Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr19 September bl. 1-5
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2019)
  • Onderhofies
  • 2-8 SEPTEMBER
  • 9-15 SEPTEMBER
  • 16-22 SEPTEMBER
  • 23-29 SEPTEMBER
  • 30 SEPTEMBER–6 OKTOBER
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2019)
mwbr19 September bl. 1-5

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

2-8 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | HEBREËRS 7-8

“’n Priester vir ewig volgens die wyse van Melgisedek”

(Hebreërs 7:1, 2) Want hierdie Melgise′dek, die koning van Salem, priester van die Allerhoogste God, wat vir Abraham by sy terugkeer van die slagting van die konings tegemoetgegaan en hom geseën het 2 en aan wie Abraham ’n tiende van alles gegee het, is in die eerste plek, by vertaling, “Koning van Regverdigheid”, en is dan ook koning van Salem, dit wil sê “Koning van Vrede”.

it-2-E 366

Melgisedek

Koning van eertydse Salem en “priester van die Allerhoogste God”, Jehovah (Ge 14:18, 22). Hy is die eerste priester waarvan die Bybel praat; hy is die een of ander tyd voor 1933 VHJ as priester aangestel. Melgisedek, wat die koning van Salem was, wat “Vrede” beteken, word deur die apostel Paulus geïdentifiseer as “Koning van Vrede” en, weens sy naam, as “Koning van Regverdigheid” (Heb 7:1, 2). Die eertydse Salem was blykbaar die kern van die latere stad Jerusalem, en daarom het dit deel geword van die naam Jerusalem, wat soms “Salem” genoem word. – Ps 76:2.

Nadat Abram (Abraham) Kedorlaomer en sy bondgenootkonings verslaan het, het die aartsvader na die Sawelaagvlakte, of “die koning se Laagvlakte” gekom. Daar het Melgisedek “brood en wyn uitgebring” en Abraham geseën en gesê: “Mag Abram geseën word deur die Allerhoogste God, Voortbringer van hemel en aarde; en mag die Allerhoogste God geloof word, wat u onderdrukkers in u hand oorgelewer het!” Toe het Abraham vir die koning-priester “’n tiende van alles” gegee, dit wil sê “die vernaamste buit” wat hy verkry het tydens sy suksesvolle oorlog teen die bondgenootkonings. – Ge 14:17-20; Heb 7:4.

(Hebreërs 7:3) Aangesien hy sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister is en nie ’n begin van dae of ’n lewenseinde het nie, maar soos die Seun van God gemaak is, bly hy ’n priester vir altyd.

it-2-E 367 ¶4

Melgisedek

Hoe is dit moontlik dat Melgisedek “nie ’n begin van dae of ’n lewenseinde” gehad het nie?

Paulus het ’n baie belangrike punt oor Melgisedek genoem toe hy oor hom gesê het: “Aangesien hy sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister is en nie ’n begin van dae of ’n lewenseinde het nie, maar soos die Seun van God gemaak is, bly hy ’n priester vir altyd” (Heb 7:3). Soos ander mense, is Melgisedek ook gebore en het hy ook gesterf. Maar die name van sy ma en pa word nie gegee nie, en ook nie dié van sy voorouers of nageslag nie; die Bybel bevat geen inligting oor die begin of die einde van sy lewe nie. Dit is dus gepas dat Melgisedek Jesus Christus afbeeld, wie se priesterskap oneindig is. Daar word nêrens genoem dat Melgisedek ’n voorganger of opvolger as priester gehad het nie, en Christus het ook nie ’n priester soortgelyk aan homself as voorganger gehad nie, en die Bybel wys dat niemand hom ooit sal opvolg nie. En alhoewel Jesus in die stam van Juda en in die koninklike geslag van Dawid gebore is, is daar geen verband tussen sy vleeslike voorouers en sy priesterskap nie; en die feit dat hy beide priester en koning was, het nie van sy menslike voorouers afgehang nie. Hierdie dinge was die resultaat van Jehovah se eie eed aan hom.

(Hebreërs 7:17) Want daar word ter getuienis gesê: “Jy is ’n priester vir ewig volgens die wyse van Melgise′dek.”

it-2-E 366

Melgisedek

Christus se priesterskap afgebeeld. In ’n belangrike Messiaanse profesie het Jehovah met ’n eed aan Dawid se “Here” gesweer: “Jy is ’n priester tot onbepaalde tyd volgens die wyse van Melgisedek!” (Ps 110:1, 4). Hierdie geïnspireerde psalm het die Hebreërs rede gegee om die beloofde Messias te beskou as die een wat as beide priester en koning sou dien. Die apostel Paulus het, in sy brief aan die Hebreërs, enige twyfel uit die weg geruim oor die identiteit van die een waarvan die profesie gepraat het, toe hy gesê het: “Jesus, wat vir ewig ’n hoëpriester volgens die wyse van Melgisedek geword het.” – Heb 6:20; 5:10; sien “COVENANT” in it-1-E.

it-1-E 1113 ¶4-5

“’n Priester vir ewig volgens die wyse van Melgisedek”

Die hoëpriesterskap van Jesus Christus. Die Bybelboek Hebreërs wys dat Jesus Christus, vandat hy opgewek is en in die hemel ingegaan het, “vir ewig ’n hoëpriester volgens die wyse van Melgisedek geword het” (Heb 6:20; 7:17, 21). Om die grootsheid en verhewenheid van Christus se priesterskap teenoor die Aäronitiese priesterskap aan te dui, wys die skrywer dat Melgisedek nie deur menslike afstamming ’n koning sowel as priester geword het nie, maar dat hy deur die Allerhoogste God aangestel is. Christus Jesus is nie in die stam van Levi gebore nie, maar in die stam van Juda en uit die geslagslyn van Dawid. Hy het nie ’n hoëpriester geword op grond van afstamming van Aäron nie, maar is, net soos Melgisedek, direk deur God aangestel (Heb 5:10). Psalm 110:4 sê: “Jehovah het gesweer (en hy sal nie spyt wees nie): ‘Jy is ’n priester tot onbepaalde tyd volgens die wyse van Melgisedek!’” Buiten hierdie belofte wat hom ’n hemelse koning-priester maak, het Christus ook Koninkryksgesag omdat hy ’n nakomeling van Dawid is – so word hy die erfgenaam van die koningskap wat volgens die Dawidiese verbond belowe is (2Sa 7:11-16). Daarom is hy koning en priester, net soos Melgisedek.

Om verder te wys hoe allesoortreffend Christus se hoëpriesterskap is, kan ons sien dat Levi, die voorvader van die Joodse priesterskap, as’t ware tiendes aan Melgisedek gegee het, aangesien Levi nog in die lendene van Abraham was toe die aartsvader ’n tiende aan Salem se priester-koning gegee het. ’n Mens kan dus sê dat Levi ook in hierdie sin deur Melgisedek geseën is, want die reël is dat die mindere deur die meerdere geseën word (Heb 7:4-10). Die apostel vestig ook die aandag op die feit dat Melgisedek “sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister is en nie ’n begin van dae of ’n lewenseinde het nie”. Dit het die ewige priesterskap voorgestel van Jesus Christus wat tot “’n onvernietigbare lewe” opgewek is. – Heb 7:3, 15-17.

Soek na geestelike skatte

(Hebreërs 8:13) Deurdat hy sê “’n nuwe verbond”, het hy die vorige verouderd gemaak. En wat verouderd gemaak is en oud word, is na aan verdwyning.

it-1-E 523 ¶5

Verbond

Hoe het die Wetsverbond “verouderd” geword?

Maar die Wetsverbond het in ’n sin “verouderd” geraak toe God deur die profeet Jeremia aangekondig het dat daar ’n nuwe verbond sou wees (Jer 31:31-34; Heb 8:13). In 33 HJ is die Wetsverbond tot niet gemaak toe Christus aan die folterpaal gesterf het (Kol 2:14), en dit is deur die nuwe verbond vervang. – Heb 7:12; 9:15; Han 2:1-4.

LÊ JOU TOE OP DIE VELDBEDIENING

it-1-E 524 ¶3-5

Toespraak: Wat is die nuwe verbond?

Nuwe verbond. Jehovah het in die sewende eeu VHJ deur die profeet Jeremia voorspel dat daar ’n nuwe verbond sal wees en gesê dat dit nie soos die Wetsverbond sou wees wat deur Israel verbreek is nie (Jer 31:31-34). Die aand voor Jesus Christus se dood, 14 Nisan 33 HJ, het hy, toe hy die viering van die Here se Aandmaal ingestel het, die nuwe verbond aangekondig wat deur sy offerande geldig gemaak sou word (Lu 22:20). Op die 50ste dag na sy opwekking en 10 dae nadat hy na sy Vader opgevaar het, het hy die heilige gees, wat hy van Jehovah ontvang het, op sy dissipels uitgestort wat in ’n bokamer in Jerusalem bymekaargekom het. – Han 2:1-4, 17, 33; 2Kor 3:6, 8, 9; Heb 2:3, 4.

Die partye van die nuwe verbond is Jehovah aan die een kant en “die Israel van God”, die geesgesalfdes in eenheid met Christus, aan die ander kant, wat Christus se gemeente of liggaam uitmaak (Heb 8:10; 12:22-24; Ga 6:15, 16; 3:26-28; Ro 2:28, 29). Die nuwe verbond word in werking gestel deur die vergote bloed (die offerande van die menselewe) van Jesus Christus, en die waarde daarvan is voor Jehovah aangebied nadat Jesus na die hemel opgevaar het (Mt 26:28). Wanneer iemand deur God gekies word om hemel toe te gaan (Heb 3:1), bring God daardie persoon in Sy verbond in deur Christus se offerande (Ps 50:5; Heb 9:14, 15, 26). Jesus Christus is die Middelaar van die nuwe verbond (Heb 8:6; 9:15) en is die primêre Saad van Abraham (Ga 3:16). Deur middel van Jesus se middelaarskap van die nuwe verbond help hy diegene in die verbond om deel te word van die ware saad van Abraham (Heb 2:16; Ga 3:29) deur vergifnis van hulle sondes. Jehovah verklaar hulle regverdig. – Ro 5:1, 2; 8:33; Heb 10:16, 17.

Hierdie geesverwekte broers van Christus word onderpriesters van die Hoëpriester, “’n koninklike priesterdom” (1Pe 2:9; Op 5:9, 10; 20:6). Hulle doen die werk van ’n priester, ’n “openbare diens” (Flp 2:17), en word “bedienaars van ’n nuwe verbond” genoem (2Kor 3:6). Hierdie geroepenes moet Christus se voetstappe noukeurig, getrou, volg totdat hulle sterf; Jehovah sal hulle dan ’n koninkryk van priesters maak, deelgenote van die goddelike natuur, en sal hulle beloon met onsterflikheid en onverderflikheid as mede-erfgename in die hemel met Christus (1Pe 2:21; Ro 6:3, 4; 1Kor 15:53; 1Pe 1:4; 2Pe 1:4). Die doel van die verbond is om ’n volk vir Jehovah se naam as deel van Abraham se “saad” uit te kies (Han 15:14). Hulle word die “bruid” van Christus en is die groep persone wat Christus in ’n verbond vir die Koninkryk insluit om saam met Hom te heers (Joh 3:29; 2Kor 11:2; Op 21:9; Lu 22:29; Op 1:4-6; 5:9, 10; 20:6). Die doel van die nuwe verbond vereis dat dit in werking bly totdat die hele “Israel van God” opgewek is en onsterflikheid in die hemel ontvang het. Wanneer daardie doel bereik is, sal die voordele daarvan vir ewig duur, en daarom kan dit “’n ewige verbond” genoem word. – Heb 13:20.

9-15 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | HEBREËRS 9-10

“’n Skaduwee van die toekomstige goeie dinge”

(Hebreërs 9:12-14) het hy, nee, nie met die bloed van bokke en van jong bulle nie, maar met sy eie bloed, eens en vir altyd in die heiligdom ingegaan en ’n ewige verlossing vir ons verkry. 13 Want as die bloed van bokke en van bulle en die as van ’n vers wat gesprinkel word op dié wat verontreinig is, sodanig heilig dat die vlees rein word, 14 hoeveel te meer sal dan die bloed van die Christus, wat homself deur ’n ewige gees sonder smet aan God geoffer het, ons gewetens van dooie werke reinig sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig?

it-1-E 862 ¶1

Vergifnis

Volgens God se wet wat aan die nasie Israel gegee is, moes iemand wat teen God of teen sy medemens gesondig het en vergifnis wou hê, eers die sonde regstel soos die Wet voorgeskryf het; en in die meeste gevalle moes daardie persoon dan ’n bloedofferande aan Jehovah bring (Le 5:5–6:7). Daarom het Paulus die volgende beginsel genoem: “Ja, byna alles word volgens die Wet met bloed gereinig, en tensy bloed uitgestort word, vind geen vergifnis plaas nie” (Heb 9:22). Maar die bloed van diereoffers kon nie sonde wegneem en die persoon ’n heeltemal skoon gewete gee nie (Heb 10:1-4; 9:9, 13, 14). Aan die ander kant het die beloofde nuwe verbond ware vergifnis moontlik gemaak, gebaseer op Jesus Christus se losprysofferande (Jer 31:33, 34; Mt 26:28; 1Kor 11:25; Ef 1:7). Toe Jesus ’n verlamde man gesond gemaak het, het dit gewys dat hy die gesag het om sondes te vergewe, selfs toe hy op die aarde was. – Mt 9:2-7.

(Hebreërs 10:1-4) Want aangesien die Wet ’n skaduwee het van die toekomstige goeie dinge, maar nie die wese van die dinge nie, kan mense nooit met dieselfde offerandes wat hulle van jaar tot jaar voortdurend bring, dié wat nader kom, tot volmaaktheid bring nie. 2 Sou hulle andersins nie opgehou het om offerandes te bring omdat dié wat heilige diens verrig en eens en vir altyd gereinig is, geen bewustheid van sondes meer sou hê nie? 3 Inteendeel, deur hierdie offerandes is daar van jaar tot jaar ’n herinnering aan sondes, 4 want dit is nie vir die bloed van bulle en van bokke moontlik om sondes weg te neem nie.

it-2-E 602-603

Volmaaktheid

Volmaaktheid van die Mosaïese Wet. Die Wet wat deur Moses aan Israel gegee is, het onder andere voorsiening gemaak vir ’n priesterskap en verskeie diereofferandes. Hoewel die Wet van God af gekom het en dus volmaak was, het nie die Wet of sy priesterskap of die offerandes volmaaktheid gegee aan diegene onder die wet nie, soos die geïnspireerde apostel vir ons wys (Heb 7:11, 19; 10:1). Pleks van vryheid van sonde en die dood te bring, het die Wet sonde meer opvallend gemaak (Ro 3:20; 7:7-13). Al hierdie voorsienings van God het nogtans voldoen aan God se doel; die Wet was ’n “tugmeester” wat mense na Christus gelei het, en het sodoende ’n “skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge” geword (Ga 3:19-25; Heb 10:1). Daarom praat Paulus van “’n onvermoë aan die kant van die Wet . . .  terwyl dit swak was deur die vlees” (Ro 8:3). Hy verwys na die onvermoë van die vleeslike Joodse hoëpriester (wat deur die Wet aangestel is om in beheer te wees van die reëlings vir offerandes en wat op die Versoendag met offerbloed in die Allerheiligste ingegaan het) om diegene wat hy gedien het ‘volkome te red’, soos Hebreërs 7:11, 18-28 verduidelik. Hoewel die offerandes deur die Aäronitiese priesterskap die mense gehelp het om ’n regverdige posisie voor God te hê, het dit hulle nie heeltemal of volmaak vrygemaak van hulle bewustheid van sonde nie. Die apostel het hierna verwys toe hy oor hulle gewete gesê het dat die versoeningsofferandes nie “dié wat nader kom, tot volmaaktheid bring nie”. (Heb 10:1-4; vergelyk Heb 9:9.) Die hoëpriester kon nie die losprys betaal wat nodig was vir ware verlossing van sonde nie. Net Christus se blywende priesterlike diens en doeltreffende offerande kon dit regkry. – Heb 9:14; 10:12-22.

Soek na geestelike skatte

(Hebreërs 10:5-7) Daarom sê hy wanneer hy in die wêreld inkom: “‘Offerande en offergawe wou u nie hê nie, maar u het vir my ’n liggaam berei. 6 U het nie heelbrandoffers en sondoffer goedgekeur nie.’ 7 Toe het ek gesê: ‘Kyk! Ek het gekom (in die boekrol staan daar van my geskrywe) om u wil te doen, o God.’”

it-1-E 249-250

Doop

Lukas het gesê dat Jesus gebid het toe hy gedoop is (Lu 3:21). Die skrywer van die brief aan die Hebreërs sê verder dat toe Jesus Christus “in die wêreld” ingekom het, (met ander woorde, nie toe hy gebore is en nie kon lees of hierdie woorde kon sê nie, maar eerder toe hy homself vir doop aangebied het en sy bediening begin het) hy in ooreenstemming met Psalm 40:6-8 gesê het: “Offerande en offergawe wou u nie hê nie, maar u het vir my ’n liggaam berei . . . Kyk! Ek het gekom (in die boekrol staan daar van my geskrywe) om u wil te doen, o God” (Heb 10:5-9). Jesus is as lid van die Joodse nasie gebore, en daardie nasie was in ’n nasionale verbond met God, naamlik, die Wetsverbond (Eks 19:5-8; Ga 4:4). Daarom was Jesus reeds in ’n verbondsverhouding met Jehovah God toe hy na Johannes toe gekom het om gedoop te word. Jesus was daar om meer te doen as wat deur die Wet van hom vereis is. Hy het homself aan sy Vader Jehovah aangebied om Sy “wil” te doen, sodat hy sy eie voorbereide liggaam kon offer en so ’n einde kon maak aan die diereofferandes wat volgens die Wet vereis is. Die apostel Paulus sê hieroor: “Deur die genoemde ‘wil’ is ons geheilig deur middel van die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd” (Heb 10:10). Die Vader se wil vir Jesus het ingesluit dat hy iets vir die Koninkryk moes doen, en Jesus het hom ook vir hierdie diens aangebied (Lu 4:43; 17:20, 21). Jehovah het hierdie gewilligheid van sy Seun aanvaar en erken, hom met heilige gees gesalf en gesê: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur.” – Mr 1:9-11; Lu 3:21-23; Mt 3:13-17.

16-22 SEPTEMBER

Soek na geestelike skatte

(Hebreërs 11:4) Deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as Kain, en deur hierdie geloof het hy getuienis aangaande homself ontvang dat hy regverdig is, aangesien God aangaande sy gawes getuig het; en daardeur spreek hy nog, hoewel hy gesterf het.

it-1-E 804 ¶5

Geloof

Eertydse voorbeelde van geloof. Elke persoon wat deel was van die “groot wolk van getuies” waarvan Paulus gepraat het (Heb 12:1), het ’n stewige grondslag vir hulle geloof gehad. Byvoorbeeld, Abel het beslis geweet van God se belofte van ’n “saad” wat “die slang” se kop sou vermorsel. En hy het self gesien hoe die vonnis wat Jehovah in Eden oor sy ouers uitgespreek het, waar geword het. Buite Eden het Adam en sy gesin brood in die sweet van hulle aangesig geëet omdat die grond vervloek was en dit dorings en dissels voortgebring het. Abel het moontlik gesien dat Eva se begeerte na haar man was en dat Adam oor sy vrou geheers het. Sy ma het sonder twyfel gekla oor hoe moeilik swangerskap was. Die ingang tot die tuin van Eden is ook deur gerubs en die brandende lem van ’n swaard bewaak (Ge 3:14-19, 24). Dit was alles ’n “duidelike bewys” wat Abel die versekering gegee het dat redding deur die beloofde “saad” sou kom. Daarom het sy geloof hom beweeg om ‘’n offerande aan God te bring’ wat van groter waarde as Kain s’n was. – Heb 11:1, 4.

23-29 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | HEBREËRS 12-13

it-1-E 629

“Dissipline – ’n Bewys van Jehovah se liefde”

Wanneer Jehovah se knegte vervolg word, laat hy soms toe dat dit gebeur, want dit kan as dissipline, of opleiding, dien en die begeerlike vrug van regverdigheid voortbring wat in vrede geniet kan word wanneer daardie moeilike tyd verby is (Heb 12:4-11). Die Vader het selfs die Seun van God toegelaat om te ly, en dit het hom in staat gestel om ’n hoëpriester te word wat meegevoel en simpatie met ander het. – Heb 4:15.

30 SEPTEMBER–6 OKTOBER

Soek na geestelike skatte

(Jakobus 1:17) Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte, en by hom is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee nie.

it-2-E 253-254

Lig

Jehovah is “die Vader van die hemelse ligte” (Jak 1:17). Hy is nie net die een “wat die son gee as lig bedags, die insettinge van die maan en die sterre as lig snags” nie (Jer 31:35), maar hy is ook die Bron van alle geestelike verligting (2Kor 4:6). Sy wet, regterlike beslissings en woord is ’n lig vir dié wat toelaat dat dit hulle lei (Ps 43:3; 119:105; Spr 6:23; Jes 51:4). Die psalmis het gesê: “Deur lig van u kan ons lig sien.” (Ps 36:9; vergelyk Ps 27:1; 43:3.) Net soos die lig van die son al hoe helderder raak vanaf sonsopkoms “totdat dit heeltemal dag is”, word die pad van die regverdige, wat deur goddelike wysheid verlig word, al hoe helderder (Spr 4:18). Ons loop in Jehovah se lig deur die pad te volg wat hy vir ons wys (Jes 2:3-5). Maar mense wat op ’n onrein manier of met slegte beweegredes na dinge kyk, is in groot geestelike duisternis. Soos Jesus gesê het: “As jou oog goddeloos is, sal jou hele liggaam duister wees. As die lig in jou in werklikheid duisternis is, hoe groot is daardie duisternis tog!” – Mt 6:23; vergelyk De 15:9; 28:54-57; Spr 28:22; 2Pe 2:14.

(Jakobus 2:8) As julle dan nou voortdurend die koninklike wet volbring ooreenkomstig die Skrifgedeelte: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, doen julle heel goed.

it-2-E 222 ¶4

Wet

“Koninklike wet.” Net soos ’n koning belangriker is as die mense om hom, is die “koninklike wet” ook belangriker as die ander wette wat vir mense gemaak is (Jak 2:8). Die Wetsverbond was op liefde gegrond; en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (die koninklike wet) was die tweede van die gebooie waaraan die hele Wet en die Profete gehang het (Mt 22:37-40). Al is Christene nie onder die Wetsverbond nie, moet hulle gehoorsaam wees aan die wet van die Koning Jehovah en sy Seun, die Koning Jesus Christus, wanneer dit by die nuwe verbond kom.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel