-
’n Les in nederigheid by die laaste PasgaJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 116
’n Les in nederigheid by die laaste Pasga
MATTEUS 26:20 MARKUS 14:17 LUKAS 22:14-18 JOHANNES 13:1-17
JESUS GENIET SY LAASTE PASGA SAAM MET DIE APOSTELS
HY LEER DIE APOSTELS ’N LES DEUR HULLE VOETE TE WAS
Petrus en Johannes is alreeds in Jerusalem om vir die Pasga voor te berei, soos Jesus vir hulle gesê het om te doen. Later is Jesus en die tien ander apostels ook op pad daarheen. Dit is laat middag en die son is besig om op die westelike horison te sak terwyl Jesus en sy dissipels by die Olyfberg afkom. Dit is die laaste keer dat Jesus van hier af sien hoe die sonlig op die stad Jerusalem skyn tot nadat hy opgewek is.
Kort voor lank kom Jesus en sy dissipels by die stad aan. Hulle is op pad na die huis waar hulle die Pasgamaaltyd gaan geniet. Hulle gaan op met die trappe na die groot bo-kamer. Daar sien hulle dat alles gereed is vir hulle ete. Jesus het uitgesien na hierdie geleentheid, want hy sê: “Ek wou baie graag hierdie Pasga saam met julle eet voordat ek ly.” – Lukas 22:15.
Baie jare vroeër het die gebruik ontstaan om ’n paar bekers wyn tydens die Pasgamaaltyd om te stuur. Nou, nadat een van die apostels vir Jesus ’n beker gegee het, bid hy en dan sê hy: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan, want ek sê vir julle: Van nou af sal ek nie weer wyn drink totdat die Koninkryk van God kom nie” (Lukas 22:17, 18). Dit behoort nou vir hulle duidelik te wees dat hy binnekort gaan sterf.
Die een of ander tyd gedurende die Pasgamaaltyd gebeur daar iets onverwags. Jesus staan op, sit sy bo-klere eenkant en tel ’n handdoek op. Dan gooi hy water in ’n kom wat daar naby is. Gewoonlik sal die gasheer seker maak dat sy gaste se voete gewas word, dalk deur ’n kneg (Lukas 7:44). Maar by hierdie geleentheid is daar nie ’n gasheer nie, en daarom was Jesus hulle voete. Enigeen van die apostels kon gebruik gemaak het van die geleentheid om dit te doen, maar nie een van hulle doen dit nie. Is dit omdat hulle nog steeds stry oor wie van hulle die belangrikste is? Wat ook al die geval is, hulle is skaam omdat Jesus hulle voete was.
Wanneer Jesus by Petrus kom, sê Petrus: “Ek sal beslis nooit toelaat dat u my voete was nie.” Jesus antwoord hom: “Tensy ek jou was, kan jy nie ontvang wat ek gaan ontvang nie.” Onmiddellik sê Petrus: “Here, moenie net my voete was nie, maar was ook my hande en my kop.” Hy is sekerlik baie verbaas oor wat Jesus volgende sê: “Enigiemand wat gebad het, hoef niks meer as sy voete te laat was nie, want hy is heeltemal skoon. En julle is skoon, maar nie julle almal nie.” – Johannes 13:8-10.
Jesus was die voete van al die apostels, insluitende Judas Iskariot. Nadat Jesus sy bo-klere aangetrek het, gaan hy weer aan tafel en vra hy: “Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het? Julle noem my ‘Leermeester’ en ‘Here’, en julle is reg, want dit is wat ek is. As ek, die Here en Leermeester, julle voete gewas het, dan behoort julle ook mekaar se voete te was. Want ek het vir julle die voorbeeld gestel sodat julle ook moet doen wat ek vir julle gedoen het. Ek verseker julle: ’n Slaaf is nie groter as sy meester nie, en iemand wat gestuur is, is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. Noudat julle hierdie dinge weet, sal julle gelukkig wees as julle dit doen.” – Johannes 13:12-17.
Wat ’n pragtige les in nederigheid! Jesus se volgelinge moenie dink dat hulle belangriker as ander is en dat ander hulle moet dien nie. Hulle moet eerder Jesus se voorbeeld volg, nie deur ander se voete te was nie, maar deur bereid te wees om ander nederig en sonder partydigheid te dien.
-
-
Die Here se AandmaalJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 117
Die Here se Aandmaal
MATTEUS 26:21-29 MARKUS 14:18-25 LUKAS 22:19-23 JOHANNES 13:18-30
JUDAS WORD AS ’N VERRAAIER GEÏDENTIFISEER
JESUS BEGIN ’N NUWE HERDENKING
Vroeër die aand het Jesus sy apostels ’n les in nederigheid geleer deur hulle voete te was. Nou, blykbaar ná die Pasgamaaltyd, haal hy Dawid se profetiese woorde aan: “Die man wat in vrede met my gelewe het, die een wat ek vertrou het, wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my opgelig.” Dan verduidelik hy: “Een van julle sal my verraai.” – Psalm 41:9; Johannes 13:18, 21.
Die apostels kyk na mekaar, en elkeen vra vir Jesus: “Here, dit is tog seker nie ek nie?” Selfs Judas Iskariot doen dit. Petrus sê vir Johannes, wat langs Jesus by die tafel is, om uit te vind wie dit is. En daarom beweeg Johannes nader aan Jesus en vra hy: “Here, wie is dit?” – Matteus 26:22; Johannes 13:25.
Jesus antwoord: “Dit is die een vir wie ek die stukkie brood sal gee wat ek in die bak steek.” Jesus steek ’n stukkie brood in ’n bak op die tafel, gee dit vir Judas en sê: “Dit is waar dat die Seun van die mens weggaan, net soos daar oor hom geskryf is, maar dit sal sleg gaan met die man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie” (Johannes 13:26; Matteus 26:24). Dan gaan Satan in Judas in. Hierdie man, wat alreeds korrup is, gee hom nou oor aan die Duiwel om sy wil te doen en word dus “die seun van die vernietiging”. – Johannes 6:64, 70; 12:4; 17:12.
Jesus sê vir Judas: “Wat jy doen, doen dit nog gouer.” Die ander apostels dink dat Jesus vir Judas, wat die geldkissie hou, sê “om te koop wat hulle vir die fees nodig het of om iets vir die armes te gee” (Johannes 13:27-30). Maar Judas gaan om Jesus te verraai.
Op hierdie selfde aand as die Pasgamaaltyd, begin Jesus ’n nuwe herdenking. Hy neem ’n brood, doen ’n dankgebed, breek die brood en gee dit vir sy apostels om te eet. Hy sê: “Dit beteken my liggaam, wat vir julle gegee sal word. Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my” (Lukas 22:19). Die stukkie brood word omgestuur en die apostels eet daarvan.
Nou neem Jesus ’n beker wyn, doen ’n dankgebed en gee dit vir sy apostels om van te drink. Elkeen drink van die beker, en Jesus sê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond wat bevestig word deur my bloed, wat vir julle uitgestort sal word.” – Lukas 22:20.
Op hierdie manier reël Jesus dat sy dood elke jaar op 14 Nisan deur sy volgelinge herdenk word. Dit sal mense herinner aan wat Jesus en sy Vader gedoen het om mense wat geloof het, van sonde en die dood te red. Hierdie viering het ’n groter betekenis as die Pasga van die Jode, want dit herinner mense aan Jesus se dood wat ware bevryding sal gee vir mense wat geloof beoefen.
Jesus sê dat sy bloed “uitgestort sal word sodat baie mense se sondes vergewe kan word”. Sy getroue apostels en ander soos hulle is deel van die baie mense wat vergewe sal word. Dit is hulle wat saam met hom in die Koninkryk van sy Vader sal wees. – Matteus 26:28, 29.
-
-
’n Stryery oor wie die grootste isJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 118
’n Stryery oor wie die grootste is
MATTEUS 26:31-35 MARKUS 14:27-31 LUKAS 22:24-38 JOHANNES 13:31-38
JESUS GEE RAAD OOR POSISIE
JESUS VOORSPEL DAT PETRUS SAL SÊ DAT HY HOM NIE KEN NIE
LIEFDE IDENTIFISEER JESUS SE VOLGELINGE
Gedurende Jesus se laaste aand saam met sy apostels het hy vir hulle ’n belangrike les in nederigheid geleer deur hulle voete te was. Hoekom het hy dit gedoen? Omdat hy ’n swakheid in hulle gesien het. Hulle is aan God toegewy, maar hulle wil nog steeds weet wie van hulle die belangrikste is (Markus 9:33, 34; 10:35-37). Hierdie swakheid steek weer vanaand sy kop uit.
Die apostels ‘begin erg onder mekaar stry oor wie van hulle die grootste is’ (Lukas 22:24). Dit moet Jesus baie hartseer maak om te sien hoe hulle weer onder mekaar stry! Wat doen hy?
In plaas daarvan om die apostels te skel oor hulle gesindheid en gedrag, redeneer Jesus geduldig met hulle: “Die konings van die nasies speel oor hulle baas, en dié wat gesag oor hulle het, ontvang spesiale titels daarvoor. Maar julle moenie so wees nie. . . . Want watter een is groter: die een wat eet of die een wat bedien?” Dan herinner Jesus hulle aan die voorbeeld wat hy die hele tyd vir hulle gestel het deur te sê: “Maar onder julle is ek soos die een wat bedien.” – Lukas 22:25-27.
Alhoewel die apostels onvolmaak is, het hulle deur baie moeilike tye by Jesus gebly. En daarom sê hy: “Ek maak ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gemaak het, vir ’n koninkryk” (Lukas 22:29). Hierdie manne is Jesus se lojale volgelinge. Hy verseker hulle deur middel van ’n verbond tussen hom en hulle dat hulle in die Koninkryk sal wees en saam met hom sal regeer.
Alhoewel die apostels hierdie wonderlike hoop het, is hulle nog steeds menslik en onvolmaak. Jesus sê vir hulle: “Satan dring daarop aan om julle almal soos koring te sif” (Lukas 22:31). Hy waarsku ook: “Vanaand sal julle almal struikel as gevolg van my, want daar is geskryf: ‘Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.’” – Matteus 26:31; Sagaria 13:7.
Petrus sê vol selfvertroue: “Al struikel al die ander as gevolg van u, sal ek nooit struikel nie!” (Matteus 26:33). Jesus sê vir Petrus dat voordat ’n haan twee keer daardie aand kraai, Petrus sal sê dat hy hom nie ken nie. Maar Jesus sê ook: “Ek het ’n smeekgebed vir jou gedoen dat jou geloof nie sal verswak nie, en nadat jy teruggekeer het, moet jy jou broers versterk” (Lukas 22:32). Maar Petrus verseker Jesus: “Selfs al moet ek saam met u sterf, sal ek nooit sê dat ek u nie ken nie” (Matteus 26:35). Die ander apostels sê dieselfde ding.
Jesus sê vir sy apostels: “Ek is nog ’n rukkie by julle. Julle sal my soek, maar wat ek vir die Jode gesê het, sê ek nou ook vir julle: ‘Waarheen ek gaan, kan julle nie gaan nie.’” Dan sê hy verder: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het.” – Johannes 13:33-35.
Nadat Petrus gehoor het dat Jesus nog net ’n rukkie by hulle gaan wees, vra hy: “Here, waarheen gaan u?” Jesus antwoord: “Waarheen ek gaan, kan jy my nie nou volg nie, maar jy sal later volg.” Petrus verstaan nie en sê: “Here, hoekom kan ek u nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir u gee.” – Johannes 13:36, 37.
Nou praat Jesus van die tyd toe hy die apostels uitgestuur het om in Galilea te gaan preek sonder ’n geldsak of ’n voedselsak (Matteus 10:5, 9, 10). Hy vra: “Het julle enigiets kortgekom?” Hulle antwoord: “Nee!” Maar wat moet hulle doen in die dae wat nog kom? Jesus sê vir hulle: “Maar as iemand nou ’n geldsak het, moet hy dit saamvat, en ook ’n voedselsak, en as iemand nie ’n swaard het nie, moet hy sy bo-kleed verkoop en een koop. Want ek sê vir julle dat die dinge wat geskryf is, in my vervul moet word, naamlik: ‘Hy is onder wetteloses getel.’ Want hierdie woorde wat oor my geskryf is, word nou vervul.” – Lukas 22:35-37.
Jesus praat van die tyd wanneer hy aan ’n paal gehang sal word saam met goddeloses, of wetteloses. Daarna sal sy volgelinge erg vervolg word. Hulle voel dat hulle reg is daarvoor en sê: “Here, kyk, hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dit is genoeg” (Lukas 22:38). Die feit dat hulle twee swaarde by hulle het, sal binnekort vir Jesus die geleentheid gee om hulle nog ’n belangrike les te leer.
-
-
Jesus – Die weg, die waarheid, die leweJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 119
Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
JESUS GAAN WEG OM ’N PLEK VOOR TE BEREI
HY BELOWE SY VOLGELINGE ’N HELPER
DIE VADER IS GROTER AS JESUS
Jesus en sy apostels is ná die gedenkmaal nog steeds in die bo-kamer. Hy moedig hulle aan: “Moenie dat julle harte ontsteld word nie. Beoefen geloof in God, en beoefen ook geloof in my.” – Johannes 13:36; 14:1.
Jesus gee die getroue apostels rede om nie bekommerd te wees oor die feit dat hy weggaan nie: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. . . . As ek vir julle ’n plek gaan voorberei, sal ek weer kom en julle saam met my neem, sodat julle ook kan wees waar ek is.” Maar die apostels besef nie dat hy eintlik van die hemel praat nie. Tomas vra: “Here, ons weet nie waarheen u gaan nie. Hoe kan ons die weg ken?” – Johannes 14:2-5.
Jesus antwoord: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” ’n Persoon kan net in die hemelse huis van Jesus se Vader ingaan as hy Jesus se leringe aanvaar en sy lewenswyse navolg. Jesus sê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” – Johannes 14:6.
Filippus, wat mooi luister, vra: “Here, wys vir ons die Vader, en dit sal vir ons genoeg wees.” Dit lyk of Filippus God in die een of ander visioen wil sien, net soos die visioene wat Moses, Elia en Jesaja gesien het. Maar die apostels het iets beters as sulke visioene. Jesus beklemtoon dit deur te sê: “Ek is nou al so lank by julle, Filippus. Hoe is dit dat jy my nog nie leer ken het nie? Enigiemand wat my gesien het, het ook die Vader gesien.” Jesus volg sy Vader se persoonlikheid volmaak na. So om saam met Jesus te lewe en hom te sien, is soos om die Vader te sien. Die Vader is natuurlik groter as die Seun, want Jesus sê: “Die dinge wat ek vir julle sê, sê ek nie uit my eie nie” (Johannes 14:8-10). Die apostels kan sien dat Jesus al die eer aan sy Vader gee vir die dinge wat hy ander leer.
Jesus se apostels het gesien hoe hy wonderlike werke doen en het gehoor hoe hy die goeie nuus oor die koninkryk van God verkondig. Nou sê hy vir hulle: “Enigiemand wat geloof in my beoefen, sal ook self die werke doen wat ek doen, en hy sal nog groter werke doen” (Johannes 14:12). Jesus sê nie dat hulle groter wonderwerke as hy sal doen nie. Hulle sal wel hulle bediening oor ’n langer tydperk uitvoer, ’n groter gebied dek en baie meer mense bereik.
Wanneer Jesus weggaan, sal hy hulle nie heeltemal verlaat nie, want hy belowe: “As julle enigiets in my naam vra, sal ek dit doen.” Verder sê hy: “En ek sal die Vader vra, en hy sal julle ’n ander helper gee om vir ewig by julle te wees. Dit is die gees van die waarheid” (Johannes 14:14, 16, 17). Jesus verseker hulle dat hulle die heilige gees sal ontvang, die ander helper. Dit gebeur op Pinksterdag.
Jesus sê: “Oor ’n rukkie sal die wêreld my nie meer sien nie, maar julle sal my sien, omdat ek lewe en julle sal lewe” (Johannes 14:19). Jesus sal nie net ná sy opstanding in liggaamlike vorm aan hulle verskyn nie, maar later sal hy hulle opwek om saam met hom in die hemel te wees.
Jesus vertel hulle nou ’n eenvoudige waarheid: “Enigiemand wat my gebooie aanvaar en dit gehoorsaam, is lief vir my. En my Vader sal lief wees vir enigiemand wat lief is vir my, en ek sal lief wees vir daardie persoon en my duidelik aan hom openbaar.” Die apostel Judas, wat ook Taddeus genoem word, vra: “Here, hoekom wil u uself duidelik aan ons openbaar en nie aan die wêreld nie?” Jesus antwoord: “As iemand my liefhet, sal hy my woord gehoorsaam, en my Vader sal lief wees vir hom . . . Enigiemand wat nie lief is vir my nie, gehoorsaam nie my woorde nie” (Johannes 14:21-24). Anders as sy volgelinge sien die wêreld nie vir Jesus as die weg, die waarheid en die lewe nie.
Jesus het sy dissipels baie dinge geleer. Maar hoe sal hulle dit alles onthou nadat hy hulle verlaat het? Jesus verduidelik aan hulle: “Die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur, sal julle alles leer en julle aan alles herinner wat ek julle vertel het.” Hierdie versekering vertroos hulle, want die apostels het gesien hoe kragtig die heilige gees is. Dan sê Jesus: “Terwyl ek nog by julle is, sal ek aanhou om julle die vrede te gee wat julle nou geniet. . . . Moenie dat julle harte bekommerd of bang word nie” (Johannes 14:26, 27). Die dissipels het dus geen rede om bekommerd te wees nie. Hulle sal riglyne en beskerming van Jesus se Vader kry.
Bewyse van God se beskerming sal binnekort gesien word. Jesus sê: “Die heerser van die wêreld kom, en hy het geen mag oor my nie” (Johannes 14:30). Die Duiwel het dit reggekry om Judas te beïnvloed. Maar Jesus het geen swakhede wat Satan kan gebruik om hom teen God te draai nie. En die Duiwel sal nie kan keer dat Jesus opgewek word nie. Hoekom nie? Jesus sê: “Ek [doen] alles wat die Vader my beveel het om te doen.” Hy is seker dat sy Vader hom sal opwek. – Johannes 14:31.
-
-
Dissipels moet vrugte dra en Jesus se vriende weesJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 120
Dissipels moet vrugte dra en Jesus se vriende wees
DIE WARE WINGERDSTOK EN DIE TAKKIES
HOE OM IN JESUS SE LIEFDE TE BLY
Jesus het sy getroue apostels aangemoedig deur uit die hart met hulle te praat. Dit is laat, miskien ná middernag. Nou vertel Jesus vir hulle ’n illustrasie wat hulle verder aanmoedig:
Hy begin deur te sê: “Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die landbouer” (Johannes 15:1). Sy illustrasie klink soos iets wat honderde jare gelede oor die nasie Israel gesê is. Hulle was Jehovah se wingerdstok genoem (Jeremia 2:21; Hosea 10:1, 2). Maar Jehovah gaan daardie nasie verwerp (Matteus 23:37, 38). So Jesus praat nou oor iets nuuts. Hy het die wingerdstok geword toe sy Vader hom in 29 HJ gesalf het. Maar Jesus wys dat die wingerdstok nie net na hom verwys nie. Hy sê:
“[My Vader] neem elke takkie in my weg wat nie vrugte dra nie, en hy maak elke takkie skoon wat wel vrugte dra, sodat dit nog meer vrugte kan dra. . . . ’n Takkie kan nie vanself vrugte dra as dit nie in die wingerdstok bly nie, en net so kan julle ook nie vrugte dra as julle nie in eenheid met my bly nie. Ek is die wingerdstok, en julle is die takkies.” – Johannes 15:2-5.
Jesus het sy getroue dissipels belowe dat hy ’n helper sou stuur, die heilige gees, nadat hy weggaan. Een-en-vyftig dae later, wanneer die apostels en ander hierdie gees ontvang, word hulle takkies van die wingerdstok. En al die “takkies” sal in eenheid met Jesus moet bly. Hoekom?
Hy verduidelik: “As iemand in eenheid met my bly en ek in eenheid met hom, sal hy baie vrugte dra, want sonder my kan julle niks doen nie.” Hierdie “takkies” – Jesus se getroue volgelinge – sal baie vrugte dra deur sy eienskappe na te volg, ywerig met ander oor God se Koninkryk te praat en meer dissipels te maak. Wat as iemand nie in eenheid met Jesus bly nie en nie vrugte dra nie? Jesus verduidelik: “As iemand nie in eenheid met my bly nie, sal hy soos ’n takkie wees wat uitgegooi en uitgedroog is.” Maar dan sê Jesus: “As julle in eenheid met my bly en my woorde in julle bly, kan julle vra wat julle ook al wil, en dit sal aan julle gegee word.” – Johannes 15:5-7.
Nou praat Jesus weer oor iets wat hy alreeds twee keer genoem het – om sy gebooie te gehoorsaam (Johannes 14:15, 21). Hy beskryf ’n belangrike manier hoe sy dissipels kan wys dat hulle dit doen: “As julle my gebooie gehoorsaam, sal julle in my liefde bly, net soos ek die Vader se gebooie gehoorsaam het en in sy liefde bly.” Maar ons moet meer doen as om net Jehovah God en sy Seun lief te hê. Jesus sê: “Dít is my gebod: Julle moet mekaar liefhê net soos ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as iemand wat sy lewe vir sy vriende gee nie. Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel.” – Johannes 15:10-14.
Oor ’n paar uur sal Jesus sy liefde bewys deur sy lewe te gee vir almal wat geloof in hom het. Sy voorbeeld moet sy volgelinge beweeg om dieselfde selfopofferende liefde vir mekaar te hê. Hierdie liefde sal wys dat hulle Jesus se volgelinge is, soos hy vroeër gesê het: “So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het.” – Johannes 13:35.
Die feit dat Jesus sy apostels “vriende” noem, moet vir hulle belangrik wees. Hy verduidelik hoekom hulle sy vriende is: “Ek noem julle vriende, want ek het julle alles vertel wat ek by my Vader gehoor het.” Wat ’n kosbare verhouding om te hê – om goeie vriende met Jesus te wees en om te weet wat die Vader vir hom gesê het! Maar om Jesus se vriende te wees, moet hulle “[aanhou] om vrugte te dra”. As hulle dit doen, sê Jesus: “Wat julle die Vader ook al in my naam vra, [sal] hy vir julle . . . gee.” – Johannes 15:15, 16.
Die liefde wat hierdie “takkies”, sy dissipels, vir mekaar het, sal hulle help om deur die moeilike tye te kom wat voorlê. Hy waarsku hulle dat die wêreld hulle sal haat, maar hy vertroos hulle met die volgende woorde: “As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voordat dit julle gehaat het. As julle deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. Omdat julle egter geen deel van die wêreld is nie, . . . haat die wêreld julle.” – Johannes 15:18, 19.
Jesus verduidelik verder hoekom die wêreld hulle sal haat deur te sê: “Hulle sal al hierdie dinge aan julle doen as gevolg van my naam, omdat hulle die Een wat my gestuur het, nie ken nie.” Jesus sê dat sy wonderwerke eintlik dié wat hom haat, veroordeel: “Ek het werke onder hulle gedoen wat niemand anders gedoen het nie. As ek dit nie gedoen het nie, sou hulle geen sonde gehad het nie, maar nou het hulle my sowel as my Vader gesien en gehaat.” Hulle haat vervul eintlik Bybelprofesieë. – Johannes 15:21, 24, 25; Psalm 35:19; 69:4.
Jesus belowe weer om die helper, die heilige gees, te stuur. Daardie sterk krag is beskikbaar vir al sy volgelinge en kan hulle help om vrugte te dra, met ander woorde om van Jesus te “getuig”. – Johannes 15:27.
-
-
“Moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin”Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 121
“Moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin”
BINNEKORT SAL DIE APOSTELS JESUS NIE MEER SIEN NIE
DIE APOSTELS SE HARTSEER SAL IN VREUGDE VERANDER
Jesus en die apostels is gereed om uit die bo-kamer te gaan waar hulle die Pasgamaaltyd gehou het. Nadat Jesus hulle ’n hele paar waarskuwings gegee het, sê hy verder: “Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie.” Wat kon hulle laat struikel? Hy sê vir hulle: “Die mense sal julle uit die sinagoge ban. Om die waarheid te sê, die uur kom wanneer elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n heilige diens aan God verrig.” – Johannes 16:1, 2.
Hierdie nuus maak die apostels dalk bang. Al het Jesus vroeër gesê dat die wêreld hulle sou haat, het hy nie direk vir hulle gesê dat hulle doodgemaak sou word nie. Hoekom nie? Hy sê: “Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat ek by julle was” (Johannes 16:4). Nou waarsku hy hulle voordat hy weggaan. Dit sal hulle dalk help om nie later te struikel nie.
Jesus sê verder: “Ek [gaan] na die Een toe wat my gestuur het, maar nie een van julle vra my: ‘Waarheen gaan u?’ nie.” Vroeër daardie aand het hulle hom gevra waarheen hy gaan (Johannes 13:36; 14:5; 16:5). Maar nou, omdat hulle geskok is oor wat Jesus vir hulle gesê het, kan hulle aan niks anders dink as hulle eie vervolging nie. Daarom vra hulle hom nie verder uit oor die heerlikheid wat hy gaan kry of wat dit vir ware aanbidders sou beteken nie. Jesus kan sien hoe hulle voel en sê: “Omdat ek egter hierdie dinge vir julle gesê het, het julle baie hartseer geword.” – Johannes 16:6.
Dan verduidelik Jesus: “Dit is vir julle eie beswil dat ek weggaan. Want as ek nie weggaan nie, sal die helper nie na julle toe kom nie, maar as ek gaan, sal ek hom na julle toe stuur” (Johannes 16:7). Jesus se dissipels kan net die heilige gees ontvang as hy sterf en hemel toe gaan. Hy kan die heilige gees as ’n helper aan sy volgelinge stuur, waar hulle ook al op die aarde is.
Die heilige gees “sal . . . vir die wêreld oortuigende bewyse gee in verband met sonde, regverdigheid en oordeel” (Johannes 16:8). Ja, die heilige gees sal wys dat die wêreld nie geloof in God se Seun het nie. Wanneer Jesus hemel toe gaan, sal dit bewys dat hy regverdig is en dat Satan, “die heerser van hierdie wêreld”, dit verdien om geoordeel te word. – Johannes 16:11.
Jesus sê verder: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie.” Wanneer hy die heilige gees uitstort, sal dit hulle help om “die hele waarheid” te verstaan, en hulle sal volgens hierdie waarheid kan lewe. – Johannes 16:12, 13.
Die apostels verstaan nie wat Jesus volgende sê nie: “Oor ’n klein rukkie sal julle my nie meer sien nie, en oor ’n klein rukkie sal julle my weer sien.” Hulle vra mekaar wat hy bedoel. Jesus besef dat hulle hom hieroor wil uitvra, en daarom verduidelik hy: “Ek verseker julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in vreugde verander word” (Johannes 16:16, 20). Wanneer Jesus die volgende middag doodgemaak word, is die godsdiensleiers bly, maar die dissipels is hartseer. Dan verander hulle hartseer in vreugde wanneer Jesus opgewek word! En wanneer hy God se heilige gees op hulle uitstort, het hulle nog ’n rede om vreugdevol te wees.
Jesus vergelyk die apostels se situasie met die situasie van ’n vrou wat geboortepyne het en sê: “Wanneer ’n vrou geboorte gee, ervaar sy pyn omdat haar uur gekom het, maar wanneer sy aan die kind geboorte gegee het, onthou sy nie meer die pyn nie, omdat sy bly is dat ’n mens in die wêreld gebore is.” Jesus moedig sy apostels aan deur te sê: “Nou is julle ook hartseer, maar ek sal julle weer sien en julle harte sal bly wees, en niemand sal julle vreugde wegneem nie.” – Johannes 16:21, 22.
Tot nou toe het die apostels nog nooit iets in Jesus se naam gevra nie. Nou sê hy: “In daardie dag sal julle die Vader in my naam vra.” Hoekom moet hulle in Jesus se naam vra? Beteken dit dat die Vader hulle nie wil antwoord nie? Nee, want Jesus sê: “Die Vader self is lief vir julle, omdat julle my liefgehad het . . . as God se verteenwoordiger.” – Johannes 16:26, 27.
Jesus se woorde het die apostels dalk so aangemoedig, dat hulle sê: “Hierdeur glo ons dat u van God af gekom het.” Hierdie oortuiging sal binnekort getoets word. Om die waarheid te sê, Jesus beskryf wat vir hulle voorlê: “Kyk! Die uur kom – eintlik het dit alreeds gekom – wanneer julle verstrooi sal word en elkeen na sy eie huis sal gaan en my alleen sal laat.” Maar hy verseker hulle: “Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle deur middel van my vrede kan hê. In die wêreld sal julle moeilike tye deurmaak, maar moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:30-33). Nee, Jesus sal hulle nie heeltemal verlaat nie. Hy is seker dat hulle, net soos hy, die wêreld kan oorwin deur God se wil getrou te doen, al probeer Satan en sy wêreld om hulle teen Jehovah te draai.
-
-
Jesus se laaste gebed in die bo-kamerJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 122
Jesus se laaste gebed in die bo-kamer
DIE VOORDELE OM GOD EN SY SEUN TE LEER KEN
DIE EENHEID TUSSEN JEHOVAH, JESUS EN DIE DISSIPELS
Jesus is baie lief vir sy apostels, en daarom berei hy hulle voor vir die tyd wanneer hy weggaan. Hy kyk nou op na die hemel en praat met sy Vader in gebed: “Verheerlik u seun, sodat u seun u kan verheerlik. U het hom gesag oor alle mense gegee, sodat hy ewige lewe kan gee aan almal wat u aan hom gegee het.” – Johannes 17:1, 2.
Dit is duidelik dat Jesus erken dat niks belangriker is as om God te verheerlik nie. Maar hy noem ook iets wonderliks waarna die mensdom kan uitsien – die ewige lewe! Omdat Jesus “gesag oor alle mense gegee” is, kan hy die mensdom ewige lewe gee. Maar nie almal sal dit ontvang nie. Hoekom nie? Omdat Jesus net die ewige lewe sal gee aan dié wat doen wat Jesus volgende sê: “Om die ewige lewe te ontvang, moet hulle u leer ken, die enigste ware God, en ook die een wat u gestuur het, Jesus Christus.” – Johannes 17:3.
’n Persoon moet die Vader en die Seun goed leer ken en ’n goeie verhouding met hulle hê. Hy moet oor dinge voel, soos hulle daaroor voel. Hy moet ook probeer om hulle wonderlike eienskappe na te volg wanneer hy met ander te doen het. En hy moet besef dat om God te verheerlik belangriker is as om ewige lewe te ontvang. Nou praat Jesus weer oor hierdie onderwerp:
“Ek het u op die aarde verheerlik, omdat ek die werk voltooi het wat u my gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik my met die eer wat ek by u gehad het voordat die wêreld daar was” (Johannes 17:4, 5). Ja, Jesus vra om weer die heerlikheid te hê wat hy voorheen in die hemel gehad het deur middel van ’n opstanding.
Maar Jesus het nie vergeet wat hy in die bediening gedoen het nie. Hy bid: “Ek het u naam bekend gemaak aan die mense wat u aan my uit die wêreld gegee het. Hulle het aan u behoort, en u het hulle aan my gegee, en hulle het u woord gehoorsaam” (Johannes 17:6). Jesus het nie net God se naam, Jehovah, in sy bediening bekend gemaak nie. Hy het sy apostels gehelp om te leer wat die naam verteenwoordig – God se eienskappe en die manier waarop hy mense behandel.
Die apostels het Jehovah, die rol van sy Seun en die dinge wat Jesus ander geleer het, leer ken. Jesus sê nederig: “Ek het die woorde wat u aan my gegee het, aan hulle gegee. Hulle het dit aanvaar en weet nou beslis dat ek as u verteenwoordiger gekom het, en hulle het geglo dat u my gestuur het.” – Johannes 17:8.
Dan wys Jesus dat daar ’n verskil is tussen sy volgelinge en die mensdom oor die algemeen: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié wat u aan my gegee het, omdat hulle aan u behoort . . . Heilige Vader, waak oor hulle ter wille van u naam, die naam wat u my gegee het, sodat hulle een kan wees net soos ons een is. . . . Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle is vernietig nie, behalwe die seun van die vernietiging,” dit is Judas Iskariot, wat vir Jesus gaan verraai. – Johannes 17:9-12.
Jesus bid verder: “Die wêreld het hulle gehaat . . . Ek vra nie dat u hulle uit die wêreld neem nie, maar dat u hulle teen die Duiwel beskerm. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14-16). Die apostels en ander dissipels is in die wêreld, die mensdom waaroor Satan heers, maar hulle moet wegbly van die wêreld en sy slegtheid. Hoe?
Hulle moet heilig wees, met ander woorde hulle moet God alleenlik dien, deur die waarhede in die Hebreeuse Geskrifte en die waarhede wat Jesus hulle geleer het, toe te pas. Jesus bid: “Maak hulle heilig deur middel van die waarheid. U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Later sal van die apostels geïnspireerde boeke skryf wat ook deel van “die waarheid” sal wees wat ’n persoon kan help om heilig te wees.
Maar later sal daar ook ander wees wat “die waarheid” sal aanvaar. Daarom bid hy “nie net vir hulle [dié wat daar is] nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde geloof in [hom] stel”. Wat vra Jesus nou vir God? “Vader, op hierdie manier kan hulle almal een wees en in eenheid met ons wees, net soos u in eenheid met my is en ek in eenheid met u” (Johannes 17:20, 21). Jesus en sy Vader is nie letterlik een persoon nie. Hulle is een omdat hulle oor alles saamstem. Jesus bid dat sy volgelinge ook hierdie selfde eenheid kan geniet.
Nie lank terug nie het Jesus vir Petrus en die ander gesê dat hy gaan om vir hulle ’n plek voor te berei, met ander woorde ’n plek in die hemel (Johannes 14:2, 3). Jesus praat nou weer hieroor in gebed: “Vader, ek wil hê dat dié wat u aan my gegee het, saam met my moet wees, sodat hulle die heerlikheid kan sien wat u my gegee het, want u het my voor die begin van die mensdom liefgehad” (Johannes 17:24). Hiermee bevestig hy dat voordat Adam en Eva kinders gehad het, het God sy eniggebore Seun liefgehad, wat Jesus Christus geword het.
Jesus sluit sy gebed af deur weer sy Vader se naam en God se liefde vir die apostels en vir ander wat nog “die waarheid” sal aanvaar, te beklemtoon. Hy sê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee u my liefgehad het, in hulle kan wees en ek in eenheid met hulle.” – Johannes 17:26.
-
-
Jesus bid terwyl hy verskriklik hartseer isJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 123
Jesus bid terwyl hy verskriklik hartseer is
MATTEUS 26:30, 36-46 MARKUS 14:26, 32-42 LUKAS 22:39-46 JOHANNES 18:1
JESUS IN DIE TUIN VAN GETSEMANE
SY SWEET WORD SOOS BLOEDDRUPPELS
Nadat Jesus en sy getroue apostels klaar gebid het en ‘lofliedere gesing het, gaan hulle na die Olyfberg’ (Markus 14:26). Hulle gaan ooswaarts na ’n tuin wat Getsemane genoem word, ’n plek waar Jesus gewoonlik gaan.
Wanneer hulle by hierdie pragtige plek tussen die olyfbome aankom, sê Jesus vir agt van sy apostels om agter te bly. Dalk is hulle naby die ingang van die tuin, want Jesus sê vir hulle: “Sit hier terwyl ek daar gaan bid.” Jesus vat drie van sy apostels saam – Petrus, Jakobus en Johannes – en gaan verder in die tuin. Hy word baie angstig en sê vir hulle: “Ek is verskriklik hartseer, ja, tot die dood toe. Bly hier en bly wakker saam met my.” – Matteus 26:36-38.
Jesus gaan ’n entjie weg van hulle en ‘val neer op die grond en begin bid’. Waaroor bid hy tot God op hierdie intense oomblik? Hy bid: “Vader, alles is vir u moontlik. Neem hierdie beker van my af weg. Maar nie wat ek wil nie, maar wat u wil” (Markus 14:35, 36). Wat bedoel hy? Wil hy nie meer die een wees wat die losprys betaal nie? Glad nie!
Jesus het uit die hemel gesien hoe ander wreed deur die Romeine doodgemaak is. So hy het glad nie uitgesien om op so ’n wrede manier doodgemaak te word nie. Maar nog belangriker, Jesus is angstig omdat hy dink dat sy dood as ’n slegte misdadiger dalk oneer op sy Vader se naam sal bring. Oor ’n paar uur gaan hy aan ’n paal gehang word asof hy ’n godslasteraar is.
Nadat Jesus lank gebid het, gaan hy terug na die drie apostels en sien hy dat hulle slaap. Hy sê vir Petrus: “Kon julle nie eers een uur saam met my wakker bly nie? Hou aan waak en bid aanhoudend, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Jesus besef dat die apostels ook onder stres is en dat dit al laat is. Hy sê verder: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.” – Matteus 26:40, 41.
Dan gaan Jesus vir ’n tweede keer weg en vra dat God “hierdie beker” van hom moet wegvat. Wanneer hy teruggaan na die drie apostels sien hy dat hulle weer slaap terwyl hulle eintlik moes bid dat hulle nie in versoeking kom nie. Wanneer Jesus met hulle praat, ‘weet hulle nie wat om vir hom te sê nie’ (Markus 14:40). Jesus gaan vir ’n derde keer weg en gaan op sy knieë om te bid.
Jesus is baie bekommerd oor die oneer wat sy dood as ’n misdadiger op sy Vader se naam sal bring. Maar Jehovah hoor sy Seun se gebed, en op die een of ander stadium stuur God ’n engel om hom te versterk. Maar Jesus hou nie op om sy Vader te smeek nie en hy ‘hou aan om nog ernstiger te bid’. Die emosionele stres is oorweldigend. Hy het ’n baie groot verantwoordelikheid wat op sy skouers rus! Sy eie ewige lewe en die ewige lewe van mense wat geloof in God stel, is op die spel. Om die waarheid te sê, ‘sy sweet word soos bloeddruppels wat op die grond val’. – Lukas 22:44.
Wanneer Jesus vir die derde keer na sy apostels teruggaan, sien hy dat hulle weer slaap. Hy sê: “Op ’n tyd soos hierdie slaap julle en rus julle! Die tyd het gekom vir die Seun van die mens om verraai te word en aan sondaars oorgelewer te word. Staan op, laat ons gaan. Kyk! My verraaier is naby.” – Matteus 26:45, 46.
-
-
Christus word verraai en in hegtenis geneemJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 124
Christus word verraai en in hegtenis geneem
MATTEUS 26:47-56 MARKUS 14:43-52 LUKAS 22:47-53 JOHANNES 18:2-12
JUDAS VERRAAI JESUS IN DIE TUIN
PETRUS KAP ’N MAN SE OOR AF
JESUS WORD IN HEGTENIS GENEEM
Dit is ná middernag. Die priesters het ingestem om Judas 30 silwerstukke te betaal om Jesus te verraai. En daarom volg ’n groot groep hoofpriesters en Fariseërs Judas opsoek na Jesus. ’n Groep Romeinse soldate met ’n militêre bevelvoerder is saam met hulle.
Toe Jesus Judas gevra het om die Pasgamaaltyd te verlaat, het Judas direk na die hoofpriesters gegaan (Johannes 13:27). Hulle het hulle eie beamptes bymekaargemaak sowel as ’n groep soldate. Judas het hulle dalk eers na die kamer toe gevat waar Jesus en sy apostels die Pasga gevier het. Maar nou het die skare oor die Kidron-vallei geloop en is hulle op pad na die tuin. Hulle het nie net wapens by hulle nie, maar ook lampe en fakkels en is vasbeslote om Jesus te vind.
Terwyl Judas saam met hulle by die Olyfberg opgaan, is hy seker dat hy weet waar om Jesus te kry. Gedurende die laaste week, terwyl Jesus en die apostels heen en weer tussen Betanië en Jerusalem gereis het, het hulle gereeld in die tuin van Getsemane gestop. Maar nou is dit aand, en Jesus is dalk in die skaduwee van die olyfbome in die tuin. So hoe sal die soldate, wat dalk nog nie vir Jesus gesien het nie, weet dat dit hy is? Om hulle te help, sal Judas vir hulle ’n teken gee. Hy sê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Neem hom in hegtenis en lei hom weg en maak seker dat hy nie wegkom nie.” – Markus 14:44.
Terwyl Judas en die skare in die tuin instap, sien hy vir Jesus saam met sy apostels en loop hy reguit na hom toe. “Goeiedag, Rabbi!” sê Judas en soen vir Jesus. “Vriend, hoekom is jy hier?” vra Jesus (Matteus 26:49, 50). Jesus beantwoord sy eie vraag en sê: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?” (Lukas 22:48). Maar dit is nou genoeg van Judas!
Jesus stap nou vorentoe en staan in die lig van die fakkels en lampe en vra: “Na wie soek julle?” Die skare antwoord hom: “Jesus die Nasarener.” Jesus sê dapper: “Dit is ek” (Johannes 18:4, 5). Hulle weet nie wat om te verwag nie en val op die grond neer.
Jesus gebruik nie hierdie geleentheid om te vlug nie, maar vra eerder weer na wie hulle soek. Wanneer hulle weer sê: “Jesus die Nasarener”, sê hy kalm vir hulle: “Ek het vir julle gesê dat dit ek is. As julle dan na my soek, laat hierdie manne gaan.” Selfs in hierdie oomblik onthou Jesus wat hy vroeër gesê het, dat hy nie een van hulle sal verloor nie (Johannes 6:39; 17:12). Jesus het sy getroue apostels beskerm en hy het nie een van hulle verloor nie, “behalwe die seun van die vernietiging” – Judas (Johannes 18:7-9). En daarom vra hy dat hulle sy getroue volgelinge laat gaan.
Terwyl die soldate nader na Jesus toe kom, besef die apostels wat besig is om te gebeur. “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” vra hulle (Lukas 22:49). Voordat Jesus hulle kan antwoord, swaai Petrus een van die swaarde wat die apostels by hulle het en kap Malgus, ’n slaaf van die hoëpriester, se oor af.
Jesus raak aan Malgus se oor en maak hom gesond. Dan leer hy hulle ’n belangrike les deur vir Petrus te sê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard gebruik, sal met die swaard doodgemaak word.” Jesus is bereid om in hegtenis geneem te word, want hy verduidelik: “Hoe sal die Skrif wat sê dat dit so moet gebeur, dan vervul word?” (Matteus 26:52, 54). Hy sê verder: “Moet ek nie die beker drink wat die Vader aan my gegee het nie?” (Johannes 18:11). Jesus stem saam met God se wil vir hom, al beteken dit dat hy moet sterf.
Jesus vra die skare: “Het julle met swaarde en knuppels gekom om my in hegtenis te neem asof ek ’n rower is? Dag ná dag het ek in die tempel gesit en die mense geleer, en tog het julle my nie in hegtenis geneem nie. Maar al hierdie dinge het gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul sou word.” – Matteus 26:55, 56.
Die soldate, die militêre bevelvoerder en die beamptes van die Jode arresteer Jesus en boei hom. Toe die apostels dit sien, hardloop hulle weg. Maar “’n sekere jong man” – dalk die dissipel Markus – bly tussen die mense sodat hy Jesus kan volg (Markus 14:51). Die skare erken die jong man en probeer hom vang, en daarom los hy sy linnekleed agter terwyl hy probeer weghardloop.
-
-
Jesus word na Annas en dan na Kajafas geneemJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 125
Jesus word na Annas en dan na Kajafas geneem
MATTEUS 26:57-68 MARKUS 14:53-65 LUKAS 22:54, 63-65 JOHANNES 18:13, 14, 19-24
JESUS WORD NA DIE VORIGE HOOFPRIESTER ANNAS GENEEM
’N ONWETTIGE VERHOOR BY DIE SANHEDRIN
Noudat Jesus soos ’n gewone misdadiger geboei is, neem hulle hom na Annas, wat die hoëpriester was toe jong Jesus die onderrigters by die tempel verbaas het (Lukas 2:42, 47). Party van Annas se seuns het later as hoëpriesters gedien, en nou is sy skoonseun Kajafas die hoëpriester.
Terwyl Jesus by Annas se huis is, het Kajafas tyd om die Sanhedrin bymekaar te maak. Die hof bestaan uit 71 lede wat die hoëpriester en ander wat voorheen daardie posisie gehad het, insluit.
Annas vra Jesus uit oor “sy dissipels en oor wat hy die mense geleer het”. Jesus sê eenvoudig: “Ek het in die openbaar met die wêreld gepraat. Ek het mense altyd in ’n sinagoge en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaarkom, en ek het niks in die geheim gesê nie. Hoekom ondervra u my? Ondervra die mense wat gehoor het wat ek gesê het.” – Johannes 18:19-21.
’n Beampte wat daar staan klap Jesus in die gesig en sê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?” Maar Jesus, wat weet dat hy niks verkeerds gedoen het nie, sê: “As ek iets verkeerds gesê het, sê dan wat ek gesê het. Maar as wat ek gesê het, reg is, hoekom slaan jy my?” (Johannes 18:22, 23). Dan stuur Annas Jesus na sy skoonseun Kajafas.
Teen hierdie tyd is die hele Sanhedrin al bymekaar – die hoëpriester, die ouermanne van die mense en die skrifgeleerdes. Hulle kom by Kajafas se huis bymekaar. Dit is onwettig om so ’n verhoor op die aand van die Pasga te hou, maar dit keer hulle nie, hulle hou aan met hulle slegte plan.
Hierdie groep het al klaar besluit wat hulle met Jesus wil doen. Nadat Jesus Lasarus opgewek het, het die Sanhedrin besluit dat Jesus doodgemaak moet word (Johannes 11:47-53). En net ’n paar dae gelede het die godsdiensleiers planne gemaak om Jesus te vang en dood te maak (Matteus 26:3, 4). Ja, selfs voordat Jesus se verhoor begin, is hy so goed as dood veroordeel!
Behalwe die feit dat hulle onwettig bymekaarkom, probeer die hoofpriesters en ander van die Sanhedrin om getuies te kry wat valse getuienis sal lewer sodat hulle ’n saak teen Jesus kan maak. Hulle kry baie mense, maar wat hierdie mense sê, stem nie ooreen nie. Uiteindelik is daar twee getuies wat sê: “Ons het hom hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een bou wat nie met hande gemaak is nie’” (Markus 14:58). Maar selfs hulle stem nie heeltemal met mekaar saam nie.
Kajafas vra toe vir Jesus: “Het jy niks om te sê nie? Hoor jy nie waarvan hierdie mans jou beskuldig nie?” (Markus 14:60). Jesus sê niks oor hierdie valse aanklag wat deur getuies gemaak is wat se stories nie eers ooreenstem nie. So nou probeer die hoëpriester Kajafas ’n ander taktiek.
Kajafas weet dat die Jode sensitief is oor enigiemand wat sê dat hy die Seun van God is. Vroeër, toe Jesus gesê het dat God sy Vader is, wou die Jode hom doodmaak omdat hulle gesê het dat hy ‘hom aan God gelykmaak’ (Johannes 5:17, 18; 10:31-39). Kajafas is bewus hiervan daarom sê hy: “Ek beveel jou om voor die lewende God te sweer dat jy die waarheid sal praat en vir ons sal sê of jy die Christus, die Seun van God, is!” (Matteus 26:63). Jesus het natuurlik al erken dat hy die Seun van God is (Johannes 3:18; 5:25; 11:4). As hy dit nie nou erken nie, is dit asof hy sê dat hy nie God se Seun en die Christus is nie. Daarom sê Jesus: “Ek is, en julle sal die Seun van die mens aan die regterhand van die Magtige sien sit en met die wolke van die hemel sien kom.” – Markus 14:62.
Toe Kajafas dit hoor, skeur hy sy bo-klere en sê: “Hy het gelaster! Waarvoor het ons nog getuies nodig? Nou het julle self gehoor hoe hy laster. Wat dink julle?” Die Sanhedrin gee toe die onregverdige oordeel: “Hy verdien om te sterf.” – Matteus 26:65, 66.
Toe begin hulle Jesus spot en met hulle vuiste slaan. Ander klap hom en spoeg in sy gesig. Nadat hulle sy gesig bedek, slaan hulle hom en sê hulle sarkasties: “Profeteer! Wie is dit wat jou geslaan het?” (Lukas 22:64). Hier word die Seun van God mishandel gedurende ’n onwettig verhoor in die nag!
-
-
Petrus sê dat hy Jesus nie ken nieJesus – Die weg, die waarheid, die lewe
-
-
HOOFSTUK 126
Petrus sê dat hy Jesus nie ken nie
MATTEUS 26:69-75 MARKUS 14:66-72 LUKAS 22:54-62 JOHANNES 18:15-18, 25-27
PETRUS SÊ DAT HY JESUS NIE KEN NIE
Toe Jesus in die tuin van Getsemane in hegtenis geneem is, het die apostels weggehardloop omdat hulle bang was. Maar twee van hulle het ophou hardloop. Dit is Petrus “sowel as ’n ander dissipel”, blykbaar die apostel Johannes (Johannes 18:15; 19:35; 21:24). Hulle kry dalk vir Jesus by Annas se huis. Wanneer Annas Jesus na die hoëpriester Kajafas stuur, volg Petrus en Johannes op ’n afstand. Hulle is moontlik in twee geskeur omdat hulle vrees vir hulle eie lewe, maar hulle is ook bekommerd oor wat met hulle Meester gaan gebeur.
Die hoëpriester ken vir Johannes, en daarom word hy toegelaat om in die binnehof van Kajafas se huis in te gaan. Petrus bly buite by die deur totdat Johannes terugkom en met die diensmeisie praat wat die deurwagter is. Dan word Petrus toegelaat om in te gaan.
Dit is koud, en daarom het die mense in die binnehof ’n vuur gemaak. Petrus sit by hulle om warm te bly terwyl hy wag om te sien wat met Jesus se verhoor gaan gebeur (Matteus 26:58). Noudat daar lig is as gevolg van die vuur, kan die deurwagter wat Petrus ingelaat het, hom beter sien. Sy vra: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” (Johannes 18:17). En sy is nie die enigste een wat Petrus herken en sê dat hy saam met Jesus was nie. – Matteus 26:69, 71-73; Markus 14:70.
Petrus skrik en word bang. Hy probeer om nie aandag te trek nie en loop selfs weg en gaan staan by die ingang. So Petrus ontken dat hy saam met Jesus was en sê: “Ek ken hom nie en ek weet ook nie waarvan jy praat nie” (Markus 14:67, 68). Hy begin ook “sweer dat hy die waarheid praat,” wat beteken dat hy bereid is om deur God gestraf te word as hy nie die waarheid praat nie. – Matteus 26:74.
Intussen is Jesus se verhoor aan die gang, blykbaar in ’n gedeelte van Kajafas se huis wat bokant die binnehof is. Petrus en die ander wat aan die onderkant wag, sien dalk hoe verskillende mense kom en gaan wat gevra is om teen Jesus te getuig.
Hulle kan aan Petrus se aksent hoor dat hy van Galilea is, en dit is ’n bewys dat hy nie die waarheid praat nie. En iemand in die groep is ’n familielid van Malgus, wie se oor Petrus afgekap het. So hy sê ook vir Petrus: “Het ek jou nie in die tuin saam met hom gesien nie”? Wanneer Petrus dit vir ’n derde keer ontken, kraai ’n haan soos voorspel is. – Johannes 13:38; 18:26, 27.
Op daardie stadium staan Jesus blykbaar op ’n balkon wat oor die binnehof uitkyk. Die Here draai om en kyk reguit na Petrus. Dit moet Petrus sekerlik verskriklik seermaak. Hy dink aan wat Jesus net ’n paar uur vroeër in die bo-kamer gesê het. Dink net hoe Petrus voel terwyl hy besef wat hy gedoen het! Petrus gaan buitentoe en huil bitterlik. – Lukas 22:61, 62.
Hoe kon dit gebeur? Hoe kon Petrus – wat so seker was dat hy geestelik sterk is en getrou sal bly – sê dat hy sy Meester nie ken nie? Die waarheid word verdraai, en Jesus word as ’n slegte misdadiger uitgemaak. Toe Petrus ’n onskuldige man kon verdedig, het hy sy rug gedraai op die Een wat “woorde van die ewige lewe” het. – Johannes 6:68.
Petrus se hartseer ondervinding wys dat selfs ’n persoon wat sterk geloof het en toegewy is aan God, sy balans kan verloor as hy nie voorbereid is vir beproewinge of versoekings wat hy nie verwag het nie. Laat Petrus se ondervinding vir al God se knegte ’n waarskuwing wees!
-