Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr21 September bl. 1-10
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2021
  • Onderhofies
  • 6-12 SEPTEMBER
  • 13-19 SEPTEMBER
  • 20-26 SEPTEMBER
  • Geestelike skatte
  • w04 12/1 9 ¶2
  • Glanspunte uit die boek Josua
  • 27 SEPTEMBER – 3 OKTOBER
  • 4-10 OKTOBER
  • 11-17 OKTOBER
  • w04 12/1 11 ¶1
  • Glanspunte uit die boek Josua
  • 18-24 OKTOBER
  • 25-31 OKTOBER
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2021
mwbr21 September bl. 1-10

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

6-12 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | DEUTERONOMIUM 33-34

“Soek beskerming in Jehovah se ‘ewige arms’”

it-2-E 51

Jesurun

’n Eretitel vir Israel. In die Griekse Septuagint word “Jesurun” as ’n uitdrukking van liefde gebruik en word dit weergegee met “geliefde”. Die naam “Jesurun” moes Israel daaraan herinner het dat hulle Jehovah se verbondsvolk is, en daarom het hulle die verpligting gehad om opreg te bly (De 33:5, 26; Jes 44:2). In Deuteronomium 32:15 word die naam Jesurun op ’n ironiese manier gebruik. In plaas daarvan dat Israel sy naam Jesurun waardig gebly het, het hulle opstandig geword, hulle Maker verlaat en geen respek vir hulle Redder gehad nie.

rr 120, venster

Jehovah kan ons help om weer op te staan

Honderde jare voor Esegiël se dag het die profeet Moses gesê dat Jehovah nie net die krag het nie, maar ook die begeerte het om sy krag te gebruik om sy volk te help. Moses het geskryf: “God is van die ou tyd af ’n beskerming, sy ewige arms is onder jou” (Deut. 33:27). Ja, as ons in moeilike tye op ons God vertrou, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah sy arms liefdevol onder ons sal sit en ons sal help om weer op te staan. – Eseg. 37:10.

w11 9/15 19 ¶16

Hardloop die wedloop met volharding

Soos Abraham, het Moses nie die vervulling van God se belofte in sy leeftyd gesien nie. Toe die Israeliete gereed gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan, het Jehovah vir Moses gesê: “Jy sal die land van ver af sien, maar jy sal nie daar ingaan, in die land wat ek aan die kinders van Israel gee nie.” Dit was omdat hy en Aäron vroeër gefrustreerd geraak het die volk se opstandigheid en “troueloos teenoor [God] opgetree het onder die kinders van Israel by die waters van Meriba” (Deut. 32:51, 52). Het Moses mismoedig of gegrief geraak? Nee. Hy het ’n seën oor die volk uitgespreek en met hierdie woorde afgesluit: “Gelukkig is jy, o Israel! Wie is soos jy, ’n volk wat redding geniet in Jehovah, die skild van jou hulp, en die Een wat jou uitnemende swaard is?”—Deut. 33:29.

Geestelike skatte

it-2-E 439 ¶3

Moses

Moses was 120 jaar oud toe hy gesterf het. Die Bybel verwys na sy natuurlike krag en sê: “Sy oë het nie dof geword nie en sy krag het hom nie verlaat nie.” Hy is deur Jehovah op ’n plek begrawe wat nooit gevind is nie (De 34:5-7). Heel moontlik was dit om te keer dat die Israeliete nie ’n altaar van sy graf maak en so deur valse aanbidding vasgevang word nie. Dit lyk asof die Duiwel Moses se liggaam vir hierdie doel wou gebruik het, want Judas, die Christendissipel en halfbroer van Jesus Christus, skryf: “Toe Migael, die aartsengel, met die Duiwel oor Moses se liggaam gestry het, het hy dit nie gewaag om met beledigende woorde ’n oordeel oor hom uit te spreek nie, maar hy het gesê: ‘Mag Jehovah jou bestraf’” (Jud 9). Voordat Israel onder die leierskap van Josua in Kanaän ingegaan het, het hulle 30 dae lank oor Moses getreur. – De 34:8.

13-19 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 1-2

“Hoe om suksesvol te wees”

w13 1/15 8 ¶7

Wees moedig—Jehovah is met jou!

Om die nodige moed te hê om God se wil te doen, moet ons sy Woord bestudeer en toepas. Dit is wat Josua gesê is om te doen toe hy Moses se opvolger geword het: “Wees . . . moedig en baie sterk om sorgvuldig te handel volgens die hele wet wat my kneg Moses jou beveel het. . . . Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, en jy moet dag en nag op gedempte toon daarin lees, sodat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel” (Jos. 1:7, 8). Josua het hierdie raad gevolg, en ‘sy weg was suksesvol’. As ons dit ook doen, sal ons groter moed in God se diens hê en suksesvoller daarin wees.

w13 1/15 11 ¶20

Wees moedig—Jehovah is met jou!

Dit is ’n uitdaging om ’n goddelike lewensweg na te streef ondanks die beproewinge wat ons in hierdie bose wêreld vol probleme moet verduur. Maar ons is nie alleen nie. God is met ons. So ook sy Seun, die Hoof van die gemeente. Daar is ook meer as 7 000 000 Getuies van Jehovah regoor die wêreld. Laat ons saam met hulle aanhou om geloof te beoefen en die goeie nuus te verkondig terwyl ons die jaarteks vir 2013 in gedagte hou: “Wees moedig en sterk. . . . Jehovah jou God is met jou.”—Jos. 1:9.

Geestelike skatte

w04 12/1 9 ¶1

Glanspunte uit die boek Josua

2:4, 5—Waarom mislei Ragab die koning se manne wat die spioene soek? Ragab stel haar lewe in gevaar om die spioene te beskerm omdat sy geloof in Jehovah begin stel het. Sy is dus onder geen verpligting om vir manne wat God se knegte leed wil aandoen, te vertel waar die spioene is nie (Matteus 7:6; 21:23-27; Johannes 7:3-10). Trouens, Ragab is ‘regverdig verklaar deur werke’, wat haar misleiding van die gesante van die koning ingesluit het.—Jakobus 2:24-26.

20-26 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 3-5

“Jehovah seën dade van geloof”

it-2-E 105

Jordaan

Gewoonlik is die deel van die Jordaanrivier onderaan die See van Galilea gemiddeld 1 tot 3 meter diep en omtrent 27 tot 30 meter wyd. Maar in lente oorstroom die Jordaan sy oewers en is die rivier dan baie wyer en dieper (Jos 3:15). Wanneer die Jordaan in vloed was, sou dit nie veilig vir die Israelitiese mans, vrouens en kinders wees om dit oor te steek nie, veral nie naby Jerigo nie. Die stroom is so sterk dat mense wat in onlangse tye daar geswem het, weggevoer is. Maar Jehovah het die Jordaan wonderdadig opgedam, wat dit vir die Israeliete moontlik gemaak het om op droë grond oor te steek (Jos 3:14-17). Honderde jare later het ’n soortgelyke wonderwerk een keer met Elia gebeur, toe hy saam met Elisa was, en een keer met Elisa, toe hy alleen was. – 2Kn 2:7, 8, 13, 14.

w13 9/15 16 ¶17

Maak Jehovah se herinneringe die vreugde van jou hart

Hoe help dade van geloof ons om in Jehovah vertroue op te bou? Dink aan die skriftuurlike verslag van Israel se intog in die Beloofde Land. Jehovah het die priesters wat die verbondsark gedra het, beveel om in die Jordaanrivier in te stap. Maar toe die volk nadergekom het, kon hulle sien dat die rivier weens die lentereën in vloed was. Wat sou die Israeliete doen? Sou hulle op die rivieroewer kamp opslaan en weke of langer wag vir die vloedwater om te sak? Nee, hulle het ten volle op Jehovah vertrou en sy instruksies gevolg. Wat was die gevolg? Die verslag sê: “Die oomblik toe die priesters se voete aan die water geraak het, het die rivier ophou vloei, . . . en die priesters het in die droë rivierbedding naby Jerigo gestaan terwyl die res deurgegaan het” (Jos. 3:12-17, Contemporary English Version). Stel jou voor hoe aanmoedigend dit moes gewees het om te sien hoe daardie woeste waters opdam! Ja, die Israeliete se geloof in Jehovah is versterk omdat hulle sy instruksies vertrou het.

w13 9/15 16 ¶18

Maak Jehovah se herinneringe die vreugde van jou hart

Jehovah verrig weliswaar nie sulke wonderwerke ten behoewe van sy hedendaagse volk nie, maar hy seën wel hulle dade van geloof. God se werkende krag stel hulle in staat om die opdrag uit te voer om die Koninkryksboodskap wêreldwyd te verkondig. En Jehovah se vernaamste Getuie, die verrese Christus Jesus, het sy dissipels verseker dat hy hulle in hierdie belangrike werk sou ondersteun deur te sê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies . . . Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:19, 20). Baie Getuies wat skaam of teruggetrokke was, kan self getuig dat God se heilige gees hulle die moed gegee het om in die veldbediening met vreemdelinge te praat.—Lees Psalm 119:46; 2 Korintiërs 4:7.

Geestelike skatte

w04 12/1 9 ¶2

Glanspunte uit die boek Josua

5:14, 15—Wie is “die vors van die leër van Jehovah”? Die vors wat Josua kom versterk wanneer die verowering van die Beloofde Land begin, is waarskynlik niemand anders nie as “die Woord”—Jesus Christus in sy voormenslike bestaan (Johannes 1:1; Daniël 10:13). Hoe bemoedigend is dit tog om die versekering te hê dat die verheerlikte Jesus Christus vandag met God se volk is terwyl hulle in ’n geestelike oorlog gewikkel is!

27 SEPTEMBER – 3 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 6-7

“Verwerp waardelose dinge”

w10 4/15 20 ¶5

Wend jou oë af van waardelose dinge!

Eeue later het die Israeliet Agan se oë hom verlei sodat hy ’n paar artikels uit die verowerde stad Jerigo gesteel het. God het beveel dat alles in daardie stad vernietig moet word, behalwe sekere dinge wat aan die skatkis van Jehovah gegee moes word. Die Israeliete is gewaarsku: “Bly . . . weg van dit wat aan vernietiging oorgegee is”, sodat daar nie ’n begeerte by hulle sou ontstaan en hulle van die artikels uit die stad neem nie. Toe Agan ongehoorsaam was, het die volk Israel ’n nederlaag gely by die stad Ai, en ’n aantal van hulle het gesneuwel. Agan het nie erken dat hy gesteel het totdat hy aan die kaak gestel is nie. Agan het gesê: “Toe ek [die artikels] sien . . . , wou ek dit hê, en ek het dit geneem.” Die begeerte van sy oë het tot sy vernietiging gelei, saam met “alles wat aan hom behoort” het (Jos. 6:18, 19; 7:1-26). Agan het in sy hart begeer wat vir hom verbode was.

w97 8/15 28 ¶3

Waarom moet oortreding aangemeld word?

Een rede waarom ons oortreding moet aanmeld, is omdat dit help om die gemeente rein te hou. Jehovah is ’n rein God, ’n heilige God. Hy vereis dat almal wat hom aanbid geestelik en sedelik rein moet wees. Sy geïnspireerde Woord vermaan ons: “Hou as gehoorsame kinders op om gevorm te word volgens die begeertes wat julle vroeër in julle onkunde gehad het, maar word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig’” (1 Petrus 1:14-16). Individue wat hulle aan onreinheid of oortreding skuldig maak, kan ’n hele gemeente verontreinig en in onguns by Jehovah bring, tensy stappe gedoen word om hulle tereg te wys of uit te sit.—Vergelyk Josua, hoofstuk 7.

w10 4/15 21 ¶8

Wend jou oë af van waardelose dinge!

Ware Christene is nie immuun teen die begeerte van die oë en van die vlees nie. Daarom spoor God se Woord ons aan om selfdissipline aan die dag te lê ten opsigte van die dinge waarna ons kyk en wat ons begeer. (1 Kor. 9:25, 27; lees 1 Johannes 2:15-17.) Die regskape man Job was iemand wat besef het dat daar ’n sterk verband is tussen wat ons sien en wat ons begeer. Hy het gesê: “’n Verbond het ek met my oë gesluit. Hoe sou ek dan kon ag gee op ’n maagd?” (Job 31:1). Job het nie net geweier om op ’n onsedelike manier aan ’n vrou te raak nie, maar hy wou nie eers sy verstand toelaat om aan so iets te dink nie. Jesus het beklemtoon dat die verstand rein van onsedelike gedagtes gehou moet word toe hy gesê het: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”—Matt. 5:28.

Geestelike skatte

w15 11/15 15 ¶2-3

Vrae van lesers

Soms, in die ou tyd, het ’n leërmag ’n stad omsingel sodat hulle dit kon verower. As dit lank geneem het om die stad te verower, sou die mense die meeste van die kos in die stad opgeëet het. Nadat die soldate die stad uiteindelik verower het, sou hulle alles neem wat hulle wou hê, insluitende enige oorblywende kos. Daarom het argeoloë min of geen kos gevind in die ruïnes van stede in Palestina wat so verower is nie. Maar die ruïnes van Jerigo is anders. Die Biblical Archaeology Review sê: “Behalwe erdewerk, is graan die item wat die meeste in die ruïnes gevind is.” Dit voeg by: “Om so ’n oorvloed graan te vind, is baie ongewoon.”

Die Bybel sê dat die Israeliete nie die kos in Jerigo geneem het nie omdat Jehovah hulle verbied het om dit te doen (Josua 6:17, 18). Dit sê ook dat die Israeliete Jerigo in die lente aangeval het, net ná die oes, toe daar baie graan in die stad was (Josua 3:15-17; 5:10). Die feit dat daar nog baie graan in Jerigo was, bevestig dat die stad in ’n kort tydjie verower is, net soos die Bybel sê.

4-10 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 8-9

“Lesse uit die verslag van die Gibeoniete”

it-1-E 930-931

Gibeon

Handelinge met Josua. In Josua se tyd het die Hewiete, een van die sewe Kanaänitiese nasies wat vernietig moes word, in Gibeon gebly (De 7:1, 2; Jos 9:3-7). Die Gibeoniete is ook Amoriete genoem, en dit lyk asof hierdie naam party keer op alle Kanaäniete oor die algemeen van toepassing was (2Sa 21:2; vergelyk Ge 10:15-18; 15:16). Anders as die ander Kanaäniete het die Gibeoniete besef dat hulle nie sou oorwin nie al was hulle militêre krag sterk en hulle stad groot, want Jehovah het vir Israel geveg. Daarom, nadat Jerigo en Ai vernietig is, het die manne van Gibeon verteenwoordigers na Josua by Gilgal gestuur om vir vrede te vra. Hierdie verteenwoordigers het blykbaar ook die drie ander Hewitiese stede Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim verteenwoordig (Jos 9:17). Die verteenwoordigers van Gibeon het ou, stukkende klere en deurgeloopte sandale aangehad met gebarste wynsakke, ou sakke en brood wat droog en krummelrig was. Hulle het gemaak asof hulle van ’n ver land gekom het, en daarom sou hulle nie in Israel se pad van oorwinning staan nie. Hulle het erken wat Jehovah vroeër in Egipte gedoen het en wat hy aan die Amoritiese konings Sihon en Og gedoen het. Maar hulle was wys en het nie genoem wat met Jerigo en Ai gebeur het nie, want sulke nuus sou nie hulle “baie ver land” bereik het teen die tyd wat hulle veronderstel was om te vertrek nie. Israel se verteenwoordigers het die bewyse ondersoek en aanvaar en ’n verbond met hulle gemaak om hulle te laat lewe. – Jos 9:3-15.

w11 11/15 8 ¶14

“Moenie op jou eie begrip steun nie”

Aangesien ons onvolmaak is, moet ons almal—selfs ervare ouer manne—oppas dat ons nie versuim om op Jehovah te vertrou wanneer ons besluite neem nie. Dink aan hoe Moses se opvolger, Josua, en die ouer manne van Israel gereageer het toe hulle genader is deur skerpsinnige Gibeoniete wat hulle vermom het en voorgegee het dat hulle van ’n ver land kom. Sonder om Jehovah te raadpleeg, het Josua en ander vrede gemaak met die Gibeoniete en ’n verbond met hulle gesluit. Al het Jehovah uiteindelik die reëling gesteun, het hy seker gemaak dat hierdie versuim om sy leiding te soek, tot ons voordeel in die Skrif opgeteken is.—Jos. 9:3-6, 14, 15.

w04 10/15 18 ¶14

“Trek deur die land”

Daardie verteenwoordigers het gesê: “U knegte het uit ’n baie ver land gekom weens die naam van Jehovah u God” (Josua 9:3-9). Hulle klere en kos het blykbaar bevestig dat hulle van ver af gekom het, maar Gibeon was in werklikheid sowat 30 kilometer van Gilgal af. Josua en sy owerstes het hulle geglo en ’n vriendskapsverbond gesluit met Gibeon en nabygeleë stede wat aan Gibeon verbonde was. Was die Gibeoniete se slim plan net ’n manier om teregstelling te voorkom? Inteendeel, dit het ’n begeerte geopenbaar om die guns van Israel se God te verkry. Jehovah het dit goedgekeur dat die Gibeoniete “houtkappers en waterdraers gemaak [word] vir die vergadering en vir Jehovah se altaar”, om brandhout vir die offeraltaar te voorsien (Josua 9:11-27). Die Gibeoniete het voortgegaan om te toon dat hulle gewillig was om nederige take in Jehovah se diens te verrig. Van hulle was moontlik onder die Netinim wat uit Babilon teruggekeer en by die herboude tempel gedien het (Esra 2:1, 2, 43-54; 8:20). Ons kan hulle gesindheid navolg deur daarna te streef om vrede met God te handhaaf en bereid te wees om selfs nederige toewysings in sy diens uit te voer.

Geestelike skatte

it-1-E 1030

Om ’n persoon te hang

Onder die wet wat Jehovah aan Israel gegee het, moes sekere misdadigers aan ’n paal gehang word nadat hulle doodgemaak is. Hulle is “deur God vervloek” en in die openbaar vertoon as ’n waarskuwende voorbeeld. ’n Dooie persoon wat so gehang is, moes afgehaal en begrawe word voordat dit donker geword het. As sy lyk die hele nag aan die paal bly hang het, sou dit die land wat God aan die Israeliete gegee het, onrein maak (De 21:22, 23). Israel het hierdie wet gevolg selfs al was die persoon wat doodgemaak is, nie ’n Israeliet nie. – Jos 8:29; 10:26, 27.

LÊ JOU TOE OP DIE VELDBEDIENING

Toespraak

it-1-E 520

Wat kan ons leer uit die verbond wat Josua met die Gibeoniete gemaak het?

Verbond

’n Ooreenkoms tussen twee of meer persone om iets te doen of nie te doen nie; ’n kontrak; ’n verbintenis. Die Hebreeuse woord berithʹ, waarvan die oorsprong onseker is, verskyn meer as 280 keer in die Hebreeuse Geskrifte. Meer as 80 gevalle waar hierdie woord voorkom, is in die vyf boeke van Moses. Spykerskrif-tablette wat gevind is in 1927 by Qatna, ’n eertydse nie-Israelitiese stad suid-oos van Hamat, wys duidelik dat die basiese betekenis van die Hebreeuse woord berithʹ “verbond” is en dat dit vergelyk kan word met ons moderne regsterm “kontrak”. “Die inhoud van die twee tablette [waarvan 15 gevind is] is eenvoudig. Tablet A bevat ’n lys name . . . Tablet B is ’n koslys . . . Lys A is dus ’n kontrak waarin die mans wat genoem word, . . . ooreenkom om deur iemand in diens geneem te word of om sekere verpligtinge uit te voer. Lys B, wat deur dieselfde skrywer geskryf is, verduidelik dan waaroor die kontrak gaan; die mans moes ’n spesifieke hoeveelheid kos kry in ruil vir hulle diens. . . . die Israelitiese konsep van berit, ‘verbond’, was ’n hooftema in Jahwistiese teologie. Hier het ons die eerste gepubliseerde geval van die woord uit die vroeë tye wat nie in die Bybel voorkom nie – nie later as die eerste derde van die veertiende eeu VHJ nie.” – Bulletin of the American Schools of Oriental Research, Februarie 1951, bl. 22.

it-1-E 525 ¶1

Ander verbonde. (a) Josua en die hoofmanne van Israel met die inwoners van die stad Gibeon om hulle te laat lewe. Hoewel hulle vervloekte Kanaäniete was, wat deur die Israeliete vernietig moes word, was ’n verbond so bindend dat die Gibeoniete toegelaat was om te lewe. Maar die vloek is uitgedra, want hulle moes hout kap en water aandra vir die gemeenskap van Israel (Jos 9:15, 16, 23-27).

11-17 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 10-11

“Jehovah veg vir Israel”

it-1-E 50

Adoni-Sedek

’n Koning van Jerusalem gedurende die tyd toe Israel die Beloofde Land ingeneem het. Adoni-Sedek het saam met ander klein koninkryke wes van die Jordaan bymekaargekom om teen Josua en Israel te veg (Jos 9:1-3). Maar die Hewiete wat in Gibeon gebly het, het vrede met Josua gemaak. Adoni-Sedek het sy leërmag met dié van vier ander Amoritiese konings verenig wat ’n vergeldingsmaatreël was om te keer dat ander die vyand se kant kies. Hulle het teen Gibeon opgetrek en teen hulle geveg. Josua het die Gibeoniete op ’n indrukwekkende manier gered en hierdie gekombineerde magte verpletter. As gevolg hiervan het die vyf konings na Makkeda gevlug, waar hulle in ’n grot vasgekeer was. Josua het self Adoni-Sedek en die vier ander konings voor sy leërmag doodgemaak en hulle aan pale gehang. Hulle lyke is uiteindelik terug in die grot gegooi, en dit het toe hulle graf geword. – Jos 10:1-27.

it-1-E 1020

Hael

Deur Jehovah gebruik. Hael is een van die natuurkragte wat Jehovah soms gebruik om sy woord uit te voer en om sy groot krag te toon (Ps 148:1, 8; Jes 30:30). Die eerste opgetekende voorbeeld hiervan is die sewende plaag op eertydse Egipte. Dit was ’n vernietigende haelstorm wat plante en bome verwoes het en mense sowel as diere in die veld doodgemaak het, maar dit het nie die Israeliete in Gosen geraak nie (Eks 9:18-26; Ps 78:47, 48; 105:32, 33). Later, in die Beloofde Land, het die Israeliete onder Josua se bevel die Gibeoniete gehelp. Hulle is deur vyf Amoritiese konings wat bymekaarkom het, gedreig. Jehovah het groot haelstene teen die aanvallende Amoriete gebruik. By hierdie geleentheid het meer mense as gevolg van haelstene gesterf as in die geveg met Israel. – Jos 10:3-7, 11.

w04 12/1 11 ¶1

Glanspunte uit die boek Josua

10:13—Hoe is so ’n verskynsel moontlik? “Is enigiets te buitengewoon vir Jehovah”, die Skepper van die hemel en die aarde? (Genesis 18:14). As Jehovah wil, kan hy die beweging van die aarde manipuleer sodat dit vir iemand op die aarde lyk of die son en die maan stilstaan. Of hy kan die beweging van die aarde en die maan ongesteurd laat voortgaan terwyl hy die strale van die son en maan so laat breek dat die lig van hierdie twee ligte bly skyn. Hoe dit ook al sy, “geen dag was soos dié een” in die mensegeskiedenis nie.—Josua 10:14.

Geestelike skatte

w09 3/15 32 ¶5

Vrae van lesers

Die feit dat sekere boeke in die Bybel genoem word en as bronne gebruik kon word, moet ons nie tot die slotsom laat kom dat dit geïnspireer was nie. Jehovah God het al die geskrifte bewaar wat “die woord van ons God” bevat, en dit “sal tot onbepaalde tyd bly bestaan” (Jes. 40:8). Ja, wat Jehovah besluit het om in te sluit in die 66 Bybelboeke wat ons het, is presies wat ons nodig het sodat ons “volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk”.—2 Tim. 3:16, 17.

18-24 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 12-14

“Volg Jehovah heelhartig”

w04 12/1 12 ¶2

Glanspunte uit die boek Josua

14:10-13. Hoewel Kaleb 85 jaar oud is, vra hy die moeilike toewysing om die mense uit die gebied van Hebron te verdryf. Die gebied word bewoon deur die Enakiete—buitengewoon groot mense. Met Jehovah se hulp behaal hierdie geharde krygsman sukses, en Hebron word ’n vrystad (Josua 15:13-19; 21:11-13). Kaleb se voorbeeld moedig ons aan om nie van moeilike teokratiese toewysings terug te deins nie.

w06 10/1 18 ¶11

Moedig weens geloof en godvrugtige vrees

Hierdie geloof is nie staties nie. Dit groei namate ons die waarheid uitleef, die voordele “smaak”, die antwoorde op ons gebede “sien” en Jehovah se leiding op ander maniere in ons lewe ervaar (Psalm 34:8; 1 Johannes 5:14, 15). Ons kan daarvan seker wees dat Josua en Kaleb se geloof sterker geword het namate hulle God se goedheid gesmaak het (Josua 23:14). Dink byvoorbeeld aan die volgende punte: Hulle het die 40 jaar lange trek deur die wildernis oorleef, net soos God hulle beloof het (Numeri 14:27-30; 32:11, 12). Hulle het ’n daadwerklike rol gespeel in die ses jaar lange verowering van Kanaän. Uiteindelik het hulle ’n lang lewe en blakende gesondheid geniet en het elkeen selfs ’n persoonlike erfdeel ontvang. Hoe beloon Jehovah tog diegene wat hom met geloof en moed dien!—Josua 14:6, 9-14; 19:49, 50; 24:29.

Geestelike skatte

it-1-E 902-903

Gebal

Jehovah het “die land van die Gebaliete” by die gebiede ingesluit wat nog in Josua se dag deur Israel ingeneem moes word (Jos 13:1-5). Mense wat krities is, het gesê dat dit teenstrydig is omdat die stad Gebal ver noord van Israel was (omtrent 100 km noord van Dan) en blykbaar nooit onder Israel se mag gekom het nie. Sekere geleerdes het voorgestel dat die Hebreeuse teks by hierdie vers dalk beskadig is. Hulle dink dat die verslag in die ou tyd “die land wat aan Libanon grens” of ‘so ver as die grens van die Gebaliete’ gesê het. Maar die punt is ook dat Jehovah se beloftes in Josua 13:2-7 voorwaardelik was. Daarom het Israel Gebal dalk nooit in besit geneem nie as gevolg van hulle eie ongehoorsaamheid. – Vergelyk Jos 23:12, 13.

25-31 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 15-17

“Beskerm jou kosbare erfdeel”

it-1-E 1083 ¶3

Hebron

Terwyl Israel besig was om die suide van Kanaän te verower, het hulle die inwoners van Hebron, insluitende hulle koning (blykbaar Hoham se opvolger), doodgemaak (Jos 10:36, 37). Maar al het die Israeliete onder Josua se bevel die Kanaäniete oorwin, lyk dit asof hulle nie dadelik soldate geplaas het om die verowerde gebiede te beskerm nie. Blykbaar terwyl Israel besig was om op ’n ander plek te veg, het die Enakiete Hebron weer ingeneem. Daarom was dit vir Kaleb (of die seuns van Juda onder Kaleb se leierskap) nodig om ’n hele ruk daarna vir die stad te veg (Jos 11:21-23; 14:12-15; 15:13, 14; Rig 1:10). Hebron, oorspronklik toegewys aan Kaleb van die stam Juda, is daarna ’n heilige status gegee as ’n vrystad. Dit het ook as ’n priesterlike stad gedien. Maar “die grond om die stad [Hebron]” en die omliggende dorpies was Kaleb se erfdeel. – Jos 14:13, 14; 20:7; 21:9-13.

it-1-E 848

Dwangarbeid

Die gebruik van “dwangarbeid” (Heb. mas) was blykbaar baie algemeen in Bybeltye, toe mense wat verower is, dikwels as slawe gedien het (De 20:11; Jos 16:10; 17:13; Est 10:1; Jes 31:8; Klg 1:1). Die Israeliete is gedwing om hard te werk as slawe onder die toesig van Egiptiese hoofde wat hulle wreed behandel het. Hulle moes plekke bou waar voorraad gestoor kon word vir Pitom en Raämses (Eks 1:11-14). Toe hulle in die Beloofde Land ingegaan het, het hulle nie Jehovah se gebod gehoorsaam om al die Kanaäniete van die land te verdryf nie. Die Israeliete het nie die Kanaäniete vernietig nie en het hulle eerder gedwing om as slawe te werk. Dit het veroorsaak dat die Israeliete weggelok is en valse gode begin aanbid het (Jos 16:10; Rig 1:28; 2:3, 11, 12). Koning Salomo het aangehou om die nakomelinge van hierdie Kanaäniete, dit wil sê van die Amoriete, die Hetiete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete, op te roep om as slawe te werk. – 1Kn 9:20, 21.

it-1-E 402 ¶3

Kanaän

Nadat die grootste deel van die land verower is, het baie van die Kanaäniete oorleef en wou hulle nie hulleself onderwerp nie. Maar daar kon nog steeds gesê word: “Jehovah het vir Israel die hele land gegee wat hy met ’n eed aan hulle voorvaders belowe het”. Hy het hulle ook “aan alle kante vrede gegee” en “nie een van al die goeie beloftes wat Jehovah aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie” (Jos 21:43-45). Al die vyande om Israel was bang en het nie regtig hulle veiligheid bedreig nie. God het vroeër gesê dat hy die Kanaäniete “bietjie vir bietjie” sou uit verdryf sodat die wilde diere van die veld nie sou vermeerder in ’n land wat skielik verwoes is nie (Eks 23:29, 30; De 7:22). Al het die Kanaäniete beter oorlogstoerusting gehad, insluitende strydwaens met ysterlemme, en die Israeliete uiteindelik misluk het om sekere gebiede te verower, kon Jehovah nie blameer word dat hy nie sy belofte nagekom het nie (Jos 17:16-18; Rig 4:13). Die verslag wys dat die paar keer wat die Israeliete verslaan is, eerder gebeur het omdat hulle ontrou was. – Nu 14:44, 45; Jos 7:1-12.

Geestelike skatte

w15-E 7/15 32

Het jy geweet?

Het eertydse Israel so baie woude gehad as wat die Bybel aandui?

DIE Bybel sê dat sekere gebiede van die Beloofde Land woude gehad het en dat bome “volop” was (1Kn 10:27; Jos 17:15, 18). Maar omdat groot dele van die land vandag ontbos is, wonder mense wat skepties is dalk of dit ooit die geval kon gewees het.

Die boek Life in Biblical Israel verduidelik dat “woude in eertydse Israel baie meer uitgebreid was as vandag”. Die natuurlike bedekking van die hooglande het hoofsaaklik bestaan uit Aleppo-dennebome (Pinus halepensis), immergroen akkerbome (Quercus calliprinos) en terpentynbome (Pistacia palaestina). In die Sjefela, ’n gebied wat die voetheuwels tussen die sentrale bergreeks en die Mediterreense kus insluit, was die wildevyeboom (Ficus sycomorus) ook volop.

Die boek Plants of the Bible sê dat sekere gebiede in Israel nou glad nie meer bome het nie. Wat het hiertoe bygedra? Die boek verduidelik dat dit ’n geleidelike proses was en sê: “Die mens het aanhoudend ingemeng met die natuurlike plantegroei, hoofsaaklik om sy boerdery en weivelde uit te brei, maar ook om boumateriaal en brandhout te kry.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel