Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr21 Maart bl. 1-9
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2021
  • Onderhofies
  • 1-7 MAART
  • 8-14 MAART
  • 15-21 MAART
  • 22-28 MAART
  • 29 MAART–4 APRIL
  • 5-11 APRIL
  • 12-18 APRIL
  • 19-25 APRIL
  • 26 APRIL–2 MEI
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2021
mwbr21 Maart bl. 1-9

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

1-7 MAART

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 7-8

“Lesse uit die kamp van Israel”

it-1-E 497 ¶3

Gemeente

In Israel het manne in verantwoordelike posisies dikwels namens die volk opgetree (Esr 10:14). Daarom het die “hoofmanne van die stamme” offers aangebied nadat die tabernakel opgerig is (Nu 7:1-11). En in Nehemia se dag het priesters, Leviete en “die hoofde van die volk” saam die “belofte” deur die seël bevestig (Ne 9:38–10:27). Toe Israel deur die wildernis getrek het, was daar 250 van die “hoofmanne van die gemeenskap, manne wat uit die gemeente uitgekies was, belangrike manne” wat saam met Korag, Datan, Abiram en On teen Moses en Aäron in opstand gekom het (Nu 16:1-3). Net soos Jehovah vir Moses gesê het, het hy 70 manne van die ouermanne van Israel wat beamptes was, gekies om hom te help om “die las van die volk”, wat hy nie op sy eie kon doen nie, te dra (Nu 11:16, 17, 24, 25). Levitikus 4:15 praat van “die ouermanne van die gemeenskap”, en dit lyk asof die verteenwoordigers van die volk die nasie se ouermanne, hoofde, regters en beamptes was. – Nu 1:4, 16; Jos 23:2; 24:1.

it-2-E 796 ¶1

Ruben

In die kamp van Israel was die Rubeniete aan die suidekant van die tabernakel en die afstammelinge van Simeon en Gad was aan weerskante van hulle. Wanneer die volk moes trek, het die driestamgroep van Juda, Issaskar en Sebulon eerste vertrek, en hulle is dan gevolg deur die driestamgroep van Ruben, Simeon en Gad, wat deur Ruben gelei is (Nu 2:10-16; 10:14-20). Dit was ook die volgorde waarin die stamme hulle offers aangebied het op die dag toe die tabernakel toegewy is. – Nu 7:1, 2, 10-47.

w04 8/1 25 ¶1

Glanspunte uit die boek Numeri

8:25, 26. Om te verseker dat die Levitiese dienste behoorlik nagekom word, en uit agting vir hulle ouderdom, is ouer Leviete beveel om uit verpligte diens te tree. Maar hulle kon aanbied om ander Leviete te help. Hoewel ons nie vandag uit ons diens as Koninkryksverkondigers uittree nie, leer die beginsel van hierdie wet ons ’n waardevolle les. As ’n Christen weens bejaardheid nie sekere verpligtinge kan nakom nie, kan hy aan aspekte van die diens deelneem wat binne sy vermoë is.

Geestelike skatte

it-1-E 835

Eersgeborene, eersgebore

Omdat die eersgebore seuns onder die Israeliete die hoofde van die verskillende huishoudings sou word, het hulle die hele nasie verteenwoordig. Om die waarheid te sê, Jehovah het van die hele nasie as sy “eersgeborene” gepraat, want hulle was sy eersgebore nasie as gevolg van die Abrahamitiese verbond (Eks 4:22). Omdat Jehovah hulle lewe bewaar het, het hy beveel dat “elke manlike eersgeborene . . . , of dit nou ’n mens of ’n dier is”, vir hom geheilig moes word (Eks 13:2). Daarom is die eersgebore seuns aan God toegewy.

8-14 MAART

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 9-10

“Hoe Jehovah sy volk lei”

it-1-E 398 ¶3

Kamp

Wanneer hierdie groot kamp van die een plek na die ander getrek het (Moses praat in Numeri 33 van omtrent veertig keer wat hulle so kamp opgeslaan het), het dit gewys hoe wonderlik dinge georganiseer was. Solank as wat die wolk oor die tabernakel gehang het, het die kamp op dieselfde plek gebly. Wanneer die wolk opgelig het, het die kamp weggetrek. “Op bevel van Jehovah het hulle kamp daar gebly, en op bevel van Jehovah het hulle weggetrek” (Nu 9:15-23). Die kamp is van Jehovah se bevele in kennis gestel deur twee trompette van silwer, wat met ’n hamer gevorm was (Nu 10:2, 5, 6). Spesiale wisselende trompetseine het die volk laat weet dat hulle kamp moes opbreek. Die eerste keer wat dit gebeur het, was “in die tweede jaar [1512 VHJ], in die tweede maand, op die 20ste dag van die maand”. Wanneer hulle weggetrek het, was die ark van die verbond aan die voorpunt, gevolg deur die driestamgroep onder die leiding van Juda, en daarna het Issaskar en dan Sebulon gevolg. Hulle is gevolg deur die Gersoniete en die Merariete wat hulle toegewese dele van die tabernakel gedra het. Volgende was die driestamgroep onder die leiding van Ruben, en hulle is gevolg deur Simeon en Gad. Agter hulle was die Kehatiete met die heiligdom, dan die derde driestamgroep, van Efraim, gevolg deur Manasse en Benjamin. Laaste, heel aan die einde, was die groep onder die leiding van Dan, en saam met hulle was Aser en Naftali. So was die twee grootste en magtigste groepe aan die voor- en agterkant. – Nu 10:11-28.

w11 4/15 4-5

Onderskei jy die bewys van God se leiding?

Hoe kan ons toon dat ons God se leiding waardeer? Die apostel Paulus het gesê: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig” (Heb. 13:17). Dit is nie altyd maklik om dit te doen nie. Ter toeligting: Stel jou voor dat jy ’n Israeliet in Moses se dag is. Nadat jy ’n hele ruk gestap het, kom die kolom tot stilstand. Hoe lank sal dit daar bly? ’n Dag? ’n Week? ’n Paar maande? Jy wonder: ‘Is dit die moeite werd om al my besittings uit te pak?’ Eers pak jy dalk net die nodigste uit. Maar ná ’n paar dae is jy gefrustreerd omdat jy gedurig deur jou besittings moet soek en begin jy alles uitpak. Maar dan, net wanneer jy amper klaar uitgepak het, sien jy dat die kolom optrek—en jy moet weer begin inpak! Dit sou nie maklik of gerieflik gewees het nie. Die Israeliete moes nogtans ‘onmiddellik daarna wegtrek’.—Num. 9:17-22.

Hoe reageer ons dan wanneer ons goddelike leiding ontvang? Probeer ons dit “onmiddellik daarna” volg? Of hou ons aan om dinge te doen soos ons gewoond is om dit te doen? Is ons vertroud met die jongste riglyne, soos dié oor hoe om tuisbybelstudies te hou, vir anderstalige mense te preek, gereeld gesinsaanbidding te beoefen, met Hospitaalskakelkomitees saam te werk en ons by byeenkomste ordentlik te gedra? Ons toon ook ons waardering vir God se leiding deur raad te aanvaar. Wanneer ons verreikende besluite moet neem, maak ons nie staat op ons eie wysheid nie, maar vertrou ons op Jehovah en sy organisasie vir leiding. En net soos ’n kind by sy ouers beskerming soek wanneer ’n storm woed, soek ons beskerming in Jehovah se organisasie wanneer die probleme van hierdie wêreld ons soos ’n donderstorm teister.

Geestelike skatte

it-1-E 199 ¶3

Byeenkoms

Die belangrikheid van byeenkomste. Die belangrikheid daarvan om ten volle baat te vind by Jehovah se voorsienings van byeenkomste om geestelik te vorder word beklemtoon waar dit kom by die jaarlikse Pasgaviering. Enige man wat rein was en nie op reis was nie, moes doodgemaak word as hy nie die Pasga gevier het nie (Nu 9:9-14). Toe koning Hiskia die inwoners van Juda en Israel na Jerusalem laat kom het vir ’n Pasgaviering, het ’n deel van sy boodskap gesê: “Israeliete, keer terug na Jehovah . . . Moenie hardkoppig wees soos julle voorvaders nie. Doen wat Jehovah wil hê en gaan na sy heiligdom wat hy vir ewig as heilig afgesonder het, en dien Jehovah julle God sodat sy woede teenoor julle kan bedaar. . . . Jehovah julle God is vol medelye en genade, en hy sal julle nie verwerp as julle na hom terugkeer nie” (2Kr 30:6-9). As hulle aspris nie die Pasgaviering bygewoon het nie, sou dit beslis gewys het dat hulle God verstoot. En alhoewel Christene nie meer feeste soos die Pasga vier nie, het Paulus hulle op gepaste wyse aangespoor om nie op te hou om gereeld saam met God se volk te vergader nie, toe hy gesê het: “Laat ons aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos, soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig, en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom.” – Heb 10:24, 25; sien “CONGREGATION” in it-1-E.

15-21 MAART

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 11-12

“Hoekom moet ons dit vermy om aanhoudend te kla?”

w01 6/15 17 ¶20

Moenie vergeetagtige hoorders word nie

20 Die meeste Christene swig nooit voor geslagsonsedelikheid nie. Ons moet nietemin versigtig wees dat ons nie ’n weg begin inslaan wat tot ’n patroon van murmurering lei en ons sodoende God se misnoeë op die hals haal nie. Paulus vermaan ons: “Laat ons Jehovah ook nie op die proef stel, soos party van [die Israeliete] hom op die proef gestel het nie, sodat hulle deur die slange omgekom het. Moet ook nie murmureerders wees, net soos party van hulle gemurmureer het nie, sodat hulle deur die vernietiger omgekom het” (1 Korintiërs 10:9, 10). Die Israeliete het teen Moses en Aäron gemurmureer—ja, selfs teen God—en gekla oor die manna wat wonderdadig voorsien is (Numeri 16:41; 21:5). Het hulle murmurering Jehovah minder gegrief as hulle hoerery? Die Bybelverslag toon dat baie murmureerders deur slange doodgemaak is (Numeri 21:6). By ’n vroeër geleentheid is meer as 14 700 opstandige murmureerders vernietig (Numeri 16:49). Laat ons dus nie Jehovah se geduld op die proef stel deur sy voorsienings te minag nie.

w06 7/15 15 ¶7

‘Doen alles sonder murmurering’

7 Hoe het Israel se gees tog verander! Hulle aanvanklike dankbaarheid omdat hulle uit Egipte verlos is en deur die Rooi See heen gered is, het hulle beweeg om lofliedere aan Jehovah te sing (Eksodus 15:1-21). Toe hulle egter die ongemak van die wildernis moes verduur en vrees vir die Kanaäniete ondervind het, het die dankbaarheid van God se volk plek gemaak vir ’n gees van ontevredenheid. In plaas van God te dank vir hulle vryheid, het hulle hom die skuld gegee vir wat hulle verkeerdelik as ontbering beskou het. Murmurering het dus getoon dat hulle ’n gebrek aan gepaste waardering vir Jehovah se voorsienings gehad het. Geen wonder nie dat hy gesê het: “Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou om so teen my te murmureer?”—Numeri 14:27; 21:5.

it-2-E 719 ¶4

Stryery

Klaery. Klaery maak mense mismoedig en is afbrekend. Die Israeliete was nie lank uit Egipte voor hulle teenoor Jehovah gekla het en foutgevind het met die leierskap wat hy deur sy knegte Moses en Aäron voorsien het nie (Eks 16:2, 7). Later het hulle klagtes Moses so mismoedig gemaak dat hy gevra het om te sterf (Nu 11:13-15). Klaery kan dodelik wees vir die een wat kla. Jehovah het die dinge wat die klaers oor Moses gesê het, beskou asof hulle in werklikheid in opstand gekom het teen Sy eie goddelike leierskap (Nu 14:26-30). Baie het hulle lewe verloor as gevolg van foutvindery.

Geestelike skatte

it-2-E 309

Manna

Beskrywing. Manna was “wit soos koljandersaad” en het “gelyk” soos balsemgom, ’n wasagtige en deurskynende stof wat amper soos ’n pêrel lyk. Dit het baie soos “plat brode met heuning” of “’n soet oliekoek” geproe. Nadat manna in ’n handmeul gemaal of in ’n vysel fyngestamp is, is dit gekook en het hulle brode daarvan gebak. – Eks 16:23, 31; Nu 11:7, 8.

22-28 MAART

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 13-14

“Hoe geloof ons moedig maak”

w06 10/1 16-17 ¶5-6

Moedig weens geloof en godvrugtige vrees

5 Twee van die verkenners, Josua en Kaleb, was egter gretig om die Beloofde Land binne te gaan. Die Kanaäniete “is brood vir ons”, het hulle gesê. “Hulle beskutting het van hulle gewyk, en Jehovah is met ons. Moet hulle nie vrees nie” (Numeri 14:9). Was Josua en Kaleb se optimisme ongegrond? Geensins! Soos die res van die nasie, het hulle gesien hoe Jehovah die magtige Egipte en sy gode deur middel van die Tien Plae verneder. Daarna het hulle gesien hoe Jehovah Farao en sy krygsmag in die Rooi See laat verdrink (Psalm 136:15). Dit is duidelik dat die vrees van die tien verkenners en dié wat deur hulle beïnvloed is, onverskoonbaar was. “Hoe lank sal hulle geen geloof in my stel nie, ondanks al die tekens wat ek onder hulle verrig het?” het Jehovah gesê, wat toon dat hy diep seergemaak was.—Numeri 14:11.

6 Jehovah het dadelik die kern van die probleem geïdentifiseer—die lafhartige gesindheid van die volk het hulle gebrek aan geloof verraai. Ja, geloof en moed is nou verbonde aan mekaar, in so ’n mate dat die apostel Johannes oor die Christengemeente en die geestelike oorlogvoering waarin dit gewikkel is, kon skryf: “Dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin het: ons geloof” (1 Johannes 5:4). Vandag het geloof soos dié van Josua en Kaleb daartoe gelei dat die goeie nuus van die Koninkryk regoor die wêreld verkondig word deur meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah, jonges en oues, sterkes en swakkes. Geen vyand kon daarin slaag om hierdie magtige, moedige leërmag stil te maak nie.—Romeine 8:31.

Geestelike skatte

it-1-E 740

Die land wat God vir Israel gegee het

DIE land wat God vir Israel gegee het, was beslis ’n goeie land. Toe Moses die spioene voor die nasie uitgestuur het om die Beloofde Land te verken en om voorbeelde van hulle gewasse te kry, het hulle vye, granate en ’n tros druiwe, wat so groot was dat twee manne dit op ’n stok tussen hulle gedra het, teruggebring! Al was hulle baie bang weens ’n gebrek aan geloof, het hulle wel gesê: Die land “loop beslis oor van melk en heuning”. – Nu 13:23, 27.

29 MAART–4 APRIL

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 15-16

“Trots en te veel selfvertroue kan gevaarlik wees”

w11 9/15 27 ¶12

Ken Jehovah jou?

12 Nietemin, terwyl die nasie Israel op pad na die Beloofde Land was, het Korag dinge gesien wat na sy mening probleme in God se reëling is. Toe het 250 ander vooraanstaande manne in die nasie hulle by hom gevoeg om veranderinge te probeer bewerkstellig. Korag en die ander het heel moontlik seker gevoel oor hulle verhouding met Jehovah. Hulle het vir Moses gesê: “Dit is nou genoeg, want die hele vergadering, hulle almal, is heilig, en Jehovah is in hulle midde” (Num. 16:1-3). Wat ’n selfversekerde en trotse gesindheid! Moses het vir hulle gesê: “Jehovah [sal] bekend maak wie aan hom behoort.” (Lees Numeri 16:5.) Teen die einde van die volgende dag was Korag en al dié wat hulle in sy opstand by hom geskaar het, dood.—Num. 16:31-35.

w11 9/15 27 ¶11

Ken Jehovah jou?

11 Moses en Korag staan in skerp teenstelling met mekaar ten opsigte van die betoning van respek vir Jehovah se reëling en sy besluite. Hulle reaksies het ’n uitwerking gehad op hoe Jehovah hulle beskou het. Korag was ’n Kehatitiese Leviet en het baie voorregte geniet, wat waarskynlik ingesluit het dat hy die verlossing van die nasie deur die Rooisee heen gesien het, Jehovah se veroordeling van ongehoorsame Israeliete by die berg Sinai ondersteun het en dat hy ’n deel gehad het in die vervoer van die verbondsark (Eks. 32:26-29; Num. 3:30, 31). Hy was blykbaar reeds jare lank lojaal aan Jehovah en gevolglik het baie in die kamp van Israel na hom opgekyk.

Geestelike skatte

w98 9/1 20 ¶1-2

Stel die belangrikste sake eerste!

Jehovah het die saak in ’n ernstiger lig beskou. Die Bybel sê: “Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word” (Numeri 15:35). Waarom het Jehovah so sterk gevoel oor wat die man gedoen het?

Die volk het ses dae gehad waarop hulle hout bymekaar kon maak sowel as in hulle behoeftes kon voorsien wat voedsel, klere en onderdak betref. Die sewende dag moes hulle aan hulle geestelike behoeftes wy. Hoewel dit nie verkeerd was om hout bymekaar te maak nie, was dit verkeerd om tyd wat hulle opsy moes sit om Jehovah te aanbid daarvoor te gebruik. Hoewel Christene nie onder die Mosaïese Wet is nie, is die les wat ons vandag uit hierdie voorval leer dat ons ons prioriteite reg moet hê.—Filippense 1:10.

5-11 APRIL

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 17-19

“Ek is . . . jou erfdeel”

w11 9/15 13 ¶9

Laat jy Jehovah jou deel wees?

9 Dink aan die Leviete, wat nie grond as erfdeel ontvang het nie. Aangesien ware aanbidding vir hulle van die allergrootste belang was, moes hulle vir hulle lewensonderhoud op Jehovah vertrou, wat vir hulle gesê het: “Ek is jou deel” (Num. 18:20). Al dien ons nie soos die priesters en Leviete by ’n letterlike tempel nie, kan ons hulle gees navolg en vertrou dat Jehovah vir ons sal sorg. Ons vertroue in God se krag om vir ons te sorg, word al hoe belangriker namate ons dieper in die laaste dae ingaan.—Op. 13:17.

w11 9/15 7 ¶4

Jehovah is my deel

4 Wat het hierdie toewysing vir die Leviete beteken? Jehovah het gesê dat hy hulle deel sou wees in die sin dat hulle nie grond as erfdeel sou ontvang nie, maar dat ’n kosbare diensvoorreg aan hulle toevertrou is. “Die priesterskap van Jehovah” was hulle erfdeel (Jos. 18:7). Die konteks van Numeri 18:20 toon dat dit hulle nie materieel behoeftig sou laat nie. (Lees Numeri 18:19, 21, 24.) Die Leviete is “al die tiendes in Israel as ’n erfdeel gegee as beloning vir hulle diens”. Hulle sou 10 persent van Israel se oes sowel as van die vermeerdering in mak diere ontvang. Die Leviete moes op hulle beurt ’n tiende van wat hulle ontvang het, “van die allerbeste daarvan”, gee ter ondersteuning van die priesterdom (Num. 18:25-29). Die priesters is ook “al die heilige bydraes” gegee wat die kinders van Israel vir God na sy plek van aanbidding gebring het. Lede van die priesterdom het dus goeie rede gehad om te glo dat Jehovah vir hulle sou sorg.

Geestelike skatte

g02 6/8 14 ¶2

Sout—iets waardevols

Sout het ook ’n simbool van bestendigheid en duursaamheid geword. In die Bybel is ’n bindende verbond derhalwe “’n soutverbond” genoem, en om dit te bekragtig het die partye dikwels ’n maaltyd saam geëet, waartydens sout gebruik is (Numeri 18:19). Wanneer offerandes op die altaar geoffer is, moes sout volgens die Mosaïese Wet daarby gevoeg word, wat ongetwyfeld op vryheid van verdorwenheid gedui het.

12-18 APRIL

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 20-21

“Bly nederig al is jy onder druk”

w19.02 12 ¶19

Soek sagmoedigheid en maak Jehovah bly

19 Ons sal minder foute maak. Dink weer aan die voorbeeld van Moses. Hy was dekades lank sagmoedig en het Jehovah bly gemaak. Maar nadat die Israeliete amper 40 jaar lank deur die wildernis gereis het, het Moses sy sagmoedigheid verloor. Sy suster, die een wat heel moontlik sy lewe in Egipte gered het, het kort voor dit gesterf en is by Kades begrawe. En nou het die Israeliete weer eens gesê dat daar nie na hulle behoeftes omgesien word nie. Hierdie keer het hulle met Moses gestry omdat hulle te min water gehad het. Ten spyte van al die wonderwerke wat Jehovah deur Moses gedoen het en ten spyte van die feit dat Moses die volk so lank onselfsugtig gelei het, het hulle nog steeds gekla. Hulle het nie net gekla omdat hulle te min water gehad het nie, maar hulle het ook oor Moses gekla, asof dit sy skuld was dat hulle dors is. – Num. 20:1-5, 9-11.

w19.02 13 ¶20-21

Soek sagmoedigheid en maak Jehovah bly

20 In ’n oomblik van woede het Moses sy sagmoedige gesindheid verloor. Eerder as om geloof te toon en met die rots te praat, soos Jehovah beveel het, het Moses verbitterd geword en met die volk gepraat en gesê dat hy ’n wonderwerk sou doen. Toe het hy die rots twee keer geslaan en baie water het daaruit gestroom. Trots en woede het veroorsaak dat hy ’n ernstige fout maak (Ps. 106:32, 33). Omdat Moses vir ’n oomblik sy sagmoedigheid verloor het, was hy nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie. – Num. 20:12.

21 Ons leer belangrike lesse uit hierdie voorbeeld. Eerstens, ons moet aanhoudend daaraan werk om sagmoedig te wees. As ons ons sagmoedigheid verloor, kan ons maklik trots word en onverstandige dinge doen en sê. Tweedens, stres kan dit vir ons moeilik maak om sagmoedig te wees. Daarom moet ons ons bes doen om sagmoedig te bly, selfs wanneer ons onder druk is.

w09 9/1 19 ¶5

’n Regter wat ferm bly by wat reg is

Eerstens, God het Moses nie beveel om met die volk te praat nie, wat nog te sê hulle as opstandiges te veroordeel. Tweedens, Moses en Aäron het versuim om aan God die heerlikheid te gee. ‘Julle het my nie geheilig nie’, het God gesê (vers 12). Deur te sê ‘ons sal vir julle water laat uitkom’, het Moses gepraat asof hy en Aäron—nie God nie—die wonderdadige water voorsien. Derdens, die vonnis was in ooreenstemming met vorige oordele. God het die vroeëre geslag opstandiges toegang tot Kanaän geweier, en daarom het hy dieselfde met Moses en Aäron gedoen (Numeri 14:22, 23). Vierdens, Moses en Aäron was Israel se leiers. Diegene aan wie groot verantwoordelikhede toevertrou word, het groter aanspreeklikheid voor God.—Lukas 12:48.

Geestelike skatte

w14 6/15 26 ¶12

Beskou jy menslike swakheid soos Jehovah dit beskou?

12 In elkeen van hierdie situasies kon Jehovah Aäron dadelik gestraf het. Maar hy het geweet dat Aäron nie ’n slegte persoon was nie. Aäron het blykbaar foute begaan omdat hy in moeilike situasies was of toegelaat het dat ander hom beïnvloed. Maar toe sy foute vir hom uitgewys is, het hy dit geredelik erken en Jehovah se oordele ondersteun (Eks. 32:26; Num. 12:11; 20:23-27). Jehovah het gekies om op Aäron se geloof en berouvolle gesindheid te konsentreer. Aäron en sy nakomelinge is eeue later nog steeds onthou as mense wat Jehovah gevrees het.—Ps. 115:10-12; 135:19, 20.

19-25 APRIL

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 22-24

“Jehovah verander ’n vloek in ’n seën”

bt 53 ¶5

“Die goeie nuus oor Jesus” word bekend gemaak

5 Vandag, net soos in die eerste eeu, het die vervolging van God se knegte nie die predikingswerk stopgesit nie. Keer op keer, wanneer Christene onder dwang van een plek na ’n ander verskuif is—hetsy na ’n tronk of ’n ander land—het dit eintlik net gehelp om die Koninkryksboodskap aan mense in die nuwe plek bekend te maak. Byvoorbeeld, gedurende die Tweede Wêreldoorlog kon Jehovah se Getuies ’n uitstekende getuienis in Nazi-konsentrasiekampe gee. ’n Jood wat die Getuies daar ontmoet het, vertel: “Die standvastigheid van die gevangenes wat Jehovah se Getuies was, het my oortuig dat hulle geloof op die Skrif gegrond is—en ek het self ’n Getuie geword.”

it-2-E 291

Malheid

Die dwaasheid daarvan om Jehovah teë te staan. Die profeet Bileam het dwaas opgetree deurdat hy teen Israel wou profeteer sodat hy geld by koning Balak van die Moabiete kon kry, maar Jehovah het hom gekeer om dit te doen. Die apostel Petrus het die volgende oor Bileam geskryf: “’n Stom donkie wat met die stem van ’n mens gepraat het, het probeer keer dat die profeet iets dwaas doen.” Vir Bileam se malheid het die apostel die Griekse woord pa·ra·phro·niʹa gebruik, wat die gedagte oordra dat ’n mens “van jou verstand af is”.—2Pe 2:15, 16; Nu 22:26-31.

Geestelike skatte

w04 8/1 27 ¶2

Glanspunte uit die boek Numeri

22:20-22—Waarom het Jehovah se toorn teen Bileam ontvlam? Jehovah het vir die profeet Bileam gesê dat hy nie die Israeliete moet vervloek nie (Numeri 22:12). Maar die profeet het saam met Balak se manne gegaan met die doel om Israel te vervloek. Bileam wou die Moabitiese koning behaag en ’n beloning van hom ontvang (2 Petrus 2:15, 16; Judas 11). Selfs toe Bileam gedwing is om Israel eerder te seën as te vervloek, het hy die koning se guns gesoek deur voor te stel dat vroue wat Baäl aanbid, gebruik moet word om die Israelitiese mans te verlei (Numeri 31:15, 16). Die rede waarom God se toorn teen Bileam ontvlam het, was dus weens die profeet se gewetenlose gierigheid.

26 APRIL–2 MEI

SKATTE UIT GOD SE WOORD | NUMERI 25-26

“Kan een persoon ’n verskil maak?”

lvs 118 ¶1-2

“Vlug vir seksuele onsedelikheid!”

’N VISSERMAN gaan na ’n plek waar hy die soort vis kan vang wat hy wil hê. Hy kies die aas en gooi sy lyn in die water. Hy wag geduldig totdat die vis byt. Wanneer hy voel dat hy die vis aan die hoek het, katrol hy sy vangs in.

2 Op ’n soortgelyke manier kan mense ook gevang word. Kyk byvoorbeeld na wat met die Israeliete op die vlaktes van Moab gebeur het net voordat hulle die Beloofde Land bereik het. Die koning van Moab het ’n man met die naam Bileam baie geld belowe as hy Israel sou vervloek. Bileam het uiteindelik ’n manier gevind om die Israeliete te kry om ’n vloek oor hulleself te bring. Hy het net die regte aas gekies. Hy het jong Moabitiese vrouens na die kamp van die Israeliete gestuur om die mans te verlei. – Numeri 22:1-7; 31:15, 16; Openbaring 2:14.

lvs 119 ¶4

“Vlug vir seksuele onsedelikheid!”

4 Hoekom het soveel Israeliete in Bileam se strik getrap? Hulle het net aan hulle eie selfsugtige begeertes gedink en vergeet van alles wat Jehovah vir hulle gedoen het. Die Israeliete het baie redes gehad om lojaal aan God te wees. Hy het hulle uit slawerny in Egipte bevry, hulle van kos voorsien in die wildernis en hulle veilig tot by die grens van die Beloofde Land gebring (Hebreërs 3:12). Nogtans het hulle seksuele onsedelikheid gepleeg. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons ook nie seksuele onsedelikheid beoefen, soos party van hulle seksuele onsedelikheid beoefen het en . . . gesterf het nie.” – 1 Korintiërs 10:8.

Geestelike skatte

it-1-E 359 ¶1-2

Grens

Dit lyk dus asof daar twee faktore daarby betrokke was wanneer die grond tussen die stamme verdeel is: die resultaat wanneer die lot gewerp is en die grootte van die stam. Die lot het dalk net min of meer gewys waar die grond sou wees wat die erfdeel van elke stam was, met ander woorde in watter deel van die land dit sou wees, byvoorbeeld N of S, O of W, langs die kusvlakte of in die bergstreek. Die besluite van die lot het van Jehovah af gekom, en sou dus keer dat die stamme op mekaar jaloers is en onder mekaar stry (Spr 16:33). Op hierdie manier sou God sake ook rig sodat die besluite in verband met elke stam sou ooreenstem met die geïnspireerde sterfbedprofesie van die aartsvader Jakob wat opgeteken is in Genesis 49:1-33.

Nadat die lot bepaal het wat die geografiese ligging van ’n stam moes wees, sou dit daarna nodig wees om te bepaal hoe groot die stam se gebied moes wees op grond van die tweede faktor: dat die grootte van die grond eweredig moes wees aan die grootte van die stam. “Julle moet die land deur die lot verdeel as ’n besitting onder julle families. Julle moet die erfdeel van die groter groepe groter maak en die erfdeel van die kleiner groepe kleiner maak. Elkeen se erfdeel sal wees waar die lot vir hom val” (Nu 33:54). Die besluit volgens die lot oor waar die grond moes wees, kon nie verander nie, maar die grootte van die erfdeel kon wel verander. Toe daar gesien is dat Juda se gebied te groot is, is hulle stuk grond kleiner gemaak deurdat dele daarvan aan die stam van Simeon gegee is. – Jos 19:9.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel