Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr21 November bl. 1-9
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2021
  • Onderhofies
  • 1-7 NOVEMBER
  • 8-14 NOVEMBER 2012
  • 15-21 NOVEMBER 2012
  • 22-28 NOVEMBER 2012
  • 29 NOVEMBER–5 DESEMBER
  • 6-12 DESEMBER 2012
  • 13-19 DESEMBER 2012
  • 20-26 DESEMBER 2012
  • 27 DESEMBER–2 JANUARIE
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2021
mwbr21 November bl. 1-9

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

1-7 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 18-19

“Jehovah se wyse manier om die land te verdeel”

it-1-E 359 ¶1

Grens

Dit lyk asof die verdeling van die land onder die stamme deur twee faktore beïnvloed is: die resultaat van die lot wat gewerp is en die grootte van die stam. Die lot het waarskynlik net vasgestel waar die erfdeel van elke stam min of meer sou wees. So is ’n erfdeel in een deel of ’n ander deel van die land toegewys, byvoorbeeld in die noorde of suide, ooste of weste, langs die kusgebied of in die berge. Die besluit van die lot het van Jehovah gekom, en daarom sou dit keer dat daar jaloesie of stryery tussen die stamme sou wees (Spr 16:33). Op hierdie manier het God sake ook so gerig dat die erfdeel van elke stam met Jakob se sterfbedprofesie in Genesis 49:1-33 sou ooreenstem.

it-1-E 1200 ¶1

Erfdeel

Erfgrond. Die erfdeel van die seuns van Israel was deur Jehovah aan hulle gegee, en hy het vir Moses gesê waar die grense van die land moet wees (Nu 34:1-12; Jos 1:4). Die kinders van Gad, die kinders van Ruben en die halwe stam van Manasse se grondgebied is deur Moses aan hulle toegewys (Nu 32:33; Jos 14:3). Die res van die stamme se erfdeel is deur middel van die lot toegewys deur Josua en Eleasar (Jos 14:1, 2). In ooreenstemming met Jakob se profesie in Genesis 49:5, 7 het Simeon en Levi nie hulle eie gebied geërf nie. Simeon se grondgebied (saam met stede met omliggende dorpies) was binne-in Juda se gebied (Jos 19:1-9). En Levi het 48 stede regdeur die hele gebied van Israel gekry. Omdat die Leviete aangestel was om spesiale diens by die heiligdom te doen, het Jehovah gesê dat hy hulle erfdeel is. As beloning vir hulle diens het hulle die tiendes as erfdeel gekry (Nu 18:20, 21; 35:6, 7). Families het toewysings binne die gebied van hulle stam gekry. Soos families groter geword het en seuns grond geërf het, sou die grond in al hoe kleiner dele opgedeel word.

it-1-E 359 ¶2

Grens

Nadat daar deur die lot vasgestel is waar ’n stam se gebied sou wees, sou dit nodig wees om die grootte van die gebied vas te stel op grond van die tweede faktor: die grootte van die stam. “Julle moet die land deur die lot verdeel as ’n besitting onder julle families. Julle moet die erfdeel van die groter groepe groter maak en die erfdeel van die kleiner groepe kleiner maak. Elkeen se erfdeel sal wees waar die lot vir hom val” (Nu 33:54). Die besluit oor waar ’n stam se gebied volgens die lot sou wees, kon nie verander word nie, maar die grootte van die erfdeel kon verander word. So toe daar vasgestel is dat Juda se gebied te groot is, was sy gebied verminder deur dele daarvan aan die stam Simeon toe te wys. – Jos 19:9.

Geestelike skatte

it-1-E 359 ¶5

Grens

Die verslag oor die verdeling van die gebied wes van die Jordaanrivier wys dat die lot eerste gewerp is vir Juda (Jos 15:1-63), Josef (Efraim) (Jos 16:1-10) en die halwe stam van Manasse wat wes van die Jordaanrivier gaan bly het (Jos 17:1-13). Daar is presies gesê waar hulle grense sou wees en watter stede hulle sou ontvang. Daarna lyk dit asof hulle ’n tyd lank opgehou het met die verdeling van die land, want die Bybel wys dat die kamp van Israel van Gilgal na Silo getrek het (Jos 14:6; 18:1). Ons weet nie presies hoe lank hierdie tyd was nie, maar Josua het uiteindelik vir die oorblywende sewe stamme gevra hoekom hulle uitstel en nie die land in besit neem nie (Jos 18:2, 3). Daar is verskillende verduidelikings oor hoekom die sewe stamme so opgetree het, soos byvoorbeeld die hoeveelheid besittings wat hulle gekry het toe hulle die land ingeneem het. Nog ’n verduideliking is dat daar nie ’n onmiddellike gevaar was om deur die Kanaäniete aangeval te word nie. Party sê dat hierdie dinge dalk veroorsaak het dat hierdie stamme nie gevoel het dat dit dringend is om die res van die gebied in besit te neem nie. Nog ’n rede hoekom hulle dalk uitgestel het, was omdat hulle nie kans gesien het om teen die sterk vyande te veg wat nog in sekere dele van die land gewoon het nie (Jos 13:1-7). Hulle het ook nie hierdie deel van die Beloofde Land so goed geken soos die dele wat hulle klaar in besit geneem het nie.

8-14 NOVEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 20-22

“Lesse uit ’n misverstand”

w06 4/15 5 ¶3

Sleutels tot goeie kommunikasie met jou maat

Openhartige kommunikasie kan misverstande en verkeerde gevolgtrekkings voorkom. Vroeg in die geskiedenis van die Israeliete het die stamme Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse wat oos van die Jordaanrivier gewoon het, “’n baie opvallende altaar” by die Jordaan gebou. Ander stamme het hulle optrede verkeerd verstaan. Omdat hulle gedink het dat hulle broers oorkant die Jordaan ’n daad van afvalligheid gepleeg het, het die stamme aan die westekant hulle gereedgemaak om teen die “opstandelinge” op te trek. Voordat hulle egter opgetrek het, het hulle ’n afvaardiging gestuur om met die oostelike stamme te praat. Wat ’n wyse besluit was dit tog! Hulle het gevind dat die altaar nie vir ongeoorloofde brandoffers of offerandes was nie. Dit is eerder opgerig omdat die stamme aan die oostekant bang was dat die ander stamme in die toekoms vir hulle sou sê: “Julle het geen deel aan Jehovah nie.” Die altaar sou dus ’n getuie wees dat hulle ook aanbidders van Jehovah is (Josua 22:10-29). Hulle het die altaar Getuie genoem, moontlik omdat dit as ’n getuie gedien het dat hulle Jehovah as die ware God beskou het.—Josua 22:34, voetnoot in NW.

w08 11/15 18 ¶5

‘Streef die dinge na wat vrede bevorder’

Party Israeliete het dalk gevoel dat daar reeds voldoende bewyse van oortreding is en dat ’n verrassingsaanval minder sterftes tot gevolg sou hê. Die stamme wes van die Jordaan het egter nie oorhaastig opgetree nie, maar het eerder afgevaardigdes gestuur om die probleem met hulle broers te bespreek. Hulle het gevra: “Wat is hierdie daad van ontrouheid wat julle teen die God van Israel gepleeg het, dat julle julle vandag daarvan afkeer om Jehovah te volg?” Eintlik het die stamme wat die altaar gebou het, nie ontrou gehandel nie. Maar hoe sou hulle op so ’n aantyging reageer? Sou hulle teen hulle beskuldigers uitvaar of weier om met hulle te praat? Die beskuldigde stamme het kalm geantwoord en duidelik gesê dat die rede vir hulle dade in werklikheid hulle begeerte was om Jehovah te dien. Hulle reaksie het hulle verhouding met God bewaar en hulle lewens gered. ’n Kalm bespreking het die saak opgelos en vrede herstel.—Jos. 22:13-34.

Geestelike skatte

it-1-E 402 ¶3

Kanaän

Nadat die grootste deel van die land verower is, het baie van die Kanaäniete oorleef en wou hulle nie hulleself onderwerp nie. Maar daar kon nog steeds gesê word: “Jehovah het vir Israel die hele land gegee wat hy met ’n eed aan hulle voorvaders belowe het”. Hy het hulle ook “aan alle kante vrede gegee”, en “nie een van al die goeie beloftes wat Jehovah aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie. Dit het alles waar geword” (Jos 21:43-45). Al die vyande om die Israeliete was bang en het nie regtig hulle veiligheid bedreig nie. God het vroeër gesê dat hy die Kanaäniete “bietjie vir bietjie” sou uit verdryf sodat die wilde diere van die veld nie sou vermeerder in ’n land wat skielik verwoes is nie (Eks 23:29, 30; De 7:22). Al het die Kanaäniete beter oorlogswapens gehad, insluitende strydwaens met ysterlemme, en die Israeliete uiteindelik misluk het om sekere gebiede te verower, kon Jehovah nie blameer word dat hy nie sy belofte nagekom het nie (Jos 17:16-18; Rig 4:13). Die verslag wys dat die paar keer wat die Israeliete verslaan is, eerder gebeur het omdat hulle ontrou was. – Nu 14:44, 45; Jos 7:1-12.

15-21 NOVEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOSUA 23-24

“Josua se laaste woorde aan die nasie”

it-1-E 75

Verbintenis

Die situasie was nie dieselfde toe die nasie Israel in Kanaän, die Beloofde Land, ingegaan het nie. Die Allerhoogste God het die hele land aan Israel gegee, soos hy aan hulle voorvaders belowe het. Daarom het hulle nie die land as uitlanders ingegaan nie, en Jehovah het hulle verbied om verbintenisse met die heidense nasies van die land te maak (Eks 23:31-33; 34:11-16). Net God se wette was op hulle van toepassing, en nie dié van die nasies wat uit die land verdryf moes word nie (Le 18:3, 4; 20:22-24). Hulle was veral gewaarsku om nie met mense van hierdie nasies te trou nie. Sulke huwelike sou nie net beteken dat heidense vrouens deel van hulle lewe word nie, maar ook die vrouens se heidense familielede en valse godsdiensgebruike en gewoontes. Dit sou vir Israel ’n strik wees en veroorsaak dat hulle God nie meer aanbid nie. – De 7:2-4; Eks 34:16; Jos 23:12, 13.

w07 11/1 26 ¶19-20

Die woord van Jehovah bly nooit onvervuld nie

19 Ja, ná wat ons met ons eie oë gesien het, kan ons sê “dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Josua 23:14). Jehovah verlos, beskerm en sorg vir sy knegte. Kan jy enige van sy beloftes meld wat nie op sy vasgestelde tyd vervul is nie? Dit is onmoontlik om dit te doen. Ons vertrou wyslik op die betroubare Woord van God.

20 Wat van die toekoms? Jehovah het vir ons gesê dat die meeste van ons die hoop kan koester om op ’n aarde te lewe wat in ’n pragtige paradys verander is. ’n Paar van ons het die hoop om saam met Christus in die hemel te regeer. Wat ons hoop ook al is, ons het alle rede om, soos Josua, getrou te bly. Die dag sal aanbreek wanneer ons hoop verwesenlik sal word. Dan sal ons terugkyk op al die beloftes wat Jehovah gemaak het, en ons sal ook sê: “Alles is . . . bewaarheid.”

Geestelike skatte

w04 12/1 12 ¶1

Glanspunte uit die boek Josua

24:2—Het Abraham se vader, Tera, afgode aanbid? Tera was aanvanklik nie ’n aanbidder van Jehovah God nie. Hy het waarskynlik die maangod met die naam Sin—’n gewilde godheid in Ur—aanbid. Volgens Joodse oorlewering het Tera dalk selfs afgode gemaak. Maar wanneer Abraham Ur op God se bevel verlaat, gaan Tera saam met hom na Haran.—Genesis 11:31.

22-28 NOVEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD | RIGTERS 1-3

“’n Opwindende verhaal van moed”

w04 3/15 31 ¶3

Ehud verbreek die onderdrukker se juk

Ehud se planne het geslaag, nie omdat hy so slim was of omdat die vyand so onbevoeg was nie. Die uitvoering van God se voornemens is nie afhanklik van menslike faktore nie. Die hoofrede vir Ehud se sukses was die feit dat hy God se ondersteuning gehad het toe hy opgetree het in ooreenstemming met Sy onafwendbare wil om Sy volk te verlos. God het Ehud verwek, “en wanneer Jehovah vir [sy volk] rigters verwek het, was Jehovah met die rigter”.—Rigters 2:18; 3:15.

w04 3/15 30 ¶1-3

Ehud verbreek die onderdrukker se juk

Die eerste stap wat Ehud geneem het, was om “vir hom ’n swaard” te maak—’n swaard met twee snykante en wat kort genoeg was om onder sy klere te versteek. Hy het miskien verwag dat hy deursoek sou word. Swaarde is gewoonlik aan die linkerkant van die liggaam gedra, sodat iemand wat regs was, dit maklik kon uittrek. Aangesien Ehud links was, het hy sy wapen “onder sy kleed aan sy regterheup gegord”, waar die koning se wagte waarskynlik nie sou soek nie. Hy het dus sonder enige probleme “die skatting vir Eglon, die koning van Moab, gegee”.—Rigters 3:16, 17.

Die besonderhede van die aanvanklike gebeure in Eglon se paleis word nie verskaf nie. Die Bybel sê bloot: “Toe [Ehud] die skatting klaar gegee het, het hy die mense, die draers van die skatting, dadelik weggestuur” (Rigters 3:18). Ehud het die skatting gegee, die draers van die skatting tot op ’n veilige afstand van Eglon se woning af vergesel en teruggekeer nadat hy hulle weggestuur het. Waarom? Het hy daardie manne saam met hom gehad vir beskerming, net weens protokol of dalk bloot as draers van die skatting? En wou hy hulle om veiligheidsredes weg hê voordat hy sy plan uitvoer? Wat sy rede ook al was, Ehud het moedig alleen teruggegaan.

“[Ehud] het teruggedraai by die klipgroewe wat in Gilgal was, en hy het gesê: ‘Ek het ’n geheime woord vir u, o koning.’” Hoe hy daarin geslaag het om weer voor Eglon te verskyn, word nie in die Skrif verduidelik nie. Was die wagte dan nie agterdogtig nie? Het hulle dalk gedink dat een Israeliet geen bedreiging vir hulle heer sou inhou nie? Het die feit dat Ehud alleen gekom het, moontlik die indruk geskep dat hy sy landgenote wou verraai? Hoe dit ook al sy, Ehud wou die koning graag alleen spreek en hy het daarin geslaag.—Rigters 3:19.

Geestelike skatte

w05 1/15 24 ¶7

Glanspunte uit die boek Rigters

2:10-12. Ons moet ’n gereelde Bybelstudieprogram hê sodat ons ‘nie Jehovah se dade vergeet nie’ (Psalm 103:2). Ouers moet die waarheid van God se Woord in hulle kinders se harte inskerp.—Deuteronomium 6:6-9.

29 NOVEMBER–5 DESEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | RIGTERS 4-5

“Jehovah gebruik twee vrouens om sy volk te red”

w15 8/1 12 ¶6

‘Ek het as ’n moeder in Israel opgestaan’

Sisera! Net sy naam het die Israeliete vrees- en paniekbevange gemaak. Die Kanaäniete se godsdiens en kultuur was wreed. Dit het kinderofferandes en tempelprostitusie ingesluit. Hoe was dit om onder die beheer van ’n Kanaänitiese generaal en sy leër te lewe? Debora se lied openbaar dat dit byna onmoontlik was om in die land te reis en dat mense nie meer in dorpies gewoon het nie (Rigters 5:6, 7). Ons kan ons voorstel hoe mense in die woude en op die heuwels weggekruip het, te bang om te boer of in dorpe sonder mure te woon en doodbang om op die paaie te reis indien hulle aangeval, hulle kinders ontvoer en hulle vrouens verkrag sou word.

w15 8/1 13 ¶1

‘Ek het as ’n moeder in Israel opgestaan’

Die Israeliete het 20 jaar lank onder ’n skrikbewind gelewe, totdat Jehovah bewyse gesien het dat sy hardkoppige volk gereed was om te verander, of soos die geïnspireerde lied van Debora en Barak sê: “Totdat ek, Debora, opgestaan het, totdat ek as ’n moeder in Israel opgestaan het.” Ons weet nie of Debora, wie se man se naam Lappidot was, in letterlike sin ’n moeder was nie, maar hier word die uitdrukking figuurlik gebruik. Jehovah het Debora die toewysing gegee om moederlike beskerming aan die nasie te voorsien. Hy het haar die opdrag gegee om ’n sterk man van geloof, die rigter Barak, te laat roep en vir hom te sê om teen Sisera op te trek.—Rigters 4:3, 6, 7; 5:7.

w15 8/1 15 ¶2

‘Ek het as ’n moeder in Israel opgestaan’

Jael moes vinnig dink. Sy het Sisera ’n plek aangebied om te rus. Hy het haar beveel om nie vir enigiemand wat na hom kom soek, te sê dat hy daar is nie. Toe hy gaan lê, het sy hom toegemaak, en toe hy vir water vra, het sy vir hom romerige melk gegee. Sisera het vinnig in ’n diep slaap verval. Jael het toe ’n paar huishoudelike items geneem wat tentbewoners dikwels en met vaardigheid gebruik het—’n tentpen en ’n hamer. Sy het naby Sisera se kop gaan hurk en moes die vreesinboesemende taak verrig om as Jehovah se skerpregter op te tree. Selfs ’n oomblik van onsekerheid of huiwering kon rampspoedig gewees het. Het sy gedink aan God se volk en hoe hierdie man hulle dekades lank wreed behandel het? Of het sy gedink aan die voorreg wat sy het om haar aan Jehovah se kant te skaar? Die verslag sê nie. Ons weet net dat sy vinnig opgetree het. Sy het Sisera doodgemaak!—Rigters 4:18-21; 5:24-27.

Geestelike skatte

w05 1/15 25 ¶5

Glanspunte uit die boek Rigters

5:20—Hoe het die sterre uit die hemel vir Barak geveg? Die Bybel sê nie of dit verwys na engelehulp, ’n meteoorreën wat deur Sisera se wyse manne as ’n slegte voorteken geïnterpreteer is of moontlik astrologiese voorspellings wat vir Sisera gemaak is en nie waar geword het nie. Maar God het ongetwyfeld op die een of ander manier ingegryp.

6-12 DESEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD | RIGTERS 6-7

“Gaan met die krag wat jy het”

w02 2/15 6-7

Goddelike beginsels kan jou tot voordeel strek

Iemand wat ’n gepaste beskouing van homself gehad het en nie te veel waarde aan sy eie belangrikheid geheg het nie, was Gideon, ’n rigter onder die eertydse Hebreërs. Hy het nie daarna gestreef om die leier van Israel te wees nie. Toe hy egter die toewysing ontvang het om daardie rol te vervul, het Gideon die aandag op sy onwaardigheid gevestig. “My duisend is die geringste in Manasse, en ek is die kleinste in my vader se huis”, het hy verduidelik.—Rigters 6:12-16.

w05 7/15 16 ¶3

“Jehovah se swaard en Gideon s’n!”

Dan oorval angs die Midianiete! Skielik word die stilte verbreek deur die verbryseling van 300 kruike, die lawaai van 300 horings en die uitroepe van 300 mans. Verbysterd, veral oor die uitroep “Jehovah se swaard en Gideon s’n!” voeg die Midianiete hulle eie geskreeu by die geraas. In die chaos is dit vir hulle onmoontlik om vriend van vyand te onderskei. Die 300 staan stil op hulle toegewese plekke terwyl God veroorsaak dat die vyand hulle swaarde gebruik om mekaar om die lewe te bring. Die kamp word op die vlug gejaag, hulle ontsnappingsroetes word afgesny en opruimwerk wat ’n moeilike agtervolging behels, verwyder die Midianitiese bedreiging vir goed. Die lang en wrede invalle het uiteindelik tot ’n einde gekom.—Rigters 7:19-25; 8:10-12, 28.

Geestelike skatte

w05 1/15 26 ¶5

Glanspunte uit die boek Rigters

6:25-27. Gideon het oordeelkundig opgetree sodat hy nie sy teenstanders onnodig sou kwaad maak nie. Wanneer ons die goeie nuus verkondig, moet ons versigtig wees om mense nie onnodig aanstoot te gee deur die manier waarop ons praat nie.

13-19 DESEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD | RIGTERS 8-9

“Nederigheid is beter as trots”

w00 8/15 25 ¶3

Hoe hanteer jy verskille?

Gideon, wat in ’n hewige stryd met Midian gewikkel was, het die stam Efraim om hulp gevra. Maar toe die stryd verby was, was Efraim vir Gideon kwaad en het hulle vreeslik gekla oor die feit dat hy hulle nie aan die begin van die stryd gevra het om te help nie. Die verslag sê: “Hulle het heftig met hom getwis.” Gideon het in antwoord gesê: “Wat het ek nou gedoen in vergelyking met julle? Is die na-oes van Efraim nie beter as die wynoes van Abiëser nie? God het die vorste van Midian, Oreb en Seëb, in julle hand gegee, maar wat kon ek doen in vergelyking met julle?” (Rigters 8:1-3). Gideon het deur sy goed gekose, kalmerende woorde ’n potensieel rampspoedige oorlog tussen stamme afgeweer. Dié van die stam Efraim het moontlik ’n probleem met verwaandheid en trots gehad. Maar dit het nie gekeer dat Gideon ’n vreedsame oplossing probeer vind het nie. Kan ons dieselfde doen?

w17.01 20 ¶15

Waarom beskeidenheid nog steeds belangrik is

15 Gideon is ’n uitstekende voorbeeld van ’n beskeie persoon. Toe Jehovah se engel die eerste keer aan hom verskyn het, het Gideon erken dat hy uit ’n beskeie agtergrond kom en nie ’n belangrike persoon is nie (Rigt. 6:15). Gideon het ’n toewysing van Jehovah aanvaar en seker gemaak dat hy goed verstaan wat van hom verwag word. Hy het op Jehovah se leiding vertrou (Rigt. 6:36-40). Gideon was moedig. En tog het hy versigtig en verstandig opgetree (Rigt. 6:11, 27). Hy het sy toewysing nie gebruik om vernaamheid te probeer verwerf nie. Nadat hy sy toewysing uitgevoer het, het hy teruggekeer huis toe.—Rigt. 8:22, 23, 29.

w08 2/15 9 ¶9

Wandel in Jehovah se weë

9 Om God se vriende te wees, moet ons “nederig van verstand” wees (1 Pet. 3:8; Ps. 138:6). Rigters hoofstuk 9 toon hoe belangrik nederigheid is. Gideon se seun Jotam het gesê: “Eenkeer het die bome gegaan om ’n koning oor hulle te salf.” Die olyfboom, die vyeboom en die wingerdstok is genoem. Hulle het verdienstelike persone voorgestel wat nie daarna gestreef het om oor hulle mede-Israeliete te regeer nie. Maar die doringstruik—wat net geskik is as brandhout—het die koningskap van die trotse Abimeleg voorgestel, ’n moordenaar wat gretig was om ander te oorheers. Hoewel hy “drie jaar lank die vors oor Israel gespeel” het, het hy ’n vroeë dood gesterf (Rigt. 9:8-15, 22, 50-54). Hoeveel beter is dit tog om “nederig van verstand” te wees!

Geestelike skatte

it-1-E 753 ¶1

Efod, I

Gideon het goed bedoel toe hy die oorwinning wat Jehovah vir Israel gegee het, wou vier en God wou eer. Maar die efod “was ’n strik vir Gideon en sy familie” omdat die Israeliete geestelike prostitusie gepleeg het toe hulle dit aanbid het (Rig 8:27). Die Bybel sê egter nie dat Gideon dit self aanbid het nie. Hy word eerder spesifiek deur die apostel Paulus genoem as een van die ‘groot wolk’ van getroue getuies van Jehovah wat voor Christus gelewe het. – Heb 11:32; 12:1.

20-26 DESEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD | RIGTERS 10-12

“Jefta – ’n Geestelike man”

w16.04 5 ¶9

Getrouheid bring God se goedkeuring mee

9 Josef se voorbeeld het Jefta waarskynlik gehelp. Hy het ongetwyfeld geleer hoe Josef barmhartig was teenoor sy broers, al het hulle hom gehaat (Genesis 37:4; 45:4, 5). Hierdie voorbeeld het Jefta moontlik gehelp om op te tree op ’n manier wat Jehovah behaag het. Sy broers se dade het hom baie seergemaak. Maar om Jehovah se naam te verdedig en vir Sy volk te veg, was vir Jefta belangriker as sy persoonlike gevoelens (Rigters 11:9). Hy was vasbeslote om aan Jehovah getrou te bly. Hierdie gesindheid het Jehovah se seën meegebring, vir Jefta sowel as vir die Israeliete.—Hebreërs 11:32, 33.

it-2-E 27 ¶2

Jefta

Jefta, ’n man van aksie, was nie bang om as ’n kragtige leier op te tree nie. Hy het ’n boodskap aan die koning van die Ammoniete gestuur en daarop gewys dat dit die Ammoniete was wat Israel se land aangeval het. Die koning het geantwoord dat Israel die land by die Ammoniete afgevat het (Rig 11:12, 13). Jefta het hier gewys dat hy nie net ’n rowwe, onbeskaafde vegter was nie, maar dat hy die geskiedenis goed geken het en veral geleer het uit God se handelinge met sy volk. Hy het gesê dat die Ammoniete verkeerd was en het gewys (1) dat Israel nie vyandig was teenoor die Ammoniete, Moabiete of Edomiete nie (Rig 11:14-18; De 2:9, 19, 37; 2Kr 20:10, 11); (2) dat die Ammoniete nie daardie spesifieke stuk land besit het toe Israel die land oorgeneem het nie. Dit het aan die Kanaänitiese Amoriete behoort, en God het hulle koning, Sihon, en sy land in Israel se hand gegee; (3) dat die Ammoniete nie bevraagteken het dat Israel die gebied al 300 jaar gelede in besit geneem het en daarin gewoon het nie. So hoe kon hulle dit nou skielik bevraagteken? – Rig 11:19-27.

it-2-E 27 ¶3

Jefta

Jefta het gefokus op wat belangrik was en het gewys dat dit alles eintlik oor aanbidding gegaan het. Hy het gesê dat Jehovah God die land aan Israel gegee het, en daarom sou hulle nie eers ’n stukkie daarvan aan aanbidders van ’n valse god gee nie. Hy het Kamos die god van die Ammoniete genoem. Party dink dat dit ’n fout was. Maar al was Milkom die god van die Ammoniete en Kamos die god van Moab, het hierdie nasies, wat familie van mekaar was, baie gode aanbid. Salomo het as gevolg van sy uitlandse vrouens selfs die aanbidding van Kamos in Israel ingebring, iets wat baie verkeerd was (Rig 11:24; 1Kn 11:1, 7, 8, 33; 2Kn 23:13). En volgens party geleerdes kan “Kamos” dalk “Onderdrukker, Oorwinnaar” beteken. (Sien Gesenius’s Hebrew and Chaldee Lexicon, vertaal deur S. Tregelles, 1901, bl. 401.) Jefta het dalk na hierdie god verwys omdat die Ammoniete gesê het dat hierdie god ander ‘onderdruk’ of ‘oorwin’ het en die land aan hulle gegee het.

Geestelike skatte

it-2-E 26

Jefta

Jefta, ’n wettige seun. Jefta se ma was “’n prostituut”, maar dit beteken nie dat Jefta as gevolg van prostitusie gebore is of buite-egtelik was nie. Sy ma was ’n prostituut voordat sy Gilead se byvrou geword het, net soos Ragab eers ’n prostituut was, maar later met Salmon getrou het (Rig 11:1; Jos 2:1; Mt 1:5). Ons weet dat Jefta nie buite-egtelik was nie omdat sy halfbroers, die seuns van Gilead se eerste vrou, hom verdryf het sodat hy nie saam met hulle kon erf nie (Rig 11:2). En Jefta het later die aanvaarde leier geword van die manne van Gilead (onder wie Jefta se halfbroers blykbaar die belangrikste was) (Rig 11:11). Hy het ook ’n brandoffer vir God by die tabernakel aangebied (Rig 11:30, 31). Nie een van hierdie dinge sou moontlik gewees het as hy ’n buite-egtelike seun was nie, want die Wet het duidelik gesê: “Geen buite-egtelike seun mag in die gemeente van Jehovah kom nie. Selfs tot die tiende geslag mag nie een van sy nakomelinge in die gemeente van Jehovah kom nie.” – De 23:2.

27 DESEMBER–2 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | RIGTERS 13-14

“Wat ouers by Manoag en sy vrou kan leer”

w13 8/15 16 ¶1

Ouers—Lei julle kinders op van kleintyd af

Dink aan die geval van Manoag, van die stam van Dan, wat in die dorp Sora in eertydse Israel gewoon het. Jehovah se engel het vir Manoag se onvrugbare vrou gesê dat sy aan ’n seun geboorte sou gee (Rigt. 13:2, 3). Die getroue Manoag en sy vrou was sekerlik verheug hieroor. Maar daar was ook ’n paar dinge waaroor hulle baie besorg was. Manoag het dus gebid: “Verskoon my, Jehovah. Laat die man van die ware God wat u so pas gestuur het, asseblief weer na ons toe kom en ons onderrig oor wat ons behoort te doen met die kind wat gebore sal word” (Rigt. 13:8). Manoag en sy vrou was besorg oor hoe om hulle kind groot te maak. Hulle het hulle seun, Simson, ongetwyfeld God se wet geleer, en hulle pogings was klaarblyklik suksesvol. “Na verloop van tyd het Jehovah se gees [Simson] begin aandryf”, sê die Bybel. Gevolglik het Simson talle kragtige werke verrig as een van Israel se rigters.—Rigt. 13:25; 14:5, 6; 15:14, 15.

w05 3/15 25-26

Simson seëvier in die krag van Jehovah!

Terwyl Simson grootgeword het, ‘het Jehovah hom bly seën’ (Rigters 13:24). Eendag het Simson na sy vader en moeder toe gekom en gesê: “Ek het in Timna ’n vrou uit die dogters van die Filistyne gesien, en neem haar dan nou vir my as vrou” (Rigters 14:2). Stel jou hulle verbasing voor. In plaas daarvan dat hulle seun Israel uit die hande van die verdrukkers bevry, wil hy ’n huweliksverbintenis met hulle aangaan. Dit was teen God se Wet om ’n aanbidder van heidense gode as vrou te neem (Eksodus 34:11-16). Daarom het die ouers kapsie gemaak en gesê: “Is daar nie onder die dogters van jou broers en onder my hele volk ’n vrou nie, sodat jy uit die onbesnede Filistyne ’n vrou gaan neem?” Simson het nogtans daarop aangedring: “Neem háár vir my, want sy is net reg in my oë.”—Rigters 14:3.

Geestelike skatte

w05 3/15 26 ¶1

Simson seëvier in die krag van Jehovah!

In watter opsig was juis hierdie Filistynse vrou “net reg” vir Simson? Nie in die sin dat sy “pragtig, innemend, aantreklik” was nie, sê McClintock en Strong se Cyclopedia, “maar in die sin dat sy reg was vir ’n doel, ’n voorneme of ’n oogmerk”. Vir watter doel was sy reg? Rigters 14:4 verduidelik dat Simson ‘’n geleentheid teen die Filistyne gesoek het’. Om dié rede het Simson in die vrou belanggestel. Terwyl Simson tot volwassenheid gegroei het, “het Jehovah se gees hom . . . begin aandryf”, of laat optree (Rigters 13:25). Jehovah se gees was dus die dryfkrag agter hierdie ongewone versoek van Simson sowel as agter sy hele loopbaan as rigter oor Israel. Het Simson die geleentheid gekry wat hy gesoek het? Kom ons kyk eers hoe Jehovah hom van goddelike ondersteuning verseker het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel