Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 2/15 bl. 24-28
  • Deel 2—Wrede Assirië—die tweede groot wêreldmoondheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 2—Wrede Assirië—die tweede groot wêreldmoondheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdienstige invloed
  • Groot paleise wat ontdek is
  • Die Assiriese konings
  • Samaria val
  • Jerusalem word gered
  • Einde van ’n wêreldmoondheid
  • ’n Verlore ryk wat Bybelkritici in die verleentheid gestel het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • ’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 2
    Ontwaak!—2010
  • Moenie die Assiriër vrees nie
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Staaf argeologie die Bybel?
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 2/15 bl. 24-28

Deel 2—Wrede Assirië—die tweede groot wêreldmoondheid

Argeologiese ontdekkings van die paleise van eertydse Assiriese konings kan jou vertroue in die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel versterk. Wat toon daardie ontdekkings van Bybelgeskiedenis, en watter betekenis behoort hulle vir jou te hê?

DIE Assiriërs was ’n gewelddadige en oorlogsugtige volk. Hulle het ’n ontsaglike, meedoënlose ryk uitgebou wat van hul tuisland aan die noordelike punt van die Mesopotamiese vlakte gestrek het. Die Bybel maak dikwels melding van hulle aangesien hulle vyande van Juda en Israel was.

Kennis van hierdie eertydse volk sal ons ongetwyfeld help om dinge wat die Bybel sê te verstaan. Selfs Assirië se eie geskrifte bevestig die betroubaarheid van Bybelgeskiedenis en -profesie. Maar wat was die oorsprong van die Assiriërs?

Hierdie sterk volk, wat hulself met swaar wenkbroue en baarde afgebeeld het, het van Assur, ’n kleinseun van Noag, afgestam. Trouens, dieselfde Hebreeuse woord beteken “Assur” sowel as “Assirië(r)”. Nimrod, wat in die Bybel beskryf word as ‘’n geweldige jagter wat teen Jehovah gekant’ was, het die stede Nineve en Kalag gestig. Hierdie twee stede, asook Assur en Korsabad, het later Assiriese hoofstede geword.—Genesis 10:8-12, 22, vgl. NW.

Die boek Nahum open met die woorde: “’n Uitspraak teen Nineve”, die hoofstad van Assirië. Waarom? Want, soos die profeet Nahum later beskryf, Nineve was ’n “bloedbevlekte stad; . . . vol bedrog, gevul met buit” (Nahum 1:1, NAV; 3:1, NAV). Het hy oordryf? Glad nie!

Die Assiriërs het ’n ongeëwenaarde reputasie as wreedaards gehad. Versierings in hulle groot paleise het getoon hoe hulle die een stad na die ander geplunder, verbrand en vernietig het. Hulle koning Assurnasirpal spog daarmee dat hy ’n pilaar met sy vyande se vel oorgetrek het. Hy sê: “Baie gevangenes onder hulle het ek met vuur verbrand . . . Van sommige het ek hulle neuse, hulle ore en hulle vingers afgesny, ek het die oë van talle uitgesteek. Ek het een pilaar van die lewendes en ’n ander van koppe gemaak.”

Godsdienstige invloed

Hierdie mense was nogtans baie godsdienstig. Daar is van die eertydse Assiriërs gesê: “Oorlogvoering was die nasie se vernaamste aktiwiteit, en die priesters was voortdurend aanstokers van oorlog. Hulle is grotendeels deur die oorwinningsbuit onderhou . . . Hierdie ras plunderaars was buitengewoon godsdienstig.”—Ancient Cities, W. B. Wright, bladsy 25.

Die Assiriërs het hulle godsdiens van Babilon geërf. The Illustrated Bible Dictionary sê: “In die meeste opsigte het Assiriese godsdiens min van dié van Babilonië, waarvandaan dit afkomstig was, verskil.” ’n Assiriese seël, wat tans in die Britse Museum in Londen vertoon word, toon hulle nasionale god Assur met drie koppe. Hulle geloof in drie-enige gode was algemeen in hulle aanbidding. Met hulle geskiedenis van wreedheid en geweld is dit dus nie verbasend dat die profeet Nahum geskryf het dat die een ware God, Jehovah, ‘’n wreker en vol grimmigheid’ teen die Assiriërs is nie.—Nahum 1:2.

Toe Nineve geval het, was sy vernietiging so volkome dat selfs die ligging daarvan eeue lank vergete was. Sommige kritici het die Bybel bespot en gesê dat hierdie stad nooit bestaan het nie. Maar dit het wel bestaan! Dit is herontdek, en wat argeoloë daar gevind het, was inderdaad opwindend!

Groot paleise wat ontdek is

In 1843 het die Franse konsul Paul-Émile Botta by Korsabad uitgrawings gedoen in die hoop dat dit eertydse Nineve sou wees. Hy het egter die pragtige paleis van “Sargon, die koning van Assirië”, ontdek wat in die Bybel in Jesaja 20:1 by name genoem word. Kritici het beweer dat die Bybel verkeerd is, omdat dit volgens hulle wete die enigste eertydse dokument was wat hierdie koning gemeld het. Maar Sargon het wel bestaan, want argeoloë het sy paleis met 200 vertrekke, asook ’n ongelooflike skat van inskripsies en ander items, opgegrawe. Dit het Sargon se annale ingesluit, wat gebeure wat in die Bybel gemeld word uit die Assiriese oogpunt bevestig. Sargon is sedert die middel-19de eeu een van die bekendste van die Assiriese konings, hoewel talle besonderhede oor hom steeds onvolledig is.

Toe het Austin Henry Layard in 1847 Sanherib se paleis in Nineve, ongeveer 19 kilometer suidwes van Korsabad, ontdek. Dit is die einste Sanherib wat Jerusalem met geweld teëgestaan het en wat 13 keer by name in die Bybel genoem word. Layard het 71 vertrekke van hierdie paleis ondersoek. Dit was ryklik versier met tonele van veldslae, oorwinnings en godsdiensseremonies.

Selfs nog verstommender was Sanherib se eie annale wat deur argeoloë gevind is—jaarlikse verslae van gebeure wat op kleisilinders, of prismas, opgeteken is. Een word by die Oosterse Instituut van die Universiteit van Chicago bewaar, terwyl ’n ander een, die Taylor-Prisma, in die Britse Museum is.

Wat het hierdie ontdekkings getoon? Dat die Bybel se stellings oor hierdie volk en die gebeure waarby hulle betrokke was juis is—selfs wat die name van die Assiriese heersers betref!

Die Assiriese konings

Die name van hierdie eertydse konings klink moontlik vir jou vreemd, maar dit is goed om met ten minste sewe van hulle vertroud te raak, aangesien hulle in noue verband staan met gebeure wat in die Bybel verhaal word.

Salmaneser III was die troonopvolger van sy vader Assurnasirpal. Sy bekende Swart Obelisk, wat by Nimroud (Kalag) gevind is en in die Britse Museum vertoon word, het ’n reliëf wat toon hoe koning Jehu van Israel, moontlik deur ’n afgesant, aan hom skatting betaal.—Vergelyk die toestande wat in 2 Konings 10:31-33 gemeld word.

Later daardie selfde eeu, om en by die jaar 844 v.G.J., is die profeet Jona gestuur om Nineve teen ’n naderende vernietiging te waarsku.a Die stad het berou getoon en is gespaar. Hoewel ons nie presies weet wie die koning in Nineve was toe dit gebeur het nie, is dit interessant om op te let dat daar gedurende hierdie tydperk ’n afname in Assiriese aggressiwiteit was.

Tiglat-Pileser III (ook Pul genoem) is die eerste Assiriese koning wat by name in die Bybel genoem word. Hy het gedurende die heerskappy van Menahem (791-780 v.G.J.) tot in die noordelike koninkryk van Israel opgeruk. Die Bybel sê dat Menahem hom duisend talente silwer betaal het om terug te trek.—2 Konings 15:19, 20.

In sy eie annale, wat by Kalag gevind is, bevestig Tiglat-Pileser hierdie Bybelse feit deur te sê: “Ek het skatting ontvang van . . . Menahem van Samaria.”

Samaria val

Maar Samaria en die noordelike tienstammeryk van Israel was nie net by die Assiriërs nie, maar by die Skepper van hemel en aarde, Jehovah God, in onguns. Hulle het hul van sy aanbidding afgekeer en hul tot die aanbidding van Baäl gewend, wat met losbandigheid en dronkenskap gepaard gegaan het (Hosea 2:12). Hoewel hulle voortdurend deur Jehovah se profete gewaarsku is, het hulle geweier om terug te keer. Die profeet Hosea is dus geïnspireer om te skryf: “Wanneer Samaria verwoes word, sal sy koning meegesleur word soos ’n stuk dryfhout op die water” (Hosea 10:7, NAV; 2 Konings 17:7, 12-18). Die Bybel sê dat die Assiriërs dit aan Israel gedoen het—en die Assiriërs se eie verslae sê ook so, soos ons sal sien.

Salmaneser V, wat Tiglat-Pileser opgevolg het, het die noordelike tienstammeryk van Israel binnegeval en sy sterk vestinghoofstad Samaria beleër. Na ’n beleëring van drie jaar het Samaria (in 740 v.G.J.) geval, soos Jehovah se profete voorspel het.—Miga 1:1, 6; 2 Konings 17:5.

Sargon II het Salmaneser opgevolg en het moontlik die verowering van Samaria voltooi, aangesien die begin van sy heerskappy glo saamgeval het met die jaar wat die stad ingeneem is. Die Bybel sê dat die koning van Assirië ‘Israel in ballingskap na Assirië weggevoer het’ nadat Samaria geval het (2 Konings 17:6). ’n Assiriese inskripsie, wat by Korsabad gevind is, bevestig dit. Daarop sê Sargon: “Ek het Samaria beleër en verower, en 27 290 inwoners daarvan as buit weggevoer.”

Die Bybel sê voorts dat die koning van Assirië, nadat die Israeliete uitgedryf is, mense uit ander streke gebring het en hulle “laat woon [het] in die stede van Samaria, in die plek van die kinders van Israel: hulle het Samaria in besit geneem en in sy stede gaan woon”.—2 Konings 17:24.

Word dit ook deur Assiriese verslae bevestig? Ja, Sargon se eie annale, wat op die Nimroudprisma opgeteken is, sê: “Ek het die stad Samaria herstel . . . Ek het mense vanuit die lande wat ek self verower het daarheen gebring.”—Illustrations of Old Testament History, R. D. Barnett, bladsy 52.

Jerusalem word gered

Sanherib, Sargon se seun en opvolger, is welbekend by Bybelstudente. In 732 v.G.J. het hierdie militaristiese koning ’n kragtige oorlogsmasjien teen die suidelike koninkryk van Juda gebring.

Die Bybel sê dat ‘Sanherib, die koning van Assirië, teen al die versterkte stede van Juda opgetrek en dit verower het’. Jerusalem se koning Hiskia, wat deur hierdie bedreiging verskrik is, ‘het na die koning van Assirië te Lagis ’n boodskap gestuur’ en aangebied om hom met ’n groot skatting af te koop.—2 Konings 18:13, 14, vgl. NW.

Bevestig Sanherib dat hy by Lagis was? Beslis! Hy het tonele van hierdie beleëring laat uitbeeld op groot panele in sy ontsaglike paleis wat in Nineve deur argeoloë bestudeer is. Hierdie uitvoerige panele in die Britse Museum toon hoe Lagis aangeval word. Inwoners stroom uit en gee hulle oor. Gevangenes word weggelei. Sommige is op pale deurboor. Ander bewys hulde aan Sanherib self, die einste persoon wat in die Bybelse verslag gemeld word. ’n Inskripsie in wigvormige spykerskrif sê: “Sanherib, koning van die wêreld, koning van Assirië, het op ’n nímedu-troon gesit en die buit wat van Lagis [geneem is] in die verbygaan beskou.”

Die Bybel sê dat Hiskia “driehonderd talente silwer en dertig talente goud” as heffing betaal het (2 Konings 18:14, 15). Hierdie betaling word in Sanherib se annale bevestig, hoewel hy beweer dat hy “agthonderd talente silwer” ontvang het.

Ondanks hierdie betaling het die Assiriese koning se boodskappers buite Jerusalem se mure gestaan, Jehovah God bespot en sy heilige stad gedreig. Jehovah het deur Jesaja, wat in Jerusalem was, van Sanherib gesê: “Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opgooi nie. Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan; maar in hierdie stad sal hy nie inkom nie.”—2 Konings 18:17–19:8, 32, 33.

Het Jehovah Sanherib gestuit soos hy beloof het? Daardie selfde nag is 185 000 Assiriërs deur God se engel doodgemaak! Sanherib het weggetrek en na Nineve teruggekeer waar hy later deur twee van sy eie seuns vermoor is terwyl hy hom voor sy God Nisrog neergebuig het.—2 Konings 19:35-37.

Natuurlik kan ons nie verwag dat hoogmoedige Sanherib oor hierdie verlies van sy troepe sou spog nie. Maar wat hy wel sê, is interessant. Sy annale, wat op die Oosterse Instituut se Prisma sowel as op die Taylor-Prisma opgeteken is, sê: “Wat Hiskia die Jood betref, hy het hom nie aan my juk onderwerp nie. Ek het 46 van sy sterk stede, ommuurde vestings en die tallose dorpies in hulle omgewing beleër en onderwerp . . . Hom het ek in Jerusalem, sy koninklike tuiste, ’n gevangene gemaak soos ’n voëltjie in ’n kou.” Sanherib sê dat “die vreesaanjaende grootsheid van my heerskappy” Hiskia oorweldig het. Maar hy sê nie dat hy Hiskia gevange geneem of Jerusalem verower het nie, soos wat hy van die “sterk stede” en “dorpies” gesê het nie. Waarom nie? Soos die Bybel toon, is die keur van die troepe wat Sanherib gestuur het om dit te doen vernietig!

Esar-Haddon, ’n jonger seun en opvolger van Sanherib, word drie keer in die Bybel genoem—in Tweede Konings, Esra en Jesaja. Die Bybel sê dat die Assiriërs Juda se koning Manasse gevange geneem het. Argeoloë het ’n Assiriese lys gevind wat “Manasse koning van Juda” insluit by diegene wat aan Esar-Haddon skatting betaal het.—2 Kronieke 33:11.

Assurbanipal, seun van Esar-Haddon, is volgens mening “die groot en beroemde Asnappar” waarvan Esra 4:10 melding maak. Hy het die Assiriese ryk tot sy hoogtepunt uitgebrei.

Einde van ’n wêreldmoondheid

Assirië se vernietiging is gelas vanweë sy goddeloosheid. Jehovah se profeet Nahum het geskryf dat daar deur sy hoofstad Nineve gebreek sou word by die “poorte van die riviere . . . en die paleis [sou] wegsmelt”. Silwer en goud sou geroof word, die stad sou verwoes word en mense sou sê: “Verwoes is Nineve! Wie sal met haar medelyde hê?”—Nahum 2:6-10; 3:7.

Het dit ook gebeur? Laat Nineve se veroweraars antwoord. In 632 v.G.J. het die Babiloniërs en die Meders bittere wraak op die Assiriese hoofstad uitgeoefen. Babilon se kronieke sê: “Die groot buit van die stad en die tempel het hulle weggevoer en die stad in ’n puinhoop [verander].”

Twee groot heuwels dui nou die ligging van hierdie eens trotse hoofstad aan. Hulle getuig stilswyend van die feit dat geen nasie—nie eens trotse en gewelddadige Assirië—die gewisse vervulling van Jehovah se profesieë kan dwarsboom nie.

[Voetnoot]

a Wat datums betref, aanvaar ons die chronologie wat deur die Bybel aangedui word en dit verskil van eertydse datums wat op minder betroubare sekulêre bronne gebaseer is. Kyk Aid to Bible Understanding, bladsye 322-348, vir ’n breedvoerige bespreking van Bybelchronologie, veral die deel oor Assirië, bladsye 325, 326.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ASSIRIESE RYK

Nineve

Babilon

Damaskus

Samaria

Lagis

Jerusalem

ARABIË

EGIPTE

Groot See

[Erkenning]

Gebaseer op ’n kaart waarvan outeursreg voorbehou word deur die Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis) en Israel se departement van landmeetkunde

[Prent op bladsy 25]

Koning Assurbanipal gooi wynoffers oor leeus wat doodgemaak is. Herinner dit jou aan Nimrod?

[Erkenning]

Met vriendelike vergunning van die Britse Museum, Londen

[Prent op bladsy 26]

Assiriese reliëf wat die aanval met ’n beleërings- werktuig teen die versterkte Judese stad Lagis afbeeld

[Erkenning]

Met vriendelike vergunning van die Britse Museum, Londen

Tel-Lagis. Hierdie belangrike buitepos in die suidweste het die Judese heuwellandskap bewaak totdat die Assiriërs Lagis beleër en verower het

[Erkenning]

Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis)

[Prent op bladsy 27]

Reliëf van Sargon II (links) wat na ’n Assiriese amptenaar, moontlik kroonprins Sanherib, kyk

[Erkenning]

Met vriendelike vergunning van die Britse Museum, Londen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel