Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 9/15 bl. 16-20
  • Hardloop die wedloop met volharding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hardloop die wedloop met volharding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Volharding is nodig om te wen
  • “’n Groot wolk van getuies”
  • Hulle het sukses behaal—Hoe?
  • Lesse vir ons
  • Jy kan tot die einde toe volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Hardloop die wedloop met volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Hardloop só dat julle dit kan verkry”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • ‘Voltooi die wedloop’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 9/15 bl. 16-20

Hardloop die wedloop met volharding

“Laat ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop.”—HEB. 12:1.

1, 2. Waarmee het die apostel Paulus die Christelike lewenswyse vergelyk?

ELKE jaar word maratons op baie plekke gehou. Die sogenaamde elitehardlopers skryf met een doel vir die wedloop in, naamlik om te wen. Die meeste ander deelnemers mik nie so hoog nie. Vir hulle is dit iets om op trots te wees as hulle die wedloop net voltooi.

2 In die Bybel word die Christelike lewenswyse met ’n wedloop vergelyk. In sy eerste brief aan sy mede-Christene in eertydse Korinte het die apostel Paulus hierdie punt onder hulle aandag gebring. Hy het geskryf: “Weet julle nie dat die hardlopers in ’n wedloop almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit kan verkry.”—1 Kor. 9:24.

3. Waarom het Paulus gesê dat net een hardloper die prys ontvang?

3 Het Paulus bedoel dat net een van daardie Christene die lewe as prys sou ontvang en dat die res tevergeefs sou gehardloop het? Natuurlik nie! Deelnemers aan wedlope het geoefen en hulle kragtig ingespan met die doel om te wen. Paulus wou hê dat sy mede-Christene hulle só moes inspan in hulle strewe na die ewige lewe. Sodoende kon hulle die hoop hê om die lewe as prys te ontvang. Ja, in die Christelike wedloop sal almal wat dit voltooi, daardie prys ontvang.

4. Wat moet ons in ag neem in verband met die wedloop wat voor ons gestel is?

4 Hierdie woorde is aanmoedigend, maar dit gee almal wat die wedloop om die lewe aangepak het, ernstige stof tot nadenke. Waarom? Omdat die prys—hetsy lewe in die hemel of lewe in die Paradys op aarde—van onvergelyklike waarde is. Toegegee, die wedloop is lank en veeleisend; daar is baie struikelblokke, afleidings en gevare langs die pad (Matt. 7:13, 14). Party het ongelukkig die pas verslap, moed opgegee of selfs uitgesak. Watter slaggate en gevare is daar in die wedloop om die lewe? Hoe kan jy dit vermy? Wat kan jy doen om hierdie wedloop te voltooi en dus te wen?

Volharding is nodig om te wen

5. Hoe het Paulus in Hebreërs 12:1 na ’n wedloop verwys?

5 In sy brief aan die Hebreeuse Christene in Jerusalem en Judea het Paulus weer verwys na aspekte van atletiekbyeenkomste of wedlope. (Lees Hebreërs 12:1.) Hy het nie net hulle aandag gevestig op die rede waarom hulle aan die wedloop deelneem nie, maar het ook gewys wat ’n mens moet doen om die wedloop te wen. Voordat ons Paulus se geïnspireerde raad aan die Hebreeuse Christene ondersoek om te sien watter lesse ons daaruit kan leer, kom ons kyk waarom Paulus die brief geskryf het en wat hy sy lesers probeer aanspoor het om te doen.

6. Watter druk het godsdiensleiers op Christene geplaas?

6 Die eerste-eeuse Christene, veral dié wat in Jerusalem en Judea gewoon het, moes baie beproewinge en ontberinge verduur. Die Joodse godsdiensleiers, wat nog ’n sterk invloed op die volk uitgeoefen het, het groot druk op hulle geplaas. Vroeër het hierdie leiers dit reggekry om Jesus Christus as ’n opstandeling te laat veroordeel en as ’n misdadiger te laat doodmaak. En hulle was glad nie van plan om hulle teenstand te laat vaar nie. In die boek Handelinge lees ons een verslag ná die ander van hulle dreigemente teen en aanvalle op Christene, wat omtrent onmiddellik ná die wonderdadige gebeure by Pinkster 33 HJ begin het. Dit het die lewe vir die getroues ongetwyfeld moeilik gemaak.—Hand. 4:1-3; 5:17, 18; 6:8-12; 7:59; 8:1, 3.

7. In watter kritieke tye het Christene vir wie Paulus geskryf het, gelewe?

7 Daardie Christene het ook in die tyd net voor die einde van die Joodse stelsel van dinge gelewe. Jesus het hulle vertel van die vernietiging wat oor die ontroue Joodse nasie sou kom. Hy het sy volgelinge ook vertel van gebeure wat net voor die einde sou plaasvind en het hulle spesifieke instruksies gegee oor wat om te doen sodat hulle dit kon oorleef. (Lees Lukas 21:20-22.) Wat moes hulle dus doen? Jesus het gewaarsku: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom [nie].”—Luk. 21:34.

8. Wat kon veroorsaak dat party Christene die pas verslap of moed opgee?

8 Teen die tyd dat Paulus sy brief aan die Hebreërs geskryf het, het byna 30 jaar verbygegaan sedert Jesus daardie waarskuwing gegee het. Watter uitwerking het die verloop van tyd op daardie Christene gehad? Party het geswig voor die druk en afleidings van die daaglikse lewe en het nie die geestelike vooruitgang gemaak wat hulle sou versterk het nie (Heb. 5:11-14). Ander het blykbaar gevoel dat die lewe baie makliker sou wees as hulle met die Jode om hulle saamgaan. Daardie Jode het God immers nie heeltemal verlaat nie; hulle het sy Wet nog altyd in sekere mate nagekom. Ander Christene is oorreed of geïntimideer deur persone in die gemeente wat daarop aangedring het dat daar by die Mosaïese Wet en tradisie gebly moes word. Wat kon Paulus sê wat sy Christenbroers sou help om geestelik wakker te bly en in die wedloop te volhard?

9, 10. (a) Watter aanmoediging van Paulus lees ons teen die einde van Hebreërs hoofstuk 10? (b) Waarom het Paulus oor die getroue dade van eertydse getuies geskryf?

9 Dit is interessant om te let op die manier waarop Paulus die Hebreeuse Christene onder goddelike inspirasie probeer versterk het. In hoofstuk 10 van sy brief het Paulus daarop gewys dat die Wet net “’n skaduwee [is] van die toekomstige goeie dinge” en het hy die waarde van die losprysofferande van Christus duidelik getoon. Teen die einde van daardie hoofstuk het Paulus sy lesers vermaan: “Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang. Want nog ‘’n baie kort rukkie’, en ‘hy wat kom, sal kom en sal nie talm nie’.”—Heb. 10:1, 36, 37.

10 In Hebreërs hoofstuk 11 verduidelik Paulus op vaardige wyse wat ware geloof in God is. En hy lig dit toe met voorbeelde van manne en vroue van geloof uit die geskiedenis. Was dit ’n onnodige afdwaling? Glad nie. Die apostel het geweet dat sy medeaanbidders moes besef dat geloof moedige optrede en volharding verg. Die uitstekende voorbeeld van daardie eertydse getroue knegte van Jehovah sou die Hebreërs versterk om die beproewinge en ontberinge waarvoor hulle te staan gekom het, te hanteer. Nadat Paulus vertel het van die dade van geloof van daardie lojales van die verlede, kon hy dus sê: “Omdat ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop.”—Heb. 12:1.

“’n Groot wolk van getuies”

11. Watter uitwerking kan dit op ons hê as ons oor die “groot wolk van getuies” nadink?

11 Die “groot wolk van getuies” was nie soos blote toeskouers of omstanders wat net daar was om na die wedloop te kyk of om te sien hoe hulle gunstelingatleet of -span wen nie. Hulle was eerder deelnemers, soos hardlopers in ’n wedloop. En hulle het dit suksesvol voltooi. Al is hulle nou dood, kan hulle voorbeeld as geoefende hardlopers nuwer deelnemers aan die wedloop aanmoedig. Stel jou voor hoe ’n hardloper sou voel as hy weet dat van die beste hardlopers hom dophou. Sou dit hom nie aanspoor om sy uiterste bes te doen nie? Hierdie getuies van ouds kon getuig dat so ’n figuurlike wedloop, ongeag hoe veeleisend dit mag wees, gewen kan word. Deur die voorbeeld van die “wolk van getuies” goed in gedagte te hou, kon die eerste-eeuse Hebreeuse Christene versterk word en ‘die wedloop met volharding hardloop’—soos ons dit vandag ook kan doen.

12. Waarom is die voorbeelde wat Paulus genoem het, vir ons betekenisvol?

12 Baie van die getroues waarvan Paulus melding gemaak het, het soortgelyke omstandighede as ons gehad. Byvoorbeeld, Noag het gelewe toe die wêreld voor die Vloed besig was om tot ’n einde te kom. Ons lewe naby die einde van die teenswoordige stelsel van dinge. Daar is van Abraham en Sara verwag om hulle vaderland ter wille van ware aanbidding te verlaat en te wag op die vervulling van Jehovah se belofte. Ons word aangespoor om onsself te verloën en Jehovah se goedkeuring te verkry, asook die seëninge wat hy vir ons in die vooruitsig stel. Moses het op pad na die Beloofde Land deur ’n vreesinboesemende wildernis getrek. Ons is deur hierdie sterwende stelsel van dinge op pad na die beloofde nuwe wêreld. Wat hierdie manne deurgemaak het, hulle suksesse en mislukkings sowel as hulle sterk punte en swakhede, verdien beslis ons aandag.—Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11.

Hulle het sukses behaal—Hoe?

13. Voor watter uitdagings het Noag te staan gekom, en wat het hom in staat gestel om dit te bowe te kom?

13 Wat het hierdie knegte van Jehovah in staat gestel om te volhard en sukses te behaal in die wedloop? Let op wat Paulus oor Noag geskryf het. (Lees Hebreërs 11:7.) ‘Die sondvloed van waters op die aarde wat alle vlees sou verdelg’, was iets wat Noag ‘nog nie gesien het nie’ (Gen. 6:17). Dit was iets wat nog nooit voorheen gebeur het nie, iets heeltemal ongekends. Maar Noag het dit nie as onmoontlik, of selfs onwaarskynlik, afgemaak nie. Waarom nie? Omdat hy geglo het dat Jehovah alles sal doen wat Hy sê. Noag het nie gedink dat sy opdrag te moeilik is nie. Hy het eerder “net so gedoen” (Gen. 6:22). Met die oog op alles wat Noag moes doen—om die ark te bou, die diere bymekaar te maak, die ark met kos vir mense en diere te vul, ’n waarskuwingsboodskap te verkondig en sy gesin geestelik sterk te hou—besef ’n mens dat dit ’n baie groot taak was om ‘net so te doen’. Maar Noag se geloof en volharding het tot lewe en seëninge vir hom en sy gesin gelei.

14. Watter beproewinge het Abraham en Sara verduur, en watter les leer ons hieruit?

14 Paulus noem Abraham en Sara volgende op sy lys van die “wolk van getuies rondom ons”. Hulle is uit hulle normale lewe in Ur ontwortel, en hulle toekoms het onseker gelyk. Hulle was voorbeelde van onwrikbare geloof en gehoorsaamheid in moeilike tye. Weens al die opofferings wat Abraham bereid was om vir ware aanbidding te maak, is hy gepas “die vader . . . van almal wat geloof het”, genoem (Rom. 4:11). Paulus het net die hoogtepunte genoem omdat sy lesers goed bekend was met die besonderhede van Abraham se lewe. Maar die les wat Paulus daaruit getrek het, is kragtig: “In geloof het hulle almal [ook Abraham en sy gesin] gesterf, hoewel hulle nie die vervulling van die beloftes verkry het nie, maar hulle het dit van ver gesien en dit verwelkom en in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is” (Heb. 11:13). Dit is duidelik dat hulle geloof in God en hulle persoonlike verhouding met hom hulle gehelp het om die wedloop met volharding te hardloop.

15. Wat het Moses beweeg om te doen wat hy gedoen het?

15 Moses is nog ’n voorbeeldige kneg van Jehovah onder die “wolk van getuies”. Moses het ’n gerieflike, bevoorregte lewe agtergelaat “en verkies om . . . saam met die volk van God sleg behandel te word”. Wat het hom beweeg om dit te doen? Paulus het geantwoord: “Hy het sy blik stip op die beloning gerig gehou. . . . Hy het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien.” (Lees Hebreërs 11:24-27.) Moses se aandag is nie afgelei deur “die tydelike genieting van sonde” nie. God en sy beloftes was vir Moses so werklik dat hy buitengewone moed en volharding geopenbaar het. Hy het hom onvermoeid ingespan om die Israeliete uit Egipte na die Beloofde Land te lei.

16. Waarom het Moses nie mismoedig geraak toe hy nie toegelaat is om die Beloofde Land binne te gaan nie?

16 Soos Abraham, het Moses nie die vervulling van God se belofte in sy leeftyd gesien nie. Toe die Israeliete gereed gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan, het Jehovah vir Moses gesê: “Jy sal die land van ver af sien, maar jy sal nie daar ingaan, in die land wat ek aan die kinders van Israel gee nie.” Dit was omdat hy en Aäron vroeër gefrustreerd geraak het die volk se opstandigheid en “troueloos teenoor [God] opgetree het onder die kinders van Israel by die waters van Meriba” (Deut. 32:51, 52). Het Moses mismoedig of gegrief geraak? Nee. Hy het ’n seën oor die volk uitgespreek en met hierdie woorde afgesluit: “Gelukkig is jy, o Israel! Wie is soos jy, ’n volk wat redding geniet in Jehovah, die skild van jou hulp, en die Een wat jou uitnemende swaard is?”—Deut. 33:29.

Lesse vir ons

17, 18. (a) Wat kan ons by die “wolk van getuies” leer in verband met ons wedloop om die lewe? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

17 Uit ons bespreking van die lewe van party van diegene waaruit die “wolk van getuies rondom ons” bestaan, kan ons duidelik sien dat ons vaste vertroue in God en sy beloftes moet hê as ons die wedloop enduit wil hardloop (Heb. 11:6). Geloof kan nie net aan die rand van ons lewe wees nie; dit moet die middelpunt daarvan wees. In teenstelling met dié wat nie geloof het nie, kan Jehovah se knegte meer as net die hede sien. Ons kan “die Onsigbare” sien en gevolglik die wedloop met volharding hardloop.—2 Kor. 5:7.

18 Die Christelike wedloop is nie maklik nie. Dit is nietemin vir ons moontlik om die wedloop met sukses te voltooi. In die volgende artikel sal ons bespreek watter verdere hulp daar vir ons is.

Kan jy verduidelik?

• Waarom het Paulus breedvoerig geskryf oor die eertydse getroue getuies?

• Hoe kan ons aangemoedig word om met volharding te hardloop as ons die “wolk van getuies rondom ons” in ons geestesoog sien?

• Wat het jy geleer uit die bespreking van getroue getuies soos Noag, Abraham, Sara en Moses?

[Prent op bladsy 19]

Abraham en Sara was bereid om die geriewe van Ur agter te laat

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel