Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr22 September bl. 1-10
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2022
  • Onderhofies
  • 5-11 SEPTEMBER
  • 12-18 SEPTEMBER
  • 19-25 SEPTEMBER
  • 26 SEPTEMBER–2 OKTOBER
  • 3-9 OKTOBER
  • 10-16 OKTOBER
  • 17-23 OKTOBER
  • 24-30 OKTOBER
  • 31 OKTOBER–6 NOVEMBER
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2022
mwbr22 September bl. 1-10

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

5-11 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 9-10

“Loof Jehovah vir sy wysheid”

w99 7/1 30 ¶6

’n Besoek wat ryklik beloon is

Toe die koningin Salomo ontmoet, het sy hom met “ingewikkelde vrae” op die proef begin stel (1 Konings 10:1, NW). Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, kan as “raaisels” vertaal word. Maar dit beteken nie dat die koningin Salomo met ligsinnige speletjies besig gehou het nie. Dieselfde Hebreeuse woord word interessant genoeg in Psalm 49:5 gebruik om ernstige vrae oor sonde, die dood en verlossing te beskryf. Die koningin van Skeba het dus heel waarskynlik diep onderwerpe met Salomo bespreek wat die diepte van sy wysheid op die proef gestel het. Die Bybel sê dat sy “met hom gespreek [het] oor alles wat in haar hart was”. Toe het Salomo “al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie”.—1 Konings 10:2b, 3.

w99 11/1 20 ¶6

Wanneer vrygewigheid geen perke ken nie

Verstom oor wat sy gehoor en gesien het, het die koningin nederig geantwoord: “Gelukkig [is] hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan, wat u wysheid hoor”! (1 Konings 10:4-8). Sy het nie Salomo se knegte gelukkig verklaar omdat hulle deur rykdom omring was nie—al was hulle. Salomo se knegte was eerder geseënd omdat hulle gedurig na Salomo se godgegewe wysheid kon luister. Wat ’n uitstekende voorbeeld is die koningin van Skeba tog vir Jehovah se hedendaagse volk, wat hulle kan verlustig in die wysheid van die Skepper self en dié van sy Seun, Jesus Christus!

w99 7/1 30-31

’n Besoek wat ryklik beloon is

Die koningin van Skeba was so beïndruk deur Salomo se wysheid en die voorspoed van sy koninkryk dat daar “in haar geen gees meer [was] nie” (1 Konings 10:4, 5). Party meen dat hierdie frase beteken dat die koningin “sprakeloos” gelaat is. Een geleerde voer selfs aan dat sy flou geword het! Hoe dit ook al sy, die koningin was verbaas oor wat sy gesien en gehoor het. Sy het gesê dat Salomo se knegte gelukkig is omdat hulle hierdie koning se wysheid kon hoor, en sy het Jehovah geloof omdat hy Salomo op die troon geplaas het. Daarna het sy die koning duur geskenke gegee, waarvan die goud alleen, in vandag se waarde, omtrent R247 600 000 werd was. Salomo het ook geskenke gebring en aan die koningin “al haar begeerte gegee wat sy gevra het”.—1 Konings 10:6-13.

Geestelike skatte

w08 11/1 22 ¶4-6

Het jy geweet?

Hoeveel goud het koning Salomo besit?

Die Skrif sê dat Hiram, die koning van Tirus, vier ton goud vir Salomo gestuur het, dat die koningin van Skeba hom ’n soortgelyke hoeveelheid gegee het en dat Salomo se vloot meer as 14 ton goud van Ofir gebring het. “Die gewig van die goud wat in een jaar na Salomo toe gekom het”, sê die verslag, “was seshonderd-ses-en-sestig talente goud”, of meer as 22 ton (1 Konings 9:14, 28; 10:10, 14). Is dit geloofwaardig? Hoe groot was koninklike goudreserwes in die ou tyd?

’n Ou inskripsie, wat geleerdes as geloofwaardig beskou, sê dat farao Toetmosis III van Egipte (tweede millennium v.G.J.) ongeveer 12 ton goud aan die tempel van Amon-Ra by Karnak gegee het. Gedurende die agtste eeu v.G.J. het die Assiriese koning Tiglat-Pileser III meer as 4 ton goud as skatting van Tirus ontvang, en Sargon II het dieselfde hoeveelheid goud as ’n gawe aan die gode van Babilon gegee. Koning Philippus II van Masedonië (359-336 v.G.J.) het volgens berig elke jaar meer as 25 ton goud uit die myne van Pangaeum in Trasië ontgin.

Toe Philippus se seun Aleksander die Grote (336-323 v.G.J.) die Persiese stad Susa ingeneem het, het hy na bewering sowat 1 070 ton goud daaruit geneem en meer as 6 000 ton uit die hele Persië. Wanneer die Bybel se beskrywing van koning Salomo se goud dus met hierdie berigte vergelyk word, is dit nie oordrewe nie.

12-18 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 11-12

“Wees wys wanneer jy jou huweliksmaat kies”

w18.07 18 ¶7

“Wie is aan Jehovah se kant?”

7 Ons kan baie uit die voorbeeld van koning Salomo leer. Toe Salomo jonk was, het hy op Jehovah vertrou vir leiding. God het hom met baie wysheid geseën en hom die belangrike werk gegee om ’n pragtige tempel in Jerusalem te bou. Maar Salomo het sy vriendskap met Jehovah verloor (1 Kon. 3:12; 11:1, 2). God se Wet het uitdruklik gesê dat ’n Hebreeuse koning vir hom nie “baie vrouens [mag] neem nie, sodat sy hart nie afwyk nie” (Deut. 17:17). Maar Salomo het nie hierdie wet gehoorsaam nie. Hy het op die ou end 700 vrouens en 300 byvrouens gehad (1 Kon. 11:3). Salomo het ook God se wet oortree om nie met vrouens van ander nasies te trou nie. Baie van sy vrouens was nie Israeliete nie en het valse gode aanbid. — Deut. 7:3, 4.

w19.01 15 ¶6

Hoe kan jy jou hart beskerm?

6 Satan wil hê dat ons soos hy moet wees – ’n rebel wat selfsugtig is en wat Jehovah se standaarde ignoreer. Satan kan ons nie forseer om soos hy te dink en op te tree nie. Daarom gebruik hy ander metodes om sy doel te bereik. Hy omring ons byvoorbeeld met mense wat alreeds deur hom beïnvloed is (1 Joh. 5:19). Hy hoop dat ons tyd saam met hulle sal spandeer, al weet ons dat slegte assosiasie die manier waarop ons dink en optree, sal “bederf” (1 Kor. 15:33). Hierdie metode het met koning Salomo gewerk. Hy het met baie heidense vroue getrou, en later het hulle ’n groot invloed op hom gehad en “sy hart geleidelik laat afwyk”. – 1 Kon. 11:3.

w18.07 19 ¶9

“Wie is aan Jehovah se kant?”

9 Maar Jehovah ignoreer nooit sonde nie. Die Bybel sê: “En Jehovah het vertoornd geword op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van Jehovah . . . wat twee keer aan hom verskyn het. En aangaande hierdie saak het hy hom beveel om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het nie onderhou wat Jehovah beveel het nie.” Daarom het God hom nie meer goedgekeur nie en opgehou om hom te ondersteun. Salomo se nakomelinge het ook die voorreg verloor om oor die hele nasie Israel te regeer, en hulle het honderde jare lank baie probleme gehad. — 1 Kon. 11:9-13.

Geestelike skatte

w18.06 14 ¶1-4

Hy kon God se goedkeuring gehad het

Ná Rehabeam se besluit, het die volk teen hom in opstand gekom, en daarom het hy sy leërmag bymekaargekry. Maar Jehovah het die profeet Semaja gebruik om hom te keer, en gesê: “Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, veg nie. Gaan terug, elkeen na sy huis, want hierdie saak het van mý gekom.” — 1 Kon. 12:21-24.

’n Mens kan jou net indink hoe moeilik dit vir Rehabeam moes gewees het om sommer net oor te gee, sonder om eers te baklei! Wat sou die mense dink van die koning wat gedreig het om sy volk “met gesels” te straf, maar wat kort daarna niks gedoen het om hierdie openlike opstand te keer nie? (Vergelyk 2 Kronieke 13:7.) Nogtans het die koning en sy leërmag “die woord van Jehovah gehoorsaam en teruggegaan huis toe volgens die woord van Jehovah”.

Watter les kan ons hieruit leer? Dit is altyd goed vir ons om God te gehoorsaam, selfs al spot mense ons wanneer ons dit doen. Wanneer ons aan God gehoorsaam is, kry ons sy goedkeuring en seën hy ons. — Deut. 28:2.

Wat het Rehabeam toe besluit om te doen? Hy was gehoorsaam en het nie teen die nuwe nasie geveg nie. Hy het eerder stede gebou in die gebiede van Juda en Benjamin, die twee stamme waaroor hy nog steeds regeer het. Hy het ’n hele paar stede “in baie groot mate” versterk (2 Kron. 11:5-12). Maar nog belangriker, hy het ’n tyd lank Jehovah se wette gehoorsaam. Toe die tienstammeryk van Israel onder koning Jerobeam afgode begin aanbid het, het baie wat daar gebly het na Jerusalem gegaan om Rehabeam en ware aanbidding te ondersteun (2 Kron. 11:16, 17). Rehabeam se gehoorsaamheid het gehelp om sy koningskap te versterk.

19-25 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 13-14

“Hoekom moet ons tevrede en beskeie wees?”

w08 8/15 8 ¶4

Handhaaf lojaliteit met ’n verenigde hart

4 Dan sê Jerobeam vir die man van die ware God: “Kom tog saam met my huis toe en neem versterking, en laat ek jou ’n geskenk gee” (1 Kon. 13:7). Wat moet die profeet nou doen? Moet hy die koning se gasvryheid aanvaar nadat hy ’n oordeelsboodskap aan hom oorgedra het? (Ps. 119:113). Of moet hy die koning se uitnodiging van die hand wys, selfs al lyk dit of die koning berou het? Jerobeam het beslis die middele om sy vriende met duur geskenke te oorlaai. As God se profeet heimlik enige begeerte na materiële dinge gekoester het, sal die koning se aanbod waarskynlik ’n groot versoeking wees. Maar Jehovah het die profeet beveel: “Jy mag geen brood eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.” Die profeet antwoord dus ferm: “Al sou u my die helfte van u huis gee, sou ek nie saam met u kom en brood eet of water drink in hierdie plek nie.” En die profeet verlaat Bet-El met ’n ander pad (1 Kon. 13:8-10). Wat leer die profeet se besluit ons omtrent hartgrondige lojaliteit?—Rom. 15:4.

w08 8/15 11 ¶15

Handhaaf lojaliteit met ’n verenigde hart

15 Wat anders kan ons leer uit die fout wat die profeet van Juda begaan het? Spreuke 3:5 sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie.” In plaas van steeds op Jehovah staat te maak soos hy in die verlede gedoen het, het die profeet van Juda by hierdie geleentheid op sy eie oordeel vertrou. Sy fout het hom sy lewe en sy goeie naam by God gekos. Hoe kragtig beklemtoon sy ondervinding tog die belangrikheid daarvan om Jehovah beskeie en lojaal te dien!

w08 8/15 9 ¶10

Handhaaf lojaliteit met ’n verenigde hart

10 Die profeet van Juda moes eintlik deur die ou profeet se bedrog gesien het. Hy kon hom afgevra het: ‘Waarom sal Jehovah ’n engel na iemand anders stuur met nuwe instruksies vir my?’ Die profeet kon Jehovah vir duidelikheid hieroor gevra het, maar die Skrif dui nie aan dat hy dit gedoen het nie. Hy het eerder “saam met [die ou man] teruggegaan om in sy huis brood te eet en water te drink”. Dit het Jehovah mishaag. Toe die misleide profeet uiteindelik weer op pad was na Juda, het ’n leeu hom gekry en hom doodgemaak. Wat ’n tragiese einde aan sy loopbaan as profeet!—1 Kon. 13:19-25.

Geestelike skatte

w10 7/1 29 ¶5

Hy soek na die goeie

Die heel belangrikste is dat die woorde in 1 Konings 14:13 ons iets pragtigs leer omtrent Jehovah en dit waarna hy in ons soek. Onthou dat iets goeds “in [Abia] gevind” is. Jehovah het klaarblyklik Abia se hart deursoek totdat Hy ’n greintjie goedheid gevind het. In vergelyking met sy familie was Abia, soos een geleerde dit gestel het, die enigste pêrel “in ’n hoop klippe”. Jehovah het hierdie goedheid waardeer en dit beloon deur ’n mate van barmhartigheid aan net hierdie lid van ’n goddelose familie te betoon.

26 SEPTEMBER–2 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 15-16

“Asa was moedig – Is jy?”

w12 8/15 8 ¶4

“Daar is ’n beloning vir julle werk”

Gedurende die 20 jaar nadat Israel in twee koninkryke verdeel is, is Juda heeltemal deur heidense gebruike verderf. Toe Asa in 977 VHJ koning geword het, is die aanbidding van Kanaänitiese vrugbaarheidsgode selfs in die koninklike hof beoefen. Maar die geïnspireerde verslag van Asa se bewind sê dat hy “gedoen [het] wat goed en reg was in die oë van Jehovah sy God”. Asa “het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die heilige pilare stukkend gebreek en die heilige pale afgekap” (2 Kron. 14:2, 3). Asa het ook “die manlike tempelprostitute”, wat sodomie in die naam van godsdiens beoefen het, uit die koninkryk van Juda verdryf. En dit is nie die enigste suiwering wat Asa bewerkstellig het nie. Hy het die volk ook aangespoor om “Jehovah, die God van hulle voorvaders, [te] soek” en om “die wet en die gebod” van God te onderhou.—1 Kon. 15:12, 13; 2 Kron. 14:4.

w17.03 19 ¶7

Dien Jehovah met ’n volkome hart!

7 Elkeen van ons kan sy hart ondersoek om te sien of hy God met ’n volkome hart dien. Vra jou af: ‘Is ek vasbeslote om Jehovah te behaag, ware aanbidding te verdedig en sy volk teen enige verderflike invloed te beskerm?’ Dink net hoeveel moed dit van Asa geverg het om op te staan teen Maäga, wat die “dame”, of koninginmoeder, in die land was! Jy ken dalk niemand wat net soos sy optree nie, maar daar is moontlik ’n situasie waarin jy Asa se moed kan navolg. Wat sal jy byvoorbeeld doen as ’n familielid of hegte vriend sonde pleeg, onberouvol is en uitgesit moet word? Sal jy vasbeslote wees om nie met daardie persoon te assosieer nie? Wat sal jou hart jou beweeg om te doen?

it-1-E 184-185

Asa

Asa het soms gewys dat hy ’n tekort aan wysheid en geestelike insig gehad het. Maar hy het goeie eienskappe gehad en was nie afvallig nie, en daarom word hy beskou as een van die getroue konings in die lyn van Juda (2Kr 15:17). In die 41 jaar dat Asa regeer het, het die volgende agt konings oor Israel regeer: Jerobeam, Nadab, Baäsa, Ela, Simri, Omri, Tibni (wat oor ’n deel van Israel regeer het in opstand teen Omri) en Agab (1Kn 15:9, 25, 33; 16:8, 15, 16, 21, 23, 29). Toe Asa gesterf het, het sy seun Josafat koning geword. – 1Kn 15:24.

Geestelike skatte

w98 9/15 21-22

Is God vir jou ’n werklikheid?

Lees byvoorbeeld die profesie oor die straf vir die herbouing van Jerigo en kyk dan na hoe dit vervul is. Josua 6:26 sê: “In dié tyd het Josua hulle laat sweer met die woorde: Vervloek is die man voor die aangesig van die HERE wat sal opstaan om hierdie stad Jerigo op te bou: ten koste van sy eersgeborene sal hy sy fondamente lê, en ten koste van sy jongste sal hy sy poorte insit.” Die profesie is sowat 500 jaar later vervul, want ons lees in 1 Konings 16:34: “In [koning Agab se] dae het Hiël, van Bet-el, Jerigo opgebou; ten koste van Abiram, sy eersgeborene, het hy sy fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, sy poorte opgerig, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Josua, die seun van Nun, gespreek het.” Slegs ’n God wat werklik bestaan, kon sulke profesieë inspireer en toesien dat hulle vervul word.

3-9 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 17-18

“Hoe lank sal julle besluiteloos bly?”

w17.03 14 ¶6

Beoefen geloof—Neem wyse besluite!

6 Toe die Israeliete in die Beloofde Land was, moes hulle ’n eenvoudige maar lewensbelangrike besluit neem: Aanbid Jehovah of dien ander gode. (Lees Josua 24:15.) Dit het dalk na ’n eenvoudige besluit gelyk. Maar hulle besluit kon hulle lewe of dood beteken. Gedurende die tyd van die rigters het die Israeliete keer op keer slegte besluite geneem. Hulle het hulle rug op Jehovah gekeer en valse gode aanbid (Rigt. 2:3, 11-23). In die tyd van die profeet Elia was God se volk verplig om ’n besluit te neem. Hulle keuse was: Dien Jehovah of dien die valse god Baäl (1 Kon. 18:21). Elia het die volk bestraf omdat hulle besluiteloos was. Jy dink dalk dat dit ’n eenvoudige keuse was, want dit is altyd wys en voordelig om Jehovah te dien. Trouens, geen verstandige persoon sal Baäl wil dien nie. Tog kon die Israeliete nie besluit nie; hulle het “op twee verskillende gedagtes [gehink]”. Elia het hulle wyslik aangespoor om die ware God, Jehovah, te aanbid.

ia 88 ¶15

Hy het rein aanbidding verdedig

15 In reaksie hierop het die Baälpriesters selfs rasender geword en ‘so hard soos hulle kon uitgeroep en hulle volgens hulle gebruik met dolke en met lanse gesny, totdat hulle die bloed op hulle laat uitvloei het’. Alles tevergeefs! “Daar [was] geen stem nie, en niemand het geantwoord nie, en daar is geen aandag geskenk nie” (1 Kon. 18:28, 29). Ja, daar was geen Baäl nie. Hy was ’n versinsel van Satan om mense van Jehovah af weg te lok. Die feit is: Om enige ander heer as Jehovah te kies, lei tot teleurstelling, selfs skande.—Lees Psalm 25:3; 115:4-8.

ia 90 ¶18

Hy het rein aanbidding verdedig

18 Voor Elia se gebed het die skare daar miskien gewonder of Jehovah net so ’n teleurstellende leuen soos Baäl sou wees. Maar ná die gebed was daar nie tyd om te wonder nie. Die verslag sê: “Daarop het die vuur van Jehovah neergeval en die brandoffer en die stukke hout en die klippe en die stof verteer, en dit het die water opgelek wat in die sloot was” (1 Kon. 18:38). Wat ’n skouspelagtige antwoord! En hoe het die volk gereageer?

Geestelike skatte

w08 4/1 19, venster

Hy was waaksaam en het gewag

Hoe lank het die droogte van Elia se dag geduur?

Jehovah se profeet Elia het vir koning Agab gesê dat die lang droogte weldra sou eindig. Dit was “in die derde jaar”—blykbaar as daar getel word vanaf die dag dat Elia aanvanklik die droogte aangekondig het (1 Konings 18:1). Jehovah het reën gestuur kort nadat Elia gesê het dat Hy dit sou doen. Gevolglik meen party dalk dat die droogte gedurende die derde jaar geëindig het en derhalwe minder as drie jaar geduur het. Maar Jesus sowel as Jakobus sê vir ons dat die droogte “drie jaar en ses maande” geduur het (Lukas 4:25; Jakobus 5:17). Is dit ’n weerspreking?

Glad nie. In eertydse Israel was die droë seisoen redelik lank en kon dit tot ses maande duur. Elia het ongetwyfeld na Agab toe gekom om die droogte aan te kondig toe die droë seisoen reeds buitengewoon lank en erg was. Die droogte het in werklikheid al byna ’n halfjaar vroeër begin. Toe Elia dus “in die derde jaar” vanaf sy vorige aankondiging die einde van die droogte aankondig, het die droogte reeds byna drie en ’n half jaar geduur. Die volle “drie jaar en ses maande” het al verstryk teen die tyd dat die hele volk byeengekom het om die groot toets op die berg Karmel te aanskou.

Dink ’n bietjie aan die tydsberekening van Elia se eerste besoek aan Agab. Die mense het geglo dat Baäl “die ruiter van die wolke” was, die god wat reën sou bring om die droë seisoen te beëindig. As die droë seisoen buitengewoon lank was, het mense waarskynlik gewonder: ‘Waar is Baäl? Wanneer sal hy die reën bring?’ Elia se aankondiging dat daar geen reën of dou sal val totdat hy so sê nie, was ongetwyfeld verpletterend vir daardie Baälaanbidders.—1 Konings 17:1.

10-16 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 19-20

“Vertrou op Jehovah om jou te vertroos”

w19.06 15 ¶5

Vertrou op Jehovah gedurende stresvolle tye

5 Lees 1 Konings 19:1-4. Elia het egter bang geword toe koningin Isebel dreig om hom dood te maak. Daarom het hy na die omgewing van Berseba gevlug. Hy het so mismoedig geword dat hy gevra het “dat sy siel moet sterf”. Wat het hom so laat voel? Elia was ’n onvolmaakte mens, “’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Jak. 5:17). Dalk het hy oorweldig gevoel as gevolg van hierdie stresvolle situasie en omdat hy doodmoeg was. Dit lyk asof Elia gedink het dat sy pogings om ware aanbidding te bevorder, verniet was, dat niks in Israel verbeter nie en dat hy die enigste een is wat Jehovah nog dien (1 Kon. 18:3, 4, 13; 19:10, 14). Die reaksie van hierdie getroue profeet verbaas ons dalk. Maar Jehovah het Elia se gevoelens verstaan.

ia 103 ¶13

Hy het vertroosting in sy God gevind

13 Hoe dink jy het Jehovah gevoel toe hy vanuit die hemel afgekyk en sy geliefde profeet onder daardie boom in die wildernis sien lê het en hom hoor smeek het om te sterf? Ons hoef nie te raai nie. Nadat Elia aan die slaap geraak het, het Jehovah ’n engel na hom toe gestuur. Die engel het Elia wakker gemaak deur liggies aan hom te raak en gesê: “Staan op, eet.” Elia het dit gedoen, want die engel het goedgunstig vir hom ’n eenvoudige ete voorgesit—vars, warm brood sowel as water. Het hy die engel darem bedank? Die verslag sê net dat die profeet geëet en gedrink en toe weer aan die slaap geraak het. Was hy te mismoedig om te praat? Hoe dit ook al sy, die engel het hom ’n tweede keer wakker gemaak, miskien met dagbreek. Weer eens het hy Elia aangespoor: “Staan op, eet”, en hy het hierdie merkwaardige woorde bygevoeg: “Want die reis is vir jou te veel.”—1 Kon. 19:5-7.

ia 106 ¶21

Hy het vertroosting in sy God gevind

21 In al drie gevalle herinner die verslag ons daaraan dat Jehovah nie in hierdie skouspelagtige vertonings van natuurkrag te vinde was nie. Elia het geweet dat Jehovah nie die een of ander mitiese natuurgod is nie, soos Baäl, wat deur sy misleide aanbidders die “ruiter van die wolke”, oftewel bringer van reën, genoem is. Jehovah is die ware Bron van al die ontsagwekkende krag wat in die natuur gevind word, maar hy is ook oneindig groter as enigiets wat hy gemaak het. Selfs die fisiese hemele kan hom nie bevat nie! (1 Kon. 8:27). Hoe het dit alles Elia gehelp? Dink aan hoe bang hy was. Met ’n God soos Jehovah aan sy kant, ’n God wat al daardie oorweldigende krag tot Sy beskikking het, het Elia geen rede gehad om Agab en Isebel te vrees nie!—Lees Psalm 118:6.

ia 106 ¶22

Hy het vertroosting in sy God gevind

22 Ná die vuur het ’n stilte neergedaal en het Elia “’n kalm, sagte stem” gehoor. Dit het Elia genooi om weer sy gedagtes uit te spreek, en hy het dit gedoen; hy het ’n tweede keer aan sy kwellinge uiting gegee. Miskien het dit hom verdere verligting gebring. Maar Elia het ongetwyfeld selfs meer vertroosting geput uit wat die “kalm, sagte stem” toe vir hom gesê het. Jehovah het Elia verseker dat hy allesbehalwe waardeloos is. Hoe so? God het baie oor sy langtermynvoorneme in verband met die stryd teen Baälaanbidding in Israel geopenbaar. Dit was duidelik dat Elia se werk nie tevergeefs was nie, want God se voorneme het onstuitbaar vooruitbeweeg. Verder het Elia nog steeds ’n rol in daardie voorneme gespeel, want Jehovah het hom met spesifieke instruksies teruggestuur om sy werk voort te sit.—1 Kon. 19:12-17.

Geestelike skatte

w97 11/1 31 ¶2

’n Voorbeeld van selfopoffering en lojaliteit

Vandag openbaar baie van God se knegte ’n soortgelyke selfopofferende gees. Party het hulle “saailande”, hulle lewensonderhoud, agtergelaat om die goeie nuus in afgeleë gebiede te verkondig of om as lede van ’n Bethelgesin te dien. Ander het na die buiteland gegaan om aan die Genootskap se bouprojekte te werk. Baie het take aanvaar wat as nederige take beskou kan word. Maar niemand wat Jehovah as ’n slaaf dien, verrig ’n onbeduidende diens nie. Jehovah waardeer almal wat hom gewillig dien, en hy sal hulle selfopofferende gees seën.—Markus 10:29, 30.

17-23 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 21-22

“Volg Jehovah na in die manier hoe hy sy gesag gebruik”

it-2-E 21

Jehovah van die leërmagte

Toe Josua ’n engel naby Jerigo gesien het, het hy hom gevra of hy aan Israel se kant is en of hy aan die vyand se kant is. Die engel het geantwoord: “Ek het gekom as bevelvoerder van Jehovah se leërmag” (Jos 5:13-15). Die profeet Migaja het vir koning Agab en koning Josafat gesê: “Ek het Jehovah op sy troon sien sit, en die hele leërmag van die hemel het by hom gestaan, aan sy regterkant en aan sy linkerkant”, wat duidelik na Jehovah se geesseuns verwys (1Kn 22:19-21). Die gebruik van die meervoudsvorm “Jehovah van die leërmagte” is gepas omdat die engele nie net op verdeel word in gerubs, serafs en engele nie (Jes 6:2, 3; Ge 3:24; Op 5:11), maar ook omdat hulle in groepe georganiseer word, en daarom kon Jesus Christus gesê het dat “meer as 12 legioene engele” beskikbaar was as hy daarvoor gevra het (Mt 26:53). Toe Hiskia Jehovah gesmeek het om hom te help, het hy hom “Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, wat op die troon bo die gerubs sit,” genoem. Hy het moontlik na die ark van die verbond en na die gerubs wat bo-op die deksel was, verwys, wat Jehovah se hemelse troon voorgestel het (Jes 37:16; vergelyk 1Sa 4:4; 2Sa 6:2). Toe Elisa se dienaar bang was, was hy gerusgestel toe hy ’n wonderdadige visioen gesien het. Hy het gesien hoe die berge rondom die omsingelde stad waar Elisa gebly het, “vol perde en strydwaens van vuur was”, en dit was deel van Jehovah se engelemagte. – 2Kn 6:15-17.

w21.02 4 ¶9

‘Die hoof van elke man is die Christus’

9 Nederigheid. Jehovah is die wysste persoon in die heelal en tog luister hy na die opinies van sy knegte (Gen. 18:23, 24, 32). Hy het dié wat onder sy gesag is al toegelaat om voorstelle te maak (1 Kon. 22:19-22). Jehovah is volmaak, maar hy verwag nie dat ons nou al volmaak moet wees nie. Hy help sy onvolmaakte knegte eerder om suksesvol te wees (Ps. 113:6, 7). Die Bybel beskryf Jehovah selfs as ’n “helper” (Ps. 27:9; Heb. 13:6). Koning Dawid het erken dat hy sy toewysing net kon uitvoer omdat Jehovah nederig was en hom gehelp het. – 2 Sam. 22:36.

it-2-E 245

Leuen

Jehovah God laat toe dat “’n bedrieglike invloed” persone mislei wat onwaarheid verkies sodat “hulle die leuen sal glo” eerder as die goeie nuus oor Jesus Christus (2Te 2:9-12). Hierdie beginsel word geïllustreer deur wat eeue vroeër in die geval van die Israelitiese koning Agab gebeur het. Profete wat leuens vertel het, het Agab verseker dat hy sukses sou hê in die oorlog teen Ramot-Gilead, terwyl Jehovah se profeet Migaja rampspoed voorspel het. Jehovah het aan Migaja in ’n visioen geopenbaar dat Hy sou toelaat dat ’n geesskepsel “’n bedrieglike gees” in die mond van Agab se profete word. Dit beteken dat hierdie geesskepsel mag oor hulle uitgeoefen het, sodat hulle nie die waarheid gepraat het nie, maar eerder wat hulle self wou sê en wat Agab by hulle wou hoor. Al is Agab vooraf gewaarsku, het hy verkies om deur hulle leuens mislei te word, en dit het hom sy lewe gekos. – 1Kn 22:1-38; 2Kr 18.

Geestelike skatte

w21.10 3 ¶4-6

Wat is ware berou?

4 Uiteindelik het Jehovah se geduld opgeraak. Hy het Elia na Agab en Isebel gestuur om vir hulle te sê hoe hy hulle sou straf. Hulle hele familie sou doodgemaak word. Elia se woorde het Agab hard getref! Verbasend genoeg het daardie arrogante man ‘homself verneder’. – 1 Kon. 21:19-29.

5 Al het Agab homself eers verneder, het die dinge wat hy daarna gedoen het, gewys dat hy nie regtig berouvol was nie. Hy het nie probeer om van Baälaanbidding ontslae te raak nie. En hy het mense nie aangemoedig om Jehovah te aanbid nie. Agab het op ander maniere ook gewys dat hy nie berouvol was nie.

6 Later, toe Agab die goeie koning Josafat van Juda genooi het om saam met hom teen die Siriërs te veg, het Josafat voorgestel dat hulle eers ’n profeet van Jehovah raadpleeg. Eers het Agab niks van die idee gehou nie en gesê: “Daar is nog een man deur wie ons Jehovah se leiding kan vra, maar ek haat hom, want hy profeteer nooit goeie dinge oor my nie, net slegte dinge.” Maar hulle het daardie profeet, Migaja, in elk geval gaan raadpleeg. En Migaja het toe slegte dinge oor Agab voorspel, net soos Agab gesê het! Maar in plaas daarvan om berou te toon en Jehovah te vra om hom te vergewe, het hy die profeet in die tronk laat gooi (1 Kon. 22:7-9, 23, 27). Maar al het die koning dit reggekry om Jehovah se profeet in die tronk te gooi, kon hy nie keer dat die profesie waar word nie. Agab is toe in die geveg teen die Siriërs doodgemaak. – 1 Kon. 22:34-38.

24-30 OKTOBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 1-2

“’n Goeie voorbeeld van opleiding”

w15 4/15 13 ¶15

Hoe ouer manne ander oplei om bekwaam te word

15 Die verslag van Elisa toon ook dat dit vandag belangrik is dat broers ervare ouer manne respekteer. Nadat Elia en Elisa ’n groep profete in Jerigo besoek het, het die twee manne by die Jordaanrivier gekom. “Toe het Elia sy ampskleed geneem en dit opgerol en die waters geslaan, en dit is . . . verdeel.” Die manne het op droë grond deur die Jordaanrivier geloop en “al pratende verder geloop”. Elisa het aandagtig geluister na alles wat sy onderrigter gesê het en het by hom bly leer. Elisa het nooit gedink dat hy alles weet nie. Toe is Elia in ’n windstorm weggeneem, en Elisa het na die Jordaanrivier teruggekeer. Daar het hy die waters met Elia se ampskleed geslaan en gesê: “Waar is Jehovah, die God van Elia?” En weer eens is die waters in die rivier verdeel.—2 Konings 2:8-14.

w15 4/15 14 ¶16

Hoe ouer manne ander oplei om bekwaam te word

16 Het jy opgelet dat Elisa se eerste wonderwerk presies dieselfde as Elia se laaste wonderwerk was? Wat leer dit ons? Elisa het nie gedink dat hy dinge op ’n ander manier as Elia moet doen omdat hy nou in beheer was nie. Elisa het eerder getoon dat hy sy onderrigter respekteer deur Elia se metodes te volg, en dit het ander profete gehelp om hulle vertroue in Elisa te stel (2 Konings 2:15). Elisa het 60 jaar lank as profeet gedien, en Jehovah het hom die krag gegee om baie meer wonderwerke as Elia te verrig. Watter les kan leerlinge vandag hieruit leer?

Geestelike skatte

w05 8/1 9 ¶1

Glanspunte uit die boek Tweede Konings

2:11—Wat was “die hemel” waarheen ‘Elia in die windstorm opgevaar het’? Dit was nie die afgeleë dele van die fisiese heelal of die geestelike plek waar God en sy engeleseuns woon nie (Deuteronomium 4:19; Psalm 11:4; Matteus 6:9; 18:10). “Die hemel” waarheen Elia opgevaar het, was die atmosferiese hemel (Psalm 78:26; Matteus 6:26). Die strydwa van vuur het vinnig deur die aarde se atmosfeer beweeg en Elia blykbaar na ’n ander deel van die aarde geneem, waar hy nog ’n ruk lank gelewe het. Trouens, Elia het jare later ’n brief aan Joram, die koning van Juda, geskryf.—2 Kronieke 21:1, 12-15.

31 OKTOBER–6 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 3-4

“Tel jou seun op”

w17.12 4 ¶7

“Ek weet dat hy . . . sal opstaan”

7 Die tweede opstanding wat in die Bybel genoem word, is deur die profeet Elisa, Elia se opvolger, gedoen. In Sunem was daar ’n Israelitiese vrou wat nie kinders gehad het nie. Omdat sy baie gasvry was teenoor Elisa, het Jehovah haar en haar bejaarde man met ’n kind geseën. Maar ’n paar jaar later het die seun gesterf. Dink net hoe hartseer sy ma moes gewees het. Met haar man se toestemming het sy 30 kilometer gereis na Elisa by die berg Karmel. Die profeet het sy dienaar Gehasi na Sunem gestuur om die seun op te wek. Maar Gehasi kon nie die seun opwek nie. Toe het die ma, wat nog baie hartseer was, saam met Elisa by die huis aangekom.—2 Kon. 4:8-31.

w17.12 5 ¶8

“Ek weet dat hy . . . sal opstaan”

8 Elisa het in die huis by die seun se liggaam gebid. Jehovah het na Elisa se gebed geluister en het die seun opgewek. Dit was ’n wonderwerk. Toe die ma sien dat haar seun weer lewe, was sy baie bly! (Lees 2 Konings 4:32-37.) Sy het dalk Hanna se gebed onthou. Hanna kon ook nie kinders kry totdat Jehovah haar geseën het nie. Toe sy Samuel na die tempel toe geneem het, het sy Jehovah geloof en gesê: “Jehovah . . . laat na Sjeool afdaal, en Hy laat daaruit opkom” (1 Sam. 2:6). Deur die seun in Sunem letterlik op te wek, het Jehovah gewys dat hy die vermoë het om die dooies op te wek.

Geestelike skatte

it-2-E 697 ¶2

Profeet

“Seuns van die profete.” Soos Gesenius se Hebrew Grammar verduidelik (Oxford, 1952, bl. 418), kan die Hebreeuse woorde ben (seun van) of benehʹ (seuns van) verwys na iemand wat “deel is van ’n groep of ’n gemeenskap (of ’n stam of enige spesifieke klas)”. (Vergelyk Ne 3:8, waar “een van die salfmengers,” letterlik “’n seun van die salfmengers” is.”) Daarom verwys “die seuns van die profete” dalk na ’n skool vir profete wat gekies is om hierdie werk te doen of eenvoudig na ’n groep of vereniging van profete wat saamgewerk het. Die Bybel sê dat sulke groepe profete by Bet-El, Jerigo en Gilgal was (2Kn 2:3, 5; 4:38; vergelyk 1Sa 10:5, 10). ’n Groep by Rama was onder Samuel se leiding (1Sa 19:19, 20), en dit lyk asof Elisa ’n soortgelyke posisie in sy dag gehad het (2Kn 4:38; 6:1-3; vergelyk 1Kn 18:13). Die verslag noem dat hulle ’n stuk gereedskap geleen het om hulle eie woonplek te bou, wat dalk wys dat hulle eenvoudig gelewe het. Al het hulle dikwels hulle blyplek en kos gedeel, het hulle miskien individuele toewysings gekry om profetiese werk te doen. – 1Kn 20:35-42; 2Kn 4:1, 2, 39; 6:1-7; 9:1, 2.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel