Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/1 bl. 19-21
  • Stel die belangrikste sake eerste!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stel die belangrikste sake eerste!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat moet eerste gestel word?
  • Hou aan om eers die koninkryk te soek
  • Hoe party vandag die belangrikste sake eerste stel
  • Beplan vooruit!
  • Hoe kan ek die tyd vind om my huiswerk te doen?
    Ontwaak!—2004
  • Hoe kan ek my huiswerk klaarmaak?
    Jongmense vra
  • Vergaderingbywoning—’n ernstige verantwoordelikheid
    Ons Koninkryksbediening—1994
  • Gereelde vergaderingbywoning—’n prioriteit
    Ons Koninkryksbediening—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/1 bl. 19-21

Stel die belangrikste sake eerste!

Dit is ’n vergaderingaand, maar jy het werk om te doen. Wat sal jy eerste stel?

JY IS ’n getroude man en vader. ’n Lang, harde werksdag loop ten einde en jy begin dink aan die gemeentelike vergadering later die aand. As jy nou onmiddellik huis toe gaan, sal daar net genoeg tyd wees om te stort, te verklee en vinnig iets te eet voor jy na die vergadering gaan. Skielik kom jou werkgewer na jou toe en vra of jy oortyd kan werk. Hy beloof om jou goed te betaal. Jy het die geld nodig.

Of jy is ’n getroude vrou en moeder. Terwyl jy die aandete voorberei, val jou oog op ’n bondel ongestrykte wasgoed met klere wat julle môre nodig sal hê. Jy vra jou af: ‘Wanneer sal ek tyd kry om te stryk as ek vanaand die vergadering bywoon?’ Jy het onlangs voltyds begin werk en vind nou uit hoe moeilik dit is om na huishoudelike pligte om te sien terwyl jy ’n bestaan probeer maak.

Of jy is ’n skoolgaande jongmens. In jou kamer lê ’n groot stapel huiswerk op jou lessenaar. Die meeste daarvan het jy al ’n ruk gelede gekry, maar jy het uitgestel en nou moet ’n hele paar take gelyktydig gereed wees. Jy voel lus om jou ouers te vra of jy van die vergadering kan wegbly sodat jy jou huiswerk kan klaarmaak.

Wat sal jy eerste stel: die bykomende sekulêre werk, die strykwerk, die huiswerk of die gemeentelike vergadering? Wat beteken dit, geestelik gesproke, om die belangrikste sake eerste te stel? Wat is Jehovah se beskouing?

Wat moet eerste gestel word?

Kort nadat die Israeliete die Tien Gebooie ontvang het, het hulle ’n man gekry wat hout op die Sabbat bymekaargemaak het. Dit was ten strengste verbied in die Wet (Numeri 15:32-34; Deuteronomium 5:12-15). Hoe sou jy die saak beoordeel het? Sou jy die man verskoon het deur te redeneer dat hy op stuk van sake gewerk het om sy gesin van noodsaaklikhede te voorsien, nie om ’n luukse lewenstyl te handhaaf nie? Sou jy daarop gewys het dat daar nog baie geleenthede gedurende die jaar sou wees om die Sabbat te hou en dat die een keer wat hy dit oorgeslaan het, miskien omdat die man nie vooruitbeplan het nie, maklik vergewe kon word?

Jehovah het die saak in ’n ernstiger lig beskou. Die Bybel sê: “Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word” (Numeri 15:35). Waarom het Jehovah so sterk gevoel oor wat die man gedoen het?

Die volk het ses dae gehad waarop hulle hout bymekaar kon maak sowel as in hulle behoeftes kon voorsien wat voedsel, klere en onderdak betref. Die sewende dag moes hulle aan hulle geestelike behoeftes wy. Hoewel dit nie verkeerd was om hout bymekaar te maak nie, was dit verkeerd om tyd wat hulle opsy moes sit om Jehovah te aanbid daarvoor te gebruik. Hoewel Christene nie onder die Mosaïese Wet is nie, is die les wat ons vandag uit hierdie voorval leer dat ons ons prioriteite reg moet hê.—Filippense 1:10.

Nadat die Israeliete 40 jaar in die woestyn deurgebring het, het hulle gereedgemaak om die Beloofde Land in te gaan. Party het moeg daarvan geword om die manna te eet wat God in die woestyn voorsien het en het ongetwyfeld na ’n verandering in dieet uitgesien. Om hulle te help om die regte beskouing te handhaaf terwyl hulle die land ingegaan het wat “oorloop van melk en heuning”, het Jehovah hulle herinner: ‘Die mens lewe nie van brood alleen nie, maar van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.’—Exodus 3:8; Deuteronomium 8:3.

Die Israeliete sou hard moes werk vir hulle “melk en heuning”. Hulle moes leërs verslaan, huise bou, die land bewerk. Nietemin het Jehovah die volk opdrag gegee om elke dag tyd opsy te sit om oor geestelike sake te peins. Hulle moes ook tyd daaraan afstaan om hulle kinders God se weë te leer. Jehovah het gesê: “Leer [my gebooie] aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 11:19.

Elke manlike Israeliet en proseliet in die land is beveel om drie maal per jaar voor Jehovah te verskyn. Baie gesinshoofde het gereël dat hulle vrou en kinders hulle vergesel, aangesien hulle besef het dat die hele gesin geestelik baat sou vind by hierdie geleenthede. Maar wie sou hulle huis en hulle landerye beskerm teen vyandige aanvalle terwyl die gesin weg was? Jehovah het beloof: “Niemand [sal] jou land . . . begeer nie terwyl jy opgaan om te verskyn voor die aangesig van die HERE jou God, drie maal in die jaar” (Exodus 34:24). Dit het geloof vereis van die Israeliete om te glo dat hulle nie materiële verliese sou ly as hulle geestelike belange eerste stel nie. Het Jehovah sy woord gehou? Hy het beslis!

Hou aan om eers die koninkryk te soek

Jesus het sy volgelinge geleer om geestelike waardes voor alle ander dinge te stel. In die Bergpredikasie het hy sy luisteraars aangespoor: “Moet dus nooit besorg wees en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Hou . . . aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie [noodsaaklike materiële] dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:31, 33). Kort ná Jesus se dood het die pasgedoopte Christene daardie raad gevolg. Baie van hulle was Jode of Joodse proseliete wat na Jerusalem gereis het vir die viering van die Pinksterfees in 33 G.J. Terwyl hulle daar was, het iets onverwags gebeur. Hulle het die goeie nuus omtrent Jesus Christus gehoor en dit aangeneem. Aangesien hulle gretig was om meer omtrent hulle nuutgevonde geloof te leer, het hulle in Jerusalem aangebly. Hulle kosvoorraad het begin opraak, maar materiële dinge was van minder belang. Hulle het die Messias gevind! Hulle Christenbroers het hulle materiële dinge onder mekaar gedeel sodat almal kon voortgaan “om hulle toe lê op die leer van die apostels en . . . op gebede.”—Handelinge 2:42.

Na verloop van tyd het party Christene die belangrikheid van gereelde omgang by vergaderinge uit die oog verloor (Hebreërs 10:23-25). Miskien het hulle materialisties geword en geestelike sake verwaarloos terwyl hulle vir hulleself en hulle gesin finansiële sekuriteit probeer verseker het. Nadat die apostel Paulus sy broers aangespoor het om nie die vergaderinge na te laat nie, het hy geskryf: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want hy het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.’”—Hebreërs 13:5.

Paulus se raad was eintlik baie tydig. Omtrent vyf jaar nadat Paulus sy brief aan die Hebreërs geskryf het, het die Romeinse leër van Cestius Gallus Jerusalem omsingel. Getroue Christene het Jesus se waarskuwing onthou: “Wanneer julle [dit] . . . sien . . . laat die man wat op die dak is, nie afkom nie en ook nie ingaan om enigiets uit sy huis te neem nie; en laat die man wat op die land is, nie terugkeer na die dinge wat agter is om sy bokleed te gaan haal nie” (Markus 13:14-16). Hulle het geweet dat hulle oorlewing nie afgehang het van die stabiliteit van hulle werk of die waarde van hulle materiële besittings nie, maar van hulle gehoorsaamheid aan Jesus se instruksies. Vir diegene wat ag geslaan het op Paulus se raad en geestelike belange eerste gestel het, was dit ongetwyfeld makliker om hulle huis, werk, klere en kosbare persoonlike besittings agter te laat en na die berge te vlug as vir diegene wat hulle nog nie losgemaak het van die liefde vir geld nie.

Hoe party vandag die belangrikste sake eerste stel

Getroue Christene van vandag beskou gereelde omgang met hulle broers as iets kosbaars, en baie maak opofferinge om vergaderinge by te woon. Op sekere plekke is skofwerk die enigste werk wat beskikbaar is. Een broer bied aan om sy werksmaats se skof op Saterdagaande te doen, wanneer die meeste mense in sy gemeenskap wil ontspan, as hulle sy skof op vergaderingaande sal werk. Ander broers wat skofwerkers is, woon die vergaderinge van ’n nabygeleë gemeente by as hulle werk hulle verhinder om hulle eie vergadering by te woon. Op dié manier bly hulle amper nooit weg van ’n vergadering nie. ’n Nuwe belangstellende in Kanada het spoedig besef hoe belangrik die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering is, maar haar werkrooster het inbreuk op haar bywoning gemaak. Sy het dus ’n medewerker betaal om haar skof te doen sodat sy hierdie belangrike vergaderinge kon bywoon.

Baie wat aan ’n chroniese siekte ly, bly selde weg van ’n vergadering. Wanneer hulle nie by die Koninkryksaal kan wees nie, luister hulle by die huis na die program deur middel van ’n telefoonverbinding of ’n bandopname. Hulle toon prysenswaardige waardering vir Jehovah se geestelike voorsienings deur sy “getroue en verstandige slaaf”! (Matteus 24:45). Christene wat hulle bejaarde ouers versorg, waardeer dit werklik wanneer ’n broer of ’n suster aanbied om by die ouer te bly sodat die versorger ’n gemeentelike vergadering kan bywoon.

Beplan vooruit!

Ouers wat bewus is van hulle eie geestelike behoeftes help hulle kinders om Christelike vergaderinge te waardeer. Oor die algemeen verwag hulle dat hulle kinders hulle huiswerk moet doen wanneer hulle dit kry en nie moet toelaat dat hulle take ophoop nie. Vergaderingaande doen die kinders hulle huiswerk sodra hulle van die skool af by die huis aankom. Daar word nie toegelaat dat stokperdjies en ander bedrywighede inbreuk maak op die bywoning van gemeentelike vergaderinge nie.

As ’n getroude man en vader, is vergaderingbywoning vir jou een van die belangrikste sake? As ’n getroude vrou en moeder, probeer jy jou verantwoordelikhede so reël dat jy vergaderinge kan bywoon? As ’n tiener, beplan jy jou huiswerk volgens jou vergaderingbywoning of jou vergaderingbywoning volgens jou huiswerk?

’n Gemeentelike vergadering is ’n liefdevolle voorsiening van Jehovah. Ons moet alles in ons vermoë doen om by daardie reëling baat te vind. Jehovah sal jou ryklik seën as jy die belangrikste sake eerste stel!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel