Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
5-11 MAART
SKATTE UIT GOD SE WOORD | MATTEUS 20-21
“Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees”
(Matteus 20:3) Hy het ook omstreeks die derde uur uitgegaan en ander werkloos op die markplein sien staan;
Media in nwtsty
Die markplein
Party markpleine, soos die een wat ons hier sien, was langs ’n pad. Verkopers het dikwels soveel produkte in die straat gepak dat dit moeilik was om daar deur te loop. Omdat mense nie yskaste gehad het nie, moes hulle elke dag na die mark toe gaan om kos te koop. Hier kon mense wat inkopies kom doen het, nuus kry by verkopers en ander besoekers, kinders kon hier met mekaar speel en mense wat werk gesoek het, kon hier wag om werk te kry. Hier op die markplein het Jesus siekes genees en het Paulus gepreek (Han 17:17). Maar die trotse skrifgeleerdes en Fariseërs het daarvan gehou dat mense hulle op hierdie markpleine raaksien en groet.
(Matteus 20:20, 21) Toe het die moeder van die seuns van Sebedeʹus saam met haar seuns na hom toe gekom en aan hom hulde bewys en iets van hom gevra. 21 Hy het vir haar gesê: “Wat wil u hê?” Sy het vir hom gesê: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand.”
Studienotas oor Mt 20:20, 21 in nwtsty
moeder van die seuns van Sebedeus: Dit is die ma van die apostels Jakobus en Johannes. Volgens Markus se verslag is dit Jakobus en Johannes wat na Jesus toe kom. Hulle gebruik hulle ma, Salome, wat moontlik Jesus se tannie was, om vir Jesus die vraag te vra, maar dit is eintlik hulle wat haar gestuur het. — Mt 27:55, 56; Mr 15:40, 41; Joh 19:25.
een aan u regter- en een aan u linkerhand: Albei die posisies is posisies van eer en gesag, maar die plek van die grootste eer, is altyd aan die regterkant. — Ps 110:1; Han 7:55, 56; Ro 8:34.
(Matteus 20:25-28) Maar Jesus het hulle na hom toe geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel en die groot manne oor hulle gesag uitoefen. 26 Onder julle is dit nie so nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, 27 en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. 28 Net soos die Seun van die mens gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie.”
Studienotas oor Mt 20:26, 28 in nwtsty
dienaar: Of, “kneg”. Die Bybel gebruik dikwels die Griekse woord di·aʹko·nos wanneer dit praat van iemand wat sonder ophou nederig diens aan ander lewer. Die woord word gebruik vir Christus (Ro 15:8), dienaars of knegte van Christus (1Ko 3:5-7; Kol 1:23), bedieningsknegte (Flp 1:1; 1Ti 3:8), sowel as huishoudelike werkers (Joh 2:5, 9) en regeringsamptenare (Ro 13:4).
nie om gedien te word nie, maar om te dien: Of, “nie om bedien te word nie, maar om te bedien”.
Soek na geestelike skatte
(Matteus 21:9) Wat die skare betref, dié wat voor hom uit gegaan het en dié wat gevolg het, het bly uitroep: “Red tog die Seun van Dawid! Geseënd is hy wat in Jehovah se naam kom! Red hom tog in die hoogtes daar bo!”
Studienota oor Mt 21:9 in nwtsty
Red tog: Lett., “hosanna”. Daardie Griekse woord kom van ’n Hebreeuse uitdrukking wat “red tog” of “red asseblief” beteken. Hier word die woord as ’n smeking aan God gerig vir redding of oorwinning; dit kan ook vertaal word as “red ons tog, asseblief”. Die woord het mettertyd ’n vorm van gebed en lof geword. Die Hebreeuse uitdrukking word in Ps 118:25 gebruik, en dit is deel van die Hallel-Psalms wat gereeld gedurende die Pasgatyd gesing is. Daarom het hierdie woorde tydens hierdie gebeurtenis outomaties by hulle opgekom. Een manier waarop God hierdie gebed beantwoord het om die Seun van Dawid te red, was deur hom uit die dood op te wek. In Mt 21:42 haal Jesus self Ps 118:22, 23 aan en pas hy dit op die Messias toe.
Seun van Dawid: Hierdie woorde wys uit watter geslagslyn Jesus sou kom en bevestig sy rol as die beloofde Messias.
(Matteus 21:18, 19) Terwyl hy vroeg die oggend na die stad teruggekeer het, het hy honger geword. 19 En hy het ’n vyeboom langs die pad gesien en daarheen gegaan, maar hy het niks daaraan gevind nie, behalwe net blare, en hy het vir hom gesê: “Laat geen vrug tot in ewigheid ooit weer van jou kom nie.” En die vyeboom het oombliklik verdor.
jy-E 244 ¶4-6
’n Vyeboom word gebruik om ’n les oor geloof te leer
Maar waarom het Jesus die boom laat doodgaan? Hy gee die rede hiervoor wanneer hy sê: “Voorwaar, ek sê vir julle: As julle maar geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net doen wat ek aan die vyeboom gedoen het nie, maar ook as julle vir hierdie berg sê: ‘Word opgelig en in die see gewerp’, sal dit gebeur. En alles wat julle in gebed met geloof vra, sal julle ontvang” (Matteus 21:21, 22). Al wat hy hier doen, is om die punt te herhaal wat hy vroeër gemaak het oor geloof wat ’n berg kan laat skuif. — Matteus 17:20.
Jesus het die boom net laat doodgaan om vir sy dissipels ’n praktiese les te gee oor hoe belangrik dit is om geloof in God te hê. Hy sê: “Glo dat julle alles waarom julle bid en vra so goed as ontvang het, en julle sal dit hê” (Markus 11:24). Dit is ’n baie belangrike les vir al Jesus se volgelinge! Dit is veral belangrik vir die apostels omdat hulle binnekort moeilike tye sal deurmaak. Maar daar is nog ’n verband tussen geloof en die vyeboom wat doodgegaan het.
Net soos hierdie vyeboom het die nasie Israel ’n bedrieglike voorkoms. Hierdie nasie is in ’n verbondsverhouding met God, en dit lyk dalk asof hulle sy Wet gehoorsaam. Maar die nasie as ’n geheel is sonder geloof, sonder goeie vrugte. Hulle verwerp selfs God se Seun! Deur die onvrugbare vyeboom te laat doodgaan, wys Jesus wat die uiteinde vir hierdie vrugtelose, ontroue nasie sal wees.
12-18 MAART
SKATTE UIT GOD SE WOORD | MATTEUS 22-23
“Wees gehoorsaam aan die twee grootste gebooie”
(Matteus 22:36-38) “Leermeester, wat is die grootste gebod in die Wet?” 37 Hy het vir hom gesê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ 38 Dit is die grootste en eerste gebod.
Studienota oor Mt 22:37 in nwtsty
hart: Wanneer hierdie woord in figuurlike sin gebruik word, stel dit die hele innerlike persoon voor. Maar wanneer die woord “hart” saam met die woorde “siel” en “verstand” gebruik word, het dit ’n meer spesifieke betekenis en verwys dit hoofsaaklik na ’n mens se emosies, begeertes en gevoelens. Die drie woorde wat hier gebruik word (hart, siel en verstand), staan nie elkeen op sy eie nie; hulle ondersteun mekaar, en dit wys baie duidelik dat ons algehele en volkome liefde vir God moet hê.
siel: Of, “hele wese”.
verstand: Dit beteken ’n mens se intellektuele vermoëns. ’n Mens moet sy verstandelike vermoëns gebruik om God te leer ken en al hoe liewer vir hom te word (Joh 17:3; Ro 12:1). In hierdie aanhaling uit De 6:5, gebruik die Hebreeuse teks drie woorde, naamlik ‘hart, siel en lewenskrag’. Maar die Griekse vertaling van Matteus se verslag gebruik die woord “verstand” in plaas van “lewenskrag”. Daar kan verskillende redes hiervoor wees. Eerstens, al het eertydse Hebreeus nie ’n spesifieke woord vir “verstand” gehad nie, is die betekenis daarvan dikwels in die Hebreeuse woord vir “hart” ingesluit. Wanneer hierdie woord figuurlik gebruik word, verwys dit na die hele innerlike persoon, onder andere ’n mens se denke, gevoelens, gesindhede en beweegredes. (De 29:4; Ps 26:2; 64:6; sien die studienota oor hart in hierdie vers.) Daarom gebruik die Griekse Septuagint dikwels die Griekse ekwivalent vir “verstand” waar die Hebreeuse teks die woord “hart” gebruik (Ge 8:21; 17:17; Spr 2:10; Jes 14:13). Nog ’n rede waarom Matteus dalk die Griekse woord vir “verstand” in plaas van “lewenskrag” gebruik het toe hy De 6:5 aangehaal het, is dat die Hebreeuse woord wat met “lewenskrag” [of, krag] vertaal word liggaamlike krag en verstandelike of intellektuele vermoëns kan insluit. Wat ook al die rede daarvoor is, die oorvleueling van gedagtes tussen die Hebreeuse en Griekse woorde kan help om te verduidelik waarom die Evangelieskrywers nie almal dieselfde woorde gebruik wanneer hulle Deuteronomium aanhaal nie.
(Matteus 22:39) Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
Studienota oor Mt 22:39 in nwtsty
Die tweede: Jesus se antwoord aan die Fariseër is in Mt 22:37 opgeteken, maar Jesus gaan nou verder as die oorspronklike vraag, en haal ’n tweede gebod aan (Le 19:18). So wys hy dat die twee gebooie baie nou met mekaar verbind is, en dat daardie twee gebooie die hele Wet en die Profete opsom. — Mt 22:40.
naaste: Hierdie Griekse woord vir “naaste” (lett., “die een naby”) kan meer beteken as net die mense wat naby jou bly. Dit kan na enigiemand verwys met wie ’n mens te doen het. — Lu 10:29-37; Ro 13:8-10.
(Matteus 22:40) Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete.”
Studienota oor Mt 22:40 in nwtsty
die Wet . . . die Profete: ‘Die Wet’ verwys na die Bybelboeke van Genesis tot Deuteronomium. “Die Profete” verwys na die profetiese boeke van die Hebreeuse Geskrifte. Maar wanneer dit saam gebruik word, beteken dit waarskynlik die hele Hebreeuse Geskrifte. — Mt 7:12; 22:40; Lu 16:16.
hang: Die Griekse werkwoord wat letterlik “om te hang aan” beteken, word hier figuurlik gebruik in die sin van “afhanklik wees van; gebaseer op”. Jesus het dus gewys dat die hele Hebreeuse Geskrifte op liefde gebaseer is, en nie net op die Wet met die Tien Gebooie nie. — Ro 13:9.
Soek na geestelike skatte
(Matteus 22:21) Hulle het gesê: “Die keiser s’n.” Toe het hy vir hulle gesê: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.”
Studienota oor Mt 22:21 in nwtsty
aan die keiser . . . wat aan die keiser behoort: Jesus se antwoord hier, en in die ooreenstemmende verslae in Mr 12:17 en Lu 20:25, is die enigste opgetekende verslag waar hy van die Romeinse keiser praat. Die dinge “wat aan die keiser behoort”, sluit in betaling vir dienste wat deur die regering gelewer word, asook die eer en relatiewe onderdanigheid wat aan hierdie owerhede gewys moet word. — Ro 13:1-7.
aan God wat aan God behoort: Die dinge “wat aan God behoort”, sluit ’n persoon se heelhartige aanbidding en liefde in, asook sy algehele, lojale gehoorsaamheid. — Mt 4:10; 22:37, 38; Han 5:29; Ro 14:8.
(Matteus 23:24) Blinde gidse, wat die muggie uitsif maar die kameel insluk!
Studienota oor Mt 23:24 in nwtsty
wat die muggie uitsif maar die kameel insluk: Die muggie en die kameel was van die kleinste en die grootste onrein diere in die Israeliete se tyd (Le 11:4, 21-24). Jesus gebruik oordrywing en ’n bietjie ironie wanneer hy sê dat die godsdiensleiers hulle drinkgoed sif sodat hulle nie ’n muggie insluk nie, wat hulle volgens die wet onrein sou maak. Maar hulle vergeet heeltemal van die belangriker sake van die Wet, wat daarmee vergelyk kan word om ’n kameel in te sluk.
19-25 MAART
SKATTE UIT GOD SE WOORD | MATTEUS 24
“Bly geestelik wakker in hierdie laaste dae”
(Matteus 24:12) en weens die toename in wetteloosheid sal die liefde van die meeste verkoel.
it-2-E 279 ¶6
Liefde
’n Mens se liefde kan verkoel. Toe Jesus Christus vir sy dissipels vertel het van die dinge wat voorlê, het hy gesê dat die liefde (a·gaʹpe) van baie mense wat sê dat hulle in God glo, sal verkoel (Mt 24:3, 12). Volgens die apostel Paulus sou een van die kenmerke van die toekomstige kritieke tye wees dat mense “liefhebbers van geld” sou word (2Ti 3:1, 2). Dit is dus duidelik dat ’n mens se beginsels en die liefde wat hy eers gehad het, kan verswak. Daarom is dit baie belangrik dat ons ons liefde moet versterk deur oor God se Woord na te dink en volgens sy beginsels te lewe. — Ef 4:15, 22-24.
(Matteus 24:44) Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.
jy-E 259 ¶5
Die apostels vra vir ’n teken
Hy sê dat sy dissipels waaksaam, wakker en gereed sal moet wees. Jesus beklemtoon hierdie waarskuwing deur nog ’n illustrasie: “Een ding moet julle weet: as die huisheer geweet het in watter waak die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.” — Matteus 24:43, 44.
Soek na geestelike skatte
(Matteus 24:8) Al hierdie dinge is ’n begin van weë van benoudheid.
Studienota oor Mt 24:8 in nwtsty
weë van benoudheid: Die Griekse woord verwys letterlik na die intense pyn van kindergeboorte. Dit word hier gebruik in die sin van benoudheid, pyn en swaarkry oor die algemeen. Maar dit kan ook verwys na die probleme en swaarkry wat in Matteus 24:21 genoem word wat gedurende die tydperk voor die groot verdrukking toeneem, net soos geboortepyne, wat nader aan die geboorte gereelder, erger en langer word.
(Matteus 24:20) Hou aan bid dat julle vlug nie in die winter plaasvind nie, en ook nie op die sabbatdag nie;
Studienota oor Mt 24:20 in nwtsty
in die winter: Swaar reën, oorstromings en koue weer gedurende hierdie seisoen sal dit moeilik maak om te reis en om kos en skuiling te kry. — Esr 10:9, 13.
op die sabbatdag: In gebiede soos Judea sou die beperkings van die Sabbatswet dit vir ’n mens moeilik maak om lang afstande te reis en om ’n vrag te dra. Die stad se hekke was ook nie op die Sabbat oopgemaak nie. — Sien Han 1:12 en ’n Studiegids vir God se Woord, deel 16.