Kom nader aan God
’n Regter wat ferm bly by wat reg is
MENSEREGTERS lewer dalk uitsprake wat onregverdig of oordrewe streng is, maar dit is nie die geval met Jehovah God nie—hy “het geregtigheid lief” (Psalm 37:28). Hoewel hy geduldig is, is hy nie permissief nie. Hy bly ferm by wat reg is. Kyk hoe hy gereageer het in ’n geval waarby ’n rusie en opstand betrokke was, soos opgeteken in Numeri hoofstuk 20.
Na aan die einde van hulle trek deur die wildernis het die Israeliete ’n watertekort ondervind.a Die mense het met Moses en Aäron begin rusie maak en gesê: “Waarom het julle Jehovah se gemeente na hierdie wildernis gebring om ons en ons pakdiere hier te laat sterf?” (vers 4). Die volk het gekla dat die wildernis ’n “bose plek” is wat geen “vye en wingerdstokke en granate” het nie—juis die vrugte wat Israelitiese verkenners jare tevore uit die Beloofde Land gebring het—en dat daar “geen water [is] om te drink nie” (vers 5; Numeri 13:23). Hulle het Moses en Aäron in werklikheid die skuld daarvoor gegee dat die wildernis nie soos die vrugbare land is wat ’n vroeëre geslag murmureerders geweier het om binne te gaan nie!
Jehovah het nie die murmureerders verwerp nie. Hy het Moses eerder beveel om drie dinge te doen: hy moes sy staf neem, die volk bymekaarroep en “voor hulle oë met die groot rots praat sodat hy inderdaad sy water kan gee” (vers 8). Moses het die eerste twee dele van die opdrag gehoorsaam, maar hy was nie gehoorsaam aan die derde deel daarvan nie. In plaas van in geloof met die rots te praat, het hy in bitterheid met die volk gepraat en gesê: “Hoor nou, julle opstandiges! Sal ons vir julle water uit hierdie groot rots laat kom?” (vers 10; Psalm 106:32, 33). Toe het Moses die rots twee keer geslaan, “en baie water het begin uitkom”.—Vers 11.
Moses, tesame met Aäron, het sodoende ’n ernstige sonde gepleeg. “Julle [het] in opstand gekom . . . teen my bevel”, het God vir hulle gesê (Numeri 20:24). Toe hulle by hierdie geleentheid teen God se bevel gegaan het, het Moses en Aäron opstandiges geword—presies waarvan hulle die volk beskuldig het. God se oordeel was duidelik: Moses en Aäron sou Israel nie in die Beloofde Land inlei nie. Was die vonnis te streng? Nee, weens etlike redes.
Eerstens, God het Moses nie beveel om met die volk te praat nie, wat nog te sê hulle as opstandiges te veroordeel. Tweedens, Moses en Aäron het versuim om aan God die heerlikheid te gee. ‘Julle het my nie geheilig nie’, het God gesê (vers 12). Deur te sê ‘ons sal vir julle water laat uitkom’, het Moses gepraat asof hy en Aäron—nie God nie—die wonderdadige water voorsien. Derdens, die vonnis was in ooreenstemming met vorige oordele. God het die vroeëre geslag opstandiges toegang tot Kanaän geweier, en daarom het hy dieselfde met Moses en Aäron gedoen (Numeri 14:22, 23). Vierdens, Moses en Aäron was Israel se leiers. Diegene aan wie groot verantwoordelikhede toevertrou word, het groter aanspreeklikheid voor God.—Lukas 12:48.
Jehovah bly ferm by wat reg is. Omdat hy geregtigheid liefhet, is dit vir hom onmoontlik om uitsprake te lewer wat onregverdig of onredelik is. Dit is duidelik dat so ’n Regter ons vertroue en respek verdien.
[Voetnoot]
a Ná hulle uittog uit Egipte was die Israeliete gereed om Kanaän binne te gaan, die land wat God aan Abraham belowe het. Maar toe tien verkenners ’n slegte berig teruggebring het, het die volk teen Moses gemurmureer. Jehovah het dus bepaal dat hulle 40 jaar in die wildernis moes deurbring—genoeg tyd sodat die opstandige geslag kon uitsterf.