Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
7-13 NOVEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 5-6
“Daar is meer by ons as wat daar by hulle is”
it-1-E 716 ¶4
Elisa
Israel word uit Sirië se hand gered. Gedurende die heerskappy van koning Joram van Israel beplan Sirië om Israel onverwags aan te val. Elisa het meer as een keer Ben-Hadad II se planne in die wiele gery en het vir koning Joram alles gesê wat die Siriërs beplan om te doen. Ben-Hadad het eers gedink dat daar ’n verraaier in sy eie kamp is. Maar toe hy uitvind wie regtig die oorsaak van sy probleme is, stuur hy ’n leërmag na Dotan en omring hy dit met perde en strydwaens om Elisa gevange te neem (PRENT, Deel 1, bl. 950). Elisa se dienaar het baie bang geword, maar Elisa het toe tot God gebid en hom gevra om sy dienaar se oë oop te maak, “en hy het gesien dat die bergstreek rondom Elisa vol perde en strydwaens van vuur was”. Toe die Siriërs na hom toe begin kom, het Elisa vir ’n wonderwerk gebid wat die teenoorgestelde uitwerking moes hê. Hy het gebid: “Laat hierdie nasie asseblief blind word.” Elisa sê vir die Siriërs: “Volg my,” maar hy hoef nie hulle hand te vat om hulle te lei nie, en dit wys dat hulle verstand verblind was en nie hulle fisiese oë nie. Hulle het nie vir Elisa, vir wie hulle gevange wou neem, herken nie, en hulle het ook nie geweet waarheen hy hulle neem nie. – 2Kn 6:8-19.
Elisa het strydwaens van vuur gesien—Sien jy dit?
Hoewel Elisa by Dotan deur vyande omring was, het hy kalm gebly. Waarom? Omdat hy sterk geloof in Jehovah gehad het. Ons het ook sulke geloof nodig. Ons moet dus vir God se heilige gees bid sodat ons geloof en ander aspekte van die vrug van die gees kan openbaar.—Luk. 11:13; Gal. 5:22, 23.
it-1-E 343 ¶1
Blindheid
Die blindheid waarvoor Elisa gebid het wat oor die Siriese leërmag gekom het, was heel moontlik verstandelike blindheid. As die hele leërmag fisies blind geword het, sou hulle almal aan die hand gelei moes word. Maar die verslag sê eenvoudig dat Elisa vir hulle gesê het: “Dit is nie die pad nie, en dit is nie die stad nie. Volg my.” William James sê oor hierdie buitengewone gebeurtenis in Principles of Psychology (1981, Deel 1, bl. 59) dat ’n baie interessante uitwerking van kortikale blindheid is dat dit verstandelike blindheid veroorsaak. Dit gaan nie noodwendig oor die feit dat jy nie kan sien nie, maar eerder dat jy nie die vermoë het om te verstaan wat jy sien nie. Op ’n sielkundige vlak kan dit beteken dat ’n persoon sukkel om die assosiasie te maak tussen wat hy sien en wat dit voorstel; en enige iets wat die paadjies tussen die oog en die brein onderbreek, kan dit veroorsaak. Dit is heel moontlik die soort blindheid wat Jehovah weggeneem het toe die Siriese leërmag Samaria bereik het (2Kn 6:18-20). Die manne van Sodom het dalk ook sulke verstandelike blindheid ondervind, want die verslag wys dat hulle nie ontsteld was omdat hulle nie kon sien nie, maar eerder aanhou soek het na die deur van Lot se huis. – Ge 19:11.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Tweede Konings
5:15, 16—Waarom het Elisa nie Naäman se geskenk aanvaar nie? Elisa het die geskenk van die hand gewys omdat hy geweet het dat die wonderdadige genesing van Naäman deur Jehovah se krag plaasgevind het, nie deur sy eie nie. Dit sou vir hom ondenkbaar wees om munt te slaan uit sy godgegewe amp. Ware aanbidders van vandag probeer nie persoonlike voordeel uit Jehovah se diens trek nie. Hulle neem Jesus se vermaning ter harte: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.”—Matteus 10:8.
14-20 NOVEMBER 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 7-8
“Jehovah het iets onverwags gedoen”
it-1-E 716-717
Elisa
Maar later het Ben-Hadad II Samaria een keer met sy hele leërmag aangeval, nie net om mense se besittings te steel nie, maar om die stad te beleër. Dinge raak so erg dat die koning van ten minste een geval hoor waar ’n vrou haar eie seun geëet het. Koning Joram, die nageslag van Agab en die “seun van ’n moordenaar”, sweer om Elisa dood te maak. Maar die oorhaastige eed word nie uitgevoer nie. Joram het saam met sy offisier by die profeet se huis aangekom en gesê dat hy alle hoop verloor het dat Jehovah hulle sou help. Elisa verseker die koning dat daar die volgende dag baie kos sou wees. Die koning se offisier het getwyfel dat dit sou gebeur, en daarom het Elisa vir hom gesê: “Jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.” Jehovah veroorsaak dat die kamp van die Siriërs ’n geluid hoor wat hulle laat dink dat ’n groot leërmag van meer as een nasie op pad is om hulle aan te val. Hulle vlug dan en los alles net so in die kamp, insluitende al die kos. Toe die koning uitvind dat die Siriërs gevlug het, het hy die offisier aangestel om toesig te hou oor die poort van Samaria. En daar is die offisier vertrap en het hy gesterf toe die honger Israeliete uitgestorm het om alles in die kamp te vat. Hy sien die kos, maar hy eet nie daarvan nie. – 2Kn 6:24–7:20.
Geestelike skatte
it-2-E 195 ¶7
Lamp
Konings in die geslagslyn van Dawid. Jehovah God het koning Dawid op die troon van Israel geplaas. En onder God se leiding was Dawid ’n wyse leier vir die nasie. Daarom is hy die “lamp van Israel” genoem (2Sa 21:17). Jehovah het in sy Koninkryksverbond met Dawid belowe: “Jou troon sal vir ewig stewig gevestig wees” (2Sa 7:11-16). So die heersers uit die geslagslyn van Dawid deur sy seun Salomo was soos ’n “lamp” vir Israel. – 1Kn 11:36; 15:4; 2Kn 8:19; 2Kr 21:7.
21-27 NOVEMBER 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 9-10
“Hy was moedig, vasbeslote en ywerig”
Jehu verdedig rein aanbidding
Jehu het ’n opdrag ontvang toe die nasie Israel in ’n betreurenswaardige toestand verkeer het. Die land was onder die goddelose invloed van Isebel, die weduwee van Agab en die moeder van die heersende koning, Joram. Sy het die Baälkultus ten koste van Jehovah se aanbidding bevorder, God se profete doodgemaak en die volk met haar “hoererye” en “towerye” verderf (2 Kon. 9:22; 1 Kon. 18:4, 13). Jehovah het besluit dat die hele huis van Agab, insluitende Joram en Isebel, uitgewis moet word. Jehu moes die voortou in hierdie veldtog neem.
Jehu verdedig rein aanbidding
Nadat Jehu geweier het om enigiets te sê vir twee boodskappers wat na hom toe gestuur is, het hy koning Joram en sy bondgenoot Ahasia, die koning van Juda, elkeen in sy eie strydwa, ontmoet. Joram se vraag: “Is dit vrede, Jehu?” is beantwoord met: “Hoe kan daar vrede wees solank die hoererye van jou moeder Isebel en haar baie towerye nog daar is?” Hierdie antwoord het Joram laat skrik, en hy het omgedraai om te vlug. Maar Jehu was te vinnig vir hom! Hy het sy boog gespan en ’n pyl deur Joram se hart geskiet, en die koning het dood neergeval in sy strydwa. Hoewel Ahasia daarin geslaag het om weg te kom, het Jehu hom later opgespoor en hom ook laat doodmaak.—2 Kon. 9:22-24, 27.
Die volgende lid van Agab se huis wat doodgemaak moes word, was die goddelose koningin Isebel. Jehu het tereg na haar verwys as “hierdie vervloekte”. Toe Jehu in Jisreël inry, het hy haar uit ’n paleisvenster sien afkyk. Sonder omhaal van woorde het Jehu die hofbeamptes beveel om Isebel by die venster uit te gooi. Toe het Jehu hierdie verderwer van die hele Israel deur sy perde laat vertrap. Hierna het Jehu nog tientalle ander lede van die huis van die goddelose Agab uitgewis.—2 Kon. 9:30-34; 10:1-14.
Jehu verdedig rein aanbidding
Dit is waar dat Jehu baie bloed vergiet het. Tog beeld die Skrif hom uit as ’n moedige man wat Israel van die onderdrukkende oorheersing van Isebel en haar familie bevry het. Enige leier van Israel wat dit sou regkry, moes ’n man van moed, vasbeslotenheid en ywer wees. “Dit was ’n moeilike taak en is met onverbiddelike deeglikheid uitgevoer”, sê ’n Bybelwoordeboek. “Minder drastiese optrede sou waarskynlik nie Baälaanbidding in Israel kon uitwis nie.”
Jy kan ongetwyfeld sien dat omstandighede waarmee Christene vandag te kampe het, vereis dat hulle van die eienskappe aan die dag lê wat Jehu besit het. Hoe moet ons byvoorbeeld reageer as ons in die versoeking kom om by ’n bedrywigheid betrokke te raak wat Jehovah veroordeel? Ons moet dit summier, moedig en met beslistheid verwerp. Wanneer dit by ons godvrugtige toegewydheid kom, kan ons geen mededinging teen Jehovah duld nie.
Geestelike skatte
Jehu verdedig rein aanbidding
Jehu het dalk geglo dat die koninkryk van Israel se onafhanklikheid van Juda ’n godsdienstige skeiding tussen die twee koninkryke verg. Soos vorige konings van Israel, het hy hulle dus afgeskeie probeer hou deur kalfaanbidding te bevorder. Maar dit het ’n gebrek aan geloof in Jehovah geopenbaar, deur wie hy as koning aangestel is.
Jehovah het Jehu geprys omdat ‘hy goed gehandel het deur te doen wat reg is in God se oë’. Jehu het egter “nie gesorg dat hy met sy hele hart in die wet van Jehovah, die God van Israel, wandel nie” (2 Kon. 10:30, 31). As ’n mens dink aan alles wat Jehu vroeër gedoen het, is dit verbasend en teleurstellend. Maar dit bevat wel ’n les vir ons. Ons kan nooit ons verhouding met Jehovah as vanselfsprekend aanneem nie. Ons moet elke dag lojaliteit teenoor God aankweek deur sy Woord te bestudeer, daaroor te peins en uit die hart tot ons hemelse Vader te bid. Laat ons dus sorg dat ons met ons hele hart in Jehovah se wet bly wandel.—1 Kor. 10:12.
28 NOVEMBER 2012–4 DESEMBER 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 11-12
“’n Ambisieuse, goddelose vrou bly nie ongestraf nie”
it-1-E 209
Atalia
Net soos haar ma Isebel, het Atalia haar man, Joram, gedurende sy heerskappy van agt jaar, aangehits om te doen wat sleg is in Jehovah se oë (1Kn 21:25; 2Kr 21:4-6). En soos haar ma, was Atalia gevoelloos en het sy onskuldige mense doodgemaak. Toe haar goddelose seun Ahasia gesterf het nadat hy ’n jaar lank regeer het, het sy almal van die koninklike geslagslyn doodgemaak, behalwe die baba Joas, wat weggesteek was deur die hoëpriester en sy vrou, wat Joas se tannie was. Daarna het Atalia haarself as koningin gekroon en ses jaar lank regeer, vanaf omtrent 905-899 VHJ (2Kr 22:11, 12). Haar seuns het die heilige dinge uit Jehovah se tempel gesteel en dit aan Baäl geoffer. – 2Kr 24:7.
it-1-E 209
Atalia
Toe Joas sewe jaar oud was, het die godvresende hoëpriester Jojada vir Joas, wat weggesteek was, uitgebring en hom as die regmatige koning gesalf. Toe Atalia die lawaai hoor, het sy onmiddellik na die tempel toe gegaan, en toe sy sien wat besig was om te gebeur, het sy uitgeroep: “’n Sameswering! ’n Sameswering!” Hoëpriester Jojada het beveel dat sy uit die tempel geneem en by die Perdepoort doodgemaak moes word. Sy was moontlik die laaste persoon uit die goddelose huis van Agab (2Kn 11:1-20; 2Kr 22:1–23:21). Dit wys dat die volgende woorde waar is: “Nie een van Jehovah se woorde wat Jehovah teen die huis van Agab gespreek het, [sal] onvervuld . . . bly nie”! – 2Kn 10:10, 11; 1Kn 21:20-24.
Geestelike skatte
it-1-E 1265-1266
Joas
Daarna, so lank as wat die hoëpriester Jojada gelewe het en as ’n pa en raadgewer vir Joas opgetree het, het dit goed gegaan met die jong koning. Toe hy 21 jaar oud was, was hy alreeds getroud en het hy twee vrouens gehad. Een van sy vrouens was Joaddan, en hy het seuns en dogters by albei sy vrouens gehad. Op hierdie manier was die geslagslyn van Dawid wat na die Messias gelei het, weer versterk, al was dit amper heeltemal uitgewis. – 2Kn 12:1-3; 2Kr 24:1-3; 25:1.
5-11 DESEMBER 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 13-15
“As ons ons bes doen, sal ons ryklik geseën word”
Volg jy die Christus ten volle?
11 Let op ’n gebeurtenis in die lewe van koning Joas van Israel wat toelig hoe belangrik dit is om ywerig in God se diens te wees. Joas was bekommerd omdat dit gelyk het asof Israel deur Sirië oorwin sou word en het in trane na Elisa gekom. Die profeet vir hom gesê om ’n pyl in die rigting van Sirië by die venster uit te skiet, wat ’n aanduiding was dat Jehovah hulle die oorwinning oor daardie nasie sou gee. Dit moes die koning sekerlik versterk het. Toe het Elisa vir Joas gesê om sy pyle te neem en die grond daarmee te slaan. Joas het die grond drie keer geslaan. Elisa was woedend hieroor, want as Joas die grond vyf of ses keer geslaan het, sou dit getoon het dat “Sirië . . . heeltemal verslaan” sou word. Nou sou Joas net drie gedeeltelike oorwinnings behaal. Omdat hy met ’n gebrek aan ywer opgetree het, het Joas net beperkte sukses gehad (2 Kon. 13:14-19). Watter les kan ons uit hierdie verslag leer? Jehovah sal ons oorvloedig seën alleenlik as ons sy werk heelhartig en met ywer doen.
“Die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek”
Wie word deur Jehovah beloon? “Dié wat hom ernstig soek”, sê Paulus. ’n Naslaanwerk vir Bybelvertalers sê dat die Griekse woord wat met “ernstig soek” weergegee word, nie “uitgaan om te vind” beteken nie, maar eerder daarop dui dat God “in aanbidding” genader word. ’n Ander naslaanwerk verduidelik dat die vorm van hierdie Griekse werkwoord op intensiteit en kragtige inspanning dui. Ja, Jehovah beloon diegene wie se geloof hulle beweeg om hom met hartgrondige liefde en ywer te aanbid.—Matteus 22:37.
Hoe beloon Jehovah sy getroue aanbidders? Hy belowe ’n wonderlike toekomstige beloning wat toon hoe vrygewig en liefdevol hy is—die ewige lewe in die Paradys op aarde (Openbaring 21:3, 4). Diegene wat Jehovah ernstig soek, geniet nou reeds ryk seëninge. Met die hulp van sy heilige gees en die wysheid wat in sy Woord gevind word, geniet hulle ’n lonende en bevredigende lewenswyse.—Psalm 144:15; Matteus 5:3.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Tweede Konings
13:20, 21—Verskaf hierdie wonderwerk ’n grondslag vir die verering van godsdiensrelieke? Nee. Die Bybel sê nie dat Elisa se beendere ooit vereer is nie. Dit was God se krag wat hierdie wonderwerk moontlik gemaak het, net soos in die geval van al die wonderwerke wat Elisa verrig het terwyl hy gelewe het.
12-18 DESEMBER 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 16-17
“Jehovah sal nie vir ewig geduldig wees nie”
it-2-E 908 ¶5
Salmaneser
Onderdrukking van Israel. Gedurende die tyd toe koning Hosea van Israel regeer het (omtrent 758-740 VHJ), het Salmaneser V Palestina binnegeval. Hosea het toe sy kneg geword en moes elke jaar skatting aan hom betaal (2Kn 17:1-3). Maar later het Hosea nie die skatting betaal nie, en daar was uitgevind dat hy en koning So van Egipte betrokke was by ’n sameswering. (Sien SO.) As gevolg hiervan het Salmaneser vir Hosea opgesluit en daarna Samaria drie jaar lank beleër. Hierna is die versterkte stad uiteindelik ingeneem en is die Israeliete in ballingskap weggeneem. – 2Kn 17:4-6; 18:9-12; vergelyk Ho 7:11; Ese 23:4-10.
it-1-E 414-415
Gevangenskap
In albei die noordelike tienstammeryk van Israel en die suidelike tweestammeryk van Juda was die hoofoorsaak wat tot hulle gevangenskap gelei het, dieselfde. Hulle het opgehou om ware aanbidding van Jehovah te beoefen en het eerder begin om valse gode te aanbid (De 28:15, 62-68; 2Kn 17:7-18; 21:10-15). Jehovah het herhaaldelik sy profete gestuur om hulle albei te waarsku, maar hulle wou nie luister nie (2Kn 17:13). Nie een van die konings van die tienstammeryk van Israel het ooit heeltemal ontslae geraak van die valse aanbidding wat deur die nasie se eerste koning, Jerobeam, ingestel was nie. Juda, haar susterkoninkryk in die suide, het glad nie geluister na Jehovah se direkte waarskuwings nie en het nie geleer uit die gevangenskap waarin Israel hulle bevind het nie (Jer 3:6-10). Die inwoners van albei koninkryke was uiteindelik in ballingskap weggeneem, en dit het meer as een keer met albei nasies gebeur.
Geestelike skatte
it-2-E 847
Samaritaan
Die term “Samaritane” het eers in die Skrif verskyn ná die oorwinning van die tienstammeryk van Samaria in 740 VHJ. Dit het verwys na diegene wat in die noordelike tienstammeryk voor daardie oorwinning gebly het. En dit het hulle ook anders gemaak as die uitlanders wat later van ander dele van die Assiriese Ryk ingebring was (2Kn 17:29). Dit lyk asof die Assiriërs nie al die Israeliete verwyder het nie, want die verslag in 2 Kronieke 34:6-9 (vergelyk 2Kn 23:19, 20) gee te kenne dat daar nog steeds Israeliete in die land was toe koning Josia regeer het. Later het die term “Samaritane” verwys na die nakomelinge van dié wat in Samaria agtergebly het en na dié wat deur die Assiriërs ingebring was. Daarom was party van hulle heel moontlik die kinders van gemengde huwelike. En ’n hele ruk later, het die term meer van ’n godsdienstige betekenis gehad, en het dit nie eintlik baie te doen gehad met ’n persoon se ras of met die politiek nie. “Samaritane” het verwys na mense wat aan ’n godsdienssekte behoort het wat gewild was in die omgewing van eertydse Sigem en Samaria en wat geglo het in sekere leerstellings wat baie anders was as die leerstellings van Judaïsme. – Joh 4:9.
19-25 DESEMBER 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 18-19
“Hoe ons teenstanders probeer om ons geloof te verswak”
Glanspunte uit die boek Tweede Konings
18:19-21, 25—Het Hiskia ’n bondgenootskap met Egipte aangegaan? Nee. Rabsake se aantyging was vals, en so ook sy bewering dat hy met “magtiging van Jehovah” gekom het. Getroue koning Hiskia het uitsluitlik op Jehovah vertrou.
“Moenie bang wees nie. Ek sal jou help”
Rabsake het slinkse redenasies gebruik om twyfel te probeer wek. Hy het gesê: “Is dit dan nie [Jehovah se] hoogtes en sý altare wat Hiskia verwyder het nie? . . . Jehovah het vir my gesê: ‘Trek op teen hierdie land, en jy moet dit verwoes’” (2 Kon. 18:22, 25). Rabsake het dus aangevoer dat Jehovah nie vir Sy volk sou veg nie omdat Hy vir hulle kwaad was. Maar die teenoorgestelde was waar. Jehovah het behae geskep in Hiskia en in die Jode wat tot ware aanbidding teruggekeer het.—2 Kon 18:3-7.
Sewe herders, agt hertoë—Wat hulle vandag vir ons beteken
14 Die koning van Assirië het kamp opgeslaan by Lagis, suidwes van Jerusalem. Van daar af het hy drie gesante gestuur om die stad te beveel om hulle oor te gee. Sy woordvoerder, wie se amptelike titel Rabsake was, het verskeie taktieke gebruik. Hy het die volk in Hebreeus aangespreek en hulle aangespoor om die koning te verraai en hulle aan die Assiriërs te onderwerp en het valslik belowe om hulle in ’n land te hervestig waar hulle ’n gerieflike lewe sou kon lei. (Lees 2 Konings 18:31, 32.) Toe het Rabsake beweer dat Jehovah die Jode nie uit die Assiriërs se kloue sou kon bevry nie, net soos die gode van die nasies nie hulle aanbidders kon beskerm nie. Die volk het wyslik besluit om die lasterlike propaganda te ignoreer; iets wat Jehovah se hedendaagse knegte ook dikwels doen.—Lees 2 Konings 18:35, 36.
yb74-E 177 ¶1
Deel 2 – Duitsland
Dit is interessant dat die SS, wat dikwels mense op ’n slinkse manier probeer kry het om die verklaring te teken, baie keer teen hulle gedraai het wanneer hulle die verklaring geteken het. En die SS het hulle daarna slegter behandel as voorheen. Karl Kirscht het dit bevestig en gesê: “In die konsentrasiekampe het hulle probeer om Jehovah se Getuies meer as enige iemand anders om die bos te lei. Hulle het gedink dat hulle op hierdie manier die Getuies kon oorreed om die verklaring te teken. Hulle het ons meer as een keer gevra om dit te doen. Party het dit geteken, maar in die meeste gevalle moes hulle meer as ’n jaar lank wag voordat hulle vrygelaat was. Gedurende hierdie tyd was hulle dikwels in die openbaar deur die SS uitgeskel en is daar gesê dat hulle skynheilig en lafaards is. Hulle was ook gedwing om verby hulle broers te loop as ’n vernedering voordat hulle toegelaat was om die kamp te verlaat.”
Geestelike skatte
it-1-E 155 ¶4
Argeologie
As ’n voorbeeld sê die Bybelverslag dat koning Sanherib van Assirië deur sy twee seuns, Adrammeleg en Sareser, doodgemaak is en dat ’n ander seun, Esar-Haddon, in sy plek koning geword het (2Kn 19:36, 37). Maar ’n Babiloniese verslag het gesê dat Sanherib, op die 20ste Tebet, deur sy seun in ’n opstand doodgemaak is. Berossus, ’n Babiloniese priester van die derde eeu VHJ, en Nabonidus, ’n Babiloniese koning van die sesde eeu VHJ, het albei dieselfde verslag gegee. Hulle het gesê dat Sanherib deur net een van sy seuns doodgemaak was. Maar in ’n onlangse ontdekking van ’n deel van die Prisma van Esar-Haddon, die seun wat Sanherib opgevolg het, het Esar-Haddon duidelik gesê dat sy broers (meervoud) in opstand gekom en hulle pa doodgemaak het en toe gevlug het. Philip Biberfeld het die volgende hieroor gesê in Universal Jewish History (1948, Deel I, bl. 27): “Die Babiloniese verslag, Nabonid, en Berossus was verkeerd; net die Bybelse verslag is korrek. Al die fyner besonderhede daarvan is deur die inskripsie van Esar-Haddon bevestig, en dit het ’n akkurater beskrywing van hierdie gebeurtenis in Babilonies-Assiriese geskiedenis gegee as wat die Babiloniese bronne self gegee het. Dit is ’n feit wat baie belangrik is wanneer daar bepaal moet word hoe waardevol bronne is wat uit dieselfde tyd kom, maar nie ooreenstem met wat die Bybel sê nie.”
26 DESEMBER–1 JANUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 KONINGS 20-21
“Gebed het Jehovah beweeg om iets te doen”
’n Koning se geloof word beloon
23 Omtrent die tyd toe Sanherib die eerste keer teen Juda optrek, word Hiskia dodelik siek. Jesaja sê vir hom dat hy gaan sterf (Jesaja 38:1). Die 39-jarige koning is verpletter. Hy is nie net besorg oor sy eie welsyn nie, maar ook oor die toekoms van die volk. Die gevaar bestaan dat Jerusalem en Juda deur die Assiriërs binnegeval gaan word. Wie sal die stryd lei as Hiskia sterf? Op daardie tyd het Hiskia nie ’n seun om die heerskappy oor te neem nie. Hiskia bid vurig tot Jehovah om barmhartigheid aan hom te bewys.—Jesaja 38:2, 3.
Dien Jehovah met ’n volkome hart!
16 Hiskia het later siek geword en op sterwe gelê. Hy het Jehovah gesmeek om te onthou hoe hy voor Hom gewandel het. (Lees 2 Konings 20:1-3.) Ons weet uit die Skrif dat ons nie in hierdie tyd kan verwag dat God ons wonderdadig moet genees of ons lewe moet verleng nie. Elkeen van ons kan egter, net soos Hiskia, tot Jehovah bid en sê: “Ek [het] in waaragtigheid en met ’n volkome hart voor u gewandel.” Glo jy dat Jehovah jou kan en wil onderskraag, selfs wanneer jy siek is?—Ps. 41:3.
Hoe kan gebed my help?
In Bybeltye is party manne van geloof se gebede wel regstreeks—selfs wonderdadig—verhoor. Toe koning Hiskia byvoorbeeld uitgevind het dat hy ’n terminale siekte het, het hy God gesmeek om hom daarvan te verlos. God het geantwoord: “Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak” (2 Konings 20:1-6). Ander godvresende mans en vroue het eweneens God se hulp ervaar.—1 Samuel 1:1-20; Daniël 10:2-12; Handelinge 4:24-31; 10:1-7.
Geestelike skatte
it-2-E 240 ¶1
Skietlood
’n Skietlood kan gebruik word om ’n gebou reg te bou of om te toets hoe sterk dit is en hoe lank dit staande sal bly. Jehovah het voorspel dat hy vir die goddelose Jerusalem “dieselfde maatlyn [sal] gebruik as wat [hy] vir Samaria gebruik het, asook die skietlood wat vir die huis van Agab gebruik is”. God het Samaria en die huis van Agab gemeet en gevind dat hulle baie sleg was, en dit het veroorsaak dat hulle vernietig was. Net so sou God Jerusalem en sy heersers oordeel en wys dat hulle goddeloos is en die stad vernietig. Dit het eintlik in 607 VHJ gebeur (2Kn 21:10-13; 10:11). Deur middel van Jesaja is die verskillende goddelose grootpraters en heersers van die volk in Jerusalem laat weet dat hulle binnekort vernietig sal word en van Jehovah se oordeel: “Ek sal geregtigheid die maatlyn maak en regverdigheid die skietlood.” Die standaarde van ware geregtigheid en regverdigheid sou wys wie God regtig dien en wie hom nie dien nie, en dit sou tot die lewe of die dood lei. – Jes 28:14-19.