Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 9/1 bl. 13-18
  • Jongmense—Oefen julle waarnemingsvermoëns!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jongmense—Oefen julle waarnemingsvermoëns!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oefen jou waarnemingsvermoëns
  • Toon onderskeidingsvermoë wat ontspanning betref
  • Onderskeidingsvermoë wat verdere opleiding betref
  • Hou hofmakery eerbaar
  • ‘Van jou jeug af’ geleer
  • Ontwikkel jou waarnemingsvermoëns
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Kan jy “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hou aan om jou waarnemingsvermoëns te oefen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • “Stel julleself voortdurend op die proef”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 9/1 bl. 13-18

Jongmense—Oefen julle waarnemingsvermoëns!

“Vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.”—HEBREËRS 5:14.

1, 2. (a) Hoe kom ons hedendaagse situasie ooreen met dié van eertydse Christene in Efese? (b) Watter vermoëns kan jou teen gevaar beskerm, en hoe kan jy dit ontwikkel?

“LET . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is” (Efesiërs 5:15, 16). Sedert die apostel Paulus daardie woorde tweeduisend jaar gelede neergeskryf het, ‘het goddelose mense en bedrieërs voortgegaan van kwaad tot erger’. Ons lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, of soos ’n ander vertaling dit stel, tye wat “vol gevaar” is.—2 Timoteus 3:1-5, 13; Phillips.

2 Jy kan egter die verskuilde gevare op jou weg ontwyk deur “skerpsinnigheid . . . , kennis en denkvermoë” te ontwikkel (Spreuke 1:4, NW). Spreuke 2:10-12 (NW) sê: “Wanneer wysheid in jou hart kom en kennis vir jou siel aangenaam word, sal denkvermoë oor jou wag hou, sal onderskeidingsvermoë jou beveilig, om jou van die slegte weg te verlos, van die mens wat verdorwe dinge spreek.” Maar hoe kan jy hierdie vermoëns ontwikkel? Hebreërs 5:14 sê: “Vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.” Soos met enige vaardigheid, het ’n mens oefening nodig om jou waarnemingsvermoëns goed te kan gebruik. Die Griekse woord wat Paulus gebruik het, beteken letterlik ‘om geoefen te wees soos ’n gimnas’. Hoe begin jy met hierdie oefening?

Oefen jou waarnemingsvermoëns

3. Hoe kan jy jou waarnemingsvermoëns gebruik wanneer jy ’n besluit moet neem?

3 Let op dat jou waarnemingsvermoëns—jou vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei—“deur gebruik” geoefen word. Wanneer jy voor ’n besluit te staan kom, sal dit jou selde help om ’n wyse keuse te maak as jy raai, impulsief optree of bloot met die stroom saamgaan. Om wyse besluite te neem, moet jy jou waarnemingsvermoëns gebruik. Hoe? Eerstens deur die situasie deeglik te ondersoek en al die feite te kry. Vra vrae indien nodig. Stel vas watter keuses jy het. Spreuke 13:16 sê: “Elke skrandere handel met kennis.” Hierna moet jy probeer bepaal watter Bybelwette of -beginsels op die onderwerp van toepassing is (Spreuke 3:5). Om dit te kan doen, moet jy natuurlik kennis van die Bybel hê. Daarom moedig Paulus ons aan om “vaste voedsel” in te neem—om “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die waarheid te leer.—Efesiërs 3:18.

4. Waarom is kennis van God se beginsels noodsaaklik?

4 Dit is noodsaaklik dat ons dit doen, aangesien ons onvolmaak is, dit wil sê geneig tot sonde (Genesis 8:21; Romeine 5:12). “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit”, sê Jeremia 17:9. Sonder Goddelike beginsels wat ons kan lei, kan ons ons wysmaak dat iets wat sleg is eintlik goed is—bloot omdat ons vlees dit begeer. (Vergelyk Jesaja 5:20.) Die psalmis het geskryf: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad [“valse pad”, NW].”—Psalm 119:9, 104.

5. (a) Waarom volg party jongmense valse paaie? (b) Hoe het een jong persoon die waarheid liefgekry?

5 Waarom het sommige jongmense wat in Christengesinne grootgeword het valse paaie gevolg? Kan dit wees dat hulle hulle nooit ‘van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God vergewis’ het nie? (Romeine 12:2). Party woon dalk vergaderinge saam met hulle ouers by en kan dalk ’n paar van die basiese Bybelleringe opnoem. Maar wanneer hulle gevra word om bewyse te gee van wat hulle glo of om party van die dieper dinge van God se Woord te verduidelik, is dit teleurstellend om te hoor hoe oppervlakkig hulle kennis is. Sulke jongmense kan maklik mislei word (Efesiërs 4:14). As dit in jou geval waar is, waarom neem jy jou nie voor om veranderinge aan te bring nie? ’n Jong suster sê: “Ek het navorsing gedoen. Ek het my afgevra: ‘Hoe weet ek dat dit die ware godsdiens is? Hoe weet ek dat daar ’n God met die naam Jehovah is?’”a Nadat sy die Skrif sorgvuldig ondersoek het, is sy daarvan oortuig dat die dinge wat sy by haar ouers geleer het werklik waar is!—Vergelyk Handelinge 17:11.

6. Hoe kan jy ‘seker maak van wat aanneemlik is vir die Here’, Jehovah?

6 As jy eers toegerus is met kennis van Jehovah se beginsels, sal jy makliker “seker [kan] maak van wat vir die Here aanneemlik is” (Efesiërs 5:10). Maar sê nou jy is nie seker wat die wyse weg is om in ’n sekere situasie te volg nie? Bid tot Jehovah vir leiding (Psalm 119:144). Probeer om met jou ouers of met ’n ryp Christen daaroor te gesels (Spreuke 15:22; 27:17). Jy kan ook nuttige riglyne vind deur navorsing in die Bybel sowel as Wagtoringpublikasies te doen (Spreuke 2:3-5). Hoe meer jy jou waarnemingsvermoëns gebruik, hoe skerper sal dit word.

Toon onderskeidingsvermoë wat ontspanning betref

7, 8. (a) Hoe kan jy jou waarnemingsvermoëns gebruik om te bepaal of jy ’n geselligheid moet bywoon of nie? (b) Wat is die Bybel se beskouing van ontspanning?

7 Kom ons kyk nou hoe jy jou waarnemingsvermoëns in ’n paar spesifieke situasies kan gebruik. Stel jou byvoorbeeld voor dat jy na ’n geselligheid uitgenooi is. Jy het moontlik selfs ’n gedrukte kennisgewing ontvang waarop die partytjie geadverteer word. Jy hoor dat daar baie Getuiejongmense gaan wees. Maar toegangsgeld gaan gevra word om die koste te dek. Moet jy dit bywoon?

8 Wel, gebruik jou waarnemingsvermoëns. Kry eerstens die feite. Hoe groot sal hierdie geselligheid wees? Wie sal daar wees? Hoe laat sal dit begin? Hoe laat sal dit eindig? Watter bedrywighede word beplan? Wie sal toesig daaroor hou? Hierna moet jy ’n bietjie navorsing doen deur in die Watch Tower Publications Index artikels op te soek onder “Social Gatherings” en “Entertainment”.b Wat sal jy moontlik uit jou navorsing leer? Om maar een ding te noem, jy sal leer dat Jehovah dit nie veroordeel dat mense bymekaarkom en ’n aangename tyd saam deurbring nie. Trouens, Prediker 8:15 sê dat daar, tesame met harde werk, “niks beters is vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en hom te verheug”. Jesus Christus het immers self spesiale maaltye en ten minste een troue bygewoon (Lukas 5:27-29; Johannes 2:1-10). As ’n balans gehandhaaf word, kan gesellighede heilsaam wees.

9, 10. (a) Watter gevare kan party gesellighede inhou? (b) Watter vrae kan jy jou afvra voordat jy besluit of jy ’n geselligheid moet bywoon of nie?

9 Gesellighede wat swak georganiseer is, kan egter tot probleme lei. In 1 Korintiërs 10:8 lees ons hoe slegte omgang tot hoerery en die teregstelling van “drie-en-twintigduisend [ontroue Israeliete] op een dag” gelei het. Nog ’n ernstige waarskuwing word in Romeine 13:13 gevind: “Laat ons welvoeglik wandel, soos in die dag, nie in swelgerye en dronkenskap nie, nie in ongeoorloofde gemeenskap en losbandige gedrag nie, nie in twis en jaloesie nie.” (Vergelyk 1 Petrus 4:3.) Daar kan weliswaar nie gestipuleer word presies hoeveel mense ’n geselligheid kan bywoon nie. Maar ondervinding toon: hoe groter ’n geselligheid, hoe moeiliker is dit om daaroor toesig te hou. Met kleiner, goed beheerde gesellighede is die moontlikheid kleiner dat dit in “wilde partytjies” sal ontaard.—Galasiërs 5:21, Byington.

10 Jou navorsing sal ongetwyfeld verdere vrae laat ontstaan, soos: Sal daar geestelik ryp, volwasse Christene by die geselligheid wees? Trouens, wie betaal vir die geleentheid? Is die doel van die geselligheid om heilsame omgang te bevorder of om wins vir iemand te maak? Is daar enige beperkings gestel op wie dit kan bywoon? As die geselligheid oor die naweek is, sal dit op ’n redelike tyd eindig sodat diegene wat dit bywoon die volgende dag aan die Christelike bediening kan deelneem? As daar musiek en dansery gaan wees, sal dit met Christelike standaarde strook? (2 Korintiërs 6:3). Dit sal dalk nie maklik wees om sulke vrae te vra nie. Maar Spreuke 22:3 waarsku: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.” Ja, jy kan gevaarlike situasies vermy deur jou waarnemingsvermoëns te gebruik.

Onderskeidingsvermoë wat verdere opleiding betref

11. Hoe kan jongmense hulle waarnemingsvermoëns gebruik wanneer hulle planne vir die toekoms maak?

11 Die Bybel sê dat dit verstandig is om planne vir die toekoms te maak (Spreuke 21:5). Het jy en jou ouers al jou toekoms bespreek? Dalk beplan jy om die voltydse bediening te betree as ’n pionier. Daar is inderdaad geen ander loopbaankeuse wat groter bevrediging kan verskaf nie. As jy nou goeie studiegewoontes aankweek en vaardighede in die bediening ontwikkel, is jy besig om jou vir hierdie opwindende loopbaan voor te berei. Het jy gedink aan hoe jy jou in die bediening sal onderhou? Sal jy, as jy in die toekoms besluit om ’n gesin te hê, na daardie bykomende verantwoordelikheid kan omsien? As jy gebalanseerde, realistiese besluite oor sulke dinge wil neem, moet jy jou waarnemingsvermoëns gebruik.

12. (a) Hoe het party gesinne by die veranderende ekonomiese situasie aangepas? (b) Is dit noodwendig in stryd met die doelwit van pionierdiens om aanvullende opleiding te kry? Verduidelik.

12 Op party plekke is dit nog moontlik om indiensopleiding vir ’n nuttige vaardigheid of beroep te kry. Daar is jongmense wat leer om na die gesin se sakeonderneming om te sien of opleiding ontvang van volwasse vriende wat sakeondernemings het. Ander neem vakke op skool wat hulle later kan help om ’n bestaan te maak. Waar sulke geleenthede nie beskikbaar is nie, kan ouers ná sorgvuldige oorweging reël dat hulle kinders aanvullende opleiding ontvang nadat hulle hoërskool verlaat het. Die feit dat jy sulke planne maak om na jou verantwoordelikhede as volwassene om te sien en veral sodat jy op die lang termyn aan die pionierdiens kan deelneem, beteken nie dat jy God se Koninkryk nie eerste stel nie (Matteus 6:33). En aanvullende opleiding sluit nie pionierdiens uit nie. Een jong Getuie het byvoorbeeld al lank die begeerte gehad om as ’n pionier te dien. Nadat sy haar hoërskoolopleiding voltooi het, het haar ouers—wat self gewone pioniers is—gereël dat sy aanvullende opleiding ontvang. Sy kon as pionier dien terwyl sy haar opleiding ontvang het, en nou het sy ’n vaardigheid waarmee sy haar kan onderhou en gaan sy voort met die pionierdiens.

13. Hoe moet gesinne die koste bereken wat aanvullende opleiding betref?

13 Wat aanvullende opleiding betref, het elke gesin die reg en verantwoordelikheid om hulle eie besluit te neem. Wanneer sulke opleiding goed gekies word, kan dit nuttig wees. Maar dit kan ’n strik wees. Met watter doel oorweeg jy sulke opleiding? Is dit om jou voor te berei om jou verantwoordelikhede as volwassene op ’n eerbare wyse na te kom? Of ‘soek jy vir jou groot dinge’? (Jeremia 45:5; 2 Tessalonisense 3:10; 1 Timoteus 5:8; 6:9). Wat daarvan om aanvullende opleiding ver van die huis af te ontvang, om moontlik op ’n kampus te bly? Sal dit wys wees met die oog op Paulus se waarskuwing dat ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’? (1 Korintiërs 15:33; 2 Timoteus 2:22). Onthou ook dat ‘die oorblywende tyd kort is’ (1 Korintiërs 7:29). Hoeveel tyd sal jy aan sulke opleiding wy? Sal dit die grootste deel van jou jeugdige leeftyd in beslag neem? Indien wel, hoe sal jy die Bybel se aansporing toepas om te “dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid”? (Prediker 12:1). En sal die kursus wat jy volg tyd laat vir noodsaaklike Christelike bedrywighede soos vergaderingbywoning, velddiens en persoonlike studie? (Matteus 24:14; Hebreërs 10:24, 25). As jou waarnemingsvermoëns skerp is, sal jy nooit geestelike doelwitte uit die oog verloor terwyl jy en jou ouers planne vir jou toekoms maak nie.

Hou hofmakery eerbaar

14. (a) Deur watter beginsels moet paartjies wat mekaar die hof maak, gelei word waar dit by liefdesblyke kom? (b) Hoe het sommige paartjies in hierdie verband swak oordeel aan die dag gelê?

14 Nog ’n gebied waarop jy jou waarnemingsvermoëns nodig het, is hofmakery. As jy lief is vir iemand, is dit net natuurlik dat jy dit vir hom of haar wil bewys. Die kuis paartjie in die Hooglied van Salomo het klaarblyklik sekere liefdesblyke aan mekaar betoon voordat hulle getroud is (Hooglied 1:2; 2:6; 8:5). Vandag meen party paartjies wat mekaar die hof maak dalk eweneens dat dit gepas is om hande vas te hou, mekaar te soen en te omhels, veral as hulle beslis beplan om te trou. Maar onthou: “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ’n dwaas” (Spreuke 28:26). ’n Aantal paartjies het, tragies genoeg, swak oordeel aan die dag gelê en hulle aan gevaarlike situasies blootgestel. Liefdesblyke het hartstogtelik en onbeheers geword; dit het onrein dade tot gevolg gehad en selfs tot geslagsonsedelikheid gelei.

15, 16. Watter redelike voorsorg kan paartjies tref om te verseker dat hulle hofmakery eerbaar sal bly?

15 As jy uitgaan, is dit verstandig om nie alleen met jou toekomstige huweliksmaat in ongepaste situasies te wees nie. Dit sal dus beter wees om mekaar se geselskap in ’n groep of in ’n openbare plek te geniet. Party paartjies neem ’n chaperon saam. Dink ook na oor die woorde van Hosea 4:11 (NW): “Wyn en soetwyn neem die goeie beweegrede weg.” Alkohol kan goeie oordeel belemmer en veroorsaak dat ’n paartjie dinge doen waaroor hulle later spyt sal wees.

16 Spreuke 13:10 (NW) sê: “Deur vermetelheid veroorsaak ’n mens net ’n stryd, maar by dié wat onderling beraadslaag, is wysheid.” Ja, ‘beraadslaag onderling’ en bespreek wat gepaste gedrag vir julle sal wees. Stel beperkings op liefdesblyke en respekteer mekaar se gevoelens en gewete (1 Korintiërs 13:5; 1 Tessalonisense 4:3-7; 1 Petrus 3:16). Dit sal dalk aan die begin moeilik wees om oor hierdie sensitiewe onderwerp te gesels, maar dit kan voorkom dat ernstige probleme later ontstaan.

‘Van jou jeug af’ geleer

17. Hoe het Dawid Jehovah ‘sy vertroue van sy jeug af’ gemaak, en watter les kan hedendaagse jongmense daaruit leer?

17 Dit sal voortdurende waaksaamheid—en soms groot moed—van jou vereis om Satan se strikke te vermy. Jy sal partykeer dalk vind dat jy nie net met jou portuurs nie, maar met die hele wêreld in botsing kom. Die psalmis Dawid het gebid: “U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af. o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders” (Psalm 71:5, 17).c Dawid is bekend vir sy moed. Maar wanneer het hy dit ontwikkel? As ’n jong man! Selfs voor sy welbekende konfrontasie met Goliat het Dawid buitengewone moed aan die dag gelê om sy vader se kudde te beskerm—deur ’n leeu en ’n beer dood te maak (1 Samuel 17:34-37). Maar Dawid het alle eer vir sy dapperheid aan Jehovah gegee en hom “my vertroue van my jeug af” genoem. Dawid se vermoë om op Jehovah te vertrou, het hom opgewasse gemaak teen enige beproewing waarvoor hy te staan gekom het. Jy sal ook vind dat Jehovah jou die moed en krag sal gee om ‘die wêreld te oorwin’ as jy op hom vertrou.—1 Johannes 5:4.

18. Watter aansporing word aan godvrugtige jongmense van vandag gegee?

18 Duisende jongmense soos jy het ’n moedige standpunt ingeneem en dien nou as gedoopte verkondigers van die goeie nuus. Ons dank God vir die geloof en moed van julle jongmense! Bly vasbeslote om die wêreld se verdorwenheid te ontvlug (2 Petrus 1:4). Hou aan om jou Bybelopgeleide waarnemingsvermoëns te gebruik. Dit sal jou nou teen rampspoed beskerm en jou uiteindelik van redding verseker. Trouens, soos ons laaste artikel sal toon, sal jy jou lewe suksesvol maak.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek die waarheid liefkry?” in die Ontwaak! van 22 Oktober 1998.

b Die artikel “Gesellige vermaak—Geniet die voordele, vermy die strikke”, wat in Die Wagtoring van 15 Augustus 1992 verskyn, het baie inligting oor hierdie onderwerp.

c Dit lyk of Psalm 71 ’n voortsetting van Psalm 70 is, wat in die opskrif ’n psalm van Dawid genoem word.

Hersieningsvrae

◻ Hoe oefen ’n jongmens sy waarnemingsvermoëns?

◻ Hoe kan ’n jongmens sy waarnemingsvermoëns gebruik wat die bywoning van Christelike gesellighede betref?

◻ Watter faktore kan in ag geneem word wanneer ’n mens jou opleiding beplan?

◻ Hoe kan paartjies wat mekaar die hof maak die strik van geslagsonsedelikheid vermy?

[Prent op bladsy 15]

As jy leer om navorsing te doen, sal dit jou help om jou waarnemingsvermoëns te oefen

[Prent op bladsy 16]

Dit is makliker om toesig oor kleiner gesellighede te hou en die moontlikheid is kleiner dat dit in ’n onbeheerste swelgery sal ontaard

[Prent op bladsy 16]

Ouers moet hulle kinders help om hulle opleiding te beplan

[Prent op bladsy 17]

Dit is ’n beskerming om in ’n groep uit te gaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel