Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 1/15 bl. 8-9
  • Jehovah vervul sy beloftes!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah vervul sy beloftes!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ballinge word bevry
  • Die herstelwerk word teengestaan
  • Die tempel word voltooi
  • Esra keer terug
  • Die nasie word gereinig
  • Glanspunte uit die boek Esra
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Bybelboek nommer 15—Esra
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Jy kan vol vertroue bly gedurende moeilike tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Esra het God se Wet aan ander geleer
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 1/15 bl. 8-9

Bybelglanspunte Esra 1:1–10:44

Jehovah vervul sy beloftes!

Bevryding! Herstelling! Hoe verblydend moes hierdie nuus tog nie vir die Joodse ballinge in Babilon gewees het nie! Getrou aan God se belofte, en na 70 jaar van gevangenskap, sou die Jode nou in hul vaderland herstel word (Jeremia 25:12; Jesaja 44:28–45:7). Bowendien sou die voorwerpe wat uit Jehovah se tempel verwyder is na hulle regmatige plek teruggeneem word. Watter vreugde!

Die Bybelboek Esra begin met hierdie opwindende gebeurtenisse. Die boek, wat omstreeks 460 v.G.J. deur die kopiïs Esra in Jerusalem geskryf is, dek sowat 70 jaar, van die Jode se vrylating tot die voltooiing van die tweede tempel en die reiniging van die priesterdom (537 tot c. 467 v.G.J.). Die manier waarop Jehovah sy beloftes vervul, word beklemtoon. Die boek bevat ook waardevolle lesse vir Jehovah se Getuies vandag.

Die ballinge word bevry

Lees asseblief Esra 1:1–3:6. Jehovah wek die gees van Persiese koning Kores op sodat hy ’n oproep laat uitgaan: Die tempel in Jerusalem sal herbou en Jehovah se aanbidding aldaar herstel word! Alle Israeliete kan ’n deel daaraan hê. Die wat kan, mag na hulle vaderland terugkeer om met die herbouingswerk te help. Ander word aangespoor om mildelik by te dra tot die projek. Die voorwerpe van die oorspronklike tempel, wat deur Nebukadnesar na Babilon weggevoer is, sal terugbesorg word. Onder die leiding van Serubbabel onderneem byna 50 000 die reis van bykans 1 600 kilometer terug na Jerusalem. Hulle herbou die heilige altaar en offer brandoffers aan Jehovah op. Daarna, in die noordelike herfs van 537 v.G.J., vier hulle die huttefees. Die voorspelde 70 jaar waartydens die land woes sou lê, eindig presies op tyd!​—Jeremia 25:11; 29:10.

♦ 1:3-6​—Was die Israeliete wat in Babilon agtergebly het ontrou?

Nie noodwendig nie, ofskoon materialisme en ’n gebrek aan waardering in sommige gevalle faktore kon gewees het. Kores se bevel het nie vereis dat almal terugkeer nie, maar het dit aan elkeen oorgelaat om self te besluit. Omstandighede soos bejaardheid, slegte gesondheid of gesinsverantwoordelikhede kon dit vir sommige onmoontlik gemaak het om die reis mee te maak. Maar hulle moes ondersteuning gee aan die wat kon terugkeer.

♦ 1:8​—Wie was Sesbassar?

Dit was heel waarskynlik ’n amptelike Galdeeuse naam wat aan Serubbabel gegee is. (Vergelyk Daniël 1:7.) Wat op een plek aan Sesbassar toegeskryf word, word elders aan Serubbabel toegeskryf (Esra 5:16; Sagaria 4:9). Albei ontvang die titel “goewerneur” (Esra 5:14; Haggai 2:21). En Esra 2:2 en 3:1, 2 dui aan dat Serubbabel die terugkerende ballinge gelei het; die naam Sesbassar word dus tereg nie gemeld nie.

♦ 2:61-63​—Wat was die Urim en die Tummim?

Dit was vermoedelik die heilige lot wat gebruik is wanneer Jehovah se antwoord op ’n vraag verlang is. Volgens Joodse tradisie het dit verdwyn toe die tempel in 607 v.G.J. vernietig is. Dit word gestaaf deur die feit dat aanspraakmakers op priesterlike afkoms nie toegelaat is om as priesters te dien en om van die heilige gawes te eet nie “totdat ’n priester sou optree met Urim en Tummim”. Maar daar is geen verslag van die gebruik daarvan op daardie tydstip of daarna nie.

Les vir ons: Daar bestaan vandag onder Jehovah se Getuies ’n situasie wat soortgelyk is aan dié van die Joodse ballinge. Nie almal kan aan die voltydse bediening deelneem of hulle woonplekke verlaat om te gaan dien waar meer hulp nodig is nie. Hulle doen nietemin alles in hulle vermoë om die belange van reine aanbidding te bevorder deur vrywillige bydraes te maak en aanmoediging te gee aan die wat hulle diens kan uitbrei.

Die herstelwerk word teengestaan

Lees 3:7-4:24. Die Jode wat teruggekeer het, lê met blydskap die fondamente van Jehovah se huis. Maar jare lank probeer teenstanders om die tempelbouers te ontmoedig. Hierdie vyande slaag uiteindelik daarin om die koning daarvan te oortuig dat die Jode ’n “rebelse en slegte stad” herbou, en die werk word deur ’n koninklike bevel verbied. Die verbod duur “tot op die tweede jaar van die regering van Darius, die koning van Persië”.

♦ 3:12​—Waarom het hierdie manne gehuil?

Hierdie hoogbejaarde manne kon onthou hoe luisterryk die goddelik ontwerpte tempel van Salomo was. Wat nou voor hulle oë gelê het​—die blote fondament—​was niks in vergelyking daarmee nie. Hulle was waarskynlik mismoedig en het getwyfel of hulle pogings die voormalige glorie sou herstel.​—Haggai 2:2, 3.

♦ 4:1-3​—Waarom is die aanbod van hulp van die hand gewys?

Hierdie nie-Jode, wat deur die koning van Assirië ingebring is om die land te herbevolk, was nie ware aanbidders van God nie (2 Konings 17:33, 41). As hulle hulp aanvaar is, sou dit ’n besoedeling van ware aanbidding beteken het, en Jehovah het sy volk uitdruklik teen sulke geloofsvermenging gewaarsku (Exodus 20:5; 34:12). Die verslag noem hierdie nie-Jode boonop “teëstanders”.

Les vir ons: Wanneer mense ons vyandig gesind is omdat ons God dien, moet ons die destydse Jode navolg wat onmiddellik “soos een man” byeengekom het vir aanbidding. Omdat hulle op Jehovah vertrou en sy aanbidding eerste gestel het, is hulle versterk om die toegewese taak te voltooi.​—Esra 3:1-12.

Die tempel word voltooi

Lees 5:1-6:22. Onder aansporing van die profete Haggai en Sagaria word die bouwerk met hernieude ywer voortgesit. Omdat hulle dit nie kan keer nie, kla die teenstanders weer. Koning Darius stel ondersoek in en vind Kores se oorspronklike bevel. Die teenstanders word nie alleen aangesê om hulle opposisie te staak nie, maar hulle word ook beveel om materieel te help! Met volgehoue aansporing van Jehovah se profete word die tempel in 515 v.G.J. voltooi en daarna ingewy. Met blydskap word dit toegewy aan God, wie se beloftes vervul is!

♦ 5:5​—Waarom het die teenstanders nie die bouwerk verhinder nie?

Jehovah se wakende oog was oor sy getroue knegte (2 Kronieke 16:9). Die oudstes is deur God se gees versterk en hulle het hulle nie laat intimideer nie. Hulle het hul beroep op die langvergete bevel van Kores. Aangesien Persiese wet onherroeplik was, was die teenstanders bang om ’n koninklike bevel teen te gaan (Daniël 6:9, 16). Jehovah se leiding was duidelik, en die werk het voortgegaan.

♦ 6:21​—Wie het hulle “van die onreinheid van die nasies” afgesonder?

Dit kon proseliete gewees het wat saam met die Jode teruggekeer het, Samaritane wat destyds die land bewoon het of selfs teruggekeerde Jode wat deur heidense invloede verderf is. (Vergelyk Esra 9:1.) Die vooruitgang van Jehovah se reine aanbidding in Jerusalem het hulle skynbaar beweeg om die nodige veranderinge in hulle lewens aan te bring.

Les vir ons: Christen- ouere manne moet vandag ook Jehovah se leiding soek. Hy gee die nodige insig wanneer ons voor teenstanders te staan kom.​—Psalm 32:8.

Esra keer terug

Lees 7:1–8:36. Tyd verloop. In 468 v.G.J. staan koning Artasasta aan Esra “al sy begeertes” toe, wat dit vir hom moontlik maak om hulp te verleen in Jerusalem. Die koningsbevel moedig alle gewillige Jode aan om saam met hom terug te keer, en die koning gee silwer en goud vir al die benodigdhede by die huis van Jehovah. Esra word gemagtig om owerhede en regters aan te stel, wat die wet van sowel Jehovah as die koning sal toepas. Met vertroue op God se ondersteuning versterk Esra hom en pak hy die gevaarlike reis aan. Hy vra nie ’n gewapende geleide nie, uit vrees dat dit as ’n gebrek aan geloof in Jehovah se beskerming beskou sal word. Met God se ondersteuning bereik die Jode veilig hulle bestemming.

♦ 7:1, 7, 11​—Wie was hierdie Artasasta?

Dit was die Persiese koning Artaxerxes I (Longimanus). In sy 20ste jaar het hy Nehemia toestemming gegee om na Jerusalem terug te keer en die stad se mure en poorte te herbou (Nehemia 2:1-8). Volgens eertydse geskiedskrywers het hierdie Artasasta ’n merendeels vriendelike en ruimhartige geaardheid gehad. Weens sy groot skenking word hy in Esra 6:14 ingesluit as een wie se bevele bygedra het tot die voltooiing van die tempel, hoewel die bouwerk sowat 47 jaar tevore reeds voltooi is. Hy is nie dieselfde Artasasta wat die bouwerk stopgesit het nie (Esra 4:7-23). Dit was Gaumata, wat slegs agt maande geregeer het, in 522 v.G.J. “Artasasta” was blykbaar ’n troonnaam of -titel.

Les vir ons: Esra het ’n goeie voorbeeld vir Jehovah se hedendaagse knegte gestel. As ’n vaardige kopiïs wat God se Woord ywerig bestudeer het, het hy al die eer aan die Allerhoogste gegee en was hy meer besorg oor die verheerliking van Jehovah as oor sy eie veiligheid.​—Esra 7:27, 28; 8:21-23.

Die nasie word gereinig

Lees 9:1–10:44. Esra verneem gou dat baie “hulle nie afgesonder [het] van die volke van die lande, wat hulle gruwels betref nie”. Die Jode, waaronder priesters en Leviete, het met heidense Kanaäniete ondertrou. Esra is verstom. Hy lê die saak in gebed aan Jehovah voor en bely berouvol die nasie se sondes. Onder sy leiding bekeer die volk hulle en stem hulle in om hulle vreemde vroue weg te stuur. Die onreinheid word binne sowat drie maande verwyder.

♦ 9:2​—Waarom was sulke ondertrouery ’n sonde?

Dit was ’n bedreiging vir die herstel van ware aanbidding (Deuteronomium 7:3, 4). Hierdie vroue was ongelowig en het afgode aanbid. Ondertrouery met hulle kon uiteindelik daartoe gelei het dat hulle deur die omliggende heidennasies verswelg word, en ware aanbidding kon van die aarde af verdwyn het.

♦ 10:3, 44​—Waarom is die kinders ook weggestuur?

Klein kindertjies het gewoonlik hulle moeders nodig. Bowendien het die gevaar bestaan dat die vroue later, deur die invloed van die kinders, kon terugkeer. Reine aanbidding van Jehovah moes die voorrang geniet.

Les vir ons: Soos getroue Jode van Esra se tyd bly Jehovah se Getuies by God se standaard vir die huwelik. Hulle besef dat hulle “net in die Here” moet trou.​—1 Korinthiërs 7:39.

Jehovah het sy belofte gehou om ware aanbidding in eertydse Jerusalem te herstel. Hy sal eweneens sy belofte vervul deur toe te sien dat sy suiwere aanbidding aardwyd beoefen word (Habakuk 2:14). Sal jy onder sy aanbidders wees wanneer die groot Beloftehouer vrede en geluk op hierdie aarde bewerkstellig?​—Psalm 37:10, 11; Openbaring 21:3, 4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel