Noorweë
DIE jong man op die dek van die skip het met groot afwagting na die Noorweegse kus getuur. Sy naam was Knud Pederson Hammer. Knud was vroeër ’n predikant in ’n Baptistekerk in Noord-Dakota, VSA, en het ’n jaar tevore een van die Bybelstudente (nou Jehovah se Getuies) geword. Nou, in 1892, was hy op pad terug na sy geboorteland om vir vriende en familielede te preek.
Die meeste van Noorweë se tweemiljoen inwoners was lede van die Lutherse Staatskerk. Knud wou baie graag opregte Noorweërs help om die ware God, Jehovah, te leer ken en om te verstaan dat hierdie liefdevolle God nie sondaars in ’n brandende hel folter nie. Hy wou hulle ook vertel van Christus se komende Duisendjarige Heerskappy, waartydens die aarde ’n paradys sal word.
Terwyl die skip die kus genader het, het Knud die kontoere van hierdie pragtige land bestudeer—’n lang, smal land met hoë, sneeubedekte berge, diep fjords en groot woude. Hy het besef dat dit ’n uitdaging sou wees om die yl bevolkte streke waar daar min paaie en brûe was, te bereik. Hoewel baie Noorweërs in groeiende stede gewoon het, het ander in plattelandse gebiede, in vissersdorpies of op die honderde eilande langs die kus gewoon. Die resultaat van Knud se predikingswerk sowel as die groei van ware aanbidding in Noorweë ondanks oorweldigende uitdagings is geloofversterkend en aanmoedigend vir God se volk in alle wêrelddele.
KONINKRYKSAAD DRA VRUG
Hoewel party in die omgewing van Knud se tuisdorp, Skien, belangstelling in sy boodskap getoon het, kon hy nie daar bly nie, maar moes hy terugkeer na sy gesin in die Verenigde State. In 1899 het hy egter weer na Noorweë gereis, dié keer op versoek van Charles T. Russell, wat destyds toesig gehou het oor die werk van die Bybelstudente. Broer Russell wou hê dat Knud ’n gemeente in Noorweë moes stig. Knud het ’n aantal eksemplare saamgebring van die eerste twee dele van die boekreeks Millennial Dawn (later Studies in the Scriptures), wat in Deens-Noors vertaal is. (Geskrewe Noors was destyds soortgelyk aan Deens, en die publikasies kon in Denemarke sowel as Noorweë gelees word.) Knud het vir baie mense getuig en etlike boeke versprei, maar ná ’n ruk moes hy weer na die Verenigde State terugkeer.
Die volgende jaar het Ingebret Andersen, wat net buite Skien gewoon het, die boek gekry wat destyds The Plan of the Ages genoem is, waarskynlik een van die eksemplare wat Knud na Noorweë gebring het. Ingebret het lank reeds belanggestel in die “wederkoms” van Christus, en nou was hy sowel as sy vrou, Berthe, gefassineer deur wat hulle gelees het. Kort voor lank het Ingebret vir ander begin getuig. Hy het selfs na godsdiensvergaderinge gegaan om mense van Christus se Duisendjarige Heerskappy te vertel. Later het hy die belangstellendes besoek, en weldra was daar ’n bedrywige gemeente van ten minste tien Bybelstudente in Skien.
Knud het by ’n familielid van die gemeentetjie in Skien gehoor en het in 1904 na Noorweë teruggekeer om Ingebret te vind. Knud het ’n man op straat voorgekeer en gevra: “Kan jy vir my sê of ’n man met die naam Ingebret Andersen hier rond woon?” “Ja”, het die man geantwoord, “dis ek.” Knud was so opgewonde dat hy sy tas sommer daar in die middel van die straat oopgemaak het om vir Ingebret die boeke te wys wat hy gebring het. Ingebret was natuurlik verheug om Knud te ontmoet en al die lektuur te sien.
Knud het sy Noorweegse medegelowiges gretig vertel van die organisasie en die predikingswerk. Teen die tyd dat hy teruggekeer het na sy gesin, wat op daardie stadium in Kanada gewoon het, het die Skien-gemeente baie aanmoediging ontvang om vooruit te gaan.
ANDER DELE VAN NOORWEË WORD BEREIK
Die predikingswerk in Noorweë het in 1903 ’n welkome hupstoot gekry met die koms van drie ywerige kolporteurs (voltydse predikers)—Fritiof Lindkvist, Viktor Feldt en E.R. Gundersen. Fritiof het in die hoofstad, Kristiania (nou Oslo), gaan woon, en in 1904 het sy huis die kantoor van die Wagtoringgenootskap geword, waarvandaan lektuurbestellings en intekeninge op Zion’s Watch Tower uitgestuur is.
Laat in 1903, toe broer Gundersen in Trondheim, Sentraal-Noorweë, gepreek het, het hy vir Lotte Holm getuig, wat lektuur geneem het. Later het sy na haar tuisgebied naby Narvik, bo die Noordpoolsirkel, teruggekeer en die eerste verkondiger in Noord-Noorweë geword. Daarna het Viktor Feldt na Narvik gegaan en twee egpare gehelp om Bybelstudente te word. Hulle het met Lotte in aanraking gekom, en kort daarna het hierdie groepie gereeld bymekaargekom om die Bybel te bestudeer. Lotte se suster, Hallgerd, het ook die waarheid aangeneem, en later het hulle albei in verskeie dele van Noorweë as ywerige pioniers gedien.
In 1904 en 1905 het broer Feldt en broer Gundersen ’n besonder goeie reaksie op hulle predikingswerk in Bergen gehad. Zion’s Watch Tower van 1 Maart 1905 het berig: “’n Prominente predikant van die Vrye Sending-kerk van [Bergen] het ten volle oortuig geraak van die duidelike lig, en hy verkondig nou die volle en ware Evangelie aan sy groot en aandagtige gehore.”
Hierdie predikant was Theodor Simonsen, wat later uit die Vrye Sending-kerk geskors is omdat hy die wonderlike nuwe waarhede verkondig het wat hy uit ons publikasies geleer het. Die kerk se verlies was egter die Bybelstudente se wins. Theodor is onder Jehovah se volk grootliks waardeer as ’n broer en ’n spreker. Later het hy in Kristiania gaan woon, waar daar ’n groeiende gemeente van Bybelstudente was.
PARTY VAN DIE EERSTE PIONIERS
Omstreeks 1905 was daar gemeentes van Bybelstudente in vier stede: Skien, Kristiania, Bergen en Narvik. Kort voor lank het ’n hele paar gretige verkondigers begin pionier en die goeie nuus na baie ander dele van die land geneem. Hierdie vroeë pioniers het interessante agtergronde gehad.
Die eerste pioniersuster in Noorweë was Helga Hess. Sy was ’n weeskind en het in Bergen gewoon, waar sy op 17 ’n Sondagskoolonderwyseres geword het. Toe sy Theodor Simonsen in die Vrye Sending-kerk hoor praat het oor wat hy uit een van die Bybelstudente se boeke geleer het, is haar belangstelling geprikkel en het sy dieselfde lektuur begin lees. Sy het bedank as Sondagskoolonderwyseres, en in 1905 het sy op 19 die goeie nuus in Hamar en Gjøvik gaan versprei.
Eendag in 1908 het Andreas Øiseth op die familieplaas naby Kongsvinger hout gekap toe ’n pionier daar aangekom en die boek The Divine Plan of the Ages by hom gelaat het. Andreas, wat in sy vroeë 20’s was, het gehou van wat hy gelees het en het nog lektuur bestel. Ná ’n paar maande het hy die plaas in die sorg van een van sy jonger broers gelaat en begin pionier. Gedurende die volgende agt jaar het hy byna oral in die land gepreek. Eers het hy noordwaarts gegaan, in die somer per fiets en in die winter per skopslee. Toe hy by Tromsø gekom het, het hy suid gedraai en die gebiede langs die kus tot by Kristiania gedek.
Anna Andersen van Rygge, naby Moss, was ook een van die vroeë pioniers. Sy was jare lank ’n offisier in die Heilsleër en het haar daarop toegelê om die behoeftiges te help. Omstreeks 1907 het sy van ons publikasies gelees en besef dat sy die waarheid gevind het. In Kristiansund het sy in aanraking gekom met ’n ander offisier in die Heilsleër, Hulda Andersen (later Øiseth), wat belangstelling in die Bybel getoon het. Kort daarna het hierdie twee vroue ’n lang reis noordwaarts op ’n stoomboot onderneem, tot by Kirkenes, naby die Russiese grens. Hulle het by elke hawe aan land gegaan en lektuur versprei. Om en by 1912 het Anna begin pionier. Sy het dekades lank per boot en per fiets in die land rondgereis en feitlik elke dorp in Noorweë met Bybellektuur bereik. Sy het ’n hele ruk in die suide in Kristiansand gebly, waar sy waardevolle steun aan die groeiende gemeente verleen het.
Karl Gunberg was ’n offisier in die vloot voordat hy ’n Bybelstudent geword het. Hy het omstreeks 1911 begin pionier, toe hy in sy middel-30’s was, en het hom as ’n navigasie-instrukteur onderhou. Ondanks Karl se streng voorkoms was hy bekend as ’n aangename en grappige persoon. Hy het oral in Noorweë gepreek totdat hy redelik bejaard was, en sy agtergrond as ’n vlootoffisier en navigasie-instrukteur was baie nuttig in die verspreiding van die goeie nuus, soos ons later sal sien.
DIE BROEDERSKAP WORD VERSTERK
In Oktober 1905 was daar groot opgewondenheid oor die eerste byeenkoms wat in Kristiania gehou is. Omtrent 15 was teenwoordig, en 3 is gedoop. In 1906 is ’n byeenkoms in Bergen gehou, en van 1909 af is byeenkomste elke jaar gereël, met sprekers van Denemarke, Finland en Swede. Party van hierdie broers het gemeentes ook as pelgrims besoek, die voorlopers van vandag se reisende opsieners.
Die hoogtepunte van daardie jare was broer Russell se besoeke. In 1909 het hy Bergen sowel as Kristiania besoek. Hoe het die broers en susters tog die geleentheid waardeer om hom te ontmoet en na sy toesprake te luister! Die tweede besoek, in 1911, het groot publisiteit gekry, en die 61 broers en susters wat bymekaargekom het om na broer Russell se openbare toespraak te luister, was verheug dat nagenoeg 1 200 dit bygewoon het!
Drie jaar later het broer Russell Henry Bjørnestad aangestel om die broers in Noorweë en Swede gereeld te besoek as die eerste Noorweegse reisende opsiener.
DIE PAS WORD VERSNEL VOOR 1914
’n Nuttige hulpmiddel in die predikingswerk het in 1910 beskikbaar geword in die vorm van ’n reeks traktate wat Peoples Pulpit genoem is. Dit het meer Bybelstudente gehelp om aan die predikingswerk deel te neem. Die broers en susters was gretig om godsdiensdwaling bloot te lê en Bybelwaarhede te verduidelik en het duisende eksemplare gratis versprei, dikwels deur dit by koerante in te sluit.
Die Bybelstudente het met groot afwagting uitgesien na wat in 1914 sou gebeur. Die boek The Time Is at Hand (die tweede deel van die reeks Millennial Dawn) het verduidelik dat die tye van die Heidene in 1914 sou eindig en deur beroeringe en anargie gekenmerk sou word, waarna God se Koninkryk beheer sou begin oorneem. Die Bybelstudente het ook verwag dat Christus se mede-erfgename dan hulle hemelse beloning sou ontvang.
Hierdie onderwerp is dikwels bespreek. Byvoorbeeld, een aand in Julie 1914 het Karl Kristiansen in die Skien-stadsorkes gespeel. Gedurende die pouse het hy vir ’n paar mense om hom gesê: “Oor ’n paar weke gaan iets gebeur. Daar sal eers oorlog wees, dan ’n ommekeer, dan anargie en dan gaan God se Koninkryk kom.” Toe die Eerste Wêreldoorlog kort daarna uitgebreek het, het mense na Karl toe gekom en wou hulle meer weet.
Verder suid langs die kus, in Arendal, was daar in 1914 net een Bybelstudent. Eendag het hierdie suster vir Mia Apesland op straat ontmoet en vir haar gesê dat daar volgens die Bybel in die herfs van 1914 oorlog sal wees. “As dit gebeur”, het Mia geantwoord, “sal ek glo.” Toe Mia kort daarna sien dat wat die suster vir haar gesê het, plaasvind, het sy haar belofte nagekom en ’n ware gelowige geword. Mia, die suster wat met haar gepraat het en ’n paar ander het die kern van die Arendal-gemeente gevorm.
VOORUITGANG, TOE PROBLEME
Maar nie al die verwagtinge wat die Bybelstudente in verband met 1914 gekoester het, is verwesenlik nie. Hulle het nietemin hulle werk ywerig voortgesit. Van Desember 1914 tot diep in 1915 het die indrukwekkende skyfie-en-rolprentvertoning die “Fotodrama van die Skepping” ’n wonderlike getuienis gegee aan groot gehore in Kristiania, Bergen, Trondheim, Skien, Arendal en Kristiansand.
Kort daarna het probleme egter ontstaan. Fritiof Lindkvist, wat omtrent tien jaar lank die leiding geneem het in die werk in Noorweë, het sy eie weg ingeslaan, en in 1916 het hy die organisasie verlaat. Gevolglik het verantwoordelike broers in Swede en Denemarke gedurende die volgende paar jaar toesig gehou oor die werk in Noorweë. In 1921 is Enok Öman aangestel om die leiding te neem in die werk in Noorweë, wat hy tot 1945 gedoen het.
Daar was ook beroeringe toe C.T. Russell in 1916 gesterf het en deur J.F. Rutherford opgevolg is as die opsiener oor die werk van die Bybelstudente. Weens onvervulde verwagtinge met betrekking tot 1914 sowel as organisatoriese veranderinge het baie die organisasie verlaat. Die gevolge was besonder ernstig in Bergen, waar net een broer en sewe susters in 1918 in die gemeente oorgebly het. In Trondheim het ’n groot aantal die gemeente verlaat, en ’n groep in Kristiania het dit ook gedoen. Maar diegene wat die organisasie lojaal ondersteun het, is weldra ryklik deur Jehovah geseën.
HERNIEUDE KRAG
“Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” was die interessante toespraak wat in 1918 deur broer Rutherford gehou is. Van 1920 tot 1925 is hierdie aangrypende toespraak regoor die wêreld gehou. A.H. Macmillan het van die wêreldhoofkwartier in New York gekom om die toespraak in ’n aantal stede in Noorweë te lewer. In Kristiania was al die sitplekke in die universiteitsaal vol, en baie mense is weggewys. Maar broer Öman het op ’n krat by die ingang geklim en met ’n harde stem aangekondig: “As julle oor ’n uur en ’n half terugkom, sal Macmillan die toespraak weer lewer!” En jou waarlik, mense het die saal weer gevul om te luister toe broer Macmillan dit ’n tweede keer gelewer het. Gedurende die volgende paar jaar het Noorweegse broers die toespraak in die res van Noorweë gehou. Duisende het gretig geluister na die oortuigende skriftuurlike bewyse dat baie Armageddon sal oorleef en ewige lewe op ’n paradysaarde sal verkry. Baie het ook die boodskap ontvang deur middel van die boekie Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie.
Van 1922 tot 1928 het die Bybelstudente honderdduisende traktate versprei met resolusies wat by byeenkomste aangeneem is, soos ’n Uitdaging aan wêreldleiers, ’n Waarskuwing aan alle Christene en Aanklag teen die geestelikes. Baie Bybelstudente het aan die predikingswerk begin deelneem deur hierdie traktate te versprei.
Nietemin was die groei redelik stadig. Hoewel die pioniers en ywerige verkondigers geesdriftig gepreek het, moes ander gehelp word om meer betrokke te raak by die predikingswerk. Boonop was die publikasies nog hoofsaaklik in Deens, Deens-Noors of Sweeds, maar nie in Noors nie. Wat kon gedoen word om die werk groter stukrag te gee?
Die Noorse uitgawe van die Bulletin (nou Ons Koninkryksbediening) vir April 1925 het ’n opwindende aankondiging bevat: “Hiermee stuur ons aan julle die eerste nommer van The Golden Age in Noors. Intekeninge kan nou verkry word.” Dit was The Golden Age (nou Ontwaak!) van Maart 1925. Die Noorse Golden Age het gou ’n wye verspreiding gehad, nie net in Noorweë nie, maar ook in Denemarke. Teen 1936, toe die naam van die Noorse Golden Age na Ny Verden (Nuwe Wêreld) verander is, was daar 6 190 Noorse intekenaars op hierdie tydskrif.
BETER ORGANISASIE EN NUWE FASILITEITE
In Mei 1925 het meer as 500 Bybelstudente uit verskillende dele van Skandinawië bymekaargekom vir ’n byeenkoms in Örebro, Swede. By die byeenkoms het broer Rutherford aangekondig dat ’n Noord-Europese Kantoor in Kopenhagen, Denemarke, geopen sou word. William Dey sou van Londen af kom om toesig te hou oor die werk van God se volk in Denemarke, Noorweë, Swede, Finland en die Baltiese lande. Die verskillende lande sou nog steeds ’n plaaslike opsiener hê, en Enok Öman sou voortgaan om in Noorweë in hierdie hoedanigheid te dien.
William Dey, oorspronklik van Skotland, was ’n energieke broer wat baie gedoen het om die predikingswerk te help bespoedig. Hy was ’n bekwame organiseerder, en hy het die broers ook aangemoedig deur sy aangename geaardheid en goeie voorbeeld in die bediening. Gedurende September en Oktober 1925 het hy oral in Noorweë gereis en, deur in Engels te praat en ’n tolk te gebruik, gemeentelike bedrywighede volgens die riglyne van die hoofkwartier georganiseer. Broer Dey het tot die Tweede Wêreldoorlog as opsiener van die Noord-Europese Kantoor gedien.
Die broers het al ’n ruk lank na ’n geskikter plek vir die kantoor in Noorweë gesoek. In 1925 het ’n broer wat geld geërf het, ’n drieverdiepinggebou in Oslo gekoop en dit vir omtrent die helfte van die koopsom aan die organisasie verkoop. Dit kon nie op ’n beter tyd gebeur het nie! Ons kon hierdie gebou tot 1983 baie goed gebruik.
’N ORGANISASIE VAN BEDRYWIGE GETUIES
In 1931 is ’n belangrike mylpaal in die geskiedenis van God se knegte regoor die wêreld bereik. In dié jaar het hulle ’n nuwe naam aangeneem—Jehovah se Getuies. “Toe ons ons nuwe naam aanneem”, het broer Öman geskryf, “het ons almal opgestaan en met groot geesdrif ‘Ja’ uitgeroep.” Die broers en susters was verheug om ’n skriftuurlike naam te hê, en hulle was vasbeslote om dit waardig te wees.
Dit was duidelik dat Jehovah die ywerige predikingswerk in Noorweë geseën het. Die gemiddelde aantal verkondigers het toegeneem van 15 in 1918 tot 328 in 1938. Jehovah se volk was nie net Bybelstudente nie; hulle was bedrywige getuies.
Een voorbeeld was Even Gundersrud, wat in 1917 gedoop is en met die Skien-gemeente geassosieer het. Sy vrou het hom aanvanklik probeer verhinder om vergaderinge by te woon deur sy skoene weg te steek. Maar dit het hom nie gekeer nie—hy het eenvoudig kaalvoet vergadering toe gegaan! Toe sy Even eenkeer in die slaapkamer toegesluit het, het hy deur die venster geklim en so uit die huis gekom. Niks wat Even se vrou gedoen het, het verhinder dat hy die vergaderinge bywoon nie. Hy het haar egter vriendelik bly behandel. Sy het begin skaam voel omdat haar man in die stad kaalvoet geloop het. Omdat sy wou uitvind waarom die vergaderinge so belangrik was vir Even, het sy saam met hom begin gaan. Uiteindelik het sy ook een van Jehovah se Getuies geword.
Die Skien-gemeente se geesdrif was tipies van die gesindheid van gemeentes in daardie tyd. Die broers daar het ywerig gepreek in nabygeleë stede, dorpe en plattelandse gebiede. Oor naweke het hulle dikwels in oop vragmotors of bote uitgegaan om te preek en vergaderinge te reël. Nuwe groepe en gemeentes is gou in daardie gebied gestig. Ander gemeentes was ook besige sentrums van teokratiese bedrywigheid.
GOEIE VORDERING IN BERGEN
Een van die bedrywige verkondigers in die Bergen-gebied was Torkel Ringereide. In 1918 het hy ’n brosjure gevind wat deur die Bybelstudente uitgegee is. Hy het broer Dahl opgesoek, wat destyds die enigste broer in die Bergen-gemeente was. Broer Dahl het in sy huis vergaderinge gehou saam met die res van die gemeente—sewe susters. Een van hulle was Helga Hess, wat vroeër gemeld is en nou terug was in Bergen. Torkel het by die gemeentetjie aangesluit, en in 1919 is hy en Helga getroud.
Torkel was ’n vreeslose man met ’n kragtige stem. Hy was jare lank die enigste openbare spreker in die gemeente. Hy het gewoonlik elke Sondag ’n toespraak gehou, waarin hy die huigelagtigheid van die geestelikes en hulle valse godsdiensleringe onomwonde blootgelê het. Die toesprake is dikwels in die koerante geadverteer, en baie meer belangstellendes het die vergaderinge bygewoon as wat daar Bybelstudente in die gebied was.
Torkel het die gehoor aangespoor om ander van die waarheid te vertel. In 1932 was Nils Raae een van dié wat hom hoor praat het. Nils het die waarheid al ’n jaar lank geken, maar hy was huiwerig om te begin preek. Net voordat die gemeente met ’n grootskaalse kampanje begin het om die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld te versprei, het Torkel ’n toespraak gehou oor hoe belangrik dit is om aan die bediening deel te neem. “Dit was ’n uitstekende toespraak”, het Nils gesê, “en dit het my voete laat jeuk.” Aan die einde van die toespraak het Torkel Jehovah se woorde in Jesaja 6:8 aangehaal: “Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?” Toe het Torkel gesê: “Mag ons almal soos Jesaja antwoord: ‘Hier is ek! Stuur my’!” Dit was net wat Nils en sy vrou nodig gehad het. Sonder om verder te aarsel, het hulle aan die bediening begin deelneem.
Die broers en susters het dikwels by Torkel en Helga gaan kuier. Hulle het altyd oor die waarheid gepraat, en dit het nuwe en jong verkondigers grootliks aangemoedig. Die verkondigers in Bergen het dikwels per boot en vragmotor in die omliggende gebiede gaan preek. Agterna het hulle bymekaargekom om ondervindinge te vertel en gesellig met mekaar te verkeer.
OSLO SE YWERIGE VERKONDIGERS
Gedurende die 1920’s en 1930’s het die predikingswerk ook in die omgewing van Oslo gefloreer. Een van die verkondigers was Olaf Skau, wat in 1923 gedoop is. In 1927 is hy as diensleier in die gemeente aangestel, en hy was dekades lank ’n ondernemende en liefdevolle opsiener. Hy het die predikingswerk in Oslo georganiseer en ook gereël dat verkondigers oor naweke per bus of vragmotor in die gebiede om die hoofstad gaan preek. Hy het tot laat in die nag wakker gebly om kaarte te teken en predikingstogte te beplan.
Verkondigers van Oslo het in stede en plattelandse gebiede gepreek, van Halden en Fredrikstad suid van Oslo tot Hamar in die noorde, en van Kongsvinger oos van die stad tot Drammen en Hønefoss in die weste. Die verkondigers het ongeveer negeuur in die oggend in die gebied aangekom en die hele dag van huis tot huis gepreek. Hulle besoeke het dikwels openbare vergaderinge ingesluit. Hierdie werk het gehelp om die grondslag te lê vir nuwe groepe en gemeentes, en die paar broers en susters in daardie gebiede het dit grootliks waardeer. Gedurende ’n negedaagse kampanje in 1935 het die 76 verkondigers in Oslo 13 313 boekies versprei, gemiddeld meer as 175 boekies per verkondiger!
Olaf se vrou, Esther, het aan artritis gely en was in ’n rolstoel. Hulle huis was nietemin ’n gewilde bymekaarkomplek vir die broers en susters. Olaf het gewoonlik gekook en het dikwels heerlike hoendervlerkies bedien, waarvoor hy heel bekend was. Maar wat baie van die ouer Getuies nog onthou, is die geestelik opbouende gesellighede, die fassinerende skriftuurlike besprekings en die Bybelvasvrasessies by die Skaus se huis. “Ons is nooit met ’n leë hart by die Skaus se huis weg nie”, vertel Ragnhild Simonsen.
“DIE REGTE GESINDHEID VIR DIE EWIGE LEWE”
Vroeër was mense godsdienstiger en het hulle meer Bybelkennis gehad as nou. Baie was bereid om skriftuurlike sake te bespreek, en soos in die eerste eeu, het “almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, . . . gelowiges geword”.—Hand. 13:48.
Durdei Hamre is ’n voorbeeld van so iemand. In 1924 het sy ’n boekie geneem, wat sy dieselfde aand gelees het, tot diep in die nag. “Ek het as ’n lid van die Pinksterkerk bed toe gegaan”, het sy later gesê, “en as een van Jehovah se Getuies wakker geword.”
In die middel-1920’s het een van die agt Fjelltvedt-broers ’n openbare toespraak oor die helse vuur bygewoon en ’n boekie oor die onderwerp gekry. Wat hy gelees het, het hom oortuig dat die leerstelling van die helse vuur vals is. Toe die familie kort daarna by die familieplaas bymekaar was, het hy sy sewe broers en drie susters met groot opgewondenheid vertel wat hy geleer het. Hulle het die boekie tot laat daardie nag bespreek. Binne ’n kort tydjie het al die broers en susters en baie van hulle huweliksmaats Bybelstudente geword. Later het baie van hulle kinders en kleinkinders ywerige verkondigers geword, en party het die waarheid na ander gebiede geneem.
In 1936 het mense se belangstelling in geestelike dinge duidelik geblyk toe M.A. Howlett van die wêreldhoofkwartier in New York toesprake by byeenkomste in Bergen en Oslo gehou het. In Bergen het 810 die openbare toespraak bygewoon, onder andere ’n paar predikante en ’n biskop. Net 125 van dié wat teenwoordig was, was Getuies. In Oslo, waar 140 Getuies vergader het, is die openbare toespraak deur 1 014 bygewoon!
“HULLE BEGIN NOU KOM!”
Hoe opgewonde was Jehovah se Getuies tog in 1935 toe die identiteit van die “groot menigte” van Openbaring 7:9-17 duidelik gemaak is. God se volk was verheug om uit te vind dat aanbidders wat hoop om op ’n paradysaarde te lewe, as toegewyde knegte van Jehovah by die gesalfde oorblyfsel kan aansluit. Van daardie jaar af was die fokus van die predikingswerk op die insameling van die groot menigte, wat “die groot verdrukking” sal oorleef—die grootste insameling van ware aanbidders in die mensegeskiedenis.
In 1935 het ’n paar pioniers met die hemelse hoop in ’n plattelandse gebied naby Lillehammer gepreek. Die tienjarige John Johansen het aandagtig geluister terwyl die pioniers die gesin vertel het van God se voorneme vir ’n paradysaarde. Teen die tyd dat hy 13 was, het John so ’n sterk begeerte gehad om ander van sy blye hoop te vertel dat hy sy pa se boeksak geleen en in hulle buurt gaan preek het—heeltemal op sy eie! Nou, meer as 70 jaar later, preek John en sy vrou, Edith, nog steeds ywerig, verheug dat hulle deur die jare heen ’n bydrae kon lewer tot die groot instroming van nuwelinge.
Op ’n dag in 1937 was Olaf Rød en nog ’n broer by Olaf se huis besig om die groot menigte te bespreek. Hulle was die enigste twee Getuies in Haugesund, en hulle het gewonder hoe hierdie ontsaglike insameling sou plaasvind. Skielik was daar ’n klop aan die deur. Olaf het die deur oopgemaak, en daar het Alfred Trengereid gestaan. Hy het ’n eksemplaar van Die Wagtoring in die hande gekry en gehou van wat hy gelees het. Hy het daar en dan in sy boot geklim en na Haugesund geroei om lektuur te kry by die man wat hy geweet het ’n Getuie is—Olaf. Olaf was verstom. ‘Hulle begin nou kom!’ het hy gedink. En hulle hét gekom, al was dit nie almal op dieselfde manier en op dieselfde tyd nie. Alfred het die waarheid aangeneem, en so ook baie ander in die gebied wat gunstig gereageer het op die goeie nuus van die Koninkryk.
BOTE HELP OM DIE GROOT MENIGTE IN TE SAMEL
Toe die predikingswerk in Noorweë begin het, was die vooruitsig om vir die afgesonderde bewoners van tallose eilande en afgeleë kusgebiede te preek, oorweldigend. Gevolglik het die takkantoor in 1928 ’n motorboot gekoop wat groot genoeg was om twee of drie pioniers te huisves en sterk genoeg was om al langs Noorweë se gebroke kus te vaar. Maar wie kon die kaptein van so ’n boot wees? Die ervare pionier Karl Gunberg het sy dienste aangebied. Sy agtergrond in die vloot en sy ondervinding as ’n navigasie-instrukteur was baie nuttig. Die eerste boot, Elihu, het van Oslo vertrek, suidwaarts gevaar en by kusdorpe gestop. Maar een stormagtige wintersnag in 1929 het die Elihu naby Stavanger vergaan. Almal was dankbaar dat die broers aan boord die kus veilig bereik het.
In 1931 het die broers ’n ander boot aangeskaf, wat hulle Ester genoem het. Karl was weer aan die stuur, bygestaan deur twee ander broers. Die Ester het gedurende die volgende sewe jaar gebiede aan die wes- en noordkus van Noorweë gedek. In 1932 het Karl gevoel dat hy “te oud word om nog avonture aan te pak”. Hy het dus sy seemanskoene uitgetrek om in Oos-Noorweë as ’n pionier te dien en het die boot in die hande van Johannes Kårstad gelaat. In 1938 is die Ester deur ’n boot met die naam Ruth vervang, wat tot 1940 gebruik is, toe die Tweede Wêreldoorlog ’n einde aan die predikingswerk op see gemaak het. Die seevarende pioniers het groot gebiede gedek en baie lektuur versprei. In 1939 het die twee broers op die Ruth, Andreas Hope en Magnus Randal, berig dat hulle in net een jaar meer as 16 000 boeke, boekies en tydskrifte versprei het en 1 072 grammofoontoesprake vir 2 531 luisteraars gespeel het.
Benewens die talle wonderlike geestelike ondervindinge wat hulle geniet het, het die broers op die bote asemrowende tonele gesien. “Ons het dag ná dag noord gevaar”, het Andreas Hope vertel, “in en uit fjords en om toringhoë landhoofde. Die landskap was skouspelagtig, majestueus en ongerep.” In die winter het hulle, noord van die Noordpoolsirkel, na hulle asem gesnak weens “die onbeskryflike prag van die noorderlig [aurora borealis]”. En in die somer het hulle hulle verwonder aan “die helderheid van die middernagson”.
’N YWERIGE PIONIERSUSTER
Gedurende die 1930’s het die aantal pioniers vinnig toegeneem. Hoewel hulle met min geriewe moes klaarkom, het hulle groot gebiede gedek terwyl hulle die goeie nuus verkondig het en Bybellektuur versprei het. Hulle onvermoeide ywer het gehelp om ’n stewige grondslag vir toekomstige groei te lê.
Solveig Løvås (later Stormyr), van Oslo, het byvoorbeeld na die waarheid gesoek en verskeie godsdiensvergaderinge bygewoon. Eendag het sy ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon en besef dat sy Bybelwaarheid gevind het. Sy is in 1933 gedoop, en twee jaar later het sy na Noord-Noorweë gereis om as ’n pionier te dien. Hoewel sy ’n bietjie mank geloop het weens polio, het Solveig in ses jaar van suid van Bodø af tot by Kirkenes in die meeste stede, dorpe, vissersdorpies en gehuggies gepreek. Duisende mense het Bybellektuur geneem. In net een jaar het Solveig meer as 1 100 intekeninge op ons tydskrifte verkry!
Iemand wat groot belangstelling in Solveig se boodskap getoon het, was die timmerman Dag Jensen in die dorpie Hennes op Vesterålen. Hy het ons lektuur jare lank by ander belangstellendes gekry. Toe Solveig by Dag uitkom, het sy gereël dat hy ’n intekening kry, en toe het sy in ander gebiede gaan preek. Dag het uit sy eie begin preek en die paar stukke lektuur wat hy gehad het, vir ander belangstellendes geleen.
Op die eiland Andøya het Solveig met ’n groep frisgeboude vissermanne in hulle pondokkie gaan praat. Sy het ’n moedige getuienis gelewer, grammofoontoesprake gespeel en intekeninge op die tydskrifte aangebied. Een jong visserman, Frits Madsen, het belanggestel en op ons tydskrifte ingeteken. Toe Solveig die gebied gedek het, het sy verder gegaan. Dit is hoe dit gegaan het—pioniers het gepreek, belangstellendes gevind, lektuur versprei en intekeninge verkry en dan na nuwe gebiede vertrek. Wat kon gedoen word om al hierdie belangstelling verder te kweek?
TOESIG OOR GOD SE SKAPE
In Januarie 1939 het ’n nuwe reëling vir reisende opsieners in werking getree. Noorweë is in vier sones, of kringe, verdeel. Die kringopsieners (destyds soneknegte) moes meer tyd op elke plek deurbring as voorheen. Hulle het hulle baie meer daarop toegelê om die gemeentes te help, nuwe gemeentes te organiseer en belangstellendes te help om aan die bediening te begin deelneem. Andreas Kvinge is aangestel om as kringopsiener te dien in Kring 4, wat 2 600 kilometer ver gestrek het, van Florø tot bo by Kirkenes. In hierdie uitgestrekte gebied was daar net drie gemeentes—Trondheim, Namsos en Narvik. Maar daar was ook afgesonderde verkondigers en groepe en ’n lys intekenaars op die tydskrifte wat besoek moes word.
Andreas het saam met sy vrou, Sigrid, noordwaarts gereis, hoofsaaklik per fiets. Hy het verkondigers en belangstellendes probeer help om in die waarheid vordering te maak. Pioniers soos Solveig Løvås het Andreas bykomende inligting gegee oor belangstellendes wat geestelike hulp nodig gehad het. Sy het hom byvoorbeeld vertel van Dag Jensen in Hennes en van Frits Madsen op die eiland Andøya.
Toe Andreas in 1940 vir Dag ontmoet het, “was hy besig om te skeer, en sy gesig was vol seep”, vertel Andreas. “Ek sal nooit daardie stralende oë tussen al die skuim vergeet nie. Hy het skoon vergeet om te skeer.” Andreas het Dag gehelp om geestelike vooruitgang te maak. Dag was geesdriftig, en hy het gou sy vrou, Anna, en baie van sy vriende en familielede gehelp om die waarheid te leer.
In die dorpie Bleik op Andøya het Andreas die jong visserman Frits Madsen opgesoek. Met Andreas se hulp het Frits en sy vrou die fondament geword van die gemeente wat later daar gestig is. Op baie ander plekke het Andreas en sy vrou diegene besoek met wie Solveig en ander hardwerkende pioniers aanvanklik in aanraking gekom het. Andreas en die ander kringopsieners het vergaderinge gereël en gemeentes gestig. Soos in die eerste-eeuse Christengemeente, het party in Noorweë geplant, en ander het natgegooi, maar God het dit op magtige wyse “deurentyd laat groei”.—1 Kor. 3:6.
DIE TWEEDE WÊRELDOORLOG SKUD NOORWEË
In April 1940 is Noorweë by die Tweede Wêreldoorlog ingesleep toe Duitse troepe die land binnegeval het. Ná net 62 dae van oorlogvoering was die hele land onder die beheer van Nazi-Duitsland. Teen dié tyd is etlike dorpe erg gebombardeer. ’n Paar dae ná die begin van die inval het die Gestapo die takopsiener, Enok Öman, in hegtenis geneem en hom ’n week lank gevange gehou. Ná ’n kort ondervraging het die offisiere hom vrygelaat. ’n Paar weke later het die Gestapo broer Öman weer vir ondervraging kom haal.
Die broers was bang dat die Nazi’s hulle na konsentrasiekampe sou stuur, soos in Duitsland die geval was. Maar die Nazi’s het dit nie gedoen nie, en die verkondigers het voortgegaan om met vasbeslotenheid en ywer te preek. Dit het in werklikheid gelyk of die oorlog mense ontvankliker gemaak het vir die goeie nuus, en baie tuisbybelstudies (destyds modelstudies) is begin. Die broers het nog steeds die Deense Wagtoring uit Denemarke ontvang, en die Vertroosting (Ny Verden) is steeds in Noors uitgegee. Die broers het voortgegaan om vergaderinge en byeenkomste te hou, en die aantal verkondigers het verbasend genoeg toegeneem.
KONFISKERINGS, INHEGTENISNEMINGS EN DIE VERBOD
Maar daar was onheil aan die broei. Duitse polisiemanne het weer eens na die takkantoor gekom, lektuur gevra en broer Öman ondervra. Laat in 1940 het hulle die boek Vyande gekonfiskeer as gevolg van wat dit oor Fascisme en Nazisme gesê het. Vroeg in 1941 het die polisie etlike pioniers in hegtenis geneem en ondervra. Duitse en Noorweegse Nazi’s het soms vergaderinge bygewoon om op die gemeentes te spioeneer. Toe het die Nazi-owerheid na die kantoor gekom en die voorraad van twee boekies, Fascisme of Vryheid en Regering en Vrede, gekonfiskeer.
In Julie 1941 het die Gestapo skielik ’n landwye poging op tou gesit om ’n einde te maak aan ons predikingswerk in Noorweë. Vyf Duitse polisiebeamptes het na Bethel gekom, die oorblywende lektuur gekonfiskeer en die Bethelgesin vir ondervraging na die polisiehoofkwartier geneem. Broer Öman moes elke dag by die staatspolisie aanmeld, wat hy 12 weke lank gedoen het.
In ’n goed gekoördineerde veldtog het die Gestapo klopjagte op die huise van verantwoordelike broers uitgevoer en al die lektuur wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, gekonfiskeer. Hulle het vir die broers gesê dat hulle na konsentrasiekampe gestuur sal word as hulle nie ophou preek nie. Die Gestapo het etlike broers en susters in hegtenis geneem en het party van hulle ’n paar dae lank aangehou.
In Moss het die polisie na Sigurd Roos se huis gegaan en sy lektuur gekonfiskeer. Sigurd, sy vrou en nog ’n broer is in hegtenis geneem. Die polisie het geëis dat hulle ophou preek en ophou om die naam Jehovah te gebruik. Die verkondigers het verduidelik dat hulle nooit sal ophou om oor Jehovah en sy Koninkryk te preek nie. Eindelik het die polisie erken: “Wel, ons kan nie julle geloof van julle wegneem nie.” Ná ’n paar uur het hulle hierdie standvastige verkondigers vrygelaat.
Die Nazi’s het ook na die huis van Olaf Skau, in Oslo, gegaan. Hulle het sy huis onderstebo gekeer en Bybels, lektuur en grammofone gekonfiskeer. Hulle het ook Olaf se boekkas verseël. Die offisiere het nie die verkondigerverslagkaarte gevind, wat in die oond weggesteek was nie. Later het die Nazi’s met ’n vragmotor teruggekom om die boeke weg te neem. Die leier was SS-Untersturmführer Klaus Grossmann, ’n gevreesde Nazi. Toe Olaf vir Grossmann vra wat hulle met die Bybellektuur gaan doen, het die offisier gesê dat hulle papierpulp daarvan gaan maak.
“Het julle dan geen vrees vir Jehovah nie?” het broer Skau gevra.
“Jehovah moet oppas!” was die Nazi se verwaande antwoord. Toe die Nazi’s vier jaar later oorgegee het, het Grossmann selfmoord gepleeg.
In Julie 1941 het die Gestapo Andreas Kvinge in Bodø in hegtenis geneem en hom gevra waar die Getuies in Noord-Noorweë gevind kan word. “Ek weet nie waar hulle vandag is nie”, het Andreas eerlik geantwoord. Stel jou voor hoe Andreas gedurende die ondervraging moes gevoel het toe die offisiere die inhoud van sy sak op die vloer uitgooi—dokumente waarop die name en adresse van gemeentes, knegte in die gemeentes en belangstellendes verskyn het. Maar tot Andreas se groot verligting het niemand die moeite gedoen om die dokumente te ondersoek nie. Die Gestapo was eerder daarop uit om Andreas ’n verklaring te laat onderteken waarin hy erken dat dit verbode is om te preek en een van Jehovah se Getuies te wees.
“Ons weet dat ons werk nou verbied is”, het Andreas geantwoord, “daarom kan ek teken om te toon dat ek hiervan bewus is. Maar al is dit verbode om vergaderinge te hou en tydskrifte en boeke te versprei, sal ons aanhou om die Bybel te gebruik en met mense oor God se Koninkryk te praat.” Toe dit duidelik geword het dat Andreas nie sou ingee nie, het die Gestapo hom vrygelaat.
Op die ou end het die Nazi-owerheid beslag gelê op die huis wat die broers as takkantoor gebruik het. Hulle het broer en suster Öman toegelaat om daar te bly, maar die ander lede van die Bethelgesin moes trek.
VERGADERINGE TYDENS DIE VERBOD
Toe die Nazi’s van Jehovah se Getuies probeer ontslae raak het, het die broers hulle teokratiese bedrywighede eenvoudig ondergronds begin uitvoer. ’n Paar broers het rondgereis om die broers en susters te besoek en aan te moedig. Søren Lauridsen, wat ’n ruk lank in Bethel gedien het, het die broers in Suid-Noorweë besoek. En in Noord-Noorweë het Andreas Kvinge Getuies in sy kring bly besoek—terwyl hy dikwels los werkies gedoen het om nie agterdog te wek nie. In 1943 het Magnus Randal, wat op die pionierboot Ruth gedien het, adresse by broer Öman gekry en per fiets noordwaarts vertrek op ’n 1 200 kilometer lange reis na Bodø om die broers en susters aan te moedig.
Hoewel die owerheid vergaderinge verbied het, het groepe broers en susters voortgegaan om te vergader sodat hulle mekaar kon aanmoedig. Gewoonlik het klein groepies in privaat huise bymekaargekom, maar soms het hulle in groter getalle in die geheim vergader. Hoe verheug was hulle tog in 1942 toe 280 die Gedenkmaal bygewoon het wat op twee plekke in Oslo gehou is, waar 90 die embleme gebruik het!
Dit was vir die Getuies selfs moontlik om geheime byeenkomste op afgesonderde plase of in die woude te reël. Die grootste van hierdie vergaderinge was in 1943 in ’n woud buite die dorpie Ski. Omtrent 180 broers en susters uit die gebied om die Oslo-fjord het daar bymekaargekom. Terwyl die byeenkomsgangers gedurende een van die pouses geëet het, het drie Duitse soldate op perde skielik daar aangekom. Wat moes die broers en susters doen?
’n Duitssprekende broer het na die soldate toe gegaan en uitgevind dat hulle wou gaan swem, maar verdwaal het. Die broers was natuurlik alte gretig om vir die soldate te wys waarheen hulle moet gaan.
“Watter soort saamtrek dink jy was dit?” het een van die soldate vir die ander gevra terwyl hulle weggery het.
“Seker die een of ander koorgroep”, het sy makker geantwoord. Die broers en susters was nie van plan om die soldate reg te help nie, maar het ’n sug van verligting geslaak toe die ruiters in die woud verdwyn.
DIE WERK WORD ONDERGRONDS GEDOEN
Baie verkondigers het publikasies op interessante plekke weggesteek. Die woord “ondergronds” het nuwe betekenis gekry toe die broers lektuur in die grond begrawe het en dit dan opgegrawe het wanneer dit nodig was. Broer Skau, wat ’n elektrisiën was, het ’n boks boeke agter ’n transformator by sy werk weggesteek. Broer Øiseth het lektuur in ’n byekorf weggesteek, en broer Kvinge se geheime voorraad was in ’n groot aartappelblik.
Lotte Holm was bang dat die lektuurdepot in Harstad gevind sou word en het dus al die bokse lektuur gaan haal. Sy het op ’n boot geklim, die bokse op die dek opmekaargestapel en daarop gaan sit. Toe die boot vertrek, was Lotte geskok toe sy sien hoeveel Duitse soldate daar aan boord is en het sy angstig gewonder hoe sy die lektuur van die boot af sou kry sonder om gevang te word. Maar sy het haar onnodig bekommer. Toe die boot gedok het, het die soldate jammer gevoel vir die ou dame wat soveel swaar goed het om te dra, en daarom het hulle haar gehelp om met al die bokse van die boot af te kom, en hulle het dit selfs vir haar huis toe gedra. Min het daardie beleefde soldate besef hoeveel hulle goedhartigheid die Getuies destyds gehelp het.
Ten spyte van die verbod het broers aangehou om die jongste nommers van Die Wagtoring uit Swede en Denemarke in Noorweë in te smokkel. Hulle het studieartikels in Noors vertaal en getikte afskrifte landwyd versprei. ’n Komplekse netwerk van koeriers het van treine, fietse en bote gebruik gemaak om die tydige geestelike voedsel by ware aanbidders dwarsoor die land te kry.
HULLE HET AANGEHOU PREEK
Gedurende die oorlog het ’n situasie ontstaan wat ’n toets vir die broers en susters in Noorweë was. Toe ons werk in Julie 1941 verbied is, is die broers aangeraai om versigtig te wees om nie ’n negatiewe reaksie by die Nazi-owerheid uit te lok nie. Gevolglik het talle informeel vir vriende en familielede getuig of mense besoek met wie hulle in die verlede gepraat het. Maar party broers het gevoel dat hierdie benadering te passief is en dat dit in orde sou wees om van huis tot huis te preek deur net die Bybel te gebruik. Al was daar nie volkome eenstemmigheid oor hoe die predikingswerk gedoen moes word nie, het albei groepe ’n sterk begeerte gehad om Jehovah ondanks teenstand getrou te dien.
Wat kon die broers doen? Die oorlog het kommunikasie met die wêreldhoofkwartier in New York onmoontlik gemaak; gevolglik het dit onwaarskynlik gelyk dat die saak gou opgelos sou kon word. Sou die broers toelaat dat hulle verskille hulle geloof ondermyn? Of sou hulle aanhou preek so goed as wat hulle kon en wag dat Jehovah en sy organisasie die saak oplos?
Dit is duidelik dat Jehovah hulle getroue diens geseën het, want die organisasie het gedurende die oorlog dieselfde groei ondervind as gedurende die vyf jaar voor die oorlog. Ten spyte van die oorlog, die verbod en die verskillende maniere waarop die predikingswerk gedoen is, het die verkondigerhoogtepunt gestyg van 462 in 1940 tot 689 in 1945—inderdaad ’n rede tot vreugde vir die broers!
VERENIG IN JEHOVAH SE DIENS
Ná die einde van die oorlog in 1945 het William Dey gedurende Julie en Augustus die broers in Noorweë kom help om hulle werk te herorganiseer. Broer Dey het vergaderinge in Oslo, Skien en Bergen gereël en ’n beroep op al die broers gedoen om hulle opregte pogings te verenig. Hy het daarop gewys dat hulle Jehovah se seën ondervind het, ’n vermeerdering gesien het en met vertroue in Jehovah se leiding kon vooruitgaan.
In September 1945 het Nathan H. Knorr, by die wêreldhoofkwartier, in aanraking gekom met Marvin F. Anderson, ’n 28-jarige Amerikaanse broer van Deense afkoms wat vroeër in New York in Bethel was en in die Verenigde State as kringopsiener gedien het. Broer Knorr het vir broer Anderson gevra of hy bereid is om na Noorweë te gaan om na sekere sake om te sien en om “’n goeie klompie jare” in Noorweë te bly. Broer Anderson het ingestem, maar ’n hele paar maande het verloop voordat hy in Noorweë kon kom.
Intussen het broer Knorr en broer Henschel Noorweë in Desember 1945 besoek. Hulle liefdevolle raad het die broers gehelp om ’n sterk band van liefde en eenheid te smee. Terselfdertyd het broer Knorr aangekondig dat broer Dey by broer Öman sou oorneem as takopsiener. ’n Maand later het broer Anderson in Noorweë aangekom, en in Februarie is hy as takopsiener aangestel. Noudat die Tweede Wêreldoorlog verby was, het Jehovah se knegte regoor Noorweë die bediening met nuwe ywer aangepak, met volle vertroue in Jehovah se seën.
JEHOVAH SE ORGANISASIE GAAN VOORUIT
Teen die tyd dat Marvin Anderson in Noorweë aangekom het, het die takkantoor gegons van bedrywigheid. In September 1945 het die verkondigers een boekie in Noors en vier in Sweeds ontvang. Die volgende maand het Die Wagtoring van 1 Oktober 1945 in Noors verskyn, en mettertyd is nog publikasies in Noors uitgegee.
’n Amusante situasie lig toe hoe voordelig dit was om lektuur in Noors te hê. Een van die Sweedse boekies se titel was Hopp—Sweeds vir “hoop”. Maar in Noors beteken “hopp”, “spring” of “hop”. Verkondigers moes verduidelik dat hulle boodskap van hoop nie vereis dat lesers moet spring nie!
Toe broer Anderson in 1946 takopsiener geword het, was die takkantoor propvol; hy het dus ’n kamer met vyf ander broers gedeel. Inwoners wat nie Getuies was nie en sedert die Nazi-era in die gebou gewoon het, moes van ander verblyf voorsien word om plek te maak vir die groeiende Bethelgesin.
Broer Anderson het sy nuwe toewysing met geesdrif aangepak. Die takkantoor is opgeknap, en nuwe toerusting is aangeskaf, insluitende ’n voetgedrewe drukpers. In 1946 is ’n opwindende nuwe skool in die gemeentes ingestel—die Teokratiese Bedieningskool. Uiteindelik kon meer broers opgelei word om toesprake voor te berei en te hou, en baie van hulle het gou as openbare sprekers gekwalifiseer.
Die eerste byeenkomste ná die oorlog is in September en Oktober 1946 in Oslo, Bergen en Trondheim gehou. In die drie stede het altesaam 3 011 die openbare toespraak “Die Vredevors” bygewoon, en 52 is gedoop—opwindende syfers, aangesien daar destyds net 766 verkondigers in Noorweë was.
In Desember 1946, ná ’n onderbreking van meer as vyf jaar, is die kringwerk hervat. ’n Aantal jong broers, van wie party by Bethel gedien het, is aangestel as kringopsieners (destyds knegte vir die broers genoem). Een van hulle vernaamste oogmerke was om die verkondigers in die huis-tot-huis-bediening op te lei, en hulle het saam met soveel moontlik in elke gemeente probeer werk. Gunnar Marcussen, een van daardie jong kringopsieners, vertel dat hy in party gemeentes gedurende ’n week lange besoek saam met 50 tot 70 verkondigers gewerk het. Die verkondigers het die Koninkryksboodskap geleidelik op bekwamer wyse aangebied en het opgehou om gebruik te maak van getuieniskaarte en grammofone, wat sedert die 1930’s gebruik is. Groter aandag is ook daaraan geskenk om herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou.
DIE PIONIERDIENS WORD BEVORDER
Ná die oorlog is verkondigers aangespoor om te begin pionier om die toenemende aantal mense te help wat belangstelling getoon het in die Koninkryksboodskap. Gevolglik het etlike verkondigers wat opgehou pionier het toe ons werk in 1941 verbied is, nou die voltydse diens hervat. Hoewel ekonomiese toestande moeilik was, het 47 broers en susters al teen die einde van 1946 begin pionier.
Een van hierdie pioniers was Svanhild Neraal, ’n suster wat in 1946 noordwaarts na die provinsie Finmarke gereis het. Svanhild het in 1941 saam met Solveig Løvås daar gepionier en het die bomaanvalle op Kirkenes sowel as Vardø beleef. Svanhild kon nie die belangstellendes vergeet wat sy en Solveig ontmoet het nie; daarom het sy teruggegaan na Kirkenes, wat nou verwoes was weens die oorlog. Die plaaslike mense het gedink dat Svanhild van haar kop af is om soontoe te gaan sonder dat sy selfs blyplek het.
Svanhild het nietemin op Jehovah vertrou, en gedurende die eerste winter het sy op die kombuisvloer van ’n klein huisie geslaap waar vyf ander mense gewoon het. Die naoorlogse toestande was uiters moeilik, en sy het baie ontberinge verduur. Sy het dikwels in die sneeu en ysige reën vir bote gewag wat nie op tyd gekom het nie—dit is nou te sê as hulle hoegenaamd gekom het.
Svanhild het talle interessante ondervindinge gehad terwyl sy vir die Sami-volk gepreek het. As sy hulle afgesonderde gemeenskappe nie per bus kon bereik nie, het sy ’n rivierboot of ’n fiets gebruik. Gasvrye Sami’s het haar dikwels in hulle rendierveltente ingenooi en aandagtig geluister terwyl sy met behulp van tolke getuig het. Etenstye het hulle haar genooi vir ’n ete van rendiervleis. Party wat die goeie nuus by Svanhild gehoor het, het later die waarheid aangeneem.
Kjell Husby, wat destyds by Bethel gedien het, het gesê dat die takkantoor altyd geweet het waar Svanhild is, bloot weens die adresse van die intekeninge wat sy ingestuur het. In die drie jaar wat sy in Finmarke was, het sy 2 000 intekeninge op Die Wagtoring gekry en 2 500 boeke versprei!
“VISSERS VAN MENSE”
Ná die oorlog het gemeentelike verkondigers ook geesdriftig deelgeneem aan die predikingswerk, met hartverblydende resultate. Gedurende die oorlog het Dag Jensen, wat vroeër gemeld is, vir vriende en familielede in die klein dorpie Hennes op Vesterålen gepreek. Baie het belangstelling getoon en het die Bybel met behulp van ons lektuur bestudeer. Toe die oorlog in 1945 geëindig het, is Dag gedoop. Die volgende jaar, toe ’n gemeente in Hennes gestig is, is 16 persone by Dag se huis gedoop. Vyf jaar later was daar omtrent 50 verkondigers in die gemeente, en in 1971 het Dag gerapporteer dat meer as 20 in hierdie gemeente begin pionier het.
Dag se liefde vir Jehovah en sy ywer vir die bediening was aansteeklik. “Wanneer Dag by ’n huis ingeloop het”, vertel Åshild Rønning, wat in die gemeente grootgeword het, “kon jy nie anders as om sy vreugde en geesdrif te sien nie. Dit was asof die son in die huis geskyn het.” Dag was altyd baie aanmoedigend teenoor kinders, soos wanneer hulle toewysings tydens die Teokratiese Bedieningskool gehad het. “Hy het ons laat voel dat ons iets belangriks gedoen het”, sê Åshild. Danksy hierdie liefdevolle aanmoediging het Åshild self in 1962 begin pionier en het sy ook die vreugde gesmaak om “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God”, Jehovah, aan ander bekend te maak.—1 Tim. 1:11.
Waarom het so baie uit hierdie dorpie ywerige Getuies geword? Hoewel die meeste in die klein gemeenskap nie kerkgangers was nie, het hulle in God en die Bybel geglo. Daarbenewens was baie van die Getuies in die gemeenskap bekend as goeie gesinshoofde wat deur hulle lojale vrouens ondersteun word. Een van hierdie gesinshoofde was Arnulf Jensen, Dag se broerskind, wat in 1947 gedoop is. Op weeksdae het hy as ’n visserman gewerk en ’n paar dae op ’n slag met sy vissersboot op see uitgegaan. Maar elke Vrydagaand het hy huis toe gekom, selfs al was die vangs goed en het ander vissermanne uitgebly om meer geld te maak. Arnulf het gesorg dat hy oor naweke by die huis is sodat hy die vergaderinge kan bywoon en aan die predikingswerk kan deelneem saam met sy vrou en hulle agt kinders—wat almal ’n sterk standpunt vir die waarheid ingeneem het. Saterdae en Sondae het die broers hulle opdrag uitgevoer om “vissers van mense” te wees en het hulle dikwels Arnulf se boot gebruik om in afgeleë gemeenskappe in geestelike sin vis te vang.—Mark. 1:16-18.
“ONS DOEN ’N BELANGRIKE WERK”
Die sendelingopleiding wat by die Wagtoring-Bybelskool Gilead in New York gegee word, het die broederskap in Noorweë grootliks tot voordeel gestrek. Hans Peter Hemstad en Gunnar Marcussen, wat in 1948 aan Gilead gegradueer het, was die eerste twee studente van hier. Hulle is na Noorweë teruggestuur en het in die reisende werk en by Bethel gedien, eers as ongetroude mans en later saam met hulle vrouens. Van 1948 tot 2010 het nagenoeg 45 uit Noorweë aan die Gileadskool gegradueer. Meer as die helfte van hulle het ’n toewysing in Noorweë ontvang en het as voltydse predikers of reisende opsieners of as lede van die Bethelgesin gedien.
Van die ander vroeë Gileadopgeleide sendelinge wat in Noorweë aangekom het, was Andreas Hansen van Denemarke en Kalevi Korttila van Finland. In 1951 is hulle na Oos-Finmarke gestuur, waar hulle groot afstande per boot, per fiets en op ski’s afgelê het. Hulle het dikwels op die geestelike fondament gebou wat Svanhild Neraal ’n paar jaar tevore gelê het. Gevolglik het die aantal verkondigers in hulle gebied ná slegs een jaar van 3 tot 15 vermeerder!
Kjell Martinsen uit Hennes op Vesterålen het in 1953 aan Gilead gegradueer en is na Noorweë teruggestuur. Op 22-jarige ouderdom is hy in die reisende werk in Vestfold en Telemark uitgestuur. Hoewel dit vir hom intimiderend was om op so ’n jong leeftyd as ’n reisende opsiener te dien, het hy talle aangename herinneringe aan die hartlike verwelkoming en lojale samewerking wat hy van meer ervare broers ontvang het. Kjell het tot 2001 as ’n reisende opsiener gedien, waarna hy, saam met sy vrou, Jorunn, in Svolvær op Lofoten gaan woon het om te pionier.
Karen Christensen het in 1950 van Denemarke gekom om te pionier in Egersund en Kongsvinger, waar daar geen gemeentes was nie. Sy het die gebied op haar fiets gedek. Nadat sy in 1954 aan Gilead gegradueer het, is sy na Kongsberg gestuur. In 1956 het sy met Marvin Anderson getrou, en van toe af dien sy by Bethel. Karen is nou al meer as 60 jaar in die voltydse bediening. “Ons is nie belangrike mense nie”, erken Karen, “maar ons doen ’n belangrike werk.”
MYLPALE OP REGSGEBIED
Van 1948 tot 1951 was die vermeerdering besonder goed. In 1951 was daar ’n vermeerdering van 29 persent in die gemiddelde aantal verkondigers, met ’n hoogtepunt van 2 066. Gedurende dieselfde tydperk het Jehovah se knegte in Noorweë egter voor ’n paar uitdagings op regsgebied te staan gekom.
Die saak wat die meeste aandag getrek het, het verband gehou met straatgetuieniswerk met Die Wagtoring. In November 1949 is ’n paar verkondigers wat in Oslo straatwerk gedoen het, na die polisiestasie geneem en toe ná ’n paar uur vrygelaat. Die Getuies het hulle nie laat afskrik nie en het die volgende naweek weer straatwerk gedoen. Op 6 Desember 1949 is al die verkondigers wat in Oslo straatwerk gedoen het, in hegtenis geneem. Daar is vir hulle gesê dat hulle nie sonder toestemming van die polisie tydskrifte op straat mag aanbied nie. Die polisie het beweer dat hulle werk samedromming kan veroorsaak, die rus kan versteur en die verkeersvloei kan belemmer. Sewe van die verkondigers is ondervra en hof toe geneem, waar hulle ’n klein boete moes betaal of tot drie dae tronkstraf gevonnis is.
Omdat dit nie net ’n kwessie was van toestemming wat by die polisie verkry moes word nie, maar verband gehou het met die reg om hulle godsdiens vryelik te beoefen, het die broers die saak na Noorweë se Hooggeregshof geappelleer. In die koerant Dagbladet het John Roos, die nuusverteenwoordiger van Jehovah se Getuies, daarop gewys dat ons straatgetuieniswerk nog nooit enige steurnis veroorsaak het nie. “As godsdiensopvattings op straat verkondig word sonder om die rus te versteur, die verkeersvloei te belemmer of samedromming te veroorsaak”, het hy geredeneer, “is dit dan nodig om by die polisie toestemming te vra? Of gee godsdiensvryheid enige burger die reg om dit so te verkondig?” Terwyl die Getuies op die Hooggeregshof se beslissing gewag het, het hulle voortgegaan om straatwerk te doen ondanks voortdurende inhegtenisnemings en toenemende boetes. Party verkondigers is tot tien keer in hegtenis geneem.
Op 17 Junie 1950 het die Hooggeregshof die stadshof se beslissing ter syde gestel, en die verkondigers is vrygespreek! Hierdie gunstige beslissing sowel as ander het bevestig dat Jehovah se Getuies in Noorweë die wetlike reg het om Bybellektuur aan te bied, op straat sowel as van huis tot huis, sonder om by die polisie toestemming te vra.
ONVERGEETLIKE BYEENKOMSTE
In die 1950’s en 1960’s het talle onvergeetlike byeenkomste die organisasie versterk en die Getuies nader aan mekaar gebring. Nathan H. Knorr en Milton G. Henschel, van die wêreldhoofkwartier, was twee van die sprekers by die nasionale byeenkoms wat in 1951 in Lillehammer gehou is. Mense uit alle dele van die land het na die byeenkoms gestroom. Hoe opgewonde was die byeenkomsgangers tog om te sien dat 89 gedoop word en dat 2 391 die openbare toespraak bywoon! In die jare daarna was afgevaardigdes van Noorweë verheug om internasionale byeenkomste in Londen en New York by te woon. Toe, in 1955, het omtrent 2 000 Noorweegse Getuies ’n internasionale byeenkoms in Stockholm, Swede, bygewoon.
Die “Woord van waarheid”- internasionale byeenkoms wat in 1965 in Oslo by die Ullevål-stadion gehou is, was beslis ’n hoogtepunt. Daar was egter ’n uitdaging. Noorweë se nasionale sokkerspan het die aand voor die byeenkoms in die stadion teen ’n ander nasionale span gespeel. ’n Menigte Getuies het buite die hekke gewag totdat die sokkergeesdriftiges vertrek het, en toe het hulle ingestroom om die stadion vir die byeenkoms voor te berei. Hulle het deur die nag gewerk—skoongemaak, vullis verwyder en voedselverskaffingstente opgerig. Hulle het ook verhoë gebou, sowel as ’n orkestent en, vir versiering, ’n pakkamer en drie hutte—almal met sooidakke. “Wonderwerk gedurende die nag”, het die koerant Dagbladet geskryf. “Ullevål-stadion in idilliese landskap omskep . . . Ongelooflike werk deur Jehovah se Getuies.”
Die gasvrye Noorweegse broers en susters het meer as 7 000 afgevaardigdes uit die buiteland gehuisves, die meeste van Denemarke. ’n Tentkamp is in ’n veld net buite die stad opgerig. Dit was ideaal terwyl dit mooiweer was. Maar die 6 000 wat daar gekampeer het, sal nie gou die reën op die eerste dae van die byeenkoms vergeet, wat die grond in ’n modderpoel verander het nie. Almal was dankbaar toe die weer die laaste twee dae verbeter het. Ten spyte van die onaangename weer het die plaaslike en besoekende byeenkomsgangers hulle verlustig in die hartlike en vreugdevolle Christelike assosiasie, en hulle is verkwik deur die tydige geestelike program. Hoe verheug was hulle tog dat 199 gedoop is en dat daar ’n rekordopkoms van 12 332 by die openbare toespraak was wat deur broer Knorr gehou is!
“DIE GETUIENISWERK IS ONS LEWENSBLOED”
Benewens die getuieniswerk van huis tot huis en op straat het baie broers en susters goeie resultate met informele getuieniswerk behaal. In 1936 het Konrad Flatøy, wat ’n stoker op ’n skip was, vir die stuurman ’n boekie aangebied. Die stuurman, Paul Bruun, het die boekie geneem en dit dieselfde aand gelees.
“Ek het onmiddellik besef dat dit die waarheid is”, het Paul gesê, “en die boekie het vir my die verskil tussen ware en valse godsdiens gewys.” Toe Paul meer geleer het, het hy vir ander begin getuig, en gedurende die oorlog het hy ’n Bybelstudie met ’n belangstellende matroos gehou. Toe die matroos se Bybelkennis toegeneem het, het hy gevoel dat hy nie die masjiengewere op die skip kon afvuur nie. Die owerheid het van die matroos se standpunt te hore gekom en het Paul beveel om die Bybelstudie te staak. Hy het geweier; dus is hy sowel as die matroos in Londen aan wal gesit. ’n Maand daarna het hierdie skip gesink nadat dit deur ’n torpedo getref is. Later het die matroos ’n gedoopte broer geword, en Paul is genooi om die Gileadsendingskool by te woon. Nadat Paul in 1954 gegradueer het, is hy as ’n sendeling na die Filippyne gestuur. Later het hy na Noorweë teruggekeer en as ’n kringopsiener gedien, met die ondersteuning van sy vrou, Grethe.
In 1948 het Holger Abrahamsen werkers na en van ’n groot baggerboot in die hawe in Narvik vervoer. Sy leuse was: “Die getuieniswerk is ons lewensbloed; daarsonder is ons dood.” Holger het dus nooit ’n geleentheid laat verbygaan om vir sy passasiers te getuig nie. Een van hierdie passasiers, Olvar Djupvik, het begin belangstel en vir sy verloofde, Anne Lise, van die Paradyshoop vertel. Albei is gedoop, en later het hulle hulle vier seuns as knegte van Jehovah grootgemaak. Een van hulle, Hermann, het saam met sy vrou, Laila, as ’n sendeling in Bolivia gedien. Hermann en Laila het na Noorweë teruggekeer en dien nou hier in die reisende werk.
JEHOVAH SE SKAPE WORD VERSORG
Gedurende die 1960’s en 1970’s is belangrike organisatoriese aanpassings by die takkantoor en in die gemeentes gemaak. Roar Hagen het Marvin Anderson as takopsiener opgevolg. Toe, in 1969, is Thor Samuelsen aangestel om oor die takkantoor toesig te hou. In 1976 is ’n Takkomitee aangestel om dit te doen, met Thor Samuelsen, Kåre Fjelltveit en Niels Petersen as die eerste lede van die Takkomitee in Noorweë.
In Oktober 1972 is liggame van ouer manne aangestel om as geestelike herders in die gemeentes te dien. Ryp manne in die gemeentes is gehelp om te kwalifiseer om as herders toesig te hou oor die baie nuwelinge wat Bybelwaarheid aangeneem het. Sedertdien seën Jehovah sy volk ryklik terwyl hulle hom lojaal onder sy liefdevolle toesig dien.
DIE SAMI REAGEER GUNSTIG OP DIE GOEIE NUUS
Dekades lank al verkondig baie pioniers en ander die goeie nuus aan die Sami-volk, met inbegrip van rendierwagters ver op die Finmarke-bergplato. Hoewel die meeste Sami’s Noors praat, moes verkondigers soms van tolke gebruik maak. Een van die eerste Getuies wat op groot skaal in Sami gepreek het, was Aksel Falsnes, wat deels van Sami-afkoms was en Sami, Noors en Fins gepraat het. Sy suster, wat in Suid-Noorweë gewoon het, het in die waarheid gekom en vir hom een van ons publikasies gestuur, wat hy met groot belangstelling gelees het. Daar was geen Getuies in die deel van Troms waar hy gewoon het nie, maar in 1968 het ’n paar pioniers en ’n kringopsiener Aksel besoek en hom gehelp om geestelike vordering te maak.
Aksel was ’n ywerige verkondiger. Hy het dikwels vroeg in die oggend sy fiets in sy roeiboot gelaai, oor die fjord geroei en dan op sy fiets van een gemeenskap na die ander gery. Danksy sy kennis van Sami kon Aksel ’n goeie getuienis aan die Sami’s in die afgeleë gebiede van Finmarke gee.
Aksel was ’n taai man, en hy het groot afstande op ski’s afgelê om afgesonderde huise te bereik. Hy het byvoorbeeld laat een winter van Karasjok oor ’n bergplato na Kautokeino geski, en toe na Alta. Al wat hy saam met hom kon neem, was ’n eenvoudige rugsak met ’n paar persoonlike artikels en ’n bietjie lektuur. Ná ’n paar weke het hy by die huis van vriende in Alta aangekom, nadat hy die hele afstand van ongeveer 400 kilometer op ski’s afgelê het!
In die vroeë 1970’s het ’n hele paar Sami’s in die waarheid gekom. In Hammerfest het ’n Sami-vrou en haar man saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Kort voor lank het van haar familielede in Alta belangstelling getoon. Arne en Marie Ann Milde, spesiale pioniers in Alta, het ’n Bybelstudie met hierdie opregte mense begin, en daar was dikwels 10 of 12 by die studie. Uiteindelik het omtrent die helfte van hulle Getuies geword.
“Dit is ’n uitdaging om in die Sami-gebied te preek”, sê Hartvig Mienna, ’n Sami-pionier in Alta wat sy sneeumobiel gebruik om afgesonderde mense te bereik. “Die afstande is groot, en baie van die mense klou vas aan hulle tradisies. Maar hulle is gasvry, en ons kon etlike Bybelstudies met hulle begin.”
JARE VAN GRETIGE AFWAGTING
Van die middel-1960’s tot die middel-1970’s was daar ’n bestendige vermeerdering in verkondigers. Maar verwagtinge met betrekking tot die jaar 1975 was vir party broers ’n toets van geloof. Toe die groot verdrukking nie in 1975 gekom het nie, het ’n paar die organisasie verlaat; en tussen 1976 en 1980 was daar ’n effense vermindering in verkondigers. Ander wat teleurgesteld gevoel het, het ’n ruk lank verslap in hulle Christelike bedrywigheid. Maar hoe het die meeste daaroor gevoel om Jehovah aan te hou dien?
“Daar was afwagting en ’n mate van opgewondenheid met betrekking tot 1975”, het Hans Jakob Lilletvedt erken, “maar my geloof het nie daarvan afgehang nie.”
“Ons het ons nie aan Jehovah toegewy met ’n spesifieke datum in gedagte nie, en daarom het ons eenvoudig sonder enige verandering voortgegaan”, het John en Edith Johansen gesê, wat al lank getroue Getuies is.
“Ek gaan Jehovah vir ewig dien”, het Lea Sørensen geredeneer. “Dit maak nie saak of die einde in 1975 of later kom nie.”
’N NUWE TAKKANTOOR
Teen die einde van die 1970’s het die werklas by die takkantoor toegeneem. Meer Betheliete was dus nodig, asook nog woon- en werkruimte. Gevolglik het die Bestuursliggaam in 1979 dit goedgekeur dat ’n nuwe takkantoor buite Oslo gebou word. Teen die einde van 1980 het die broers ’n geskikte stuk grond by Ytre Enebakk, omtrent 30 kilometer van die middestad van Oslo, gevind.
Om boukoste tot ’n minimum te beperk, is vrywilligers genooi om die kompleks te bou. Dit was nogal ’n uitdaging om boutoerusting te bekom, voedsel en huisvesting vir byna 100 mense te voorsien en die hele projek te koördineer.
Altesaam meer as 2 000 plaaslike en buitelandse broers en susters het ‘hulle gewillig aangebied’ (Ps. 110:3). Baie het gehelp deur aartappels, groente, vrugte, brood, eiers, vis, klere en toerusting te skenk. Party het bome in die woud afgekap, terwyl ander die stompe by die klein saagmeule op die bouterrein in planke opgesaag het. Talle ander het gehelp deur lenings beskikbaar te stel en geld by te dra.
Party geskoolde werkers kon net ’n kort tydjie help, en baie van die werk moes deur ongeskoolde vrywilligers gedoen word. John Johnson, wat verantwoordelik was vir die hele elektriese installasie, beskryf hoe onbekwaam hy en ander bou-opsieners gevoel het. “Die vrywilligers het geleer hoe om die werk te doen en het hulle baie goed van hulle taak gekwyt”, sê John. “Dit was verbasend om te sien hoe probleme opgelos is en hoe alles afgeloop het. Dit was duidelik dat Jehovah God die bouwerk rig.”
Danksy die vrywilligers se ywer, die broers en susters se vrygewigheid en Jehovah se seën het die werk goed gevorder. Die bouwerk het vroeg in 1981 begin, en op 19 Mei 1984, gedurende die besoek van Milton Henschel van die Bestuursliggaam, is die nuwe takkantoor toegewy. Die bouprojek op sigself was ’n bron van groot vreugde en het die Noorweegse broers nader aan mekaar gebring. In die jare ná die bouprojek het baie van die vrywilligers hulppionierdiens gedoen of gewone pioniers geword.
MEER KONINKRYKSALE WORD GEBOU
In 1928 het vier van die Fjelltvedt-broers die eerste saal vir Jehovah se aanbidders in ’n voorstad van Bergen gebou. Teen die begin van die 1980’s het etlike gemeentes al hulle eie Koninkryksaal gebou of gekoop. Maar baie gemeentes het nog steeds hulle vergaderinge in ongeskikte gehuurde sale gehou. Gedurende die bou van die takkantoor het ’n paar broers bespreek hoe hulle Koninkryksale vinniger kon bou. Hulle het geweet dat spanne broers in die Verenigde State en Kanada snelbou-Koninkryksale oprig en het gewonder: ‘As die broers daar dit met Jehovah se hulp kan doen, waarom sal ons dit dan nie kan doen nie?’
’n Paar broers het planne geteken en spesifieke besonderhede uitgewerk, en ná ’n proefprojek in 1983 in Askim het hulle in 1984 drie snelbou-Koninkryksale opgerig—in Rørvik, Steinkjer en Alta. Hoe het hulle dit gedoen? Basies deur die fondamente voor die tyd te giet en dan die vrywilligers—geskool en ongeskool—noukeurig te koördineer sodat die verskillende fases van die bouwerk in net ’n paar dae voltooi kan word.
Gedurende die volgende tien jaar is nagenoeg 80 snelbou-Koninkryksale in Noorweë opgerig. Later het Noorweegse broers na Ysland gereis om drie Koninkryksale te help bou. Al het die meeste gemeentes in Noorweë nou hulle eie Koninkryksaal, is daar op hierdie gebied nog baie om te doen. Ou sale moet opgeknap word, party sale moet vergroot word, en nuwe sale moet nog gebou word.
“DIE BROEDERSKAP IS VERSTERK”
Die Koninkryksaalbouwerk het praktiese en aantreklike plekke van aanbidding voorsien, en dit het ’n goeie getuienis aan plaaslike gemeenskappe gegee. Byvoorbeeld, drie broers het in 1987 met stadsbeamptes in Fredrikstad vergader in verband met reëlings vir die oprigting van ’n Koninkryksaal. Die beamptes het gelag toe die broers gesê het dat hulle die saal in drie dae sal voltooi. Maar reeds op die eerste dag, Vrydag, was dit vir die beamptes duidelik dat die Getuies dit wel in drie dae sou doen. Op Saterdag het een van die beamptes sy blaasorkes na die bouterrein gebring sodat hulle vir die vrywilligers kon musiek maak—sy manier om verskoning te vra vir sy vroeëre skeptisisme. “Dit is ongelooflik dat julle Getuies so vinnig kan bou”, het ’n vrou gesê wat die Koninkryksaal in Arendal in 1990 sien opgaan het, “maar dit is selfs verbasender om al hierdie glimlaggende en opgeruimde mense te sien.”
Vandag is daar twee Streekboukomitees wat toesig hou oor die Koninkryksaalbouwerk regoor Noorweë. Gewillige broers en susters het hulle ook beskikbaar gestel vir groter en veeleisender bouprojekte. Byvoorbeeld, in 1991 en 1992 moes die broers die takkantoor vergroot. En in 1994 het hulle ’n pragtige Byeenkomssaal in Oslo gebou. In 2003 het ’n bouspan ’n groot Koninkryksaal in Bergen opgerig, wat vir gemeentelike vergaderinge sowel as byeenkomste gebruik kan word.
Die samewerking en eensgesindheid wat deur hierdie projekte voortgebring word, het ook ’n goeie uitwerking op Jehovah se knegte gehad. “Dit het die gemeentes gehelp om selfs nader aan mekaar te kom”, sê ’n broer wat sedert 1983 met Koninkryksaalbouwerk help. “Die broederskap is versterk—hegte vriendskapsbande is gesmee, en ons vermoë om saam te werk, het verbeter.”
GROTER BEDRYWIGHEID BY BETHEL
Nadat die nuwe takkantoor voltooi is, was dit moontlik om die personeel te vergroot en meer te doen ter bevordering van die predikingswerk in Noorweë. Byvoorbeeld, al hoe meer lektuur is in Noors vertaal. ’n Mylpaal is bereik toe die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in 1996 in Noors uitgegee is. (Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte is reeds in 1991 vrygestel.) Nou is feitlik al die lektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, in Noors beskikbaar, met inbegrip van die naslaanwerk Insight on the Scriptures.
Die nuwe takfasiliteite het ook ’n uiters nodige opname-ateljee ingesluit. Van die 1960’s af is byeenkomsdramas in Koninkryksale en in die solder en kelder van die vorige takkantoorgebou opgeneem. Dit was nie die ideale omstandighede om opnames te maak nie, en opnames moes dikwels onderbreek word as gevolg van verkeergeraas. Maar die opname-ateljee in die nuwe fasiliteite het die produksie van dramas, video’s en kooropnames van ons Koninkryksliedere baie vergemaklik. Die tak maak ook opnames van Die Wagtoring en Ontwaak! in Noors en het die volledige Bybel en etlike ander boeke op CD asook op die webwerf www.pr2711.com beskikbaar gestel.
HULLE HET GEDIEN WAAR HULLE NODIGER WAS
Terwyl gemeentelike verkondigers in hulle eie omgewing preek, het baie verkondigers en pioniers na ontoegekende gebiede so ver noord as Longyearbyen op die Spitsberge-eilandgroep gereis. Party verkondigers het na afgeleë plekke getrek om die goeie nuus te verkondig en, waar moontlik, gemeentes te help stig.
Toe Finn en Tordis Jenssen in 1950 getrou het, het hulle geweet dat verkondigers nodig was in Hammerfest, een van die noordelikste stede in die wêreld. Finn en Tordis het nie veel geld gehad nie; maar hulle het innerlike krag en vasbeslotenheid gehad, en hulle het fietse gehad. Hulle het dus op hulle fietse uit Bodø na Hammerfest vertrek, wat om en by 900 kilometer daarvandaan is. Toe hulle ongeveer halfpad was, het vriende hulle goedgunstiglik finansieel gehelp sodat hulle die res van hulle reis per boot kon aflê. In Hammerfest het Finn en Tordis begin preek en mense genooi na die openbare toesprake wat Finn elke naweek gehou het. Jehovah het hulle ywerige pogings geseën, en kort voor lank kon hulle ’n gemeentetjie vorm.
Een van die sprekers by die streekbyeenkoms wat in 1957 in Trondheim gehou is, het verkondigers aangespoor om dit te oorweeg om te trek na plekke waar predikers nodig is. Viggo en Karen Markussen, wat in Stavanger gewoon het, het aandagtig geluister, en Viggo het Karen saggies met sy elmboog gestamp. Karen het dadelik besef wat dit beteken. ‘Ons dae in Stavanger is getel’, het sy gedink. Maar wat sou hulle drie dogters, wat almal verkondigers tussen die ouderdomme van 11 en 14 was, daarvan dink om te trek?
Toe die Markussens ná die byeenkoms die toespraak bespreek het, het die hele gesin saamgestem dat hulle hulle beskikbaar kon stel om te dien waar hulp nodig is. In antwoord op hulle brief het die takkantoor hulle gevra om te trek na Brumunddal, waar daar nie ’n gemeente was nie. In 1958 het Viggo en Karen dus hulle moderne huis verkoop, het Viggo sy meubelwinkel van die hand gesit en het die gesin in ’n eenvoudige houthuis naby Brumunddal ingetrek. Jehovah het hulle selfopofferende gees geseën, en in die jare daarna het baie van dié met wie hulle gestudeer het, in die waarheid gekom. Teen die tyd dat die dogters die huis verlaat het en Viggo en Karen gevra is om in die kringwerk te dien, was daar ’n ywerige gemeentetjie van sowat 40 verkondigers in Brumunddal.
Jong, ongetroude broers kon ook Koninkryksbelange bevorder deur te trek na plekke waar daar nie ’n gemeente was nie. In 1992 het ’n groep pionierbroers, van wie die meeste ongeveer 19 jaar oud was, na Måløy langs die Nord-fjord getrek om belangstelling wat daar gevind is, op te volg. Hulle het begin preek en dadelik in hulle gehuurde huis vergaderinge begin hou. ’n Belangstellende vrou met wie hulle gestudeer het, was baie gasvry en het vir die jong broers soos ’n ma geword. Later het ’n ouer man en sy vrou na Måløy getrek, en ’n gemeente is gestig. Die jong broers het ’n wonderlike tyd in hulle toewysing gehad—hulle het baie Bybelstudies gehou, na talle gemeentelike toewysings omgesien en die geesdriftige nuwe gemeente versterk. “Dit was ’n geestelike avontuur en ’n unieke geleentheid om geestelik te groei”, het een van die jong broers gesê. As gevolg van die harde werk van hierdie broers en ander is daar nou nagenoeg 30 verkondigers in die Nord-fjord-gemeente, en hulle hou tussen 50 en 60 Bybelstudies.
GETUIENISWERK IN ANDER TALE
In die afgelope 20 jaar of meer is daar ’n bestendige toename in die aantal immigrante in Noorweë. Gemeentes het dus ’n doelbewuste poging aangewend om vir hulle te getuig in hulle eie taal of in ’n taal wat hulle verstaan. Die eerste anderstalige gemeente in Noorweë is in 1986 gestig en is die Oslo- Latynse gemeente genoem omdat dit bestaan het uit Spaans- en Portugeessprekende mense, hoofsaaklik uit Latyns-Amerika. Omstreeks dieselfde tyd het party verkondigers georganiseerde getuieniswerk onder Engelssprekende mense in en om Oslo begin doen. Die verkondigers het baie belangstellendes ontmoet, veral van Afrika en Asië. Hulle het party gevind terwyl hulle straatwerk gedoen het; ander het hulle by vlugtelingsentrums ontmoet. Hulle het ook goed gebruik gemaak van telefoongidse om mense met vreemde name te vind wat moontlik Engels praat. Baie Bybelstudies is begin, en in 1990 is die Oslo- Engelse gemeente gestig.
Sedertdien het baie Noorweegse verkondigers ’n poging aangewend om ander tale te leer. Tesame met verkondigers van vreemde herkoms het hulle gehelp om groepe of gemeentes te vorm vir mense wat Arabies, Chinees, Engels, Pandjabi, Persies, Pools, Russies, Serwo-Kroaties, Spaans, Tagalog, Tamil en Tigrinya praat.
Ook in die gebaretaalveld was daar uitstekende groei. Daar is ’n paar duisend dowe mense wat Noorse Gebaretaal gebruik, en die organisasie doen baie om hulle te help. In die 1970’s het broers party vergaderinge en kring- en streekbyeenkomste in gebaretaal begin tolk, en sedertdien het etlike verkondigers gebaretaal geleer. Gebaretaalgroepe is in sekere gemeentes begin, en in 2008 is die eerste gebaretaalgemeente in Oslo gestig. Daar is landwyd omtrent 25 dowe verkondigers, wat goed gebruik maak van die publikasies wat in Noorse Gebaretaal vertaal is en op DVD beskikbaar is.
HOSPITAALSKAKELKOMITEES
Omdat Jehovah se Getuies nie bloedoortappings aanvaar nie, was dit soms vir Getuiepasiënte moeilik om die mediese behandeling te kry wat hulle nodig het en bereid is om te aanvaar. Om Getuies in sulke situasies te help en inligting oor alternatiewe behandelings te voorsien, het die organisasie in 1990 Hospitaalskakelkomitees (HSK’s) in Noorweë gestig. Van 1990 tot 2010 het die broers op die Oslo-HSK omtrent 70 vergaderinge met mediese personeel by hospitale in hulle omgewing gehou en in meer as 500 gevalle hulp verleen. Hulle ywerige pogings het hulle gehelp om talle samewerkende dokters te vind, en die mediese inligting wat die HSK’s voorsien het, het meer dokters beweeg om alternatiewe vir bloedoortappings te gebruik. Die waardevolle ondersteuning van die Pasiëntbesoekgroepe word ook grootliks waardeer deur pasiënte en hulle gesinne.
Die ondervinding van Helen, ’n jong pioniersuster, lig die waarde van die HSK-reëling toe. In 2007 het sy baie siek geword en is sy na ’n plaaslike hospitaal gestuur. Haar bloedtelling het vinnig gedaal, en die mediese personeel het druk op haar geplaas om ’n bloedoortapping te aanvaar deur te sê dat net ’n oortapping haar lewe kon red. Met die hulp van ’n lid van die HSK is sy na ’n groter en beter toegeruste hospitaal oorgeplaas. Toe Helen en haar ma daar aankom, was ’n broer van die HSK daar om hulle te ontmoet, gerus te stel en te help om die nodige versorging te kry. Die hospitaal het ingestem om Helen behandeling te gee wat die vervaardiging van rooibloedselle stimuleer. Binne ’n paar dae het haar bloedtelling gestyg, en sy was gou buite gevaar. Helen is nou weer gesond, en sy waardeer dit dat die hospitaal haar diepe oortuigings gerespekteer het. Helen en haar ma sê: “Ons sal altyd dankbaar wees dat ons kon sien hoe Jehovah se organisasie funksioneer en hoe die broers en susters ons ondersteun het en vir ons gebid het, en ons sal dit nooit vergeet nie.”
’N KWAADWILLIGE MEDIA-AANVAL
Veral tussen 1989 en 1992 was Jehovah se Getuies in Noorweë die skyf van ’n smeerveldtog en baie negatiewe publisiteit in koerante en tydskrifte asook op die radio en TV. Een van die vernaamste redes vir die teenstand was ons gehoorsaamheid aan wat die Bybel oor die behandeling van uitgesettenes sê (1 Kor. 5:9-13; 2 Joh. 10). Weens die negatiewe publisiteit is Getuies soms in die bediening, by die werk, op skool en ook deur familie sleg behandel. Hoewel Jesus se volgelinge nie verbaas is wanneer hulle gesmaad word nie, was dit nie maklik om die situasie te verduur nie.—Matt. 5:11, 12.
“Dit was ’n moeilike tyd”, verduidelik ’n broer, “maar dit het ook voordele gehad. Dit het my weer die skriftuurlike grondslag vir my oortuigings laat ondersoek. Dit was geloofversterkend om te peins oor die goeie geestelike voedsel wat ons van die getroue en verstandige slaaf ontvang. Ek dink dat ons gevolglik versterk is om toetse van ons geloof die hoof te bied.”
“Dit was aanmoedigend om die moed van die broers en susters gedurende daardie tyd te sien”, vertel ’n kringopsiener. “Ons het besef dat die beste reaksie is om selfs meer in die veldbediening te doen, insluitende straatgetuieniswerk. Gelukkig het baie Getuies positief gereageer.”
Let op hoe ’n persoon wat uitgesit was, gevoel het oor die Bybel se riglyne oor uitsetting, in teenstelling met die onskriftuurlike denke wat deur die media bevorder is. “Toe ek op 20 uitgesit is”, sê Fred, “het ek ernstig oor my lewe begin nadink. Dit was nie ’n aangename situasie nie, maar die feit dat ek uitgesit is, het ’n positiewe uitwerking gehad. Dit was asof Jehovah vir my gesê het: ‘Nou moet jy jou regruk, ou seun! As jy nie jou weë verander nie, sal dit sleg gaan met jou.’ Dit was ’n noodsaaklike les wat my my sondige weg laat vaar het. In plaas van my lewe te vul met opwinding en pret, het ek die waarheid ernstig begin opneem. Daarbenewens het party van my vriende ’n beter gesindheid ontwikkel.” Gelukkig het Fred berou getoon, sy weë verander en is hy herstel. Hy dien nou as ’n ouer man.
“GEREED VIR JEHOVAH SE DAG”
Ten spyte van wydverspreide materialisme en toenemende onverskilligheid in die veld gaan Jehovah se knegte voort om geloofversterkende geestelike bedrywighede, soos daaglikse Bybellees en die bywoning van gemeentelike vergaderinge, eerste te stel. Al hoe meer verkondigers vergroot hulle aandeel aan die bediening deur gewone pioniers te word. Een broer het talle se gevoelens uitgespreek toe hy gesê het: “As ek nie môre gereed is vir Jehovah se dag nie, sal ek nie gereed wees wanneer dit wel kom nie. Ons moet maar net aanhou voortbeur. Dit sal eendag kom.” Dit is ongetwyfeld hierdie soort gesindheid wat bygedra het tot die bestendige groei wat sedert 2001 gesien word.
’n Geestelike voorsiening wat ’n stimulerende uitwerking op die gemeentes gehad het en baie broers uitstekende teokratiese opleiding gegee het, is die Bedieningsopleidingskool (nou die Bybelskool vir Ongetroude Broers). “Die geleentheid om die Bybel agt weke lank so intensief te bestudeer”, sê een student, “het my die waarheid laat ondervind soos nog nooit tevore nie. Alles in die Bybel het vir my baie lewendiger en werkliker geword!” In die afgelope twee dekades het meer as 60 gegradueerdes hier gehelp om gemeentes te versterk en hulle tot groter bedrywigheid aan te spoor.
AS JEHOVAH SE GETUIES GROOTGEMAAK
Baie wat deur die jare heen as Jehovah se Getuies gedoop is, het Bybelwaarhede by hulle ouers geleer. Party Noorweegse verkondigers is die derde, vierde of vyfde geslag van Getuies. “Ek het al dikwels nagedink oor hoe gelukkig ek is dat ek in ’n familie gebore is wat diens aan Jehovah eerste stel”, sê Ivan Gåsodden, ’n agterkleinseun van Ingebret Andersen, die eerste Bybelstudent in Skien. “Persoonlike studie, gereelde Bybellees en goeie vriende wat dieselfde doelwitte as ek het, het my gehelp om ’n standpunt vir die waarheid in te neem.” Ivan se seuns, André en Richard, beskou ook hulle geestelike erfenis as een van hulle kosbaarste besittings.
“Ek is baie dankbaar vir hoe my lewe begin het”, sê die pionier Bente Bu, ’n kleindogter van Magnus Randal, wat op die pionierboot Ruth gedien het. “Hierdie begin in die lewe het my baie probleme gespaar, en ek wil my lewe gebruik om ander te help.”
Party wat gedurende hulle jeug ’n ruk lank geestelik swak was, het as volwassenes toegewyde Getuies van Jehovah geword. Byvoorbeeld, Thomas en Serine Fauskanger van Bergen is albei deur Christenouers grootgemaak, maar hulle geestelike vordering was stadig. Wat het hulle gehelp om hulle beskouing van die aanbidding van Jehovah te verander?
“In 2002 het ’n jong broer wat die Bedieningsopleidingskool bygewoon het, na ons gemeente gekom”, vertel Thomas. “Hy het my gehelp om by die bediening betrokke te raak en om geestelike doelwitte na te streef.”
Toe Thomas 25 was, het hy met Serine getrou, en in 2007 het hulle na Båtsfjord, Finmarke, getrek om ’n pionieregpaar te help om na die geestelike belangstelling daar om te sien. Kort daarna het Thomas en Serine ook pioniers geword. In 2009 het hulle drie maande in ontoegekende gebied deurgebring in die vissersdorpie Kjøllefjord, waar hulle en ’n paar verkondigers wat saam met hulle gegaan het, meer as 30 Bybelstudies begin het. Thomas en Serine het toe nader aan Kjøllefjord getrek om die belangstelling te help kweek. Nou ry hulle gereeld omtrent drie en ’n half uur in een rigting om belangstellendes te help. Hulle lewe is vol, maar Serine sê: “My lewe is nou ongekompliseerd en gelukkig. Ons het min besittings, maar ook min probleme.”
HULLE GAAN DIE TOEKOMS MET GELOOF IN JEHOVAH TEGEMOET
Die lewe het aansienlik verander sedert die Bybelstudent Knud P. Hammer en ander in Noorweë begin preek het. Aan die begin was Jehovah se knegte opvallend anders omdat hulle mense Bybelwaarheid geleer het in ’n godsdienstige gemeenskap wat oorheers is deur kerke wat groot invloed gehad en valse leerstellings geleer het. Deur die dekades heen was talle opregte mense verheug om van die Bybel te leer en het hulle geredelik ’n standpunt vir ware aanbidding ingeneem.
Nou het die godsdiensklimaat in Noorweë verander. Minder mense glo in God, en mense beskou dit as vermetel om te sê dat daar net een ware godsdiens is. Dit verg tyd en inspanning vir belangstellendes om Bybelkennis te verkry en hulle geloof in God en die Bybel op te bou. Dit neem dikwels langer om te leer hoe om volgens Bybelstandaarde te lewe. Nietemin trek Jehovah nog steeds opregte mense, of hulle nou in afgesonderde vissersdorpies of in moderne veelverdiepingwoonstelgeboue in dig bevolkte stede woon.—Joh. 6:44.
Soos in alle dele van die wêreld, is dit vir Jehovah se Getuies in Noorweë ’n kosbare ‘voorreg om onbevrees heilige diens te verrig’ aan die Soewereine Heer, Jehovah (Luk. 1:74). Terwyl hulle hierdie uitgestrekte gebied fynkam op soek na regverdiggesinde mense, kry hulle ’n voorskou van die ontsagwekkende, paradysagtige natuurskoon en kalmte wat die hele aarde in ooreenstemming met die Skepper se voorneme sal bedek. Tesame met hulle lojale broers en susters aardwyd sien Jehovah se aanbidders in Noorweë gretig uit na die dag wanneer God se Koninkryk Sy wil in elke uithoek van ons pragtige planeet sal laat geskied.—Dan. 2:44; Matt. 6:10.
[Lokteks op bladsy 106]
Dit het hom nie gekeer nie—hy het eenvoudig kaalvoet vergadering toe gegaan!
[Lokteks op bladsy 111]
“Ek het as ’n lid van die Pinksterkerk bed toe gegaan en as een van Jehovah se Getuies wakker geword”
[Lokteks op bladsy 122]
“Wel, ons kan nie julle geloof van julle wegneem nie”
[Lokteks op bladsy 157]
‘Nou moet jy jou regruk, ou seun! As jy nie jou weë verander nie, sal dit sleg gaan met jou’
[Venster/Prent op bladsy 90]
’n Oorsig van Noorweë
Land
Noorweë is bekend vir sy pragtige fjords en asemrowende berge, asook vir sy duisende eilande. Met uitsondering van die Spitsberge-eilandgroep halfpad tussen die vasteland en die Noordpool beslaan die land ’n gebied wat effens groter as Italië is. Hoewel Noorweë bitter koud kan word, veral in die Noordpoolgebied, hou die warm Atlantiese strome en windstelsels die grootste deel van die land matiger as ander lande wat op soortgelyke breedtes lê.
Bevolking
Die meeste van die vyfmiljoen inwoners is etniese Noorweërs, en omtrent 10 persent is immigrante. Baie van die Sami-volk (voorheen Laplanders genoem) onderhou hulle nog steeds deur middel van visvangs, jag en pelsjag, sowel as deur rendiere aan te hou.
Taal
Die amptelike taal, Noors, het twee geskrewe vorme—Bokmål (Boektaal), wat deur die meerderheid gebruik word en baie met Deens in gemeen het, en Nynorsk (Nuwe Noors).
Bestaansmiddele
Olie- en gasproduksie en vervaardigingsnywerhede is die land se vernaamste bronne van inkomste. Vis is ’n belangrike uitvoerproduk. Slegs ongeveer 3 persent van Noorweë is bewerkte land.
Voedsel
Vis, vleis, aartappels, brood en suiwelprodukte maak die grootste deel van die Noorweegse dieet uit. Fårikål (skaapvleis-en-koolbredie) is ’n welbekende tradisionele dis. As gevolg van die instroming van immigrante in onlangse jare het die dieet meer internasionaal geword.
[Venster/Prente op bladsye 95, 96]
Hy het hom in Jehovah se diens uitgestort
THEODOR SIMONSEN
GEBORE 1864
BYBELSTUDENT SEDERT 1905
PROFIEL ’n Voormalige predikant van die Vrye Sending-kerk wat ’n reisende opsiener geword het.
◼ TOE Theodor uit ons publikasies geleer het dat die leerstelling van die helse vuur strydig is met die Bybel, het hy die valse leerstelling in sy preke in die Vrye Sending-kerk begin weerlê—wat aan baie in sy gehoor groot vreugde verskaf het. Maar eendag, nadat hy ’n preek gelewer het, is hy ’n papiertjie gegee wat gesê het: “Dit was jou laaste preek by ons!”
Theodor het in 1905 sy laaste preek in die Vrye Sending-kerk gelewer, en hy het daardie selfde jaar ’n Bybelstudent geword. Daarna het hy tallose toesprake vir honderde waarderende Bybelstudente gehou. Theodor het vir sy gesin gesorg deur huise te verf, terwyl hy oor naweke gepreek en onderrig het. Met sy uitstekende Bybelkennis en die kalm, logiese manier waarop hy hom uitgedruk het, was Theodor ’n doeltreffende onderrigter. Hy het ook ’n goeie sangstem gehad en het gewoonlik sy toesprake ingelei en afgesluit deur ’n lied te sing terwyl hy hom op sy siter begelei het.
In 1919, toe sy gesinsomstandighede dit vir hom moontlik gemaak het, het hy as reisende opsiener begin dien. Hy het dit tot 1935 gedoen en het gemeentes in Noorweë, Denemarke en Swede besoek. Dit was uitputtende werk, wat ingesluit het dat hy nie net gemeentes en afgesonderde groepe moes aanmoedig nie, maar ook dat hy toesprake in dorpe moes lewer waar daar geen Bybelstudente was nie. Ter toeligting: Gedurende een reis van 12 maande moes hy 190 plekke tussen Kristiansand in die suide en Tromsø in die noorde besoek. Destyds het reisende opsieners net ’n dag of twee in die meeste plekke gebly en dan enige beskikbare vervoer gebruik om hulle volgende bestemming te bereik.
Al was daar op baie van die plekke wat hy besoek het, nie Bybelstudente nie, het baie belangstellendes opgedaag wanneer hy ’n openbare toespraak gelewer het. Byvoorbeeld, toe hy Bodø in 1922 besoek het, het hy en Anna Andersen, ’n pionier wat ook op daardie tyd daar besoek afgelê het, vir mense getuig en hulle na ’n openbare toespraak genooi. Twee van dié wat sy toespraak bygewoon het, Johan en Olea Berntsen, het besondere belangstelling getoon. Ná die toespraak het hulle Theodor en Anna na hulle huis genooi om hulle Bybelvrae te beantwoord. Gevolglik het die Berntsens die eerste Bybelstudente in Bodø geword.
Theodor is gebruik vir die meeste van die toesprake wat gedurende die 1930’s in Noors op grammofoonplate opgeneem is. Hy het getrou gedien totdat hy sy aardse loopbaan in 1955 voltooi het.
[Venster/Prent op bladsy 102]
Hy het ‘met God gewandel’
ENOK ÖMAN
GEBORE 1880
GEDOOP 1911
PROFIEL Het vanaf 1921 tot 1945 as takopsiener gedien.
◼ TOE Enok ’n jong man in Swede was, het die Bybelverslag van Henog, wat “met die ware God gewandel” het, ’n groot indruk op hom gemaak (Gen. 5:22). Enok wou doen wat sy Bybelse naamgenoot gedoen het.a Maar eers toe hy 31 jaar oud was, toe hy die eerste deel van Studies in the Scriptures gelees het, het hy meer geleer oor wat dit behels om met God te wandel. Hy is as ’n Bybelstudent gedoop en het begin pionier. Later het hy by die takkantoor in Swede gedien.
In 1917 is Enok van Swede na Noorweë gestuur om by die takkantoor te dien, en in 1921 is hy aangestel om oor die werk in Noorweë toesig te hou. Destyds was die kantoor van die Wagtoringgenootskap in een vertrek van ’n gebou waarin suster Maria Dreyer ’n woonstel sowel as ’n pedikuursalon gehad het. Nadat Enok in 1922 met Maria getrou het, het hulle haar hele woonstel vir die takkantoor gebruik. Hulle het tot Maria se dood in 1944 saam by Bethel gedien. In 1953 het Enok weer getrou en ook weer begin pionier. Enok het sy hemelse roeping altyd duidelik voor oë gehou en tot sy dood in 1975 getrou ‘met God gewandel’.
[Voetnoot]
a Enok is die Sweedse vorm van Henog.
[Venster/Prent op bladsy 110]
“Hy was ’n sonstraal”
WILHELM UHRE
GEBORE 1901
GEDOOP 1949
PROFIEL ’n Geesdriftige prediker ondanks ’n verlammende spiersiekte.
◼ WILHELM het ’n spiersiekte gehad wat sy bene verlam het en dit vir hom moeilik gemaak het om te praat. Nietemin het hy, toe hy die goeie nuus in die middel-1930’s gehoor het, ander dadelik begin vertel van die wonderlike waarhede waarvan hy geleer het. Hy het sy gemotoriseerde driewiel gebruik om aan die predikingswerk deel te neem en het gereeld na die Sortland-hawe in Vesterålen gegaan om grammofoonopnames van Bybeltoesprake te speel en lektuur te versprei. Weens Wilhelm se gestremdheid en afsondering is hy eers in 1949 gedoop. Maar hy was ’n ywerige prediker. Baie mense wat langs die kus gereis het, het die waarheid by hom geleer, en party van hulle het Jehovah se Getuies geword.
Toe Wilhelm ouer geword het, het hy in ’n verpleeginrigting in Tromsø gewoon. Met die hulp van ander verkondigers het hy aanhou getuig deur briewe te skryf. Weens sy saggeaardheid en vriendelikheid was hy ’n bron van aanmoediging vir ander, insluitende die personeel van die verpleeginrigting. Ná sy dood het die bestuurderes gesê: “Dit het ons altyd bly gemaak as ons in sy kamer ingegaan het. Hy was ’n sonstraal vanweë sy geloof.”
[Venster/Prent op bladsy 113]
Hy het sy belofte nagekom
JOHANNES KÅRSTAD
GEBORE 1903
GEDOOP 1931
PROFIEL Het agt jaar lank op pionierbote gedien.
◼ IN 1929 was Johannes in die hospitaal, waar hy van tering herstel het. Hy het die Bybel begin lees en het God belowe dat hy Hom sal dien wanneer hy van sy siekte herstel het.
Kort voordat hy ontslaan is, het Johannes party van die Bybelstudente se boeke met groot belangstelling gelees. Later het hy nog boeke gekry, wat hy almal vier of vyf keer gelees het, en kort voor lank het Johannes die nuwe waarhede wat hy geleer het, aan ander begin bekend maak. Toe Johannes ten volle herstel het, het hy sonder versuim na Bergen gegaan en broer Ringereide besoek, wat voorgestel het dat hy begin pionier. Hoewel Johannes net kort tevore begin preek het, het hy nie gehuiwer om die pionierdiens te betree nie.
Van 1931 tot 1938 het hy op die pionierboot Ester gedien en daarna omtrent ’n jaar lank op die Ruth, wat al langs die kus tot so ver noord as Tromsø gevaar het. In 1939 het Johannes ’n reisende opsiener in die oostelike deel van Noorweë geword en ook ’n tyd lank deeltyds by Bethel gewerk. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hy met Sigrid getrou en saam met haar gepionier. In 1995 het Johannes sy aardse loopbaan in Fredrikstad voltooi.
[Venster/Prent op bladsy 132]
Sy preek waar sy kan
RANDI HUSBY
GEBORE 1922
GEDOOP 1946
PROFIEL Sedert 1946 in die voltydse diens.
◼ RANDI se ouers is in 1938 as Jehovah se Getuies gedoop, en later het Randi ’n standpunt vir die waarheid ingeneem. In 1946 het sy ’n uitnodiging aanvaar om by Bethel te dien, waar sy ’n jong broer met die naam Kjell Husby ontmoet het. Sy en Kjell het ’n verhouding aangeknoop, getrou en begin pionier. Tot Kjell se dood in 2010 het hulle saam ’n geestelik ryk lewe in verskillende fasette van die voltydse diens geniet.
In onlangse jare het probleme met haar bene dit vir Randi moeilik gemaak om trappe te klim en teen steil opdraandes op te loop. Maar sy kom redelik goed reg op gelyk grond en word dikwels gesien waar sy op straat en in winkels in Trondheim getuig. Randi sorg dat sy lektuur in minstens agt tale by haar het sodat sy almal wat sy ontmoet, van die goeie nuus kan vertel. Randi se vriende in die gemeente neem haar per motor na al die mense wat gereeld die jongste tydskrifte by haar neem.
Randi het nie die krag om soveel te doen as vroeër nie. Maar sy put nog steeds vreugde en bevrediging uit haar heelhartige diens, in die wete dat Jehovah ‘nie haar werk en die liefde wat sy vir sy naam getoon het, sal vergeet nie’.—Heb. 6:10.
[Venster/Prente op bladsye 149, 150]
Hy het die hervormende krag van God se Woord ondervind
VIKTOR UGLEBAKKEN
GEBORE 1953
GEDOOP 1981
PROFIEL ’n Voormalige misdadiger wat van demoonteistering en dwelmmisbruik losgebreek het.
◼ VIKTOR het in sy jeug dagga en ander dwelms begin gebruik en het geleidelik by ’n lewe van misdaad betrokke geraak. Hy het altyd in die Bybel belanggestel, en in 1979 was hy moeg vir sy rowwe lewe en het hy gewonder of God se Woord hom kan help. Maar sy ondersoek van verskillende godsdienste het hom gefrustreerd en onvergenoeg laat voel.
Uiteindelik was Viktor baie terneergedruk en het hy dit oorweeg om selfmoord te pleeg. Toe het hy ’n brief ontvang van sy niggie in Bergen wat saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Viktor het na Bergen gegaan en by die studie aangesluit. Aan die begin het hy die Getuies probeer verkeerd bewys. Maar omdat hy nog altyd besorg was oor die omgewing, was hy bly om uit te vind dat God ‘die verderwers van die aarde gaan verderf’ en ons planeet in ’n paradys gaan omskep.—Op. 11:18.
Viktor het onmiddellik vergaderinge saam met sy niggie begin bywoon, en hy was beïndruk deur die vriendelikheid en gasvryheid wat hy by die Koninkryksaal en in die huise van die Getuies gesien het. Wat hy gehoor en gesien het, het hom oortuig dat hy sy lewe moes verander en moes ophou om dwelms te gebruik. Danksy sy volgehoue, opregte gebede het Viktor die krag van God se Woord en heilige gees ondervind.—Luk. 11:9, 13; Heb. 4:12.
Dit was nie vir Viktor maklik om vir doop te kwalifiseer nie. Slegs met Jehovah se hulp kon hy van demoonteistering losbreek en herstel nadat hy twee keer in dwelmgebruik teruggeval het. Dit het hom gehelp toe ’n ouer man hom verseker het dat ‘Jehovah barmhartigheid bewys aan dié wat hom vrees, soos ’n vader aan sy kinders barmhartigheid bewys’ (Ps. 103:13). Viktor het voortgegaan om geestelik te groei en is in 1981 gedoop. Hy moes nog tronk toe gaan vir ’n misdaad wat hy vroeër gepleeg het, maar kort nadat hy vrygelaat is, het hy begin pionier. Van toe af smaak hy die vreugde om baie ander te help om knegte van Jehovah te word. Hy is besonder suksesvol wanneer hy in tronke getuig, en twee van die gevangenes met wie hy gestudeer het, het in die waarheid gekom.
Viktor is nou ’n betroubare gesinshoof en ouer man. Hy pionier nog steeds saam met sy vrou, Tone, en hulle seun. “Die bediening is een van die dinge wat my verander het”, sê Viktor nou. “Ek is innig dankbaar teenoor Jehovah dat ek kosbare geestelike skatte aan ander kan oordra.”
[Venster/Prent op bladsy 152]
Hy wou iets beters doen
TOM FRISVOLD
GEBORE 1962
GEDOOP 1983
PROFIEL ’n Sokkerspeler wat Jehovah wou dien.
◼ TOE hy 20 was, het Tom ’n belowende loopbaan gehad as ’n sokkerspeler in een van Noorweë se beste spanne. Sy ma was reeds een van Jehovah se Getuies. Eendag het ’n jong pionier wat Tom se ma kom besoek het, vir hom ’n Bybelstudie aangebied. Tom het die aanbod aanvaar, maar het gesê dat hy glad nie van plan is om ’n Getuie te word nie.
Tom is geraak deur die hartlike verwelkoming wat hy ontvang het toe hy vergaderinge begin bywoon het. Hy het ook opgelet dat almal tydens die program die tekste naslaan. “Dit moet die Bybel wees wat hierdie mense so gaaf maak”, het Tom geredeneer.
Uiteindelik was Tom oortuig dat hy die waarheid gevind het en dat hy Jehovah wil dien. Maar hoe sou hy sy sokkerspan kon oorreed om een van hulle belowende spelers prys te gee? Verbasend genoeg het die sokkerbestuur hom van sy kontrak vrygestel nadat hy aan hulle verduidelik het dat hy sy lewe vir iets beters as sokker wil gebruik.
Tom is in 1983 gedoop en het in 1985 begin pionier. In 1987 het hy saam met Viktor Uglebakken na Hammerfest getrek om te dien waar hulp nodig was. Later is Tom as kringopsiener aangestel, en nou dien hy saam met sy vrou, Kristina, by Bethel.
Tabel/Prente op bladsye 162, 163]
TYDLYN—Noorweë
1890
1892 Knud Pederson Hammer begin in Noorweë preek.
1900
1900 Eerste gemeente word gestig.
1904 Kantoor word in Kristiania (Oslo) geopen.
1905 Eerste byeenkoms word in Kristiania gehou.
1909 en 1911 C.T. Russell besoek Noorweë.
1910
1914 Eerste reisende opsiener word aangestel.
1914-1915 “Fotodrama van die Skepping” lok groot skares.
1920
1920-1925 Die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” word landwyd gelewer.
1925 The Golden Age (Ontwaak!) word in Noors uitgegee.
1928-1940 Bote word gebruik om in kusgemeenskappe te preek.
1930
1940
1940-1945 Getuieniswerk gaan voort ondanks teenstand tydens die oorlog.
1945 Die Wagtoring word in Noors uitgegee.
1948 Eerste Gileadopgeleide sendelinge kom in die land aan.
1950
1950 Hooggeregshof handhaaf die reg om met lektuur te getuig.
1960
1965 Internasionale byeenkoms word in Oslo gehou.
1970
1980
1984 Nuwe takkantoor word toegewy.
1990
1990 Hospitaalskakelkomitees word aangestel.
1994 Byeenkomssaal word in Oslo toegewy.
1996 Volledige Nuwe Wêreld-vertaling word in Noors vrygestel.
2000
2010
2011 Nuwe hoogtepunte van gewone en hulppioniers, verkondigers en Gedenkmaalbywoners.
[Grafiek/Prent op bladsy 159]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Aantal verkondigers
Aantal pioniers
10,000
8,000
6,000
4,000
2,000
1920 1935 1950 1965 1980 1995 2010
[Kaarte op bladsy 91]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SWEDE
STOCKHOLM
Örebro
Botniese Golf
FINLAND
HELSINKI
Finse Golf
BALTIESE SEE
DENEMARKE
KOPENHAGEN
Noorweë
OSLO
Kjøllefjord
Båtsfjord
Vardø
Kirkenes
Karasjok
Hammerfest
Alta
Finmarke-plato
Kautokeino
Tromsø
Harstad
Narvik
Sortland
Hennes
Svolvær
Bodø
Rørvik
Namsos
Steinkjer
Trondheim
Kristiansand
Måløy
Florø
Bergen
Haugesund
Stavanger
Egersund
Kristiansund
Arendal
Skien
Kongsberg
Drammen
Hønefoss
Gjøvik
Lillehammer
Brumunddal
Hamar
Kongsvinger
Ski
Askim
Moss
Halden
Fredrikstad
Oslo- fjord
NOORSE SEE
NOORDSEE
Andøya-eiland
Bleik
Spitsberge- eilandgroep
Longyearbyen
PROVINSIES
Finmarke
Troms
Telemark
Vestfold
[Prent op bladsy 88]
Knud Pederson Hammer
[Prent op bladsye 88, 89]
Reine, Noord-Noorweë
[Prent op bladsy 92]
Die Skien-gemeente in 1911, met Ingebret en Berthe Andersen
[Prent op bladsy 93]
Viktor Feldt
[Prent op bladsy 94]
Hallgerd Holm (1), Theodor Simonsen (2) en Lotte Holm (3)
[Prente op bladsy 98]
Vroeë pioniers: (1) Helga Hess, (2) Andreas Øiseth, (3) Karl Gunberg, (4) Hulda Andersen en (5) Anna Andersen
[Prent op bladsy 100]
“Peoples Pulpit”
[Prent op bladsy 104]
Die Noorse “Golden Age”
[Prent op bladsy 106]
Even Gundersrud
[Prent op bladsy 107]
Lede van die Skien-gemeente het dikwels met ’n oop vragmotor in omliggende gebiede gaan getuig
[Prent op bladsy 108]
Torkel Ringereide
[Prent op bladsy 109]
Olaf Skau
[Prente op bladsy 114]
Karl Gunberg was die kaptein van die boot “Elihu”
[Prente op bladsy 115]
Johannes Kårstad het die leiding geneem op die boot “Ester”
[Prente op bladsy 116]
Andreas Hope en Magnus Randal het op die boot “Ruth” gedien
[Prent op bladsy 117]
Die aurora borealis in Noord-Noorweë
[Prent op bladsy 118]
Solveig Løvås
[Prent op bladsy 119]
Andreas en Sigrid Kvinge
[Prent op bladsy 124]
’n Geheime byeenkoms in ’n woud naby Ski
[Prent op bladsy 127]
Marvin Anderson en sy vrou, Karen
[Prent op bladsy 128]
Die voetgedrewe drukpers
[Prent op bladsy 129]
Byeenkoms in Bergen, 1946
[Prent op bladsy 130]
Svanhild Neraal, 1961
[Prent op bladsy 133]
Arnulf se boot is dikwels vir die bediening gebruik
[Prent op bladsy 135]
Gunnar Marcussen (1) en Hans Peter Hemstad (2) was die eerste studente van Noorweë wat aan Gilead gegradueer het
[Prent op bladsy 138]
Die tentkamp vir die “Woord van waarheid”- internasionale byeenkoms
[Prent op bladsy 139]
Paul Bruun
[Prent op bladsy 142]
Hartvig Mienna en ander verkondigers gebruik sneeumobiele om vir die Sami te preek
[Prent op bladsy 144]
Die bou van die takkantoor het in 1981 begin
[Prent op bladsy 145]
Die takkantoor vandag
[Prent op bladsy 147]
Oslo-Byeenkomssaal
[Prent op bladsy 160]
Bybelonderrig in die gesin het geslagte van getroue knegte van Jehovah voortgebring