-
Jesus gebruik ’n vyeboom om ’n les oor geloof te leerJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 105
Jesus gebruik ’n vyeboom om ’n les oor geloof te leer
MATTEUS 21:19-27 MARKUS 11:19-33 LUKAS 20:1-8
DIE UITGEDROOGDE VYEBOOM – ’N LES OOR GELOOF
JESUS SE GESAG WORD UITGEDAAG
Jesus verlaat Jerusalem op Maandagmiddag en keer terug na Betanië, wat aan die oostelike hang van die Olyfberg lê. Hy slaap waarskynlik die aand oor by sy vriende Lasarus, Maria en Marta.
Dit is nou die oggend van 11 Nisan. Jesus en sy dissipels is weer op pad na Jerusalem, waar hy vir die laaste keer by die tempel sal wees. En dit is die laaste dag van sy openbare bediening voordat hy die Pasga vier, die Herdenking van sy dood instel en dan verhoor en tereggestel sal word.
Op pad van Betanië na Jerusalem, sien Petrus die boom wat Jesus die vorige oggend vervloek het. “Rabbi, kyk!” roep hy uit, “die vyeboom wat u vervloek het, het uitgedroog.” – Markus 11:21.
Maar hoekom het Jesus die boom laat uitdroog? Hy noem die rede deur te sê: “Ek verseker julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net doen wat ek aan die vyeboom gedoen het nie, maar selfs as julle vir hierdie berg sê: ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ sal dit gebeur. En alles wat julle in gebed met geloof vra, sal julle ontvang” (Matteus 21:21, 22). Hy herhaal dus die punt wat hy vroeër genoem het oor die feit dat geloof ’n berg kan beweeg. – Matteus 17:20.
Jesus gebruik die boom wat hy laat uitdroog het, om hulle te leer hoe belangrik dit is om geloof in God te hê. Hy sê: “Glo dat julle alles waarvoor julle bid en vra, reeds ontvang het, en julle sal dit hê” (Markus 11:24). Dit is ’n belangrike les vir al Jesus se volgelinge! Maar dit is veral belangrik vir sy apostels omdat hulle binnekort moeilike toetse sal deurmaak. Die uitgedroogde vyeboom beeld egter nog iets af wat verband hou met geloof.
Net soos hierdie vyeboom, het die nasie Israel ’n bedrieglike voorkoms. Die mense van hierdie nasie is in ’n verbondsverhouding met God, en dit lyk dalk of hulle sy Wet gehoorsaam. Maar die nasie het as ’n geheel gewys dat hulle nie geloof het nie en nie goeie vrugte voortbring nie. Hulle verwerp selfs God se eie Seun! Deur die onvrugbare vyeboom te laat uitdroog, wys Jesus wat die uiteinde sal wees vir hierdie ongelowige nasie wat nie vrug dra nie.
Kort daarna kom Jesus en sy dissipels in Jerusalem aan. Soos gewoonlik gaan Jesus na die tempel en begin hy onderrig. Die hoofpriesters en ouermanne van die volk, wat nog waarskynlik onthou wat Jesus die vorige dag met die geldwisselaars gedoen het, daag hom uit: “Met watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het jou hierdie gesag gegee om hierdie dinge te doen?” – Markus 11:28.
Jesus sê: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord my eers, en dan sal ek vir julle sê met watter gesag ek hierdie dinge doen. Het Johannes se gesag om te doop uit die hemel of van mense gekom? Antwoord my.” Nou is dit sy teenstanders wat uitgedaag word. Die priesters en ouermanne redeneer met mekaar oor wat om te sê: “As ons sê: ‘Uit die hemel,’ sal hy vra: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar as ons sê: ‘Van mense,’ wat sal dan gebeur?” Hulle redeneer op hierdie manier omdat hulle bang is vir die skare, “want die mense het almal geglo dat Johannes werklik ’n profeet was”. – Markus 11:29-32.
Jesus se teenstanders kan nie aan ’n goeie antwoord dink nie, en daarom sê hulle: “Ons weet nie.” Jesus sê vir hulle: “Dan sê ek ook nie vir julle met watter gesag ek hierdie dinge doen nie.” – Markus 11:33.
-
-
Twee illustrasies oor wingerdeJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 106
Twee illustrasies oor wingerde
MATTEUS 21:28-46 MARKUS 12:1-12 LUKAS 20:9-19
ILLUSTRASIE OOR TWEE SEUNS
ILLUSTRASIE OOR LANDBOUERS
By die tempel het die hoofpriesters en die ouermanne van die volk Jesus so pas uitgedaag en gevra deur wie se gesag hy dinge doen. Jesus se antwoord het hulle verwar, en hulle het nie geweet wat om te sê nie. Dan vertel hy ’n illustrasie wat wys watter soort mense hulle werklik is.
Jesus vertel: “’n Man het twee kinders gehad. Hy het na die eerste kind toe gegaan en gesê: ‘Kind, gaan werk vandag in die wingerd.’ Die kind het geantwoord: ‘Ek sal nie,’ maar agterna het hy spyt gevoel en gegaan. Hy het na die tweede kind toe gegaan en dieselfde gesê. Die kind het geantwoord: ‘Ek sal, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van sy pa gedoen?” (Matteus 21:28-31). Die antwoord is duidelik – die eerste seun is die een wat op die ou end sy pa se wil gedoen het.
Daarom sê Jesus vir sy teenstanders: “Ek verseker julle: Die belastinggaarders en die prostitute sal voor julle in die Koninkryk van God ingaan.” Die belastinggaarders en die prostitute wou God aan die begin nie dien nie. Maar later het hulle, soos die eerste seun, berou getoon en nou dien hulle God. Die godsdiensleiers is egter soos die tweede seun. Hulle sê dat hulle God dien, maar hulle dien hom nie werklik nie. Jesus sê verder: “Want Johannes [die Doper] het gekom en vir julle die weg van regverdigheid geleer, maar julle het hom nie geglo nie. Die belastinggaarders en die prostitute het hom egter geglo, en selfs toe julle dit gesien het, het julle nie agterna spyt gevoel en hom geglo nie.” – Matteus 21:31, 32.
Jesus vertel nog ’n illustrasie. Hierdie keer wys Jesus dat die godsdiensleiers nie net nagelaat het om God te dien nie; hulle is eintlik goddeloos. “’n Man het ’n wingerd geplant,” vertel Jesus, “en ’n heining daarom gesit en ’n wynpers uitgekap en ’n toring opgerig. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en na die buiteland gereis. Op die regte tyd het hy ’n slaaf na die landbouers toe gestuur om van die druiwe van die wingerd by hulle te gaan haal. Maar hulle het hom gevat, hom geslaan en hom met leë hande weggestuur. Toe het hy ’n ander slaaf na hulle toe gestuur, en hulle het hom oor die kop geslaan en hom verneder. Hy het nog een gestuur, en hulle het hom doodgemaak. Hy het ook baie ander gestuur, en hulle het party geslaan en party doodgemaak.” – Markus 12:1-5.
Sal dié wat na Jesus luister, die illustrasie verstaan? Wel, hulle onthou dalk Jesaja se woorde: “Die wingerd van Jehovah van die leërmagte is die huis van Israel. Die manne van Juda is die wingerd waarvoor hy lief was. Hy het bly hoop op geregtigheid, maar daar was net ongeregtigheid” (Jesaja 5:7). Jesus se illustrasie is soortgelyk aan Jesaja s’n. Die landeienaar is Jehovah, en die wingerd is die nasie Israel wat omhein is en beskerm word deur God se Wet. Jehovah het profete gestuur om sy volk te onderrig en te help om goeie vrugte voort te bring.
Maar “die landbouers” het die “slawe” wat na hulle toe gestuur is, sleg behandel en doodgemaak. Jesus verduidelik: “Hy [die eienaar van die wingerd] het nog net een oorgehad om te stuur, sy geliefde seun. Hy het hom laaste na hulle toe gestuur en gesê: ‘Hulle sal my seun respekteer.’ Maar daardie landbouers het vir mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam. Kom ons maak hom dood, en die erfenis sal ons s’n wees.’ Toe het hulle hom gevat en hom doodgemaak.” – Markus 12:6-8.
Nou vra Jesus: “Wat sal die eienaar van die wingerd doen?” (Markus 12:9). Die godsdiensleiers antwoord: “Omdat hulle sleg is, sal hy ’n verskriklike vernietiging oor hulle bring en die wingerd aan ander landbouers verhuur, wat hom in die oestyd sy deel sal gee.” – Matteus 21:41.
Met hierdie woorde spreek hulle onwetend oordeel oor hulleself uit, want hulle is deel van “die landbouers” van Jehovah se “wingerd”, die nasie Israel. Die vrug wat Jehovah met reg van sulke landbouers verwag, sluit geloof in sy Seun, die Messias, in. Jesus kyk reguit na die godsdiensleiers en sê: “Het julle nog nooit die volgende gedeelte in die Skrif gelees nie? ‘Die steen wat die bouers verwerp het, het die belangrikste hoeksteen geword. Dit het van Jehovah af gekom, en dit is wonderlik in ons oë’” (Markus 12:10, 11). Dan sê Jesus reguit: “Die Koninkryk van God sal van julle weggeneem word en aan ’n nasie gegee word wat die regte vrugte voortbring.” – Matteus 21:43.
Die skrifgeleerdes en hoofpriesters besef dat Jesus “hulle in gedagte gehad het toe hy hierdie illustrasie vertel het” (Lukas 20:19). Nou wil hulle hom, die wettige “erfgenaam”, meer as ooit tevore doodmaak. Maar hulle is bang vir die skare, wat Jesus as ’n profeet beskou, en daarom probeer hulle nie om Jesus op daardie oomblik dood te maak nie.
-
-
’n Koning roep dié wat na ’n huweliksfees genooi isJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 107
’n Koning roep dié wat na ’n huweliksfees genooi is
ILLUSTRASIE VAN DIE HUWELIKSFEES
Terwyl Jesus se bediening tot ’n einde kom, hou hy aan om illustrasies te gebruik om te wys dat die skrifgeleerdes en hoofpriesters leuenaars is. Daarom wil hulle hom doodmaak (Lukas 20:19). Maar Jesus is nie klaar met hulle nie. Hy vertel nog ’n illustrasie:
“Die Koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ’n koning wat ’n huweliksfees vir sy seun voorberei het. Hy het sy slawe gestuur om die mense te roep wat na die huweliksfees genooi is, maar hulle wou nie kom nie” (Matteus 22:2, 3). Jesus begin sy illustrasie deur “die Koninkryk van die hemel” te noem. So dit maak sin dat die “koning” Jehovah God moet wees. Wat van die koning se seun en dié wat na die huweliksfees genooi is? Weer eens is dit nie moeilik om te identifiseer dat die koning se seun, Jehovah se Seun is nie, die een wat besig is om die illustrasie te vertel. Dit is ook nie moeilik om te verstaan dat dié wat genooi is, saam met die Seun in die Koninkryk van die hemel gaan wees nie.
Wie word eerste genooi? Wel, vir wie het Jesus en die apostels van die Koninkryk vertel? Vir die Jode (Matteus 10:6, 7; 15:24). Hierdie nasie het die Wetsverbond in 1513 VHJ aanvaar, en daarom is hulle die eerstes om deel te wees van “’n koninkryk van priesters” (Eksodus 19:5-8). Maar wanneer sal hulle eintlik na “die huweliksfees” geroep word? Hierdie uitnodiging is in 29 HJ uitgestuur toe Jesus oor die Koninkryk van die hemel begin preek het.
En hoe het die meeste van die Israeliete op die uitnodiging gereageer? Soos Jesus gesê het, “hulle wou nie kom nie”. Die meeste van die godsdiensleiers en die mense het hom nie as die Messias en as God se aangestelde Koning aanvaar nie.
Maar Jesus wys dat die Jode nog ’n kans sou kry: “[Die koning] het weer slawe gestuur en gesê: ‘Sê vir die mense wat genooi is: “Ek het ’n maaltyd voorberei, my bulle en vetgemaakte diere is geslag en alles is gereed. Kom na die huweliksfees.”’ Maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en het weggegaan, die een na sy landery en die ander na sy besigheid. Die res van die mense wat genooi is, het sy slawe gegryp, hulle mishandel en hulle doodgemaak” (Matteus 22:4-6). Dit stem ooreen met wat sou gebeur nadat die Christengemeente gestig is. Op daardie stadium het die Jode nog die geleentheid gehad om in die Koninkryk te wees, maar die meeste het nie die uitnodiging aanvaar nie, hulle het selfs ‘die koning se slawe’ mishandel. – Handelinge 4:13-18; 7:54, 58.
Wat sou dit vir die nasie beteken? Jesus vertel: “Die koning het woedend geword en sy leërmag gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad afgebrand” (Matteus 22:7). Dit het in 70 HJ met die Jode gebeur toe die Romeine “hulle stad”, Jerusalem, vernietig het.
Beteken die feit dat hulle nie die koning se uitnodiging aanvaar het nie dat niemand anders genooi sou word nie? Nie volgens Jesus se illustrasie nie. Hy sê verder: “Toe het [die koning] vir sy slawe gesê: ‘Die huweliksfees is gereed, maar die mense wat genooi is, was nie waardig om uitgenooi te word nie. Gaan dan na die paaie wat uit die stad lei, en nooi enigeen wat julle vind na die huweliksfees.’ Die slawe het dus na die paaie uitgegaan en almal bymekaargemaak wat hulle gevind het, goeie sowel as slegte mense. Toe het die vertrek vir die huwelikseremonie vol geword van die gaste wat vir die maaltyd genooi is.” – Matteus 22:8-10.
Dit stem ooreen met wat later sal gebeur wanneer die apostel Petrus begin om heidene te help – dié wat nie as Jode gebore of bekeer is nie – om ware Christene te word. In 36 HJ het die Romeinse leëroffisier Kornelius en sy familie God se gees ontvang, en hulle kon dus deel wees van die Koninkryk van die hemel, wat Jesus genoem het. – Handelinge 10:1, 34-48.
Jesus wys dat “die koning” nie almal sal aanvaar wat na die fees kom nie. Hy sê: “Toe die koning inkom om na die gaste te kom kyk, het hy ’n man gesien wat nie gepaste klere vir die huweliksfees aangehad het nie. En hy het vir hom gesê: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder om gepaste klere vir die huweliksfees aan te hê?’ Die man kon hom nie antwoord nie. Toe het die koning vir sy knegte gesê: ‘Bind sy hande en voete vas en gooi hom in die duisternis daar buite. Daar sal hy huil en op sy tande kners.’ Want baie is genooi, maar min is uitgekies.” – Matteus 22:11-14.
Die godsdiensleiers wat na Jesus luister, verstaan dalk nie die betekenis van wat hy sê nie. Nogtans hou hulle nie van wat hy sê nie en wil nou meer as ooit tevore ontslae raak van die een wat hulle so in die verleentheid stel.
-
-
Jesus laat nie toe dat hulle hom vasvra nieJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 108
Jesus laat nie toe dat hulle hom vasvra nie
MATTEUS 22:15-40 MARKUS 12:13-34 LUKAS 20:20-40
BETAAL AAN DIE KEISER WAT AAN DIE KEISER BEHOORT
GAAN MENSE NÁ DIE OPSTANDING TROU?
DIE GROOTSTE GEBOOIE
Jesus se vyande, die godsdiensleiers, is ontsteld. Hy het so pas illustrasies vertel wat wys hoe goddeloos hulle is. Die Fariseërs dink nou aan maniere hoe hulle hom kan vasvra. Hulle probeer iets vind waarvan hulle hom kan beskuldig sodat hulle hom aan die Romeinse goewerneur kan oorgee. En hulle betaal party van hulle dissipels om hom vas te vra. – Lukas 6:7.
Hulle sê: “Leermeester, ons weet dat die dinge wat u sê en aan ander leer, reg is en dat u nie partydig is nie, maar dat u die waarheid oor God se weg leer. Is dit reg vir ons om belasting aan die keiser te betaal of nie?” (Lukas 20:21, 22). Jesus word nie om die bos gelei deur hulle mooi woorde nie, want hy sien regdeur hulle skynheiligheid en slinkse planne. As hy sê: ‘Nee, dit is nie reg om hierdie belasting te betaal nie’, kan hulle hom beskuldig van sedisie teen Rome. Maar as hy sê: ‘Ja, betaal hierdie belasting’, kan die mense, wat dit moeilik vind om onderdanig aan die Romeinse regering te wees, hom verkeerd verstaan en teen hom draai. So hoe antwoord hy hulle?
Jesus sê toe vir hulle: “Hoekom toets julle my, skynheiliges? Wys my die muntstuk waarmee julle belasting betaal.” Hulle het vir hom ’n denarius gebring. Hy het vir hulle gevra: “Wie se beeld en titel is hierop?” Hulle het gesê: “Die keiser s’n.” Toe het hy vir hulle gesê: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.” – Matteus 22:18-21.
Jesus se wyse antwoord het die mans verbaas. Omdat hulle nie geweet het wat om te sê nie, het hulle van hom af weggeloop. Maar die dag is nog nie verby nie, en hulle soek nog na maniere om hom vas te vra. Nadat die Fariseërs dit nie reggekry het om Jesus vas te vra nie, kom ’n ander godsdiensgroep na Jesus toe.
Sadduseërs, wat sê dat daar nie ’n opstanding is nie, vra Jesus ’n vraag oor die opstanding en die swaershuwelik. Hulle vra: “Leermeester, Moses het gesê: ‘As ’n man sterf sonder dat hy kinders het, moet die man se broer met sy vrou trou en kinders gee vir sy broer wat gesterf het.’ Daar was sewe broers by ons. Die eerste broer het getrou en gesterf, en omdat hy nie kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. Dieselfde het met die tweede en die derde broer gebeur, en uiteindelik met al sewe broers. Laastens het die vrou gesterf. Wie van die sewe broers se vrou sal sy in die opstanding wees? Want hulle almal was met haar getroud.” – Matteus 22:24-28.
Jesus verwys na die geskrifte van Moses, wat die Sadduseërs aanvaar, en sê: “Julle misgis julle, want julle ken nie die Skrif nie en ook nie die krag van God nie. Want wanneer hulle uit die dood opstaan, trou mans nie en word vrouens ook nie in die huwelik gegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel. Het julle nie in die boek van Moses gelees wat God vir hom by die doringbos gesê het nie? God het van die opstanding gepraat toe hy gesê het: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is nie ’n God van die dooies nie, maar van die lewendes” (Markus 12:24-27; Eksodus 3:1-6). Die skares is verstom oor sy antwoord.
Jesus se antwoord het die Fariseërs en die Sadduseërs stilgemaak, so nou kom hulle almal saam na hom toe om hom verder te toets. Een skrifgeleerde vra: “Leermeester, wat is die grootste gebod in die Wet?” – Matteus 22:36.
Jesus antwoord: “Die eerste gebod is: ‘Hoor, o Israel, Jehovah ons God is een Jehovah, en jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede gebod is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Daar is geen ander gebod wat belangriker is as hierdie twee nie.” – Markus 12:29-31.
Wanneer die skrifgeleerde Jesus se antwoord hoor, sê hy: “Leermeester, wat u gesê het, is goed en is waar: ‘Hy is Een, en daar is geen ander God nie,’ en om hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag en om jou naaste lief te hê soos jouself, is baie meer werd as al die heelbrandoffers en offerandes.” Wanneer Jesus hoor hoe goed die skrifgeleerde antwoord, sê hy: “Jy is nie ver van die Koninkryk van God af nie.” – Markus 12:32-34.
Jesus onderrig nou al drie dae lank in die tempel (9, 10 en 11 Nisan). Party mense, soos hierdie skrifgeleerde, het dit geniet om na Jesus te luister, maar nie die godsdiensleiers nie, wat nou nie meer “die moed [het] om hom nog iets te vra nie”.
-
-
Jesus veroordeel sy godsdiensteenstandersJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 109
Jesus veroordeel sy godsdiensteenstanders
MATTEUS 22:41–23:24 MARKUS 12:35-40 LUKAS 20:41-47
WIE SE SEUN IS DIE CHRISTUS?
JESUS WYS HOE SKYNHEILIG SY TEENSTANDERS IS
Godsdiensteenstanders kon dit nie regkry om te keer dat mense in Jesus glo of om hom vas te vra sodat hulle hom aan die Romeine kon oorgee nie (Lukas 20:20). Nou, terwyl Jesus op 11 Nisan nog steeds by die tempel is, draai hy die rolle om en maak hy bekend wie hy eintlik is. Hy begin deur hulle te vra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is hy?” (Matteus 22:42). Dit is algemeen bekend dat die Christus, of Messias, ’n nakomeling van Dawid sal wees. Dit is die antwoord wat hulle gee. – Matteus 9:27; 12:23; Johannes 7:42.
Jesus vra: “Hoekom noem Dawid hom dan deur inspirasie Here wanneer hy sê: ‘Jehovah het vir my Here gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande onder jou voete plaas”’? As Dawid hom dan Here noem, hoe is hy sy seun?” – Matteus 22:43-45.
Die Fariseërs bly stil, want hulle hoop dat ’n menslike nakomeling van Dawid hulle sal bevry van Romeinse oorheersing. Jesus gebruik Dawid se woorde in Psalm 110:1, 2 om dit duidelik te maak dat die Messias meer as ’n menslike heerser sal wees. Hy is Dawid se Here en nadat hy aan God se regterhand gaan sit, sal hy regeer. Jesus se antwoord veroorsaak dat hulle stilbly.
Die dissipels en baie ander het na hierdie gesprek geluister. Jesus waarsku hulle nou oor die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hierdie manne “het op die stoel van Moses gaan sit” om God se Wet aan ander te leer. Jesus sê vir sy luisteraars: “Julle moet . . . alles doen en gehoorsaam wat hulle vir julle sê, maar julle moenie soos hulle optree nie, want hulle praat, maar hulle doen nie wat hulle sê nie.” – Matteus 23:2, 3.
Dan gee Jesus voorbeelde van hulle skynheiligheid en sê: “Hulle maak die geskriftedosies breër wat hulle as beskermmiddel dra.” Party Jode het hierdie klein dosies wat gedeeltes uit die Wet bevat, op hulle voorkoppe of op hulle arm gedra. Die Fariseërs maak hulle s’n groter om die indruk te gee dat hulle ywerig is vir die Wet. Hulle maak ook “die fraiings van hulle klere langer”. Die Israeliete is veronderstel om fraiings aan hulle klere te maak, maar die Fariseërs maak seker dat hulle fraiings langer is (Numeri 15:38-40). Hulle doen al hierdie dinge “om deur mense gesien te word”. – Matteus 23:5.
Selfs Jesus se dissipels kan beïnvloed word deur hierdie begeerte om deur mense gesien te word, so hy gee hulle raad en sê: “Julle moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle Leermeester, en julle almal is broers. En moet niemand op aarde julle vader noem nie, want julle het net een Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie leiers laat noem nie, want julle het net een Leier, die Christus.” Watter beskouing moet die dissipels dan van hulleself hê en hoe moet hulle optree? Jesus sê vir hulle: “Maar die grootste onder julle moet julle dienaar wees. Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” – Matteus 23:8-12.
Volgende veroordeel Jesus die skynheilige skrifgeleerdes en Fariseërs deur te sê: “Dit sal sleg gaan met julle, julle skynheilige skrifgeleerdes en Fariseërs! Want julle sluit die Koninkryk van die hemel vir mense. Julle gaan self nie in nie, en julle laat die mense wat wil ingaan, ook nie toe om in te gaan nie.” – Matteus 23:13.
Jesus veroordeel die Fariseërs omdat hulle geen respek het vir wat Jehovah as belangrik beskou nie, soos gesien kan word in die reëls wat hulle self opmaak. Byvoorbeeld, hulle sê: “As iemand by die tempel sweer, is dit niks, maar as iemand by die goud van die tempel sweer, is hy onder verpligting.” Hulle wys dus dat hulle sedelik blind is deurdat hulle meer klem lê op die goud van die tempel as op die geestelike waarde van Jehovah se plek van aanbidding. En hulle het “die belangriker sake van die Wet geïgnoreer, naamlik geregtigheid, genade en getrouheid”. – Matteus 23:16, 23; Lukas 11:42.
Jesus noem die Fariseërs “blinde gidse”. Dan sê hy vir hulle: “Julle sif die muggie uit maar julle sluk die kameel in!” (Matteus 23:24). Hulle sif ’n muggie uit hulle wyn omdat hierdie insek seremonieel onrein is. Maar die manier waarop hulle die belangriker sake van die Wet ignoreer, is soos om ’n kameel in te sluk, ’n dier wat ook seremonieel onrein is, net baie groter. – Levitikus 11:4, 21-24.
-
-
Jesus se laaste dag by die tempelJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 110
Jesus se laaste dag by die tempel
MATTEUS 23:25–24:2 MARKUS 12:41–13:2 LUKAS 21:1-6
JESUS VEROORDEEL DIE GODSDIENSLEIERS VERDER
DIE TEMPEL SAL VERNIETIG WORD
’N ARM WEDUWEE GOOI TWEE MUNTSTUKKIES IN
Gedurende Jesus se laaste dag by die tempel hou hy aan om die skrifgeleerdes en die Fariseërs te veroordeel en sê hy reguit dat hulle skynheilig is. Hy gebruik die volgende illustrasie en sê: “Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar aan die binnekant is dit vol gierigheid en selfsug. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat die buitekant ook skoon kan word” (Matteus 23:25, 26). Terwyl die Fariseërs streng is wanneer dit kom by seremoniële reinheid en uiterlike voorkoms, skeep hulle die innerlike persoon af en maak hulle nie hulle figuurlike hart skoon nie.
Hulle skynheiligheid kan ook gesien word in die feit dat hulle gewillig is om grafte vir die profete te bou en te versier. Maar dit is net soos Jesus sê, hulle is “kinders . . . van dié wat die profete vermoor het” (Matteus 23:31). Hulle het dit bewys deur Jesus te probeer doodmaak. – Johannes 5:18; 7:1, 25.
Dan wys Jesus wat met hierdie godsdiensleiers gaan gebeur as hulle nie berou toon nie: “Julle spul giftige slange, hoe sal julle die oordeel van Gehenna vryspring?” (Matteus 23:33). Gehenna beteken “Hinnom-vallei”. Hierdie vallei word gebruik om vullis te verbrand, en dit skilder ’n prentjie van die permanente vernietiging wat op die goddelose skrifgeleerdes en Fariseërs wag.
Jesus se dissipels sal hom as “profete en wyse manne en openbare onderrigters” verteenwoordig. Hoe sal hulle behandel word? Jesus praat met die godsdiensleiers en sê: “Julle sal party van [my dissipels] doodmaak en aan pale hang, en julle sal party van hulle in julle sinagoges met gésels slaan en van stad tot stad vervolg. Daarom sal al die regverdige bloed wat op die aarde uitgestort is, oor julle kom, van die bloed van die regverdige Abel af tot die bloed van Sagaria . . . wat julle . . . vermoor het.” Hy waarsku hulle: “Ek verseker julle: Al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom” (Matteus 23:34-36). Dit is wat in 70 HJ gebeur wanneer die Romeinse leërmag Jerusalem vernietig en duisende Jode doodmaak.
Wanneer Jesus aan hierdie verskriklike situasie dink, word hy baie hartseer. Hy sê: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en die mense wat na haar gestuur is, met klippe doodgooi – hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou my nie toelaat nie. Kyk! Julle huis sal verlate word” (Matteus 23:37, 38). Dié wat hierdie woorde hoor, wonder dalk watter “huis” hy van praat. Praat hy dalk van die pragtige tempel wat in Jerusalem is, wat blykbaar deur God beskerm word?
Dan sê Jesus verder: “Ek sê vir julle: Julle sal my van nou af glad nie sien nie totdat julle sê: ‘Geseënd is die een wat in Jehovah se naam kom!’” (Matteus 23:39). Hy haal die profetiese woorde in Psalm 118:26 aan: “Geseënd is die een wat in die naam van Jehovah kom. Ons seën julle uit die huis van Jehovah.” Dit is duidelik dat niemand in God se naam na hierdie letterlike tempel sal gaan nadat dit vernietig is nie.
Jesus gaan nou na ’n gedeelte in die tempel waar daar skatkiste is wat soos trompette lyk. Mense kan geld ingooi by die smal opening aan die bokant. Jesus sien hoe verskillende Jode geld ingooi, die rykes gooi “baie muntstukke” as geskenke in. Dan sien Jesus hoe ’n arm weduwee “twee muntstukkies van baie min waarde” ingooi (Markus 12:41, 42). Jesus weet hoe gelukkig God met haar geskenk is.
Jesus roep sy dissipels en sê: “Ek verseker julle dat hierdie arm weduwee meer ingegooi het as al die ander mense wat geld in die skatkiste gegooi het.” Hoe is dit moontlik? Hy verduidelik: “Hulle almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar al is sy baie arm, het sy alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Markus 12:43, 44). Haar denke en dade verskil heeltemal van die godsdiensleiers!
Later in die dag, 11 Nisan, verlaat Jesus die tempel vir die laaste keer. Een van sy dissipels sê: “Leermeester, kyk na hierdie pragtige klippe en geboue!” (Markus 13:1). Party van die klippe van die tempelmure is baie groot en dit skep die indruk dat die tempel sterk is en vir altyd sal staan. Daarom klink dit vreemd wanneer Jesus sê: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie ’n klip op ’n klip gelos word wat nie afgebreek sal word nie.” – Markus 13:2.
Nadat hy hierdie dinge gesê het, gaan Jesus en sy apostels oor die Kidron-vallei en gaan hulle na ’n plekkie op die Olyfberg. Op ’n stadium is hy saam met vier van die apostels – Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes. Van hier kan hulle die pragtige tempel sien.
-
-
Die apostels vra vir ’n tekenJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 111
Die apostels vra vir ’n teken
MATTEUS 24:3-51 MARKUS 13:3-37 LUKAS 21:7-38
VIER DISSIPELS VRA VIR ’N TEKEN
VERVULLINGS IN DIE EERSTE EEU EN DAARNA
ONS MOET WAKKER BLY
Dit is Dinsdagmiddag, en 11 Nisan is besig om tot ’n einde te kom. Jesus se besige tyd op aarde kom ook tot ’n einde. Deur die dag het hy mense by die tempel geleer, en saans het hy buite die stad geslaap. Daar was baie belangstelling onder die mense wat “vroeg in die oggend na hom toe gekom [het] om in die tempel na hom te luister” (Lukas 21:37, 38). Dit is nou verby, en Jesus sit op die Olyfberg met vier apostels – Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes.
Hierdie vier het alleen na hom te gekom. Hulle is bekommerd oor die tempel, want Jesus het nou net gesê dat nie ’n klip op ’n klip gelos sal word wat nie afgebreek sal word nie. Maar dit is nie al waaroor hulle wonder nie. Jesus het vroeër vir hulle gesê: “Julle moet julle . . . gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle nie verwag nie” (Lukas 12:40). Hy het ook gepraat van “die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Lukas 17:30). Het hierdie dinge enigiets te doen met wat hy oor die tempel gesê het? Die apostels is baie nuuskierig. Hulle sê: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees van u teenwoordigheid en dat die einde van die wêreldstelsel naby is?” – Matteus 24:3.
Hulle dink dalk aan die vernietiging van die tempel, die gebou wat hulle kan sien van waar hulle sit. Hulle vra ook oor die teenwoordigheid van die Seun van die mens. Hulle dink dalk terug aan ’n illustrasie wat Jesus gegee het oor ’n “man uit ’n koninklike gesin” wat ‘na ’n ver land gereis het om koning te word, en daarna teruggekeer het’ (Lukas 19:11, 12). En laastens wonder hulle wat “die einde van die wêreldstelsel” sal insluit.
In Jesus se verduideliking gee hy ’n teken wat wys wanneer die Joodse stelsel, insluitende die tempel, tot ’n einde sal kom. Maar dit is nie al nie. Hierdie teken sal Christene in die toekoms help om te weet wanneer hulle gedurende sy “teenwoordigheid” lewe en naby aan die einde van die wêreldstelsel is.
Terwyl die jare verbygaan, sien Jesus se apostels hoe sy profesieë vervul word. Ja, baie dinge wat hy voorspel het, begin in hulle leeftyd gebeur. Daarom is waaksame Christene wat 37 jaar later in 70 HJ lewe, voorbereid en gereed vir die vernietiging van die Joodse stelsel en sy tempel. Maar nie alles wat Jesus voorspel, gebeur in die tyd voor en gedurende 70 HJ nie. So wat sal die teken wees dat hy as Koning regeer? Jesus gee vir sy apostels die antwoord.
Jesus voorspel dat daar “oorloë en berigte van oorloë” sal wees en dat “nasie . . . teen nasie [sal] opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:6, 7). Hy sê ook dat daar “groot aardbewings [sal] wees, en voedseltekorte en vreeslike siektes op die een plek ná die ander” (Lukas 21:11). Hy waarsku ook sy dissipels: “Mense [sal] teen julle optree en julle vervolg” (Lukas 21:12). Valse profete sal verskyn en baie mislei. Daar sal al hoe meer wetteloosheid wees, en die liefde van die meeste mense sal afkoel. En dan sê hy dat die “goeie nuus van die Koninkryk . . . oor die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word as ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom”. – Matteus 24:14.
Jesus se profesieë word in ’n sekere opsig vervul voor en gedurende Jerusalem se vernietiging deur die Romeine. Maar het Jesus dalk van ’n groter vervulling gepraat wat later sal plaasvind? Sien jy vandag bewyse van die grotere vervulling van Jesus se belangrike profesieë?
Een ding wat Jesus insluit in die teken van sy teenwoordigheid, is die verskyning van die “walglike ding wat verwoesting veroorsaak” (Matteus 24:15). In 66 HJ verskyn hierdie walglike ding in die vorm van die Romeinse “leërmagte”, met hulle baniere, of spesiale vlae, wat hulle as heilig beskou. Die Romeine omsingel Jerusalem en ondergrawe party van sy mure (Lukas 21:20). So “die walglike ding” staan op ’n plek waar dit nie moet staan nie, in ’n plek wat die Jode as “’n heilige plek” beskou.
Jesus sê verder: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie plaasgevind het nie, en ook nie weer sal plaasvind nie.” In 70 HJ vernietig die Romeine Jerusalem. Daardie vernietiging van die Jode se ‘heilige stad’, insluitende sy tempel, was werklik ’n groot verdrukking met duisende wat doodgemaak is (Matteus 4:5; 24:21). Dit is baie groter as enige vernietiging wat die stad en die Jode al ooit ervaar het, en dit bring ’n einde aan die stelsel van aanbidding wat die Jode eeue lank gevolg het. So enige grotere vervulling van Jesus se profetiese woorde wat later sou kom, moet sekerlik erger wees.
VERTROUE GEDURENDE DIE TYD VAN DIE EINDE
Jesus se bespreking met sy apostels oor die teken van sy teenwoordigheid as Koning en van die einde van die wêreldstelsel, is lank nie verby nie. Jesus waarsku hulle nou om nie “valse christusse en valse profete” te volg nie. Hy sê dat hierdie mense “selfs dié wat uitgekies is, [sal] probeer mislei” (Matteus 24:24). Maar dié wat uitgekies is, sal nie mislei word nie. Valse christusse kan gesien word. Maar Jesus se teenwoordigheid sal nie gesien kan word nie.
Jesus verwys na ’n grotere verdrukking wat aan die einde van hierdie wêreldstelsel sal begin en sê: “Die son [sal] donker word, en die maan sal nie sy lig gee nie, en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte van die hemel sal geskud word” (Matteus 24:29). Die apostels wat hierdie dinge hoor weet nie presies wat sal gebeur nie, maar dit sal beslis verskriklik wees.
Hoe sal hierdie verskriklike gebeure die mensdom affekteer? Jesus sê: “Mense sal flou word van vrees en spanning as gevolg van die dinge wat oor die bewoonde aarde kom, want die kragte van die hemel sal geskud word” (Lukas 21:26). Jesus beskryf beslis die donkerste tyd in die mensegeskiedenis.
Jesus moedig sy apostels aan deur dit duidelik vir hulle te maak dat nie almal hartseer sal wees wanneer “die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid” kom nie (Matteus 24:30). Hy het alreeds gewys dat God sal ingryp “weens dié wat uitgekies is” (Matteus 24:22). So hoe moet sulke getroue dissipels reageer op die verskriklike dinge wat Jesus sê sal gebeur? Jesus moedig sy volgelinge aan: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle koppe op, want julle verlossing kom nader.” – Lukas 21:28.
Maar hoe sal Jesus se dissipels wat gedurende hierdie voorspelde tyd lewe, weet hoe na hulle aan die tyd van die einde is? Jesus gee ’n illustrasie oor ’n vyeboom: “Sodra sy jong takkies uitloop en die boom blare kry, weet julle dat die somer naby is. Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy naby is, voor die deur. Ek verseker julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ’n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur nie.” – Matteus 24:32-34.
So wanneer sy dissipels die verskillende aspekte van die teken sien vervul word, moet hulle besef dat die einde naby is. Jesus waarsku die dissipels wat gedurende hierdie belangrike tyd sal lewe en sê:
“Niemand weet wanneer daardie dag en uur sal kom nie, nie die engele van die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader. Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want in die dae voor die Vloed het mense geëet en gedrink, en mans het getrou en vrouens is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het geen aandag geskenk totdat die Vloed gekom het en hulle almal weggespoel het nie. Die teenwoordigheid van die Seun van die mens sal net so wees” (Matteus 24:36-39). Jesus herinner dié wat na hom luister aan die historiese Vloed van Noag se dag wat ’n wêreldwye impak gehad het.
Die apostels wat op die Olyfberg na Jesus luister, sien ongetwyfeld hoe belangrik dit is om wakker te bly. Jesus sê: “Maar pasop dat julle harte nooit oorweldig word deur te veel te eet en te veel te drink en deur die bekommernisse van die lewe nie. Anders sal hierdie dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik. Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen altyd smeekgebede sodat julle veilig kan kom deur hierdie dinge wat gaan gebeur en voor die Seun van die mens sal kan staan.” – Lukas 21:34-36.
Jesus wys weer eens dat wat hy voorspel, ’n grotere vervulling het. Hy voorspel nie gebeure wat oor ’n paar jaar sal gebeur en net die stad Jerusalem of die Joodse nasie sal affekteer nie. Nee, hy wys dat hierdie gebeure “oor almal kom wat op die hele aarde woon”.
Hy sê dat sy dissipels wakker, waaksaam en gereed moet wees. Jesus wys hoe belangrik hierdie waarskuwing is deur nog ’n illustrasie te vertel: “Maar een ding moet julle weet: As die huiseienaar geweet het hoe laat in die nag die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur wanneer julle dit nie verwag nie.” – Matteus 24:43, 44.
Jesus gee sy dissipels rede om uit te sien na die tyd van die einde. Hy verseker hulle dat daar ’n “slaaf” sal wees wat wakker en bedrywig sal wees wanneer sy profesieë vervul word. Jesus beskryf ’n situasie wat sy apostels onmiddellik verstaan: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf wat deur sy meester oor sy huisknegte aangestel is om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy meester hom daarmee besig vind wanneer hy kom! Ek verseker julle: Sy meester sal hom oor al sy besittings aanstel.” Maar as die “slaaf” ’n slegte houding ontwikkel en ander sleg behandel, sal sy meester “hom baie swaar straf”. – Matteus 24:45-51; vergelyk Lukas 12:45, 46.
Maar Jesus sê nie dat ’n groep van sy volgelinge ’n slegte houding sal ontwikkel nie. Wat is dan die les wat Jesus wil hê sy dissipels moet verstaan? Hy wil hê dat hulle wakker en bedrywig moet bly soos hy dit in nog ’n illustrasie duidelik maak.
-
-
’n Les oor waaksaamheid – Die maagdeJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 112
’n Les oor waaksaamheid – Die maagde
JESUS GEE DIE ILLUSTRASIE OOR DIE TIEN MAAGDE
Jesus het sy apostels se vrae beantwoord oor die teken van sy teenwoordigheid en die einde van die wêreldstelsel. Met dit in gedagte gee hy hulle nou wyse raad deur middel van nog ’n illustrasie. Die vervulling daarvan sal gesien word deur dié wat gedurende sy teenwoordigheid lewe.
Hy begin die illustrasie deur te sê: “Die Koninkryk van die hemel [kan] vergelyk word met tien maagde wat hulle lampe gevat het en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. Vyf van hulle was onverstandig, en vyf was verstandig.” – Matteus 25:1, 2.
Jesus bedoel nie dat die helfte van sy dissipels wat die Koninkryk van die hemel erf, onverstandig is en die ander helfte verstandig is nie. Hy bedoel eerder dat wanneer dit by die Koninkryk kom, het elkeen van sy dissipels die vermoë om te kies om waaksaam te wees of om afgelei te word. Maar Jesus twyfel glad nie dat elkeen van sy knegte getrou kan bly en sy Vader se seëninge kan ontvang nie.
In die illustrasie gaan al tien maagde uit om die bruidegom te verwelkom en om die troue by te woon. Wanneer hy daar aankom, sal die maagde hulle lampe gebruik om lig op die pad te skyn en hom vereer terwyl hy sy bruid na die huis neem wat vir haar voorberei is. Maar wat gebeur toe?
Jesus verduidelik: “Die onverstandige maagde het hulle lampe gevat, maar hulle het geen olie saamgevat nie, terwyl die verstandige maagde elkeen ’n fles olie saam met hulle lampe gevat het. Die bruidegom het lank gevat om te kom, en hulle almal het vaak geword en aan die slaap geraak” (Matteus 25:3-5). Die bruidegom kom nie so gou as wat hulle gedink het nie. Dit lyk asof dit baie langer neem, en daarom raak die maagde aan die slaap. Die apostels dink dalk terug aan wat Jesus gesê het oor ’n man uit ’n koninklike gesin wat weggaan en “uiteindelik terugkom nadat hy koning geword het”. – Lukas 19:11-15.
In die illustrasie oor die tien maagde verduidelik Jesus wat gebeur wanneer die bruidegom uiteindelik daar aankom: “In die middel van die nag het iemand uitgeroep: ‘Hier is die bruidegom! Gaan uit om hom te ontmoet’” (Matteus 25:6). Is die maagde gereed en wakker?
Jesus sê verder: “Toe het al die maagde opgestaan en hulle lampe reggekry. Die onverstandige maagde het vir die verstandiges gesê: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan.’ Die verstandiges het geantwoord: ‘Miskien is daar nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer na die mense wat olie verkoop en koop julle eie olie.’” – Matteus 25:7-9.
So die vyf onverstandige maagde is nie wakker en gereed vir wanneer die bruidegom daar aankom nie. Hulle het nie genoeg olie vir hulle lampe nie en moet êrens olie kry. Jesus sê: “Terwyl hulle olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Die maagde wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die huweliksfees, en die deur is gesluit. Ná die tyd het die res van die maagde ook gekom en gesê: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Hy het geantwoord: ‘Ek vertel julle die waarheid: Ek ken julle nie’” (Matteus 25:10-12). Wat ’n hartseer uiteinde omdat hulle nie gereed was en wakker gebly het nie!
Die apostels kan sien dat Jesus die bruidegom in die illustrasie is. Hy het homself vroeër met ’n bruidegom vergelyk (Lukas 5:34, 35). En die wyse maagde? Wanneer Jesus van die “klein kuddetjie” praat wat die Koninkryk gaan ontvang, gebruik hy die woorde: “Sorg dat julle aangetrek en gereed is, en laat julle lampe brand” (Lukas 12:32, 35). So in hierdie illustrasie oor die tien maagde kan die apostels sien dat Jesus na hulle en ander verwys wat deel is van die klein kuddetjie. Watter boodskap wil Jesus oordra met hierdie illustrasie?
Jesus maak dit vir ons duidelik. Hy sluit sy illustrasie af deur te sê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer daardie dag en uur sal kom nie.” – Matteus 25:13.
Dit is duidelik dat Jesus sy getroue volgelinge waarsku dat hulle moet ‘aanhou waak’. Hy sal kom, en hulle moet gereed en wakker wees – net soos die vyf verstandige maagde – sodat hulle nie van hulle kosbare hoop vergeet en hulle beloning verloor nie.
-
-
’n Les oor ywer – Die talenteJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 113
’n Les oor ywer – Die talente
JESUS GEE DIE ILLUSTRASIE OOR DIE TALENTE
Terwyl Jesus en sy vier apostels nog op die Olyfberg is, vertel hy hulle nog ’n illustrasie. ’n Paar dae vroeër, terwyl hy in Jerigo was, het hy die illustrasie van die minas vertel om te wys dat die Koninkryk nog ver in die toekoms is. Die illustrasie wat hy nou vertel, is soortgelyk aan daardie een. Dit is deel van sy antwoord op die vraag oor sy teenwoordigheid en die einde van die wêreldstelsel. Die illustrasie beklemtoon dat sy dissipels ywerig besig moet wees met dit wat hy aan hulle gee om te doen.
Jesus begin: “Dit is net soos ’n man wat op die punt gestaan het om na die buiteland te reis en wat sy slawe laat roep het en vir hulle gesê het om na sy besittings om te sien” (Matteus 25:14). Aangesien Jesus homself alreeds vergelyk het met ’n man wat gereis het “om koning te word,” kan die apostels duidelik sien dat Jesus die “man” is waarvan hy nou praat. – Lukas 19:12.
Voordat die man in die illustrasie ver reis, gee hy aan sy slawe waardevolle besittings. Gedurende die drie en ’n half jaar van Jesus se bediening het hy daarop gefokus om oor die goeie nuus van God se Koninkryk te preek, en hy het sy dissipels geleer om hierdie werk te doen. Nou gaan hy weg met die vertroue dat hulle sal aanhou met die werk wat hy hulle opgelei het om te doen. – Matteus 10:7; Lukas 10:1, 8, 9; vergelyk Johannes 4:38; 14:12.
Hoe verdeel die man in die illustrasie sy besittings? Jesus vertel: “Hy het vir een slaaf vyf talente gegee, vir ’n ander slaaf twee en vir nog ’n ander slaaf een, vir elkeen volgens sy eie vermoë, en hy het na die buiteland gegaan” (Matteus 25:15). Wat sal hierdie slawe doen met wat aan hulle gegee is? Sal hulle dit gebruik om hulle meester se belange te bevorder? Jesus sê vir die apostels:
“Onmiddellik het die een wat die vyf talente ontvang het, weggegaan en daarmee handel gedryf en nog vyf bygekry. Net so het die een wat die twee ontvang het, nog twee bygekry. Maar die een wat net een ontvang het, het weggegaan en ’n gat in die grond gegrawe en sy meester se geld daarin weggesteek” (Matteus 25:16-18). Wat sal gebeur wanneer die meester terugkom?
Jesus sê verder: “Ná ’n lang tyd het die meester van daardie slawe gekom en vir hulle gevra wat hulle met sy besittings gedoen het” (Matteus 25:19). Die eerste twee het alles gedoen wat hulle kon, “elkeen volgens sy eie vermoë”. Hierdie twee slawe was ywerig, hardwerkend en het goed gewerk met wat aan hulle gegee is. Die een wat vyf talente gekry het, het dit verdubbel en die een wat twee talente gekry het, het dit ook verdubbel. (In daardie tyd moes ’n persoon omtrent 20 jaar lank werk om ’n bedrag te verdien wat gelyk is aan een talent.) Die meester prys al twee op dieselfde manier: “Mooi so, goeie en getroue slaaf! Jy was getrou oor ’n paar dinge. Ek sal jou oor baie dinge aanstel. Wees bly saam met jou meester.” – Matteus 25:21.
Maar dit is anders met die slaaf wat net een talent gekry het. Hy sê: “Meester, ek het geweet dat u ’n man is wat baie vereis, wat oes waar u nie gesaai het nie en bymekaarmaak waarvoor u nie gewerk het nie. Toe het ek bang geword en u talent in die grond gaan wegsteek. Hier is die talent wat aan u behoort” (Matteus 25:24, 25). Hy het nie eers die geld in die bank gesit sodat hy rente kon kry en wins vir sy meester kon maak nie. Hy het eintlik teen sy meester se belange gewerk.
Daarom noem die meester hom ’n “goddelose en lui slaaf”. Wat hy gehad het, is van hom af weggeneem en aan die slaaf gegee wat bereid is om hard te werk. Toe sê die meester: “As iemand het, sal meer aan hom gegee word, en hy sal ’n oorvloed hê. Maar as iemand nie het nie, sal selfs wat hy het, van hom af weggeneem word.” – Matteus 25:26, 29.
Jesus se dissipels het baie om oor te dink, selfs wanneer dit by hierdie illustrasie kom. Hulle kan sien dat dit wat Jesus aan hulle gegee het – die kosbare voorreg om dissipels te maak – baie waardevol is. En hy verwag dat hulle hierdie werk ywerig sal doen. Hy verwag nie dat hulle almal ewe veel in die predikingswerk moet doen nie. Soos ons in die illustrasie gesien het, moet elkeen doen wat hy kan, “volgens sy eie vermoë”. Maar dit beteken nie dat Jesus gelukkig sal wees as iemand “lui” is en nie sy bes doen om die Meester se besittings te vermeerder nie.
Maar hoe bly moet die apostels tog wees met hierdie versekering: “As iemand het, sal meer aan hom gegee word”!
-
-
Christus as Koning oordeel die skape en die bokkeJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 114
Christus as Koning oordeel die skape en die bokke
JESUS GEE DIE ILLUSTRASIE OOR DIE SKAPE EN DIE BOKKE
Op die Olyfberg het Jesus so pas die illustrasies van die tien maagde en die talente vertel. Hoe sluit Jesus sy antwoord af op die vraag wat die apostels hom gevra het oor die teken van sy teenwoordigheid en die einde van die wêreldstelsel? Hy doen dit deur ’n laaste illustrasie te vertel, een oor skape en bokke.
Jesus begin deur die agtergrond te skets. Hy sê vir hulle: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, sal hy op sy glorieryke troon gaan sit” (Matteus 25:31). Jesus maak dit duidelik dat hy die hoofrol in hierdie illustrasie speel. Hy het homself dikwels “die Seun van die mens” genoem. – Matteus 8:20; 9:6; 20:18, 28.
Wanneer sal die dinge gebeur wat Jesus in sy illustrasie noem? Dit sal gebeur wanneer Jesus “in sy heerlikheid kom” met die engele en “op sy glorieryke troon gaan sit”. Hy het alreeds gesê dat “die Seun van die mens met groot krag en heerlikheid in die wolke . . . kom”, saam met sy engele. Wanneer sal dit gebeur? “Onmiddellik ná die verdrukking” (Matteus 24:29-31; Markus 13:26, 27; Lukas 21:27). So hierdie dinge sal in die toekoms gebeur, wanneer Jesus in sy heerlikheid kom. Wat sal hy dan doen?
Jesus verduidelik: “Wanneer die Seun van die mens . . . kom, [sal] al die nasies . . . voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar skei, net soos ’n herder die skape van die bokke skei. En hy sal die skape aan sy regterhand sit, maar die bokke aan sy linkerhand.” – Matteus 25:31-33.
Wat sal met die skape gebeur? Jesus sê: “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterhand sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is, erf die Koninkryk wat van die begin van die mensdom af vir julle voorberei is’” (Matteus 25:34). Hoekom ontvang die skape die Koning se goedkeuring?
Die Koning verduidelik: “Ek het honger geword, en julle het vir my iets gegee om te eet. Ek het dors geword, en julle het vir my iets gegee om te drink. Ek was ’n vreemdeling, en julle het my gasvry ontvang. Ek was kaal, en julle het vir my klere gegee. Ek het siek geword, en julle het my versorg. Ek was in die tronk, en julle het my kom besoek.” Wanneer hierdie skape, “die regverdiges”, vra hoe hulle hierdie goeie dinge gedoen het, antwoord hy: “Alles wat julle vir een van die minste van my broers gedoen het, het julle ook vir my gedoen” (Matteus 25:35, 36, 40, 46). Hulle het nie hierdie goeie dinge in die hemel gedoen nie, want niemand daar is siek en honger nie. Dit moes dinge gewees het wat hulle vir Christus se broers op die aarde gedoen het.
Wat sal met die bokke gebeur? Jesus sê: “Dan sal [die Koning] vir dié aan sy linkerhand sê: ‘Gaan weg van my af, julle wat vervloek is, in die ewige vuur in wat vir die Duiwel en sy engele voorberei is. Want ek het honger geword, maar julle het vir my niks gegee om te eet nie, en ek het dors geword, maar julle het vir my niks gegee om te drink nie. Ek was ’n vreemdeling, maar julle het my nie gasvry ontvang nie. Ek was kaal, maar julle het nie vir my klere gegee nie. Ek was siek en in die tronk, maar julle het my nie versorg nie’” (Matteus 25:41-43). Die bokke verdien hierdie oordeel omdat hulle nie Christus se broers op die aarde goed behandel het soos hulle moes nie.
Die apostels besef dat om as ’n skaap of ’n bok geoordeel te word, ’n mens se lewe vir ewig sal verander. Jesus sê vir hulle: “Dan sal [die Koning sê]: ‘Ek verseker julle: Alles wat julle nie vir een van die minste van my broers gedoen het nie, het julle ook nie vir my gedoen nie.’ Hulle sal vir ewig afgesny word, maar die regverdiges sal die ewige lewe ontvang.” – Matteus 25:45, 46.
Jesus se antwoord op die apostels se vraag gee sy volgelinge baie om oor te dink. Dit help hulle om hulle gesindhede en dade te ondersoek.
-