Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Tweede Konings
DIE Bybelboek Tweede Konings begin waar die boek Eerste Konings ophou. Dit is ’n verslag van 29 konings—12 van die noordelike koninkryk van Israel en 17 van die suidelike koninkryk van Juda. Tweede Konings vertel ook van die bedrywighede van die profete Elia, Elisa en Jesaja. Hoewel die verslag nie streng chronologies is nie, sluit dit gebeure in tot en met die vernietiging van Samaria en Jerusalem. Tweede Konings dek altesaam ’n tydperk van 340 jaar—van 920 v.G.J. tot 580 v.G.J. toe die profeet Jeremia hierdie boek voltooi het.
Van watter nut is Tweede Konings vir ons? Wat leer dit ons oor Jehovah en sy handelinge? Watter lesse kan ons leer uit die dade van die konings, die profete en ander wat in die boek gemeld word? Kom ons kyk wat ons uit Tweede Konings kan leer.
ELISA VOLG ELIA OP
Koning Ahasia van Israel val in sy huis en is siek. Die profeet Elia sê dat hy gaan sterf. Ahasia sterf, en sy broer Joram bestyg die troon. Intussen is Josafat koning oor Juda. Elia word in ’n windstorm opgeneem, en sy helper, Elisa, volg hom op as profeet. Gedurende die ongeveer 60 jaar van Elisa se bediening wat hierop volg, verrig hy baie wonderwerke.—Sien die venster “Elisa se wonderwerke”.
Wanneer ’n Moabitiese koning teen Israel in opstand kom, trek Joram, Josafat en die koning van Edom uit om hom in die geveg te ontmoet. Hulle word die oorwinning gegee danksy Josafat se getrouheid. Later beplan die koning van Sirië ’n verrassingsaanval teen Israel. Maar Elisa verydel die plan. Die Siriese koning is woedend en stuur “perde en strydwaens en ’n swaar krygsmag” om Elisa gevange te neem (2 Konings 6:14). Elisa verrig twee wonderwerke en laat die Siriërs in vrede terugkeer huis toe. Later beleër die Siriese koning Ben-Hadad Samaria. Dit lei tot ’n swaar hongersnood, maar Elisa voorspel dat die hongersnood sal eindig.
’n Ruk later gaan Elisa na Damaskus. Koning Ben-Hadad, wat nou siek is, stuur Hasael om te vra of hy van sy siekte sal herstel. Elisa voorspel dat die koning sal sterf en dat Hasael in sy plek sal regeer. Net die volgende dag versmoor Hasael die koning onder ’n nat “toudoek” en neem hy die koningskap oor (2 Konings 8:15, voetnoot in NW). In Juda word Josafat se seun Joram koning, en hy word deur sy seun Ahasia opgevolg.—Sien die venster “Konings van Juda en van Israel”.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:9—Waarom het Elisa ‘twee dele van Elia se gees’ gevra? Om die verantwoordelikheid as ’n profeet vir Israel na te kom, sou Elisa dieselfde gees nodig hê as wat Elia getoon het, naamlik van moed en onverskrokkenheid. Elisa het dit besef en ’n dubbele deel van Elia se gees gevra. Elisa is deur Elia aangestel as sy opvolger en was ses jaar lank sy dienaar, en daarom het Elisa Elia as sy geestelike vader beskou; Elisa was soos Elia se eersgebore geestelike seun (1 Konings 19:19-21; 2 Konings 2:12). Net soos die letterlike eersgeborene twee dele van sy vader se erfenis ontvang het, het Elisa dus twee dele van die geestelike erfenis van Elia gevra en ontvang.
2:11—Wat was “die hemel” waarheen ‘Elia in die windstorm opgevaar het’? Dit was nie die afgeleë dele van die fisiese heelal of die geestelike plek waar God en sy engeleseuns woon nie (Deuteronomium 4:19; Psalm 11:4; Matteus 6:9; 18:10). “Die hemel” waarheen Elia opgevaar het, was die atmosferiese hemel (Psalm 78:26; Matteus 6:26). Die strydwa van vuur het vinnig deur die aarde se atmosfeer beweeg en Elia blykbaar na ’n ander deel van die aarde geneem, waar hy nog ’n ruk lank gelewe het. Trouens, Elia het jare later ’n brief aan Joram, die koning van Juda, geskryf.—2 Kronieke 21:1, 12-15.
5:15, 16—Waarom het Elisa nie Naäman se geskenk aanvaar nie? Elisa het die geskenk van die hand gewys omdat hy geweet het dat die wonderdadige genesing van Naäman deur Jehovah se krag plaasgevind het, nie deur sy eie nie. Dit sou vir hom ondenkbaar wees om munt te slaan uit sy godgegewe amp. Ware aanbidders van vandag probeer nie persoonlike voordeel uit Jehovah se diens trek nie. Hulle neem Jesus se vermaning ter harte: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.”—Matteus 10:8.
5:18, 19—Het Naäman vergifnis gevra omdat hy aan ’n godsdienstige daad sou moes deelneem? Die Siriese koning was blykbaar oud en swak en moes vir steun op Naäman leun. Wanneer die koning hom in die aanbidding van Rimmon neergebuig het, het Naäman dit ook gedoen. Vir Naäman was dit egter bloot ’n meganiese daad, met die uitsluitlike doel om die liggaam van die koning te ondersteun en nie om aanbidding te verrig nie. Naäman het Jehovah gevra om hom vir die verrigting van hierdie burgerlike plig te vergewe. Elisa het Naäman geglo en vir hom gesê: “Gaan in vrede.”
Lesse vir ons:
1:13, 14. As ’n mens leer uit wat jy sien en nederig optree, kan dit lewens red.
2:2, 4, 6. Hoewel Elisa moontlik al ses jaar lank Elia se dienaar was, het hy geweier om hom te verlaat. Wat ’n uitstekende voorbeeld van lojaliteit en vriendskap!—Spreuke 18:24.
2:23, 24. Die hoofrede vir hierdie bespotting van Elisa was blykbaar omdat ’n man met ’n kaal kop Elia se amptelike kleed gedra het. Die kinders het Elisa as Jehovah se verteenwoordiger herken en wou hom eenvoudig nie daar hê nie. Hulle het vir hom gesê: “Gaan op”, dit wil sê om verby te hou en na Bet-El op te gaan of om soos Elia opgeneem te word. Die kinders het blykbaar die vyandige gesindheid van hulle ouers weerspieël. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ouers hulle kinders leer om God se verteenwoordigers te respekteer!
3:14, 18, 24. Jehovah se woorde word altyd bewaarheid.
3:22. Die weerkaatsing van die vroeë oggendlig het die illusie geskep dat die water bloed is, miskien omdat die grond in die nuut gegraafde vore rooi klei bevat het. Jehovah kan besluit om natuurverskynsels te gebruik om sy voornemens te verwesenlik.
4:8-11. ’n Vrou in Sunem het besef dat Elisa “’n heilige man van God” is en het gasvryheid aan hom betoon. Moet ons nie dieselfde teenoor getroue aanbidders van Jehovah doen nie?
5:3. Die Israelitiese meisietjie het geloof gestel in God se vermoë om wonderwerke te verrig. Sy het ook die moed gehad om oor haar geloof te praat. Jongmense, streef julle daarna om julle geloof in God se beloftes te versterk en moed bymekaar te skraap om die waarheid aan julle onderwysers en skoolmaats bekend te maak?
5:9-19. Toon Naäman se voorbeeld nie dat ’n trotse persoon nederigheid kan leer nie?—1 Petrus 5:5.
5:20-27. Wat ’n prys om te betaal omdat hy ’n leuen probeer leef het! As ons dink aan die persoonlike leed en tragiese gevolge wat dit kan meebring as ons ’n dubbele lewe lei, sal dit ons help om so ’n weg te vermy.
ISRAEL EN JUDA WORD IN BALLINGSKAP WEGGEVOER
Jehu word as koning oor Israel gesalf. Hy begin onmiddellik met die veldtog om die huis van Agab uit te wis. Jehu ‘verdelg Baälaanbidding uit Israel’ op vernuftige wyse (2 Konings 10:28). Wanneer Ahasia se moeder, Atalia, uitvind dat haar seun deur Jehu doodgemaak is, ‘staan sy op om die hele nageslag van die koninkryk van Juda dood te maak’ en neem sy die troon oor (2 Konings 11:1). Net Ahasia se babaseuntjie, Joas, word gered, en nadat hy ses jaar lank verborge gebly het, word hy as koning oor Juda aangestel. Joas word deur Jojada, die priester, onderrig en bly doen wat reg is in Jehovah se oë.
Al die konings wat ná Jehu oor Israel regeer, doen wat sleg is in Jehovah se oë. Elisa sterf ’n natuurlike dood in die tyd van Jehu se kleinseun. Die vierde Judese koning ná Joas is Agas, en hy ‘doen nie wat reg is in die oë van Jehovah nie’ (2 Konings 16:1, 2). Maar sy seun Hiskia is ’n koning wat “Jehovah bly aankleef” (2 Konings 17:20; 18:6). In 740 v.G.J., wanneer Hiskia koning oor Juda is en Hosea oor Israel regeer, neem die Assiriese koning Salmaneser ‘Samaria in en voer hy Israel in ballingskap weg na Assirië’ (2 Konings 17:6). Daarna word uitlanders na die gebied van Israel gebring, en die Samaritaanse godsdiens word gebore.
Van die sewe konings wat ná Hiskia in Juda regeer, doen net Josia stappe om valse aanbidding uit die land uit te roei. Uiteindelik neem die Babiloniërs Jerusalem in 607 v.G.J. in, en ‘Juda gaan uit sy land in ballingskap’.—2 Konings 25:21.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
13:20, 21—Verskaf hierdie wonderwerk ’n grondslag vir die verering van godsdiensrelieke? Nee. Die Bybel sê nie dat Elisa se beendere ooit vereer is nie. Dit was God se krag wat hierdie wonderwerk moontlik gemaak het, net soos in die geval van al die wonderwerke wat Elisa verrig het terwyl hy gelewe het.
15:1-6—Waarom het Jehovah Asarja (Ussia, 15:6, voetnoot in NW) met melaatsheid getref? “Net toe [Ussia] sterk geword het, het sy hart . . . hoogmoedig geword . . . , sodat hy ontrou gehandel het teenoor Jehovah sy God en in die tempel van Jehovah ingegaan het om reukwerk op die reukaltaar te brand.” Toe die priesters ‘teen Ussia opgestaan het’ en vir hom gesê het om ‘uit die heiligdom uit te gaan’, het hy woedend geword vir die priesters en is hy met melaatsheid getref.—2 Kronieke 26:16-20.
18:19-21, 25—Het Hiskia ’n bondgenootskap met Egipte aangegaan? Nee. Rabsake se aantyging was vals, en so ook sy bewering dat hy met “magtiging van Jehovah” gekom het. Getroue koning Hiskia het uitsluitlik op Jehovah vertrou.
Lesse vir ons:
9:7, 26. Die swaar oordeel teen die huis van Agab toon dat valse aanbidding en die vergieting van onskuldige bloed vir Jehovah verfoeilik is.
9:20. Jehu se reputasie as ’n woeste strydwadrywer het bewys gelewer van die ywer waarmee hy sy opdrag uitgevoer het. Staan jy bekend as ’n ywerige Koninkryksverkondiger?—2 Timoteus 4:2.
9:36, 37; 10:17; 13:18, 19, 25; 14:25; 19:20, 32-36; 20:16, 17; 24:13. Ons kan die volle vertroue hê dat ‘die woord wat uit Jehovah se mond uitgaan, altyd sukses behaal’.—Jesaja 55:10, 11.
10:15. Net soos Jonadab Jehu se uitnodiging om by hom op die strydwa te klim, heelhartig aanvaar het, gee die “groot menigte” hulle gewillige ondersteuning aan Jesus Christus, die hedendaagse Jehu, en aan sy gesalfde volgelinge.—Openbaring 7:9.
10:30, 31. Hoewel Jehu se rekord nie vlekkeloos was nie, het Jehovah waardering getoon vir alles wat hy gedoen het. Ja, ‘God is nie onregverdig sodat hy ons werk sal vergeet nie’.—Hebreërs 6:10.
13:14-19. Aangesien Jehu se kleinseun, Joas, hom nie ingespan het nie, maar net drie keer met pyle teen die grond geslaan het, het hy die Siriërs net in beperkte mate verslaan. Jehovah verwag dat ons die werk wat hy aan ons toegewys het, heelhartig en ywerig doen.
20:2-6. Jehovah is die “Hoorder van die gebed”.—Psalm 65:2.
24:3, 4. As gevolg van Manasse se bloedskuld ‘wou Jehovah nie vergifnis skenk’ aan Juda nie. God respekteer die bloed van die onskuldiges. Ons kan die volle vertroue hê dat Jehovah onskuldige bloed sal wreek deur dié te vernietig wat vir die vergieting daarvan verantwoordelik is.—Psalm 37:9-11; 145:20.
Nuttig vir ons
Die boek Tweede Konings beeld Jehovah uit as die Vervuller van beloftes. Die ballingskap van inwoners van die twee koninkryke, eers van Israel en toe van Juda, bring dit kragtig onder ons aandag hoe die profetiese oordeel wat in Deuteronomium 28:15–29:28 opgeteken staan, bewaarheid is. Tweede Konings beskryf Elisa as ’n profeet met groot ywer vir Jehovah se naam en vir ware aanbidding. Hiskia en Josia word uitgebeeld as nederige konings wat God se Wet respekteer.
Leer ons nie waardevolle lesse oor wat ons moet nastreef en wat ons moet vermy wanneer ons peins oor die gesindheid en dade van die konings, profete en ander na wie daar in Tweede Konings verwys word nie? (Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11). Ja, “die woord van God is lewend en oefen krag uit”.—Hebreërs 4:12.
[Venster/Prent op bladsy 10]
ELISA SE WONDERWERKE
1. Die waters van die Jordaan word verdeel.—2 Konings 2:14
2. Die slegte water van Jerigo word gesond gemaak.—2 Konings 2:19-22
3. Jong deugniete word deur bere aangeval.—2 Konings 2:23, 24
4. Water word aan leërs voorsien.—2 Konings 3:16-26
5. ’n Weduwee ontvang eetbare olie.—2 Konings 4:1-7
6. ’n Onvrugbare Sunammitiese vrou word swanger.—2 Konings 4:8-17
7. ’n Kind word uit die dode opgewek.—2 Konings 4:18-37
8. ’n Giftige gereg word eetbaar.—2 Konings 4:38-41
9. Eenhonderd man word met 20 brode gevoed.—2 Konings 4:42-44
10. Naäman se melaatsheid word genees.—2 Konings 5:1-14
11. Gehasi kry Naäman se melaatsheid.—2 Konings 5:24-27
12. ’n Bylkop dryf.—2 Konings 6:5-7
13. ’n Kneg sien engelestrydwaens.—2 Konings 6:15-17
14. Die Siriese leër word met blindheid geslaan.—2 Konings 6:18
15. Die sig van die Siriese leër word herstel.—2 Konings 6:19-23
16. ’n Dooie man word lewend.—2 Konings 13:20, 21
[Tabel/Prente op bladsy 12]
KONINGS VAN JUDA EN VAN ISRAEL
Saul/Dawid/Salomo: 1117/1077/1037 v.G.J.a
KONINKRYK VAN JUDA DATUM (v.G.J.) KONINKRYK VAN ISRAEL
Rehabeam ․․․․․ 997 ․․․․․ Jerobeam
Abia/Asa ․․․ 980/978 ․․․
․ 976/975/952 ․ Nadab/Baäsa/Ela
․ 951/951/951 ․ Simri/Omri/Tibni
․․․․․ 940 ․․․․․ Agab
Josafat ․․․․․ 937 ․․․․․
․․․ 920/917 ․․ Ahasia/Joram
Joram ․․․․․ 913 ․․․․․
Ahasia ․․․․․ 906 ․․․․․
(Atalia) ․․․․․ 905 ․․․․․ Jehu
Joas ․․․․․ 898 ․․․․․
․․․ 876/859 ․․․ Joahas/Joas
Amasia ․․․․․ 858 ․․․․․
․․․․․ 844 ․․․․․ Jerobeam II
Asarja (Ussia) ․․․․․ 829 ․․․․․
․ 803/791/791 ․ Sagaria/Sallum/Menahem
․․․ 780/778 ․․․ Pekahia/Peka
Jotam/Agas ․․․ 777/762 ․․․
․․․․․ 758 ․․․․․ Hosea
Hiskia ․․․․․ 746 ․․․․․
․․․․․ 740 ․․․․․ Samaria ingeneem
Manasse/Amon/Josia ․ 716/661/659 ․
Joahas/Jojakim ․․․ 628/628 ․․․
Jojagin/Sedekia ․․․ 618/617 ․․․
Jerusalem vernietig ․․․․․ 607 ․․․․․
[Voetnoot]
a Party van die datums is die benaderde aanvangsjaar van die bewind.
[Prent op bladsy 8, 9]
Naäman het hom verneder en is deur Jehovah se krag genees
[Prent op bladsy 8, 9]
Wat het met Elia gebeur toe hy ‘in die windstorm opgevaar het’?