Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr23 November bl. 1-10
  • Verwysings vir die ”Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die ”Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek”
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2023
  • Onderhofies
  • 6-12 NOVEMBER
  • 13-19 NOVEMBER
  • 20-26 NOVEMBER
  • 27 NOVEMBER–3 DESEMBER
  • 4-10 DESEMBER
  • 11-17 DESEMBER
  • 18-24 DESEMBER
  • 25-31 DESEMBER
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2023
mwbr23 November bl. 1-10

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

© 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania

6-12 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 13-⁠14

“As ’n man sterf, kan hy weer lewe?”

w99 10/15 3 ¶1-⁠3

Ons soeke na ’n langer lewe

SELFS vandag sou min mense hierdie gedagte oor die kortstondigheid van die lewe weerspreek, hoewel dit ongeveer 3 500 jaar gelede geskryf is. Dit was nog altyd vir mense onbevredigend om ’n kort rukkie die bloei van die lewe te geniet en dan oud te word en te sterf. Derhalwe is baie metodes om die lewe te verleng deur die geskiedenis heen op die proef gestel.

In Job se tyd het die Egiptenare die testikels van diere geëet in ’n vergeefse poging om weer jonk te word. Een van die hoofdoelwitte van Middeleeuse alchemie was om ’n elikser te vervaardig wat ’n langer lewe moontlik kon maak. Baie alchemiste het geglo dat goud wat kunsmatig vervaardig is onsterflikheid sou meebring en dat ’n mens jou lewe kon verleng deur uit ’n goue bord te eet. Eertydse Chinese Taoïste het gedink dat hulle deur middel van tegnieke soos meditasie, asemhalingsoefeninge en dieet die liggaam se chemiese samestelling kon verander en sodoende onsterflikheid kon verkry.

Die Spaanse ontdekkingsreisiger Juan Ponce de León is bekend vir sy eindelose soeke na die fontein van jeug. ’n Agtiende-eeuse dokter het in sy boek Hermippus Redivivus aanbeveel dat jong maagde in die lente in ’n klein kamertjie gehou word en dat die lug wat hulle uitasem in bottels opgevang word en dan gebruik moet word om die lewe te verleng. Al hierdie pogings was natuurlik tevergeefs.

w15 4/15 32 ¶1-⁠2

Kan ’n afgekapte boom weer uitspruit?

IN VERGELYKING met ’n pragtige sederboom van die Libanon lyk ’n krom en verwronge olyfboom dalk nie besonder indrukwekkend nie. Maar olyfbome het die verstommende vermoë om in moeilike omstandighede te oorleef. Party is omtrent 1 000 jaar oud. Die olyfboom se wortels groei tot diep in die grond, en die boom kan herstel selfs as die stam vernietig is. Solank die wortels bly lewe, sal die boom weer groei.

Die getroue man Job het die vertroue gehad dat hy weer sal lewe, al sterf hy (Job 14:​13-15). Hy het ’n boom, moontlik ’n olyfboom, as ’n voorbeeld gebruik om sy vertroue te toon in God se vermoë om hom op te wek. Job het gesê: “Selfs vir ’n boom is daar hoop. As hy afgekap word, sal hy weer uitspruit.” Wanneer dit ná ’n droogte weer reën, kan die droë stomp van ’n olyfboom weer begin groei en “ ’n tak voortbring soos ’n nuwe plant”.—Job 14:​7-⁠9.

w11 3/1 22 ¶5

‘U sal vurig verlang’

Job se woorde leer ons ’n pragtige les oor Jehovah: Hy het ’n spesiale liefde vir diegene wat hulle, soos Job, in sy hande laat en hom toelaat om hulle te vorm sodat hulle mense kan word wat begeerlik is in sy oë (Jesaja 64:⁠8). Vir Jehovah is sy getroue knegte kosbaar. Hy ‘verlang vurig’ na lojales wat gesterf het. Die Hebreeuse woord wat so vertaal word, is “ongetwyfeld een van die kragtigste woorde om die emosie van verlange uit te druk”, sê een geleerde. Ja, Jehovah onthou nie net sy aanbidders nie, maar hy smag ook daarna om hulle weer lewend te maak.

Geestelike skatte

it-1-E 191

As

As het ook iets wat onbelangrik of waardeloos is, voorgestel, Abraham het byvoorbeeld voor Jehovah erken: “Ek [is] net stof en as” (Ge 18:​27; sien ook Jes 44:​20; Job 30:​19). En Job het die woorde van sy valse vertroosters met as vergelyk. – Job 13:⁠12.

13-19 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 15-⁠17

“Moenie soos Elifas wees wanneer jy ander vertroos nie”

w05 9/15 26 ¶4-⁠5

Weerstaan verkeerde denke!

In al drie redevoerings het Elifas die idee geopper dat God so veeleisend is dat niks wat sy knegte doen, vir hom goed genoeg is nie. “Kyk! In sy knegte het hy geen geloof nie”, het Elifas vir Job gesê, “en sy boodskappers beskuldig hy van dwaling” (Job 4:​18, voetnoot in NW). Elifas het later van God gesê: “In sy heiliges het hy geen geloof nie, en die hemele is nie rein in sy oë nie” (Job 15:​15). En hy het gevra: “Skep die Almagtige enigsins behae daarin dat jy regverdig is?” (Job 22:⁠3). Bildad het met hierdie beskouing saamgestem, want hy het gesê: “Daar is selfs die maan, en dit is nie helder nie; en die sterre is nie rein in [God se] oë nie.”—Job 25:⁠5.

Ons moet oppas dat ons nie deur sulke denke beïnvloed word nie. Dit kan ons laat voel dat God te veel van ons vereis. Hierdie beskouing benadeel ons verhouding met Jehovah. En as ons voor sulke redenasies swig, hoe sal ons dan reageer wanneer ons die nodige dissipline gegee word? In plaas van die teregwysing nederig te aanvaar, sal ons hart dalk “woedend vir Jehovah” word, en ons sal hom miskien kwalik neem (Spreuke 19:⁠3). Dit sal geestelik rampspoedig wees!

w15 2/15 8 ¶16

Volg Jesus se nederigheid en teerheid na

16 Ons tere woorde. Ons tere gevoelens sal ons beweeg om “vertroostend met die terneergedrukte siele [te praat]” (1 Tessalonisense 5:​14). Wat kan ons sê om hulle aan te moedig? Ons kan vir hulle sê dat ons werklik vir hulle omgee. Ons kan hulle prys en hulle help om hulle goeie eienskappe en vermoëns raak te sien. Ons kan hulle daaraan herinner dat Jehovah hulle gehelp het om die waarheid te vind, en daarom is hulle beslis vir hom kosbaar (Johannes 6:​44). Ons kan hulle verseker dat Jehovah diep besorg is oor sy knegte wat ‘gebroke van hart’ of ‘verbryseld van gees’ is (Psalm 34:​18). Ons tere woorde kan diegene wat vertroosting nodig het, werklik verkwik.—Spreuke 16:⁠24.

Geestelike skatte

w06 3/15 14 ¶11

Glanspunte uit die boek Job

7:​9, 10; 10:​21; 16:​22—Toon hierdie woorde dat Job nie in die opstanding geglo het nie? Job het hier van sy onmiddellike toekoms gepraat. Wat het hy dan bedoel? Een moontlikheid is dat nie een van sy tydgenote hom meer sou sien as hy sou sterf nie. Vanuit hulle oogpunt sou hy nie na sy huis terugkeer of verdere erkenning kry tot op God se vasgestelde tyd nie. Job het dalk ook bedoel dat niemand sonder hulp uit Sjeool kan terugkom nie. Job 14:​13-15 toon duidelik dat Job op ’n toekomstige opstanding gehoop het.

20-26 NOVEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 18-⁠19

“Moet nooit jou broers en susters alleen laat voel nie”

w22.01 16 ¶9

Jesus se trane – Wat kan ons daaruit leer?

9 Jy kan mense ondersteun wat treur. Jesus het nie net saam met Marta en Maria gehuil nie. Hy het ook na hulle geluister en hulle vertroos. Ons kan dieselfde doen vir dié wat treur. Dan, ’n ouerman wat in Australië bly, sê: “Nadat ek my vrou in die dood verloor het, het ek ondersteuning nodig gehad. Daar was baie broers en hulle vrouens wat dag en nag bereid was om na my te luister. Hulle het my toegelaat om te treur, en hulle het nie skaam geraak toe ek gehuil het nie. Hulle het my ook op praktiese maniere gehelp. Hulle het my kar gewas, vir my inkopies gedoen en vir my gekook toe ek gevoel het dat ek nie self hierdie dinge kon doen nie. Hulle het ook gereeld saam met my gebid. Hulle het gewys dat hulle ware vriende is en dat hulle regtig ‘broers is gedurende moeilike tye’ ”. – Spr. 17:⁠17.

w21.09 30 ¶16

Wanneer ’n geliefde Jehovah verlaat

16 Hou aan om dié te ondersteun wat ’n familielid het wat uitgesit is. Hulle het jou liefde en aanmoediging nou meer as ooit tevore nodig (Heb. 10:​24, 25). Soms het broers en susters wat in so ’n situasie is, gevoel dat hulle deur die gemeente uitgesluit word. Moenie toelaat dat dit gebeur nie! Veral jongmense wie se ouers die waarheid verlaat het, het aanmoediging nodig en moet geprys word. Maria, wie se man uitgesit is en die familie verlaat het, sê: “Party van my vriende het na ons huis toe gekom en kos gekook en ons gehelp met ons gesinstudie. Hulle het verstaan hoe ek voel en het saam met my gehuil. Hulle het vir my opgekom toe mense dinge oor my gesê het wat nie waar was nie. Hulle het my baie beter laat voel!” – Rom. 12:​13, 15.

w90 9/1 22 ¶20

Strewe jy na ’n opsienersamp?

20 ’n Liggaam van ouere manne moet besef dat afsetting spanning vir ’n voormalige opsiener of bedieningskneg kan veroorsaak, selfs al doen hy vrywillig afstand van die voorreg. As hy nie uitgesit is nie, en die ouere manne sien dat die broer neerslagtig is, moet hulle liefdevol geestelike bystand aan hom verleen (1 Thessalonicense 5:​14). Hulle moet hom help besef dat hy nodig is in die gemeente. Selfs al was dit nodig om hom te berispe, sal dit moontlik nie te lank duur voor ’n nederige en dankbare man weer bykomende diensvoorregte in die gemeente ontvang nie.

Geestelike skatte

w94 10/1 32

Die krag van ’n vriendelike woord

Maar toe Job self aanmoediging nodig gehad het, het Elifas en sy metgeselle nie vriendelike woorde geuiter nie. Hulle het Job die skuld vir sy teëspoed gegee en te kenne gegee dat hy die een of ander geheime sonde moes gedoen het (Job 4:⁠8). The Interpreter’s Bible sê: “Wat Job nodig het, is die medelye van ’n mensehart. Hy kry egter ’n reeks volkome ‘waar’ en pragtige godsdiensclichés en morele gemeenplase.” Job was so ontsteld toe hy die woorde van Elifas en sy metgeselle gehoor het dat hy noodgedwonge uitgeroep het: “Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?”—Job 19:⁠2.

Ons moet nooit die oorsaak wees dat ’n medekneg van God vanweë ons onbedagsame, onvriendelike woorde in benoudheid uitroep nie. (Vergelyk Deuteronomium 24:​15.) ’n Bybelspreuk waarsku: “Wat jy sê, kan lewe bewaar of dit vernietig; dus moet jy die gevolge van jou woorde aanvaar.”—Spreuke 18:​21, TEV.

27 NOVEMBER–3 DESEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 20-⁠21

“Regverdigheid word nie bepaal deur rykdom nie”

w07 8/1 29 ¶12

Is jy ‘ryk teenoor God’?

12 In Jesus se stelling vind ons ’n kontras tussen die gedagte om ryk teenoor God te wees en om materiële skatte vir jouself op te gaar, oftewel om jouself materieel te verryk. Jesus het dus gesê dat die opgaar van materiële rykdom of die genieting van wat ons besit, nie die hoofsaak in ons lewe moet wees nie. Ons moet eerder ons middele op so ’n manier gebruik dat dit ons verhouding met Jehovah verryk, of versterk. As ons dit doen, sal dit ons beslis ryk maak teenoor God. Waarom? Want dit maak dit moontlik om baie seëninge van hom te ontvang. Die Bybel sê vir ons: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spreuke 10:⁠22.

Geestelike skatte

w95 1/1 9 ¶19

Seëvier oor Satan en sy werke

19 Dit is interessant dat God se kneg Job met “verontrustende gedagtes” te kampe gehad het wat Satan deur Elifas en Sofar oorgedra het (Job 4:​13-18, vgl. NW; 20:​2, 3). Job het dus “wrewel” gevoel, wat daartoe gelei het dat hy op ’n “wilde wyse” gespreek het oor die “verskrikkinge” wat sy verstand geteister het (Job 6:​2-⁠4, vgl. NW; 30:​15, 16). Elihu het stilweg na Job geluister en hom opreg gehelp om Jehovah se alwyse beskouing van sake in te sien. Op soortgelyke wyse toon ouere manne wat begrip openbaar dat hulle vir gekweldes omgee deur nie nog meer “druk” op sulke persone uit te oefen nie. Hulle sal eerder, soos Elihu, geduldig na sulke persone luister en dan die strelende olie van God se Woord aanwend (Job 33:​1-3, 7; Jakobus 5:​13-15). Daarom kan enigeen wie se emosies deur traumas, werklik of denkbeeldig, verontrus word, of wat soos Job ‘deur drome en deur gesigte verskrik’ word, strelende skriftuurlike vertroosting binne die gemeente vind.—Job 7:​14; Jakobus 4:⁠7.

4-10 DESEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 22-⁠24

“Kan ’n mens vir God nuttig wees?”

w05 9/15 27 ¶1-⁠3

Weerstaan verkeerde denke!

Die idee dat God te veeleisend is, is nou verwant aan die beskouing dat hy mense nutteloos ag. Elifas se derde redevoering bevat die vraag: “Kan ’n man vir God van nut wees, sodat iemand wat insig het, vir hom van nut sou wees?” (Job 22:⁠2). Elifas het te kenne gegee dat die mens vir God nutteloos is. In dieselfde trant het Bildad geredeneer: “Hoe kan ’n sterflike mens dan reg wees voor God, of hoe kan iemand wat uit ’n vrou gebore is, rein wees?” (Job 25:⁠4). Hoe kon Job, ’n blote mens, volgens hierdie redenasie, ooit dink dat hy ’n regverdige posisie voor God kon hê?

Vandag word sommige mense deur negatiewe gevoelens oor hulleself geteister. Faktore soos gesinsagtergrond, blootstelling aan die druk van die lewe of lyding weens rasse- of etniese haat kan daartoe bygedra het. Maar Satan en sy demone skep ook behae daarin om mense te verbrysel. As hulle iemand kan beïnvloed sodat hy dink dat niks wat hy doen, vir God die Almagtige goed genoeg is nie, sal hy makliker moedeloos word. So ’n persoon kan met verloop van tyd wegdryf, hom selfs terugtrek, van die lewende God.—Hebreërs 2:⁠1; 3:⁠12.

Ouderdom en gesondheidsprobleme beperk ons. Die aandeel wat ons aan Koninkryksdiens het, lyk dalk baie klein in vergelyking met wat ons gedoen het toe ons jonger, gesonder en sterker was. Hoe belangrik is dit tog om te besef dat Satan en sy demone ons wil laat voel dat wat ons doen, nie vir God goed genoeg is nie! Ons moet sulke denke weerstaan.

w95 2/15 27 ¶6

’n Les oor hoe om probleme te hanteer

Job se drie metgeselle het hom verder ontmoedig deur persoonlike menings pleks van Goddelike wysheid uit te spreek. Elifas het selfs gesê dat ‘God geen vertroue in sy dienaars stel nie’ en dat dit nie werklik vir Jehovah saak maak of Job regverdig is of nie (Job 4:​18; 22:​2, 3). ’n Mens kan nouliks aan ’n ontmoedigender—of valser—opmerking as dit dink! Dit verbaas ons nie dat Jehovah Elifas en sy metgeselle later weens hierdie godslastering bestraf het nie. ‘Julle het nie die waarheid oor My gepraat nie’, het hy gesê (Job 42:​7, NAV). Maar die skadelikste bewering moes nog kom.

w03 4/15 14-15 ¶10-⁠12

Jongmense wat Jehovah se hart bly maak

10 Soos die Bybelverslag toon, het Satan nie net die lojaliteit van Job bevraagteken nie, maar ook dié van alle ander mense wat God dien—jy inkluis. Trouens, Satan het van die mensdom in die algemeen gepraat en vir Jehovah gesê: “Alles wat ’n mens het [nie net Job nie, maar enigiemand], sal hy gee vir sy siel” (Job 2:⁠4). Sien jy jou rol in hierdie lewensbelangrike geskil? Soos in Spreuke 27:​11 getoon word, sê Jehovah dat daar iets is wat jy aan hom kan gee—’n grondslag vir hom om ’n antwoord te gee aan Satan, die een wat hom uittart. Dink net—die Universele Soewerein vra jou om ’n antwoord in die grootste geskil van alle tye te help voorsien. Wat ’n ontsagwekkende verantwoordelikheid en voorreg het jy tog! Kan jy doen wat Jehovah van jou vra? Job het (Job 2:​9, 10). So ook Jesus sowel as talle ander mense deur die geskiedenis heen, met inbegrip van baie jongmense (Filippense 2:⁠8; Openbaring 6:⁠9). Jy kan dit ook doen. Maar een ding is seker, jy kan nie in hierdie saak neutraal wees nie. Deur jou handelswyse sal jy toon dat jy óf Satan se uittarting óf Jehovah se antwoord ondersteun. Watter een gaan jy ondersteun?

Jehovah gee vir jou om!

11 Maak jou keuse regtig saak vir Jehovah? Was daar nie al genoeg mense wat getrou gebly het sodat hy ’n voldoende antwoord aan Satan kan gee nie? Die Duiwel het weliswaar beweer dat niemand Jehovah uit liefde dien nie, ’n aantyging wat reeds vals bewys is. Maar Jehovah wil hê dat jy jou aan sy kant van die geskil oor soewereiniteit moet skaar omdat hy vir jou as persoon omgee. Jesus het gesê: “Dit [is] vir my Vader wat in die hemel is, nie wenslik dat een van hierdie kleintjies vergaan nie.”—Matteus 18:⁠14.

12 Dit is duidelik dat Jehovah belangstel in die weg wat jy kies. Wat meer is, hy word daardeur geraak. Die Bybel toon duidelik dat Jehovah diep gevoelens het wat deur die goeie of slegte dade van mense gewek word. Byvoorbeeld, toe die Israeliete herhaaldelik in opstand gekom het, het dit Jehovah “bedroef” (Psalm 78:​40, 41). Voor die Vloed van Noag se dag, toe “die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde was”, het Jehovah “gekrenk gevoel in sy hart” (Genesis 6:​5, 6). Dink aan wat dit beteken. As jy ’n verkeerde weg inslaan, kan jy jou Skepper bedroef. Dit beteken nie dat God swak is of hom deur emosies laat beheer nie. Dit beteken eerder dat hy jou liefhet en besorg is oor jou welsyn. Wanneer jy daarenteen doen wat reg is, maak dit Jehovah se hart bly. Hy is nie net bly omdat hy nog ’n antwoord het om aan Satan te gee nie, maar ook omdat hy nou jou Beloner kan word. En dit is iets wat hy graag wil wees (Hebreërs 11:⁠6). Wat ’n liefdevolle Vader het jy tog in Jehovah God!

Geestelike skatte

w04 7/15 21-​22

Gebruik geestelike doelwitte om jou Skepper te verheerlik

Dink aan hoe Jehovah te werk gegaan het om die heelal te skep. Met die woorde “dit was aand en dit was oggend”, het Jehovah die opeenvolgende skeppingstydperke afgebaken (Genesis 1:​5, 8, 13, 19, 23, 31). Aan die begin van elke skeppingstydperk het hy presies geweet wat sy doelwit, of oogmerk, vir daardie dag was. En God het sy voorneme om dinge te skep, uitgevoer (Openbaring 4:​11). “[Jehovah se] siel het ’n begeerte, en hy sal dit volbring”, het die aartsvader Job gesê (Job 23:​13). Hoe bevredigend moes dit tog vir Jehovah gewees het om “alles [te sien] wat hy gemaak het” en te verklaar dat dit “baie goed” is!—Genesis 1:⁠31.

As ons wil hê dat ons doelwitte ’n werklikheid moet word, moet ons ook ’n sterk begeerte hê om dit te bereik. Wat sal ons help om so ’n intense begeerte te ontwikkel? Selfs toe die aarde vormloos en woes was, kon Jehovah die eindresultaat vooruitsien—’n pragtige juweel in die ruimte, tot sy eer en heerlikheid. Net so kan ons die begeerte aankweek om die dinge uit te voer wat ons beplan, deur te peins oor die resultate en die voordele wat dit sal meebring wanneer ons die doelwit bereik. Dit was die geval met die 19-jarige Tony. Hy het nooit sy eerste indrukke vergeet nadat hy ’n takkantoor van Jehovah se Getuies in Wes-Europa besoek het nie. Van toe af het Tony voortdurend gewonder: ‘Hoe sal dit wees om in so ’n plek te woon en te dien?’ Tony het gedurig aan die moontlikheid gedink, en hy het dit altyddeur nagestreef. Hoe bly was hy tog toe sy aansoek om by die takkantoor te dien, ’n paar jaar later goedgekeur is!

11-17 DESEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 25-⁠27

“Integriteit vereis nie volmaaktheid nie”

it-1-E 1210 ¶4

Integriteit

Job. Job, wat blykbaar gedurende die tyd tussen die dood van Josef en die tyd van Moses gelewe het, word beskryf as ’n man wat ’n rein lewe [Heb., tam] gelei het, integriteit gehad het, God gevrees het en wat sleg was, vermy het (Job 1:⁠1; sien JOB.) Die feit dat God sy Teenstander oor Job gevra het toe die engele voor Jehovah verskyn het, wys duidelik dat die mens se integriteit deel is van die kwessie tussen Jehovah God en Satan. Satan het gesê dat Job God vir verkeerde redes dien. Hy het gesê dat hy dit vir selfsugtige redes doen en nie uit toegewydheid nie. Hy het eintlik Job se integriteit teenoor God bevraagteken. Satan was toegelaat om al Job se besittings en selfs sy kinders weg te vat, maar hy het dit nog steeds nie reggekry om Job se integriteit te breek nie (Job 1:⁠6–​2:⁠3). Hy het toe gesê dat Job bereid was om sy besittings en kinders te verloor so lank as wat hy sy eie lewe kon red (Job 2:​4, 5). Nadat Job met ’n pynlike siekte getref is, sy vrou hom probeer kry het om van plan te verander en hy deur sy vriende wat God se standaarde en doel verdraai het, gekritiseer is, (Job 2:​6-​13; 22:​1, 5-​11) het Job nog steeds sy integriteit behou. Hy het gesê: “Totdat ek sterf, sal ek nie my integriteit prysgee nie! Ek sal aanhou om my onskuld te verdedig. Ek sal nooit ophou nie. Solank as wat ek lewe, sal my hart my nie veroordeel nie” (Job 27:​5, 6). Die feit dat hy sy integriteit behou het, het gewys dat God se Teenstander ’n leuenaar is.

w19.02 3 ¶3-⁠5

Behou jou onkreukbaarheid!

3 Wat beteken onkreukbaarheid vir ons as God se knegte? Onkreukbaarheid beteken dat ons Jehovah as ’n Persoon met ons hele hart liefhet en dat ons aan hom toegewyd bly ongeag wat gebeur. Daarom sal ons altyd eers dink aan wat sy wil vir ons is voordat ons besluite neem. Kom ons kry eers ’n bietjie agtergrond. Een basiese betekenis vir die woord “onkreukbaarheid” soos dit in die Bybel gebruik word, is: volkome, sonder gebrek of volledig. Die Israeliete het byvoorbeeld diere aan Jehovah geoffer, en die Wet het gesê dat hierdie diere sonder gebrek moes wees (Lev. 22:​21, 22). God se knegte was nie toegelaat om diere te offer wat byvoorbeeld nie albei oë of ore gehad het nie of wat sieklik was. Dit was vir Jehovah belangrik dat die dier volkome, sonder gebrek of volledig is (Mal. 1:​6-⁠9). Ons kan verstaan hoekom dit vir Jehovah belangrik is dat iets sonder gebrek of volledig is. Wanneer ons iets koop, of dit nou vrugte, boeke of gereedskap is, wil ons nie hê dat dit vol gate of stukkend moet wees nie. Ons wil iets hê wat volkome, sonder gebrek of volledig is. Jehovah voel dieselfde wanneer dit kom by ons liefde vir hom en ons lojaliteit. Dit moet volkome, sonder gebrek of volledig wees.

4 Maar jy wonder dalk of ’n onvolmaakte persoon onkreukbaar kan wees. Ons voel dalk dat ons baie foute maak, en beslis nie sonder gebrek is nie. Maar hier is twee redes hoekom ’n onvolmaakte persoon onkreukbaar kan wees. Eerstens, Jehovah fokus nie op ons foute nie. Sy Woord sê vir ons: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Ps. 130:⁠3). Hy weet dat ons onvolmaak en sondige mense is, en hy vergewe ons vryelik (Ps. 86:⁠5). Tweedens, Jehovah weet wat ons beperkings is, en hy verwag nie meer van ons as wat ons kan doen nie. (Lees Psalm 103:​12-14.) Hoe kan ons dan volkome, sonder gebrek of volledig in sy oë wees?

5 Liefde is die sleutel tot onkreukbaarheid vir Jehovah se knegte. Ons liefde vir God en ons lojale toegewydheid aan hom as ons hemelse Vader moet volkome, sonder gebrek of volledig wees. As ons daardie soort liefde behou selfs wanneer ons getoets word, dan is ons onkreukbaar (1 Kron. 28:⁠9; Matt. 22:​37). Dink weer aan die drie Getuies wat ons aan die begin genoem het. Hoekom tree hulle so op? Wil die jong meisie dan nie ’n lekker tyd by die skool hê nie, of wil die jong man bespot word of wil die pa sy werk verloor? Natuurlik nie. Hulle weet dat Jehovah se standaarde regverdig is, en hulle wil graag hulle hemelse Vader bly maak. Omdat hulle lief is vir hom, dink hulle altyd aan hom voordat hulle besluite neem. Op hierdie manier wys hulle dat hulle onkreukbaar is.

Geestelike skatte

w16.11 9 ¶3

Georganiseer in ooreenstemming met God se Boek

3 Die skepping bewys dat God die Groot Organiseerder is. “Jehovah het die aarde deur wysheid gegrondves”, sê die Bybel. “Hy het die hemele deur onderskeidingsvermoë stewig gevestig” (Spr. 3:​19). Ons ken slegs “die rande van [God se] weë”, en net “ ’n fluistering . . . is omtrent hom gehoor” (Job 26:​14). Maar die bietjie wat ons weet omtrent die planete, sterre en sterrestelsels, laat ons besef dat hierdie hemelliggame besonder goed georganiseer is (Ps. 8:​3, 4). Sterrestelsels bestaan uit miljoene sterre, wat almal ordelik deur die hemelruim beweeg. Die planete in ons sonnestelsel wentel byvoorbeeld om die son, amper asof hulle verkeerswette gehoorsaam! Die verstommende orde wat ons in die heelal sien, help ons om te besef dat Jehovah ons lof, lojaliteit en aanbidding verdien. Hy het die hemele en aarde beslis met groot vaardigheid gemaak.—Ps. 136:​1, 5-⁠9.

18-24 DESEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 28-⁠29

“Het jy ’n reputasie soos Job s’n?”

w02 5/15 22 ¶19

Bewys liefderyke goedhartigheid aan dié wat dit nodig het

19 Die Bybelverslae wat ons bespreek het, beklemtoon ook die feit dat liefderyke goedhartigheid bewys moet word aan diegene wat ’n behoefte het waarin hulle nie self kan voorsien nie. Ten einde sy geslagslyn te laat voortduur, het Abraham Betuel se samewerking nodig gehad. Om sy liggaam na Kanaän te laat neem, het Jakob Josef se hulp nodig gehad. En om ’n erfgenaam voort te bring, het Naomi Rut se hulp nodig gehad. Nie Abraham, Jakob of Naomi kon sonder hulp in daardie behoeftes voorsien nie. Net so moet liefderyke goedhartigheid ook vandag veral bewys word aan dié wat dit nodig het (Spreuke 19:​17). Ons moet die aartsvader Job se voorbeeld navolg, wat ag gegee het op “die geteisterde . . . wat om hulp geroep het, en die vaderlose seun en enigiemand wat geen helper gehad het nie”, sowel as op “die een wat op die punt gestaan het om te sterf”. Job het ook ‘die hart van die weduwee bly gemaak’ en ‘oë vir die blinde en voete vir die kreupele geword’.—Job 29:​12-⁠15.

it-1-E 655 ¶10

Klere

Daar word baie ander simboliese verwysings oor klere gemaak. Net soos spesiale klere of ’n uniform wys dat ’n persoon deel is van ’n sekere organisasie of dat ’n persoon ’n sekere beweging ondersteun, word klere in die Bybel simbolies gebruik om te wys dat ’n persoon ’n sekere standpunt inneem en in ooreenstemming hiermee optree, soos in Jesus se illustrasie oor die klere vir die huweliksfees (Mt 22:​11, 12). Jesus waarsku in Openbaring 16:​14, 15 teen die gevaar om geestelik aan die slaap te raak en jou identiteit as ’n getroue getuie van die ware God uit te trek. Dit kan gevaarlik wees kort voor “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”.

w09 2/1 15 ¶3-⁠4

Wat steek in ’n naam?

Ons het geen beheer oor die naam wat ons by geboorte kry nie. Maar net ons kan bepaal watter reputasie ons opbou (Spreuke 20:​11). Vra jou gerus af: ‘Watter naam sou Jesus of die apostels vir my gekies het as hulle die geleentheid gehad het? Wat sou ’n gepaste naam wees om my oorheersende eienskap of my reputasie te beskryf?’

Ons moet ernstig oor hierdie vraag nadink. Waarom? “ ’n Naam is verkiesliker as oorvloedige rykdom”, het wyse koning Salomo geskryf (Spreuke 22:⁠1). As ons ’n goeie naam, of reputasie, in die gemeenskap opbou, het ons beslis ’n waardevolle bate. Maar nog belangriker, as ons ’n goeie naam by God maak, sal ons ’n blywende skat verkry. Hoe so? God belowe dat hy die name van dié wat hom vrees, in sy “gedenkboek” sal skryf, en hy sal hulle die vooruitsig op die ewige lewe gee.—Maleagi 3:​16; Openbaring 3:⁠5; 20:​12-⁠15.

Geestelike skatte

g00 7/8 11 ¶3

Glimlag—Dit is goed vir jou!

Maak ’n glimlag werklik ’n verskil? Wel, kan jy onthou toe iemand se glimlag jou verlig laat voel of laat ontspan het? Of wanneer die afwesigheid van ’n glimlag jou senuweeagtig of selfs verworpe laat voel het? Ja, ’n glimlag maak wel ’n verskil. Dit het ’n uitwerking op die persoon wat glimlag, asook op die een vir wie geglimlag word. Die Bybelkarakter Job het van sy teenstanders gesê: “Ek het vir hulle geglimlag—hulle het dit nie geglo nie—en hulle het die lig van my gesig nie verdonker nie” (Job 29:​24, NW). “Die lig” van Job se gesig verwys moontlik na sy opgeruimdheid of blymoedigheid.

25-31 DESEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 30-⁠31

“Hoe Job sedelik rein gebly het”

w10 4/15 21 ¶8

Wend jou oë af van waardelose dinge!

8 Ware Christene is nie immuun teen die begeerte van die oë en van die vlees nie. Daarom spoor God se Woord ons aan om selfdissipline aan die dag te lê ten opsigte van die dinge waarna ons kyk en wat ons begeer. (1 Kor. 9:​25, 27; lees 1 Johannes 2:​15-17.) Die regskape man Job was iemand wat besef het dat daar ’n sterk verband is tussen wat ons sien en wat ons begeer. Hy het gesê: “ ’n Verbond het ek met my oë gesluit. Hoe sou ek dan kon ag gee op ’n maagd?” (Job 31:⁠1). Job het nie net geweier om op ’n onsedelike manier aan ’n vrou te raak nie, maar hy wou nie eers sy verstand toelaat om aan so iets te dink nie. Jesus het beklemtoon dat die verstand rein van onsedelike gedagtes gehou moet word toe hy gesê het: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”—Matt. 5:⁠28.

w08 9/1 11 ¶4

Gee ag op die “uiteinde”

Voordat jy die eerste tree op so ’n pad gee, moet jy jou afvra: ‘Waarheen lei dit?’ As jy net ’n oomblik stilstaan en oorweeg wat die “uiteinde” kan wees, sal dit dalk genoeg wees om te keer dat jy ’n weg inslaan wat ernstige gevolge kan hê. Vigs en ander seksueel oordraagbare siektes, ongewenste swangerskappe, aborsies, verwoeste verhoudings en ’n skuldige gewete word gevind op die pad van dié wat besluit het om sulke padtekens te ignoreer. Die einde van die pad vir dié wat onsedelikheid beoefen, word duidelik deur die apostel Paulus gemeld. Hulle sal “God se koninkryk nie . . . beërf nie”.—1 Korintiërs 6:​9, 10.

w10 11/15 5-⁠6 ¶15-⁠16

Jongmense—Laat God se Woord julle lei

15 Wanneer dink jy sal jou lojaliteit aan God die meeste op die proef gestel word—wanneer jy saam met ander is of wanneer jy alleen is? Wanneer jy by die skool of by die werk is, is jy waarskynlik geestelik waaksaam. Jy is op jou hoede vir moontlike geestelike gevaar. Dit is wanneer jy ontspan en minder waaksaam is dat jy op jou kwesbaarste is vir ’n aanval op jou sedelike standaarde.

16 Waarom moet jy Jehovah wil gehoorsaam selfs wanneer jy alleen is? Onthou: Jy kan Jehovah gekrenk laat voel of sy hart bly maak (Gen. 6:​5, 6; Spr. 27:​11). Jou dade het ’n uitwerking op Jehovah, want ‘hy sorg vir jou’ (1 Pet. 5:⁠7). Hy wil hê dat jy na hom moet luister sodat jy jouself kan bevoordeel (Jes. 48:​17, 18). Toe party van Jehovah se knegte in eertydse Israel sy raad verontagsaam het, het hulle hom hartseer gemaak (Ps. 78:​40, 41). Daarenteen het Jehovah die profeet Daniël baie liefgehad, want ’n engel het hom ’n “besonder geliefde man” genoem (Dan. 10:​11). Waarom? Daniël het nie net in die openbaar aan God lojaal gebly nie, maar ook wanneer hy alleen was.—Lees Daniël 6:⁠10.

Geestelike skatte

w05 11/15 11 ¶3

Die kuns om met liefde te luister

Job se metgeselle het ten minste tien van sy redevoerings aangehoor. Job het nogtans uitgeroep: “Ag, as ek maar iemand gehad het wat na my luister!” (Job 31:​35). Waarom? Omdat die manier waarop hulle geluister het, geen vertroosting verskaf het nie. Hulle was nie besorg oor Job nie en wou ook nie sy gevoelens verstaan nie. Hulle het beslis nie meegevoel betoon as simpatieke luisteraars nie. Maar die apostel Petrus maan: “Julle [moet] almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees” (1 Petrus 3:⁠8). Hoe kan ons meegevoel betoon? Een manier is deur besorgdheid oor die ander persoon se gevoelens te toon en dit te probeer verstaan. Om simpatieke opmerkings te maak soos: “Dit moes ontstellend gewees het” of “Dit moes vir jou gevoel het of hulle jou verkeerd verstaan het”, is een manier om te wys dat ons besorg is. Nog ’n manier is om wat die persoon sê, in ons eie woorde te stel en sodoende te wys dat ons verstaan wat hy gesê het. Om met liefde te luister, beteken dat ons nie net aandag skenk aan die woorde nie, maar ook aan die emosies waaraan subtiel uiting gegee word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel