Jeremia—’n ongewilde profeet van God se oordele
Vanaf 17 April tot 21 Augustus sal die weeklikse Skriflesing vir die Teokratiese Bedieningskool uit die boek Jeremia kom. Hierdie drie studie-artikels sal ’n goeie agtergrond bied om die profeet se geskrifte te verstaan
“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken . . . Ek het jou tot ’n profeet vir die nasies gemaak.”—JEREMIA 1:5.
1. (a) Agternagesien, hoe beskou party Jeremia? (b) Wat het hy van homself gedink?
“SELFS in die geselskap van die profete toring Jeremia as ’n reus uit.” Daardie kommentaar deur ’n Bybelgeleerde vorm ’n skerp kontras met Jeremia se dunk van homself toe hy aanvanklik sy opdrag van Jehovah ontvang het om as ’n profeet vir Juda en vir die nasies te dien. Sy antwoord was: “Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nle, want ek is jonk.” Jeremia was blykbaar baie bewus van sy jeugdigheid, en die uitdaging om die vyandige nasies te trotseer, het vir hom een te veel gelyk. Jehovah het anders gedink.—Jeremia 1:6.
2. Hoe het Jehovah vertroue by Jeremia ingeboesem?
2 Dit blyk uit Jehovah se gesprek met jong Jeremia dat hy een van die min manne is vir wie se geboorte Jehovah verantwoordelikheid aanvaar het. En waarom het hy van Jeremia se ontvangenis af spesifieke belangstelling in hom getoon? Want Jehovah het ’n spesiale sending vir hom in gedagte gehad. Daarom kon hy sê: “Voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig” (Jeremia 1:5). Toe het hy die jong man beveel: “Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die HERE.” Daar was hier geen kans vir ’n halfhartige benadering tot sy toewysing nie. Dit het eerder moed en vertroue in Jehovah geverg.—Jeremia 1:7, 8.
3. Waarom was Jeremia se opdrag ’n groot uitdaging?
3 Dit moes hierdie jongman inderdaad beïndruk en miskien oorweldig het om so ’n regstreekse opdrag van God te ontvang! En wat ’n opdrag tog! “Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.” Die agtergrond van daardie kommentare wat omstreeks die middel van die sewende eeu v.G.J. in Juda gemaak is, het beslis ’n geweldige verantwoordelikheid op hierdie ontluikende profeet geplaas. Hy moes ’n trotse, selfvoldane nasie aandurf wat op sy heilige stad, Jerusalem, en sy tempel vertrou het asof dit ’n gelukbringer is. Hy moes tydens sy 40-jarige profetiese bediening in Jerusalem sy boodskap gedurende die bewind van vyf konings (Josia, Joahas, Jojakim, Jojagin, Sedekia) oordra. Hy moes ongewilde veroordelings aan die Joodse en Babiloniese nasies bekend maak.—Jeremia 1:10; 51:41-64.
Waarom moet Jeremia vir ons van belang wees?
4, 5. (a) Waarom is die gebeure van Jeremia se dag vir ons van belang? (Romeine 15:4) (b) In watter besondere toepassing stel ons belang?
4 Maar ons vra dalk: Wat het daardie gebeure van weleer met ons, wat nou na aan die einde van die 20ste eeu lewe, te doen? Die apostel Paulus verstrek die antwoord waar hy van Israel se geskiedenis in sy brief aan die gemeente in Korinthe hersien. Hy het geskryf: “En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie . . . en [dit] is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”—1 Korinthiërs 10:6, 11.
5 Die gebeure wat in Israel en Juda plaasgevind het, dien as ’n waarskuwende voorbeeld vir die ware Christengemeente in hierdie tyd van die einde. Ons kan ook parallelle en tipes sien wat toekomstige gebeure afbeeld. (Vergelyk Jeremia 51:6-8 en Openbaring 18:2, 4.) Jeremia se profetiese bediening en die gebeure wat oor Jerusalem gekom het, hou derhalwe ’n groot betekenis vir Jehovah se Getuies in, veral wat hulle bedrywigheid in die ryk van die Christendom betref, soos ons in die volgende artikels sal sien.
Jeremia se onbevreesde verkondiging van God se oordele
6. Wat het Jeremia se taak moeiliker gemaak, maar watter bemoediging het hy ontvang?
6 Om Jeremia vir sy ontsaglike verantwoordelikheid te versterk, het Jehovah hom verder verseker: “Maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie . . . Ek maak jou vandag ’n versterkte stad . . . teen die hele land: teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die volk van die land.” Dit ly geen twyfel nie dat Jeremia soos ’n versterkte stad sou moes wees om die heersers en priesters van Juda te konfronteer. En dit sou geensins ’n maklike taak wees om ’n ongewilde en uitdagende boodskap aan die volk oor te dra nie.—Jeremia 1:17, 18.
7. Waarom sou die Joodse heersers Jeremia teenstaan?
7 “En hulle sal teen jou veg”, het Jehovah gewaarsku, “maar jou nie oorwin nie” (Jeremia 1:19). Waarom sou die Jode en hulle heersers dan teen hierdie profeet wou veg? Omdat sy boodskap hulle selfvoldaanheid en hulle vormlike aanbidding aangeval het. Jeremia het geen doekies omgedraai nie: “Kyk, die woord van die HERE is vir hulle smaad, hulle het daar geen behae in nie. Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester [die einste persone wat die bewakers van sedelike en geestelike waardes moes gewees het] pleeg hulle almal bedrog.”—Jeremia 6:10, 13.
8. Hoe het die priesters en die profete die mense bedrieg?
8 Hulle het wel die nasie gelei om offers te bring. Hulle het die werke van ware aanbidding meganies verrig, maar hulle hart was nie daarin nie. Rituele het vir hulle meer beteken as regte gedrag. Die Joodse godsdiensleiers het terselfdertyd ’n valse gevoel van veiligheid by die nasie gewek deur te sê: “Vrede, vrede!” terwyl daar geen vrede was nie (Jeremia 6:14; 8:11). Ja, hulle het die mense wysgemaak dat hulle in vrede met God verkeer. Hulle het gemeen dat daar geen rede tot kommer was nie, want hulle was Jehovah se geredde volk wat die heilige stad en die tempel daarin besit. Maar is dit hoe Jehovah die situasie beskou het?
9. Watter waarskuwing het Jeremia vir die aanbidders oor hulle tempel gegee?
9 Jehovah het Jeremia beveel om by die poort van die tempel te gaan staan waar almal hom kon sien en Sy boodskap tot die aanbidders wat daar ingaan te rig. Hy moes vir hulle sê: “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie—wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit! . . . bedrieglike woorde wat nie baat nie.” Die Jode het deur aanskouing en nie deur geloof gewandel nie terwyl hulle op hulle tempel geroem het. Hulle het reeds Jehovah se waarskuwende woorde vergeet: “Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou?” Jehovah, die Soewereine Heer van hierdie eindelose heelal, was beslis nie beperk tot die grense van hulle tempel nie, hoe luisterryk dit ook al was!—Jeremia 7:1-8; Jesaja 66:1.
10, 11. Wat was die geestelike toestand van die nasie wat deur Jeremia veroordeel is, en is die situasie in die Christendom enigsins beter? (2 Timotheüs 3:5)
10 Jeremia het sy skerp openbare teregwysing voortgesit: “Kan julle steel, moor en owerspel pleeg en vals sweer en offerrook aan Baäl bring en ander gode agternaloop wat julle nie geken het nie . . . en moet julle sê: ‘Ons sal stellig bevry word’, ondanks die feit dat julle al hierdie gruwelike dinge doen?” As God se ‘uitverkore volk’, het die Jode gedink dat hy enige gedrag sou duld solank hulle hulle offerandes na die tempel bring. Maar as hulle hom gesien het as ’n sentimentele vader wat ’n bedorwe en enigste kind pamperlang, het daar ’n ontnugtering op hulle gewag.—Jeremia 7:9, 10, NW; Exodus 19:5, 6.
11 Juda se aanbidding het so laag in Jehovah se oë gedaal dat die verskriklike vraag geopper kon word: “Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, ’n spelonk van moordenaars in julle oë?” Nagenoeg 700 jaar later was die situasie niks beter nie toe Jesus, ’n groter profeet as Jeremia, hierdie einste woorde gebruik het om die uitbuiting en kommersialisme te veroordeel wat in die herboude tempel in sy dag bedryf is. En vandag is die situasie in die Christendom niks beter nie.—Jeremia 7:11; Mattheüs 16:14; Markus 11:15-17.
Die wagters word geïgnoreer, onheil word voorspel
12. Hoe het die Jode gereageer op die profete wat Jehovah na hulle toe gestuur het?
12 Jeremia was geensins die eerste profeet wat God gebruik het om Israel en Juda oor hulle valse weg te waarsku nie. Gedurende die vorige honderd jaar of meer is die profete Jesaja, Miga, Hosea en Oded as wagters gestuur om die nasie te waarsku (Jesaja 1:1; Miga 1:1; Hosea 1:1; 2 Kronieke 28:6-9). Hoe het die meeste gereageer? “Ek het ook [wagters] oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie” (Jeremia 6:17, vgl. NW; 7:13, 25, 26). Hulle het geweier om na Jeremia te luister. Hulle het hom eerder vervolg en hom die swye probeer oplê. Jehovah het derhalwe besluit dat hulle die prys vir hulle vermetelheid en ongeloof moes betaal.—Jeremia 20:1, 2; 26:8, 11; 37:15; 38:6.
13. Waarom het God die nasie veroordeel?
13 Omdat die nasie sy boodskappers verwerp het, het Jehovah die nasies van die aarde as ’t ware toegespreek en gesê: “Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp.” Waarom sou onheil die nasie tref? As gevolg van hulle verkeerde dade wat op hulle verkeerde gedagtes gegrond was. Hulle het Jehovah se woorde en Wet verwerp en hulle eie selfsugtige, vleeslike neigings gevolg.—Jeremia 6:18, 19; Jesaja 55:8, 9; 59:7.
14. Tot watter uiterstes het hulle valse aanbidding gegaan? (Vergelyk 2 Kronieke 33:1-9.)
14 En wat het hulle in Juda gedoen wat hulle Jehovah se toorn op die hals gehaal het? Hulle het offerkoeke vir “die koningin van die hemel” gemaak. Hulle het doelbewus drankoffers vir ander gode uitgegiet om Jehovah te krenk. Jehovah vra dus: “Is dit vir My wat hulle seermaak? . . . Nee, hulle maak hulleself seer en hulle bring skande oor hulleself” (Jeremia 7:18, 19, NAV). Maar hulle godonterende wandade het selfs verder ontaard—hulle het walglike afgode in die huis geplaas wat Jehovah se naam gedra het. Hulle het altare buite Jerusalem in die dal van Hinnom gebou “om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand”. Watter prys sou hulle vir hulle minagting van ware aanbidding betaal?—Jeremia 7:30, 31.
Juda betaal die prys
15. Watter slegte nuus het Jeremia vir Juda gehad?
15 Teen omstreeks 632 v.G.J. is Assirië deur die Chaldeërs en die Meders verower en was Egipte net ’n derderangse mag suid van Juda. Die werklike bedreiging vir Juda sou met die invalsroete in die noorde langs kom. Jeremia moes gevolglik sy mede-Jode slegte nuus gee! “Kyk, daar kom ’n volk uit die Noordland . . . hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle . . . [is] gewapend soos ’n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Sion!” Babilon was destyds die opkomende wêreldmoondheid. Dit sou God se instrument wees om ontroue Juda te straf.—Jeremia 6:22, 23; 25:8, 9.
16. Waarom sou dit nie help as Jeremia ’n goeie woord vir die nasie doen nie?
16 Sou dit help as Jeremia vir sy landgenote ’n goeie woordjie probeer doen? Kon daar miskien ’n vergelyk ten opsigte van ware aanbidding wees? Sou Jehovah moontlik halfhartige aanbidding aanvaar en sy volk vergewe? Jehovah se standpunt was duidelik. Hy het Jeremia by ten minste drie geleenthede beveel: “Bid nie vir hierdie volk nie . . . want Ek sal na jou nie luister nie.” In die parallelle vervulling hou hierdie sombere waarskuwing niks goeds vir die Christendom in nie.—Jeremia 7:16; 11:14; 14:11.
17, 18. Hoe is God se oordeel uiteindelik aan Juda voltrek?
17 Hoe het sake vir Juda afgeloop? Presies soos Jehovah deur Jeremia voorspel het. Gedurende koning Jojakim se bewind het Juda ’n vasalnasie van magtige Babilon geword. Drie jaar later het Jojakim in opstand gekom. Hierdie dwase optrede het tot selfs groter vernedering deur die Babiloniërs gelei, wat die stad Jerusalem beleër het. Teen hierdie tyd het Jojakim gesterf en is hy deur sy seun Jojagin opgevolg. Die Babiloniese beleëring het Juda op sy knieë gebring, en Jojagin en die hele koninklike familie, sowel as die hoër range van die Joodse gemeenskap, is in ballingskap na Babilon weggevoer.—2 Konings 24:5-17.
18 Wat het van die heilige tempel en al sy waardevolle heilige ornamente geword? Dit was beslis nie ’n gelukbringer vir Juda nie. Nebukadnesar “het daarvandaan uitgebring al die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning en al die goud van die voorwerpe afgesny wat Salomo, die koning van Israel, gemaak het in die tempel van die HERE” (2 Konings 24:13). Later het Babilon se benoemde koning, Sedekia, wat agtergelaat is om te heers oor wat in Jerusalem oorgebly het, ook teen sy opperhere in opstand gekom. Toe het Nebukadnesar genoeg gehad. Die stad Jerusalem is weer beleër en in 607 v.G.J. het Nebusaradan dit verower en is dit heeltemal vernietig.—Jeremia 34:1, 21, 22; 52:5-11.
19, 20. Hoe het Juda en Jeremia se gesindheid teenoor die voorspelde onheil verskil, en wat was die uiteinde?
19 Wat ’n rampspoedige nederlaag vir die ‘uitverkore volk’! Maar hoe duidelik is Jeremia se oordeelsboodskappe tog nie verwesenlik nie! Terwyl die Jode in ’n droomwêreld gelewe en geglo het dat hulle niks kan oorkom nie, was die “onheilsprofeet” Jeremia in werklikheid ’n realis, nie ’n pessimistiese dromer nie. (Jeremia 38:4; let op dat die woord “onheil” 64 keer in die boek Jeremia (NW) voorkom.) Hoe juis was Jehovah se oordeel tog: “Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond. En Ek sal uit die stede van Juda en uit die strate van Jerusalem laat ophou die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, . . . want die land sal ’n puinhoop word”!—Jeremia 7:28, 34.
20 Die trotse, selfvoldane Jode moes op hierdie tragiese manier tot die besef kom dat die feit dat hulle God aangeroep en ’n spesiale verhouding met hom gehad het nie hulle redding verseker het nie. Soos die profesie gesê het: “Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op ’n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking. Die oes is verby, die somer is ten einde, en ons is nie verlos nie!” (Jeremia 8:15, 20). Dit was nou ’n tyd van afrekening vir Juda. Maar die onverskrokke profeet Jeremia is dwarsdeur sy loopbaan beskerm en toegelaat om sy toewysing te volbring. Hy het sy laaste dae in ballingskap deurgebring, nie in Babilon saam met die vernederde nasie nie, maar in Egipte. Hy het meer as 65 jaar lank God se oordele onbevrees en getrou verkondig.
21. Watter verdere vrae is vir ons van belang?
21 Maar nou wil ons weet watter toepassing die lewe en bediening van Jeremia op ons tyd het. Wie is in hierdie 20ste eeu die teëbeeld van Jeremia? En van Juda en Jerusalem? En wat kom ooreen met die bedreiging vanuit die noorde? Ons volgende artikels sal hierdie vrae bespreek.
Onthou jy?
◻ Hoe het Jeremia op sy opdrag gereageer, en wat was Jehovah se antwoord?
◻ Waarom stel ons in die gebeure van Jeremia se dag belang?
◻ Watter godsdienstoestand het Jeremia veroordeel, en waarop het die Jode vertrou?
◻ Wat was die uiteinde vir Jerusalem en Juda?
[Lokteks op bladsy 12]
Jeremia het God se oordele onbevrees aan die Joodse leiers en aan die volk verkondig
[Prent op bladsy 13]
Die vroue het koeke vir “die koningin van die hemel” gebak