Werp altyd jou sorge op Jehovah
BAIE voel vandag dat hulle sorge hulle onderkry. Ekonomiese ontberinge, sorgwekkende gesinsprobleme, gesondheidsprobleme, pyn en lyding weens onderdrukking en tirannie asook ’n menigte ander beproewinge hang soos meulstene om hulle nekke. Benewens hierdie druk van buite gaan party ook gebuk onder ’n gevoel van persoonlike waardeloosheid en mislukking as gevolg van hulle eie tekortkominge. Baie kom in die versoeking om die stryd heeltemal gewonne te gee. Wat kan jy doen wanneer dit voel asof jou sorge onuithoudbaar is?
Koning Dawid van Israel het eenmaal gevoel dat die druk amper onuithoudbaar is. Volgens Psalm 55 het die kommer vanweë die druk en vyandigheid van sy vyande hom onrustig gemaak. Hy was baie hartseer en bevrees. Hy kon nie anders as kreun weens sy smart nie (Psalm 55:3, 6, 18). Hy het egter ondanks al sy bekommernisse ’n manier gevind om voort te gaan. Hoe? Hy het hom tot sy God gewend om ondersteuning. Sy raad aan ander wat dalk voel soos hy gevoel het, was: “Werp jou sorg op [Jehovah, NW].”—Psalm 55:23.
Wat het hy met die woorde ‘werp jou sorg op Jehovah’ bedoel? Beteken dit bloot dat ons Jehovah in gebed moet nader en hom van ons bekommernisse moet vertel? Of kan ons self iets doen om die situasie te help verbeter? Gestel ons voel te onwaardig om Jehovah te nader? Ons kan uitvind wat Dawid bedoel het deur na ’n paar ondervindinge te kyk wat nog helder in sy gedagtes sou wees toe hy daardie woorde neergeskryf het.
Steun op Jehovah se krag
Onthou jy hoe Goliat die harte van Israel se soldate met vrees vervul het? Hierdie reus van ’n man, meer as 2,7 meter lank, het hulle doodbang gemaak (1 Samuel 17:4-11, 24). Maar Dawid was nie bang nie. Waarom nie? Omdat hy nie probeer het om op sy eie krag te steun toe hy Goliat aangedurf het nie. Van die tyd dat hy as Israel se toekomstige koning gesalf is, het hy toegelaat dat God se gees hom lei en versterk in alles wat hy gedoen het (1 Samuel 16:13). Hy het dus vir Goliat gesê: “Ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer” (1 Samuel 17:45, 46). Dawid was ’n bedrewe slingeraar, maar ons kan daarvan seker wees dat Jehovah se heilige gees die klip wat hy na Goliat geslinger het, gerig en dodeliker gemaak het.—1 Samuel 17:48-51.
Dawid het hierdie geweldige uitdaging die hoof gebied en as oorwinnaar uit die stryd getree omdat hy die vertroue gehad het dat God hom sou ondersteun en versterk. Hy het ’n goeie vertrouensverhouding met God ontwikkel. Dit is ongetwyfeld versterk deur die manier waarop Jehovah hom vroeër verlos het (1 Samuel 17:34-37). Jy kan, soos Dawid, ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah handhaaf en volle vertroue hê in sy vermoë en bereidwilligheid om jou in alle omstandighede te versterk en te onderskraag.—Psalm 34:8, 9.
Doen wat jy kan om die probleem op te los
Soos Psalm 55 duidelik toon, beteken dit egter nie dat daar nooit tye van intense pyn, bekommernis en selfs vrees sal wees nie. Dawid het byvoorbeeld, ’n klompie jare ná hierdie vreeslose vertoning van vertroue op Jehovah, groot vrees ervaar vanweë sy vyande. Hy het koning Saul se guns verloor en moes vir sy lewe vlug. Probeer jou die emosionele onrus voorstel wat dit Dawid moes besorg het, die vrae wat dit in sy gedagtes oor die uitvoering van Jehovah se voorneme moes laat ontstaan het. Hy is op stuk van sake as die toekomstige koning in Israel gesalf, maar hier moes hy nou as ’n voortvlugtige in die wildernis oorleef terwyl hy soos ’n wilde dier gejag word. Toe hy in die stad Gat, die geboorteplek van Goliat, probeer skuiling soek het, is hy herken. Wat was die gevolg? Die verslag sê dat hy ‘baie bevrees geword het’.—1 Samuel 21:10-12.
Maar hy het nie toegelaat dat sy vrees en diepe angs verhinder dat hy hom tot Jehovah om hulp wend nie. Volgens Psalm 34 (wat as gevolg van hierdie ondervinding geskryf is) het Dawid gesê: “Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.”—Psalm 34:5, 7.
Jehovah het hom natuurlik ondersteun. Maar let daarop dat Dawid nie net agteroor gesit en op Jehovah gewag het om hom te red nie. Hy het besef dat hy alles moontlik onder die omstandighede moes doen om uit die moeilike situasie te kom. Hy het Jehovah se hand in sy bevryding erken, maar hy het self ook opgetree deur voor te gee dat hy kranksinnig is sodat die koning van Gat hom nie doodgemaak het nie (1 Samuel 21:14–22:1). Ons moet ook alles moontlik doen om ons sorge die hoof te bied, pleks van net op Jehovah te wag om ons te red.—Jakobus 1:5, 6; 2:26.
Moenie jou sorge meer maak nie
Dawid het later in sy lewe ’n ander les, ’n pynlike les, geleer. Wat was dit? Dat ons soms ons sorge meer maak. Ná ’n oorwinning oor die Filistyne het dinge skeef geloop vir Dawid toe hy besluit het om die verbondsark na Jerusalem te bring. Die geskiedkundige verslag deel ons mee: “En Dawid het hom klaargemaak en met al die mense opgetrek wat by hom was, van Baäle-Juda, om die ark van God . . . daarvandaan te gaan haal. En hulle het die ark van God op ’n nuwe wa vervoer . . . Terwyl Ussa en Agjo, die seuns van Abinadab, die wa drywe.”—2 Samuel 6:2, 3.
Die gebruik van ’n wa om die Ark mee te vervoer, het al die instruksies geskend wat Jehovah daaroor gegee het. Dit is duidelik gestel dat die enigste gemagtigde draers, die Kehatitiese Leviete, die Ark op hulle skouers moes dra deur pale te gebruik wat deur die ringe gesteek is wat spesiaal as deel van die Ark gemaak is. (Exodus 25:13, 14; Numeri 4:15, 19; 7:7-9). Die verontagsaming van hierdie instruksies het rampspoed tot gevolg gehad. Toe die beeste wat die wa getrek het dit amper laat omkantel het, het Ussa, wat waarskynlik ’n Leviet was maar beslis nie ’n priester nie, sy hand uitgesteek om die Ark te stut en is hy deur Jehovah gedood weens sy oneerbiedigheid.—2 Samuel 6:6, 7.
Dawid moes as koning ’n deel van die verantwoordelikheid hiervoor dra. Sy reaksie hierop toon dat selfs diegene wat ’n goeie verhouding met Jehovah het soms sleg op beproewende situasies kan reageer. Dawid het eerstens kwaad geword. Toe het hy bevrees geword (2 Samuel 6:8, 9, NAV). Sy vertrouensverhouding met Jehovah is swaar beproef. Hier was ’n geleentheid waartydens hy blykbaar versuim het om sy sorge op Jehovah te werp en ongehoorsaam was aan sy bevele. Is dit soms met ons die geval? Blameer ons Jehovah ooit vir probleme wat ontstaan omdat ons sy instruksies verontagsaam?—Spreuke 19:3.
Oorkom skuldgevoelens
Dawid het later deur eie toedoen vir hom ’n swaar skuldgevoel aangebring toe hy ernstig teen Jehovah se sedelike standaarde gesondig het. By hierdie geleentheid het Dawid sy plig versuim om sy manskappe in die stryd te lei. Hy het in Jerusalem gebly terwyl hulle uitgegaan het om te veg. Dit het tot ernstige probleme gelei.—2 Samuel 11:1.
Koning Dawid het die pragtige Batseba sien bad. Hy het ongeoorloofde geslagsgemeenskap met haar gehad, en sy het swanger geword (2 Samuel 11:2-5). In ’n poging om sy wangedrag weg te steek, het hy gereël dat haar man, Uria, van die slagveld af na Jerusalem terugkeer. Uria het geweier om gemeenskap met sy vrou te hê terwyl Israel in ’n oorlog gewikkel was (2 Samuel 11:6-11). Dawid het nou op goddelose en slinkse wyse te werk gegaan om sy sonde toe te smeer. Hy het gereël dat Uria se medesoldate Uria in ’n gevaarlike posisie op die slagveld sit sodat hy doodgemaak sou word. ’n Afskuwelike, ernstige sonde!—2 Samuel 11:12-17.
Dawid se sonde het hom natuurlik op die ou end ingehaal, en hy is aan die kaak gestel (2 Samuel 12:7-12). Probeer jou voorstel hoe swaar die verdriet en skuldgevoelens op Dawid gedruk het toe die afskuwelikheid van wat hy weens sy hartstog gedoen het tot hom deurgedring het. Hy is moontlik deur sy eie gevoel van mislukking oorweldig, veral omdat hy waarskynlik ’n emosionele, sensitiewe man was. Hy het na alle waarskynlikheid heeltemal waardeloos gevoel!
Dawid het egter gou beken dat hy verkeerd opgetree het en aan die profeet Natan erken: “Ek het gesondig teen die HERE!” (2 Samuel 12:13). Psalm 51 vertel ons hoe hy gevoel het en hoe hy Jehovah God gesmeek het om hom te reinig en te vergewe. Hy het gebid: “Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my” (Psalm 51:4, 5). Omdat hy waarlik berouvol was, kon hy sy hegte, noue verhouding met Jehovah weer opbou. Dawid het homself nie die heeltyd verwyt en bly dink dat hy waardeloos is nie. Hy het sy sorge op Jehovah gewerp deur nederig sy skuld te erken, opregte berou te toon en vurig om Jehovah se vergifnis te bid. Hy het weer in God se guns gekom.—Psalm 51:9-14, 17-21 NW.
Bied verraad die hoof
Dit bring ons by die voorval wat Dawid beweeg het om Psalm 55 te skryf. Hy het onder groot emosionele druk verkeer. “My hart krimp inmekaar in my binneste”, het hy geskryf, “en verskrikkinge van die dood het op my geval” (Psalm 55:5). Wat het hierdie pyn veroorsaak? Absalom, Dawid se seun, het planne gesmee om Dawid van sy koningskap te beroof (2 Samuel 15:1-6). Hierdie verraad wat deur sy eie seun teen hom gepleeg is, was moeilik genoeg om te verduur, maar wat dit vererger het, is die feit dat Dawid se mees vertroude raadgewer, ’n man met die naam Agitofel, by die komplot teen Dawid aangesluit het. Dit is Agitofel wat Dawid in Psalm 55:13-15 beskryf. As gevolg van die komplot en verraad moes Dawid na Jerusalem vlug (2 Samuel 15:13, 14). Dink net hoeveel pyn dit hom moes besorg het!
Nietemin het hy nie toegelaat dat sy intense emosies en hartseer sy vertroue op Jehovah laat verswak nie. Hy het tot Jehovah gebid om die planne van die samesweerders te verydel (2 Samuel 15:30, 31). Ons sien weer eens dat Dawid nie net agteroor gesit het en op Jehovah gewag het om al die werk te doen nie. Hy het onmiddellik toe die geleentheid hom voorgedoen het, gedoen wat hy kon om die komplot teen hom te laat misluk. Hy het een van sy ander raadgewers, Husai, na Jerusalem teruggestuur om te maak asof hy hom by die samesweerders wil aansluit, hoewel hy in werklikheid gegaan het om hulle planne in die wiele te ry (2 Samuel 15:32-34). Met Jehovah se ondersteuning het hierdie plan gewerk. Husai het genoeg tyd gewen sodat Dawid kon hergroepeer en dinge kon organiseer om homself te verdedig.—2 Samuel 17:14.
Hoe moes Dawid tog nie regdeur sy lewe Jehovah se beskermende sorg sowel as sy geduld en gewilligheid om hom te vergewe, waardeer het nie! (Psalm 34:19, 20; 51:19). Dit is teen hierdie agtergrond dat Dawid ons met vertroue aanmoedig om ons in tye van beproewing tot Jehovah om hulp te wend, om ‘ons sorg op Jehovah te werp’.—Vergelyk 1 Petrus 5:6, 7.
Ontwikkel en handhaaf ’n sterk vertrouensverhouding met Jehovah.
Hoe verkry ons die soort verhouding met Jehovah wat Dawid gehad het, ’n verhouding wat hom onderskraag het in tye van swaar beproewing en verdrukking? Ons ontwikkel so ’n verhouding deur ywerige studente van God se Woord, die Bybel, te wees. Ons laat hom ons aangaande sy wette, beginsels en persoonlikheid leer (Psalm 19:8-12). Namate ons God se Woord bepeins, kom ons voortdurend nader aan hom en leer ons om hom volkome te vertrou (Psalm 143:1-5). Ons verdiep en versterk daardie verhouding wanneer ons met medeaanbidders omgaan om verder deur Jehovah geleer te word (Psalm 122:1-4). Ons verinnig ons verhouding met Jehovah deur middel van opregte gebed.—Psalm 55:2.
Dawid was weliswaar, net soos ons, by tye terneergedruk wanneer sy verhouding met Jehovah nie so sterk was soos dit moes wees nie. Onderdrukking kan ons “waansinnig laat handel” (Prediker 7:7, NW). Maar Jehovah sien wat gebeur, en hy weet wat in ons hart is (Prediker 4:1; 5:7). Ons moet hard werk om ons verhouding met Jehovah sterk te hou. Dan kan ons, ongeag ons sorge, op Jehovah vertrou om die druk te verlig of om ons die krag te gee om ons situasie te verduur (Filippense 4:6, 7, 13). Dit kom daarop neer dat ons na aan Jehovah moet bly. Wanneer Dawid dit gedoen het, was hy heeltemal veilig.
Dit is waarom Dawid sê dat ’n mens, ongeag jou omstandighede, altyd jou sorge op Jehovah moet werp. Dan sal ons die waaragtigheid van die belofte ondervind: “Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:23.