle vader en eggenoot, is nou ’n lid van die Hospitaalskakelkomitee in Kigali.
◼ NADAT die volksmoord begin het, het Athanase, ’n Hutu-broer wat naby ons gewoon het, ’n boodskap gestuur om ons te waarsku: “Hulle maak al die Tutsi’s dood en hulle sal julle ook doodmaak.” Hy het aangedring dat ons na sy huis toe kom. Voor die oorlog het hy ’n gat ongeveer drie en ’n half meter diep uitgegrawe, en hy het aangebied om ons daarin weg te steek. Ek was die eerste een wat met die leer afgeklim het wat hy gemaak het. Athanase het gereël dat kos en matrasse vir ons afgestuur word. Intussen het die slagting oral voortgewoed.
Hoewel die bure vermoed het dat ons daar wegkruip en gedreig het om Athanase se huis af te brand, het hy en sy gesin ons steeds weggesteek. Dit was duidelik dat hulle bereid was om vir ons te sterf.
Ná nog drie dae was daar hewige gevegte in die gebied, en daarom het Athanase se gesin by ons in die gat aangesluit, wat beteken dat ons 16 in die gat was. Dit was pikdonker, want ons kon dit nie waag om enige soort lig te gebruik nie. Ons het elke dag vir elkeen een lepel ongekookte rys gegee wat in suikerwater geweek is. Ná tien dae was selfs hierdie kos op. Teen die 13de dag was ons doodhonger! Wat kon ons doen? Van bo-op die leer kon ons net-net sien wat buite gebeur, en ons het opgemerk dat die situasie verander het. Ons kon soldate sien wat ’n ander uniform dra. Aangesien Athanase se gesin my beskerm het, het ek gevoel dat dit my beurt was om ’n opoffering te maak. Ek het besluit om saam met een van Athanase se tienerseuns boontoe te gaan om kos te soek. Ons almal het eers gebid.
Ná sowat 30 minute het ons teruggekeer met die nuus dat die Rwandese Patriotiese Front nou in beheer van die gebied was. ’n Paar soldate het saam met ons gekom. Ek het vir hulle gewys waar ons weggekruip het. Hulle het dit nie geglo totdat al die broers en susters een vir een uit die gat gekom het nie. Georgette sê sy sal daardie oomblik nooit vergeet nie: “Ons was vuil; ons was amper drie weke onder die grond en kon nie ons of ons klere was nie.”
Die soldate was verstom dat mense van beide etniese groepe saam in daardie gat gebly het. “Ons is Jehovah se Getuies”, het ek verduidelik, “en daar is geen rassediskriminasie onder ons nie.” Hulle was verbaas en het gesê: “Gee vir die mense wat uit die gat gekom het, kos en suiker!” Toe het hulle ons na ’n huis geneem waar omtrent 100 mense tydelik gehuisves is. Daarna het ’n suster aangedring dat al 16 van ons by haar gesin bly.
Ons is dankbaar dat ons oorleef het. Maar my broer en suster en hulle gesinne—almal Jehovah se Getuies—is vermoor, asook baie van ons bure. Ons voel die verlies, maar ons weet ook dat ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenisse ons almal tref’. Georgette beskryf ons gevoelens soos volg: “Ons het baie broers en susters verloor en ander het hartverskeurende ondervindinge deurgemaak toe hulle moes vlug en wegkruip. Ons het egter ons verhouding met Jehovah deur gebed versterk, en ons het gesien dat Jehovah se hand kragtig is. Hy het ons vertroos deur ons op die regte tyd deur middel van sy organisasie van hulp te voorsien, en ons is baie dankbaar. Jehovah het ons oorvloedig geseën.”—Pred. 9:11.
[Venster/Prente op bladsye 208, 209]
Jehovah het ons deur daardie verskriklike tye gehelp
ALBERT BAHATI
GEBORE 1958
GEDOOP 1980
PROFIEL Ouer man, getroud, met drie kinders. Sy vrou en oudste dogter is gewone pioniers. Sy seun is ’n bedieningskneg. Toe Albert, ’n stil Hutu-broer, in 1977 vergaderinge begin bywoon het, was daar net sowat 70 verkondigers in die land. In 1988 is hy in die tronk gegooi en geslaan. Toe hy weier om die politieke partykaart te dra, het ’n buurman wat voorheen ’n soldaat was, die naald van ’n kaart in sy vel gesteek en smalend gesê: “Nou dra jy die kaart!”
◼ NÁ DIE dood van die president het party broers, familielede en bure na my huis gevlug. Ek was egter bekommerd oor twee Tutsi-susters, Goretti en Suzanne, wat nie saam met ons was nie. Hoewel dit uiters gevaarlik was, het ek na hulle gaan soek. Mense was besig om te vlug toe ek Goretti en haar kinders sien, en ek het hulle na my huis geneem. Ek het geweet dat daar ’n padblokkade is in die rigting waarheen hulle op pad was en dat hulle beslis doodgemaak sou word.
’n Paar dae later het Suzanne en vyf ander by ons aangesluit. Saam met hierdie nuwe aankomelinge was daar meer as 20 van ons in die huis, almal in groot gevaar.
Die Interahamwe het ten minste drie keer na die huis gekom. Eenkeer het hulle my vrou, Vestine, deur die venster gesien en haar buitentoe geroep. Sy is ’n Tutsi. Ek het tussen die moordenaars en my vrou gestaan en vir hulle gesê: “As julle haar wil doodmaak, moet julle my eers doodmaak!” Nadat hulle die saak bespreek het, het hulle haar in die huis ingestuur. Een van hulle het gesê: “Ek wil nie ’n vrou doodmaak nie, ek wil ’n man doodmaak.” Toe het hulle na my vrou se broer gekyk. Terwyl hulle hom buitentoe gelei het, het ek tussen hulle ingedruk en gepleit: “Laat hom tog om Godswil gaan!”
“Ek werk nie vir God nie”, het een van hulle my toegesnou en my met sy elmboog gestamp. Hy het egter bedaar en gesê: “Loop dan, en vat hom saam met jou!” My swaer is dus gespaar.
Sowat ’n maand later het twee broers kos kom soek. Ek het ’n voorraad boontjies gehad en hulle daarvan gegee, maar terwyl ek saam met hulle gestap het om vir hulle ’n veilige paadjie te wys, het ek ’n geweerskoot gehoor en my bewussyn verloor. Ek is in die oog getref deur skrapnel van ’n verdwaalde koeël. ’n Buurman het my gehelp om by die hospitaal te kom, maar ek het die sig in my beseerde oog verloor. Nog erger, ek kon nie teruggaan huis toe nie. Terwyl die gevegte hewiger geword het, het dit vir enigeen in my huis te gevaarlik geword om daar te bly, en daarom het hulle na die huise van ander broers gevlug, wat hulle lewe in gevaar gestel het om hulle almal tot Junie 1994 te beskerm. Ek kon eers in Oktober by my vrou en gesin aansluit. Ek dank Jehovah dat hy my en my gesin deur al daardie verskriklike tye gehelp het.
[Prent]
Albert Bahati saam met sy gesin en ander wat hy weggesteek het
[Venster/Prent op bladsye 210-212]
“Dit is die weg”
GASPARD NIYONGIRA
GEBORE 1954
GEDOOP 1978
PROFIEL ’n Onverskrokke vegter vir die waarheid, met ’n vriendelike glimlag en ’n positiewe gesindheid. Gaspard, ’n lid van die Rwandese Takkomitee, is nou getroud en het drie dogters.
◼ NADAT die skietery vroeg die oggend van 7 April begin het, het ek gesien dat ongeveer 15 huise wat aan Tutsi’s behoort aan die brand is. Dit het twee huise van ons broers ingesluit. Sou ons huis volgende wees? Ek was amper van my verstand af uit vrees vir wat met my vrou, ’n Tutsi, en ons twee kinders kon gebeur.
Ek het nie geweet wat ons moet doen nie. Mense was verward en paniekbevange, en gerugte en valse berigte het die rondte gedoen. Ek het gedink dat dit veiliger vir my vrou en kinders sou wees om na ’n broer se huis daar naby te gaan, waar ek later by hulle sou aansluit. Toe dit veilig was vir my om soontoe te gaan, het ek uitgevind dat sy gedwing is om na ’n groot skoolkompleks te vlug. Daardie middag het ’n buurman vir my kom sê: “Al die Tutsi’s wat by die skool wegkruip, gaan vermoor word!” Ek het onmiddellik na die skool gehardloop, my vrou en kinders gevind en sowat 20 ander mense—met in begrip van broers en susters—bymekaargemaak en vir hulle gesê om na hulle huise terug te gaan. Net toe ons die skoolkompleks verlaat, het ons gesien hoe burgermaglede mense uit die dorp lei na ’n plek waar hulle meer as 2 000 Tutsi’s vermoor het.
Intussen het die vrou van ’n ander buurman by die skoolkompleks geboorte gegee. Toe die Interahamwe ’n granaat in die skool ingooi, het die man met die pasgebore baba gevlug. Die ma het paniekbevange in ’n ander rigting gevlug. Hoewel die pa ’n Tutsi is, kon hy verby die padblokkades kom omdat hy die baba in sy arms gehad het, en hy het na ons huis gehardloop. Hy het my gevra om melk vir die baba te probeer kry. Toe ek dit buitekant waag, het ek per ongeluk by ’n padblokkade gekom wat deur burgermaglede beman is. Hulle het my vir ’n Tutsi-simpatiseerder aangesien omdat ek melk vir ’n Tutsi se baba gaan kry het en gesê: “Kom ons maak hom dood!” ’n Soldaat het my met sy geweerkolf geslaan. Ek het toe my bewussyn verloor en my neus en gesig het gebloei. Hulle het gedink dat ek dood is en my tot agter ’n nabygeleë huis gesleep.
’n Buurman het my herken en gesê: “Jy moet maak dat jy wegkom of hulle gaan terugkom en jou doodmaak.” Hy het my gehelp om by die huis te kom.
Hoewel dit pynlik was, was hierdie voorval ’n beskerming vir my. Omdat mense geweet het dat ek ’n bestuurder is, het vyf mans die volgende dag gekom om my te dwing om die bestuurder vir ’n militêre hoof te wees. Toe hulle my beserings sien, het hulle nie daarop aangedring nie en my ook nie probeer dwing om die gebied saam met die Interahamwe te patrolleer nie.
Daarna het ek dae van vrees, onsekerheid en honger deurgemaak. Gedurende daardie tyd het ’n Tutsi-vrou met haar twee klein kinders by my huis ingehardloop. Ons het haar in een van die kombuiskassies weggesteek en die twee kinders saam met myne in ’n ander kamer gesit. Toe die Rwandese Patriotiese Front (RPF, die invallende leer) al hoe nader gekom het en gerugte die rondte gedoen het dat die Interahamwe terugkeer om al die Hutu’s wat Tutsi-vrouens het, dood te maak, het ons hele gesin gereedgemaak om weer te vlug. Maar die RPF het reeds die gebied oorgeneem, en daarom was die Tutsi’s buite gevaar. Maar nou was my lewe in gevaar.
Ek het toe saam met ’n groep van ons bure na die padblokkade gegaan wat nou deur soldate van die RPF beman is. Toe hulle my, ’n Hutu, met ’n verband om my kop sien, het hulle gedink dat ek ’n burgermaglid moet wees. Hulle het na ons uitgeroep: “Daar is moordenaars en plunderaars onder julle en tog vra julle hulp! Wie van julle het Tutsi’s weggesteek of beskerm?” Ek het vir hulle die vrou en kinders gewys wat ek weggesteek het. Hulle het die kinders eenkant toe geneem en hulle gevra: “Wie is die man met die verband om die kop?” Hulle het geantwoord: “Hy is nie een van die Interahamwe nie; hy is een van Jehovah se Getuies en is ’n goeie man.” Ek het die Tutsi-vrou en haar twee kinders gered, en nou het hulle my gered!
Die soldate was tevrede met hierdie antwoorde en het ons geneem na ’n kamp omtrent 20 kilometer van Kigali af, waar sowat 16 000 oorlewendes bymekaargekom het. Daar het ons ongeveer 60 broers en susters van 14 verskillende gemeentes ontmoet. Ons het vergaderinge gereël; 96 het die eerste een bygewoon! Dit was egter ’n baie moeilike tyd, aangesien ons berigte ontvang het van vriende wat doodgemaak en susters wat verkrag is. Ek was die enigste ouer man en baie broers en susters het vertroosting en hulp uit die Skrif nodig gehad. Ek het na hulle hartverskeurende verhale geluister en hulle daarvan verseker dat Jehovah hulle liefhet en hulle pyn verstaan.
Uiteindelik, op 10 Julie, ná baie weke van verskrikking, kon ons na ons huise terugkeer. Ek onthou dat ek gedurende daardie tyd van vrees en gevaar dikwels aan die lied met die titel “Dit is die weg” gedink het. Die woorde van daardie lied het my grootliks aangemoedig: “’n Woord sal verhoed dat ons links of regs draai. As ons in die gees saai, sal ons lewe maai.”
[Venster/Prente op bladsye 223, 224]
Iemand het my naam geroep
HENK VAN BUSSEL
GEBORE 1957
GEDOOP 1976
PROFIEL Het in Nederlandse Bethel gedien voordat hy in 1984 Gilead bygewoon het. Hy is na die Sentraal-Afrikaanse Republiek, na Tsjad en toe in September 1992 na Rwanda gestuur. Hy dien nou saam met sy vrou, Berthe, by die takkantoor in Rwanda.
◼ KIGALI Sud was die eerste gemeente waarheen ek in Rwanda gestuur is. Dit was ’n gemeente met baie kinders. Die broers en susters was hartlik en gasvry. In 1992 was daar nie baie gemeentes in die land nie en daar was net oor die 1 500 verkondigers. Die owerheid het ons nog steeds nie vertrou nie, en die polisie het ons dus van tyd tot tyd in die bediening voorgekeer om ons identiteitsdokumente na te gaan.
Toe die volksmoord begin, moes ek die land noodgedwonge verlaat. Maar ek is kort daarna gevra om die vlugtelinge in Oos-Kongo te help. Ek het van Nairobi na Goma gereis, ’n stad op die grens met Rwanda. Ek was nog nooit tevore daar nie, en omdat ek geen ander inligting behalwe die naam van ’n ouer man gehad het nie, het ek gewonder hoe ek hom sou vind. Maar toe ek daar aankom, het ek my taxibestuurder vir inligting gevra. Hy het ander bestuurders gevra, en binne 30 minute was ek voor die ouer man se deur. Twee broers van die Landskomitee in Rwanda kon die grens oorsteek en na Goma kom, en ek het hulle die geld gegee wat ek by die Kenia-takkantoor gekry het om die broers in Rwanda te help.
Die tweede keer toe ek van Nairobi na Goma gegaan het, het ek na die Rwandese grens geloop. Dit was nie baie ver nie, maar dit het my lank geneem omdat ek teen ’n stroom vlugtelinge ingeloop het wat van Rwanda af gekom het.
Skielik het iemand my naam geroep: “Ndugu (broer) Henk! Ndugu Henk!” Toe ek rondkyk om te sien wie dit is, het ek Alphonsine gesien. Sy was ’n meisie van omtrent 14 van my gemeente in Kigali, en sy is van haar ma geskei. Ons het bymekaargebly in daardie ontsaglike skare, en ek het haar na die Koninkryksaal geneem wat deur baie ander vlugtelingbroers en -susters as ’n saamtrekpunt gebruik is. ’n Kongolese gesin het vir haar gesorg, en later het ’n vlugtelingsuster van haar tuisgemeente na haar omgesien. Alphonsine is later met haar ma in Kigali herenig.
[Prent]
Henk saam met sy vrou, Berthe
[Venster/Prent op bladsye 235, 236]
Jehovah het wonderlike, groot dinge gedoen!
GÜNTER RESCHKE
GEBORE 1937
GEDOOP 1953
PROFIEL Het in 1958 begin pionier en die 43ste Gileadklas bygewoon. Vanaf 1967 het hy in Gaboen, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Kenia gedien en het hy etlike ander lande in die reisende werk besoek. Hy dien tans op die Rwandese Takkomitee.
◼ MY EERSTE besoek aan Rwanda was in 1980. Ek is as ’n streekopsiener van Kenia af gestuur. Destyds was daar slegs sewe gemeentes en 127 verkondigers in die land. Ek was ook een van die twee instrukteurs van die eerste klas van die Pionierdiensskool wat in die land gehou is. Baie van die 22 pioniers in die klas is nog steeds in die voltydse diens. Ek het na Kenia teruggekeer met aangename herinneringe aan die broers se ywer in die bediening en hulle waardering vir die waarheid.
In 1996 het ek ’n brief van die Kenia-takkantoor ontvang wat my genooi het om na Rwanda te trek. Ek was al 18 jaar lank in Kenia, en ek was baie gelukkig daar. Toe ons in Rwanda aankom, was die situasie nog steeds onstabiel. In die nag het ons dikwels geweerskote gehoor. Maar ek het gou my toewysing begin geniet, veral toe ek sien hoe Jehovah die werk daar seën.
Die byeenkomsfasiliteite was eenvoudig. Die broers het dikwels op die grond of op klippe gesit, maar hulle het nooit gekla nie. Die doopbad was ’n groot gat in die grond waarin tentmateriaal uitgesprei is. Sulke byeenkomste word nog steeds op baie plekke in die binneland gehou, maar met verloop van tyd is ’n paar eenvoudige sale met oop kante gebou, sowel as ’n paar vergrootbare Koninkryksale.
Die broers was ywerig in die verkondiging van die goeie nuus. Die gemeentes in Kigali het hulle vergaderinge oor die naweke baie vroeg begin. Daarna het verkondigers in die veldbediening uitgegaan en tot sononder gewerk.
Ek het altyd tyd gemaak vir die jonges in die gemeentes, die toekomstige verkondigers wat later meer verantwoordelikhede kon aanvaar. Hoe goed is dit tog om te sien dat baie onbevrees hulle standpunt ingeneem het en bewys gelewer het dat hulle, hoewel hulle jonk was, ’n persoonlike verhouding met Jehovah het!
Byvoorbeeld, in die suide is die 11-jarige Luc gevra om die volkslied in sy klaskamer te sing. Hy het respekvol gevra of hy eerder een van ons Koninkryksliedere kan sing. Die onderwyser het ingestem, en almal het hande geklap nadat Luc die lied gesing het. Die feit dat hy nie net die wysie van die lied geken het nie, maar ook die woorde, toon hoeveel hierdie jongeling dit geniet om sy Skepper te loof. Hierdie en ander ondervindinge was baie aanmoedigend vir my. Ek het ook ’n suster ontmoet wat ’n paar jaar gelede in die tronk was omdat sy die goeie nuus verkondig het. Terwyl sy in die tronk was, het sy aan ’n seun geboorte gegee en hom “Shikama Hodari” (Swahili vir “bly standvastig”) genoem. Shikama het sy naam gestand gedoen. Hy het onlangs die Bybelskool vir Ongetroude Broers bygewoon en dien as ’n bedieningskneg en ’n spesiale pionier.
Gedurende al die jare waartydens ons broers in Rwanda groot probleme ondervind het—wat verbooie, burgeroorlog en volksmoord ingesluit het—is ek altyd geraak deur hulle ywer in die bediening en hulle getrouheid, en dit is ’n groot voorreg om saam met hulle te dien. Ek het ook altyd Jehovah se seën asook sy beskerming en ondersteuning ondervind, en dit het my nader aan hom laat kom. Jehovah het inderdaad wonderlike, groot dinge gedoen!—Ps. 136:4.
Tabel/Prente op bladsye 254, 255]
TYDLYN—Rwanda
1970
1970 Eerste verkondigers rapporteer.
1975 Eerste Rwandese gesin keer terug van Kongo af.
1976 Die boekie “Hierdie goeie nuus van die koninkryk” word in Kinyarwanda uitgegee.
1978 Die maandelikse uitgawe van Die Wagtoring word in Kinyarwanda gedruk.
1980
1982 Die werk word verbied; verantwoordelike broers word opgesluit.
1986 Een derde van alle verkondigers word opgesluit.
1990
1990 Oorlog breek uit in die noorde van die land.
1992 Eerste streekbyeenkoms word vir die hele land gehou.
Die werk word geregistreer.
Sendelinge kom in die land aan.
1994 Volksmoord op die Tutsi’s.
1996 Sendelinge keer terug.
Die Diensafdeling word opgestel.
1998 Kinyarwanda-uitgawe van Die Wagtoring word gelyktydig met die Engels uitgegee.
1999 Kigali-byeenkomssaal met oop kante word toegewy.
2000
2000 Takkantoor word geopen.
Koninkryksaalbouafdeling begin funksioneer.
2001 Grond vir die nuwe takkantoor word verkry.
2006 Nuwe takfasiliteite word toegewy.
2007 Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte word in Kinyarwanda vrygestel.
2010
2010 Volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif word in Kinyarwanda vrygestel.
[Grafiek/Prent op bladsy 234]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Aantal verkondigers
Aantal pioniers
20,000
15,000
10,000
5,000
1985 1990 1995 2000 2005 2010
[Kaarte op bladsy 167]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
UGANDA
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO
Nyiragongo-vulkaan
Goma
Bukavu
BURUNDI
TANZANIË
RWANDA
KIGALI
VIRUNGA-GEBERGTE
Karisimbi- vulkaan
Ruhengeri (nou Musanze)
Gisenyi (nou Rubavu)
Kivu- meer
Kanombe
Masaka
Gitarama (nou Muhanga)
Bugesera
Nyabisindu (nou Nyanza)
Save
Butare (nou Huye)
Ewenaar
[Prent op bladsye 164, 165]
Vissermanne op die Kivu-meer
[Prente op bladsy 169]
Oden en Enea Mwaisoba
[Prent op bladsy 170]
Gaspard Rwakabubu saam met sy dogter Debora en sy vrou, Melanie
[Prent op bladsy 171]
“Hierdie goeie nuus van die koninkryk” in Kinyarwanda
[Prent op bladsy 172]
Justin Rwagatore
[Prent op bladsy 172]
Ferdinand Mugarura
[Prent op bladsy 173]
Die drie wat in 1976 gedoop is: Leopold Harerimana, Pierre Twagirayezu en Emmanuel Bazatsinda
[Prent op bladsy 174]
Lektuur in Kinyarwanda
[Prent op bladsy 179]
Phocas Hakizumwami
[Prent op bladsy 180]
Palatin Nsanzurwimo saam met sy vrou (heel regs) en hulle kinders
[Prent op bladsy 181]
Odette Mukandekezi
[Prent op bladsy 182]
Henry Ssenyonga op sy motorfiets
[Prent op bladsy 188]
Registrasiesertifikaat, 13 April 1992
[Prent op bladsy 190]
Broers skuif die verhoog sodat die sokkerwedstryd gespeel kan word
[Prent op bladsy 192]
Leonard en Nancy Ellis (middel) saam met die Rwakabubu- en Sombe-gesin
[Prent op bladsy 193]
Wrak van die vliegtuig wat naby Kigali afgeskiet is
[Prente op bladsy 199]
“Daar was geen broederskap onder ons nie”, ’n teken op ’n Katolieke kerk in Kibuye (nou Karongi)
[Prent op bladsy 214]
Links na regs: (agter) André Twahirwa, Jean de Dieu, Immaculée, Chantal (met baba), Suzanne; (voor) Mugabo-kinders: Jean-Luc en Agapé
[Prent op bladsy 216]
Védaste Bimenyimana hou ’n Bybelstudie
[Prent op bladsy 217]
Tharcisse Seminega en sy vrou, Chantal
[Prent op bladsy 218]
“Jehovah, ons kan niks doen om ons lewe te red nie. Net u kan ons red!”
[Prente op bladsy 226]
Bo: Vlugtelingkamp vir Rwandese Getuies; onder: vlugtelingkamp vir Getuies en ander
Goma, Kongo
Benaco, Tanzanië
[Prente op bladsy 229]
Die Koninkryksaal is as ’n hospitaal gebruik
[Prent op bladsy 238]
Oreste saam met sy gesin, 1996
[Prent op bladsy 240]
Théobald en Berancille Munyampundu
[Prente op bladsy 241]
Tutsi- en Hutu-broers en -susters maak die stuk grond skoon vir die nuwe Byeenkomssaal
[Prent op bladsy 242]
Byeenkomssaal met oop kante, Kigali, 2006
[Prent op bladsy 243]
Bedieningsopleidingskool, Kigali, 2008
[Prent op bladsy 246]
Gebaretaalseksie by ’n spesiale byeenkomsdag in Gisenyi, 2011
[Prent op bladsy 248]
François-Xavier Hakizimana
[Prente op bladsye 252, 253]
Broers en susters werk saam met “die Heer van die oes” in hierdie vrugbare veld, en hulle is glad nie van plan om die pas te verslap nie