Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 2/15 bl. 27-30
  • ’n Les oor hoe om probleme te hanteer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Les oor hoe om probleme te hanteer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Les in negatiewe raadgewing
  • Hoe om raad te gee
  • Hoe ’n mens nie op ongunstige omstandighede moet reageer nie
  • Jehovah het sy pyn weggeneem
    Volg hulle geloof na
  • Bybelboek nommer 18—Job
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Job se beloning—’n bron van hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Job het Jehovah se naam hooggehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 2/15 bl. 27-30

’n Les oor hoe om probleme te hanteer

MIN mense moes al ooit ál die probleme verwerk wat Job gehad het. Binne ’n kort tydjie is hy verpletter deur die verlies van sy rykdom en lewensonderhoud, die tragiese dood van al sy kinders en uiteindelik ’n baie pynlike siekte. Nadat vriende en familie hom verstoot het, het sy vrou by hom aangedring: “Vervloek God en sterf!”—Job 2:9, NW; 19:13, 14.

Job is egter ’n unieke bron van bemoediging vir enigeen wat soortgelyke beproewinge deurmaak. Die positiewe uiteinde van sy beproewing toon dat volharding tydens teëspoed Jehovah se hart bly maak, wanneer ons eerder deur opregte godvrugtige toegewydheid beweeg word as deur persoonlike gewin.—Job, hoofstukke 1, 2; 42:10-17; Spreuke 27:11.

Hierdie Bybelverslag bevat ook waardevolle lesse oor hoe om probleme op te los. Dit voorsien treffende voorbeelde van hoe iemand wat beproewinge die hoof moet bied raad gegee moet word—en hoe om dit nie te doen nie. Daarbenewens kan Job se eie ondervinding ons help om op ’n gebalanseerde manier te reageer wanneer ons vind dat ongunstige omstandighede ons onderkry.

’n Les in negatiewe raadgewing

Die uitdrukking “Jobstrooster” het sinoniem geword met iemand wat, pleks van meegevoel in ’n tyd van teëspoed te toon, sout in die wond vryf. Maar ten spyte van die verdiende reputasie wat Job se drie metgeselle vir hulleself verwerf het, moet ons nie sommer aanneem dat hulle beweegredes deur en deur sleg was nie. Dalk wou hulle Job ooreenkomstig hulle verkeerde beskouings in ’n sekere mate help. Waarom het hulle misluk? Hoe het hulle instrumente van Satan geword, wat vasbeslote was om Job sy onkreukbaarheid te laat prysgee?

Wel, hulle het feitlik al hulle raad op ’n verkeerde veronderstelling gegrond: dat slegs diegene ly wat sonde doen. In sy eerste toespraak het Elifas gesê: “Wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg? Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit” (Job 4:7, 8). Elifas het verkeerdelik geglo dat onskuldiges immuun is teen rampspoed. Hy het gemeen dat Job teen God moes gesondig het, aangesien hy in soveel ellende verkeer het.a Bildad sowel as Sofar het eweneens daarop aangedring dat Job hom van sy sondes bekeer.—Job 8:5, 6; 11:13-15.

Job se drie metgeselle het hom verder ontmoedig deur persoonlike menings pleks van Goddelike wysheid uit te spreek. Elifas het selfs gesê dat ‘God geen vertroue in sy dienaars stel nie’ en dat dit nie werklik vir Jehovah saak maak of Job regverdig is of nie (Job 4:18; 22:2, 3). ’n Mens kan nouliks aan ’n ontmoedigender—of valser—opmerking as dit dink! Dit verbaas ons nie dat Jehovah Elifas en sy metgeselle later weens hierdie godslastering bestraf het nie. ‘Julle het nie die waarheid oor My gepraat nie’, het hy gesê (Job 42:7, NAV). Maar die skadelikste bewering moes nog kom.

Op die ou end het Elifas selfs regstreekse aantygings gemaak. Aangesien hy nie ’n skulderkenning uit Job kon kry nie, het hy sondes versin wat hy aangeneem het Job moes gedoen het. “Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?” het Elifas gevra. “Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek. Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou” (Job 22:5-7). Hierdie aantygings was geheel en al ongegrond. Jehovah self het Job beskryf as ’n man wat “vroom en opreg” was.—Job 1:8.

Hoe het Job op hierdie aanvalle op sy persoonlike onkreukbaarheid gereageer? Heel verstaanbaar het dit hom ietwat verbitterd en depressief gemaak, maar meer vasbeslote as ooit om hierdie aanklagte vals te bewys. Trouens, hy het so verdiep in sy selfregverdiging geraak dat hy, in ’n sekere sin, Jehovah vir sy haglike toestand begin blameer het (Job 6:4; 9:16-18; 16:11, 12). Die werklike geskille is oorgesien, en die dialoog het ’n sinlose debat geword oor die kwessie of Job ’n regverdige man was of nie. Watter lesse kan Christene uit hierdie mislukte raadgewingsessie leer?

1. ’n Liefdevolle Christen neem nie dadelik aan dat ’n broer se probleme sy eie skuld is nie. Ongevoelige kritiek oor foute van die verlede—hetsy werklik of denkbeeldig—kan ’n persoon wat sukkel om voort te gaan geheel en al ontmoedig. Die terneergedrukte siel moet eerder “vertroos” as tereggewys word (1 Thessalonicense 5:14, NW). Jehovah wil hê dat opsieners “’n toevlug teen die wind” moet wees, nie “treurige vertroosters” soos Elifas, Bildad en Sofar nie.—Jesaja 32:2; Job 16:2.

2. Ons moet nooit sonder afdoende bewys ’n aantyging maak nie. Hoorsê of veronderstellings—soos dié van Elifas—is nie ’n goeie grondslag vir teregwysing nie. As ’n ouere man byvoorbeeld ’n valse aantyging maak, sal hy heel waarskynlik sy geloofwaardigheid verloor en emosionele spanning veroorsaak. Hoe het Job gevoel oor die onvanpaste raad waarna hy moes luister? Hy het uiting gegee aan sy benoudheid met die ironiese uitroep: “Hoe goed het jy die onmagtige bygestaan” (Job 26:2). ’n Besorgde opsiener sal ‘die slap hande weer oprig’, nie die probleem vererger nie.—Hebreërs 12:12.

3. Raad moet op God se Woord gegrond wees, nie op persoonlike idees nie. Die argumente van Job se metgeselle was verkeerd en afbrekend. Pleks dat hulle Job nader aan Jehovah gebring het, het hulle hom laat dink dat daar ’n versperring was wat hom van sy hemelse Vader geskei het (Job 19:2, 6, 8). Daarenteen kan die bekwame gebruik van die Bybel dinge regstel, ander versterk en ware bemoediging bied.—Lukas 24:32; Romeine 15:4; 2 Timotheüs 3:16; 4:2.

Hoewel die boek Job Christene help om sekere slaggate te identifiseer, voorsien dit ook ’n nuttige les oor hoe om doeltreffende raad te gee.

Hoe om raad te gee

Elihu se raad het geheel en al van dié van Job se drie metgeselle verskil, wat inhoud betref sowel as die manier waarop Elihu met Job gehandel het. Hy het Job se naam gebruik en met hom gepraat as ’n vriend, nie as Job se regter nie. “Maar hoor tog, o Job, na my rede, en luister na al my woorde. Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp” (Job 33:1, 6). Elihu het Job ook geredelik geprys vir sy onberispelike lewenswandel. “Ek het behae geskep in u regverdigheid”, het hy Job gerusgestel (Job 33:32, NW). Elihu het, buiten hierdie vriendelike manier van raadgewing, om ander redes welslae behaal.

Omdat Elihu geduldig gewag het totdat die ander klaar gepraat het, kon hy die geskille beter verstaan voordat hy raad gegee het. Sou Jehovah Job straf, aangesien hy wel ’n regverdige man was? “Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg!” het Elihu uitgeroep. “Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie.”—Job 34:10; 36:7.

Was Job se regverdigheid werklik die hoofgeskil? Elihu het Job se aandag op ’n ongebalanseerde beskouing gevestig. “U het gesê: ‘My geregtigheid is groter as God s’n’”, het hy verduidelik. “Kyk op na die hemel en sien. En aanskou die wolke, dat hulle inderdaad hoër is as jy” (Job 35:2, 5, NW). Net soos die wolke baie hoër as ons is, is Jehovah se weë hoër as ons weë. Ons is nie in ’n posisie om die manier waarop hy dinge doen te oordeel nie. “Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie”, het Elihu afgesluit.—Job 37:24; Jesaja 55:9.

Elihu se goeie raad het die weg vir Job berei om verdere onderrigting van Jehovah self te ontvang. Trouens, daar is ’n opvallende ooreenkoms tussen Elihu se oorsig van “die wonders van God”, in hoofstuk 37, en Jehovah se eie woorde aan Job, opgeteken in hoofstukke 38 tot 41. Elihu het sake ongetwyfeld uit Jehovah se oogpunt beskou (Job 37:14). Hoe kan Christene Elihu se puik voorbeeld navolg?

Soos Elihu moet veral opsieners empatie en vriendelikheid toon, gedagtig daaraan dat hulle ook onvolmaak is. Dit sal goed wees as hulle aandagtig luister sodat hulle die feite ken en die geskille verstaan voordat hulle raad gee (Spreuke 18:13). Deur bowendien die Bybel en Bybelpublikasies te gebruik, kan hulle seker maak dat Jehovah se beskouing seëvier.—Romeine 3:4.

Buiten dat die boek Job ouere manne van hierdie praktiese lesse voorsien, leer dit ons hoe om probleme op ’n gebalanseerde wyse die hoof te bied.

Hoe ’n mens nie op ongunstige omstandighede moet reageer nie

Verpletter deur sy lyding en gefrustreer deur sy valse troosters, het Job verbitterd en depressief geword. “Mag die dag vergaan waarop ek gebore is . . . Ek walg van my lewe”, het hy gekerm (Job 3:3; 10:1). Onbewus van die feit dat Satan die skuldige was, het hy aangeneem dat God sy ellende veroorsaak. Dit het so onregverdig gelyk dat hy—’n regverdige man—moes ly (Job 23:10, 11; 27:2; 30:20, 21). Hierdie gesindheid het Job vir ander moontlikhede verblind en daartoe gelei dat hy God se handelinge met die mensdom gekritiseer het. Jehovah het gevra: “Wil jy werklik my reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê?”—Job 40:3.

Dalk is ons onmiddellike reaksie wanneer ons voor teëspoed te staan kom om te voel dat ons veronreg is, soos Job klaarblyklik gevoel het. Die algemene reaksie is om te vra: ‘Waarom ek? Waarom kan ander—wat baie slegter as ek is—’n lewe geniet wat relatief vry is van probleme?’ Hierdie is negatiewe gedagtes wat ons kan teëwerk deur oor God se Woord te peins.

In teenstelling met Job is ons in ’n posisie om die groter geskille wat hierby betrokke is te begryp. Ons weet Satan “loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Soos die boek Job aan die lig bring, sal die Duiwel hom daarin verlustig om ons ons onkreukbaarheid te laat prysgee deur probleme vir ons te skep. Hy is daarop uit om sy aantyging te bewys dat ons slegs mooiweersgetuies van Jehovah is (Job 1:9-11; 2:3-5). Sal ons die moed hê om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun en die Duiwel sodoende ’n leuenaar te bewys?

Die voorbeeld van Jesus, en tallose ander getroue knegte van Jehovah, toon dat die een of ander vorm van lyding feitlik onafwendbaar is in hierdie stelsel van dinge. Jesus het gesê dat sy dissipels bereid moet wees om ‘hulle folterpaal op te neem’ as hulle hom wil volg (Lukas 9:23, NW). Ons persoonlike “folterpaal” kan een of meer van die probleme wees wat Job verduur het—swak gesondheid, die dood van geliefdes, depressie, finansiële probleme of teenkanting deur ongelowiges. Ongeag die tipe probleem waarvoor ons te staan kom, daar is ’n positiewe sy. Ons kan ons omstandighede as ’n geleentheid beskou om ons volharding en onwrikbare getrouheid aan Jehovah te toon.—Jakobus 1:2, 3.

Dit is hoe Jesus se apostels gereageer het. Kort ná Pinkster is hulle geslaan omdat hulle oor Jesus gepreek het. In plaas van ontmoedig te wees, het hulle “bly” weggegaan. Hulle was bly, nie oor die lyding self nie, maar omdat “hulle waardig geag was om vir sy [Christus se] Naam oneer te ly”.—Handelinge 5:40, 41.

Nie al ons probleme is natuurlik die gevolg van ons diens aan Jehovah nie. Ons veroorsaak dalk self ons probleme—ten minste in ’n sekere mate. Of miskien het die probleem, sonder ons eie toedoen, ons geestelike balans versteur. Wat ook al die geval, ’n nederige gesindheid soos dié van Job sal dit vir ons moontlik maak om te onderskei waar foute gemaak is. Job het teenoor Jehovah erken: “So het ek dan gespreek sonder om te verstaan” (Job 42:3). Die een wat sy foute op hierdie manier erken, sal eerder soortgelyke probleme in die toekoms vermy. Soos die spreuk sê: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom.”—Spreuke 22:3.

Van die grootste belang is dat die boek Job ons daaraan herinner dat ons probleme nie vir ewig sal voortduur nie. Die Bybel sê: “Ons noem dié wat volhard het gelukkig. Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jakobus 5:11, NW). Ons kan seker wees dat Jehovah eweneens die getrouheid van sy hedendaagse knegte sal beloon.

Ons sien ook uit na die tyd wanneer probleme van enige aard—“die eerste dinge”—tot die verlede sal behoort (Openbaring 21:4). Totdat daardie dag aanbreek, dien die boek Job as ’n waardevolle handleiding wat ons kan help om probleme met wysheid en vasberadenheid te hanteer.

[Voetnoot]

a Hoewel die Bybel sê dat “net wat die mens saai, dit sal hy ook maai”, beteken dit nie dat iemand se lyding die gevolg van Goddelike vergelding is nie (Galasiërs 6:7). In hierdie wêreld wat deur Satan oorheers word, kom die regverdiges dikwels voor meer probleme te staan as die goddeloses (1 Johannes 5:19). “Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam”, het Jesus vir sy dissipels gesê (Mattheüs 10:22). Enigeen van God se getroue knegte kan deur siekte en ander soorte teëspoed oorval word.—Psalm 41:4; 73:3-5; Filippense 2:25-27.

[Prent op bladsy 28]

“Aanskou die wolke, dat hulle inderdaad hoër is as jy.” Elihu het Job dus gehelp om te verstaan dat God se weë hoër is as die mens s’n

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel