-
Die tempel word weer gereinigJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 103
Die tempel word weer gereinig
MATTEUS 21:12, 13, 18, 19 MARKUS 11:12-18 LUKAS 19:45-48 JOHANNES 12:20-27
JESUS VERVLOEK ’N VYEBOOM EN REINIG DIE TEMPEL
OM LEWE TE GEE AAN BAIE, MOET JESUS STERF
Nadat Jesus en sy dissipels Jerigo verlaat het, het hulle drie nagte in Betanië deurgebring. Dit is nou vroeg Maandagoggend 10 Nisan, en hulle is op pad na Jerusalem. Jesus is honger. Hy sien ’n vyeboom en loop dus daarheen om te sien of daar vye aan die boom is.
Dit is nou einde Maart, en die seisoen vir vye is eers in Junie. Maar die boom het alreeds blare, want dit het vroeg begin uitspruit. Daarom dink Jesus dat daar dalk vroeë vye aan die boom sal wees. Maar daar is geen vye nie. Die blare het dit laat lyk of die boom vye dra. Jesus sê dus: “Laat niemand ooit weer vrugte van jou eet nie” (Markus 11:14). Onmiddellik begin die boom verdor. Die dissipels sal eers die volgende oggend uitvind wat hulle hieruit kan leer.
Kort voor lank kom Jesus en sy dissipels in Jerusalem aan. Hy gaan na die tempel, wat hy die vorige middag aandagtig bekyk het. Maar vandag kyk hy nie net rond nie; hy doen weer wat hy drie jaar gelede by die Pasga van 30 HJ gedoen het (Johannes 2:14-16). Hierdie keer jaag Jesus almal uit “wat in die tempel koop en verkoop”. En hy gooi ook “die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers” om (Markus 11:15). Hy laat nie eers toe dat iemand wat iets na ’n ander deel van die stad wil vat, ’n kortpad deur die tempelvoorhof neem nie.
Hoekom neem Jesus drastiese stappe teen dié wat geld wissel en diere in die tempel verkoop? Hy sê: “Staan daar nie geskryf: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies genoem word’ nie? Maar julle het dit ’n skuilplek vir rowers gemaak” (Markus 11:17). Die rede waarom hy hierdie manne rowers noem, is omdat hulle belaglike pryse vra vir die diere wat mense vir offerandes nodig het. Volgens Jesus is dit afpersing, of diefstal.
Die hoofpriesters, skrifgeleerdes en die leiers van die volk hoor natuurlik wat Jesus gedoen het, en hulle soek weer na ’n manier om Jesus te laat doodmaak. Hulle het egter ’n probleem. Hulle weet nie hoe om van Jesus ontslae te raak nie, want die mense loop agter hom aan om na hom te luister.
Dit is nie net natuurlike Jode wat vir die Pasga gekom het nie, maar ook proseliete, wat hulle tot die Joodse godsdiens bekeer het. Onder hulle is daar Grieke wat gekom het om by die fees te aanbid. Hulle nader Filippus, miskien omdat hy ’n Griekse naam het, en vra of hulle met Jesus kan praat. Filippus is dalk onseker of dit gepas is dat hulle Jesus ontmoet, en daarom vertel hy Andreas daarvan. Die twee neem die saak na Jesus, wat blykbaar nog by die tempel is.
Jesus weet dat hy oor ’n paar dae doodgemaak gaan word, en daarom is dit nie nou die tyd om mense se nuuskierigheid te bevredig of gewildheid na te streef nie. Hy antwoord die twee apostels deur middel van ’n illustrasie en sê: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Ek sê vir julle: As ’n koringkorrel nie op die grond val en sterf nie, sal dit net een korrel bly, maar as dit wel sterf, sal dit baie vrug dra.” – Johannes 12:23, 24.
Dit lyk dalk of een koringkorrel min waarde het. Maar as dit in die grond gesit word en as ’n saad “sterf”, kan dit ontkiem en later ’n vrugbare stingel word wat baie graankorrels voortbring. Net so is Jesus een volmaakte man. Maar deur tot die dood aan God getrou te bly, sal hy ewige lewe aan baie gee wat ’n soortgelyke selfopofferende gees het. Daarom sê Jesus: “Enigiemand wat lief is vir sy lewe, vernietig dit, maar enigiemand wat sy lewe in hierdie wêreld haat, sal dit vir die ewige lewe veilig bewaar.” – Johannes 12:25.
Jesus dink nie net aan homself nie, want hy sê: “As iemand my wil dien, moet hy my volg, en waar ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand my wil dien, sal die Vader hom eer” (Johannes 12:26). Wat ’n beloning is dit tog! Dié wat deur die Vader geëer word, sal saam met Christus in die Koninkryk regeer.
Jesus dink aan die verskriklike lyding en pynlike dood wat vir hom voorlê en sê: “Nou is ek diep ontsteld, en wat moet ek sê? Vader, red my uit hierdie uur.” Maar Jesus wil dit nie vermy om God se wil te doen nie. Hy sê verder: “Tog het ek juis vir hierdie uur gekom” (Johannes 12:27). Jesus ondersteun al God se voornemens, insluitende sy eie offerdood.
-
-
Die Jode hoor God se stem – Sal hulle wys dat hulle geloof het?Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 104
Die Jode hoor God se stem – Sal hulle wys dat hulle geloof het?
BAIE HOOR GOD SE STEM
DIE OORDEEL “OP DIE LAASTE DAG”
By die tempel, op Maandag 10 Nisan, praat Jesus oor sy dood wat al hoe nader kom. Omdat Jesus bekommerd is oor watter uitwerking sy dood op God se reputasie sal hê, sê hy: “Vader, verheerlik u naam.” ’n Magtige stem kom uit die hemel en sê: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.” – Johannes 12:27, 28.
Die mense daar naby is verward. Party dink dat hulle donderweer gehoor het. Ander sê: “’n Engel het met hom gepraat” (Johannes 12:29). Maar dit is Jehovah se stem wat hulle gehoor het! En dit is nie die eerste keer dat mense God se stem hoor vanaf die begin van Jesus se aardse bediening nie.
Toe Jesus drie en ’n half jaar vroeër gedoop is, het Johannes die Doper gehoor hoe God van Jesus sê: “Dit is my geliefde Seun, wat ek goedgekeur het.” Later, ná die Pasga van 32 HJ, het Jakobus, Johannes en Petrus gesien hoe Jesus se voorkoms verander. Daardie drie manne het God hoor sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het. Luister na hom” (Matteus 3:17; 17:5). Maar nou, die derde keer, kan ’n groot groep mense Jehovah se stem hoor!
Jesus sê: “Hierdie stem het nie ter wille van my gepraat nie, maar ter wille van julle” (Johannes 12:30). Dit bewys dat hy werklik God se Seun is, die beloofde Messias.
Jesus se getrouheid wys hoe mense moet lewe en dit bevestig ook dat Satan die Duiwel, die heerser van die wêreld, verdien om vernietig te word. Jesus sê: “Nou vind daar ’n oordeel van hierdie wêreld plaas. Nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word.” Dan sê hy: “Tog sal ek, as ek van die aarde af opgelig word, alle soorte mense na my toe trek” (Johannes 12:31, 32). Dit wys dat mense baat sal vind by Jesus se dood. Hy sal mense na hom toe trek en dit vir hulle moontlik maak om vir ewig te lewe.
Nadat Jesus gesê het dat hy “opgelig” gaan word, sê die skare: “Ons het uit die Wet gehoor dat die Christus vir ewig bly. Hoe kan u sê dat die Seun van die mens van die aarde af opgelig moet word? Wie is hierdie Seun van die mens?” (Johannes 12:34). Ten spyte van al die bewyse, insluitende die feit dat hulle God se eie stem gehoor het, aanvaar die meeste van hulle nie Jesus as die ware Seun van die mens nie, die beloofde Messias.
Jesus praat van homself as “die lig”, soos hy voorheen gedoen het (Johannes 8:12; 9:5). Hy sê vir die skare: “Die lig sal nog ’n klein rukkie onder julle wees. Loop terwyl julle nog die lig het, sodat duisternis julle nie oorweldig nie. . . . Terwyl julle die lig het, moet julle geloof in die lig beoefen, sodat julle kinders van die lig kan word” (Johannes 12:35, 36). Dan gaan Jesus daar weg, want 10 Nisan is nie die dag waarop hy moet sterf nie. Hy sal op die Pasga op 14 Nisan “opgelig”, of aan ’n paal gehang, word. – Galasiërs 3:13.
As ons terugkyk op Jesus se bediening, is dit duidelik dat profesieë besig was om vervul te word toe die Jode nie geloof in hom gestel het nie. Jesaja het voorspel dat die oë van mense verblind en hulle harte ongevoelig sou word sodat hulle nie sou terugdraai en genees word nie (Jesaja 6:10; Johannes 12:40). Ja, die meeste Jode is hardkoppig en verwerp die bewyse dat Jesus hulle beloofde Verlosser is, die weg na die lewe.
Nikodemus, Josef van Arimatea en baie ander leiers het “geloof in [Jesus] gestel”. Maar sal hulle wys dat hulle geloof het? Of sal hulle dit wegsteek omdat hulle bang is dat hulle uit die sinagoge verban sal word of omdat hulle lief is om ‘deur mense geëer te word’? – Johannes 12:42, 43.
Jesus verduidelik self wat dit beteken om geloof in hom te hê: “Enigiemand wat geloof in my stel, stel nie net geloof in my nie, maar ook in hom wat my gestuur het, en enigiemand wat my sien, sien ook die Een wat my gestuur het.” Die waarhede wat God Jesus beveel het om aan ander te leer en wat Jesus nog steeds verkondig, is so belangrik dat hy kan sê: “Enigiemand wat my verwerp en nie my woorde aanvaar nie, het iemand wat hom sal oordeel. Die woorde wat ek gesê het, sal hom op die laaste dag oordeel.” – Johannes 12:44, 45, 48.
Dan sluit Jesus af deur te sê: “Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat my gestuur het, het vir my ’n opdrag gegee oor wat om te sê en wat om te verkondig. En ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken” (Johannes 12:49, 50). Jesus weet dat hy binnekort sy eie bloed sal uitstort as ’n offerande vir mense wat geloof in hom beoefen. – Romeine 5:8, 9.
-