Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jr hfst. 14 bl. 168-181
  • Jy kan baat vind by die nuwe verbond

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan baat vind by die nuwe verbond
  • God se woord vir ons deur Jeremia
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAAROM DIE NUWE VERBOND?
  • WAT IS DIE NUWE VERBOND?
  • BEVOORDEELDES VAN DIE NUWE VERBOND
  • HUIDIGE EN TOEKOMSTIGE SEËNINGE VAN DIE NUWE VERBOND
  • Julle sal “’n koninkryk van priesters” word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • God se nuwe verbond nader volvoering
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Groter seëninge deur middel van die nuwe verbond
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
God se woord vir ons deur Jeremia
jr hfst. 14 bl. 168-181

HOOFSTUK VEERTIEN

Jy kan baat vind by die nuwe verbond

1. Watter tweevoudige opdrag het Jeremia uitgevoer?

JEHOVAH het Jeremia ’n tweevoudige opdrag gegee. Een deel was “om uit te ruk en af te breek en te vernietig en om te gooi”. Die ander was “om te bou en te plant”. Die profeet het eersgenoemde gedoen deur die goddeloosheid van die trotse Jode bloot te lê en God se oordeel oor hulle sowel as oor Babilon bekend te maak. Tog het Jeremia se profesieë hoop vir die toekoms ingesluit. Hy het voorspel dat wat God gebou wou hê, gebou sou word en dat wat Hy geplant wou hê, geplant sou word. Jeremia het byvoorbeeld die tweede deel van sy toewysing uitgevoer toe hy die aandag op die Jode se herstel in hulle vaderland gevestig het.—Jer. 1:10; 30:17, 18.

2. Waarom het Jehovah oordeel aan sy volk voltrek, en in watter mate?

2 Die feit dat Jeremia ’n herstel verkondig het, het nie beteken dat God sy volk voor die tyd sou pamperlang of sy standaard van geregtigheid sou prysgee nie. Nee, hy sou oordeel voltrek aan die weerspannige Jode. (Lees Jeremia 16:17, 18.) In Jeremia se dag het min mense in Jerusalem “geregtigheid beoefen” of ‘getrouheid gesoek’, en Jehovah se geduld het tot ’n einde gekom. Hy het gesê: “Ek het moeg geword om spyt te voel” (Jer. 5:1; 15:6, 7). Daardie Jode “het teruggekeer tot die oortredings van hulle voorvaders, die eerstes, wat geweier het om [Jehovah se] woorde te gehoorsaam”. Verder het hulle God vertoorn met hulle owerspelige verhouding met valse gode (Jer. 11:10; 34:18). Jehovah sou sy volk teregwys, selfs tugtig, “in die regte mate”. Gevolglik sou party persone dalk tot besinning kom en tot hom terugkeer.—Jer. 30:11; 46:28.

3. Waarom moet jy die profesie oor die nuwe verbond ondersoek?

3 God het Jeremia gebruik om iets te voorspel waarvan die voordele baie omvangryker en blywender sou wees—’n nuwe verbond. In ons bespreking van Jeremia se profetiese geskrifte het ons oorgenoeg rede om te fokus op hierdie wonderlike aspek: die nuwe verbond. Dit sou die verbond vervang wat ná die uittog uit Egipte met Israel gesluit is, met Moses as die middelaar. (Lees Jeremia 31:31, 32.) Toe Jesus Christus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy van hierdie nuwe verbond gepraat, en daarom is dit beslis vir ons van belang (Luk. 22:20). Die apostel Paulus het na hierdie verbond verwys toe hy aan die Hebreërs geskryf het. Hy het Jeremia se profesie aangehaal en die belangrikheid van die nuwe verbond beklemtoon (Heb. 8:7-9). Maar presies wat is die nuwe verbond? Waarom het dit nodig geword? Wie is daarby betrokke, en hoe kan jy persoonlik daarby baat vind? Kom ons kyk.

WAAROM DIE NUWE VERBOND?

4. Wat is deur die Wetsverbond bereik?

4 Om die nuwe verbond te verstaan, moet ons eers begryp wat die doel was van die vorige een, die Wetsverbond. Dit moes ’n aantal voortreflike oogmerke bereik vir die nasie wat gewag het op ’n beloofde Saad, deur middel van wie baie geseën sou word (Gen. 22:17, 18). Toe die Israeliete die Wetsverbond aanvaar het, het hulle God se “spesiale eiendom” geword. Onder daardie verbond sou die stam Levi aan die nasie priesters voorsien. Toe Jehovah daardie volksverbond tussen hom en Israel by die berg Sinai gesluit het, het hy melding gemaak van “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie”, maar nie geopenbaar wanneer en hoe dit tot stand sou kom nie (Eks. 19:5-8). Totdat dit gebeur, het daardie verbond duidelik getoon dat die Israeliete nie die Wet in alle opsigte kon onderhou nie. Dit het dus hulle sondes openbaar gemaak. Onder die Wet moes die Israeliete derhalwe gereeld offerandes bring om hulle sondes te bedek. Maar dit was duidelik dat iets meer nodig was, ’n volmaakte offerande wat nie herhaal hoef te word nie. Ja, daar was ’n dringende behoefte aan blywende vergifnis van sonde.—Gal. 3:19-22.

5. Waarom het Jehovah die nuwe verbond voorspel?

5 Ons kan dus begin sien waarom God Jeremia, selfs terwyl die Wetsverbond nog van krag was, laat vooruitwys het na ’n ander verbond, die nuwe verbond. Weens sy liefde en goedhartigheid wou Jehovah blywende hulp vir meer as een nasie beskikbaar stel. Deur Jeremia het God aangaande dié in hierdie toekomstige verbond gesê: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie” (Jer. 31:34). Hoewel hierdie belofte in Jeremia se dag gemaak is, bied dit ’n wonderlike vooruitsig vir die hele mensdom. Hoe?

6, 7. (a) Hoe voel party oor hulle sondige toestand? (b) Waarom kan ’n bespreking van die nuwe verbond jou aanmoedig?

6 Ons is nog steeds onvolmaak en word dikwels bewus van hierdie feit. Dit word toegelig deur ’n broer wat met ’n groot persoonlike probleem geworstel het. Hy sê: “Wanneer ek teruggeval het, het ek verskriklik gevoel. Ek het gedink dat ek nooit sal kan vergoed vir wat ek gedoen het nie. Dit was vir my moeilik om te bid. Ek het gewoonlik begin deur te sê: ‘Jehovah, ek weet nie of u hierdie gebed gaan hoor nie, maar . . . ’” Party wat teruggeval het of ’n sonde gepleeg het, het gevoel asof “’n wolkmassa” verhinder dat hulle gebede God bereik (Klaagl. 3:44). Ander word jare ná ’n oortreding nog geteister deur herinneringe daaraan. Selfs Christene wat andersins voorbeeldig is, kan dinge sê waaroor hulle later spyt is.—Jak. 3:5-10.

7 Nie een van ons moet voel dat ons ons nooit aan ongepaste gedrag skuldig sal maak nie (1 Kor. 10:12). Selfs die apostel Paulus het besef dat hy gesondig het. (Lees Romeine 7:21-25.) Dit moet ons aan die nuwe verbond laat dink. Volgens God se belofte sou ’n belangrike aspek van die nuwe verbond wees dat hy nie meer aan sondes sou dink nie. Wat ’n onvergelyklike seën! Toe Jeremia dit voorspel het, moes dit hom diep geraak het, en dit kan ons eweneens diep raak wanneer ons meer oor die nuwe verbond leer en sien hoe ons daarby kan baat vind.

Waarom het God ’n nuwe verbond gesluit?

WAT IS DIE NUWE VERBOND?

8, 9. Wat het dit van Jehovah geverg om vergifnis van sonde moontlik te maak?

8 Hoe beter jy Jehovah leer ken, hoe meer besef jy hoe goedhartig en barmhartig hy teenoor onvolmaakte mense is (Ps. 103:13, 14). Toe Jeremia die nuwe verbond voorspel het, het hy die aandag daarop gevestig dat Jehovah “hulle oortreding [sal] vergewe” en nie meer aan hulle sonde sal dink nie (Jer. 31:34). Jy kan jou voorstel dat Jeremia moontlik gewonder het hoe God hierdie vergifnis sou bewerkstellig. Hy kon ten minste verstaan dat God, toe Hy van ’n nuwe verbond gepraat het, bedoel het dat daar ’n ooreenkoms, of kontrak, tussen Hom en mense sou wees. Jehovah sou op die een of ander manier deur middel van hierdie verbond bewerkstellig wat hy Jeremia geïnspireer het om oor te skryf, met inbegrip van vergifnis. Fynere besonderhede sou moes wag totdat God sy voorneme, insluitende wat die Messias sou doen, verder sou openbaar.

9 Jy het moontlik al ouers gesien wat hulle kinders bederf en hulle nie dissiplineer nie. Sou jy verwag dat Jehovah so sou wees? Beslis nie! Dit blyk duidelik uit die manier waarop die nuwe verbond van krag geword het. God het sondes nie bloot gekanselleer nie, maar het sy eie standaard van geregtigheid nougeset gehandhaaf deur die wetlike grondslag vir vergifnis van sondes te voorsien, hoewel dit ’n groot opoffering van hom geverg het. Jy kan insig hierin verkry deur te let op wat Paulus geskryf het toe hy die nuwe verbond bespreek het. (Lees Hebreërs 9:15, 22, 28.) Paulus het van ‘bevryding deur ’n losprys’ gepraat en gesê: “Tensy bloed uitgestort word, vind geen vergifnis plaas nie.” In die geval van die nuwe verbond het dit nie verwys na die offerbloed van bulle of bokke soos dié wat onder die Wet geoffer is nie. Nee, die nuwe verbond het deur Jesus se bloed van krag geword. Op grond van hierdie volmaakte offerande kon Jehovah vir altyd ‘oortreding en sonde vergewe’ (Hand. 2:38; 3:19). Maar wie sou in hierdie nuwe verbond wees en daardie vergifnis ontvang? Nie die Joodse nasie nie. Jesus het gesê dat God die Jode, dié wat diereoffers onder die Wet gebring het, sou verwerp en ’n ander nasie sou kies (Matt. 21:43; Hand. 3:13-15). Dit was “die Israel van God”, wat bestaan uit Christene wat met heilige gees gesalf is. Eenvoudig gestel, die Wetsverbond was tussen God en natuurlike Israel, terwyl die nuwe verbond tussen Jehovah God en geestelike Israel is, met Jesus as die Middelaar.—Gal. 6:16; Rom. 9:6.

Prent op bladsy 172

10. (a) Wie is die “spruit” vir Dawid? (b) Hoe kan mense by die “spruit” baat vind?

10 Jeremia het die Een wat sou kom, die Messias, beskryf as die “spruit” vir Dawid. Dit is gepas. Terwyl Jeremia nog as profeet gedien het, is Dawid se koninklike stamboom as ’t ware afgekap. Maar die stomp was nie dood nie. Later is Jesus in koning Dawid se geslagslyn gebore. Hy kon “Jehovah is ons regverdigheid” genoem word, wat beklemtoon hoe belangrik hierdie eienskap vir God is. (Lees Jeremia 23:5, 6.) Jehovah het toegelaat dat sy enigverwekte Seun lyding op die aarde verduur en sterf. Toe kon Jehovah—in ooreenstemming met geregtigheid—die waarde van die losprysoffer van die “spruit” vir Dawid as ’n grondslag vir vergifnis aanwend (Jer. 33:15). Dit het dit moontlik gemaak vir party mense om ‘vir die lewe regverdig verklaar’ en met heilige gees gesalf te word, waardeur hulle deelgenote aan die nuwe verbond word. Nog ’n bewys dat regverdigheid vir God belangrik is, is die feit dat ander wat nie regstreeks by hierdie verbond betrokke is nie, daarby kan baat vind en wel daarby baat vind, soos ons sal sien.—Rom. 5:18.

Prent op bladsy 174

“Die wet van die Christus” beweeg ’n mens om Jehovah gewillig te dien

11. (a) Waarop word die wet van die nuwe verbond geskryf? (b) Waarom stel die “ander skape” belang in die wet van die nuwe verbond?

11 Wil jy graag weet wat ander kenmerke van die nuwe verbond is? Een groot verskil tussen dié verbond en die Mosaïese Wetsverbond is waarop dit geskryf is. (Lees Jeremia 31:33.) Die Tien Gebooie van die Wetsverbond is op kliptafels geskryf, wat uiteindelik verdwyn het. Jeremia het daarenteen geprofeteer dat die wet van die nuwe verbond in menseharte geskryf sou word, en dit sou bly bestaan. Dié wat deelgenote is aan die nuwe verbond, gesalfde Christene, waardeer werklik hierdie wet. Wat van dié wat nie regstreeks by die nuwe verbond betrokke is nie, die “ander skape”, wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe? (Joh. 10:16). Hulle skep ook behae in God se wet. In sekere sin is hulle soos die inwonende vreemdelinge in Israel, wat die Mosaïese Wet aanvaar het en daarby baat gevind het.—Lev. 24:22; Num. 15:15.

12, 13. (a) Wat is die wet van die nuwe verbond? (b) Waarom sal jy nie onder “die wet van die Christus” voel dat jy gedwing word om God te dien nie?

12 Hoe sal jy antwoord as jy gevra word: ‘Wat is hierdie wet wat in die hart van gesalfde Christene geskryf word?’ Wel, hierdie wet word ook “die wet van die Christus” genoem. Dit is eers gegee aan geestelike Israeliete, dié in die nuwe verbond (Gal. 6:2; Rom. 2:28, 29). Jy kan “die wet van die Christus” saamvat in een woord: liefde (Matt. 22:36-39). Hoe kry die gesalfdes hierdie wet in hulle hart geskryf? Vername maniere is deur God se Woord te bestudeer en Jehovah in gebed te nader. Gevolglik moet hierdie aspekte van ware aanbidding deel wees van die daaglikse lewe van alle ware Christene, selfs van dié wat nie in die nuwe verbond is nie, maar wat daarby wil baat vind.

13 “Die wet van die Christus” word ook “die volmaakte wet wat tot vryheid behoort” en “die wet van ’n vry volk” genoem (Jak. 1:25; 2:12). Baie is onder die Mosaïese Wet gebore, maar niemand word in die nuwe verbond of onder die wet van die Christus gebore nie. Niemand wat aan die wet van die Christus gehoorsaam word, word gedwing om God te dien nie. Hulle is eerder verheug om te weet dat God se wet in harte geskryf kan word en dat die blywende voordele van die verbond wat deur Jeremia voorspel is, vandag vir mense beskikbaar is.

Hoe het God vergifnis moontlik gemaak deur middel van die nuwe verbond? Hoe kan jy leer van die wet wat in harte geskryf word?

BEVOORDEELDES VAN DIE NUWE VERBOND

14. Wie vind beslis by die nuwe verbond baat?

14 Toe hulle geleer het dat die 144 000 in die nuwe verbond is, het party dalk gedink dat net dié groep daarby baat vind. Hulle het miskien so gedink omdat net gesalfdes van die embleme mag gebruik by die jaarlikse Herdenking van Christus se dood, waar die wyn die “bloed van die verbond” voorstel (Mark. 14:24). Maar onthou, dié in die nuwe verbond sal as die “saad” van Abraham, deur middel waarvan al die nasies geseën sal word, deelgenote met Jesus wees (Gal. 3:8, 9, 29; Gen. 12:3). Deur middel van die nuwe verbond sal Jehovah op die een of ander wyse sy belofte vervul om die hele mensdom deur middel van Abraham se “saad” te seën.

15. Watter rol is vir die gesalfdes voorspel?

15 Jesus Christus, die primêre deel van die saad van Abraham, dien as Hoëpriester, en hy het die volmaakte offerande voorsien wat vergifnis van oortreding en sonde moontlik maak. (Lees Hebreërs 2:17, 18.) Maar God het lank gelede vooruitgewys na “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” (Eks. 19:6). In natuurlike Israel het die priesters uit een stam en die konings uit ’n ander stam gekom. Hoe sou hierdie beloofde nasie van koning-priesters dan tot stand kom? Die apostel Petrus het sy eerste brief gerig aan dié wat deur die gees geheilig is (1 Pet. 1:1, 2). Hy het na hulle verwys as “’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit” (1 Pet. 2:9). Gesalfde Christene in die nuwe verbond sal dus as onderpriesters dien. Dink aan wat dit beteken! Ons stry elke dag teen die invloed van sonde, wat nog steeds ‘as koning heers’. Dié wat as onderpriesters dien, sou dit ook ondervind het (Rom. 5:21). Hulle sal weet hoe dit voel om foute te begaan en met skuldgevoelens te worstel. Tesame met Christus sal hulle dus met ons kan simpatiseer terwyl ons sondige neigings te bowe kom.

16. Watter aanmoediging kan die “groot menigte” uit Openbaring 7:9, 14 put?

16 Volgens Openbaring 7:9, 14 is die “groot menigte . . . geklee in wit klere”, wat dui op ’n rein posisie voor God. Hierdie groot menigte word nou gevorm om die vooruitsig te hê om “die groot verdrukking” te oorleef. Hulle verkry dus nou reeds in sekere sin ’n regverdige posisie voor God. Hulle word regverdig verklaar as Jehovah se vriende (Rom. 4:2, 3; Jak. 2:23). Wat ’n seën is dit tog! As jy deel van die groot menigte is, kan jy seker wees dat God bereid is om jou te help terwyl jy daarna streef om in sy oë rein te bly.

17. In watter sin “dink” Jehovah nie meer aan sondes nie?

17 Wat word van die sondes van dié wat God se guns geniet? Soos vroeër gemeld is, het Jehovah deur middel van Jeremia gesê: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie” (Jer. 31:34). God doen dit vir die gesalfdes op grond van Jesus se offerande. God kan eweneens die sondes van die groot menigte op grond van dieselfde “bloed van die verbond” vergewe. Jeremia se verklaring dat God nie meer aan sondes sal “dink” nie, gee nie te kenne dat Hy die sondes eenvoudig nie sal kan onthou nie. Dit dui eerder daarop dat Jehovah, wanneer hy die nodige dissipline gegee en ’n berouvolle sondaar vergewe het, daardie sonde van die verlede agter Hom werp. Dink aan die sondes wat koning Dawid met betrekking tot Batseba en Uria gepleeg het. Dawid het dissipline ontvang en het die gevolge van sy sondes gedra (2 Sam. 11:4, 15, 27; 12:9-14; Jes. 38:17). Maar God het Dawid nie vir altyd vir daardie sondes aanspreeklik gehou nie. (Lees 2 Kronieke 7:17, 18.) Soos in die nuwe verbond getoon word, dink Jehovah nie meer aan sondes wat hy op grond van Jesus se offerande vergewe het nie.—Eseg. 18:21, 22.

18, 19. Watter les oor vergifnis bevat die nuwe verbond?

18 Die nuwe verbond vestig gevolglik die aandag op ’n wonderlike aspek van Jehovah se handelinge met sondige mense—die gesalfdes, wat in die nuwe verbond is, sowel as dié wat ’n aardse hoop het. Jy kan die vertroue hê dat Jehovah jou sondes wat hy vergewe het, nie weer sal ophaal nie. God se belofte omtrent die nuwe verbond bevat dus ’n les vir elkeen van ons. Vra jou af: ‘Probeer ek Jehovah navolg deur die oortredings van ander, wat ek reeds gesê het ek vergewe het, nie weer op te haal nie?’ (Matt. 6:14, 15). Dit is van toepassing op klein sowel as baie ernstige oortredings, soos wanneer ’n Christeneggenoot gesondig het deur egbreuk te pleeg. As die onskuldige maat instem om die berouvolle egbreker te vergewe, is dit dan nie net reg om ‘nie meer aan die sonde te dink nie’? Dit is miskien nie maklik om oortredings as ’t ware te vergeet nie, maar dit is een manier waarop ons Jehovah kan navolg.a

19 Ons kan hierdie les in verband met die nuwe verbond selfs toepas ten opsigte van iemand wat vroeër uitgesit is, maar wat berou getoon het en herstel is. Sê nou daardie persoon het jou ’n verlies laat ly of jou op die een of ander manier belaster? Nou is hy teruggeneem in die gemeente. Hoe sal wat ons in Jeremia 31:34 lees, ons persoonlike denke en reaksie beïnvloed? Sal ons die oortreder vergewe en nie aanhou om die onreg op te haal nie? (2 Kor. 2:6-8). Dit is beslis iets wat almal wat die nuwe verbond waardeer, in hulle lewe moet probeer toepas.

Hoe kan jy ’n les oor vergifnis toepas wat deur die nuwe verbond toegelig word?

HUIDIGE EN TOEKOMSTIGE SEËNINGE VAN DIE NUWE VERBOND

20. Hoe verskil jou gesindheid van dié van baie in Jeremia se dag?

20 In Jeremia se dag het baie Jode as ’t ware gesê: “Jehovah sal geen goed doen nie en hy sal geen kwaad doen nie” (Sef. 1:12). Hoewel hulle ’n mate van kennis gehad het oor wie Jehovah is en watter soort persoon hy is, het hulle gedink dat hy nie sou optree nie; en ook dat hy nie van hulle sou verwag om aan enige standaarde te voldoen nie. Jy weet egter dat niks God se aandag ontgaan nie. Jy het ’n eerbiedige vrees vir God en wil beslis nie doen wat sleg is nie (Jer. 16:17). Terselfdertyd weet jy dat Jehovah ’n welwillende Vader is. Hy let op ons goeie dade, of ander dit sien of nie.—2 Kron. 16:9.

Prent op bladsy 179

Diegene wat God getrou gedien het, sal sy toekomstige seëninge geniet

21, 22. Waarom hoef daar nie meer vir jou gesê te word: “Ken Jehovah” nie?

21 ’n Betekenisvolle aspek van die nuwe verbond is die volgende: “Ek sal my wet in hulle binneste sit, en in hulle hart sal ek dit skryf. En ek sal hulle God word . . . En hulle sal nie meer elkeen sy metgesel en elkeen sy broer leer en sê: ‘Ken Jehovah!’ nie, want hulle almal sal my ken” (Jer. 31:33, 34). Die gesalfdes wat vandag op die aarde is, het getoon dat hulle God se wet in hulle binneste het. Hulle is lief vir die waarhede wat dit bevat en vertrou nie op die leringe van enige mens nie. En hulle het Bybelkennis met vreugde oorgedra aan dié wat die groot menigte uitmaak. Gevolglik het dié met ’n aardse hoop Jehovah ook leer ken en liefkry. Hulle onderwerp hulle gewillig aan sy leiding en vertrou op sy beloftes. Jy beantwoord waarskynlik aan hierdie beskrywing. Jy ken hom as ’n Persoon en het ’n persoonlike verhouding met hom. Wat ’n seën is dit tog!

22 Hoe het jy jou verhouding met Jehovah versterk? Jy onthou ongetwyfeld geleenthede toe jy gevoel het dat hy jou gebede verhoor het. Deur middel van sulke ondervindinge het jy jou waardering vergroot vir die soort God wat hy is. Jy was moontlik bewus van sy hulp toe jy ’n teks onthou het wat jou gehelp het om teëspoed te verduur. Koester sulke ondervindinge. As jy voortgaan om sy Woord te bestudeer, sal jou kennis van hom steeds toeneem—’n volgehoue seën.

23. Hoe kan dit jou van onnodige kwelgedagtes bevry as jy Jehovah ken?

23 Maar daar is nog ’n seën in verband met die nuwe verbond wat ons nou kan geniet. As ons Jehovah ken as die een wat vergifnis in ooreenstemming met hierdie verbond skenk, kan dit ons van knaende skuldgevoelens bevry. Byvoorbeeld, party wat ’n aborsie ondergaan het voordat hulle geweet het wat God se standaard is, voel dalk skuldig en bedroef omdat hulle die lewe van ’n ontwikkelende mens opsetlik beëindig het. Ander voel so omdat hulle lewens geneem het terwyl hulle aan oorlog deelgeneem het. Jesus se losprysoffer—die grondslag vir die nuwe verbond—maak vergifnis moontlik vir waarlik berouvolle persone. Moet ons dan nie oortuig wees dat Jehovah, as hy ons sondes vergewe het, die saak as afgehandel beskou nie? Ons hoef nie te tob oor die sondes wat Jehovah mildelik vergewe het nie.

24. Watter aanmoediging kan jy uit die verslag in Jeremia 31:20 put?

24 Ons vind treffende bewys van God se vergifnis in Jeremia 31:20. (Lees.) Dekades voor Jeremia se dag het Jehovah die noordelike tienstammeryk van Israel (wat voorgestel is deur Efraim, die vernaamste stam) weens hulle afgodediens gestraf. Hulle is in ballingskap weggevoer. Maar God was innig geheg aan die mense van daardie nasie en het tere geneentheid aan hulle betoon. Hy het hulle nog steeds as “’n lieflingskind” gekoester. Wanneer hy aan hulle gedink het, het sy ingewande “onstuimig geraak”, wat beteken dat sy diepste gevoelens geraak is. Hierdie verslag, wat in die konteks van die nuwe verbond voorkom, toon hoe groothartig Jehovah is teenoor dié wat berou het oor wangedrag van die verlede.

25. Waarom kan jy dankbaar teenoor Jehovah wees vir die nuwe verbond?

25 Jehovah se belofte om sondes deur middel van die nuwe verbond te vergewe, sal aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy ten volle vervul word. Jesus Christus, tesame met die 144 000 onderpriesters, sal lojale mense tot volmaaktheid herstel het. Ná die finale toets sal mense dan volwaardige lede van Jehovah se universele gesin wees. (Lees Romeine 8:19-22.) Almal kreun al eeue lank onder die las van sonde. Maar Jehovah se menseskepping sal dan “die glorieryke vryheid van die kinders van God” hê, vryheid van sonde en die dood. Wees dus verseker dat jy deur die liefdevolle reëling van die nuwe verbond oorvloedige voordele kan verkry. Jy kan nou en vir ewig by die “spruit” vir Dawid baat vind en “regverdigheid in die land” geniet.—Jer. 33:15.

Hoe kan jy nou en in die toekoms by die nuwe verbond baat vind?

a God se bereidwilligheid om te vergewe, word toegelig deur Hosea se optrede met betrekking tot Gomer. Sien die kommentare oor Hosea 2:14-16 in Lewe met Jehovah se dag in gedagte, bladsye 128-130.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel