“Onthou die vervloë dae”—Waarom?
“ONTHOU die vervloë dae.” Hierdie vermaning deur die apostel Paulus, wat in omstreeks 61 G.J. geskryf is, is tot die Hebreeuse Christene in Judea gerig (Hebreërs 10:32, The New English Bible). Wat het tot hierdie opmerking aanleiding gegee? Waarom was dit nodig dat daardie eerste-eeuse aanbidders van Jehovah nie die verlede moes vergeet nie? Kan ons daarby baat vind deur vandag op ’n soortgelyke herinnering ag te gee?
Bybelskrywers het ons deur die eeue heen herhaaldelik daarteen gewaarsku om nie die verlede te verontagsaam of te ignoreer nie. Vroeëre tye en gebeure moes in gedagte gehou en in ag geneem word. Selfs Jehovah het gesê: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie” (Jesaja 46:9). Kom ons ondersoek drie kragtige redes waarom ons op hierdie vermaning moet ag slaan.
Aansporing en bemoediging
Eerstens, dit kan ’n groot bron van aansporing en bemoediging wees. Toe Paulus sy brief aan die Hebreeuse gemeente geskryf het, het hy aan mede-Christene geskryf wie se geloof daagliks op die proef gestel is weens die Jode se teenkanting. Paulus het besef dat hulle meer volharding nodig het en gesê: “Hou . . . aan om die vroeëre dae te onthou waarin julle, nadat julle verlig is, onder veel lyding ’n groot stryd verduur het” (Hebreërs 10:32). As hulle teruggedink het aan lojale dade van die verlede in geestelike oorlogvoering, sou dit hulle die nodige moed gegee het om die wedloop te voltooi. Die profeet Jesaja het iets soortgelyks geskryf: “Onthou dit, sodat julle moed bymekaar kan skraap” (Jesaja 46:8). Dit was met dieselfde gewenste uitwerking in gedagte dat Jesus Christus vir die gemeente in Efese gesê het: “Onthou dus waarvan jy geval het [die liefde wat jy eers gehad het], en toon berou en doen die dade van vroeër.”—Openbaring 2:4, 5.
Die vermaning om te “dink aan die dae van die ou tyd, [te] let op die jare, van geslag tot geslag” het herhaaldelik voorgekom wanneer Moses die Israeliete toegespreek het om die nasie tot vreeslose lojaliteit teenoor Jehovah aan te spoor (Deuteronomium 32:7). Let op sy woorde soos opgeteken in Deuteronomium 7:18: “Wees dan nie bevrees vir hulle [die Kanaäniete] nie; dink gedurig aan wat die HERE jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het.” As hulle aan Jehovah se reddingsdade ten behoewe van sy volk teruggedink het, sou dit hulle beweeg het om die wette van God getrou te onderhou.—Deuteronomium 5:15; 15:15.
Ongelukkig het die Israeliete dikwels voor die sonde van vergeetagtigheid geswig. Met watter gevolg? “Hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk. Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie” (Psalm 78:41, 42). Uiteindelik het die feit dat hulle sy gebooie vergeet het daartoe gelei dat hy hulle verwerp het.—Matteus 21:42, 43.
’n Goeie voorbeeld is gestel deur die psalmis wat geskryf het: “Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade” (Psalm 77:12, 13). Om so peinsend terug te dink aan lojale diens van die verlede en Jehovah se liefdevolle dade sal ons die nodige aansporing, bemoediging en waardering gee. “Om die vroeëre dae te onthou”, kan ook vermoeidheid verdryf en kan ons aanspoor om alles in ons vermoë te doen en om getrou te volhard.
Leer uit foute van die verlede
Tweedens, om nie te vergeet nie, kan ’n manier wees om uit foute van die verlede en die gevolge daarvan te leer. Gedagtig hieraan het Moses die Israeliete gemaan: “Dink daaraan, vergeet nie hoe jy die HERE jou God in die woestyn vertoorn het nie; van die dag af dat jy uit Egipteland uitgetrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle wederstrewig teen die HERE” (Deuteronomium 9:7). Die gevolg van hierdie ongehoorsaamheid aan die kant van die Israeliete was, soos Moses getoon het, dat ‘die HERE hulle God hulle veertig jaar lank in die woestyn gelei het’. Waarom is hulle aangemoedig om dit te onthou? Dit was om hulle te verootmoedig en hulle opstandige weë reg te stel sodat hulle “die gebooie van die HERE [hulle] God [sou hou] om in sy weë te wandel en Hom te vrees” (Deuteronomium 8:2-6). Hulle moes leer in die sin dat hulle nie hulle foute van die verlede moes herhaal nie.
Een skrywer het gesê: “’n Omsigtige baat by persoonlike ondervinding, ’n verstandige by die ondervinding van ander.” Terwyl Moses die volk Israel gevra het om te leer deur op hulle eie foute van die verlede te let, het die apostel Paulus ander—die eerste-eeuse Korintiese gemeente en, by uitbreiding, ons—gemaan om uit dieselfde geskiedkundige verslag ’n les te leer. Hy het geskryf: “En hierdie dinge het hulle [die Israeliete] as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het” (1 Korintiërs 10:11). Jesus Christus het nog ’n ander eertydse Bybelgebeurtenis en die nodigheid om daaruit te leer in gedagte gehad toe hy gesê het: “Dink aan die vrou van Lot” (Lukas 17:32; Genesis 19:1-26). Die Engelse digter en filosoof Samuel Taylor Coleridge het geskryf: “Watter lesse sou ons tog nie geleer het as die mens uit die geskiedenis kon leer nie!”
Beskeidenheid en dankbaarheid
Derdens, om te onthou, kan beskeidenheid en dankbaarheid, eienskappe wat God behaag, in ons voortbring. Terwyl ons ons in die baie aspekte van ons wêreldwye geestelike paradys verheug, moet ons nooit vergeet dat dit op sekere boublokke rus nie. Dit sluit in: lojaliteit, liefde, selfopoffering, vrymoedigheid te midde van teenspoed, volharding, lankmoedigheid en geloof—eienskappe wat getoon is deur ons Christenbroers en -susters wat dekades gelede die aanvoorwerk in verskeie lande gedoen het. Aan die einde van sy verslag oor die hedendaagse geskiedenis van God se volk in Mexiko het die 1995 Yearbook of Jehovah’s Witnesses gesê: “Die mense wat maar onlangs met Jehovah se Getuies begin omgaan het, is dalk verbaas oor die beproewinge van diegene wat ’n deel aan die aanvoorwerk in Mexiko gehad het. Hulle is gewoond aan ’n geestelike paradys waar daar ’n oorvloed geestelike voedsel is, waar daar honderdduisende godvresende metgeselle is en waar diens aan God op ’n goedgeorganiseerde manier uitgevoer word.”
Daardie vroeë baanbrekers het dikwels alleen of in klein afgesonderde groepies gewerk. Hulle het voor eensaamheid, ontbering en ander strawwe toetse van hulle onkreukbaarheid te staan gekom terwyl hulle volhard het in die verkondiging van die Koninkryksboodskap. Hoewel baie van hierdie dienaars van vroeëre tye met hulle dood die aardse toneel verlaat het, is dit so hartverblydend om te weet dat Jehovah hulle getroue diens onthou! Die apostel Paulus het dit bevestig toe hy geskryf het: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het [nie]” (Hebreërs 6:10). As Jehovah met waardering onthou, behoort ons dit nie ook op soortgelyke wyse in ’n gees van dankbaarheid te doen nie?
Diegene wat maar onlangs met die waarheid in aanraking gekom het, kan deur die publikasie Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk hierdie historiese perspektief verkry.a As ons daarbenewens die voorreg het om ’n lid te wees van ’n familie of ’n Christengemeente waarvan die lede ouer broers of susters insluit wat al lank dien, word ons in die gees van Deuteronomium 32:7 aangespoor om te “dink aan die dae van die ou tyd, [te] let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê”.
Ja, as ons dade van godvrugtige toegewydheid uit die verlede herroep, kan dit ons aanspoor om vreugdevol in ons Christelike diens te volhard. Die geskiedenis bevat ook lesse wat ons móét leer. En as ons peins oor ons geestelike paradys wat deur God geseën is, bring dit die aangename eienskappe beskeidenheid en dankbaarheid voort. Ja waarlik, “onthou die vervloë dae”.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.