’n Boek wat gelees moet word
“Die Bybel moet nie ernstig opgeneem word nie.” Dit is wat ’n universiteitsprofessor vir ’n opregte jong vrou gesê het.
“Het u al ooit die Bybel gelees?” het sy gevra.
Die professor was uit die veld geslaan en moes erken dat hy dit nog nooit gedoen het nie.
“Hoe kan u dan ’n sterk oortuiging uitspreek oor ’n boek wat u nog nooit gelees het nie?”
Dit was ’n goeie argument. Hy het besluit om die Bybel te lees en daarna ’n mening daaromtrent te vorm.
DIE Bybel, wat uit 66 geskrifte bestaan, is al beskryf as “seker die invloedrykste versameling boeke in die mensegeskiedenis”.1 Dit het inderdaad ’n groot invloed op van die wêreld se grootste kuns, literatuur en musiek. Dit het ’n betekenisvolle uitwerking op die regswetenskap gehad. Dit is geprys vir sy letterkundige styl, en talle hooggeleerdes heg groot waarde daaraan. Dit het ’n besonder diepgaande uitwerking op die lewe van mense op elke vlak van die samelewing. Dit het baie van sy lesers met buitengewone lojaliteit besiel. Party het selfs hulle lewe gewaag net om dit te lees.
Terselfdertyd is daar skeptisisme oor die Bybel. Daar is mense met besliste menings daaromtrent, hoewel hulle dit self nog nooit gelees het nie. Hulle erken moontlik die letterkundige en geskiedkundige waarde daarvan, maar hulle wonder: Hoe kan ’n boek wat duisende jare gelede geskryf is nog in hierdie moderne wêreld van toepassing wees? Ons lewe in die “inligtingseeu”. Die allerjongste inligting oor huidige gebeure en tegnologie is geredelik beskikbaar. “Deskundige” advies oor feitlik alle uitdagings van die moderne lewe is maklik bekombaar. Kan die Bybel werklik inligting bevat wat vandag prakties is?
Hierdie brosjure sal sulke vrae probeer beantwoord. Dit is nie bedoel om godsdiensopvattings of -oortuigings aan jou op te dwing nie, maar die doel daarvan is om te toon dat hierdie boek, die Bybel, wat deur die geskiedenis heen so invloedryk was jou aandag verdien. Volgens ’n verslag wat in 1994 uitgegee is, is party opvoeders vas oortuig dat die Bybel so stewig in die Westerse kultuur gevestig is dat “enigiemand, gelowige of ongelowige, wat nie met Bybelse leringe en verslae bekend is nie kultureel ongeletterd is”.2
Miskien sal jy, nadat jy gelees het wat hierin geskryf staan, saamstem dat—of ’n mens nou godsdienstig is of nie—die Bybel op sy allerminste ’n boek is wat gelees moet word.
[Venster/Prent op bladsy 3]
“Ek het my verligting eenvoudig te danke aan die lees van ’n boek.—’n Boek? Ja, en dit is ’n ou, eenvoudige boek, so beskeie en so ongekunsteld soos die natuur self . . . En die naam van hierdie boek is heel eenvoudig die boek, die Bybel.”—Heinrich Heine, 19de-eeuse Duitse skrywer.3