STUDIE 18
Gebruik van die Bybel om te antwoord
WANNEER ons gevra word oor ons oortuigings, ons lewenswyse, ons beskouing oor aktuele gebeure, ons hoop vir die toekoms, probeer ons die Bybel gebruik wanneer ons antwoord. Waarom? Omdat dit die Woord van God is. Ons oortuigings is op die Bybel gegrond. Ons lewe daarvolgens. Dit bepaal wat ons beskouing van wêreldgebeure is. Ons hoop vir die toekoms is stewig op die Bybel se geïnspireerde beloftes gevestig.—2 Tim. 3:16, 17.
Ons is deeglik bewus van die verantwoordelikheid wat met ons naam gepaardgaan. Ons is Jehovah se Getuies (Jes. 43:12). Gevolglik beantwoord ons nie vrae op grond van menslike filosofieë nie, maar op grond van wat Jehovah in sy geïnspireerde Woord sê. As individue het ons weliswaar menings oor sake, maar ons laat God se Woord ons beskouings vorm, want ons is vas oortuig dat dit die waarheid is. Die Bybel gee ons natuurlik die vryheid om persoonlike voorkeure in baie sake te hê. Ons dwing egter nie ons voorkeure op ander af nie, maar wil hulle eerder die beginsels leer wat in die Skrif uiteengesit word, en sodoende laat ons dié wat na ons luister, toe om dieselfde keusevryheid as ons te geniet. Soos die apostel Paulus probeer ons “gehoorsaamheid deur geloof” bevorder.—Rom. 16:26.
Jesus Christus word in Openbaring 3:14 as “die getroue en waaragtige getuie” beskryf. Hoe het hy vrae beantwoord en situasies hanteer waarvoor hy te staan gekom het? Soms deur illustrasies te gebruik wat mense sou laat dink. Op ander tye het hy die persoon wat die vraag gestel het, gevra hoe hy ’n teks verstaan. Hy het dikwels tekste aangehaal, geparafraseer of daarna verwys (Matt. 4:3-10; 12:1-8; Luk. 10:25-28; 17:32). In die eerste eeu is boekrolle van die Skrif gewoonlik in die sinagoges gehou. Daar is geen bewys dat Jesus sy eie versameling van daardie boekrolle gehad het nie, maar hy het die Skrif goed geken en het dikwels daarna verwys wanneer hy ander onderrig het (Luk. 24:27, 44-47). Hy kon in alle eerlikheid sê dat wat hy geleer het, nie uit homself was nie. Hy het gespreek wat hy by sy Vader gehoor het.—Joh. 8:26.
Ons wil graag Jesus se voorbeeld volg. In teenstelling met Jesus het ons God nie self hoor praat nie. Maar die Bybel is God se Woord. Wanneer ons dit as die grondslag van ons antwoorde gebruik, vestig ons nie die aandag op onsself nie. Ons toon dat ons nie die mening van ’n onvolmaakte mens uitspreek nie, maar eerder vasbeslote is om wat God sê, as waarheid te aanvaar.—Joh. 7:18; Rom. 3:4.
Ons doel is natuurlik nie net om die Bybel te gebruik nie, maar om dit só te doen dat die persoon wat na ons luister, die meeste baat daarby sal vind. Ons wil hê dat hy met ’n oop gemoed moet luister. Na gelang van sy gesindheid kan jy Bybelse gedagtes inlei deur te sê: “Stem jy nie saam dat wat God sê, die meeste saak maak nie?” Of jy kan sê: “Het jy geweet die Bybel beantwoord juis daardie vraag?” As jy met iemand praat wat nie respek vir die Bybel het nie, sal jy dalk ’n ander inleiding moet gebruik. Jy kan sê: “Laat ek vir jou wys wat hierdie profesie uit die ou tyd sê.” Of jy kan sê: “Die boek met die grootste verspreiding in die mensegeskiedenis sê . . . ”
Soms sal jy ’n teks net wil parafraseer. Maar dit is die beste om, waar moontlik, die Bybel self oop te maak en te lees wat dit sê. Wys die teks vir die persoon in sy eie Bybel wanneer dit ook al prakties is. Hierdie regstreekse gebruik van die Bybel het dikwels ’n kragtige uitwerking op mense.—Heb. 4:12.
Christen- ouer manne het ’n groot verantwoordelikheid om die Bybel te gebruik wanneer hulle vrae beantwoord. Een van die vereistes om as ’n ouer man te dien, is dat die broer “met betrekking tot sy onderrigkuns stewig aan die betroubare woord vashou” (Tit. 1:9). ’n Gemeentelid neem dalk ’n ernstige besluit nadat ’n ouer man hom raad gegee het. Hoe belangrik is dit tog dat sy raad stewig op die Skrif gegrond is! Die voorbeeld wat ’n ouer man hierin stel, kan ’n invloed hê op die onderrigting van baie ander.