Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • be studie 48 bl. 251-bl. 254 par. 2
  • Manier van redeneer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Manier van redeneer
  • Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Soortgelyke materiaal
  • Volg die Groot Onderrigter na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Redeneer jy met welslae uit die Skrif?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Kweek redelikheid aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Volg Jehovah na – Wees redelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
be studie 48 bl. 251-bl. 254 par. 2

STUDIE 48

Manier van redeneer

Wat moet jy doen?

Gebruik tekste, illustrasies en vrae op ’n logiese manier en op ’n wyse wat mense aanspoor om te luister en te dink.

Waarom is dit belangrik?

’n Taktlose, dogmatiese benadering lei dikwels daartoe dat mense hulle verstande en harte sluit. ’n Redelike benadering moedig gesprekvoering aan, gee mense iets om later oor na te dink en baan die weg vir toekomstige gesprekke. Dit kan baie oortuigend wees.

ONS is dankbaar vir die veranderinge wat God se Woord in ons lewe teweeggebring het, en ons wil hê dat ander ook daarby baat moet vind. Verder besef ons dat mense se reaksie op die goeie nuus ’n uitwerking op hulle toekomsverwagtinge sal hê (Matt. 7:13, 14; Joh. 12:48). Dit is ons opregte begeerte dat hulle die waarheid sal aanneem. Maar ons sterk oortuigings en ywer moet met onderskeidingsvermoë gepaardgaan om die beste resultate te lewer.

As jy ’n opvatting wat iemand na aan die hart lê, as vals blootlê deur die waarheid op ’n taktlose manier oor te dra, sal dit oor die algemeen nie ’n gunstige reaksie uitlok nie, al staaf jy dit met ’n hele aantal tekste. Byvoorbeeld, as gewilde vieringe sonder meer veroordeel word omdat dit van heidense oorsprong is, sal dit moontlik nie mense se beskouing daarvan verander nie. ’n Redelike benadering het gewoonlik beter resultate. Wat behels dit om redelik te wees?

Die Skrif sê vir ons: “Die wysheid van bo is . . . vredeliewend, redelik” (Jak. 3:17). Die Griekse woord wat hier met “redelik” vertaal word, beteken letterlik “toegewend”. Sommige vertalers gee dit weer as “bedagsaam”, “vriendelik” of “verdraagsaam”. Let op dat redelikheid met vredeliewendheid geassosieer word. In Titus 3:2 word dit saam met sagmoedigheid genoem en word dit teenoor strydlustigheid gestel. Filippense 4:5 spoor ons aan om bekend te wees vir ons “redelikheid”. Iemand wat redelik is, neem die persoon met wie hy praat se agtergrond, omstandighede en gevoelens in ag. Hy is bereid om toe te gee wanneer dit gepas is. As ons ander so behandel, help dit om hulle verstande en harte ontvankliker te maak wanneer ons uit die Skrif met hulle redeneer.

Waar om te begin. Toe die apostel Paulus in Tessalonika was, vertel die geskiedskrywer Lukas, het hy die Skrif gebruik om te “verduidelik en deur verwysings [te] bewys dat die Christus moes ly en uit die dode moes opstaan” (Hand. 17:2, 3). Dit is opmerkenswaardig dat Paulus dit in ’n Joodse sinagoge gedoen het. Diegene met wie hy gepraat het, het die Hebreeuse Geskrifte as ’n gesaghebbende bron beskou. Dit was gepas om met iets te begin wat hulle aanvaar het.

Toe Paulus met Grieke by die Areopagus in Atene gepraat het, het hy nie begin deur na die Skrif te verwys nie. Hy het eerder met dinge begin wat hulle geken en aanvaar het, en hy het dit gebruik om hulle te laat dink aan die Skepper en Sy voornemens.—Hand. 17:22-31.

In hedendaagse tye is daar miljarde mense wat nie die Bybel as ’n gesag in hulle lewe erken nie. Maar byna almal se lewe word geraak deur moeilike situasies in die huidige stelsel van dinge. Mense smag na iets beters. As jy eers belangstelling toon in wat hulle kwel en dan toon wat die Bybel daaroor sê, sal so ’n redelike benadering hulle dalk beweeg om te luister na wat die Bybel oor God se voorneme met die mensdom sê.

Moontlik het ’n Bybelstudent sekere godsdiensopvattings en -gebruike by sy ouers geleer. Nou leer die student dat daardie opvattings en gebruike God mishaag, en hy verwerp dit ten gunste van wat die Bybel leer. Hoe kan die student daardie besluit aan sy ouers verduidelik? Hulle kan dink dat hy hulle verwerp omdat hy die godsdienserfenis wat hulle hom gegee het, verwerp. Die Bybelstudent voel moontlik dat hy sy ouers van sy liefde en respek vir hulle moet verseker voordat hy die rede vir sy besluit uit die Bybel probeer verduidelik.

Wanneer om toe te gee. Hoewel Jehovah die volste reg het om vir ander te sê wat hulle moet doen, openbaar hy uitsonderlike redelikheid. Toe Jehovah se engele Lot en sy gesin uit Sodom gered het, het hulle gesê: “Vlug na die bergstreek, sodat jy nie weggevee word nie!” Maar Lot het gesmeek: “Asseblief tog nie dit nie, Jehovah!” Hy het gesmeek om toegelaat te word om na Soar te vlug. Jehovah het Lot in ag geneem en dit toegelaat; toe ander stede vernietig is, is Soar dus gespaar. Maar later het Lot Jehovah se oorspronklike opdrag uitgevoer en na die bergstreek gegaan (Gen. 19:17-30). Jehovah het geweet dat wat hy gesê het, die beste was, maar hy was geduldig en het Lot in ag geneem totdat hy ook tot daardie besef gekom het.

As ons goeie betrekkinge met ander wil handhaaf, moet ons ook redelik wees. Ons is dalk daarvan oortuig dat die ander persoon verkeerd is en kan moontlik aan kragtige argumente dink wat dit sal bewys. Maar soms is dit beter om nie ’n geskilpunt daarvan te maak nie. Redelikheid beteken nie dat ons Jehovah se standaarde moet afwater nie. Dit is dalk beter om die ander persoon bloot te bedank omdat hy hom uitgespreek het of om verkeerde verklarings eenvoudig te laat verbygaan, sodat jy die aandag op iets kan vestig waardeur jy meer sal bereik. Al veroordeel hy wat jy glo, moet jy nie oorreageer nie. Jy kan hom vra waarom hy so voel. Luister aandagtig na sy antwoord. Dit sal jou insig gee in sy denke. Dit kan ook die grondslag lê vir opbouende gesprekke in die toekoms.—Spr. 16:23; 19:11.

Jehovah het mense die vermoë gegee om te kan kies. Hy laat hulle toe om daardie vermoë te gebruik, al gebruik hulle dit nie verstandig nie. As Jehovah se woordvoerder het Josua die nasie Israel herinner aan God se handelinge met hulle. Maar toe het hy gesê: “As dit sleg is in julle oë om Jehovah te dien, kies dan vandag vir julle wie julle sal dien, hetsy die gode wat julle voorvaders gedien het wat aan die oorkant van die Rivier was, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien” (Jos. 24:15). Ons moet vandag “’n getuienis” gee, en ons praat met oortuiging, maar ons probeer ander nie dwing om te glo nie (Matt. 24:14). Hulle moet self kies, en ons ontsê hulle nie daardie reg nie.

Stel vrae. Jesus het ’n uitstekende voorbeeld gestel in die manier waarop hy met mense geredeneer het. Hy het hulle agtergrond in ag geneem en het illustrasies gebruik waarmee hulle hulle maklik kon identifiseer. Hy het ook goed van vrae gebruik gemaak. Dit het ander die geleentheid gegee om hulle mening uit te spreek en het geopenbaar wat in hulle harte was. Dit het hulle ook aangespoor om oor die onderwerp onder bespreking te redeneer.

’n Man wat met die Wet vertroud was, het vir Jesus gevra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” Jesus kon hom maklik die antwoord gegee het. Maar hy het die man die geleentheid gegee om hom oor die saak uit te spreek. “Wat staan in die Wet geskrywe? Hoe lees jy?” Die man het reg geantwoord. Het die gesprek daar geëindig omdat hy die regte antwoord gegee het? Glad nie. Jesus het die man verder laat praat, en ’n vraag wat die man self gestel het, het getoon dat hy wou bewys dat hy regverdig is. Hy het gevra: “Wie is dan my naaste?” Jesus het nie ’n definisie gegee nie, wat die man moontlik sou betwis het weens die algemene gesindheid van die Jode teenoor nie-Jode en Samaritane, maar het hom eerder oor ’n illustrasie laat redeneer. Dit was oor ’n barmhartige Samaritaan wat ’n reisiger te hulp gekom het wat beroof en geslaan is, terwyl ’n priester en ’n Leviet niks gedoen het nie. Jesus het deur middel van ’n eenvoudige vraag seker gemaak dat die man die punt gesnap het. Die manier waarop Jesus geredeneer het, het die uitdrukking “naaste” ’n betekenis laat aanneem waaraan daardie man nog nooit gedink het nie (Luk. 10:25-37). Wat ’n goeie voorbeeld om na te volg! Moenie al die praatwerk doen en as ’t ware vir jou huisbewoner dink nie, maar leer hoe om taktvolle vrae en illustrasies te gebruik om dié wat na jou luister, aan te spoor om te dink.

Gee redes. Toe die apostel Paulus in die sinagoge in Tessalonika gepraat het, het hy nie bloot uit ’n gesaghebbende bron gelees wat sy gehoor aanvaar het nie. Lukas vertel dat Paulus verduidelikings gegee, bewyse voorsien en toepassings gemaak het van die dinge wat hy gelees het. Gevolglik “het party van hulle gelowiges geword en by Paulus en Silas aangesluit”.—Hand. 17:1-4.

Ongeag wie in jou gehoor is, so ’n redelike benadering kan goeie resultate lewer. Dit is die geval wanneer jy vir familielede getuig, met werksmaats of skoolmaats gesels, in jou openbare getuieniswerk met vreemdelinge praat, ’n Bybelstudie hou of ’n toespraak in die gemeente lewer. Wanneer jy ’n teks lees, is die betekenis daarvan dalk vir jou duidelik, maar miskien nie vir iemand anders nie. Jou verduideliking of jou toepassing kan soos ’n dogmatiese verklaring klink. Sal dit help om sekere sleutelwoorde in die teks uit te sonder en dit te verduidelik? Kan jy stawende bewyse voorlê, moontlik uit die konteks of met behulp van ’n ander teks wat oor die onderwerp handel? Sal ’n illustrasie dalk die redelikheid toelig van wat jy gesê het? Sal vrae jou gehoor help om oor die saak te redeneer? So ’n redelike benadering laat mense met ’n gunstige indruk en gee hulle baie om oor na te dink.

HOE OM DIT TE DOEN

  • Wanneer jy besluit hoe om jou bespreking te begin, moet jy die agtergrond en gesindheid van jou gehoor in ag neem.

  • Moenie ’n geskilpunt van elke verkeerde verklaring maak nie.

  • Praat met oortuiging, maar besef dat ander, net soos jy, die reg het om te besluit wat hulle wil glo.

  • Moenie haastig wees om vrae te beantwoord nie, maar gebruik ander vrae of illustrasies om die persoon te help om oor die saak te redeneer.

  • Maak ’n gewoonte daarvan om oor ’n teks te redeneer deur sleutelwoorde te verduidelik, deur te toon hoe die konteks of ander tekste die betekenis opklaar of deur ’n voorbeeld te gebruik om die toepassing van die teks duidelik te maak.

OEFENINGE: (1) Nadat jy vir iemand met besliste menings getuig het, ontleed hoe jy die bespreking hanteer het. Watter bewyse het jy voorgelê? Watter illustrasie het jy ingesluit? Watter vrae het jy gebruik? Hoe het jy sy agtergrond of gevoelens in ag geneem? As jy dit nie in die velddiens kan doen nie, kan jy dit in ’n oefensessie met ’n ander verkondiger op die proef stel. (2) Oefen hoe jy met iemand (’n portuur of ’n kind) wat iets verkeerds wil doen, sal redeneer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel