Waarmee is God besig?
“Waarom, o Jehovah, bly u ver weg staan? Waarom hou u u verborge in tye van benoudheid?”a—PSALM 10:1.
’N VINNIGE kykie na nuusopskrifte bevestig dat ons in “tye van benoudheid” lewe. En wanneer ’n tragedie ons tref—wanneer ons persoonlik geraak word deur misdaad, ’n ernstige ongeluk of die dood van ’n geliefde—vra ons moontlik: Sien God dit? Gee hy om? Bestaan hy selfs?
Maar het jy al daaraan gedink dat die verwagtinge wat ons van God het, moontlik op ’n foutiewe aanname gegrond is? Ter toeligting: Stel jou ’n kindjie voor wat ontsteld is omdat sy pa werk toe gegaan het. Die kind verlang na sy pa en wens dat hy huis toe sal kom. Die kind voel verlate. Deur die loop van die dag vra hy herhaaldelik: “Waar is Pappa?”
Ons kan maklik die fout in die kind se denke sien. Op daardie oomblik is sy pa immers besig om te werk sodat hy in die hele gesin se behoeftes kan voorsien. Is ons denke miskien dan ook foutief wanneer ons uitroep: “Waar is God”?
Party wil byvoorbeeld hê dat God ’n skerpregter moet wees, wie se hoofdoel dit is om diegene wat ’n misdaad pleeg, dadelik te straf. Ander beskou God bloot as ’n hemelse Kersvader, wat geskenke—’n werk, ’n eggenoot of selfs ’n loterykaartjie met ’n wennommer—moet uitdeel.
Albei hierdie beskouings berus op die aanname dat God ongevoelig teenoor ons lyding en onbewus van ons behoeftes is as hy nie onmiddellik geregtigheid laat geskied of as hy ons nie gee waarvoor ons vra nie. Maar niks kan verder van die waarheid wees nie! Die feit is dat Jehovah God nou besig is om in die behoeftes van die hele mensdom te voorsien, al is dit nie op die manier waarvoor baie mense vra nie.
Waarmee is God dan besig? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons teruggaan na die begin van die mensegeskiedenis, toe die mensdom se verhouding met God ernstig geskaad is—maar nie so ernstig dat dit nie herstel kan word nie.
Die skadelike uitwerking van sonde
Stel jou ’n huis voor wat baie jare lank verwaarloos is. Die dak het ingeval, die deure het van hulle skarniere afgekom en die buitekant is geskend. Die huis was vroeër in ’n goeie toestand—maar dit is nie meer nie. Met die oog op die omvang van die skade sal dit nie maklik wees om dit te herstel nie; dit sal nie oornag gebeur nie.
Dink nou aan die skade wat sowat 6 000 jaar gelede aan die mensdom aangerig is toe ’n onsigbare geesskepsel, Satan, Adam en Eva oorgehaal het om teen God in opstand te kom. Voor hierdie gebeurtenis het die eerste mensepaar volmaakte gesondheid geniet met die vooruitsig om vir ewig saam met toekomstige geslagte van hulle nakomelinge te lewe (Genesis 1:28). Maar toe hulle gesondig het, was dit asof Adam en Eva die mensdom wat nog gebore moes word, geskend het.
Moenie die skadelike gevolge van daardie opstand onderskat nie. Die Bybel sê: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde’ (Romeine 5:12). Behalwe dat sonde die dood meegebring het, het dit ook ons verhouding met ons Skepper geskaad en ons liggaamlike, verstandelike en emosionele skade berokken. Gevolglik is ons toestand soortgelyk aan dié van ’n bouvallige huis. Die regverdige man Job het ons situasie realisties opgesom toe hy die mens beskryf het as “kort van dae en sat van onrus”.—Job 14:1, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.
Maar het God die mensdom aan hulle lot oorgelaat nadat Adam en Eva gesondig het? Glad nie! Trouens, ons hemelse Vader werk van daardie tyd af tot nou toe ten behoewe van die mensdom. Om ’n beter begrip te kry van wat hy vir ons doen, kom ons kyk na drie stappe wat nodig is om ’n huis te herstel en hoe elke stap verband hou met wat God gedoen het om die mensdom te herstel.
1 Nadat die eienaar die beskadigde huis ondersoek het, moet hy besluit of hy dit gaan herstel of dit gaan sloop.
Onmiddellik ná die opstand in Eden het Jehovah God sy voorneme om die mensdom te herstel, bekend gemaak. Hy het vir die onsigbare geesskepsel wat die oorsaak van die opstand was, gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond.”—Genesis 3:15.
Met hierdie woorde het Jehovah belowe om die aanstigter van die opstand in Eden te vernietig (Romeine 16:20; Openbaring 12:9). Verder het Jehovah voorspel dat ’n toekomstige “saad” die mensdom van sonde sou loskoop (1 Johannes 3:8).b Hierdie beloftes het ’n lewensbelangrike waarheid bekend gemaak: God sou sy skepping herstel, nie vernietig nie. Maar om die mensdom te herstel, sou tyd neem.
2 ’n Argitek berei ’n bloudruk voor wat duidelik uiteensit wat die herstelwerk sal bereik.
Jehovah God het die Israeliete ’n stel wette gegee en ’n tempel ontwerp waar hulle hom moes aanbid. Die Bybel sê: “Dié dinge is ’n skaduwee van die toekomstige dinge” (Kolossense 2:17). Soos ’n bloudruk het dit iets groters verteenwoordig.
Die Israeliete het byvoorbeeld diereoffers gebring om vergifnis van hulle sondes te ontvang (Levitikus 17:11). Hierdie gebruik het ’n groter offerande wat eeue later gebring sou word, voorafgeskadu—’n offerande wat die mensdom ware verlossing sou bied.c Die uitleg van die tabernakel en tempel waar die Israeliete aanbid het, was ’n voorafskaduwing van die stappe wat die toekomstige Messias sou doen, van sy offerdood tot sy hemelvaart.—Sien die illustrasie op bladsy 7.
3 ’n Bouer word gekies wat die bloudruk sal volg en die herstelwerk sal doen.
Jesus was die beloofde Messias wat die patroon sou volg wat deur die Israeliete se offerandes daargestel is en wat sy eie lewe sou gee om die mensdom los te koop. Trouens, Johannes die Doper het Jesus “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, genoem (Johannes 1:29). Jesus het dié toewysing gewillig aanvaar. Hy het gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.”—Johannes 6:38.
God se wil vir Jesus het nie net ingesluit dat hy ‘sy siel sou gee as ’n losprys in ruil vir baie’ nie, maar ook dat hy met sy volgelinge ’n verbond sou sluit vir ’n Koninkryk (Matteus 20:28; Lukas 22:29, 30). Hierdie Koninkryk is die middel waardeur God sy voorneme vir die mensdom sal volbring. Die boodskap oor God se Koninkryk word “goeie nuus” genoem, want dit verduidelik dat God ’n hemelse regering opgerig het om beheer oor aangeleenthede op die aarde oor te neem!—Matteus 24:14; Daniël 2:44.d
Die herstelwerk duur voort
Voor sy hemelvaart het Jesus sy volgelinge beveel: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees . . . En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—Matteus 28:19, 20.
Die herstel van die mensdom sou dus nie met Jesus se dood eindig nie. Dit sou voortduur tot “die voleinding van die stelsel van dinge”—die tyd wanneer God se Koninkryk beheer oor ons aarde sou begin oorneem. Daardie tyd is nou hier. Ons weet dit omdat die teken wat Jesus aangaande “die voleinding van die stelsel van dinge” gegee het, nou vervul word.e—Matteus 24:3-14; Lukas 21:7-11; 2 Timoteus 3:1-5.
Vandag gehoorsaam Jehovah se Getuies Jesus se opdrag om die goeie nuus van God se Koninkryk in 236 lande te verkondig. Trouens, die tydskrif wat jy nou lees, is bedoel om jou te help om meer te leer oor hierdie Koninkryk en wat dit tot stand sal bring. Op bladsy 2 van elke uitgawe van Die Wagtoring sal jy hierdie kommentaar vind: “Hierdie tydskrif . . . vertroos mense met die goeie nuus dat God se Koninkryk, wat ’n werklike regering in die hemel is, binnekort ’n einde sal maak aan alle goddeloosheid en die aarde in ’n paradys sal omskep. Dit bevorder geloof in Jesus Christus, wat gesterf het sodat ons die ewige lewe kan verkry en wat nou as Koning van God se Koninkryk regeer.”
Toegegee, vandag hoor jy moontlik nog steeds van terreuraanvalle of natuurrampe, of jy ondervind dalk ’n persoonlike tragedie. Maar ’n studie van die Bybel sal jou oortuig dat God die mensdom nie verlaat het nie. Inteendeel, ‘hy is nie ver van elkeen van ons af nie’ (Handelinge 17:27). En sy belofte om te herstel wat ons oorspronklike ouers verloor het, sal sukses behaal.—Jesaja 55:11.
[Voetnote]
a Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.
b Vir ’n breedvoerige verduideliking van Genesis 3:15, sien hoofstuk 19 van die boek Kom nader aan Jehovah, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Vir meer inligting, sien hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
d Vir meer inligting oor God se Koninkryk, sien hoofstuk 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?
e Vir meer inligting, sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?
[Tabel/Prente op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
“’n Kopie van die werklikheid”—Wat die tabernakel afgebeeld het
DIE ALTAAR
God se bereidwilligheid om Jesus se offerande te aanvaar.—HEBREËRS 13:10-12.
DIE HOËPRIESTER
Jesus.—HEBREËRS 9:11.
1 Op die Versoendag het die hoëpriester ’n offerande vir die volk se sondes gebring.—LEVITIKUS 16:15, 29-31.
1 Op 14 Nisan 33 HJ het Jesus sy lewe ten behoewe van ons opgeoffer.—HEBREËRS 10:5-10; 1 JOHANNES 2:1, 2.
DIE HEILIGE
Jesus se geesverwekte toestand.—MATTEUS 3:16, 17; ROMEINE 8:14-17; HEBREËRS 5:4-6.
DIE VOORHANGSEL
Jesus se vleeslike liggaam, die versperring wat aardse lewe van hemelse lewe geskei het.—1 KORINTIËRS 15:44, 50; HEBREËRS 6:19, 20; 10:19, 20.
2 Die hoëpriester het deur die voorhangsel gegaan wat die Heilige van die Allerheiligste skei.
2 Ná sy opstanding het Jesus ‘deur die voorhangsel gegaan’ toe hy na die hemel opgevaar het “om . . . vir ons voor die aangesig van God te verskyn”.—HEBREËRS 9:24-28.
DIE ALLERHEILIGSTE
Die hemel.—HEBREËRS 9:24.
3 Nadat die hoëpriester in die Allerheiligste ingegaan het, het hy van die bloed van die offerande voor die verbondsark gesprinkel.—LEVITIKUS 16:12-14.
3 Deur die waarde van sy vergote bloed aan te bied, het Jesus ware versoening vir ons sondes voorsien.—HEBREËRS 9:12, 24; 1 PETRUS 3:21, 22.