Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr21 Januarie bl. 1-9
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2021
  • Onderhofies
  • 4-10 JANUARIE
  • 11-17 JANUARIE
  • 18-24 JANUARIE
  • 25-31 JANUARIE
  • 1-7 FEBRUARIE
  • 8-14 FEBRUARIE
  • 15-21 FEBRUARIE
  • 22-28 FEBRUARIE
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2021
mwbr21 Januarie bl. 1-9

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

4-10 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | LEVITIKUS 18-19

“Bly sedelik rein”

w19.06 28 ¶1

Hoe om jouself te beskerm teen een van Satan se strikke

Nadat Jehovah al die onsedelike dinge genoem het wat die nasies om hulle doen, het hy vir die Israeliete gesê: “Soos die land Kanaän doen, waarin ek julle bring, mag julle nie doen nie. . . . Die land [is] onrein, en ek sal straf daaroor bring vir sy oortreding.” In die oë van die heilige God van Israel was die lewenswyse van die Kanaäniete so walglik dat die land waarin hulle gewoon het, onrein geword het. – Lev. 18:3, 25.

w17.02 20 ¶13

Jehovah lei sy volk

13 Hierdie getroue konings het grootliks verskil van die leiers van ander nasies, wat deur menslike wysheid gerig is! Die Kanaänitiese leiers en hulle volk was skuldig aan afskuwelike dinge soos bloedskande, homoseksualiteit, bestialiteit, kinderofferandes en afgodediens (Lev. 18:6, 21-25). En die Babiloniese en Egiptiese leiers het nie die goeie higiëniese gebruike wat God vir Israel gegee het, gevolg nie (Num. 19:13). In teenstelling hiermee het God se eertydse volk gesien hoe hulle getroue leiers geestelike, sedelike en fisiese reinheid bevorder. Dit was duidelik dat Jehovah hulle gelei het.

w14 7/1 7 ¶2

Wat God sal doen omtrent slegte dinge

Wat van diegene wat hardkoppig weier om hulle weë te verander en wat aanhou om slegte dinge te doen? Dink na oor hierdie eenvoudige belofte: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word” (Spreuke 2:21, 22). Die invloed van goddelose mense sal weg wees. Onder hierdie vreedsame toestande sal gehoorsame mense geleidelik van oorgeërfde onvolmaaktheid bevry word.—Romeine 6:17, 18; 8:21.

Geestelike skatte

w06 6/15 22 ¶11

“Hoe lief het ek u wet tog!”

11 ’n Tweede aspek van die Mosaïese Wet wat God se besorgdheid oor sy volk se welsyn weerspieël het, was die reg om oesoorblyfsels in te samel. Jehovah het beveel dat, wanneer ’n Israelitiese boer die opbrengs van sy land oes, die behoeftiges toegelaat moes word om in te samel wat die oeswerkers agtergelaat het. Boere moes nie die rande van hulle landerye heeltemal afoes nie, en ook moes hulle nie die oorblywende druiwe of olywe insamel nie. As graangerwe per ongeluk op die landerye agtergelaat is, moes iemand nie teruggaan om dit te gaan haal nie. Dit was ’n liefdevolle reëling ten behoewe van die armes, die inwonende vreemdelinge, die wese en die weduwees. Die insameling van oesoorblyfsels het weliswaar harde werk van hulle geverg, maar danksy dié reëling was dit nie vir hulle nodig om te bedel nie.—Levitikus 19:9, 10; Deuteronomium 24:19-22; Psalm 37:25.

11-17 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | LEVITIKUS 20-21

“Jehovah verwag van sy volk om anders te wees as die wêreld”

w04 10/15 11 ¶12

Paradys—Vir Jou?

12 Nietemin is daar iets wat ons nie oor die hoof moet sien nie. God het vir die Israeliete gesê: “Julle moet die hele gebod onderhou wat ek jou vandag beveel, sodat julle sterk kan word en inderdaad kan ingaan en die land in besit kan neem” (Deuteronomium 11:8). In Levitikus 20:22, 24 word daar van dieselfde land melding gemaak: “Julle moet al my insettinge en al my regterlike beslissings onderhou en dit nakom, sodat die land waarheen ek julle bring om daarin te woon, julle nie uitbraak nie. Daarom het ek vir julle gesê: ‘Wat julle betref, julle sal hulle land in besit neem, en wat my betref, ek sal dit aan julle gee om dit in besit te neem, ’n land wat oorloop van melk en heuning.’” Ja, ’n goeie verhouding met Jehovah God was nodig om die Beloofde Land in besit te neem. Omdat die Israeliete nie aan God gehoorsaam was nie, het hy toegelaat dat die Babiloniërs hulle verower en hulle van hulle woonplek af wegneem.

it-1-E 1199

Erfdeel

Die eiendom wat na die erfgenaam of die wettige opvolger gaan wanneer die eienaar daarvan sterf; enige iets wat iemand volgens erfreg by ’n voorvader of voorganger kry. Die hoofwerkwoord in Hebreeus wat gebruik word, is na·chalʹ (selfstandige naamwoord, na·chalahʹ). Dit verwys na ’n erfdeel of erfbesitting wat iemand kry of gee, gewoonlik as gevolg van opvolging (Nu 26:55; Ese 46:18). Die werkwoord ya·rashʹ word partykeer gebruik in die betekenis van “erfgenaam”, maar dit word meer dikwels gebruik in die betekenis van “in besit neem”, wat niks met opvolging te doen het nie (Ge 15:3; Le 20:24). Dit beteken ook ‘in besit neem’ of “verdryf” deur militêre optrede (De 2:12; 31:3). Die Griekse woorde wat met erfdeel te doen het, is verwant aan kleʹros, wat oorspronklik “lot”, maar later “deel” en uiteindelik “erfenis”, beteken het. – Mt 27:35; Han 1:17; 26:18.   

it-1-E 317 ¶2

Voëls

Ná die wêreldwye Vloed het Noag “rein vlieënde diere” tesame met ander diere geoffer (Ge 8:18-20). Daarna het God toegelaat dat mense voëls eet, maar nie die bloed daarvan nie. (Ge 9:1-4; vergelyk Le 7:26; 17:13.) Die ‘reinheid’ van sekere voëls in daardie tyd het klaarblyklik beteken dat hulle vir God aanvaarbaar was as offerandes; die Bybel wys dat geen van die voëls “onrein” was om te eet totdat die Wet van Moses ingestel is nie (Le 11:13-19, 46, 47; 20:25; De 14:11-20). Die Bybel sê nie presies hoekom sekere voëls as seremonieel “onrein” verklaar is nie. So, hoewel die meeste van daardie voëls roofvoëls of aasvreters was, was nie almal nie. (Sien “HOOPOE” in it-1-E.) Nadat die nuwe verbond ingestel is, is hierdie verbod gelig, soos God vir Petrus in ’n visioen gewys het. – Han 10:9-15.

Geestelike skatte

it-1-E 563

Snye

God se Wet was baie spesifiek daaroor dat mense nie snye in hulle vlees moes maak vir die dooies nie (Le 19:28; 21:5; De 14:1). Dit is omdat Israel ’n heilige volk vir Jehovah was, ’n spesiale eiendom (De 14:2). En daarom moes Israel wegbly van enige iets wat met afgodediens te doen gehad het. Verder was sulke uiterste vertonings van rou waar mense snye in hulle vlees gemaak het geheel en al onaanvaarbaar vir ’n volk wat presies geweet het wat die toestand van die dooies is en geweet het van die opstandingshoop (Da 12:13; Heb 11:19). Die verbod op selfverminking sou ook vir die Israeliete gewys het hoe belangrik dit is om God se skepping, die menseliggaam, te respekteer.

18-24 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | LEVITIKUS 22-23

“Wat die seisoenfeeste vir ons beteken”

it-1-E 826-827

Fees van Ongesuurde Brode

Die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode was ’n heilige vergadering, en ook ’n sabbat. Op die tweede dag, 16 Nisan, was ’n graanbondel van die eerste opbrengs van die garsoes na die priester gebring; dit was die eerste gewas wat ryp geword het in Palestina. Voor hierdie fees mag die Israeliete geen nuwe graan, brood of geroosterde graan van die nuwe oes geëet het nie. Die priester het hierdie eerste opbrengs simbolies aan Jehovah geoffer deur ’n graanbondel heen en weer te beweeg terwyl ’n jong skaapram sonder gebrek, in sy eerste jaar, as ’n brandoffer gebring is tesame met ’n graanoffer wat met olie gemeng was en ’n drankoffer (Le 23:6-14). Hoewel priesters later die graan of die meel daarvan op die altaar verbrand het, het Jehovah nie so ’n gebod gegee nie. Hierdie eerste opbrengs was nie net in die openbaar of deur die hele volk geoffer nie, maar daar is ook voorsiening gemaak dat elke gesin en elke persoon wat ’n erfdeel in Israel gehad het dankoffers gedurende hierdie feestyd kon bring. – Eks 23:19; De 26:1, 2; sien “FIRSTFRUITS” in it-1-E.

Betekenis. In Eksodus 12:14-20 het Jehovah vir Moses instruksies gegee dat hulle gedurende hierdie tyd ongesuurde brode moes eet, en dit sluit die streng verbod in vers 19 in: “Sewe dae lank mag geen suurdeeg in julle huise gevind word nie.” In Deuteronomium 16:3 word die ongesuurde brood “die brood van swaarkry” genoem; dit het die Jode jaarliks herinner aan hoe hulle Egipteland vinnig moes verlaat (toe hulle nie tyd gehad het om hulle brood met suurdeeg te maak nie [Eks 12:34]). So is hulle herinner aan die swaarkry en slawerny waaruit Israel verlos was, net soos Jehovah self gesê het: “Sodat julle die dag toe julle uit Egipte gekom het, kan onthou solank as wat julle lewe.” Die vryheid wat hulle nou as ’n nasie geniet het en hulle erkenning van Jehovah as hulle Verlosser was ’n gepaste agtergrond vir die eerste van die drie groot jaarlikse feeste van die Israeliete. – De 16:16.

it-2-E 598 ¶2

Pinkster

Die eerste opbrengs van die koringoes moes anders as die eerste opbrengs van die garsoes hanteer word. Hulle moes twee tiendes van ’n efa fyn koringmeel (4,4 l) en suurdeeg gebruik om twee brode te bak. Dit moes “uit julle woonplekke” kom, wat beteken het dat dit soos brode moes wees wat hulle vir elke dag se gebruik in die huis sou maak, en nie spesifiek vir ’n heilige doel nie (Le 23:17). Daarmee saam moes hulle brandoffers en ’n sonde-offer bring, asook ’n vrede-offer van twee ramlammers. Die priester het sy hande onder die brode en die stukke lamsvleis gesit en dit heen en weer voor Jehovah beweeg; dit het gewys dat hy dit voor Jehovah aangebied het. Nadat die brode en die lammers geoffer is, het dit die priester s’n geword sodat hy dit as ’n vrede-offer kon eet. – Le 23:18-20.

w14 5/15 28 ¶11

Hou jy tred met Jehovah se organisasie?

11 Jehovah se organisasie dra ons belange op die hart wanneer dit ons aanspoor om die apostel Paulus se raad te volg: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb. 10:24, 25). Jaarlikse feeste en ander samekomste vir aanbidding het die Israeliete geestelik opgebou. Wat meer is, geleenthede soos die spesiale Huttefees in Nehemia se dag was vreugdevolle tye (Eks. 23:15, 16; Neh. 8:9-18). Ons vind op soortgelyke wyse by ons vergaderinge en byeenkomste baat. Laat ons ten volle gebruik maak van hierdie voorsienings wat ons help om geestelik gesond en gelukkig te wees.—Tit. 2:2.

Geestelike skatte

w19.02 3 ¶3

Behou jou onkreukbaarheid!

3 Wat beteken onkreukbaarheid vir ons as God se knegte? Onkreukbaarheid beteken dat ons Jehovah as ’n Persoon met ons hele hart liefhet en dat ons aan hom toegewyd bly ongeag wat gebeur. Daarom sal ons altyd eers dink aan wat sy wil vir ons is voordat ons besluite neem. Kom ons kry eers ’n bietjie agtergrond. Een basiese betekenis vir die woord “onkreukbaarheid” soos dit in die Bybel gebruik word, is: volkome, sonder gebrek of volledig. Die Israeliete het byvoorbeeld diere aan Jehovah geoffer, en die Wet het gesê dat hierdie diere sonder gebrek moes wees (Lev. 22:21, 22). God se knegte was nie toegelaat om diere te offer wat byvoorbeeld nie albei oë of ore gehad het nie of wat sieklik was. Dit was vir Jehovah belangrik dat die dier volkome, sonder gebrek of volledig is (Mal. 1:6-9). Ons kan verstaan hoekom dit vir Jehovah belangrik is dat iets sonder gebrek of volledig is. Wanneer ons iets koop, of dit nou vrugte, boeke of gereedskap is, wil ons nie hê dat dit vol gate of stukkend moet wees nie. Ons wil iets hê wat volkome, sonder gebrek of volledig is. Jehovah voel dieselfde wanneer dit kom by ons liefde vir hom en ons lojaliteit. Dit moet volkome, sonder gebrek of volledig wees.

25-31 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | LEVITIKUS 24-25

“Die Jubeljaar en toekomstige vryheid”

it-1-E 871

Vryheid

Die God van vryheid. Jehovah is die God van vryheid. Hy het die nasie Israel uit slawerny in Egipte bevry. Hy het gesê dat hulle vry sou wees van armoede solank as wat hulle gehoorsaam was aan sy gebooie (De 15:4, 5). Dawid het gepraat van “veiligheid”, of sorgvryheid, in die woontorings van Jerusalem (Ps 122:6, 7). Die Wet het egter daarvoor voorsiening gemaak dat ’n man wat arm geword het homself as ’n slaaf kon verkoop sodat hy vir homself en sy gesin kon sorg. Maar volgens die Wet was hierdie Hebreër in die sewende jaar van sy slawerny vrygelaat (Eks 21:2). In die Jubeljaar (wat elke 50ste jaar plaasgevind het) was vrylating vir al die inwoners van die land aangekondig. Elke Hebreeuse slaaf is vrygelaat, en elke man het na sy grond teruggekeer. – Le 25:10-19.

it-1-E 1200 ¶2

Erfdeel

Omdat grond van geslag tot geslag in dieselfde familie se besit was, kon dit nie permanent verkoop word nie. Die verkoop van grond was in werklikheid net ’n verhuring daarvan vir die waarde van die opbrengs wat dit sou lewer, en die verkoopprys het afgehang van hoeveel jaar daar oor was tot die volgende Jubeljaar, waarna alle grond weer na die oorspronklike eienaar sou teruggaan as dit nie voor die Jubeljaar al teruggekoop of losgekoop is nie (Le 25:13, 15, 23, 24). Hierdie reëling was ook van toepassing op huise in stede wat nie ’n muur daarom gehad het nie, wat as deel van die oop veld beskou is. Huise in ’n ommuurde stad kon net vir een jaar ná dit verkoop is, teruggekoop word, waarna dit die eiendom van die koper geword het. Huise in die stede van die Leviete kon permanent teruggekoop word, omdat die Leviete geen grond as erfdeel gehad het nie. – Le 25:29-34.

it-2-E 122-123

Jubeljaar

Wanneer die nasie gehoorsaam was aan die wet oor die Jubeljaar, het dit gekeer dat hulle in dieselfde droewige toestand verval wat ons vandag in so baie lande sien, waar daar basies net twee klasse is – dié wat baie ryk is en dié wat baie arm is. Die voordele wat dit vir individue ingehou het, het die nasie versterk, want niemand sou minderbevoorreg wees en in ’n toestand van onproduktiwiteit verval as gevolg van ’n slegte ekonomiese situasie nie, maar almal kon hulle talente en vermoëns gebruik tot voordeel van die land. Omdat Jehovah die opbrengs van die grond geseën het, en met die onderrigting wat voorsien is, sou Israel die ideale regering en seëninge geniet wat net die ware teokrasie vir hulle kon gee, op voorwaarde dat hulle gehoorsaam was. – Jes 33:22.

Geestelike skatte

w09 9/1 22 ¶4

Wanneer jy te na gekom word

As ’n Israeliet ’n mede-Israeliet aangeval het en hom ’n oog laat verloor het, het die Wet voorsiening gemaak vir regverdige straf. Dit het egter nie beteken dat die slagoffer self die aanvaller of een van sy familielede kon straf nie. Die Wet het vereis dat hy die saak na die gepaste gesag—die aangestelde regters—neem om die saak behoorlik te skik. Die wete dat iemand wat hom moedswillig aan ’n misdaad of geweld teenoor iemand anders skuldig maak, op soortgelyke wyse gestraf kon word, het as ’n kragtige afskrikmiddel gedien. Maar dit het meer behels.

1-7 FEBRUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | LEVITIKUS 26-27

“Hoe ons Jehovah se seën kan kry”

w08 4/15 4 ¶8

Verwerp “waardelose dinge”

8 Hoe kan “Rykdom” soos ’n god word? Wel, dink byvoorbeeld aan ’n klip wat in eertydse Israel in die veld gelê het. Hierdie klip kon gebruik word om ’n huis of ’n muur te bou. Maar indien dit as ’n “heilige pilaar” of as “’n vertoonstuk” gebruik is, het dit ’n struikelblok vir Jehovah se volk geword (Lev. 26:1). Net so het geld sy plek. Ons het dit nodig om ons te onderhou, en ons kan dit goed gebruik in Jehovah se diens (Pred. 7:12; Luk. 16:9). Maar as ons die najaging van geld bo ons Christelike diens stel, word geld in werklikheid vir ons ’n god. (Lees 1 Timoteus 6:9, 10.) In hierdie wêreld, waar die najaging van finansiële gewin vir mense so belangrik is, moet ons seker maak dat ons ’n gebalanseerde beskouing in hierdie opsig behou.—1 Tim. 6:17-19.

it-1-E 223 ¶3

Ontsag

As gevolg van die manier waarop Jehovah Moses gebruik en behandel het, het Moses groot en wonderlike dinge (Heb., moh·raʼʹ) voor die oë van God se volk gedoen (De 34:10, 12; Eks 19:9). Dié wat geloof gehad het, het Moses se gesag gerespekteer. Hulle het besef dat God deur middel van hom gepraat het. Die Israeliete moes ook ontsag vir Jehovah se heiligdom hê (Le 19:30; 26:2). Dit het beteken dat hulle moes wys dat hulle diep respek vir die heiligdom het deur Jehovah te aanbid op die manier wat hy hulle beveel het en deur al sy gebooie te gehoorsaam.

w91 3/1 17 ¶10

Laat “die vrede van God” jou hart bewaar

10 Jehovah het vir die nasie gesê: “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. Ook sal Ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en Ek sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie. En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ’n God wees, en júlle sal vir My ’n volk wees” (Levitikus 26: 3, 4, 6, 12). Israel kon vrede geniet omdat hulle teen hul vyande beskerm is, omdat hulle materieel ’n oorvloed gehad het en omdat hulle ’n hegte verhouding met Jehovah geniet het. Maar dit het afgehang van hulle gehoorsaamheid aan Jehovah se Wet.—Psalm 119:165.

Geestelike skatte

it-2-E 617

Vreeslike siektes

Die gevolg van ongehoorsaamheid aan God se Wet. Die nasie Israel is gewaarsku dat Jehovah ‘siekte onder hulle sal instuur’ as hulle geweier het om te bly by die verbond wat God met hulle gemaak het (Le 26:14-16, 23-25; De 28:15, 21, 22). Regdeur die Bybel word gesondheid, of dit nou fisiese of geestelike gesondheid is, geassosieer met God se seën (De 7:12, 15; Ps 103:1-3; Spr 3:1, 2, 7, 8; 4:21, 22; Op 21:1-4), maar siekte word geassosieer met sonde en onvolmaaktheid (Eks 15:26; De 28:58-61; Jes 53:4, 5; Mt 9:2-6, 12; Joh 5:14). So al het Jehovah God mense in sekere gevalle direk en onmiddellik gestraf, soos toe hy Mirjam, Ussia en Gehasi met melaatsheid getref het (Nu 12:10; 2Kr 26:16-21; 2Kn 5:25-27), lyk dit in baie gevalle asof die siekte die natuurlike en onvermydelike gevolge was van die sonde wat die persone of nasies gepleeg het. Hulle het eenvoudig geoes wat hulle gesaai het; hulle liggame het gely as gevolg van hulle verkeerde gedrag (Ga 6:7, 8). Die apostel sê die volgende oor dié wat walglike seksuele onsedelikheid beoefen: “God [het] hulle oorgegee aan onreinheid waardeur hulle hulle liggame onteer . . . en [hulle] ontvang self die volle straf wat hulle vir hulle oortreding verdien.” – Ro 1:24-27.

8-14 FEBRUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 1-2

“Jehovah organiseer sy volk”

w94 12/1 9 ¶4

Die regmatige plek van Jehovah se aanbidding in ons lewe

4 Wat sou jy gesien het as jy uit die lug na Israel kon kyk waar hulle in die woestyn laer opgeslaan het? ’n Ontsaglike, maar ordelike, versameling tente wat moontlik driemiljoen of meer mense gehuisves het en in groepe van drie stamme elk na die noorde, na die suide, na die ooste en na die weste gestrek het. As jy van naderby gekyk het, sou jy ’n ander groepering nader aan die middel van die laer gesien het. In hierdie vier kleiner groepies tente het die families van die stam van Levi gewoon. Heel in die middel van die laer, in ’n deel wat deur ’n materiaalmuur afgeskei is, was ’n unieke struktuur. Dit was die “tent van samekoms” of tabernakel, wat Israeliete wat ‘wys van hart’ was volgens Jehovah se plan gebou het.—Numeri 1:52, 53; 2:3, 10, 17, 18, 25; Exodus 35:10, NW.

it-1-E 397 ¶4

Kamp

Hierdie kamp van Israel was verskriklik groot. Die bogenoemde getalle is gelyk aan 603 550 soldate, behalwe vrouens en kinders, oumense en gestremdes, 22 000 Leviete en “’n groot gemengde skare” uitlanders – altesaam was dit dalk 3 000 000 mense of meer (Eks 12:38, 44; Nu 3:21-34, 39). Daar kan nie met sekerheid gesê word hoe groot die oppervlak sou wees wat so ’n groot kamp sou nodig hê nie. Die skattings verskil baie. Toe Israel kamp opgeslaan het oorkant Jerigo op die vlaktes van Moab, word daar gesê dat die kamp “van Bet-Jesimot af tot by Abel-Sittim” gestrek het. – Nu 33:49.

Geestelike skatte

it-2-E 764

Registrasie

’n Inskrywing, gewoonlik volgens naam en geslagslyn van ’n stam en huishouding. Dit was nie net ’n eenvoudige sensus nie en het meer ingesluit as net die tel van mense. Daar was verskillende redes vir die nasionale registrasies in die Bybel, soos die betaling van belasting, indeling vir militêre diens of (in die geval van die Leviete) aanstellings vir take by die heiligdom.

15-21 FEBRUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 3-4

“Die diens van die Leviete”

it-2-E 683 ¶3

Priester

Onder die Wetsverbond. Toe die Israeliete slawe in Egipte was, het Jehovah elke eersgebore seun van Israel vir homself geheilig toe hy elke eersgeborene in Egipte in die tiende plaag doodgemaak het (Eks 12:29; Nu 3:13). So hierdie eersgeborene seuns het aan Jehovah behoort om uitsluitlik vir spesiale diens aan hom gebruik te word. God kon al hierdie manlike eersgeborenes van Israel aangestel het as priesters en om vir die heiligdom te sorg. In ooreenstemming met sy voorneme het hy eerder manlike lede van die stam van Levi vir hierdie diens gekies. Daarom het hy die nasie toegelaat om die manlike eersgeborenes van die ander 12 stamme (die nakomelinge van Josef se seuns Efraim en Manasse word as twee stamme getel) met die Levitiese mans te vervang. ’n Sensus het gewys dat daar 273 meer eersgebore nie-Levitiese seuns was wat ’n maand en ouer was as wat daar Levitiese mans was, en daarom het God ’n losprys van vyf sikkels ($11) vir elkeen van die 273 gevra, en die geld moes vir Aäron en sy seuns gegee word (Nu 3:11-16, 40-51). Voor hierdie transaksie het Jehovah alreeds die manlike lede van die familie van Aäron uit die stam van Levi as priesters gekies. – Nu 1:1; 3:6-10.

it-2-E 241

Leviete

Pligte. Die Leviete het bestaan uit drie families, uit Levi se seuns Gerson (Gersom), Kehat en Merari (Ge 46:11; 1Kr 6:1, 16). Elkeen van hierdie families het ’n plek gekry naby die tabernakel in die wildernis. Die Kehatitiese familie van Aäron het voor die tabernakel, aan die oostekant, kamp opgeslaan. Die ander Kehatiete het aan die suidekant kamp opgeslaan, die Gersoniete aan die westekant en die Merariete aan die noordekant (Nu 3:23, 29, 35, 38). Dit was die Leviete se werk om die tabernakel op te slaan, af te breek en te dra. Wanneer dit tyd was om te trek, het Aäron en sy seuns die gordyn afgehaal wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het en die ark van die Getuienis, die altare en ander heilige voorwerpe bedek. Dan het die Kehatiete hierdie dinge gedra. Die Gersoniete het die tentdoeke, bedekkings, skerms, hangende gordyne en tenttoue (blykbaar die toue van die tabernakel) gedra, en die Merariete het die paneelrame, pilare, voetstukke, tentpenne en tenttoue (toue van die voorhof rondom die tabernakel) gedra. – Nu 1:50, 51; 3:25, 26, 30, 31, 36, 37; 4:4-33; 7:5-9.

it-2-E 241

Leviete

In Moses se dag het ’n Leviet op die ouderdom van 30 al die werk wat aan hom toegewys was, begin doen, soos om die tabernakel en sy voorwerpe te dra wanneer dit geskuif was (Nu 4:46-49). Hulle kon party pligte begin doen wanneer hulle 25 jaar oud was, maar blykbaar nie die harde werk, soos om die tabernakel te dra, nie (Nu 8:24). In koning Dawid se tyd is die ouderdom verminder na 20 jaar. Die rede wat Dawid hiervoor gegee het, was dat die tabernakel (wat toe deur die tempel vervang sou word) nie meer rondgedra hoef te word nie. Verpligte diens het op die ouderdom van 50 geëindig (Nu 8:25, 26; 1Kr 23:24-26; sien “AGE” in it-1-E.) Die Leviete moes die Wet goed ken, want hulle is baie keer gevra om dit in die openbaar voor te lees en dit aan die gewone mense te leer. – 1Kr 15:27; 2Kr 5:12; 17:7-9; Ne 8:7-9.

Geestelike skatte

w06 8/1 23 ¶13

Wees wys—Vrees God!

13 Die hulp wat Dawid gedurende tye van benoudheid van Jehovah ontvang het, het sy vrees vir God vergroot en sy vertroue in hom versterk (Psalm 31:22-24). Maar by drie belangrike geleenthede het Dawid se vrees vir God afgeneem, en dit het ernstige gevolge gehad. Die eerste keer het verband gehou met die reëlings wat hy getref het om Jehovah se verbondsark op ’n wa na Jerusalem te laat vervoer in plaas van op die skouers van die Leviete, soos God se Wet voorgeskryf het. Toe Ussa, wat die wa gelei het, die Ark gegryp het om te keer dat dit kantel, het hy onmiddellik gesterf weens sy “oneerbiedige daad”. Ja, Ussa het ernstig gesondig, maar dit was eintlik Dawid se versuim om behoorlike respek vir God se Wet te behou wat hierdie tragedie veroorsaak het. Om God te vrees, beteken om dinge volgens sy reëling te doen.—2 Samuel 6:2-9; Numeri 4:15; 7:9.

22-28 FEBRUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 5-6

“Hoe kan jy die voorbeeld van die Nasireërs volg?”

it-2-E 477

Nasireër

Daar was drie belangrike dinge wat dié wat die Nasireërsgelofte gemaak het, nie moes doen nie: (1) Hulle moes nie wyn of ander alkohol drink nie; hulle moes nie enige iets eet wat van die wingerdstok gemaak is nie, of dit nou onryp, ryp of gedroog was nie, en hulle moes ook nie enige sap drink wat van druiwe gemaak is nie, of dit nou vars, gegis of asyn was nie. (2) Hulle moes nie die hare op hulle koppe skeer nie. (3) Hulle moes nie aan ’n dooie liggaam raak nie, al was dit ’n pa, ma, broer of suster. – Nu 6:1-7.

Spesiale geloftes. Die persoon wat hierdie gelofte gemaak het, moes “as ’n Nasireër [dit wil sê toegewyd, afgeskeie] vir Jehovah . . . lewe” en nie om deur mense gesien te word omdat hy homself straf of homself van genot onthou nie. Hy is eerder “al die dae van sy Nasireërskap . . . heilig vir Jehovah”. – Nu 6:2, 8; vergelyk Ge 49:26, vtn.

Daarom het die vereistes vir Nasireërs spesiale betekenis gehad en was dit baie belangrik in die aanbidding van Jehovah. Soos die hoëpriester, wat as gevolg van sy heilige amp, nie aan ’n dooie liggaam moes raak nie, nie eens die liggaam van sy naaste familielede nie, moes die Nasireër dit ook nie doen nie. Die hoëpriester en onderpriesters het baie groot verantwoordelikhede gehad, en daarom is hulle verbied om wyn of ander alkohol te drink wanneer hulle heilige diens voor Jehovah doen. – Le 10:8-11; 21:10, 11.

En die Nasireër (Heb., na·zirʹ) “moet heilig bly deur die hare van sy kop te laat groei”, en dit moes dien as ’n duidelike teken waaraan almal dadelik sy heilige Nasireërskap kon sien (Nu 6:5). Dieselfde Hebreeuse woord na·zirʹ was gebruik vir die “ongesnoeide” wingerdstokke gedurende die heilige Sabbatsjaar en Jubeljaar (Le 25:5, 11). Dit is ook interessant dat die goue plaat aan die voorkant van die tulband van die hoëpriester, waarop die woorde “Heiligheid behoort aan Jehovah” gegraveer was, “die heilige toewydingsteken [Heb., neʹzer, van dieselfde grondwoord as na·zirʹ]” genoem was (Eks 39:30, 31). Die amptelike kopstuk, of hoofband, wat deur Israel se gesalfde konings gedra is, is ook ’n neʹzer genoem. (2Sa 1:10; 2Kn 11:12; sien “CROWN” en “DEDICATION” in it-1-E.) Die apostel Paulus skryf aan die Christengemeente dat ’n vrou se lang hare aan haar gegee word in plaas van ’n hoofversiersel. Dit is ’n natuurlike herinnering aan haar dat haar posisie anders is as dié van die man. Sy moet haar onderdanige posisie onder God se reëling in gedagte hou. So sulke vereistes – ongeskeerde hare (iets onnatuurliks vir die man), om heeltemal weg te bly van wyn en om rein en onbesoedel te wees – het vir die toegewyde Nasireër gewys hoe belangrik dit is om hom van sekere dinge te onthou en heeltemal onderdanig te wees aan die wil van Jehovah. – 1Kor 11:2-16; sien “HAIR”, “HEAD COVERING” in it-1-E en “NATURE” in it-2-E.

Geestelike skatte

w05 1/15 30 ¶2

Vrae van lesers

Simson was egter ’n Nasireër in ’n ander sin. Voor Simson se geboorte het Jehovah se engel vir sy moeder gesê: “Kyk! jy sal swanger wees, en jy sal beslis aan ’n seun geboorte gee, en geen skeermes mag op sy kop kom nie, want die kind sal ’n Nasireër van God word vandat hy die moederskoot verlaat; en hy sal die leiding neem om Israel uit die hand van die Filistyne te red” (Rigters 13:5). Simson het nie ’n gelofte van Nasireërskap afgelê nie. Hy is deur God as ’n Nasireër aangestel, en sy Nasireërskap het lewenslank geduur. Die beperking om nie aan ’n lyk te raak nie, kon nie in sy geval van toepassing wees nie. As dit wel op hom van toepassing was en hy per ongeluk aan ’n dooie liggaam geraak het, hoe sou hy sy lewenslange Nasireërskap, wat by sy geboorte begin het, van voor af kon begin? Dit is dus duidelik dat die vereistes vir lewenslange Nasireërs in sommige opsigte van dié vir vrywillige Nasireërs verskil het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel